Monthly Archives: September 2011

Ek ken my pad

Gerda sê op Facebook: “Pas terug van my redelik gebruiklike trippie met ‘n emmer kanaal toe. In die somermaande word ons gereeld die eienaars van ‘n padda of twee in die swembad. Die kwaak dan die hele nag deur, en die honde blaf vir die padda. Na ‘n nag of wat, vaar Hans daar in en dan word die padda in ‘n emmer gevang, en dan moet ek die volgende dag die padda in die kanaal gaan gooi. Maar Hans is seker die padda kom terug, want hy is elke keer groter. Hoop maar die volgende besoeker is nie weer so ‘n grote nie, anders gaan Hans paddamoord begin oorweeg!”

Op die plaas het mens twee pare tekkies nodig. Een paar vir dorptoe en een paar plaastekkies. Dis net onafwendbaar dat mens jou skoene beskadig as jy in die bosse loop. Plaastekkies kom GLADNIE in die huis nie, daarvoor is hulle te vol koeksels modder wat later droë stukkies mors in Ma se huis. So het my paar plaastekkies ‘n spesifieke plekkie op die stoepmuurtjie gehad.

Gedagtig aan lewende organismes wat kan seil, kruip en steek, is my tekkies elke keer sorgvuldig uitgeskud voor ek hulle aangetrek het. In die somer dra ek meesal net plakkies, dis te warm vir tekkies, selfs as ek gaan Lantana spuit.Op ‘n dag is dit toe nou nodig vir toe skoene, en ek het die gebruiklike skud gedoen, niks het uitgeval nie en ek het aangetrek.

Ek was haastig en was net effens vererg met myself omdat ek ‘n vorige paar kouse in die skoene vergeet het. Met my terugkoms druk ek toe my hand in om die kouse uit te haal, net om aan iets koud te vat… ‘n Padda, en hy het sowaar die hele stappie oorleef!

Hy het vir baie lank so in my skoen gebly, ek het hom maar elke keer mooi uitgeskud en dan het hy weer ingeklim as ek sy huis terugbring. Ek het geleer moet ook kýk, want diertjies laat nie vir hulle skud nie!

Eers toe kon ek verstaan waarom my oorlede Pa nie die padda in sý skoen gevoel het eenkeer lank gelede nie. Hy het nie baie goeie bloedsomloop en gevoel in sy voete gehad nie. My ma het eenkeer vreeslik begin kla oor sy voete wat so stink en ontdek toe ‘n baie vrot padda voor in sy skoen!

Jý ken jou pad na die geborgenheid van jóú huis. Daar waar jy weet jy beskutting vind. Daar waar jy weet kos is. Daar waar jou geliefdes is. Gun die padda om sy pad te ken. Gun hom om vir ‘n geliefde te roep. Hy is ook maar net ‘n wese gemaak deur dieselfde Vader wat vir jou en my gemaak het.

Categories: Plaaslewe | 6 Kommentaar

Frieda se kruis

WAARSKUWING – Hierdie inskrywing bevat materiaal wat sensitiewe kykers mag ontstel!
 
Deel van ons droom om ‘n stukkie grond van ons eie te hê, was ook om ons eie, eie kameelperde te kan hê op daardie stukkie grond.

Ons het baie hard gewerk om daardie droom ‘n realiteit te maak en op ‘n dag in 2003 toe word daardie droom werklikheid. Na nog baie opofferinge kon ons in Jul 2004 uiteindelik twee onvolwasse kameelperde bekostig. Ons het net-net permitte gekry, wat gegee word onder andere volgens die grootte van die grond en beskikbare voeding.

Hulle word Frikkie en Frieda gedoop. Ons sou maar geduldig wag vir die aankoms van ons eie langnekbaba wanneer hulle reg is. Uiteindelik was hulle geslagsryp en ons sien in 2007 dat Frieda uiteindelik swanger is, maar ons het geen aanduiding wanneer om die baba te verwag nie. 

Frikkie en Frieda kort na ons hulle gekry het

Ons wag baie angstig vir die baba en was baie hartseer toe ons na ‘n langnaweek weg in Sept 2007 ‘n dooie baba vind met ons terugkoms. Die baba het al begin vrot en die hartseerste van alles was Frieda wat die ontbindende baba aanhoudend lek en probeer ophelp. Later was daar net vel en bene oor, maar sy bly getrou by die oorskot vir meer as drie weke nadat ons dit ontdek het.

Hoogswanger met Baba 2

Baba 2  – Hierdie keer kon ons uitwerk naastenby wanneer om die ooievaar te verwag en hou haar met ‘n arendsoog dop. Vrydagoggend 27 Feb 2009 sien ons dat Frieda nie meer swanger is nie, maar dat die baba nie by haar is  nie.  Ons soek tevergeefs. Marina kry die baba eers Saterdagoggend in ‘n uiters verswakte toestand.    

Sy moes omtrent al 4 dae oud gewees het. Die nageboorte het net ‘n paar tree daarvandaan gelê, wat beteken sy het gelê waar sy gebore was. Die vlieë het haar toegepak en daar was maaiers by haar heup aan die onderkant waar sy haar stukkend geskuur het. Van al die gewoel met haar pote en nek was die gras weggeskuur rondom haar.  Sy was so swak dat  sy nie eers haar nek self kon oplig nie. Daar was ook nie meer ‘n suigrefleks nie en sy sterf ongeveer ‘n uur na ons haar gekry het. Dit was vir my ‘n vreeslike emosionele ervaring. Op daardie stadium was Marina nog in die huis en reeds vasberade om veearts te word. Dis vir haar glad nie aanvaarbaar dat ‘n dier ly nie, en toe ek wik en weeg of ek die diertjie maar van kant gaan maak, het sy opgestaan en gesê as ek dit nie gaan doen nie, gaan sy. Ek was net oppad om ‘n geweer te gaan haal toe sy roep en sê dis nie nodig nie, sy is besig om haar laaste asem uit te blaas. Dit was vir my verskriklik, want die grootste wat ek nog doodgemaak het was ‘n voëltjie met ‘n windbuks.

