Gedigte

Om my hart te verstaan moet jy die storie saam met die gedig lees

Lourens 16 Aug 2015

Winterblare word poeier onder my voet se val

‘n Paadjie oop geloop, bo teen die wal

Menige geselse om ‘n potjie tee

oor diepe dinge of sommer net, wel en wee.

Ons tydjie saam raak min my vrind…

Maar ons albei wéét

ons sal hierdie beskore tydjie nooit vergeet.

Ek het jou genooi en jy het gekom,

Jy beloon my kos met ‘n prentjie van ‘n blom.

Ons tydjie saam raak min my vrind…

Ek sou graag wou hê dat jy nog ‘n bietjie bly

maar ek weet elders gaan jy ook weer gedy.

Eendag… eendag sal ons mekaar weer vind

want ons is albei één asem in die grote wind.

Ons tydjie saam raak min – my liewe vrind!

16 Aug 2015

lourens

Advertisements
Categories: Gedigte, Omgee, Slakgedagtes | 2 Kommentaar

Lewensreis

Pak vir jou ‘n koffer,

pak vir jou ‘n tas.

Gryp ‘n strandsak

maar onthou tog net jou jas.

 

Jy mag kom net soos jy daar is,

of tof ‘n uur vooruit…

maar onthou dat na God

die eind reis is.

 

lewensreis IMG_7229

Categories: Gedigte, Slakgedagtes | Lewer kommentaar

Flentertjies vir ‘n nuwe môre

Eens op ‘n tyd
het jou gesig gelag met myne
in ‘n grote spieël.
Maar helaas – die vlekkelose kaatsing
was slegs ‘n refleksie
wat in eie hoop bestaan
en wegspat op die lewensvloer.

Met eerste blik lyk flentertjies soos mors
en gebrokenheid vir ewigaltyd deur.
Koester egter elke stukkie van dit wat was
want tyd en geduld is die lewensmosaïek se meester
wat rondom ‘n Ankerpunt ‘n nuwe môre bou.

Categories: Gedigte, Omgee, Slakgedagtes | Sleutelwoordw: , | 5 Kommentaar

‘n Gedagte vir jou

Jy sê jou wieletjies is pap, jy ry al op die rims.

Ek kan ‘n duisend rose vir jou gee

maar jy het nie soveel blompotte nie.

Ek kan vir jou ‘n boks vol sjokolade stuur

maar dan word jy vet.

Ek wens ek kan vir jou sê toemaar, môre is alles reg.

Ek wens ek kan vir jou sê drink ‘n pil, dan is al die pyne weg.

Maar ek kan nie.

Ek kan slegs deur die eter van die internet

‘n prentjie stuur van ietsie moois uit God se wilde tuin.

Ek het self aan hom geruik en kan vertel dit was soet.

Saam met die wind stuur ek vir jou ‘n gedagte…

Mag jy vrede vind.

Ansellia africana IMG_3131

Ansellia africana, welriekende orgidee wat wild groei op ons plaas.

Categories: Gedigte, Omgee | 6 Kommentaar

Stof tot stof

‘n Wetenskaples in kort vir jou oor Stikstof, een van die belangrikste elemente op die periodieke tabel, en weerlig.

Ons atmosfeer bevat amper 78% stikstof en dit kom voor as ‘n diatomiese molekule, N2. Hierdie molekule is inert (dit beteken onreaktief) en om die bindings te breek sodat die atoom met ander atome kan verbind, benodig ‘n enorme hoeveelheid energie.

Weerlig is ‘n natuurlike bron van energie wat genoeg is om die bindings te breek sodat die stikstofatome met die suurstof in die atmosfeer kan verbind om stikstofoksied te vorm. Dit los op in die rëen en vorm oplosbare nitrate wat na die aarde val om die grond te verryk.

