Monthly Archives: Augustus 2011

My pa het ‘n banjo gehad

‘n Foto is ‘n twee-dimensionele vasvang van ‘n gebeurtenis. Ek dink ek kan met vertroue LEWE as is ‘n multi-dimensionele gebeurtenis beskryf.  Buiten sien en hoor, is daar nog ons tas- en reuksintuie, ons emosies, intuïsies en ander dinge wat ‘n rol speel in hóé ons ‘n ervaring interpreteer.

Op 6 November 2010 het weerlig my huis getref en het ons alles verloor.  Dit is een van die redes waarom ek my gedagtes nou met ander deel. Baie mense vra wat het ek geleer in die proses… watter raad kan ek gee vir ander mense. Daar is baie wat ek kan sê, maar vandag wil ek nét een ding sê.

Lééf jou foto’s.

Kyk gou na jou gunsteling foto, wat dit ook al mag wees. Maak nou jou oë toe… en skielik kan jy die see hoor bruis. Of jou kind se babaskaterlaggie hoor. Of ruik jy jou ma se vars gebakte beskuit. Of ervaar jy die opwinding van jou matriekafskeid. Of dit, of dat. Maar net deur te kýk het jou brein die konneksies gekoppel om al die ander sintuie se ervarings ook te onthou. Word die foto lewendig.

Vertel vir almal wat deur jou albums blaai wat die foto se storie is. Maak dit ‘n lewendige gebeurtenis. Praat daaroor. Lag daaroor. Huil daaroor.

In my ma se foto-album is ‘n foto van my pa as jong man saam met twee ander onbekende mans. Scottburgh 1950, ‘n paar jaar voordat hy my ma ontmoet het. My pa met ‘n banjo, die een oom met ‘n trekklavier en die ander een met ‘n kitaar. Hy was deel van ‘n klein orkes. Musiek gemaak. As ek nie die banjo in die kas gesien het nie, sou ek vir iemand gesê het dis nie my pa in die foto nie, maar dalk iemand wat per ongeluk net soos hy lyk. Solank as wat ek kan terug onthou het ek hom nooit daai banjo gehoor of gesien speel nie. Dit was deel van ‘n lewe waaraan hy ons nie toegelaat het om te deel nie. Later het hy die banjo vir my man gegee en nou is dit verbrand.

Vir hom was die foto ‘n herinnering, ‘n jolige vakansie by die see saam met ‘n groot groep familie en vriende. ‘n Herinnering, maar net vir hom. Vir my is dit ‘n prentjie waarin my pa ook is, geneem tydens ‘n vakansie by die see in 1950. Net ‘n prentjie. Ons is geleer om ander se privaatheid te respekteer, en as kind sou ek nie vra nie. Nou is hy nie meer met ons nie en kan ek as grootmens nie meer vra hoekom hy sy banjo weggepak het en nooit weer musiek gemaak het nie. Dis vir my ‘n verlies. Die gebeurtenis is dood vir my. Vir altyd. En dis vir my baie hartseer.

Lééf jou lewe. Déél jou prentjies en herinneringe met die mense rondom jou. Al is dit deel van ‘n tyd wat verby is. Jou foto’s kan verbrand, dan leef die woorde ten minste voort. Jy kan sterf, en dan leef jy in jou foto’s voort omdat die storie vertel is. Help jou foto’s om lewendige herinneringe te wees, nie net dooie prentjies nie.

My pa het ook ‘n tent gehad…

Categories: Lankal terug, Slakgedagtes | 11 Kommentaar

Hoe weet jy as jy migraine het?

Iemand vra anderdag vir my hoe weet jy as jy migraine het. My antwoord was: ‘Jy wéét. Jy sal nie twyfel nie.

Miskien moet ek tog probeer verdeuidelk.

Dit voel of iemand een kant van jou kop (ek kry linkerkant migraine) in ‘n vice vasklem en al hoe stywer draai. Dan probeer iemand jou oog wat wil uitpop met ‘n stomp lepel uitgrou om by die brein agter die oog te probeer uitkom. Grou en grou en grou.

Iemand anders druk sy vuis in jou keel af  terg die leeu in jou maag. Die arme gewonde leeu brul en brul om van die vuis te probeer ontslae raak. Tevergeefs. Gelukkig is dit net die honde wat dit vandag aanhoor. En die arme Emelina.

Iemand anders vat jou senuweepunte en maak geluide meer intens. Die honde wat die zebras prbeer verdryf blaf reg in jou oor. Baie skirl. Die desibels hoër as enige ander dag. Ligte skyn skerper. Die sonlig wat na twee dae agter die wolke uitloer het êrens ‘n intensiteit bygekry wat jou laat wonder of die einde nie dalk hier is nie.

