Monthly Archives: Oktober 2011

Macfadyena unguis-cati

Vandag het ek ‘n vieslike ontdekking gemaak – Macfadyena unguis-cati  of ‘Cat’s Claw Creeper’  in die algemene taal. Op MY plaas. Ek is sommer naar. Gelukkig is dit die eerste infestasie wat ek sien en hoop ek om dit te kan hokslaan. Dis ook ‘n Kategorie 1 indringerplant soos Lantana camara. Ai tog. Dis ‘n lieflike blom, ek kan dink dat iemand graag so enetjie in hulle tuine wou hê… Ek het by die bure se kant ook gesien en gaan hulle sommer môre kontak sodat hulle maar hulle deel ook doen vir die behoud van ons ekologie. Sug. Harde, harde sug.

Macfadyena unguis-cati

Categories: Sommer maar net | 2 Kommentaar

Van toeka tot nou

Toeka se tyd is diere op ons plaas gejag met boë wat toegerus was met klip pylpunte. Die bewys hiervoor is die steentydperk pylpuntjies wat ons optel, veral na harde buie reën wat dit oopspoel. Hulle wissel van ongeveer 2.5 tot 5 cm in die lengte. Ek het ‘n perfekte enetjie gehad waarmee ek vir Roelf ‘n hangertjie wou maak, maar ongelukkig het hy uitmekaar gebars in die groot vuur. Wanneer ek nou nuwes kry word hulle dadelik afgeneem vir my plaasjoernaal.

Roelf het die naweek hierdie mooi pylpuntjie opgetel.

 

'n BAAAIE besonderse enetjie...

Ons plasie is in ‘n oorgangsfase tussen grasveld- en savannabiome en ek wonder hoe dit moes gelyk het selfs net ‘n paar honderd jaar gelede. Vorige eienaars het die grond totaal oorbewei met beeste en Lantana bedreig die biodiversiteit nog verder. Ek wonder watter wild in die steentydperk natuurlik hier voorgekom het, nou is alles ingebring behalwe grys- en rooiduikers, bosvarke, ape, bosbokke en witkwasjakkalse.

Ek wonder of die oermense ook gedink het dis mooi hier....

 

Dit is my missie om die biodiversiteit wat hier nog is te probeer bewaar. Die stukkie grond is my hemel op aarde waar ek vrede vind en ek ontdek allerhande mooi en interessanthede. Ek het ‘n Google Maps lugkaart van die plaas stukkie vir stukkie gecopy en gepaste wat ek nou gebruik as verwysing vir my plaasgids. Sodoende kan ek mooi aantoon watter plante waar voorkom.  Ek het ook ‘n stukkie versteende been gehad maar ongelukkig het ek hom nooit gefotografeer nie en is hy ook nou verlore.

Die voëlnessie hieronder is netjies uitgevoer met wildebees-sterthare, ons het al meer as enetjie wat so lyk opgetel na ‘n windstorm. Ek kon egter tot sover nie vasstel wie so oulik is nie, maar ek hou my oë oop!

Kyk die lang swart wildebees-sterthare!

Slegs wanneer van die wild uitgedun moet word of toe die finansies erg geknyp het en ons nie winkelvleis kon bekostig nie, word daar ‘n bok geskiet. Nooit met ‘n geweer nie, maar met ‘n moderne boog en vlymskerp lemmetjies as pylpunte en te voet sodat die bok ‘n regverdige kans het om weg te hol.

Roelf as klein seuntjie met groot drome van grootwildjag

Toeka is klip pylpunte gebruik wat waarskynlik met gif gesmeer is, nou ‘n boog met katrolletjies om die slaankrag te verhoog en vlymskerp lemmetjies om onnodige lyding te verhoed. Dieselfde beginsel… die mens moet eet.