Baba 2

Ek het nie weer kans gesien vir Frieda en weke by vrot bene nie, en gee die baba vir ‘n plaaslike taksidermis. Die pad is onbegaanbaar vir sy kar en ons moes die vierwielmotorfiets gebruik om die liggaam uit die veld te kry.

Ongeveer ‘n maand daarna sit ek een dag by die krip en raak skielik bewus van ‘n beweging en geluid agter my. En daar staan Frieda reg agter my en besnuffel die motorfiets… So verskriklik hartseer… en ek huil my oë uit vir haar verdriet; en oor ek haar van haar rouproses ontneem het.

Foto met my selfoon geneem toe Frieda aan die motorfiets kom ruik het.

Baba 3 – Frommel

Met Baba 3 besluit ek dat ek hierdie keer die baba ‘n naam gaan gee… want ek gló dat die baba gaan leef, en ek bid dit intens, ook dat ek nie alleen moet wees as die baba kom nie. Frommel – want dit pas by Frieda en Frikkie en kan ‘n naam wees vir ‘n dogtertjie of ‘n seuntjie.

Teen einde Mei 2010 is Frieda hoogswanger. Ons hou haar met valkoë dop en sorg elke dag dat ons haar sien en weet waar sy is. Roelf se beoogde jagtog val deur die mat en Vrydag 28 Mei sê hy dat die baba baie naby is, Frieda se uier is groot en die spene baie styf.

Dis ‘n baie koue en nat naweek en Saterdagoggend vind Roelf en Christo die pasgebore baba. Die plaaslike veearts sê ons moet die baba ten minste ‘n paar uur kans gee om op te staan voordat ons ingryp.

29 Mei 2010 Frommel 1 dag oud

“Dankie, Here dat ons héle gesin by die huis is!”

 ‘n Paar uur daarna was dit donker en die baba het nog nie opgestaan nie. GRÓÓT bekommernis.

Sondagoggend vroeg is die baba nóg nie op nie en Frieda het vir Roelf tot wit om die kiewe gejaag toe hy op aanbeveling van die veearts die baba probeer skrikmaak in ‘n poging om hom op te kry! Frommel het al probeer beweeg, want hy het ‘n klein entjie gevorder vanwaar hy gebore is. Dis nat en koud en ons het besef ons moes hom wegneem as ons  hom wou red. Ons vrees vir longontsteking en hy moes dringend begin drink om te oorleef. Die hele gesin spring in en Frieda word met die trekker weggehou om by die baba te kom.

‘n Seuntjie… Frommel is ‘n seuntjie! En sy nek is die ene frommels… voorwaar ‘n naam net vir hom bespreek! Roelf en Christo help hom regop. Sy beentjies kruis agter, maar hy kan sy gewig dra. .. maar val om sodra  jy hom los!

Ons almal was koud en nat

Ons almal se senuwese was maar rou en wanneer Annerine haar bekommernis oor sy lewe verwoord, sê ek net beslis: “Hy gaan lewe, want hy is Frommel, hy het ‘n naam en ek het hom van die Here afgebid. God het gehoor toe ek gevra het dat ek nie alleen wil wees as die baba gebore word nie, Hy sál voorsien.”  En ek bid: “Asseblief, assebliéf Here…”

Marina slaap die nag by hom in die garage en hou hom warm met haar lyf.

Marina en Frommel slaap in die garage

Maandag bly ek en Marina alleen agter. Dr. Gerry is 07h00 hier om Frommel te ondersoek. Hy sê hy dink dat Frommel senuwee-beskadiging opgedoen het, óf met die val van die geboorte, óf van ‘n skop van Frieda; want hy kan sy gewig dra en het gevoel, maar is nie bewus daarvan dat hy agterbene het nie. Hy stel voor dat ons hom 2 uur per dag moet ‘fisio’ gee om hom te leer dat hy agterbene het.

Ek gaan dorp toe om vir hom nog tiete te gaan koop, en as ek terugkom, is Marina en Frommel flink aan die loop! Sy is fisies baie sterk en het hom eiehandig opgehelp. Dan het sy met haar hand op sy regterboud geklap, sy been gevat en vorentoe gedruk. Daarna dieselfde met die linkerkant. Regterkant… linkerkant… regterkant…. linkerkant… tot hy besef het hy het bene en dit self gedoen het. Ons toekomstige veearts het nou maar eenmaal ‘n slag met diere wat ons nie het nie!

Marina leer vir Frommel loop

Loof die Here!

Dit was te oulik om sy ontdekking van die omgewing te sien. Hy moes leer dat mens nie net deur ‘n bos moet stap nie, maar OM die bos. Ons het na die tweede Lantana bos begin slim raak. Een het voor geloop, dan het hy gevolg, en die ander een het hom gehelp as die bene wil kruis. Baie, baie uitmergelend.

Marina kan enige iets regkry met 'n dier

Maar hy het te min gedrink en kon  nie self weer gaan lê nie. Mens moet hom omtrent pootjie om hom te laat lê, en dis net ‘n rukkie, dan beur hy weer op.