Nagmerries voel werlkiker as werklik as jy uiteindelik aan die slaap raak. Oopmond lê en drool en nie eers omgee as Emelina stilletjie deur die kamer sluip om die gestrykte klere in die kas  te hang nie.

En dan skielik is dit weg. Sommer net weg en al wat oorbly is iemand wat ‘n sak om jou kop bind sodat jy deur ‘n dowwe dwaal na die wêreld om jou kyk. Koolkop wat skielik nie kan spel nie. Koopkop wat nie weet wat is ses maal agt nie. Koolkop wie se gesig opgepof staan van al die marteling.

Maar vandag het iemand die ander iemands in die kamer toegemaak. Hulle wil nie weg nie. Koolkop wil nie kom nie.  Miskien kom Koolkop deur die nag.

Koolkop wat môre voor ‘n klas moet staan. Koolkop wat die briefies gaan sien wat die skindergroep in die hoek van die personeelkamer vir mekaar aangee. Koolkop wat gaan sien hoe hulle lag. Koolkop wat net sal fokus op die groen uitgedroogte gogga op die gordyn.

Koolkop wat gister net oordentlik was om ‘n stukkie sjokolade koek te eet na kerk saam met haar tee by iemand wat ‘n kuiertjie spesiaal wou maak. Sjokolade koek wat gewoonlik ‘n lae risiko is maar die snaakse smaak in die versiersel  was die onbekende faktor wat vandag marakkas maak.

Die onbekende faktor wat al die iemands om my kop hou vandag.

Nou weet jy ook. As jou so voel dan weet jy dat jy migraine het.

Categories: Sommer maar net | 4 Kommentaar

Hospitaal manewales

Baie jare gelede moes my verstandtande uit, jare terug voor selfone hier beskikbaar was. Dit word mos sommer by daghospitale gedoen, vinnig-vinnig. My man het nog nooit by my gesit voor ek teater toe gaan nie. Dis net nie sy ding nie, en ek neem hom nie kwalik nie, want ek verstaan waarom nie. So word ek toe vroegoggend afgelaai vir die prosedure. Op my eie. Allenig.

My lyf is BAIE sensitief vir medikasie en die pre-med inspuiting is gewoonlik al genoeg om my diep in droomland te sit. Dis nou nadat ek eers ‘n kwota gal skenk in die nierbakkies, en my bloeddruk die dieptes in val. Met die wakker word brul ek soos ‘n gewonde leeu en moet ‘n blink oorlewingskombers om my gedraai word om my temperatuur normaal te kry.

Op die spesifieke dag het ek die gewone skenking gedoen en naderhand ingedommel. Na ‘n ruk het ek wakker geword en gedink die prosedure is al verby. Voel-voel met my tong in my mond. Bitter gal. Niks wat bloederig proe nie. Niks is geswel nie. Roep toe maar ‘n nurse. “Ag sies tog, mevroutjie, dokter is laat en ons weet glad nie waar hy is nie. Probeer maar weer ‘n bietjie slaap.” Huh? Kan sy nie net  iets uitdink om vir my te sê nie? Na ‘n ruk kom sê die nurse hulle is baie verlig, dokter het net ‘n pap wiel gehad, teater kom my sommer nou-nou haal.

Dommel weer in en ek word wakker toe die bewegende bed teen ‘n hoek stamp. “Askies Mevrou Marais” begin die teaternurse… Voor sy nog verder iets kan sê is ek KIETSREGOP in die bed. “Het jy gesê Marais? Ek is nie mevrou Marais nie!” My nek sweepslag omtrent soos hulle stop. Die kaart word uitgepluk en my armbandjie bestudeer. “O vrek, ons is een vloer te hoog. Sorry mevrou.” O vrek, sorry mevrou? Oo Bliksem!

Met dokter wat laat is, is die hele teaterlys laat. Hulle koppel solank die elektrodes om my hart en bloeddruk te monitor terwyl ek soos ‘n stuk vleis vir die worsmasjien lê en wag. My oë is toe, die pre-meds lankal uitgewerk. Die nursies sit om die hoek. “Wie is die narkotiseur vandag? Ek hoop tog net nie dis dokter So-en-so nie. Ek dink regtig nie hy is nie ‘n goeie dokter nie.” Huh? Ek is WAKKER! Ek het ‘n ander narkotiseur maar dis net te veel. Die hartmonitor gaan mal. Ek maak een oog oop. 140… 145… Kalmeer Jakoba, kalmeer….135… 140… KALMEER… “Sies tog mevroutjie, hoekom is jy so bang? Ons gaan mooi na jou kyk.” kom my dokter se stem van agter af. En toe is ek weg.

