Monthly Archives: Desember 2012

Laaste sonsondergang van 2012

Vader in die hemel,

Baie dankie vir al die seëninge in ons lewe. Dankie dat die son so mooi totsiens gesê het vir 2012. Dankie dat ons kan hoop op ‘n nuwe môre. Dankie vir al die liefde van die mense rondom ons.

Dankie dankie dankie

Amen

Categories: Sommer maar net | 5 Kommentaar

Tyd

Hierdie tyd van die jaar is ek altyd meer as ander tye vreeslik bewus van die tyd wat so onder ‘n mens uithardloop. Hoe ouer ek raak, hoe vinniger voel dit hardloop die tyd. Dis ook ‘n tyd van die jaar wanneer ‘n mens bestek neem van die jaar se gebeure en ‘n oordenking van hoe dit jou geraak het. Vir ons het daar hierdie jaar baie dinge gebeur. Sommige gebeurtenisse was groot vreugde, ander was baie hartseer en tussendeur het ons sommer net aangegaan met ons lewens.

Desembervakansies is gewoonlik tyd vir werk op die plaas, dis somer, dis reën en dis die tyd waarin die Pompoms hulle kleur kom wys. Nie hulle mooi pienk-pers kleur nie, maar hulle ware kleure… daai indringerkleure!

Hierdie vakansie se eerste deel het ‘n bietjie anders as gewoonlik vir my verloop. Ek het mos vroeër die jaar my eerste kleinkind ryker geword, en sy het bietjie by ouma kom kuier terwyl haar mamma en pappa hulle laat-wittebrood gaan vier het. Dit het beteken dat ouma nie so baie tyd in die veld kon spandeer nie, want klein babatjies kan nie saamgaan nie.

Besig was ek wel, sommer baie besig… maar dit was ‘n heerlike tyd meestal in my werkskamer. Zelmarie het baie ure saam met ouma daar gekuier, en sommer lekker in haar stootwa gedut terwyl ouma werk of groot stories vertel wanneer sy wakker was. Ek het sommer ‘n hele klompie goedjies gemaak, vir ‘n slag vir myself ook, gewoonlik is dit altyd vir iemand anders. My kombuis het ‘n paar dinge ryker geword, waarvan party nog nie voltooi is nie, maar ek het ook ‘n paar geskenke gemaak.

Gebreekte borde kry 'n nuwe lewe

Gebreekte borde kry ‘n nuwe lewe

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Tyd genees alle wonde” en ek het hierdie horlosie gemaak vir my kamer as simbool daarvan. Die middelste gedeelte is gemaak van gebreekte borde uit die brandrommel van vroeër vanjaar.

Soos hierdie stukkende borde is ‘n mens se lewe ook maar, daar is altyd stukkies om op te tel om ’n nuwe begin te maak. Die ou stukkies se doel was uitgedien, en gekombineer met nuwe idees kry dit ‘n nuwe lewe. Moenie vasklou aan wat was nie, dink nuut. Dink môre.

Categories: Slakgedagtes | 4 Kommentaar

Ons Ouboet word sestig

Vandag sestig jaar gelede is ons Ouboet, Koos van Rensburg, gebore. Tegnies is hy ons swaer, maar hy speel so ‘n groot rol in ons lewens dat hy eie familie is.

Koos en Drinie

Koos en Drinie

Ek was in standerd een toe Drinie hom huistoe gebring het, en in ‘n gesin met sewe dogters en een kleuter boetietjie, was ‘n mansfiguur ‘n rare ding! Koos was so geduldig met my en my twee jonger sustertjies en het  ons nooit, ooit afgejak wanneer ons sê: “Swaai ons nog ‘n keer ‘seblief” nie. Nooit.

Dis in my geheue afgeprent hoe ons kompetisie gehou het om te sien wie sien eerste sy wit Simca karretjie wanneer hulle vir ‘n naweek kon wegbreek van hulle universiteitstudies, en dan die gehardlopery om eerste by die kar te wees wanneer hulle uitklim. Natuurlik het ons na ons sussie ook verlang… maar Koos het ons op sy nek laat klim en rondgeswaai, iets wat ons pa nooit met ons gedoen het nie. In ‘n groot mate was hy vir my ‘n vaderfiguur.

Ek het die afgelope naweek die rustigheid waarmee Koos aandag aan ons as kleintjies gegee het weer gesien in die manier waarmee hy sy kleinkinders behandel het. Met net soveel geduld het hy saam met Ivan en Luka krieket gespeel, en keer op keer vir Ivan nog ‘n kans gegee om te kolf wanneer hy hom direk uitvang; en vir Luka nog ‘n kans om windskeef te boul.  Vir Luka het hy die vorige dag geleer om ‘n frisbie te gooi, en eers opgehou toe Luka verveeld begin raak.

Iets wat vir my besonders aan Koos is, is die rustige manier waarop hy die lewe hanteer. Ek het hom nog nooit in woede sien optree nie, konflik word op ‘n sagte maar ferm manier hanteer sonder dat daar ‘n groot baklei is. In sy werk, familie en skoonfamilie is hy ‘n leier wat gesag en respek outomaties kry, hy hoef dit nie af te dwing nie.