Wanneer hy moeg geword het, het hom sommer net omgedop en geslaap

Frommel dag 3

Teen middagete was ek en Marina pootuit en ons het besef dat ons hom nie alleen sal kan behartig nie. Ek het oral gebel vir raad en kom so af op Petronel wat besig was om ‘n rehabilitasie sentrum vir diere ongeveer 5km van ons af op te rig. Sy bied dadelik aan om te help… en volgens haar was al wat dit ons sou kos, was sy kos en medikasie indien nodig; en wanneer hy gereed was, kom hy terug plaas toe!

… En so begin ‘n nuwe hoofstuk in Frommel se lewe by die rehabilitasiesentrum. Hulle herdoop hom na “Duke” tot my ontsteltenis en hy raak sommer gou beroemd met sy eie Facebook Fan page en ons plaaslike media wat gereeld berigte oor hom plaas.

Ons eie beroemde kameelperdjie

By die sentrum is hy elke middag op 'n stappie geneem

Ek en die dierbare ding.

 Hy het gunstelinge gehad. Daar was veral een van die studente wat by die sentrum gewerk het wie se geselskap hy verkies het. Aan die begin het hy my en Marina herken as ons vir hom gaan kuier het, maar later het ons vir hom vervaag, hy het ‘n nuwe familie gekry.

Annerine besoek Frommel by die sentrum

Op ‘n stadium is plate van sy heup geneem wat gewys het dat Frieda hom wel met geboorte geskop het.

Dis nie sommer net gou-gou om plate van 'n kameelperdjie te neem nie!

11 Julie 2010 – Frieda is nog steeds in rou, ses weke nadat haar baba van haar weggeneem is.Sy het ‘n 3d-boogskiet rooibokteiken aangeneem as baba en verdedig hom asof dit haar eie is… Sy bly getrou by haar ‘baba’ wat naderhand stukkend is van al die aandag vir nóg ‘n paar weke. So hartseer, so verskriklik hartseer.

Frieda by haar aangenome baba, gereed om my te storm, wat sy later gedoen het.

Vir die eerste ruk het dit goed gegaan met Frommel en het hy mooi gevorder, maar hy doen bosluisbytkoors op en sterf op 11 Augustus 2010. Die beeskolostrum wat ons vir hom gegee het kon maar net nie genoeg immuniteit voorsien nie. ‘n Post Mortem toon ook dat hy diabetes gehad het. Kon dit wees as gevolg van die baie binne-aarse glukose wat hy gekry het in tye wat hy nie lekker was nie? Moeilik om te sê, mens kan maar net spekuleer. Almal wat betrokke was by hom het net hul beste probeer.

Kameelperde se dratyd is 14 maande en hulle paar sommer gou na ‘n baba se geboorte weer.  Ons skatting was dat die volgende baba ongeveer middel tot einde September 2011 moet kom.

08 Julie 2011 –  Petronel  en die rehabilitasiesentrum is deel van ‘n internasionale simposium vir veearts-studente en bied aan dat hulle Frieda sal pyl en ondersoek vir moontlike uierprobleme as deel van die studente se praktiese ervaring. Ons moet net die medikasie betaal indien nodig. Die arme ding word met ‘n helikopter gejaag tot waar die grondspan haar veilig kan laat val.

'n Helikopter is gebruik om haar na 'n veilige plek te lei om met die pylgeweer te skiet

Ons is bewus dat dit ‘n risiko is vir haar en die baba, maar ons sal enige iets doen om haar te probeer help om ‘n suksesvolle mamma te kan wees.  Die ondersoek toon niks ongewoon nie, en ons is nog steeds net waar ons was. Waarom sy die kleintjies skop bly ‘n raaisel wat nog nie opgelos is nie.  Een van die Natuurbewaringmanne wat met Roelf gepraat het sê as ‘n koei dit eers eenkeer gedoen het, dan doen sy dit elke keer. ‘n Ander teorie is dat sy dalk voel dat daar nie genoeg kos is nie, maar dieretuine teel tog suksesvol met kameelperde. My volgende stap is nou om die Nasionale Dieretuin in Pretoria te kontak.

Frieda word gepootjie om te val nadat sy gepyl is

 

Marina gee vir Frieda ontwurming

25 Sep 2011 – En nou is ons al weer daar. Ek en Roelf het die oorskot van Baba 4  in die veld gekry. Frieda moes die baba gehad het baie kort na hulle haar gepyl het, want dis al  net vel en bene, die vleis is lankal weggevrot. Dit stink nie eers meer nie. Soos met die eerste enetjie weet ons nie eers of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie was nie. Hierdie keer weet ons ook nie of dit sy wat wat die kleintjie geskop het nie; en of dit ‘n vroeë geboorte was as gevolg van die stres van die ondersoek nie.

Nie vir sensitiewe kykers nie...

Arme, arme Frieda. Getroue moedertjie wat waghou by die oorblyfsels van haar kind. Nog steeds. Al weer.

Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,,, | 15 Kommentaar

Lag met ‘n traan…

My eerste kennismaking met skoolkinders in 2008 was vir my baie traumaties… Ek is tydelik aangestel in iemand se plek wat op kraamverlof was, en een van die eerste dinge wat ek moes doen was om ‘n projek oor ‘Uitsterwing van diere’  te merk wat sy opgestel het. Ek kon nie my oë glo oor die taalgebruik van die kinders nie, wat staan nog hulle kennis.

Hulle moes basies navorsing doen oor ‘n dier wat uitgesterf het (eie keuse dier), en moes dan ‘n reeks vrae beantwoord uit die navorsing.

Lag met ‘n traan… want dis ons toekomstige parlementslede, dokters, prokureurs, ensovoorts waarvan ons hier praat!