Plante gebruik hierdie nitrate uit die grond en vorm nutriënte. Ons eet die plante en proteïene soos spiere vorm in ons liggame. Uiteindelik verrot ons wanneer ons sterf en word die stikstof weer vrygestel aan die atmosfeer.

Stof tot stof.

*************

Gaan lees hier meer oor die stikstofsiklus, dis in eenvoudige taal geskryf

Categories: Gedigte, Slakgedagtes, Sommer maar net | 8 Kommentaar

Voetspoor in die klip

Slegs mense wat my ken sal weet waarvan ek praat, en daarom bietjie agtergrond vir jou wat dalk die eerste keer hier lees…

Jy sal maar die skakels moet volg vir die hele storie.

‘n Keerpunt het gebeur in my lewe wat my siening oor baie dinge beinvloed en verander het. Mens kan nie onaangeraak gelaat wees na so ‘n trauma nie. Om dit twee keer in net bietjie meer as ‘n jaar se tyd te belewe is om jouself werklik in nederigheid te onderwerp aan die Wil van God. Dit laat jou nakend voor God, gestroop van alle aardse bande. 

Om grond te vorm waarin lewendige organismes bly moet groot klippe eers verweer – die alewige skeppingsproses aan die gebeur… ‘n getuienis van die werke van Sy hand op ons sonsondergangklip. 

Ons kan net getuig van die Liefde van God. So baie mense het Hy gestuur op ons pad wat sonder huiwering net gee. Dit het nog nooit opgehou nie, en dit is swaar om te ontvang. Dankie daarvoor. Dankie vir almal se liefde uit God se genade. 

Simbole om my aan my eie sondigheid en sterflikheid te herinner, is oral. Ek lees die Woord ook in die natuur.

Alle lewende organismes is vir my belangrik. Eers eendag na hierdie lewe sal ons werklik weet waar ons inpas in die groot geheel. Dit is vir my ‘n voorreg om op my plaas te kan loop en al God se kinders te kan sien, en dit is vir my ‘n lewenstaak om my roeping te vervul as bestuurder van die stukkie grond wat vir ons gegee is in ‘n siek wêreld waar indringing as normaal beskou word.

Voetspoor op ons sonsondergangklip

Categories: Gedigte, Slakgedagtes | Lewer kommentaar

Lente in die Laeveld

‘n Paar jaar gelede het ek elke dag die Barberton-Nelspruit pad gery. Nie net een keer per dag nie. In die oggend het my man gewoonlik die kinders skooltoe gevat, en in die middae het ek vir ousus gaan haal sodat sy haar matriekwerkies kon doen. Laataand het ek weer gery om vir kleinsus wat drie ure per dag geoefen het vir  gimnastiek te gaan haal. Dit was voor SANRAL die pad so mooi breed gemaak het… dit was nog die ou smal gevaarlike bergpas.

Die pragtige natuur het elke dag opgemaak vir die baie ryery, en ek en my kinders kon ons verwonder elke dag aan die grootsheid van die Skepping. In die oggende is dit die mis wat vir jou vertel daar is geheime waarvan jy nie weet nie, in die dag die pragtige berge wat sommer net spog en die aande se gevaarlikheid word versag met soms ‘n koedoe langs die pad. Een aand het ons die mooiste, mooiste elektriese storm gesien woed oor die Makonjwaberge. 

My hele lyf is in opstand oor die winter. En ja ja, ek weet van julle hou daarvan… maar my lyf is klein en vol koskwale en ek begin nou sukkel om my energievlakke op te hou met my beperkte dieet.

En terwyl ek so murmureer toe gaan grou ek in my leêrs vir hierdie, net sodat ek weer moet onthou waarom daar winter moet wees.

Lente in die Laeveld

Spatsels koraalboomrooi

kom om die veld te tooi

in skrille kontras met die geelbruin dooie veld.

Drolpere se oorvloed wit kombers

laat my verwonderd staan.