Categories: Lankal terug, Plaaslewe | Sleutelwoordw: , | 3 Kommentaar

Rou is ‘n proses vir almal van ons een of ander tyd

Die afgelope weke is verlies en trauma kort-kort op die voorgrond van iemand in my lewe.  ‘n Eerste intense tienerverhouding van ‘n niggietjie wat opgebreek is. Rou oor ‘n suster se geliefde eggenoot wat gesterf het. ‘n Kind in my registerklas wat my in sy vertroue neem oor ‘n vriendin wat dood is in ‘n motorongeluk. Verlies van mobiliteit as gevolg van spinale besering by ‘n eks-kollega. My ma se vriendin wat vanoggend aan kanker sterf.

Met die tienerverhouding wat gesneuwel het wou ek graag troos en het ek vir Oom Google ‘n paar vrae gaan vra oor verlies. Gister bring die seun sy vriendinnetjie se afskeidsbrief wat hy nou na drie maande ontvang het en vra raad oor hoe hy die brief moet hanteer en kon ek daardie navorsing gebruik om hom te help. En skielik verstaan ek sy gedrag van die afgelope paar maande en nog meer toe hy verder oopmaak oor ander probleme in sy huis gedurende ‘n opvolg-gesprek in my klas. Ek kon hom help om te verstaan waarom sy hom vir gejok het deur te sê dat sy OK was toe hy met haar gepraat het na die ongeluk, terwyl die dokter vir haar gesê het sy het dae om te leef en moet afskeid neem. Hy het nog nie eers met sy ma hieroor gepraat nie.

Daar is só baie dinge wat ‘n mens vir iemand met ‘n verlies kan sê, maar uiteindelik is verlies iets wat ‘n mens net met tyd verwerk. Niks of niemand kan regtig ‘n mens se seer wegvat nie, dit word wel versag met ‘n sagte mooi woordjie, ‘n drukkie of sommer net ‘n ek-gee-om boodskappie.

Facebook- en bloginskrywings vertel van alleenheid, dat jy voel niemand ken jou nie. Dat dit voel mense vergeet van jou seer. En dis alles gedeeltelik waar. Om enige trauma te verwerk moet jy delf tot daar in jou eie dieptes waar dit net jy alleen is, waar net jy alleen kan berusting en troos vind oor jou verlies. Mense vergeet nie van jou seer nie, maar dis nie vir hulle so op die oppervlak soos vir jou nie.

Met my navorsing vind ek uit dat mens die rouproses van enige verlies kan opsom in vyf stappe en maak nie saak wat of wie ons verloor nie, ons moet deur ‘n rouproses gaan.:

  • Ontkenning: “Dit kan nie met my gebeur nie.”
  • Woede:Waarom gebeur dit juis met my? Wie kan ek blameer vir my verlies?
  • Onderhandeling: “As dit nie gebeur nie, sal ek dit of dat doen.”
  • Depressie: “Ek is te hartseer om enige iets te doen.”
  • Aanvaarding: “Daar is vrede in my gemoed oor wat gebeur het.”

Alle mense ervaar nie elke stap ewe lank nie, en party ervaar ook nie al die stappe nie want elke mens is ‘n individu en sy situasie is uniek.

So jy mag vrae hê. Jy mag kwaad wees. Jy mag voel jy wil dalk weer probeer. Jy mag depressief en alleen voel. Jy mag hartseer wees en huil… Want dit alles gebeur sodat jy jou verlies kan verwerk, maar dis belangrik dat jy moet sorg on  nie vasgevang te word in een van die stappe nie. Belangrik dat jy mense om jou moet hê wat jou kan help om nie vasgevang te word nie.

Die lewe gooi soms draaie met ‘n mens wat jy nie kies nie, maar probeer onthou dat God jóú uitverkies het as Sy kind, en dat die dinge wat met ‘n mens gebeur deel is van die mens wat Hy wil vorm om in diens te staan van Sy Koninkryk. Dís waarvoor ons lewe en waarvoor ons gebore is.

