2023 se gat is geskop

2023 was goed vir my.

Ek kyk met groot dankbaarheid terug na 2023. Dit was vir my ‘n goeie jaar.

Om die foto collage te maak, moes ek letterlik deur duisende foto’s gaan om ‘n paar uit te kies wat vir my betekenis het.

Ek is so bevoorreg om op die mooiste plaas te bly. Die veld en alle lewensvorme lê naby aan my hart. Dis vir my lekker om my seëning met ander te deel en daarom doen ek baie moeite om spesiale foto’s te neem. Die groen paddatjie is slegs 2 cm lank. Vir hom moet ek my gumboots aantrek en met ‘n flits gaan soek in die dam terwyl Roelf waghou om seker te maak ‘n wegloop-krokodil knibbel nie my toonnaels in die donker af nie.

‘n Groot droom is verwesenlik toe ek ‘n beginnerskursus in juweliersvervaardiging kon doen. Dit beteken dat ek nou self my glas in silwer kan set. Die helfte van die finansiering daarvan is die geldjie wat ek geërf het van my ouers. Dit maak elke stuk wat ek maak ‘n gedagtenis aan hulle.

Al verpes ek die sleur van elke dag se maaltye maak, is dit vir my lekker om konfyt te kook en goeters in te maak. Die lig wat so mooi deur my kalamondenmarmelade skyn, beur my sommer op.

Ek het so baie mooi glas gemaak hierdie jaar, dit was ‘n moeilike keuse, maar die blou kruis is vir my ‘n simbool van my geloof. Sonder God in my lewe, is ek niks. Ek het baie verkoop, maar meer weggegee. Die maak van elke stukkie glas om my kreatiwiteit uit te lewe, is vir my ‘n oorwinning. Om te weet dat ander mense ook daarvan hou, verskaf vir my ‘n diep vreugde

My liefde vir slakke is bevestig met ‘n uitstappie om mooie piepklein Gulellas te gaan soek. Dis iets wat onlosmaakbaar deel is van wie ek is en ek sien uit om weer hierdie passie deel te maak van my lewe. My blog se naam is nie verniet Slakkelak nie!

Op sportgebied het ek my eie SA rekord vir die Animal Round verbeter na ‘n beter telling. Die hoogtepunt van my jaar was om as wenner in my ouderdomsgroep van die Afrika kampioenskappe bekroon te word.

Mens bereik nie doelwitte op jou eie nie. Ek is meer as dankbaar vir die ondersteuning wat ek van my liewe man kry. Sonder hom in my lewe sou ek nie kon bereik wat ek het nie. Dankie vir jou liefde en ondersteuning.

Sonsondergange is soms trane-in-jou-oë mooi op die plaas. Wanneer die laaste strale breek is dit die oorgang van vandag na gister. Vir elke gister is daar ‘n vandag. Vir elke vandag, gaan daar ‘n môre wees.

Ons weet nooit wat die dag van môre gaan bring nie. Daarom moet ons elke dag voluit lewe. Ons moet op kyk en selfs wanneer die donkerste wolk ons wil oorval, die goue randjie raaksien.

Dankie vir elkeen wat hierdie jaar op my pad gekom het en ‘n paar voetspore saam met my gelos het.

Ek het ‘n stukkie Lig in my hand gevang en toe ek my hand toevou om dit vir my te vat, besef ek dat al vou ek my hand toe, Lig is nooit myne alleen nie. Die hou aan skyn en skyn vir ons almal.

Mag daar Lig in jou lewe wees in die nuwe jaar, gryp dit en skyn helder om die donkerte weg te jaag.

Voorspoed vir 2024. Mag dit vir jou ‘n beter jaar wees as 2023. Mag jou bagasie wieletjies kry wanneer dit voel of dit te swaar raak alleen om te dra. Mag jy vrede in jou hart hê. Lekker lag. Lekker eet. Mag jou mense vir jou lief wees. Mag jou two-ply nooit opraak nie en jou tandeborsel nooit wolle maak nie. Mag daar altyd kaas wees in jou yskas en jou waaier werk in die hitte. Mag jou kombers snoesig bly in die winter en jou honde bly wees om jou te sien. Mag jou katte by jou voete sit en spin van lekker kry en mag God se liefde en genade deel wees van jou lewe.

Liefde Kobie

Categories: Sommer maar net | 2 Kommentaar

Katstert

Kleintyd was Kerskaartjies ‘n groot ding. Prentjies van kerkies oortrek met sneeu, kersbome met kerse in, voëltjies wat knibbel aan rooi bessies, dennebolle , Kersvader op sy slee, takbokkies en nog meer, is mooi uitgeknip om op ons bruinpapier-oorgetrekte boeke te plak vir ons nuwe skooljaar. Die meeste kaartjies het harde, growwe silwer blinkertjies opgehad. Met die uitknip het dit dan afgeval en naderhand was alles blink.

Kersbome met geskenke was iets wat vir ons op die prentjies bestaan het. Geen blink tinselstringe in ons huis nie. Geen geskenke onder ‘n boom nie. Geen blink liggies nie. Elektrisiteit was in elk geval iets wat ander mense gehad het, in ons huis was kerse en paraffienlampe.

Ons harte het gebrand vir ‘n blink kersboom. Deur die jaar het ons blink gekleurde foelie sjokoladepapiertjies (wat Ouma en Oupa, wat deel was van die gesin, gekry het vir verjaardae of iets dergeliks) sorgvuldig uitgestryk en gebêre.