Wanneer ‘n mens in ‘n verhouding is, is dit so maklik om die hasepad te kies wanneer dinge swaar raak. Koos en Drinie het ‘n besluit geneem dat hulle hulle huwelik gaan MAAK werk, en enige iemand wat hulle bymekaar sien, sal kan vertel dat hulle ‘n voorbeeld is vir almal en hulle is ‘n gedugte span. Hulle drie kinders is met baie liefde en goeie waardes groot gemaak.

Koos kom uit ‘n groot familie, en het in ‘n groter een ingetrou. Toe hulle begin beplan het aan sy verjaardag viering, het hulle gou gesien dat dit logistiek moeilik gaan wees. Gelukkig is die twee families is nie vreemd vir mekaar nie, en kom in meer as een opsig ‘n lang pad saam. Uiteindelik het hulle besluit om ‘n plekkie te kry waar almal kan oorslaap en wat sentraal is vir almal om te bereik. Die hele familie en skoonfamilie was toe hierdie naweek by Nylsvlei, alles op Koos en Drinie se onkoste.

Drinie self is ‘n organiseerder van formaat, en die naweek is haarfyn beplan. Sy het die meeste van die kos wat vooraf bereibaar was by die huis gedoen. Al wat ons moes doen, was om elkeen een keer te help met die kos, en elkeen moes sy eie skottelgoedjies was. Sy het ‘n rooster opgestel in detail, my bydrae was byvoorbeeld om te sorg dat die pampoenpasteie betyds warm gemaak en gesny is vir die verjaardagete Saterdagaand.

Hulle het vooraf die plek besoek en vir almal ‘n behoorlike inligtingstuk gestuur met behoorlike aanwysings, foto’s van hoe die kamers lyk en alles wat ons te wagte kon wees. Vir die storte wat nie gordyntjies het nie, het Drinie vinnig ‘n plan gemaak en almal kon in privaatheid stort.

Om die kuier ‘n bietjie interessanter te maak, het hulle ‘n tema gekies vir die Saterdag se verjaardagviering. Elkeen kon sy gedagtes laat gaan en bietjie uithaak met “Ek lyk nie elke dag so nie”, met die klem op commin en zef.

Dit was ‘n skreeusnaakse affêre en oud en jonk het entoesiasties deelgeneem. My agt-en-sewentigjarige ma het met groot detail van kop tot toon aandag gegee aan haar mondering. Kniehoogte sykousies by ‘n dienlike paar toerygskoene, onderrok wat uitsteek, bloedrooi lang naels, en ‘n serpie en hoed om die grimering te komplimenteer. Haar valstande het sy in ‘n banksakkie rond karwei en dan kamstig geteug aan ‘n sigaret met daai pap bekkie.

Party se hare is geskeer vir die okkasie, ander is getease tot ‘n koekery . Tattoes op vreemde plekke het skielik opgeduik…selfs die kleintjies is aangetrek. Wat ook skreeusnaaks was, is moderne mans wat skielik ‘n blokkieshemp aantrek en outydse kantpaadjie in die hare dra, iets waarin hulle nooit, ooit andersins gesien wil word nie.

Oupa Piet van meer as tagtig het twaalfuur botweg geweier om te gaan slaap en het tot vroeë ure saam met die jongklomp gesit om die kampvuur en grappies vertel.

Dit was ‘n fenominale naweek van lekker kuier en baie pret. Wat vir my opvallend was, is dat niemand ooit lelik was met iemand nie, niemand het hulle sleg gedra nie, niemand het te veel gedrink nie, selfs die kinders het nie baklei nie… en ons was meer as sestig mense!

Ons het Koos se verjaardag sommer vroegtydig vir ‘n hele naweek gevier, maar vandag, op sy spesiale dag, sê ek namens ons hele familie vir hom baie geluk.

Ouboeta, baie geluk met jou groot verjaardag. Baie dankie vir die manier waarop ons jou groot dag saam met jou kon vier. Baie dankie vir dit wat jy vir ons almal doen. Jy is vir ons almal spesiaal. Baie. Mag ons Vader jou ryklik seën met goeie gesondheid en ‘n gemaklike lewe so lank jy vir ons gespaar sal wees.

Vir jou spesiaal sing ek vanaand:

Mag ryke se seëninge

uit Sion jou bedou:

mag jy die goeie dinge

van Sionstad aanskou!

Mag jy nog, op jou bede,

‘n nakroosseen verkry!

En, God van alle vrede,

Mag Isr’els vrede bly!

Categories: Familie | 5 Kommentaar

‘n Klip is ‘n klip

Sien jy wat ek sien?

Sien jy wat ek sien?

Het julle ook toe julle kinders was op die naat van julle rûe gelê en soek na patroontjies in die wolke?

Ek sien patroontjies orals, nou nog! Kyk bietjie volgende keer wat jy ‘n lekker borrelbad vat watter mooi goedjies jy kan sien in die skuimpatroontjies.

Kyk of jy ook die man kan sien wat sy gesig vir my in klip gewys toe ek nou die dag in die veld gaan stap het. Ek het net ‘n foto geneem en hom nie aangedra huistoe nie… hy wil graag in die veld bly, al het my hande gejuk om hom saam te dra.

Vir die van julle wat nie so groot verbeelding het soos ek nie...

Vir die van julle wat nie so groot verbeelding het soos ek nie…

Eintlik jok ek, hy was te swaar om te dra met een hand… hy wou nie regtig daar bly nie, hy wou saam met my huistoe gaan!

Eendag wanneer ek hom weer kry sal ek dalk ‘n plannetjie maak.

Categories: Plaaslewe | 3 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.