En al moet jy in die dieptes van jou alleenheid delf om jou verlies te verwerk, jy is nie alleen nie, elkeen van jou vriende en familie gee om vir jou. Treur oor jou verlore eerste liefde.   Wees kwaad oor ‘n leuen. Jy mag. Maar jy mag ook onthou dat daar baie mooi oomblikke was wat jou gelukkig gemaak het en dinge waaroor jy gelag het. Jy hoef dit nie te vergeet nie, al is die verhouding verby.

Liefde vir jou wat dalk jou rouproses nou beter gaan verstaan en ‘n stywe, stywe druk.

Vandag het ek spesiaal vir die seun ‘n Lewensoriëntering les afgestaan en sommer met die klas oor die algemeen gepraat oor verlies en rou. Ek het verskeie scenarios gebruik waarmee ek weet hulle kan identifiseer, van traumas waarvan ek weet van hulle deur is, van ouers wat ‘n werk verloor, van verkragting en ander verliese sonder dat die klas weet van wie ek spesifiek praat. Dié wat gewoonlik die klas wil afbreek was tjoepstil en meer as een van hulle, ek inkluis, het woordeloos ‘n traan gepink. Ons almal aangeraak deur die feit dat jy nie alleen dinge ervaar nie, maar dat daar ander ook is wat iets het om te verwerk.

Ek glo dat ‘n mens jou lewe moet lewe. Ek glo dat jy moet hanteer wat op jou pad kom. Ek glo dat die Vader mens onbewustelik voorberei vir die slegte goed. Oor ons eie trauma kan ek sê dat ek nie deur al die stappe gegaan nie. Ek sien die rouproses in my gesin se lewe, elkeen van ons op ‘n ander stadium van rou oor wat ons verloor het. Ek sien die woede by ‘n kind. Ek sien die ontkenning. Ek sien die depressie. Ek sien aanvaarding.

Oor ‘n week is dit ‘n jaar wat ons huis afgebrand het.

06 Nov 2010

Net één bliksemstraal

en ‘n leeftyd verbrand tot as…

Genade van Bo is vlerke van hoop

wat ons dra as wanhoop ons wil oorval.

Herinneringe word lewendig

as mens skielik gedwing word om daaroor te praat…

Trots word ‘n knop in jou keel waaraan jy wurg en wurg….

en dan… word alles draagbaar deur

Geloof

Hoop

Liefde

Categories: Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,,, | 10 Kommentaar

Dis lekker om op my plaas te kan draf

Hierdie jaar is nou besig om baie vinnig onder my uit te hol. En eintlik is dit maar reg, want dit beteken die vakansie kom nader! Dit beteken natuurlik dat ek ure en ure in die veld werk. HARD werk… maar LEKKER werk!

Ek byt nog vas met my drawwery en gister was ‘n verskriklike mooi dag op die plaas. Ons het die afgelope tyd lieflike reën gehad en alles is groen is silwerskoon gewas. Die vars reuk van die plante en die lekker soel laatmiddag was ideale omstandighede om lekker kop skoon te maak.

Ek probeer om soveel biodiversiteit as moontlik op my plaas met my kamera vas te vang en my oë mis niks!  Op pad het ek ‘n pragtige fungus gesien en toe ek by die huis kom het ek my kamera gaan haal en weer die pad gevat. My brakke was natuurlik uitgelate verby om nog ‘n ent te kon gaan hol!

Toe ek ingekom het van die skool af het ek vir Frikkie en Frieda gekry en gesien Frieda is op hitte. Nou is dit eers ‘n aardigheid by die aangenome kind! Frieda loop al om die bos met Frikkels kop onder haar stert agterna. Ten minste weet ek nou om oor veertien maande die baba te verwag. Ek het ‘n GROOT kans gevat om naby te gaan met my kamera. Frieda is KWAAI daar by haar ‘kind’ en ek moes maar gou my snappies vat en vinnig retireer.