Wanneer dit amper Kersfees was het ons ‘n takkie katstert by die dam gaan pluk.  Die fyn asparagusblaartjies lyk soos miniatuur dennetakkies. Die takkie is staan gemaak in ‘n blik vol sand.

Katstert, ‘n lid van die asparagusfamilie

Ons feëtjie boom is dan opgemaak met die gekleurde blink sjokoladepapiertjies en my ma het vir ons ekstra gewone foelie gegee om ‘n kartonster oor te trek.

Sus Ami het een klein kersblakertjie gehad wat ‘n verjaardagkersie kon vat, en so drie gekleurde kersies. Díé is dan staan gemaak by ons boompie. Ons mag nie die kersies gebrand het nie, dis netjies gebêre sodat sy dit weer vir ons kon uithaal die volgende jaar.

So het ons jaar na jaar vir ‘n dag of twee ‘n blink kersboompie gehad. Tot die blaartjies begin afval en my ma ons skepping wat haar huis bemors,  laat verdwyn. Teen daardie tyd was ons aandag in elk geval lankal weer op buite speel, ons drang vir blink was bevredig.

Ons was arm, maar ons het dit nie eintlik geweet nie. Kerstyd was vir ons blikke vol tuisgemaakte koekies. Buiten die gewone vla- en ander soetkoekies was daar Hertzoggies, ystervarkies en konfyttertjies. Bloedrooi waatlemoene tot ons nie meer kon nie. Vrugte uit die boord, onbeperk. Kersdag was dit familietyd. Ons was gelukkige kinders wat net liefde geken het.

Vir my liefste sussies en boetie…

Katstert

Ek het vir jou ‘n katstert gaan haal.

Vol heimwee het ek hom met blink goed opgesaal.

Maar kyk mooi,

hy is ook met wense opgetooi.

Vir jou spesiaal wens ek:

Vrede in jou gemoed

Geloof om jou staande te hou

Berusting dat God weet wat Sy plan is met jou

Hoop vir ‘n beter môre

Familie altyd daar vir mekaar

Lekker lag en geen trane nie

Liefde vir jou, uit die diepte van my hart.

Geseënde Kersfees.

Vir my liefste man, kinders en kleinkinders…

My wense wat ek aan julle boom hang is…

Plaasblomme om jou dag mooi te maak

Geloof om jou staande te hou

Hoop vir ‘n beter môre

Liefde om vir altyd te koester

Gebede elke dag om jou geluk van God af te bid

Vrede in jou hart.

Lief julle vir altyd en nog ‘n dag.

Geseënde Kersfees.

Categories: Lankal terug, Omgee, Slakgedagtes, Sommer maar net | 1 Kommentaar

Gulella

Wêla kepêla… net só sê mens

Ghoelêlla…

Nou wonder jy seker wat vir ‘n ding is ‘n Gulella. ‘n Gulella is glad nie ‘n ding nie, o nee, dis ‘n dingetjie. Hulle is piepklein dingetjies om die waarheid te sê… Dis slakkies met die mooiste skulpies en mens kan hulle slegs waardeer indien jy hulle kan beloer met ‘n vergrootglas of ‘n mikroskoop. Baie is kleiner as 3mm lank, ek dink ‘n lengte van 6mm sal gemiddeld wees en dan is daar die ‘reuse’ Gulellas van so 10mm. Die slakkies is baie keer geel of oranje of geel en oranje.

Hier is ‘n foto van enetjie wat ek afgeneem het deur ‘n mikroskoop, dit is so 6mm in lengte en sy naam is Gulella contraria.

Gulella contraria
Gulella contraria

Om die storie van die gulellas te kan vertel, moet ek eers agter die berg ‘n storie gaan uitkrap uit my vorige lewe. Nou nie soos reïnkarnasie nie, nee…

Gebeurtenisse in my lewe word ge-etiketteer as ‘voor die brand’, of ‘na die brand’. My ou lewe en my nuwe lewe.

In my ou lewe toe ons in Centurion gewoon het, en vir die volgende tien jaar op die plaas, het ek skulpe versamel en was ek aktief betrokke by die Skulpkundevereniging van Suid-Afrika. Die grootste gros van my versameling was seeskulpe, die landskulpe het ek oppertunisties versamel en gestoor met net die lokaliteit (die belangrikste inligting vir ‘n versamelaar). Daar was maar min inligting beskikbaar vir identifisering.

By my huis in Centurion was ‘n kolonie Gulela infans, klein jagterslakkies met geel en oranje lyfies. Ek het ‘n paar lewendig aangehou om meer te wete te kom oor hulle gewoontes. Een oggend voor werk het ek gesien hoe jag een ‘n Opeas sp. Die geel Opeas het verbete probeer wegkom maar die Gulella was te vinnig. Die Gulella moes een of ander toksien afgeskei het, want die Opeas het begin skuim. Ek kon ongelukkig nie nog bly om te kyk hoe word die prooi geëet nie want natuurlik was ek teen daai tyd laat vir werk! Wie kan nou sulke opwinding mis… Die aand was die skulpie leeg.

Opeas sp

Net toe ons die plaas gekoop het, het ek ‘n Gulella gekry, maar hy is nooit geïdentifiseer nie.

Dertien jaar terug (Nov 2010) kom daar toe ‘n weerligstraal, vernietig alles wat ons het en maak ‘n einde aan ons ou lewe. Nie op ons knieë nie, maar heeltemal platgeslaan. Met geen huisversekering nie, was ons gelaat met niks… die klere aan ons lywe, twee karre en ‘n baie brand-beskadigde vierwielmotorfiets was die somtotaal van ons aardse besittings.

