Skoolhou

Daar gebeur baaiie dinge in ‘n klaskamer…

Die groot blou draak

Die meeste kinders by die skool dink ek is ‘n groot blou draak.

Hoekom? Want jy is in my klas vir akademie. Jy moet eerlik wees. Jy moet werk, en as jy dit nie doen nie, word jy gestraf. Ek bel sommer maklik jou ma. Punte word nie weggegee nie, jy werk daarvoor.

Hoe kry party dit dan reg om verby die growwe skubbe te sien? Hoekom bang hulle nie die sogenaamde rookbolle wat die hele klas vol hang nie?

Hoekom kom breek die afvlerkies dan hulle damwalle in my skoot?

Is dit omdat ek aan doodeerlik glo? Is dit omdat ek hulle teen my vasdruk as die seunslyfies ruk van snik? Of is dit sommer maar net?

Wanneer jy onderwys studeer word jy geleer van die verskillende rolle wat jy moet vertolk; maar daar is geen handboek wat jou kan voorberei op die werklikheid van ‘n klaskamer nie.

Elke jaar is anders. Elke klas is anders. Elke kind is anders.

As ‘n kind vir my vra dat ek met haar ma moet gaan praat, dan doen ek dit. Ek gaan drink tee in die Wimpy en gaan hoor die ander kant. Soms is dit net vir die kinders te moeilik om met die ouers te praat, soms kort hulle net iemand om die ys te breek.

Ek ken egter my beperkinge en bid
dat ek die verskil sal ken tussen betrokke wees sonder om ooit in te meng.

Sommige onderwysers raak nooit betrokke by die kinders nie. Ek kan egter nie ‘n kind wat sy hart kom uitstort vir die wolwe gooi nie en ek kan net bid dat my Vader die wysheid in my hart sal lê om elke situasie reg te hanteer.

Die groot blou draak lyk maar net van vêr af of sy skurfsiekte het en rookbolle blaas. As jy bereid is om nader te kom sal jy sien dat daar sagte wolletjies aan die binnekant van haar hande is en ‘n groot sagte hart.

Advertisements
Categories: Skoolhou | 11 Kommentaar

Juffrou spring vêr

Donderdag en Vrydag het ons atletiek- en swemuitdunne by die skool gehad. Donderdag het ek by spiesgooi gewerk met die seuns se atletiekuitdunne en Vrydag was ek en ‘n medekollega verantwoordelik om die o/15 dogters te vergesel na elke item.

Van ons en die personeel by elke punt is verwag om massadeelname aan te moedig in ons groepe en dis regtig nie ‘n maklike taak met 60 tienermeisies nie!

Die puntpersoneel het aanvanklik basies al die motivering in my groep gedoe en ek het net die administrasie gedoen. Ons derde item was vêrspring en ek het so ewe in die ry gaan staan en ‘n beurt afgewag. Die meisies het my baie geammuseerd dopgehou en nie gedink ek gaan dit regtig doen nie! Toe ek begin hardloop was daar ‘n luide gejuig en handeklap totdat ek geland het. “Sjoe, Juffrou! Juffrou het sowaar verder as ek gespring. Eish Mam, we didn’t know you can run… ”

Die enkele afdaal na hulle vlak en ‘voorbeeld’ wat ek gestel het sonder om te raas en skel het gemaak dat my hele groepie daarna aan byna al die items deelgeneem sonder aanmoediging, met uitsondering van hekkies waar sommiges se lyfies nou regtig nie geskik was nie. By hoogspring het ons die lat afgehaal en elkeen het op die mat neergeplons, die atlete het tipiese hoogspringstyl gespring en het verdere beurte gekry.
By elke item het hulle mekaar aangemoedig en niemand was dikbek nie.

Maar wee o wee… Toe ek nou gistermiddag begin rustig raak met huistoe kom tyd het ek bewus geraak van ‘n pyntjie in my voet. En hoe later hoe kwater…Toe ek my tekkies uittrek toe raak my voet regtig seer en al hoe seerder. Teen die tyd wat ek en Marina halpad deur die mall geloop het, wou ek huil. Ons het ons shoppingspree kortgeknip en by die apteek gaan perdesalf en Voltarenpille kry. En teen die tyd wat ons by die huis gekom het, moes Roelf my kom in dra… my voet was vet opgeswel en BAIE seer. Ek kan nou nog nie glo dat ek hom so kon beseer en die hele dag loop sonder om enige iets te voel nie!

“Mamma, dis oor mens nie in die vêrspringput hoort as jy amper agt-en-veertig is nie.” en “Jy weet mos met jou voete is dit stupid.” was van die opmerkings by die huis. Gelukkig is die swelling vanoggend baie beter en die pyn amper heeltemal weg.

Ek hoop van harte dat ek elke kind gister met respek en deernis behandel het en dat niemand enige letsels oorgehou het nie.In ons skooldae was almal gedwing om deel te neem en dis nie altyd met deernis gedoen nie.

Almal is nie atlete nie, en almal is nie akademies aangelê nie; maar dis tog soms nodig om uit jou gemaksone te beweeg om eenheid in jou groep te leer… om te leer om ander aan te moedig om iets nuuts te bereik, al is dit net om ‘n gewig een meter vêr te gooi of die spies in die regte rigting te houvas.

Ons skool se motto vir die jaar is “Werk saam, wen saam” en ons leuse is “Volhard/Persevere”. Ek hoop dat ek dit positief saam met my groepie kon uitleef gister en dat elkeen iets positief uit die ondervinding kon haal.

Vandag is my voet nog effens geswel en rooi waar hy beseer is

Vandag is my voet nog effens geswel en rooi waar hy beseer is

Categories: Skoolhou | 6 Kommentaar

Die somer is oppad julle, die somer is oppad!

Ek wonder soms waarom die meeste mense dink dat onderwysers baie verlof het. Indien jy nou nog nie weet nie – dis ‘n mite. Ons moet vraestelle en vraestelle merk in skoolvakansies (dié is  net vir kinders!!) en dan moet party nog kinders op toere ook vergesel indien dit deel van hulle werksindeling vir die jaar is. Ek doen nie sportafrigting nie, maar het weer meer administratiewe werke wat ek moet doen.