En dan – die eerste reën was al die botsels grasgroen skoon

verberg onder ‘n laag van winterstof.

 

Jaar na jaar verstom ek my

en kan ek nie anders as om te bely

oor Jou wat in ons lente hier

maar telkens openbaar:

Jou Bruid is hier,

Hy was ons met Sy bloed,

Sy trane maak ons vry…

Categories: Gedigte, Sommer maar net | 1 Kommentaar

Klip-klip

Klip-klip

is ‘n klop-klop.

Klip klop aan my hart…

Hou my – nee, grýp! my binne vas.

Sommer ‘n gediggie wat ek vir Roelf geskryf het jare gelede, wat ek nog altyd uit my kop uit ken. Dit was op ‘n klein stukkie papier geskryf  in ‘n blikkie op my spieëlkas van doerdie tyd af. Ons was kort getroud en met vakansie by Ramsgate. Hy het gou geleer dat die pad na my hart blommetjies groei as hy vir my mooi goedjies optel en bring.

Hy het vir my ‘n besondere golf-en-sandgeskuurde klippie gegee wat vir ses-en-twintig jaar altyd naby my was. Wit-romige kleur met ‘n tekstuur wat my laat dink het aan ‘n stukkie gepoleerde versteende hout, wat ek nog nooit êrens anders gesien het nie. Amper reghoekig in vorm, met twee gaatjies waar sandkorreltjies ronde ogies in geskuur het oor ‘n baie lang tyd. In my laboratoriumjas se sak. Bo-op my lessenaar. In my wegsteekplekkies saam met ander kosbaarhede. Afhangend van my gemoedstoestand dáár vir voel of kyk.

My klippie was daar vir troos in seer tye, sommer net vir kyk in bly tye. Was.

My klippie het perfek in my hand gekoester. Het.

HET!

Ek het vir ‘n week lank elke dag met ‘n sif gesit en soek. Geduldig. Wenend. Stukkend. Gedink dis iets wat die hellevuur sou oorleef.

Nou, na al die jare, wil ek my gediggie voltooi.

Klip-klip

was ‘n klop-klop.

Klip is nou net in my hart.

Categories: Gedigte, Slakkeding | 3 Kommentaar

Drome oor groen en goud

Elke mens het talente ontvang. Wat ons met daardie talente maak, bepaal op die ou einde wie en wat ons in die lewe is.

 Toe ek klein was wou almal my altyd oppiep omdat ek so klein is. Petiet-klein is. Ek het dit gehaat – tot ek later van tyd geleer het om dit tot my voordeel te gebruik, selfs soms te misbruik ook! Ek wou só graag ‘n vreeslike goeie atleet wees, maar my bene is net té kort om by te bly, net té kort om vêr genoeg te spring… Dit het my egter nie gekeer nie en dit was vir my lekker om net deel te neem.

 ‘n Jaar of wat na ons troue koop Roelf ‘n boog. Fassinerend, maar ai, ek kry die snaar nie geroer nie. Mettertyd word die boog toe weggepak toe hy nie meer plek het om te skiet nie. Op ‘n dag, na baie jare, praat ons oor ons toekomsdrome, wat ons nog wil doen, goeters wat vir ons belangrik is. Een van sý drome was om nog kompeterend boog te skiet. ‘Eendag is nóu’, sê ek vir hom, ‘Moenie wag tot jy te oud raak nie. As mens nie werk aan jou drome nie dan bly dit net drome.’. Sommer die volgende dag besoek hy ‘n boogskietwinkel om pyle te gaan koop. Blinkoog kom hy toe daar aan – nie net met nuwe pyle nie, maar sommer met ‘n splinternuwe boog. Vertel so ewe vir my dat daar nou baie dames-boë ook op die mark is, en dat ons vir my een moet kry… Ek wou nie sommer net ‘n spul geld uitgee nie, en skiet toe eers met ‘n geleende boog om te kyk of ek regtig daarvan gaan hou. En hóé hou ek toe nie daarvan nie! En ek is ook nie te klein nie, mens koop ‘n boog wat by jou eie lyf pas. Net vir jou.