Lees ook oor ander Wetenskaplike ontdekkings uit my klas.

 

Projek – Uitsterwing van diere

 When did  the animal die out and why?

  • This animal die out in 1877. The first diplodocus ( a dinosaur) bones were found in the ground. It die by fainting.

 What would you think would have happened if this animal did not die out?

  • Not would happened a diplodocus is not a danager animal, but if you look at it you can be afraid.

 What role would it have played in the circle of life?

  • Nothing would have happened or roll it would have played. Diplodocus is a kind animals that doesn’t eat people at eat only plants

Are there still animals today that is threatened to become extinct because of humans, what can we do to prevent it?

  • Yes, we must start finding the animals well like ourselves so that they can also sleep full.
  • Kill them
  • Yes the are and we can help this animals by changing our infractracture and building on a country that doent dipend on word mostly
  • Yes the white rhino they are hunted because of their tusks called ivory ivory is worth alot of money and we can help them by say if you are caugth shooting rhino’s your will die
  • Yes ferst of all we can start carry for thees animals and start thinking less about ourself’s because we don’t carry about the global warming and that why we must do so. Think about nation and nation is going to thingk about you …
  • Yes, I think we should stop them from doing it or stop the company if they don’t want to stop will ask the prents if would we kill them because they are killing the bears and elephant of hungery I think we must do so and they will stop cutting out trees.
  • Yes! Give the animals food an water to savaeve. Make them to live a happy life.
  • Yes! Their are animals that are threatened by the human, because the humans eat meat alot to prevent this issue we have to be vegetreans.
  • No life today there no animals that are threat in the life for today. Some animals are. But no now there’s nothing prevent this because people are safe.
  • The dodo bird is going to be extinct. We can prevent it by giving them enough food I think.
  • Yes, there to keep them away you just don’t go to the animals and make sure you dont have wild animals around you and you family.
  • No because the should olready change. Most of animals cant change to human because the only thing that change it was amarkey the is nothing alls it is going to chang.
  • The are animals that want to become humans because people like going to the forest then the animals see them having fun, laughing etc that is why.

Uit hulle eksamenvraestel:

Voltooi:  Die vel is verantwoordelik vir die uitskeiding van …… (3)  (Enige drie van die volgende – water, minerale soute, ureum, hitte)

  • diabetes and diuresis
  • bones and blood
  • kidneys
  • urine
  • uterus
  • germs and carbon dioxide
  • swity, hot and cold
  • sweat-pore, sweat-duct and sweat-gland
  • colour, sun and feelings
  • movement
  • Nikleus,
  • Sweetbuis, haar
  • Live, healf and beaf
  • Oil and dirt
  • Hair, pond and duce
  • Lotion
  • Urethra
  • Sun heat, protects wats inside and keeping everything in place
  • Herm, it creat and function
  • Lungs, heart and veins
  • Lungs, bones
  • Infection, deseases and pimples
  • Oxygen, bones
  • Blood, hear and body
  • Blood, meet and veins
  • Bodymaterial, blood and vessels
  • Covering the body and of making it warm
  • Utear, waste and product
  • Filtation and reabsortion
  • Human, body and blood system
  • Blood, kidney and veins
  • Kos
  • Bakterie
  • Wate en hutte
  • The stomach and intestines
  • Nerves, kidneys and urine
  • Blood, sweat and tears
  • Diaree, siektes en virusse
  • Vuilgoed en kieme
  • Water, stof en klippe
  • Blood vessel, heart and hypertention
  • Sweet, water en vylafskydings
  • Sweet, sure en afval bloed
  • Blood, sweat and stink
  • Process, in life and the human body

 Write down the function of the following:

  • Cell wall – The plant cell  is surrounded by animals

Nov 2010 Eksamen vraestel

 Madam has an aquarium with tropical fish in the class. It is time to clean the container and she has to catch all the fish and place it temporarily in another bowl. However, she experiences a problem to catch the fish with her net. Every time that she scoops, she misses, because the fish is not in the place where it seems to be. Explain what is happening. (3)

  •  The water is sending madam a telegram or the fish and she is dilusional.
  • Mam was supose to make sure that there is water bowl on the side and do this at home not at school.
  • The net is giving off the fish because the rod has a non-contact force with the water.
  • The net has hole it not going to be in the right place everytime.
  • The fish is repelled to the net because if the net comes closer the fish moves away.
  • The glass is big so the fish have the freedom to move around freely and the net might be big or small and the fish moves through the holes.
  • Madam’s force to the fishs but the water moves to the force that was applied
  • When she scoops force is applied into the water therefore it will change the movement of the fish giving it more endurance to escape the net
  • The light that reflects to her eyes has a different mass to the one that’s in the bowl. White light is going through her eyes and there’s different light on the bowl.
  • The bowl was empty there were’nt any fishes in there that made her misses every fish she catches.
  • Die Juffrou kan nie vissies mooi gesien het nie want die water was baie veil gewees en daar het veil goed rond gedryf toe het sy gedink dit was die vissies gewees.
  • As jy dur water en die kas kyk dan skyf die visse want die water beweeg dan lyk dit of die visse beweeg.
  • Want die klas is dik en die lig wat daarop skyn ontbreuk die lig se pad en dit word ligbreuking genoem. (Het ‘n punt verdien vir ‘ligbreuking’!!!)
  • Die net vorm ‘n skaduwee en die vissie soek skadu, so dan swem hy agter die net en nie voor die net.
  • Die akali op die  vistenk maak die visse op ‘n ander plek lyk.
  • It may be the speed or the slipperiness of the fish.
  • She loss a balance and the fish change the place that ifs stand in.
  • Because the light is not shining on the fish scales, therefore the fish scales don’t reflect light and that’s why it can’t be seen
  • The fish is running around the water and the fish live in the water.
  • She must pore a little of the food at the side where the net is placed.
  • It might be because of the fish are to fast for her or the force is’nt great enife
  • There is a hole in the net
  • She has to put on chemical energy so she can catch the fishs. I think she must put food seeds so it can keep them busy.
  • There is not much energy in the fish and the water does not have enough oxygen.
  • I don’t know whats happening. Only you can tell me.
  • When the madam try to catch the fish it change another direction and it moves too fast so it means that madam is to slow.