Die winterskoolvakansie is nou amptelik op sy rug en ek het by niks van my persoonlike dinge uitgekom nie. Daar is darem voordele soos een van my kollegas sê – mens kan in jou kamerjas met ‘n beker koffie sit en merk; en as jy op ‘n plaas woon soos ek, dan is daar Janfrederikke, Tiptolle, ‘n mooi Speg,  sebras, kameelperde en ander mooi goeters wat jou aandag deur die venster kan aftrek.

Gister het iets vreesaanjaends egter mý aandag afgetrek. My staffie hond het sy slangblaf gegee en toe ek uitstorm vind ek hom al dansend om ‘n meer-as-drie-meter Mamba! Hy is ‘n gesoute Mosambiekse spoegkobravanger, maar vir hierdie een was hy instinktief meer versigtig. En dit minder as twintig tree van my slaapkamer skuifdeur af! Ons het nie op die oomblik enige vuurwapens nie, en ek het ‘n lang stuk yster gegryp vir ingeval… nie regtig om die slang mee aan te durf nie, meer as ‘n troos indien ek regtig moet.

Die oomblik toe ek vir Boesman begin roep om na my toe te kom, was hý net meer vasberade om mý te probeer beskerm. My keel was seer geskree toe hy uiteindelik vir ‘n slitsekonde sy aandag van die slang afgehaal het. Dié het oombliklik in ‘n klein boompie opgeseil en ek dog die boompie gaan knak onder die gewig! Gelukkig het Boesie dit nie gesien nie, en na nog ‘n paar roepe het hy na my toe gekom. Met een oog op die slang, en een oog op die hond om seker te maak hy is nie gebyt nie, het ek maar bewend gestaan van al die adrenalien.

Dis absoluut ongelóóflik hoe vinnig Mambas is. Die slang het nooit vir Boesman werklik probeer byt nie, dit was meer ‘n kwessie van: gaan weg jy irriteer my met jou geblaf! Toe die hond vir ‘n slitsekonde sy aandag op my geplaas het, het die slang gevlug in plaas van aangeval. Dit kon net sowel anders gewees het. Een ding weet ek, ek gaan defnitief nie met ‘n stok na ‘n mamba slaan nie. Al was dit by my huis, is ek bly die slang is weg en nie dood nie. Daar is ‘n hele paar rotte wat egter nie lekker gaan slaap vanaand nie!

Ek stap in die somer baie in die veld wanneer ek Lantana spuit, maar ek kan letterlik op my een hand tel hoeveel keer ek al slange teëgekom het in die agt jaar wat ons op die plaas bly; en net een keer was dit ‘n mamba en dit was ‘n monster groter as hierdie een.  By die huis kry ons in die somer baie Mosambiekse spoegkobras, hierdie is maar die tweede mamba wat ons by die huis kry. Al wat ek gereeld gewaar is die Groengespikkeldebosslangetjie wat in die Eskom se vooruitbetaalmeterboksie bly. Hy bly nou al meer as ‘n jaar daarin, en glip vinnig agter die metertjie aan die binnekant  in wanneer mens dit oopmaak.

Na ons slangonderonsie het ek nog ‘n rukkie buite gestaan en sien toe twee oulike goed. Ongeveer tien kilometer van my af was daar vanoggend ‘n brand, en hierdie flentertjie blaarassies het uit die lug neergedaal om neffens my kamerdeur teen ‘n graspolletjie te kom lê om ekstra nutriënte vir die seisoen se groei  te verskaf.

Kyk net hoe perfek het hierdie assie gebly, meer as 10km aangewaai deur ‘n lugstroom

Terwyl ek dit bestudeer, sien ek toe daardie graspolletjie en al die graspolletjies rondom het sulke walletjies om die polletjies. My eerste gedagte was miere, maar toe onthou ek die sebras se blaas en kou in die oggende. Is dit nie te oulik nie… mens kan duidelik sien hoe hulle die polletjies oopblaas om dan allerlekker te kan knibbel aan die grassies.

Regs onder op die foto is die oorblyfsel van ‘n bietjie sebra drool…

Dis lékker om op die plaas te bly. Slange en al. Want nou weet ek verseker, as die slange begin loop beteken dit net een ding – die somer kom en dan LEWE ek weer!

Categories: Plaaslewe, Skoolhou | 4 Kommentaar

Wanneer jou werk jou oorval

Ek is ‘n mens wat floreer op besig wees, maar die afgelope paar weke het my amper onder gekry. Ek sukkel nou nog om te herstel en die kans dat die dieptes my weer gaan inslurp is goed aan die einde van die termyn.

Die van julle wat in die onderwys staan weet dat ‘n mens elke begin van die jaar toegedeel word met werk. Dit wissel van jaar tot jaar en mens het gewoonlik nie veel van ‘n keuse nie.

My vakgebied is wetenskap en weens verskeie redes het ons besluit om die Fisiese- en Lewenswetenskappe gedeeltes van die Gr 8 en 9 Natuurwetenskap hierdie jaar te skei. Die ander juffrou verkies om die Fisies te gee, vir my maak dit nie saak nie, en ek hou in elk geval  baie van die biologie gedeelte. So is my toedeling dan nou toe Gr 8 en 9 Lewenswetenskappe, met ‘n totaal van 308 leerders.

Dis al klaar baie wanneer mens aan assesserings begin dink en om die kersie nou werklik op die koek te sit, toe word my rooster verder volgemaak met Gr 10 en 12 Lewensoriëntering. ‘n Verdere 100 leerders by.

My werk slurp my eenvoudig op. Ek het nie meer tyd vir iets nie. Al wat ek die afgelope weke gedoen het was om te merk merk merk en nogmaals merk. Dit gaan my weke neem om almal se blogs te lees waar ek gewoonlik kuier.