 Ons begin 3-d skiet, en Roelf vaar van die begin af sommer goed en kry provinsiale kleure al in die eerste jaar. Ek daarenteen sukkel maar, kry so af en toe ‘n medalje, maar kom nooit op provinsiale vlak nie. Toe ons plaas toe trek besluit ek dis nou sommer tjol om altyd so tweede-beste te voel. As deel van my plan om my vorm te verbeter begin ek FITA teikenskiet.

 Op ‘n dag kom daar ‘n uitdaging vanaf die South African National Archery Association  ‘Do you have what it take?’ en ek besluit ‘Ja, ek HET … en ek WIL’ die uitdaging aanvaar om vir my nasionale kleure te werk en te kwalifiseer vir die nuwe National Squad program. Die gedissiplineerde, meer introverte vorm van boogskiet pas baie beter by my persoonlikheid en sommer gou word Roelf se stokperdjie en droom mý obsessie!

 Ek werk hard en dis ‘n hoë berg om te klim maar die teleurstelling is baie groot toe ek 5 punte kort op my gemiddeld om as ‘Candidate Squad’-lid aanvaar te word in Julie 2006. In sak en as. Net vir kort, want my harde werk is raakgesien en ek word op meriete gekies!

 Kwalifisering vir nasionale kleure was ‘n gemiddeld van 1305. Soveel kere het ek al meer as 1300 geskiet by die huis, soveel kere het ek met groot verwagtinge na ‘n toernooi vertrek. Maar keer na keer ontwyk die ou grote my, en ek werk maar weer… vol hoop vir die volgende keer.

Elke mens doen dinge met sy eie motiverings, ek het meer as een ding wat vir my ‘n motivering is om my beste te gee. Een van daardie motiverings is Ma. Onder spesiale mense is sy die spesiaalste. Ons kuiertjies alleen voor elke kompetisie wat ek in Pretoria of Johannesburg skiet spesiaalste-spesiaal, alleen geselsies wat nooit beskore was in ‘n gesin vol kinders nie. Soms sit ons sommer net bymekaar, sy besig met ‘n breiwerkie en ek vasgevang in my geestelike voorbereiding. Dood tevrede bymekaar. Ek vertel vir haar van die rol van laventel in my geestelike voorbereiding tydens oefening en kompetisie; en toe ek weer in my kamer kom staan daar ‘n POT vol vir my… ‘n Pakkie laventel badsout om in te bad voor nasionale kampioenskappe… ‘n Laventelroompie skelmpies weggesteek in my badkamertassie. Vir haar skiet ek oor al die geleenthede wat sy nooit gehad het nie, vir al haar intellektuele en sportiewe talente wat sy nie kon gebruik het nie, omdat sy vir ons gehad het. ‘n Man en ‘n huis vol kinders. Maar waar sy AL haar ander talente honderd persent uitgeleef het sodat sy IETS is, sonder intellektuele of sportiewe glorie; net ‘n wonderlike Ma en ouma vir haar vele kleinkinders, ‘n steunpilaar vir almal rondom haar. Nou nog selfs in die aftree oord waar ons verlede week haar sewe-en-sewentigste verjaardag gevier het.

 ‘n Ander motivering is ‘n spesiale sussie. Jonk gediagnoseer met diabetes en twee jaar jonger as ek. Dis al meer as 30 jaar vanaf diagnose, en haar organe se aftakelingsproses is aan’t versnel. Nou het sy ook rumatoïede artritis, met elke gewrig in haar liggaam ‘n punt van pyn. Die behandeling is toksies en maak haar soms sieker as die siektes saam, sy is op die laaste linie behandeling wat die mediese wetenskap haar kan bied. Net voor Kersfees 2006 kry sy binne die bestek van 2 dae 300 kortisoon inspuitings, darem onder ligte narkose. Drie honderd! Haar ledemate en lyf was oortrek met blou kolle. Dit was maar die eerste van baie kere, soos wat die jare aanstap gebeur dit meer en meer. Maar sy loop haar pad sonder dat sy ooit kla, sonder dat jy dit eers weet as jy haar nie ken nie.