Die donker kol net links van die 'luiperd' is waar sy heeltyd piepie. Kyk die paadjie wat sy al daar getrap het. Arme vrou.

Na ek die fungus afgeneem het was ek nog nie lus om huistoe te gaan nie en het maar ‘n lekker laaang draai gevat. Dit was so pragtig en ek het twee nuwe blomspesies gekry en ‘n pragtige wurm. Party blommetjies maak mos laatmiddag oop, ek moet meermale met my kamera gaan draf!

Rhanidiphora cinctiguttata of Rhanidiphora ridens?

Mag Kohautia virgata wees. Klein. <5mm

Ons is nou agt jaar op die plaas en elke seisoen bring nog steeds vir my nuwe organismes om te ontdek. En hier is draf is nie net oefening nie, dis ‘n ervaring en ‘n groot voorreg…

Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,,, | 2 Kommentaar

Die Lantana wag

Ek stap baie, maar is nie fiks genoeg na my sin nie en het ‘n rolletjie om my maag ontwikkel waarvan ek nie hou nie, en my maagspiere is sommer pap vandat ek nie skiet nie. Dit beteken net ek moet my ratte olie en iets begin doen. Skiet kan ek nie nou eers oorweeg met my skouer nie (hy voel darem baie beter met die anti-inflammatoriese behandeling en rus), dus moet ek maar ander plan maak. Een van die dae moet ek weer begin Lantana en Pom-pom spuit, en dan gaan ek suuuufffer as ek nie fiks is nie. Dis heeldag in die veld met ‘n spuitkan op my rug.

Gisteraand het ek tot 02h00 gesit en punte verwerk en gruwelooslik verslaap vanoggend. Darem betyds gewees vir graadopening, net personeelvergadering gemis. Ook maar goed, ek hoor hulle het oor teefondse gestry en iemand het speelgoed uit ‘n kot gegooi. Ek is nou vier jaar ‘n onnie, en het nog nooit sulke kinderagtigheid en geskinder gesien by my vorige werke nie.

Ek moes leerders sien na skool en iets met die hoof bespreek voordat ek nog moes gaan melk koop ook. Dus het ek laat by die huis gekom en na gisteraand se laat werkerye het ek ‘n kort middagslapie gevang.

Ek het net mooi my sit in my badskottel gekry toe ek begin dink aan Son wat weer begin stap het. Sy het my eintlik so geinspireer dat ek afgedroog het, drafklere aangetrek het en toe so 1.5km gaan draf het op die plaas. En toe nog ‘n spul sit-ups ook gedoen het toe ek terugkom… en ek het gesien ek is nie so onfiks as wat ek gedink het nie, ek kan maar ‘n langer ent aanvat. En my badwater was nog nie eers koud nie…

Oppad het Frieda amper vir my en die brakke geskraap, ons was heeltemal te na aan haar nuwe aangenome baba… shame, die arme arme ding.

Intussen groei die Lantana dat dit bars na ons eerste goeie reën, maar groei maar, vir julle spuit ek een van die dae…

Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: | 2 Kommentaar

Een teen die oor en een teen die teer

Een-teen-die oor-en-een-teen-die teer is ‘n tong-in-die-kies defenisie van oriëntering. Sit nou Lewe daarby en jy kry die skoolvak Lewensoriëntering. As wetenskaplike is dit sekerlik vir my die moeilikste vak om aan te bied. Maar ‘n mens se rooster moet vol en eintlik is dit ook goed om so bietjie uit jou eie gemaksone te beweeg en nuwe horisonne te ontdek.