 Plan an experiment to determine whether the gas that is given off when pieces of marble (CaCO3) reacts with diluted hydrochloric acid (HCl) is carbon dioxide (CO2). Your report must contain a purpose, hypothesis, apparatus and a method.  (4) (Dis nou nadat hulle PRESIES ingelig is dat ek hierdie spesifieke eksperiment in die eksamen gaan vra wat ons in die klas gedoen het)

  •  Method you must separate first then you mix the hydrochloric with hypothesis. 
  • It is given in pieces of marble because it cannot be given in one piece if given in one piece the gas won’t work correctly or won’t have the right hypothesis.
  •  The marbles will react in extinction given by the gas (CaCO3) and acid (HCL) (CaCO3) will not mix with (HCL) in result there will be a change of form from the marble.
  •  The gas that gives pieces of marbe CaCO3 is the diluted hydrochloric because is become warm on that time and the hydrochloric is the gas that can give enough energy on that CaCO3 and the purpose is that the hydrochloric is not working.
  •  The hydrocholic acid has a much better apparatus and purpose the marble piece will only contain Ca reactions and contain a bigger hypothesis
  •  How bout an example of such or a clue!!!!!
Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 8 Kommentaar

Nuwe wetenskaplike ontdekkings

Soms, net soms, voel ek om die vlaktes in te hol. Eintlik jok ek. Nee, ek lieg sommer. Ek voel amper elke dag so, veral op die dae wat ek my graad neges se Natuurwetenskappe vraestelle merk.

Vraag: Wat is gaswisseling en gee ‘n voorbeeld waar dit plaasvind in die liggaam.

  • Antwoord: Gaswisseling is die soort voedsel wat ‘n mens eet en dat vorm gasse (winde). Dit is wanneer ‘n mens ‘n wind los deur jou anus, so gaswisseling vind plaas in jou maag en kom deer jou anus.

Vraag: The nasal cavity contains a lot of blood vessels and mucous glands. Name two functions of the mucous membrane.

  • Antwoord: Keeps the teeth steady on the mouth, and keeps the bones strong.
  • Antwoord: Cood blood & Red cood    (HUH????)

 Vraag uit praktiese vraestel: Write a conclusion by interpreting your observations. (Helder kalkwater het melkerig geword toe ek borrels met ‘n strooitjie daardeur geblaas het om te bewys dat ons koolsuurgas uitasem).

  •  Antwoord: u poot a strou to beaker number 2 blow nothing hapinse bat wen u poot i the strou to beaker number 3 it das buble and it changes colours cours its more asidik
Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 7 Kommentaar

Die ander hond

Ons het die naweek ‘n spieël aan die onderkant van die gang ingesit. Pippie was verstom oor die ander maatjie wat nie met haar wou speel nie! Dit was skreeusnaaks om te sien hoe sy om die hoekie hol en dan is daar niks.

 

 

 

 

Categories: Sommer maar net | 3 Kommentaar

Waterterapie

Wat doen jy as jy lekker wil ontspan?

Elke mens het sekerlik meer as een manier van ontspan, maar een van die heel lekkerste dinge vir my is om in ‘n baie warm bad te lê. Daar moet natuurlik skuim in wees en ‘n sakkie waarin vars laventelblare toegebind is wat ek kort-kort kan druk om die aromatiese olies vry te stel wat kalmerend vir die gemoed is.

Ek glo die drukking van die water verplaas jou terug na die tyd in die baarmoeder toe jy veilig en warm was, sonder sorge en siektes. Die tyd toe jou stamselle begin differensiëer het om nuwe weefsel te vorm. Die tyd toe die eerste groei plaasgevind het. Die tyd toe jý plaasgevind het.

Net vandag het ek ‘n stukkie gelees oor hiperbariese drukbehandeling wat so goed is vir die herstel van weefsel. Met hierdie behandeling word jy in ‘n tenk geplaas waar jy 100% suurstof onder druk inasem.  Jou hemoglobien word versadig en die bloed word hipergeoksigineer binne-in die plasma; maksimum suurstof is dus beskikbaar vir selrespirase waartydens energie aan die liggaam verskaf word.

Energie.  Daardie wonderding wat God geskape het wat nooit vernietig word nie, maar net omgeskakel word na ‘n ander vorm.

Wanneer mens skubaduik asem jy nou wel nie 100% suurstof in nie, dis giftig vir jou sisteem, maar jou liggaam word onder druk geplaas en ek verstaan nou waarom ek so goed voel wanneer ek klaar geduik het. So vol lewe. So vol nuwe energie.

My gevolgtrekking van alles hierbo is dat ‘n hiperbariese tenk waarin jy ‘n bad kan sit met verhitte water en sakkies met vars laventelblare eintlik standaardtoerusting behoort te wees in elke huis. Dínk net hoe gesond, kalm en vol energie ons almal dan gaan wees!