Die week voor my dogter se troue in die vakansie het ek bedags klein reëlings getref en in die aande tot twee uur gesit en merk. Dankie tog ek het ‘n spysenier gehad en hoef self niks te gedoen het nie. My ma wat vir die eerste keer in my lewe vir my kom kuier het, moes met tye hoor: “Ek gaan gou vir so twee ure merk, dan kom ek weer.”

Verlede week het ek in die hoof se kantoor gehuil en gesê ek cope nie. Ek cope nie. Ek cope nie.  Bestuur jou tyd beter. Verander jou tipe asssesserings. Daar is nie ‘n limiet op die hoeveelheid kinders nie, net op die hoveelheid ure op jou rooster wat moet vol en dit was al manier waarop ons dit kon regkry. Ons het nie hande om te help nie. Ek cope nie.

My werk maak my fisies siek. My kosallergieë is ‘n outo-immuunsiekte en stres is die grootste vyand daarvan. Ek sit vir die sesde dag met migraine, sonder dat ek verkeerd eet. Dit beteken net een ding, my liggaam is weer op ‘n staking. Ek voel dit. Ek het gewig verloor wat ek nie kan bekostig nie. Ek is weer heeltyd honger. Pille wat die neuroloog voorgeskryf het wat moontlik die migraine kan onderdruk, het my sieker gemaak as die migraine self hierdie week.

Wanneer iets jou wil oorval, dan kom jou instinkte uit. Oorlewing. Oorlewing is nie sente aan die einde van die maand nie. Oorlewing is om nie elke dag migraine te hê nie. Oorlewing is om te lewe. Ek sal vir my vlerke groei en ek sal vlieg. Ek sal wegvlieg op die wind en op paaie gaan sweef waar daar nie die onmoontlike van my verwag word nie.

En kyk… ek voel knoppies kort duskant my okseltjies… miskien is dit dalk die vlerkies wat begin groei… en as dit nie vlerkies is nie, dan sal ek hulle maak van hout en flap en flap tot ek opstyg na wie weet waar.

Categories: Skoolhou | 7 Kommentaar

Soms moet ‘n mens ‘n strepie trek

Ek wonder of ek al ooit vir so lang tydperk aaneen fisies so hard gewerk het soos die afgelope somervakansie. Dit het my verskriklik goed gedoen.  Ek was lanklaas so ontspanne en ek het amper alles geëet wat ek wou, sonder om migraine te kry. Marina sê sy dink ek het al die gifstowwe uitgesweet elke dag.

Die dag toe die skool  begin het, het die borreltjie egter gebars. Skielik is dit net skool, skool, skool en nogmaals skool. Voorbereiding. Vergaderings. Oueraande. My dae word opgeslurp en my aande verwoes. Daar is nie tyd om veld toe te gaan nie. Die Pompoms floreer op die skielike bevryding van my spuitkan en die Lantana koggel my ooghoogte as ek verby jaag vir werk. My Boesmanhond bring kop onderstebo sy bal wanneer ek donkertyd by die huis kom. Jaag dan maar sy frustrasies uit op die uitgeskopte sebrahingsie wat vertroosting kom soek omdat hy dink ons is sy trop.

Die wonderlike nuus waarvoor ek lankal wens “Mamma, jy gaan ouma word…” is net ‘n bietjie onverwags in hierdie mallemeule-rondomtalie-wind. November se troue word vervroeg na April. ‘n Nuwe venue moet gesoek word, ‘n spysenier, trourok, ‘n dominee, strooimeisierokke, ensovoorts.

Elke dag word bepaal deur my dagboek se prioriteitslysie. Daar is nie tyd vir blog en Facebook nie, kommunikasie kanale is toe na my familie en vriende. Laasweek Dinsdag skryf ek op Facebook: “Tussen skool en troureëlings is my lewe besig om by my verby te hardloop. Dit gaan so vinnig ek is bang ek pootjie en val my nerwe af.” So weet my hulle darem dat ek nog asemhaal. Ook maar net.

Die lysie word afgewerk en God is groot en goed met my troulysie. Altyd. Vir R30 000 kan ek vir 100 gaste kos gee (skemerkelkie en eetgoedjies terwyl hulle foto’s neem en voorgereg tot nagereg), my kind kry ‘n pragtige trourok, die strooimeisies kry rokke, die blomme word gedoen, my kind kry haar wit tooisels en baie liggies, haar truffeltoring as troukoek en vele meer. VIVA platteland en mense met gul harte! Dankie Vader vir U goedgeid om hierdie mense op my pad te bring.

Die eerste onstpan kom laasweek Woensdag toe my ousus-hulle by my oorslaap en ek die hele aand heerlik met hulle kuier. Hulle het alleen tyd verwyl op die plaas gedurende die middag toe ek by die skool verpligtinge nagekom het. Maar toe my dagboek my middernag meedeel dat dit my beurt is om te open en ‘n boodskappie te lewer Donderdagoggend in die personeelkamer, wou ek amper huil. Wat, WAT gaan ek tog sê? My hart huil na Bo en my Bybelse dagboek vir vroue van Hennie Symington val oop en ek staan verstom oor die boodskap wat ek kry.

“Tyd kan nie herhaal word nie” is die opskrif van die dagstuk. Die teksvers is Luk 6:12 waar vertel word dat Jesus tyd gemaak het vir Sy Vader. “Jy word geken aan die manier waarop jy jou tyd deurbring. Dit weerspieël jou waardes.” Skool jou verpestelike ding. “Teoreties gesproke is ons vryetyd vir ons baie belangrik, maar tog bevind ons ons in beroepe wat elke greintjie vryetyd uit ons pers.” Skool jou verpestelike ding, nog ‘n keer. Ek dink die stuk is NET vir onderwysers geskryf. Ek lees die boodskap die volgende dag en stap bevry uit die personeelkamer. Dit wat vir my belangrik is, is nie skool nie. Ek spreek die woorde hardop uit voor ander dat ek ‘n strepie gaan trek… my lewe vir my gaan terugvat.