 In ons familie word mens groot as jy 40 is, en my hart was baie seer toe ek Noek se partytjie mis. Maar ek was ‘n geleentheid gegun om ‘n ekstra probeerslag in te sit, en ek doen dit, ek skiet elke pyl vir haar – my eerste telling bo 1300 – en ek doen dit GOED, met ‘n telling van 1330! My trane was nie net van blydskap oor my punte nie, dit was ook van trane vir my sus en ek skryf vir haar ‘n gedig as verjaardag geskenk.

 Dit alles gee my moed en ek kwalifiseer ‘n paar weke later vir my nasionale kleure en vir National Squad. Net-net, maar ek máák dit! Ek is no. 5 op die ranglys, en mis my groen en goud – die eerste vier kry geleentheid om oorsee deel te neem. Die kwalifisering skuif September 2007 op na 1325, en ek moet van voor af werk… Kort daarna begin gesondheidsprobleme pla en moet ek drasties afskaal aan my oefenprogram.

 Dit neem ‘n paar jaar om weer mens te word en in die vroeë môre-ure van my heel eerste kompetisie daarna, op 06 November 2011, is daar ‘n bliksemstraal uit die hemel en brand al my drome tot as. Van my bronsmedalje met nasionale kampioenskappe en my nasionale lapelwapen is slegs ‘n lae resolusie digitale fototjie oor. Sonder versekering gaan dit ‘n paar jaar neem voor my sport weer my obsessie kan word, nou moet daar eers weer ‘n nuwe huis gebou word en die kinders moet geleerdheid kry en getroud kom. Gelukkig is dit ‘n sport sonder ‘n ouderdomsbeperking en weet ek dat ek met harde werk weer daar kan kom.

 Boogskiet self is nie een van my talente nie, maar my wil en deursettingsvermoë om nie op te gee nie, dalk ‘n groter faktor vir my sukses. Sommiges noem dit hardkoppigheid, noem dit nét wat jy wil. My boogskietpad is ‘n opdraende pad, ene wat ek nou kruip, maar met ‘n lied in my hart.

Die berg wat ek gedink het ek klim was toe net ‘n illusie, die gróót piek lê nog voor. Ek gáán by die piek uitkom, die piek waar die groen bokkie wei en die goue protea blom… al gaan dit dan as bejaarde wees in ‘n rolstoel wat Para Archery verteenwoordig. En my uitsig gaan so wyd en so ver wees dat my oë piepklein skrefies gaan trek en ek die wind gaan blameer vir die water wat daaruit stroom.

Vir Teunet – op jou 40e verjaardag, 12 Jan 2007

Ek kyk op, die teiken vaag voor my.

My hart klop-klop in my keel.

Ek span my boog…

voel my spiere werk.

 

My kop word leeg.

Die pyl verlaat die boog

wanneer ek vir ‘n splitsekond

my liggaam van asem weerhou.

 

Ek volg die vlug

en die dowwe slag bevestig

dat dit ‘n kolskoot is.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jy die mooiste hare het,

dat ek jou sproete begeer het toe ons kinders was.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jou lewe vir my ‘n inspirasie is,

dat ek altyd opkyk na jou.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat my soeke na die goud

‘n ode is aan jou wat sonder kla,

sonder verwyt, voluit lewe.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jy baie spesiaal is vir my.

Ek wou nog vir jou sê…

dat ek dit nou gesê het.

Categories: Gedigte, Slakresies en ander sport | 5 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.