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 11 Kommentaar

Woordspelings deur verveelde onnies

Vroeër hierdie jaar vergesel ek ‘n leerder na ‘n kamp en ontmoet daar ‘n oulike spannetjie Wetenskap en Wiskunde onnies vanoor die hele land. Ons was vier dames en twee mans; jonk en minder jonk; en almal het sommer dadelik aanklank by mekaar gevind – ons het immers baie in gemeen… kinders, Wetenskap, Wiskunde, skool en bowenal GEES!

Gedurende die dag word ons besig gehou met lesings, fotosessies en allerhande interessante dinge, maar in die aand kuier ons in een van die kamers en soos voorbeeldige rolmodelle is dit net kaffeïen wat genuttig word. Ons is immers deel van die nerds!

Ek kan nie eers onthou wat het aanleiding gegee tot ons hasie woordspelings nie, maar vroeg gedurende die tweede aand begin ons te speel met hasies. Ons lag dat ons op die vloer kruip en ek dog naderhand my maag gaan in spasma gaan van al die lag. Ons eie spitsvondighede word naderhand op ‘n lysie gesit wat net groei en groei en groei…

Wanneer ons weer ernstig raak en bedaard gesels, is dit nie twee minute nie, dan is daar ‘n nuwe hasie wat gebore word uit die gesprek. Party woorde het sommer meer as een plek op die lys. Later in die week het een van die organiseerders gedreig met verbanning as ons nog één hasie uitdink…

Taalkundiges, ons wetenskaplikes het ‘n baie groot waardering vir ons taal, en ek wil graag ons unieke interpretasies van julle woorde met julle deel, verskoon asseblief die spelling op sommige plekke:

Wat noem mens ‘n . . .

  1. ‘n Hasie in ‘n tuimeldroer –   Spinasie
  2. ‘n Deurskynende hasie  – Glasie
  3. ‘n Hasie met hardelyf – konstipasie
  4. ‘n Hasie in ‘n pyp – Blokkasie
  5. ‘n Hasie wat koud kry – ‘n Bibberasie
  6. ‘n Swart hasie – ‘n Lokasie
  7. ‘n Hasie in die mall – ‘n koöperasie
  8. ‘n Hasie wat uiteet – ‘n restourasie
  9. ‘n Verkragte hasie – ‘n mollestasie
  10. ‘n Hasie wat in ‘n ambulans werk – ‘n medikasie
  11. ‘n Hasie wat kan dryf – ‘n flottasie
  12. ‘n Hasie wat ander hase vang en eet – ‘n predasie
  13. ‘n Hasie op ‘n telefoon – kommunikasie
  14. ‘n Hasie in die venster – n ventilasie
  15. ‘n Hasie wat saam met Hip2B2 wil werk – ‘n affiliasie
  16. ‘n Hasie wat sterre kyk – ‘n konstellasie
  17. ‘n Groep mense wat hasie grappe vertel – ‘n organisasie
  18. ‘n Hasie wat sit en staar – ‘n Stipulasie
  19. ‘n Hasie wat na een rigting wys – navigasie
  20. Iemand wat heeltyd hasie grappies vertel – ‘n irritasie
  21. ‘n Hasie wat diep dink – ‘n meditasie
  22. ‘n Hasie in die gim – ‘n perspirasie
  23. ‘n Hasie wat op en afspring  fluktuasie
  24. ‘n Verwarde hasie – is tussen treine op ‘n stasie
  25. Mark Shuttelworth      Basie
  26. ‘n Getekende hasie – animasie
  27. Hasies wat vry – koerasie
  28. ‘n Nat hasie – presipitasie
  29. ‘n Vuil hasie – ‘n stoffasie
  30. ‘n Tiener hasie – ‘n jeukerasie
  31. ‘n Deurmekaar hasie – ‘n koekerasie
  32. ‘n Klomp hasies opmekaar – ‘n stellasie
  33. ‘n Deurmekaar hasie – ‘n konsternasie
  34. ‘n Vervalle hasie ‘n murasie
  35. ‘n Hasie wat gehijack word – viktimisasie
  36. ‘n ANC hasie – ‘n diskriminasie
  37. ‘n Hasie wat in die see woon – ‘n bloublasie
  38. ‘n Hasie met nuwe skoene – ‘n blasie
  39. ‘n Hasie wat gefight het – ‘n bloedblasie
  40. ‘n Maandelikse hasie – ovulasie
  41. ‘n Seuntjie hasie – masturbasie
  42. ‘n Hasie waarop Julius Malema jaloers is – ‘n matrikulasie
  43. ‘n Hasie wat ‘n voorbeeld stel – ‘n simmulasie
  44. ‘n Tuisnywerheidhasie – koekerasie
  45. ‘n Hasie in die dokter se spreekkamer – ‘n konsultasie
  46. ‘n Hasie wat hou van baklei – ‘n konfrontasie
  47. ‘n Hasie wat stink – ‘n bloukasie
  48. ‘n Erkende hasie – ‘n Akkreditasie
  49. ‘n Hasie in die blender – ‘n likwidasie
  50. ‘n Hasie wat goed tennis speel – ‘n federerasie
  51. ‘n Ha-ha-hasie – ‘n alliterasie
  52. ‘n Haas wat rugby speel – ‘n Nasie
  53. ‘n Hasie met sproete – ‘n Pigmentasie
  54. ‘n Hasie wat te veel ge-eet het – ‘n Saturasie
  55. ‘n Dronk hasie – ‘n Fermentasie
  56. ‘n Soet hasie – dis-‘n-stillasie
  57. ‘n Hasie wat die Combrades hardloop –   ‘n Inspirasie
  58. ‘n Kwaai hasie – ‘n Donderasie
  59. ‘n Gewone hasie – ‘n hasie
  60. ‘n Hasie wat ‘n roomys eet – ‘n Lekkasie
  61. ‘n Hasie met ‘n kort rokkie – ‘n Flirtasie
  62. ‘n Hasie in jou tas – ‘n Bagasie
  63. ‘n Katjie hasie – ‘n Purgasie
  64. ‘n Hasie wat in die rondte hardloop – ‘n rotasie
  65. ‘n Gucci hasie  – durasie
  66. ‘n Hasie wat nie ‘n plantjie is nie   – dierasie
  67. ‘n Hasie wat ‘n stuk kaas spyker  –  kommunikasie
  68. Onderwysers op ‘n HIP2B2 kamp wat hasie grappies uitdink –  okkasie
  69. ‘n Hasie met fishnet stockings  –  lokasie
  70.  ‘n Hasie wat ‘n eis instel – ‘n kompensasie
  71. ‘n Hasie wat hou van ruimte  – ‘n spasie
  72. ‘n Lawaaierige hasie  –  ‘n rasie
  73. ‘n Hasie wat krag opwek  – generasie
  74. ‘n Gladde hasie  – Glibberasie
  75. ‘n Hasie wat nie in die stad bly nie  – Lokasie
  76. ‘n Hasie wat make-up dra – ‘n poppielasie (populasie)
  77. Twee Hasies wat stout is  – kopulasies
  78. ‘n Gay hasie – ‘n Emansipasie
  79. ‘n Toonbank hasie – Informasie
  80. ‘n Hasie wat iets werd is – ‘n Waardasie
  81. ‘n Klerikale hasie – ‘n Administrasie
  82. ‘n Hasie nie van Afrika nie – Afrikanisasie
  83. ‘n Akkomoderende hasie – Akkomodasie
  84. ‘n Besige hasie – Aktivasie
  85. Twee hasies wat saamsmelt – ‘n Almalgasie
  86. ‘n Hasie wat alles vat – ‘n Anneksasie
  87. ‘n Hasie wat aansoek doen – ‘n Applikasie
  88. ‘n Hasie wat al dikker word – ‘n Appresiasie
  89. ‘n Hasie polisieman – ‘n Arrestasie
  90. ‘n Alles-absorberende hasie – ‘n Assimilasie
  91. ‘n Portier hasie – ‘n Bagasie
  92. Baie hasies – Basies
  93. Hierdie woordspeling – interpretasie
Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 5 Kommentaar