Maar eers moes die dag se lysie afgewerk word. Donderdagmiddag se tyd was haarfyn beplan en ek kon nie glo dat ek alles gedoen gekry het nie. Ek is eers 15h00 weg by die skool, en is toe Nelspruit toe om die laaste kartonnetjies vir die troukaartjies te koop. Barberton is 45km vanaf Nelspruit, ek bly op ‘n plaas tussen die twee. In die winkel leen hulle vir my ‘n skêr, linaal en potlood om dit gou te knip. Teen 16h30 storm ek by ‘n ander winkel in waar ek dit met die allerfraaiste blommetjies embosseer. Gratis. Desember het ek al gereël dat ek een of ander dag gaan kom. Ek het toe ‘n aansienlike bedrag vir mosaïekbenodighede daar gespandeer en hulle gee om vir hulle klante. VIVA platteland! Ek rol daai Cuttlebug teen die spoed van lig en 16h57 HARDLOOP ek uit om die poskantoor so drie besighede verder se deur nog oop te kry. Eers toe ek die papiertjie met die opsporingsnommer vir Annerine in Dundee sms bedaar my hartklop en hou my hande op met bewe. Toe pak ek my skoollysie by die huis. So het dit die afgelope drie weke met my gegaan.

Vrydagmiddag is ek weg Witrivier toe. Vir die skool. Nadat ons ‘n uur gewag het vir die fasiliteerder van die kursus het die groep halt geroep. Ek het my skoolhoof gebel en hom gesê. Hy het nie ‘n probleem gehad toe ek sê dat ek nie my tyd Saterdag weer gaan mors nie. By die huis het ek met ‘n huppel in my stap my spuitkannetjie gevat en vir die eerste keer in drie weke het ek die veld geruik. Ek het nie ‘n hoed opgesit nie – die wind het toestemming gehad om vrylik met my hare speel… My brakke was uit hulle self van blydskap om saam te kon gaan. Ek het nie omgegee vir die skrape op my bene nie. Ook nie vir die paar bosluise wat ‘n happie bloed gesteel het nie. Want ek was in die veld.

Ek kook gewoonlik Vrydagaande omdat Roelf ‘n lekker bord kos mis in die week. Dit was ‘n heerlike aand en ons het na ete in die halfmaan se lig die kilometer tot by die hek gestap en terug. Sommer net lekker gekuier met mekaar en alles wat die naweek gedoen moes word beplan. Dis heerlik om so in die aand te stap. Die pad staan helder uit in die maanlig. Die naguiltjies het spesiaal vir ons ekstra hard gesing, die kameelperde ewe nuuskierig agter ons aan. Hy mis die veld nog meer as ek, ek hoor darem die naggeluide en asem die vars lug in, drink ons lekker boorgatwater. Hy moet chloorwater drink en asem heeldag motoruitlaatgasse en gemors in.

Ons het nie aan die huis gebou hierdie naweek nie, daar was te veel plaaswerk wat gedoen moes word na ons Saterdag ons besigheid in die dorp afgehandel het. Laatmiddag het ons vir Marina ‘n hokkie vir haar haas gebou.

Vanoggend na kerk was ons gou Nelspruit toe want die haashok het iets gekort. Vir oulaas het ons elkeen ‘n spuitkan volgemaak en al geselsende het ons die laaste tydjie saam spandeer voor dit half twee was. Want half twee moet ek sy klere stryk en twee uur ry hy  van my af weg.

En toe het ek my teruggevatte tyd spandeer om my sprinkane op my ander blog te sit. En te skryf dat my lewe nog steeds nie rustig genoeg is nie, maar dat ek ‘n strepie getrek het.

Ek het talente ook gekry wat uitgeleef moet word. Talente waarmee ek Hom moet eer. Ons moet tyd spandeer met Hom, en ons kan dit nie doen as ons so jaag na wind nie. Ons tyd hier is kort gemeet aan die ewige tyd wat vir ons wag . Want ons word gebore net sodat ons kan sterwe, ons is uitgekies daarvoor sodat ons die ewige lewe kan erwe.

Categories: Plaaslewe, Skoolhou, Slakgedagtes | 9 Kommentaar

Een teen die oor en een teen die teer

Een-teen-die oor-en-een-teen-die teer is ‘n tong-in-die-kies defenisie van oriëntering. Sit nou Lewe daarby en jy kry die skoolvak Lewensoriëntering. As wetenskaplike is dit sekerlik vir my die moeilikste vak om aan te bied. Maar ‘n mens se rooster moet vol en eintlik is dit ook goed om so bietjie uit jou eie gemaksone te beweeg en nuwe horisonne te ontdek.

Die oogmerk van die vak is om leerders voor te berei op die lewe en hulle te leer wat morele waardes is. Ook om hulle te leer dat een-teen-die oor-en-een-teen-die teer nie die wyse is om op te tree nie, maar dat elke mens basiese lewensregte het. Baie van die kinders het sterk morele waardes en dis goed om dit te sien. Daar is egter sommiges wat net geen onderskeid kan tref tussen reg en verkeerd nie, en dit gee soms hewige debatte af in die klas. Elkeen is geregtig op sy opinie, maar moet dit kan substansieer. Ek gee hulle altyd eers geleentheid om hulle sê te sê sodat ek die gevoel kan kry van hoe hulle dink voordat ek my eie opinie gee. Dit bly maar ‘n vak van opinies. Die enkeling se opinie, dertig ander in die klas se opinies en dan die opvoeder se opinie. En êrens tussen al die opinies moet moraliteit ‘n rol speel.

Ons is drie onderwysers wat die graad tien groep deel, en met vae vae riglyne uit die kurrikulum dokument gee dit elke onderwyser vryheid om basies te doen soos hy lus kry. Dieselfde onderwerp is jaar-in en jaar-uit op die agenda. Volgende jaar met die nuwe CAPS sisteem gaan dit meer georganiseerd wees, en behoort eenvormig te wees, ongeag die persoonlikheid of opinies van die onderwysers.