In die begin-jare van ons nuwe lewe was daar nie tyd, geld of energie vir enige iets anders as om van voor af te begin nie. Ons spaargeld, tyd en energie moes gebruik word om weer ‘n huis en ‘n lewe te bou. Self. Alles, alles self. Man en muis, familie, vriende en vreemdes het gehelp om ons weer aan die gang te kry.

In November 2021 kry ek onverwags ‘n lewendige Cochlitoma transvaalensis, slegs die tweede een in die amper twintig jaar op die plaas. Hy is mooi verpak en gestuur na Ken Brown, ‘n kenner van landslakke, vir verdere navorsing. Sy boek, met mede outeur Maurice Evans, Achatinid Landshells of Southern Africa was in proses op daardie stadium.

Hy stuur toe vir my ‘n geskenk, een van sy ander boeke, ‘n klein sakgids, The Gulellinae Hunter Shells of South Africa and its neighbours. Lieflike, lieflike gulellas…

Ek sien toe hoeveel spesies voorkom in die Barberton berge en net daar kry ek toe ‘n idee. Sommer ‘n skitterblink idee…

Die idee word ‘n plan, en die plan word beplanning…

Laat November 2023 vergesel Delia Oosthuizen vir my, Ken en Maurice na haar speelgrond, die Mountainlands Reserve, in die Makhonjwa berge van ons mooie Barberton.

‘n Lieflike dag vir slaksoek het voor ons gelê.

Delia het ons na verskillende habitatte geneem. Sy ken die reservaat soos die palm van haar hand en haar plantkennis veral is ongelooflik.

Spatsels kleur en ander lewe vang áltyd my oog.
Die miswolkies het gou verdwyn en dit was snikheet warm.
Dit was ‘n lieflike dag
Pragtige klippe
Mooi klippe was nog nooit lelik nie…
Om sulke klein skulpies te kry, moet jou oë naby die grond wees. Gelukkig was ons darem beskut in die koelte.

By een van ons eerste stoppe het ek ‘n skulp gekry van ‘n onvolwasse Cochlitoma transvaalensis waaroor ons baie opgewonde was. Ek het skoon vergeet om ‘n foto te neem! By ons laaste stop in die reservaat het Maurice ‘n effens verweerde volwasse een gekry. Die skulp was skraler as die skulpe wat ek by ons plaas optel.

Die twee mans het op ‘n stadium al elkeen ‘n Gulella gehad, maar al wat my kleim opgelewer het was pilduisendpootjies, larwes, erdwurms en medium grootte gelerige duisendpote. Toe kry ek darem ‘n ander mooi slak.

Ons tweede laaste stopplek in Mountainlands self was die beste. Die mans was kort-kort gelukkig, gesoute Gulella jagters…

Elkeen van ons verdiep in ons taak
Vergelyk die voutjies in my hand met die skulpie se grootte

Ek het ‘n Gulella gekry by hierdie kleim waaroor ek baie opgewonde is. Ek plaas nie sy foto nou nie, ek gaan hom eers vir Ken pos sodat hy hom behoorlik kan bestudeer en die inligting stuur na Dr. Dai Herbert in Wales. Hy is ‘n wêreldbekende malakoloog wat voorheen by die Natal museum werksaam was. Dalk… net dálk… is dit ‘n onbeskryfde spesies.

Opdatering – die skulpie is geïdentifiseer as Gulella viae.

Gulella viae
Delia het hierdie foto geneem. Dankie. Ons was soos kinders oor elke skulpie en dan het elkeen die fonds bekyk. Met die selfoonfotos kon ons ‘n idee kry van hóé groot ons opgewondenheid moet wees.

Ons het elkeen ‘n kosblik gebring vir middagete. Toe ek ‘n bospiepie moes doen het ek ‘n pragtige fungus gekry waaroor ek baie opgewonde was, ek het nog nooit voorheen een van hierdie spesie gesien nie.

Sterstinkhoring

By die eerste stroompie waar ons stilgehou het, was daar ‘n pofadder. Ek was te stadig om ‘n foto te kry.

Mountainlands het ‘n hele klomp stroompies met pragtige skoon water.

Mens wil sommer daar sit. Heel dag.
Ken soek waterslakke
Gebande langtoonpadda
Gebande langtoonpadd
Ken het ons vertel van klein varswater ‘limpets’ (ek het die Afrikaanse naam vergeet en Google translate is nie behulpsaam nie) waarvoor ons moet uitkyk. En sowaar! Ons het hulle gekry! Die grootste een was ongeveer 5 mm.

Laatmiddag is ons uit die reservaat en het ons langs die pad by ‘n stukkie inheemse woud gestop. Daar was ek die enigte gelukkige met ‘n Gulella contraria.

Dit was ‘n heerlike dag. Ons het geskerts en gelag. Ons was opgewonde. Ons harte was vol omdat ons die voorreg het om in die grond en blare rond te krap. Ek was natuurlik teleurgesteld omdat ek die volgende dag moes werk terwyl die twee manne weer kon gaan slak in die omgewing.

Bevestigde Gulella spesies wat gekry is, asook Gulella viae

Baie dankie Delia vir jou moeite om ons te ontvang en te begelei. Dankie Ken en Maurice vir my spesiale pakkies om weer ‘n versameling te begin.

