Monthly Archives: Mei 2013

‘n Spesiale Leatherman

In vervloeë jare het alle mans ‘n knipmes rondgedra in hulle broeksakke; vlymskerp en die lem al bietjie hol gewerk van al die slyp; waarskynlik ‘n Joseph Rodgers. My pa kon ‘n lemoen so netjies in ‘n ringetjie skil met syne. Later jare het mens Swiss Army messie begin sien en deesdae is Leathermans die in-ding om te hê.

My man het spesiaal vir hom ene in Amerika gekoop toe ons jare gelede sulke reise kon bekostig.  Duur is hulle wel, ja, maar die voordeel is dit kwaliteit is en dat hulle regtig hulle waarborg gestand doen indien jou toestel iets oorkom. Roelf se mes en gereedskappies word GEBRUIK en hy het al meer as een keer van die waarborg gebruik gemaak. Na een sessie het hulle ‘n briefie bygesit en gevra hy moet asseblief nie sy mes so mishandel nie. ‘n Ander keer is die koeriertrok gekaap waarin die mes vervoer is wat weereens ingestuur is vir en het hulle die mes heeltemal vervang, en dus het hy nie meer regtig die oorspronklike een gehad nie.

Daardie Leatherman het albei brande oorleef.

Roelf woon in Pretoria in die week en kom net naweke huistoe. Die huis het voorheen aan ‘n tandarts behoort. Ons vriende het die huis omskep in kantore vir hulle besigheid en hy bly in die ou spreekkamer gedeelte. Verlede Sondagnag het hy wakkergeskrik en daar was vier mans in die kamer wat hom toe oorval het. Hulle het hom met ‘n draadhanger aan die bed vasgebind en geterroriseer vir wapens, geld en die sleutels van ons vriende se motors.

Die vreksels is weg met sy selfoon, skootrekenaar, kontant uit sy beursie (hulle het nie belang gestel in die kaarte nie), al sy klere, ons kar en ons vriende se rekenaars en kantoortoerusting wat hulle kon laai. Dank die Here hulle het hom nie doodgemaak nie, net sy kneukels is gekneus waar hy een geslaan het en sy gewrigte van die draad.

Na hulle weg is het hy homself losgewikkel. Sy jean en kortmouhemp wat hy aangehad het en langs die bed gelê het, het hulle gelos en hy kon  dit darem oor sy slaapklere aantrek. Al sy warmgoed was weg, nie eers ‘n baadjie oor nie.  Hy het na ons vriende se huis gestap in die yskoue nag ‘n paar kilometer verder, net om te vind dat hulle hond regtig ‘n goeie waghond is. Ou Obelix, ‘n massiewe Boerboel, wou hom nie toelaat in die erf nie. Oppad terug kon hy darem ‘n sekuriteitsvoertuig voorkeer wat op patrollie was en toe kon hulle ons vriende, die polisie en Netstar bel om ons kar op te spoor.

Dié is in Alexandria, Johannesburg, opgespoor. Netstar was baie flink met die opsporing. Die vreksels het al die panele in die binnekant gebreek om die opsporingstoestel te probeer vind. Die dag daarna toe Roelf moes begin reël vir die uitkenning, het die polisie nie geweet waar die kar is nie. Netstar het hom aan die polisie se toutrok oorhandig en hulle het hom gaan stoor. Eers op die tweede dag kon die polisie vir Roelf die kar se staanplek verskaf. Daar is ander skade ook en ons wag nog dat die versekering hulle assessering doen om die totale omvang van die skade te bepaal. Groot skade is die feit dat die outomatiese kar gesleep is terwyl dit in Parkeer was, en ons hoop maar dat hulle die kar sal vervang eerder as om te probeer regmaak.

Maar kan jy glo… die vreksels het sy Leatherman laat val.

Advertisements
Categories: Familie, Omgee, Slakkeding | 3 Kommentaar

Vandag was my dag van harte

‘n Rukkie gelede het ek op een van my ander blogs ietsie geskryf oor die Blaas-klimop, ‘n uitheemse rankplant met medisinale waarde. Dit het swart en wit saadjies en ek het nie op daardie stadium ‘n foto geneem van die pragtige detail van die saadjies nie. Een van die Engelse algemene name is Love-in-a-puff en is ‘n verwysing na die roomkleurige hartjie op die swart saadjie, en die saadjie groei in ‘n pof omhulseltjie.

IMG_8846.

Ek was so lanklaas in die veld en het vanoggend besluit vandag is die dag wat ek net vir myself gaan vat en doen net wat ek wil. Een ding wat ek op my agenda gehad het was om te gaan kyk of hierdie pragtige saadjies al begin ryp word sodat ek ‘n foto kon neem.

“Hoeveel keer het ek nie al by hierdie klip verbygestap nie…” was een van die eerste dinge wat ek gedink het toe ek hierdie hartklip reg langs my roete kry wat ek baie gereeld stap. En hy was nie verskuil in bossies en gras nie, oop en bloot het hy gelê. Siende blind stap ek al by hom verby vir amper tien jaar.

Hartjie-my-liefie, sit my in jou sak en vat my saam...

Hartjie-my-liefie, sit my in jou sak en vat my saam…

Dit het my nogal laat dink oor hoe ons so baie keer nie God se liefde vir ons raaksien nie. Dis daar, altyd… ons moet net ons oë  oopmaak en dit raaksien. Alles gebeur met ‘n doel al is dit hoe moeilik vir ons om te verstaan. Sy Liefde dra ons, ons moet net gedra WIL wees. WIL vandag dat God jou liefhê.

Categories: Sommer maar net | 2 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.