So het my mond vroeër in die jaar oopgehang toe ons oor seks gepraat het en die kinders vertel dat juffrou so-en-so sê dat jy maar net moet sluk met orale seks. Wat het van veilige seksopvoeding geword? Wel, sy is geregtig op haar opinie. Ek op myne.  Maar die boodskap wat die kinders veronderstel is om te kry is dat mens oor jou veiligheid moet dink, en in die eerste plak nog te jonk is om dit te doen.

Die leerders het ‘n projek gehad oor dwelms as assessering vir termyn drie en ek het baie oulike werk ingekry. Een vraag was ‘n gevallestudie waar ‘n scenario geskep word van ‘n partytjie waar jy sober is en jou maat saam met wie jy moet huistoe gaan wat poepdronk en vol dwelms is. Hulle moet dan ‘n keuse uitoefen oor hoe om huis toe te gaan. Twee opsies word gegee,  maar nie een van die twee is noodwendig die regte ding om te doen nie. Dis met vrae soos hierdie waar mens duidelik kan sien uit watter agtergrond en opvoeding die kinders kom.

Die een opsie is om aan te dring om self huistoe te bestuur, die ander een om maar saam partytjie te hou tot die volgende oggend en dan maar ‘n plan te maak. Met die bespreking vooraf het ek hulle baie goed ingelig dat nie en van die twee opsies die beste is om te doen nie, en dat hulle ‘n alternatief moet voorstel om die probleem op te los, maar ook te sê waarom hulle nie die ander opsies uitoefen nie.

Waarom nie self huistoe bestuur nie? Want jy het nie ‘n lisensie nie en om die landswette te breek is ‘n kriminele oortreding. Waarom nie saam partytjie hou nie? Want jy loop die risiko om saam dronk te word of dwelms sonder jou wete in te kry  en dan kan allerhande nie-lekker dinge met jou gebeur waaroor jy nie beheer het nie. En môre-oggend is jy en jou maat nog steeds dronk en is die probleem vererger want nou is niemand sober om ‘n rasionele besluit te neem nie.

Die meeste kinders se oplossing was om jou ouers of iemand te bel om jou te kom haal. Baie het gesê hulle ouers laat hulle nie toe om op so wyse uit te gaan nie, hulle laai hulle af en kom haal hulle in elk geval weer. Baie het gesê hulle ouers sal kwaad wees oor die situasie en gaan raas, maar sal hulle nogtans sal kom haal en bly wees dat hulle gebel is. Een het gesê jy moet in die eerste plek sorg dat jy jou vriende beter kies en nie in so situasie beland nie.  ‘n Paar het gesê dat hulle sal huistoe bestuur want hulle kan en het dit al in die verlede gedoen (graad 10 met gemiddelde ouderdom van 16). ‘n Paar het gesê hulle sal eerder saam partytjie hou want dis onveilig om in die aand huistoe te stap, dis beter om in die oggend te stap. Twee sal ook saam partyjie hou en maar kyk wat bring die volgende dag want dis hoe hulle dit in elk geval doen.

Een van daardie meisies is baie ongelukkig oor haar punt wat sy gekry het en gaan die graadhoof sien omdat dit haar opinie is en ek geen reg het om van haar ‘n ander optrede te verwag nie. Dieselfde meisie wat sê dis heeltemal in orde om ‘n aborsie te hê as jy ‘n foutjie gemaak het. ‘n Foutjie is om te vergeet om ‘n kondoom te gebruik as jy dronk is… Dieselfde meisie wie se rokkies net onderkant haar stuitjie sit. Dieselfde meisie wat baaie gul is met die seuns. Wat in graad agt al vir die ander vertel het hoe lekker Sarita’s is en dat dit absoluut niks aan mens doen nie.  Wat geen respek het vir haar mede leerders of onderwysers is nie. Wat in die klas sit en slaap. Of sit en gesels terwyl jy ‘n les aanbied. Vir wie jy al drie jaar verskillende vakke gegee het en met wie se enkelma jy al verskeie kere onderhoude gehad het oor slegte gedrag.

Ja. So is dit ook.

Die grootste meerderheid van die leerders in my groep is nie so nie en hulle gee my hoop. Die meeste meisies veral het baie goeie waardes en vertel hoe streng hulle ouers met hulle is. Hulle vertel in ‘n koor van die sewe B’s: “books before boys because boys bring babies”.

Dis net vir sommiges vir wie een-teen-die oor-en-een-teen-die teer dalk ‘n moontlike opsie moes wees, want die nuwe basiese regte storie beteken vir hulle dat ongeregtigheid reg is.

Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Lag met ‘n traan…

My eerste kennismaking met skoolkinders in 2008 was vir my baie traumaties… Ek is tydelik aangestel in iemand se plek wat op kraamverlof was, en een van die eerste dinge wat ek moes doen was om ‘n projek oor ‘Uitsterwing van diere’  te merk wat sy opgestel het. Ek kon nie my oë glo oor die taalgebruik van die kinders nie, wat staan nog hulle kennis.

Hulle moes basies navorsing doen oor ‘n dier wat uitgesterf het (eie keuse dier), en moes dan ‘n reeks vrae beantwoord uit die navorsing.

Lag met ‘n traan… want dis ons toekomstige parlementslede, dokters, prokureurs, ensovoorts waarvan ons hier praat!

Lees ook oor ander Wetenskaplike ontdekkings uit my klas.

 

Projek – Uitsterwing van diere

 When did  the animal die out and why?

  • This animal die out in 1877. The first diplodocus ( a dinosaur) bones were found in the ground. It die by fainting.

 What would you think would have happened if this animal did not die out?

  • Not would happened a diplodocus is not a danager animal, but if you look at it you can be afraid.

 What role would it have played in the circle of life?

  • Nothing would have happened or roll it would have played. Diplodocus is a kind animals that doesn’t eat people at eat only plants

Are there still animals today that is threatened to become extinct because of humans, what can we do to prevent it?