Alle eer aan God wat sulke mooi mooi goedjies geskep het.

Terwyl ek hierdie geskryf het, het die besef tot my deurgedring dat my ou lewe en my nuwe lewe nou hande gevat het met hierdie klein slakkies. Kintsugi. My ou lewe het gebreek maar my lewe is nou weer heel.

Die Gulellas is my Kintsugi, die gom tussen oud en nuut.

Kintsugi (金継ぎ, “golden joinery”), also known as kintsukuroi (金繕い, “golden repair”), is the Japanese art of repairing broken pottery by mending the areas of breakage with urushi lacquer dusted or mixed with powdered gold, silver, or platinum; the method is similar to the maki-e technique. As a philosophy, it treats breakage and repair as part of the history of an object, rather than something to disguise. – Wikipedia

Categories: So doen Slakke dit | 8 Kommentaar

Perspektief

In my wetenskap klas moet ek elke jaar vir my graad tiens die konsep leer van afstand, verplasing en die betekenis van ‘n verwysingsraamwerk wanneer ek skakre en vektore behandel.

Ek begin gewoonlik my les deur iets op die bord te skryf. Altyd dieselfde ding:

11 + 11 = 10

Gewoonlik is daar een wat gou-gou hand opsteek en my in duidelike taal vertel dat ek nou nonsens praat. My reaksie is om baie selfvoldaan te lag en te sê ek is nie verkeerd nie en kan dit ongelukkig bewys. Want ek kán. Die meeste sal prontuit sê ek jok. Een of twee sal probeer om die probleem op te los. Nog nooit was daar een wat bietjie buite die boks kan dink om dit uit te plus nie. 

Ek gee hulle n paar minute om die probleem te probeer oplos, redekawel met hulle, lag saam met hulle en dan vat ek my pen en skryf:

11h am + 11 ure = 10h pm

‘Ooohhh Ma’m, you should have said!’

Jip. Ek moes gesê het dat ek praat in terme van tyd, maar ek het nie. Dan verduidelik ek dat hulle nie genoegsame inligting gegee was om dieselfde antwoord as ek te kry nie, maar nou het ‘n gebrek aan inligting ‘n kommunikasieprobleem veroorsaak. Sou ek sê dat ek in terme van tyd praat, sou hulle weet dat ek die waarheid praat; maar hulle perspektief is slegs in terme van getalle. 

Om dan direk daarna die verskil tussen totale afstand afgelê en verplasing vanaf ‘n verwysingspunt te verduidelik, doen ek die volgende demonstrasie en sê hulle moet boekhou van my aksie, en ‘n aanname maak dat elke treë wat ek gee, een meter lank is en dat die beginpunt van my reis is die kind voor my.

Ek gaan staan voor in die klas voor die kind, kom ons sê maar sommer dit was Nandi. Dan stap ek so vier treë na die anderkant van die klas, drie treë na agter, twee treë anderkant toe, twee tree terug, nog drie treë na agter, dan ses treë vorentoe, en laastens ses treë terug na die kind.

Dan moet hulle vir my sê hoe vêr ek geloop het. Sonder uitsondering kry ek die korrekte antwoord, 26 meter.

Daarna vra ek hulle om te sê waar ek is. Sonder uitsondering kry ek die antwoord ‘Ma’m, you are 2 meter to the left of Nandi’. Nope. Nee. Verkeerd.  Ek is twee meter REGS van Nandi. Perspektief. Ek staan gesig aan gesig met die klas. Hulle linkerkant, is mý regterkant.

‘Ooohhh Ma’m, you should have said!’ Né.

Nou is dit ook so dat hierdie wetenskap perspektiefbeginsel deel is van enige kommunikasieproses.

Woorde binne konteks vs buite konteks. Perspektief. Bedoeling vs interpretasie. Konfrontasie vs dra die storie aan.

Ag, my hartjie is tog so seer. Krokodiltraantjies. My maatjies is gelukkig altyd daar vir my. Die biets. Dadelik. Deel uit die paper. Skryf dadelik ‘n verslag. Sommer alles wat jou pla.

Volgende keer wanneer jy iets hoor wat iemand gesë het, evalueer eers of jy die konteks waarin dit gesê is, verstaan. Konfronteer eers die persoon vóórdat jy weghol met die storie en vir jou maatjies jou interpretasie vertel. Dit is maar so dat elkeen sy eie perspektief het van ‘n situasie. Wanneer dit dan oorgedra word na n ander persoon, gaan daardie persoon dit weer uit sy eie perspektief interpreteer en waarskynlik oordra. So word die woorde verder en verder gerek en bygelas om by elkeen se perspektief te pas en interpretasie dra later meer gewig as konteks en intensie.

Staan ek links van Nandi of staan ek regs? Albei natuurlik. Kies maar jou eie verwysingsraamwerk vir vandag…

Categories: Sommer maar net | 5 Kommentaar

Somervakansie

Ons het baie goeie reën gehad hierdie week en dit beteken die fungusse floreer en die paddas broei.

Ek het gister hierdie op my Facebook geplaas:

Dis nie altyd maklik nie, maar ek probeer.

Die veld en wat ek sien en ervaar in skoolvakansies is die sielskos waaraan ek moet suig gedurende die jaar wanneer my werk my wil insluk. Dan is ek emosioneel te moeg om te skryf, my woorde sak af in my siel en wag vir beter dae.