Die oogmerk van die vak is om leerders voor te berei op die lewe en hulle te leer wat morele waardes is. Ook om hulle te leer dat een-teen-die oor-en-een-teen-die teer nie die wyse is om op te tree nie, maar dat elke mens basiese lewensregte het. Baie van die kinders het sterk morele waardes en dis goed om dit te sien. Daar is egter sommiges wat net geen onderskeid kan tref tussen reg en verkeerd nie, en dit gee soms hewige debatte af in die klas. Elkeen is geregtig op sy opinie, maar moet dit kan substansieer. Ek gee hulle altyd eers geleentheid om hulle sê te sê sodat ek die gevoel kan kry van hoe hulle dink voordat ek my eie opinie gee. Dit bly maar ‘n vak van opinies. Die enkeling se opinie, dertig ander in die klas se opinies en dan die opvoeder se opinie. En êrens tussen al die opinies moet moraliteit ‘n rol speel.

Ons is drie onderwysers wat die graad tien groep deel, en met vae vae riglyne uit die kurrikulum dokument gee dit elke onderwyser vryheid om basies te doen soos hy lus kry. Dieselfde onderwerp is jaar-in en jaar-uit op die agenda. Volgende jaar met die nuwe CAPS sisteem gaan dit meer georganiseerd wees, en behoort eenvormig te wees, ongeag die persoonlikheid of opinies van die onderwysers.

So het my mond vroeër in die jaar oopgehang toe ons oor seks gepraat het en die kinders vertel dat juffrou so-en-so sê dat jy maar net moet sluk met orale seks. Wat het van veilige seksopvoeding geword? Wel, sy is geregtig op haar opinie. Ek op myne.  Maar die boodskap wat die kinders veronderstel is om te kry is dat mens oor jou veiligheid moet dink, en in die eerste plak nog te jonk is om dit te doen.

Die leerders het ‘n projek gehad oor dwelms as assessering vir termyn drie en ek het baie oulike werk ingekry. Een vraag was ‘n gevallestudie waar ‘n scenario geskep word van ‘n partytjie waar jy sober is en jou maat saam met wie jy moet huistoe gaan wat poepdronk en vol dwelms is. Hulle moet dan ‘n keuse uitoefen oor hoe om huis toe te gaan. Twee opsies word gegee,  maar nie een van die twee is noodwendig die regte ding om te doen nie. Dis met vrae soos hierdie waar mens duidelik kan sien uit watter agtergrond en opvoeding die kinders kom.

Die een opsie is om aan te dring om self huistoe te bestuur, die ander een om maar saam partytjie te hou tot die volgende oggend en dan maar ‘n plan te maak. Met die bespreking vooraf het ek hulle baie goed ingelig dat nie en van die twee opsies die beste is om te doen nie, en dat hulle ‘n alternatief moet voorstel om die probleem op te los, maar ook te sê waarom hulle nie die ander opsies uitoefen nie.

Waarom nie self huistoe bestuur nie? Want jy het nie ‘n lisensie nie en om die landswette te breek is ‘n kriminele oortreding. Waarom nie saam partytjie hou nie? Want jy loop die risiko om saam dronk te word of dwelms sonder jou wete in te kry  en dan kan allerhande nie-lekker dinge met jou gebeur waaroor jy nie beheer het nie. En môre-oggend is jy en jou maat nog steeds dronk en is die probleem vererger want nou is niemand sober om ‘n rasionele besluit te neem nie.

Die meeste kinders se oplossing was om jou ouers of iemand te bel om jou te kom haal. Baie het gesê hulle ouers laat hulle nie toe om op so wyse uit te gaan nie, hulle laai hulle af en kom haal hulle in elk geval weer. Baie het gesê hulle ouers sal kwaad wees oor die situasie en gaan raas, maar sal hulle nogtans sal kom haal en bly wees dat hulle gebel is. Een het gesê jy moet in die eerste plek sorg dat jy jou vriende beter kies en nie in so situasie beland nie.  ‘n Paar het gesê dat hulle sal huistoe bestuur want hulle kan en het dit al in die verlede gedoen (graad 10 met gemiddelde ouderdom van 16). ‘n Paar het gesê hulle sal eerder saam partytjie hou want dis onveilig om in die aand huistoe te stap, dis beter om in die oggend te stap. Twee sal ook saam partyjie hou en maar kyk wat bring die volgende dag want dis hoe hulle dit in elk geval doen.