  • Yes, we must start finding the animals well like ourselves so that they can also sleep full.
  • Kill them
  • Yes the are and we can help this animals by changing our infractracture and building on a country that doent dipend on word mostly
  • Yes the white rhino they are hunted because of their tusks called ivory ivory is worth alot of money and we can help them by say if you are caugth shooting rhino’s your will die
  • Yes ferst of all we can start carry for thees animals and start thinking less about ourself’s because we don’t carry about the global warming and that why we must do so. Think about nation and nation is going to thingk about you …
  • Yes, I think we should stop them from doing it or stop the company if they don’t want to stop will ask the prents if would we kill them because they are killing the bears and elephant of hungery I think we must do so and they will stop cutting out trees.
  • Yes! Give the animals food an water to savaeve. Make them to live a happy life.
  • Yes! Their are animals that are threatened by the human, because the humans eat meat alot to prevent this issue we have to be vegetreans.
  • No life today there no animals that are threat in the life for today. Some animals are. But no now there’s nothing prevent this because people are safe.
  • The dodo bird is going to be extinct. We can prevent it by giving them enough food I think.
  • Yes, there to keep them away you just don’t go to the animals and make sure you dont have wild animals around you and you family.
  • No because the should olready change. Most of animals cant change to human because the only thing that change it was amarkey the is nothing alls it is going to chang.
  • The are animals that want to become humans because people like going to the forest then the animals see them having fun, laughing etc that is why.

Uit hulle eksamenvraestel:

Voltooi:  Die vel is verantwoordelik vir die uitskeiding van …… (3)  (Enige drie van die volgende – water, minerale soute, ureum, hitte)

  • diabetes and diuresis
  • bones and blood
  • kidneys
  • urine
  • uterus
  • germs and carbon dioxide
  • swity, hot and cold
  • sweat-pore, sweat-duct and sweat-gland
  • colour, sun and feelings
  • movement
  • Nikleus,
  • Sweetbuis, haar
  • Live, healf and beaf
  • Oil and dirt
  • Hair, pond and duce
  • Lotion
  • Urethra
  • Sun heat, protects wats inside and keeping everything in place
  • Herm, it creat and function
  • Lungs, heart and veins
  • Lungs, bones
  • Infection, deseases and pimples
  • Oxygen, bones
  • Blood, hear and body
  • Blood, meet and veins
  • Bodymaterial, blood and vessels
  • Covering the body and of making it warm
  • Utear, waste and product
  • Filtation and reabsortion
  • Human, body and blood system
  • Blood, kidney and veins
  • Kos
  • Bakterie
  • Wate en hutte
  • The stomach and intestines
  • Nerves, kidneys and urine
  • Blood, sweat and tears
  • Diaree, siektes en virusse
  • Vuilgoed en kieme
  • Water, stof en klippe
  • Blood vessel, heart and hypertention
  • Sweet, water en vylafskydings
  • Sweet, sure en afval bloed
  • Blood, sweat and stink
  • Process, in life and the human body

 Write down the function of the following:

  • Cell wall – The plant cell  is surrounded by animals

Nov 2010 Eksamen vraestel

 Madam has an aquarium with tropical fish in the class. It is time to clean the container and she has to catch all the fish and place it temporarily in another bowl. However, she experiences a problem to catch the fish with her net. Every time that she scoops, she misses, because the fish is not in the place where it seems to be. Explain what is happening. (3)

  •  The water is sending madam a telegram or the fish and she is dilusional.
  • Mam was supose to make sure that there is water bowl on the side and do this at home not at school.
  • The net is giving off the fish because the rod has a non-contact force with the water.
  • The net has hole it not going to be in the right place everytime.
  • The fish is repelled to the net because if the net comes closer the fish moves away.
  • The glass is big so the fish have the freedom to move around freely and the net might be big or small and the fish moves through the holes.
  • Madam’s force to the fishs but the water moves to the force that was applied
  • When she scoops force is applied into the water therefore it will change the movement of the fish giving it more endurance to escape the net
  • The light that reflects to her eyes has a different mass to the one that’s in the bowl. White light is going through her eyes and there’s different light on the bowl.
  • The bowl was empty there were’nt any fishes in there that made her misses every fish she catches.
  • Die Juffrou kan nie vissies mooi gesien het nie want die water was baie veil gewees en daar het veil goed rond gedryf toe het sy gedink dit was die vissies gewees.
  • As jy dur water en die kas kyk dan skyf die visse want die water beweeg dan lyk dit of die visse beweeg.
  • Want die klas is dik en die lig wat daarop skyn ontbreuk die lig se pad en dit word ligbreuking genoem. (Het ‘n punt verdien vir ‘ligbreuking’!!!)
  • Die net vorm ‘n skaduwee en die vissie soek skadu, so dan swem hy agter die net en nie voor die net.
  • Die akali op die  vistenk maak die visse op ‘n ander plek lyk.
  • It may be the speed or the slipperiness of the fish.
  • She loss a balance and the fish change the place that ifs stand in.
  • Because the light is not shining on the fish scales, therefore the fish scales don’t reflect light and that’s why it can’t be seen
  • The fish is running around the water and the fish live in the water.
  • She must pore a little of the food at the side where the net is placed.
  • It might be because of the fish are to fast for her or the force is’nt great enife
  • There is a hole in the net
  • She has to put on chemical energy so she can catch the fishs. I think she must put food seeds so it can keep them busy.
  • There is not much energy in the fish and the water does not have enough oxygen.
  • I don’t know whats happening. Only you can tell me.
  • When the madam try to catch the fish it change another direction and it moves too fast so it means that madam is to slow.

 Plan an experiment to determine whether the gas that is given off when pieces of marble (CaCO3) reacts with diluted hydrochloric acid (HCl) is carbon dioxide (CO2). Your report must contain a purpose, hypothesis, apparatus and a method.  (4) (Dis nou nadat hulle PRESIES ingelig is dat ek hierdie spesifieke eksperiment in die eksamen gaan vra wat ons in die klas gedoen het)

  •  Method you must separate first then you mix the hydrochloric with hypothesis. 
  • It is given in pieces of marble because it cannot be given in one piece if given in one piece the gas won’t work correctly or won’t have the right hypothesis.
  •  The marbles will react in extinction given by the gas (CaCO3) and acid (HCL) (CaCO3) will not mix with (HCL) in result there will be a change of form from the marble.
  •  The gas that gives pieces of marbe CaCO3 is the diluted hydrochloric because is become warm on that time and the hydrochloric is the gas that can give enough energy on that CaCO3 and the purpose is that the hydrochloric is not working.
  •  The hydrocholic acid has a much better apparatus and purpose the marble piece will only contain Ca reactions and contain a bigger hypothesis
  •  How bout an example of such or a clue!!!!!
Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 8 Kommentaar

Nuwe wetenskaplike ontdekkings

Soms, net soms, voel ek om die vlaktes in te hol. Eintlik jok ek. Nee, ek lieg sommer. Ek voel amper elke dag so, veral op die dae wat ek my graad neges se Natuurwetenskappe vraestelle merk.