Ek het my dag begin met fungusse. My spesifieke doelwit was om Aandsterre en klein pienk Roosvalskermpies te gaan soek in ‘n bos waar ek dit in ‘n vorige seisoen gekry het.

Ons goeie reënseisoen is ongelukkig ook goed vir die vieslike Lantana. Die bos waar ek gaan stap het is al weer oortrek met die verpestelike goed, maar dis ongelukkig waar ek weet Aandsterre mag wees. Ek noem dit die Feëtjiebos omdat dit klam is en baie mosse groei op dooie en lewendige bome. Dis baie naby aan die huis en ek stap heeltemal te min daar.

Die lantana het al die ou stappaadjies toegegroei en die nuwe paadjies is bosvarkpaadjies en nie hoog genoeg om regop te kan loop nie. Gewapen met ‘n stok om die Lantana van my af te hou om ‘pad’ te maak waar nodig, was ek slaggereed. Zena, Pippie en Bruce bewe van opgewondenheid wanneer hulle sien ek vat my stapstok. Die twee kleintjies was gou verveeld en het omgedraai huistoe, maar Zena los my nooit.

Na seker so vyf minute se stap, terwyl ons nog in die operige gedeelte was, het ek ‘n bosvark baie naby hoor snork. Natuurlik was Zena soos blits op sy spoor maar het gou terug gekom. Sy weet sy moet hulle nie aanvat nie.

In die oop stuk het ek iets spesiaals gesien. Een van my gunsteling insekte is  ‘Net-winged Beetles’, ek weet nie wat dit in Afrikaans genoem word nie. Daar was ‘n orgie! Vir een of ander rede was daar ‘n hele paar pare besig om ‘n nuwe generasie te verseker. Ek het drie, dalk vier verskillende soorte gesien waarvan net die een met die uitsteeksels op die bo-kant nie ‘n maat gehad het nie. Ek het so paar afgeneem. Verseker was die lug daar gelaai met feromone!

Die een paartjie het my ‘n kortstondige paar oomblikke gegee om die mannetjie en wyfie afsonderlik af te neem.  Terwyl ek hulle onder skoot het, trek die mannetjie weer sy vroutjie nader vir nog ‘n rondte en ek draai toe die blaarjie dwars en deur my lens kon ek sien hy sy agterlyf afbuig en hoe sy ragfyne geslagsorgaan uitkom en soek-soek om die regte plekkie te kry.

Daarna het dit ruier begin word, maar begaanbaar. ‘n Piepklein sampioentjie op ‘n boomstam oortrek met mos, het my aandag getrek.

Kort voor lank was ek op my hurke vir my Aandster.

Wanneer my oë op die grond is, sien ek gou nog iets. En nog iets en nog iets. En voor jy weet, is jy diep in die lantana gemors. Met die klem op gemors… toe ek weer sien, kon ek glad nie meer opstaan nie. By ‘n klein opening kon ek regop staan en die video hieronder neem om te wys hoe hoog en dig die lantana daar was.

Kyk hoe groot is die vrekselse lantana, en dit het dorings!

Daar was nie eens ‘n bosvarkpaadjie nie en al genade was om maar weer af te sak op my hurke en verder te skuifel of te kruip. Gelukkig was daar ‘n paar sampioene, insluitend baie van die delikate pienk Roosvalskermpies wat ek graag wou sien.

Na wat gevoel het soos ‘n ewigheid kon ek uiteindelik weer regop loop. Dit was harde werk, maar ek het gekry waarna ek gaan soek het. Die laaste stukkie bos het nog ‘n paar mooi goed gehad.

Net voor ek uit die bos is, vang my oog ‘n spatsel kleur… ‘n eienaardige fungus! Hoe ironies is dit nie, toe ek in die bos in gestap het, was daar ‘n insek se penis wat ek aanskou het, en hier voor my toe ek uitstap, ‘n bloedrooi fungus. Grote griet!

Nou ja, mens kan ook nie die heel dag net rondloop nie. Een of ander tyd moet die wasgoed gewas word en dit spring nie vanself gestryk op die hangers nie.

Selfs my stryktyd het ‘n ander dimensie. My strykplank is in my werkskamer buite en dis dáár waar my glas is… Elke keer wanneer ek stryk, smelt ek gou ‘n stukkie, en hier is gister s’n wat iewers weer ‘n hangertjie sal word vir iemand se nek. Wanneer dit klaar is deel ek dit op my ander blog, Kobie’s Crafts.

Afsluiting van my dag na aandete was paddajag. Eers was ek na die onderste waterkrip. My spesifieke doelwit was om ‘n Borrelvleipadda te kry. Ek kon twee hoor maar kon hulle nie kry in lang gras by die krip nie. Ek het wel ‘n Grootgrysskuimnespadda gekry op die waterrand wat ek kon afneem. Twee het bo in die boom gesit. Daar is ‘n groot skuimnes vol eiers in die boom wat later die week behoort te bars om die paddavissies in die water te laat val.

Grootgrysskuimnespadda

Ek het ook ‘n Natalse sandpadda en Rooiruggraspadda gesien maar nie afgeneem nie.

My kans was groter vir die Borrelvleipadda by die dam. Die paddakoor daar was absoluut oorweldigend. Ek ken nou al ‘n paar roepe en ek kon Natalse sandpadda, Rooi skurwepadda, Gorrelskurwepadda, Gebande rubberpadda, Borrelvleipadda, Skilderrietpadda, Waterlelie rietpadda en twee wat ek nog nie ken nie, onderskei.