Een van daardie meisies is baie ongelukkig oor haar punt wat sy gekry het en gaan die graadhoof sien omdat dit haar opinie is en ek geen reg het om van haar ‘n ander optrede te verwag nie. Dieselfde meisie wat sê dis heeltemal in orde om ‘n aborsie te hê as jy ‘n foutjie gemaak het. ‘n Foutjie is om te vergeet om ‘n kondoom te gebruik as jy dronk is… Dieselfde meisie wie se rokkies net onderkant haar stuitjie sit. Dieselfde meisie wat baaie gul is met die seuns. Wat in graad agt al vir die ander vertel het hoe lekker Sarita’s is en dat dit absoluut niks aan mens doen nie.  Wat geen respek het vir haar mede leerders of onderwysers is nie. Wat in die klas sit en slaap. Of sit en gesels terwyl jy ‘n les aanbied. Vir wie jy al drie jaar verskillende vakke gegee het en met wie se enkelma jy al verskeie kere onderhoude gehad het oor slegte gedrag.

Ja. So is dit ook.

Die grootste meerderheid van die leerders in my groep is nie so nie en hulle gee my hoop. Die meeste meisies veral het baie goeie waardes en vertel hoe streng hulle ouers met hulle is. Hulle vertel in ‘n koor van die sewe B’s: “books before boys because boys bring babies”.

Dis net vir sommiges vir wie een-teen-die oor-en-een-teen-die teer dalk ‘n moontlike opsie moes wees, want die nuwe basiese regte storie beteken vir hulle dat ongeregtigheid reg is.

Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Swadini Oktober 2011

As gesoute boskampeerders was dit vir ons ‘n luukse om vir ‘n paar dae in ‘n chalet te bly die afgelope vakansie. My begroting het net drie daggies toegelaat, maar ons is meer as tevrede daarmee.

Ons is mos ‘n familie wat hou van speel en teen die aande se kant was ons stokflou want ons haal maksimum uit elke dag; maar nie te moeg om nog bordspeletjies te speel nie! My skouer is BAIE seer op die oomblik van ‘n moontlike geskeurde ligament en ek het maar net basies saam in die lekker warm water gehang. “Wil julle saamspeel?” vra ek as ek sien die jong seuns kyk met verlangende oë na ons bal. “Asseblief Tannie!”  Ek het maar net leepoog na Roelf, Christo en Marina gekyk wat volleybal speel.  

Daar is ‘n paar staproetes in en om die oord en ons kon die meeste daarvan doen. Hoe heerlik was dit nie om nuwe bome te leer ken nie! Skoonseun verstaan nog nie heeltemal die opgewondenheid oor die ge-oe en ge-aa oor al die bome nie, dis vir hom nog bietjie nuut. ‘n Boom is mos ‘n boom…

Ek het natuurlik kort-kort agter geraak met die stappery, want elke wildevy se wortels smeek om afgeneem te word, elke deeltjie van die stroom mooier as tien tree terug. By die waterval was ons ongelukkig in die middel van die dag en die lig nie reg nie, maar ‘n dooie stomp van ‘n reuse boom verskaf genoeg geleenthede vir my en my kamera. Die bome langs die Blyderivier se oewer is hoog, ek wens ek kon dit vasvang om te wys. Eendag…

Wanneer ek die gesin geroep en gevra het om gou om hierdie boom kom loer en dan daardie een, het hulle dit maar doodgewillig gedoen. Nie een keer mor hulle as ek vra vir ‘n foto nie. Almal te bewus daarvan dat ons nuwe herinneringe moet skep. Almal te bewus van hoe ‘n mens se tasbare herinneringe in ‘n oogwink kan verdwyn. Niemand sê iets nie, maar ons almal weet.