Vraag: Wat is gaswisseling en gee ‘n voorbeeld waar dit plaasvind in die liggaam.

  • Antwoord: Gaswisseling is die soort voedsel wat ‘n mens eet en dat vorm gasse (winde). Dit is wanneer ‘n mens ‘n wind los deur jou anus, so gaswisseling vind plaas in jou maag en kom deer jou anus.

Vraag: The nasal cavity contains a lot of blood vessels and mucous glands. Name two functions of the mucous membrane.

  • Antwoord: Keeps the teeth steady on the mouth, and keeps the bones strong.
  • Antwoord: Cood blood & Red cood    (HUH????)

 Vraag uit praktiese vraestel: Write a conclusion by interpreting your observations. (Helder kalkwater het melkerig geword toe ek borrels met ‘n strooitjie daardeur geblaas het om te bewys dat ons koolsuurgas uitasem).

  •  Antwoord: u poot a strou to beaker number 2 blow nothing hapinse bat wen u poot i the strou to beaker number 3 it das buble and it changes colours cours its more asidik
Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 7 Kommentaar

Woordspelings deur verveelde onnies

Vroeër hierdie jaar vergesel ek ‘n leerder na ‘n kamp en ontmoet daar ‘n oulike spannetjie Wetenskap en Wiskunde onnies vanoor die hele land. Ons was vier dames en twee mans; jonk en minder jonk; en almal het sommer dadelik aanklank by mekaar gevind – ons het immers baie in gemeen… kinders, Wetenskap, Wiskunde, skool en bowenal GEES!

Gedurende die dag word ons besig gehou met lesings, fotosessies en allerhande interessante dinge, maar in die aand kuier ons in een van die kamers en soos voorbeeldige rolmodelle is dit net kaffeïen wat genuttig word. Ons is immers deel van die nerds!

Ek kan nie eers onthou wat het aanleiding gegee tot ons hasie woordspelings nie, maar vroeg gedurende die tweede aand begin ons te speel met hasies. Ons lag dat ons op die vloer kruip en ek dog naderhand my maag gaan in spasma gaan van al die lag. Ons eie spitsvondighede word naderhand op ‘n lysie gesit wat net groei en groei en groei…

Wanneer ons weer ernstig raak en bedaard gesels, is dit nie twee minute nie, dan is daar ‘n nuwe hasie wat gebore word uit die gesprek. Party woorde het sommer meer as een plek op die lys. Later in die week het een van die organiseerders gedreig met verbanning as ons nog één hasie uitdink…

Taalkundiges, ons wetenskaplikes het ‘n baie groot waardering vir ons taal, en ek wil graag ons unieke interpretasies van julle woorde met julle deel, verskoon asseblief die spelling op sommige plekke:

Wat noem mens ‘n . . .