Daar kon ek sommer gou ‘n video neem van ‘n Skilderbontrietpadda. Mens sien hulle maklik waar hulle aan die biesies klou, en daar was vreeslik baie van hulle. Hulle skril klank is vreeslik oorweldigend.

Alle water in die Laeveld het bilharzia slakkies wat die watervoëls versprei en ek het al ‘n paar keer gehad. Nou sit ek nie meer ‘n vinger in die waterkrippe of dam nie. Buiten dit, het ek weereens vanaand onthou daar is nog ‘n rede. Bloedsuiers. Terwyl ek in die water gelig het, sien ek ‘n dooie padda. Ek kon ‘n foto neem en toe ek nog nader kom het die bloedsuier of slak of wat dit ook al was, ‘n wriemel gegee en toe dieper gesak. Afskuwelik!

Na meer as ‘n uur se soek het ek my eerste Borrelvleipadda gekry. Hulle sit op die grond, en hou nie vas aan die biesies nie. Dit was moeilik om hulle te kry, hulle lyfies is uiters goed gekamoefleer teen die grond en biesiepolle se onderkant . Nes mens naby kom bly hulle stil of woeps in die water in.

Borrelvleipadda
Borrelvleipadda

Dit was vir my ‘n geseënde dag om soveel spesiale dinge te sien, hoor en ervaar. Ek deel dit spesiaal met elkeen vir wie so ‘n ervaring onmoontlik is.

Naskrif – ek het ‘n spesiale blog waar ek die biodiversiteit op ons plaas deel, Aylestone8

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe, So doen Slakke dit | Sleutelwoorde: , | 3 Kommentaar

Kersfees 2020

Ek het ‘n uur tyd gehad vandag om in die veld te stap en vir my is dit altyd ń tyd van oordenking en introspeksie.

Ons het almal ń slegte jaar gehad, Covid 19 pandemie raak elke liewe mens. Ons het in hierdie moeilike tyd ons liefste Ma verloor. Maar daar is soveel dankbaarheid ook in my lewe.

Na ek ń paar mooi goedjies afgeneem het, en ek weer aanstap het dit my getref dat dit wat ek voor my sien vergelyk kan word met ń mens se lewensuitkyk.

Die foto hieronder is ń breë perspektief van hoe dele van die veld lyk op ons plaas. Dis waar ek gaan stap het.

Groen. Welig. Mooi op die oog af. Maar stap jy ń entjie is daar onkruid, is daar dorings. Baie mense se lewens is ook maar so, mooi van buite, vol lelik van binne.

Die foto hieronder is ń elandsdoring. Dink jou nou in hoe dit voel om in hierdie groot plat doring te trap. Ek kan dít vir jou sê, dit brand soos vuur.

Kyk jy egter uit ‘n ander hoek, dan sien jy ń pragtige blom, wat groei om voort te plant met daardie doring.

Wanneer mens bolangs kyk is daardie stukkie veld vervelig. Maar wanneer jy dieper kyk is daar meer. Jy moet vereers stil staan óm dit te kan sien. Observeer. Dan verg dit egter ook bietjie meer werk, jy moet buk, deur die dorings loop, op jou knieë gaan staan. Dan sien jy dis nie net groen nie, daar is meer…

So is ons lewens ook. Mens moet moeite doen om die mooi in enige situasie en in ander mense raak te sien.

Terwyl ek vandag op my knieë gestaan het om die duisendpootjie af te neem wat aan ń blommetjie knibbel, vang my oog iets wat ek bitter, bitter graag self wou sien – ń voëlnes sampioen, kleiner as my pinkie se nael. Sou ek nie op my knieë wees nie, sou ek dit nie gesien het nie.

So maak die lewe ook maar met ons. Ons moet eers plat op die grond wees om klein dingetjies te waardeer.

Dankie dat jy gelees het. Dankie dat ek my binnenste met jou kon deel.

Ek is diep, diep dankbaar vir die voorreg om vry op ons plaas te kan loop. Dankbaar vir asem. Sonlig. Reën. Skoon lug. Vrede.

Mag die liefde en vrede van ons Vader vir jou lewendig word wanneer ons môre die dag herdenk waarop Hy Sy Seun vir ons gestuur het om die hoogste offer ooit te betaal.

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Familie, Omgee, Plaaslewe, Slakgedagtes | 3 Kommentaar

Paddapetalje

Dit was koel vandag by ons en ek het besluit om rekenaarwerk te doen. Al die ander dae het ek elke dag gaan stap op die plaas en ek probeer foto’s neem van dinge wat vir my mooi is. Dié deel ek dan met my Facebook vrinne wat erg ingeperk is in dorpshuise weens die Corona virus uitbraak.

Op ‘n stadium het my kleinseuntjie kom roep daar is ‘n mooi wit padda by Ouma se visdammetjie.

Cool! Ek leer hulle mooi! My doelwit is om my kleinkinders te leer om mooi in alle fasette van die natuur te sien. Dis toe ‘n grys skuimnes boompadda…

Onwillekeurig het ek aan ‘n ander petalje gedink toe ek die eerste een van hierdie spesie afgeneem het op die plaas ‘n paar jaar gelede.

Ek het nie ‘n makrolens nie en moet dus baie na aan my voorwerpe wees wanneer ek detail wil vasvang.

Ek kan my nogal inleef om die beste fokus te kry en so was dit toe ook nie anders daardie dag nie.