Gas by ‘n spesiale geleentheid

Gister in die Lewenswetenskappe klas kom vra Pretty of sy my asseblief kan sien na klas. Gedagtig aan vorige probleme tuis waarvoor sy my in haar vertroue geneem het vir hulp, dag ek daar is weer moeilikheid.

Sy kom staan teenaan my, ogies op die grond en praat so saggies ek kan amper nie hoor nie. “Mam, it is PAT evening tonight and I have no one at my table.”

Siestog, my hart huil vir haar. Dis hulle tweede praktiese eksamen en elkeen moet gaste by hulle tafel hê. Sy woon soms by tannies in die dorp wat haar nie goedgesind is nie; en soms woon sy by haar sussie en ry dan elke dag vyftig kilometer bus na ons skool toe. ‘n Harde, arm lewe.

“I will come Pretty, I will be there as your guest.”  Ek spring gou op my selfoon en laat weet vir Roelf ek neem hom uit vir ete by die skool se restourant, hy moet sorg dat hy sy werkery so beplan dat ons ses uur by die skool kan wees.

Toe die klok na skool lui is sy weer daar. “Mam, can you still come tonight? Are you sure you can come?” Ai, ai. Arme kind. “Yes sweetie, I’m sure I can still come, and I am bringing my husband with.” Ogies sommer dadelik blink van die trane.

Sy was deel van die span wat in die kombuis gewerk het vir die aand, maar ons was skaars daar toe sien ek ‘n gesiggie loer en ‘n handjie wat waai. Seker die hele tyd geloer tot ons kom.

Gedurende die aand verlaat sy haar pos in die kombuis om te kom vra of alles reg is. Ek en my man sit alleen aan by die grote tafel. Aan die einde van die aand kom sê sy dankie dat ons gekom het, en toe hulle huistoe gaan kom groet sy en sê sy gaan nou.

Ek het sommer ‘n klomp foto’s geneem en sal vir haar laat druk vir ‘n presentjie.

Ek staan bekend as ‘n kwaai juffrou, ja… maar ek het ‘n baie sagte hart vir sulke seerkry kindertjies en ek voel baie spesiaal dat ek haar gas was vir haar spesiale aand.

Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Hikkerasies in die klas

My man het by my gekuier die week en dan is blog die laaste ding waaraan ek dink. Hy is netnou terug Pretoria toe en nou is ek weer alleen. Laasweek het Son iets geskrywe oor jou gesig wat jou lewe se storie vertel, en Antjie Patat het geskrywe oor haar oulike kleinseun wat wil hê sy moet nie net effentjies lag nie, maar lag dat haar tande wys.

Hierdie inskrywing bevat elemente van nie-verbale kommunikasie, maar nie noodwendig lewenslyne en tande nie…

——————————————————————————————————

Julle weet mos wanneer mens hik as dit nie geleë is nie, dan hik mens mos al hoe harder en harder.

Verlede week gaan ek toe aan’t hikke in die klas. Sulke grotes terwyl ek vir die kinders iets moet lees om af te skryf. Hoe harder ek probeer saggies hik, hoe harder word die blerrie hikke. Naderhand sê ek vir hulle ek gaan nou regtig nie wéér sê askies nie, ek gaan nou maar net hik.