Dankie Vader. Dankie vir die tyd saam met my familie. Dankie dat ek nuwe herinneringe kon vasvang. Dankie dat ons U kan ken uit die wonderprag van die Blyderivier se bosoewer. Dankie, dankie, dankie.

Categories: So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: ,, | 2 Kommentaar

Koeie en kalwers

‘n Kollega van my maak die MOOISTE pastelle van wild. Ons gesin was vir die eerste keer in ‘n lang tyd almal by die huis met die oog op ‘n kort vakansie saam. Verlede Sondag het ons  twee skilderye gaan uitkies vir my nuwe huis, ‘n luiperd en ‘n leeu.  Ek kon dit alleen doen, maar dis ons almal se huis; en ek voel net dat elkeen sy sê moes sê oor duur items waarin ons almal moet vaskyk en wat die kinders eendag gaan erf.

Maar as mens iemand op ‘n plaas besoek ontaard dit dikwels  in ‘n kuier van ‘n ander kleur, want op ‘n plaas gaan lewe aan,  daar is nie ‘n stop vir kies-‘n-skildery nie. So begin ons gesinsvakansie toe met die kies van ‘n skildery wat vir altyd geassosieer sal word met koeie en kalwers. Net voor ons vertrek sê Lalie haar man moet ‘n koei gaan help wat sukkel om te kalf, en siende dat Marina ‘n veeartstudent is, bly ons toe.

My pa het ‘n paar beeste gehad toe ons klein was, maar ons was nooit naby diere in kraam toegelaat nie. Die arme koei was al baie lank in kraam en die kalf se lewe het in gevaar geraak. Dit beteken net een ding: die kalf moet uitgetrek word. Die kalf het reggelê, hy wou net nie uit nie.

Vir my wat albei my kinders normaal gekraam het was dit ‘n verskriklike ervaring om die arme koei so te sien. Mens-arms wat heeltemal in haar verdwyn om die ligging van die kalf presies vas te stel. ‘n Tou wat binne haar om die kalf se pootjies vasgemaak word.  Sy wat in ‘n drukgang lê, haar kop in ‘n klamp. Twee jong manne wat teen pale vasskop en met arms en lywe trek aan die kalf; net om die +600kg koei te sleep. En die kalf sit. Koppie wil-wil uit.

Die koei raak te moeg. Gaan lê. Ai tog. Nou is die hoek verkeerd om te trek. Kort-kort weer ‘n arm in om die kalf te voel. Hy lewe nog. Sy druk nog. Trek. Trek. Trek. Die kalf se kop kom uit en ek en Lalie hou die koppie vas terwyl hulle trek. Ogies wat dof word. Hartjie wat stop. Die nylon tou wat breek en met ‘n geweldige knal teen Wayne se hand vasskiet. Pyn. Desperaatheid op almal se gesigte.

Naderhand drie manne wat trek. Een wikkel die kalf binne-in haar. Na wat voel soos ure is dit skielik oor. Die hele lyfie skiet uit die koei, die naelstring afgeruk. Die heupies amper abnormaal groot. Nie ‘n groot kalf nie, maar te groot vir die koei. Sy wat net met toe oë lê en net één keer deur die hele trauma ‘n kort bulkie gegee het. Sy wat ook binne die volgende uur sterf.

Lalie se gesig wat vertrek van smart oor haar geliefde diere. Dis die soveelste koei hierdie seisoen, die nuwe bul gooi te groot kalwers, en daar is nog ‘n spul koeie wat moet kalf.

Hanskalf kom stamp vir Lalie om sy melk te bring. Enigste ma wat hy ken. Hy kon darem uit, ten koste van sy eie ma.

So is dit op ‘n plaas. Dis nie altyd lekker nie, maar eenmaal ‘n boer, altyd ‘n boer.

Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,, | 5 Kommentaar

Blog at WordPress.com.