Nader… Al nader beweeg ek stadiger as stadig om die grys padda te bekruip… My fokus totaal net op my vinger wat die knoppie moet druk en die oog wat ek wil vasvang…

‘n Millimeter te naby en deur die lens sien ek net grys, ‘n ongefokusde beweging van die beeld en ‘n splitsekond daarna sien ek niks…

Sien niks, ja… want die verdomde padda het in een sprong homself netjies oor die middel van my gesig gedrapeer!

Kyk mooi na die foto hierbo en stel jouself voor daai padda op my gesig… Koue lyf (gelukkig nie klam nie!) wat my asemhaling versper en die pote wyd verspreid oor my bril…

Dit was voor die tyd van selfone met lense om selfies te neem. Ek het baie kalm my kamera omgedraai en maar gehoop ek kan dit vasvang, maar helaas… Dit was net drogbeelde wat ek kon kry.

Die arme padda was meer getraumatiseerd deur die affêre as ek en het geklou vir lewe en dood. Gelukkig is ek nie bang vir goggas en goed nie en kon ek kalm bly. Geskrik het ek, ja. Gegril het ek, ja. Maar my grootste emosie was lag… Lag, want ek het dadelik gewonder of iemand my gaan glo wanneer ek dit oorvertel!

Maar dit het gebeur, so waar as padda manel dra!

Categories: Lekker lag, Plaaslewe | Lewer kommentaar

Spinnerak

Gisteroggend oppad werk toe was hierdie ragfyn spinnerakkie nog in die hek, vol misdruppeltjies om die pragtige struktuur ten beste te vertoon.

Hierdie tipe spinnekoppe maak elke nag ‘n nuwe web en eet dit in die oggend op, maar omdat dit baie mistig was, was dit nog heel.Hierdie dun, delikate sy sien jy meeste kere nie voordat jy daarin vasloop in die veld nie.Met die druppels op is mens meer geneig om dit raak te sien.

Delikaat ja, maar wel sterk genoeg om waterdruppels seker honderdvoud hul gewig te dra.

So is lewe.Ons raak meer bewus van die broosheid van lewe wanneer ons besef dat dit weggeneem kan word. In ‘normale tye’ dink ons nie eers aan lewe en aan dood nie. Dit gaan verby ons denke in die sleur van alledaagse bestaan.Wanneer ‘lewe’ honderdvoud ‘n las moet dra, en ons bid dat ‘n gebreekte sydraadjie genadiger is as ‘n lewe van afhanklikheid, dan ervaar ons ook hierdie elastisiteit, ‘n lewensdraadjie kan rek en rek en rek sonder dat ons die sin daarin kan sien.

Om te groet is ‘n pynlike ervaring. Om te kán groet, genade. Om vrede in jou hart te kan hê om te groet, ‘n seëning.

Ek het verkies om net by Ma te wees vir twee dae. Ek het verkies om nie finaal te “groet” nie. Ma weet dat ek al lankal terug my dankies gesê het, dat ek elke keer groet wanneer ek wegry. Ek wou nou net by Ma wees terwyl Ma weet ek is daar.

Totsiens beteken “tot ons mekaar weer sien” en ek weet ek gaan weer vir Ma sien.Lief vir Ma vir altyd en altyd!

Categories: Omgee, Slakgedagtes, Slakverdriet | 3 Kommentaar

Dis heerlike lente…

Ons het gister 48mm reën gehad. Ons eerste grote vir die seisoen. Teen halfdag het die son weer uitgekom en omdat my merkwerk vir die eksamen nog nie ingekom het nie, kon ek weer my batterye gaan laai in die veld. My siel gaan dood bietjie vir bietjie in die termyn. Elke kind wat my tart tot ek op haar skreeu wurg my menswees uit my uit. Die veld maak my weer heel, ‘n krummeltjie op ‘n slag…

Verlede naweek was ek vir die eerste keer in n lang tyd in my veld. Dis maar droog en in die week het die temperatuur by 43°C gaan draai. Snikheet warm.Die harde reën van vanoggend het meeste blomme van die naweek verniel, maar daar was darem n paar wat ek kon afneem.

Wat my hart die blyste gemaak het is n lieflike ruspe. Eintlik sommer twee Rhanidophora ridens (dice moth) ruspes op twee verskillende plante. Ons het so paar jaar terug ‘n verskriklike veldbrand gehad wat 90% van ons veld gebrand het. Baie van die papies is dus ook doodgebrand en die hoeveelheid van hierdie motte het skerp afgeneem. Dis goed om te sien dat daar herstel is!

Nog iets wat my laat juig het, is ‘n pragtige pienk Barbertonmadeliefie. Waarskynlik ‘n Gerbera jamesoni x viridifolia kruising. Toe ek dit die eerste keer gesien het ‘n paar jaar terug, was daar slegs een plant. Nou is daar drie! Ek het die naweek ook ander pienkes gekry, en gister ook.

Wat my skoene in my moed laat sak is dat die verpestelike Cat’s Claw indringerplant te gerieflik groei waar ek was. Dis ‘n pragtige blom, maar verswelg die boom waarin dit groei.

Vandag het ek my laaste vinnige draai gaan stap. My memorandums is vrygestel en dus is dit nou net ABC… Apply Bum to Chair… wat voorlê vir ‘n ruk.