So hik ek toe nou maar sonder maniere voort en hulle skryf af. Twee leerders was laat en het hulle voorreg om op ‘n stoel te sit verloor en staan voor in die klas.

Ek staan nog so en hik toe gryp iemand my van agter af en sê: ‘Wha!’ Ek dog ek piepie my broek sopnat en voor ek kan keer gil ek dat die mure so tril. Wanneer ek skrik doen ek gewoonlik een van twee dinge, hang af hoe groot die skrik is. Ek gil óf die dak af vir ‘n koud-tot-die-been-toe skrik, óf ek vloek vir ‘n kleintjie. Nou nie vreeslik vloek nie, ‘bliksem’ is omtrent al wat uit my mond uit kom. As jy die dag die ‘F’ of ‘K’ ene uit my mond hoor, moet jy liewer hardloop, want dan  is ek hééltemal buite myself.

Ewe verlëë en rooigesig staan klein Boertjie wat laat was agter my en sê: “Sorry Juffrou, maar ek het gehoor as jy iemand skrikmaak dan hou hulle op met hik.”

Inderdaad. Njannies kapêla. My hik was weg.

Die klas het nie ‘n woord gerep nie. Hier en daar is ‘n proes weggesluk en Lebogang het kwaai vir van die meisies iets in SiSwati gesê.

Toe bars ek uit van die lag en sê hom: “Julle mág maar lag, Lebo! Dit ís baie snaaks!”  en toe lag hulle eers openlik; sommer dat die trane loop. Na ons almal bedaar het vra Lebogang ewe verlëë of ek dan SiSwati verstaan. “Nee, ek verstaan nie SiSwati nie, maar ek verstaan jou lyftaal. Verstaan jy nóú wat ek bedoel het met nie-verbale kommunkasie in Lewensoriëntering?”

Ek praat gisteraand met Boertjie se ma, en sy sê sy hoor ek het so lekker gegil. G’n ander kind sou ooit waag om so iets te doen nie, maar omdat hy my ook op ‘n meer persoonlike vlak ken, weet hy dat ek ook maar net ‘n mens is. ‘n Mens wat ook kan hik en wat ‘n grappie kan vat op die regte tyd!

Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 8 Kommentaar

Om met jou kinders te speel

Laasweek het ons Lentedag by die skool gevier. Na ‘n paar koue dae was ons regtig dankbaar vir ‘n heerlike vroeë somersdag. Die kinders kon sivvies aantrek en hulle het net lekker pret gehad die hele dag – ‘n waterglybaan, boeresport en allerhande lekker dinge. Vir pret moes hulle blomme of iets in hulle hare sit.

My registerklas is die Afrikaanse Gr 10 kinders en hulle het gedink dis groot pret toe ek ook ‘n tooisel op my kop sit. Met ‘n vieslike migraine die vorige twee dae het ek skoon vergeet om ‘n drolpeerkransie te maak (dis al blomme wat ek by die huis het!) en was daar gelukkig iets in my klas se laai wat ek gekoop het vir ‘n noodgeval. Nou nie blomme nie, maar darem iets om te wys hierdie juffrou lewe ook…

Dit was vir my lekker toe hulle aandring dat juffrou ook saam vir hulle klasfoto poseer, en nog lekkerder toe een van die meisies sê sy wil graag saam met my sportgronde toe stap. Ek vertel haar toe hoe ons as gesin saam speel en dit was vir haar heel vreemd. “Ag Juffrou, my pa sit net heeldag voor die tv, en my ma… Sjoe. Ek wens ons kon ook so iets doen.”

Ons hele familie hou van speel. Kleintyd toe die ouer sussies tot trou gekom het, het die skoonseuns gedink hulle kan my ma aanvat met ringtennis en pluimbal; en gestoei om haar sóms te wen. Vir ons kleintjies was dit omtrent soos Wimbledon – hierdie titaniese stryd tussen jong egodeurdrenkte Boerseuns en ons fenominale Ma! My pa het egter nie veel erg gehad aan ‘n gespelery nie. So is elke nuwe skoonseun deel gemaak van die familie deur met hom te speel.

Tweejaarliks hou ons ‘n groot familiesaamtrek in Brits. My ouma was deel van ‘n gesin van vyftien kinders (wat oorleef het, nie almal van een ma nie). Die oupagrootjie het omtrent gewoel! Sy nasate is nou al honderde sterk en as die spulletjie opruk vir die familiefees is dit ‘n hele gedoente. Daar word ook gespeel – volleyball,  toutrek, tafeltennis, skyfskiet, jukskei en boeresport. Alle ouderdomme word betrek en ONS familie is natuurlik die onoorwonne span. Geen ander familie kom naby ons nie, want eerstens het ons GEES en word nie kwaad vir mekaar as iemand ‘n foutjie maak nie, en tweedens WIL ons… Waar die ander families stry om asseblief tog net nie iets te moet doen nie, stry ONS wie moet uitsit!

Wanneer mens speel raak jy weer kind en val alle maskers af. Jy ontbloot jouself sonder dat jy agterkom.   Dis ontspan sonder grense. Ek dink ons familie se spelery is een van die semente wat ons so vas aan mekaar bind, familietwiste is nie iets wat deel is van ons woordeskat nie.

Om met jou kinders of kleinkinders te speel is een van die grootste geskenke wat jy vir hulle kan gee. Doen dit bietjie hierdie naweek. Hou ‘n eier-in-die-lepel resies en gooi mekaar met die eiers dat die taaiegeid  so spat… die bonus is dat dit goed is vir jou hare en jou vel!

Categories: So doen Slakke dit | 7 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.