  1. ‘n Hasie in ‘n tuimeldroer –   Spinasie
  2. ‘n Deurskynende hasie  – Glasie
  3. ‘n Hasie met hardelyf – konstipasie
  4. ‘n Hasie in ‘n pyp – Blokkasie
  5. ‘n Hasie wat koud kry – ‘n Bibberasie
  6. ‘n Swart hasie – ‘n Lokasie
  7. ‘n Hasie in die mall – ‘n koöperasie
  8. ‘n Hasie wat uiteet – ‘n restourasie
  9. ‘n Verkragte hasie – ‘n mollestasie
  10. ‘n Hasie wat in ‘n ambulans werk – ‘n medikasie
  11. ‘n Hasie wat kan dryf – ‘n flottasie
  12. ‘n Hasie wat ander hase vang en eet – ‘n predasie
  13. ‘n Hasie op ‘n telefoon – kommunikasie
  14. ‘n Hasie in die venster – n ventilasie
  15. ‘n Hasie wat saam met Hip2B2 wil werk – ‘n affiliasie
  16. ‘n Hasie wat sterre kyk – ‘n konstellasie
  17. ‘n Groep mense wat hasie grappe vertel – ‘n organisasie
  18. ‘n Hasie wat sit en staar – ‘n Stipulasie
  19. ‘n Hasie wat na een rigting wys – navigasie
  20. Iemand wat heeltyd hasie grappies vertel – ‘n irritasie
  21. ‘n Hasie wat diep dink – ‘n meditasie
  22. ‘n Hasie in die gim – ‘n perspirasie
  23. ‘n Hasie wat op en afspring  fluktuasie
  24. ‘n Verwarde hasie – is tussen treine op ‘n stasie
  25. Mark Shuttelworth      Basie
  26. ‘n Getekende hasie – animasie
  27. Hasies wat vry – koerasie
  28. ‘n Nat hasie – presipitasie
  29. ‘n Vuil hasie – ‘n stoffasie
  30. ‘n Tiener hasie – ‘n jeukerasie
  31. ‘n Deurmekaar hasie – ‘n koekerasie
  32. ‘n Klomp hasies opmekaar – ‘n stellasie
  33. ‘n Deurmekaar hasie – ‘n konsternasie
  34. ‘n Vervalle hasie ‘n murasie
  35. ‘n Hasie wat gehijack word – viktimisasie
  36. ‘n ANC hasie – ‘n diskriminasie
  37. ‘n Hasie wat in die see woon – ‘n bloublasie
  38. ‘n Hasie met nuwe skoene – ‘n blasie
  39. ‘n Hasie wat gefight het – ‘n bloedblasie
  40. ‘n Maandelikse hasie – ovulasie
  41. ‘n Seuntjie hasie – masturbasie
  42. ‘n Hasie waarop Julius Malema jaloers is – ‘n matrikulasie
  43. ‘n Hasie wat ‘n voorbeeld stel – ‘n simmulasie
  44. ‘n Tuisnywerheidhasie – koekerasie
  45. ‘n Hasie in die dokter se spreekkamer – ‘n konsultasie
  46. ‘n Hasie wat hou van baklei – ‘n konfrontasie
  47. ‘n Hasie wat stink – ‘n bloukasie
  48. ‘n Erkende hasie – ‘n Akkreditasie
  49. ‘n Hasie in die blender – ‘n likwidasie
  50. ‘n Hasie wat goed tennis speel – ‘n federerasie
  51. ‘n Ha-ha-hasie – ‘n alliterasie
  52. ‘n Haas wat rugby speel – ‘n Nasie
  53. ‘n Hasie met sproete – ‘n Pigmentasie
  54. ‘n Hasie wat te veel ge-eet het – ‘n Saturasie
  55. ‘n Dronk hasie – ‘n Fermentasie
  56. ‘n Soet hasie – dis-‘n-stillasie
  57. ‘n Hasie wat die Combrades hardloop –   ‘n Inspirasie
  58. ‘n Kwaai hasie – ‘n Donderasie
  59. ‘n Gewone hasie – ‘n hasie
  60. ‘n Hasie wat ‘n roomys eet – ‘n Lekkasie
  61. ‘n Hasie met ‘n kort rokkie – ‘n Flirtasie
  62. ‘n Hasie in jou tas – ‘n Bagasie
  63. ‘n Katjie hasie – ‘n Purgasie
  64. ‘n Hasie wat in die rondte hardloop – ‘n rotasie
  65. ‘n Gucci hasie  – durasie
  66. ‘n Hasie wat nie ‘n plantjie is nie   – dierasie
  67. ‘n Hasie wat ‘n stuk kaas spyker  –  kommunikasie
  68. Onderwysers op ‘n HIP2B2 kamp wat hasie grappies uitdink –  okkasie
  69. ‘n Hasie met fishnet stockings  –  lokasie
  70.  ‘n Hasie wat ‘n eis instel – ‘n kompensasie
  71. ‘n Hasie wat hou van ruimte  – ‘n spasie
  72. ‘n Lawaaierige hasie  –  ‘n rasie
  73. ‘n Hasie wat krag opwek  – generasie
  74. ‘n Gladde hasie  – Glibberasie
  75. ‘n Hasie wat nie in die stad bly nie  – Lokasie
  76. ‘n Hasie wat make-up dra – ‘n poppielasie (populasie)
  77. Twee Hasies wat stout is  – kopulasies
  78. ‘n Gay hasie – ‘n Emansipasie
  79. ‘n Toonbank hasie – Informasie
  80. ‘n Hasie wat iets werd is – ‘n Waardasie
  81. ‘n Klerikale hasie – ‘n Administrasie
  82. ‘n Hasie nie van Afrika nie – Afrikanisasie
  83. ‘n Akkomoderende hasie – Akkomodasie
  84. ‘n Besige hasie – Aktivasie
  85. Twee hasies wat saamsmelt – ‘n Almalgasie
  86. ‘n Hasie wat alles vat – ‘n Anneksasie
  87. ‘n Hasie wat aansoek doen – ‘n Applikasie
  88. ‘n Hasie wat al dikker word – ‘n Appresiasie
  89. ‘n Hasie polisieman – ‘n Arrestasie
  90. ‘n Alles-absorberende hasie – ‘n Assimilasie
  91. ‘n Portier hasie – ‘n Bagasie
  92. Baie hasies – Basies
  93. Hierdie woordspeling – interpretasie
Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 5 Kommentaar

Gas by ‘n spesiale geleentheid

Gister in die Lewenswetenskappe klas kom vra Pretty of sy my asseblief kan sien na klas. Gedagtig aan vorige probleme tuis waarvoor sy my in haar vertroue geneem het vir hulp, dag ek daar is weer moeilikheid.

Sy kom staan teenaan my, ogies op die grond en praat so saggies ek kan amper nie hoor nie. “Mam, it is PAT evening tonight and I have no one at my table.”

Siestog, my hart huil vir haar. Dis hulle tweede praktiese eksamen en elkeen moet gaste by hulle tafel hê. Sy woon soms by tannies in die dorp wat haar nie goedgesind is nie; en soms woon sy by haar sussie en ry dan elke dag vyftig kilometer bus na ons skool toe. ‘n Harde, arm lewe.

“I will come Pretty, I will be there as your guest.”  Ek spring gou op my selfoon en laat weet vir Roelf ek neem hom uit vir ete by die skool se restourant, hy moet sorg dat hy sy werkery so beplan dat ons ses uur by die skool kan wees.

Toe die klok na skool lui is sy weer daar. “Mam, can you still come tonight? Are you sure you can come?” Ai, ai. Arme kind. “Yes sweetie, I’m sure I can still come, and I am bringing my husband with.” Ogies sommer dadelik blink van die trane.

Sy was deel van die span wat in die kombuis gewerk het vir die aand, maar ons was skaars daar toe sien ek ‘n gesiggie loer en ‘n handjie wat waai. Seker die hele tyd geloer tot ons kom.

Gedurende die aand verlaat sy haar pos in die kombuis om te kom vra of alles reg is. Ek en my man sit alleen aan by die grote tafel. Aan die einde van die aand kom sê sy dankie dat ons gekom het, en toe hulle huistoe gaan kom groet sy en sê sy gaan nou.

Ek het sommer ‘n klomp foto’s geneem en sal vir haar laat druk vir ‘n presentjie.

Ek staan bekend as ‘n kwaai juffrou, ja… maar ek het ‘n baie sagte hart vir sulke seerkry kindertjies en ek voel baie spesiaal dat ek haar gas was vir haar spesiale aand.

Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Blog at WordPress.com.