Verpestelike, maar pragtige Cat’s Claw


Categories: Sommer maar net | 2 Kommentaar

My liefste vriend

Net-net meer as vier jaar gelede het ek die gedig hieronder vir ‘n vriend geskryf, kort voor hy vertrek het na ‘n paar maande se kuier by my. Hy het in ons piepklein bos-chaletjie gebly en smiddae na skool het ek ‘n draai gaan maak.

 

Winterblare word poeier onder my voet se val

‘n Paadjie oop geloop, bo teen die wal

Menige geselse om ‘n potjie tee

oor diepe dinge of sommer net, wel en wee.

Ons tydjie saam raak min my vrind…

 

Maar ons albei wéét

ons sal hierdie beskore tydjie nooit vergeet.

Ek het jou genooi en jy het gekom,

Jy beloon my kos met ‘n prentjie van ‘n blom.

Ons tydjie saam raak min my vrind…

 

Ek sou graag wou hê dat jy nog ‘n bietjie bly

maar ek weet elders gaan jy ook weer gedy.

Eendag… eendag sal ons mekaar weer vind

want ons is albei één asem in die grote wind.

Ons tydjie saam raak min – my liewe vrind!

  • 16 Aug 2015

 

Mense wat my ken weet dat ek ‘n uiters versigtige mens is. Iemand wat eers baie goed dink voordat enige iets gedoen word. Heeltemal teen hierdie aard het ek iets gedoen wat ek nou nog nie verstaan hoekom nie. Ek het heeltemal impulsief ‘n totale vreemdeling genooi om vir ‘n paar maande by my te kom kuier. En hy het ja gesê., sonder dat ons ooit direk met mekaar gepraat het.

 

Hoe presies my sussie vir Lourens leer ken het, weet ek nie. Maar soos sosiale media is, sien mens response van jou vriende se vriende, en leer jy hulle ook ‘ken’.

Toe sy op ‘n dag vir my sê sy is so bekommerd oor haar vriend wat oor ‘n maand nie ‘n heenkome het nie, en dat hy dringend verblyf moet kry vir ongeveer drie maande, het ek vir haar gesê ek dink hy moet dan maar by my kom kuier vir daardie tyd. Dit het net vir my reg gevoel, om iets goed vir hierdie onbekende mens te doen.

 

Toe nooi ek hom, en hy sê ja. Want ons het mekaar se harte mos al uitgekyk in gemeenskaplike gesprekke op Facebook. En toe vertel ek vir my gesin. My kinders het geraas. “Hoe kan Mamma net ‘n vreemdeling nooi om vir drie maande by jou te kom bly? Sê nou hy is ‘n skelm. Of Mamma kry hom nie weer weg van die plaas af nie. En dit iemand wat sieklik is. Wat as hy iets oorkom terwyl hy by jou is?” Ek kon dit nie verduidelik nie. Ek kan nou nog nie. Ek het net geweet dat wat ek doen, was die regte ding om te doen.

 

Die eerste paar weke was ek so bang ek dring in op sy privaatheid. En hy dieselfde met my! Maar aangaande het ek agtergekom dat die mens wat aan my voorgehou is as ‘n kluisenaar, eintlik van mense hou. Ons het diep dinge gedeel. Saam gehuil en saam gelag. ‘n Band het gevorm.

 

My oordeel was nie verkeerd nie. Dit was ook nie reg nie, want my vriend se menswees is groter as groots. Die mooiste, mooiste hart waaraan jy kan dink. Sagmoedig. Vervul met vrede. Intellektueel verhewe. Spiritueel oorweldigend. Kreatief begaafd.

 

Om dankie te sê het hy vir my ‘n pragtige skildery geverf terwyl ek by die skool was. Ek het geweet hy maak dit, maar dit was ‘n verrassing totdat dit klaar was. ‘n Pragtige, pragtige stillewe van dinge wat vir my belangrik is.

 

Ons albei het al hoe stiller geraak toe die tyd begin aangebreek het om te groet. Ons het mekaar vasgehou en stil trane het oor ons albei se wange gestroom.

 

Beide van ons het daarna groot veranderinge in ons lewe gehad en ons het minder en minder kontak gehad. Tyd stap net te vining aan en voor jy weet word dit vier jaar vandat jy mekaar gesien het.

 

Verlede Sondag biep my foon my wakker. Ek sien dis ‘n boodskap van my vriend, maar ek besluit toe ek sal eers behoorlik wakker word voordat ek die boodskap lees. Dis toe ‘n voicemail wat my uit my skoene uit ruk. Ek het vir meer as ‘n uur gehuil voordat ek kon antwoord. Ja, ek het geweet hierdie tyd sou aanbreek, maar nee, dis nie maklik om te aanvaar dat dit regtig so is nie.

 

My hartseer is nie oor my vriend wat uiters siek is nie. My hartseer is oor hy met kosbare, kosbare asem ‘n laaste keer vir my iets wou sê. Vir my. Een van honderde mense wat hy ken.

 

My liefste vriend. Jy het nie meer asem om met my te praat nie. Gebruik jou laaste energie vir jou kinders en jou kleinkinders. Dankie dat jy my lewe aangeraak het. Ek onthou jou wanneer ek na my skilderye kyk. Ek onthou jou wanneer die winterblare onder my voete kraak. Ek onthou die lekker groen sop wat jy vir ons gekook het. Ek onthou hoe lief jy vir ietsie lekker is. Ek onthou jou sommer net.

 

En eendag in ‘n ander dimensie gaan ons mekaar weer sien.

 

Lief vir jou!

 

lourens

 

Categories: Gedigte, Omgee, Slakverdriet | Lewer kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.