Die bloederige spoeg loop by my mondhoeke uit en ek kry nie eers gesluk nie. So geswel my lippe kan nie toe nie. Ons gaan mooi na jou kyk. En Roelf dink ek huil oor dit seer is.

Eers later kon ek vir hom vertel… dat ek mevrou du Preez is, en nie mevrou Marais nie. En as ek nou hospitaal toe gaan drink ek geen pre-meds nie, klim self op die teaterbed, maak seker ek sien my dokter en vertel mooi vir die narkotiseur hoe hy my aan die slaap moet maak; want ek wil verseker weet my nier word nie uitgehaal of my been geamputeer net onderkant my stuitjie nie.

Categories: Lankal terug | 7 Kommentaar

Orde in die huis

Die posisie in jou gesin bepaal baie dinge in jou lewe. Ouers is gewoonlik strenger met die oudstes, bederf die jongstes meer. Middelkinders is soos tieners; nog vis, nog vlees.  Dis net so… Oeroud soos die mensdom self en onbewustelik gaan die kringloop aan en aan.

Ons is ‘n spannetjie van agt, die trots van my Ma en Pa.

So bepaal my posisie vir my baie dinge. Ek is ‘n middelkind, die vyfde van die agt. Maar ek is ook ‘n oudstekind, want ek is die oudste van die jongste vier met ‘n gaping van vier jaar tussen nommer vier en my. Indringerkind wat daardie jongstekind se plek ingeneem het. Kleinstekind, want die res van my gesin is gewone mense en ek is klein. Die oudste drie is tieners, besig met belangrike skool- of plaashuiswerk. Saam met die nét ouer sussie durf ek nie speel nie, die indringer word net afgeknou. Die jonger twee maak ‘n groep, Three’s a crowd, en Boetie is ‘n baba.

Allenigkind.

Jou posisie bepaal ook dat jy aan ander gemeet word. Ons jongeres was  voortdurend gekasty deur onderwysers as ons nie dieselfde akademiese prestasies lewer as die oudstes nie. Van ons moes sommer klas uitvee net by die aanhoor dat jy die rebelse tweede een se sussie is.

“Laat hulle weer hardloop!” skree die boepens oom op die Boeresport. “Ons wil sien hoe hardloop daai kleintjie haar sussie weg!” En dan hardloop almal maar weer en jy word nog verder Indringerkind. Twee Seerkinders.

Arme, arme Boetie; lankprobeerdekind wat net sussies was en toe ‘n glips; word aan Sewe Susters gemeet. Kroonprins in die huis, maar geen wonder hy was so ‘n helsem by die skool nie. My arme ouers word vir die eerste keer ooit ingeroep by die skool vir stoutighede.

Al word ons buite ons huis gemeet aan mekaar, was dit nooit, ooit binne ons huis gedoen nie. Elkeen is ‘n individu. Elkeen het ‘n reg om te wees. Die inherente geskuur aan posisies bring net diamante uit en elkeen se unieke eienskappe word uitgeleef en versterk. Soos ons groot word skrop elkeen sy eie werf  en vervaag die orde tussen ons, want op grootmensvlak is ons almal gelyk  en net Ma en Pa se kinders.  Ons is baie, baie lief vir mekaar en familiebyeenkomste is groot, ons sóék ‘n rede vir ‘n fees. Net om bymekaar te wees. Sonder onderskeid.

Al was ek soms geweeg deur buitestaanders en te lig bevind oor die posisie wat ek in my huis beklee het, ek het lankal besef dat dit nie sáák maak wat my posisie daar is nie – want ek is God se kind. En Hy het net kinders.

Nét kinders.

Categories: Sommer maar net | 6 Kommentaar

Ongewone gas in die klas

Al het ek Chemie gestudeer en jare in die industrie gewerk, bly LEWE my voorkeur. Die veld.  

Die kinders het gou agtergekom dat Juffrou nie bang is vir goggas nie, en kom wys graag ‘n mooi diertjie of ‘n ding. Dra spinnekoppe aan en vra ek moet dit identifiseer. Dra versigtig ‘n slangvervelseltjie aan wat hulle by die visdam gekry het. Verlede jaar het ek tot ‘n klein spoegkobratjie in ‘n asblik gekry. Kwaai klein boggertjie, maar nou besig om die dorp se muise te beheer vanuit die veldjie agter die skool.

So kom daar toe nou vandag ‘n kind aan met ‘n klein vrugtevlermuis op sy serp. “Net in die klas ingevlieg Juffrou. Die kinders wil hom doodmaak, toe bring ek hom maar liewer vir Juffrou, want Juffrou sal weet wat om met hom te doen.”  Jippie… êrens is iemand met respek. Die terreinpersoneel was besig om ‘n boom af te kap, ek dink dit was dalk haar huis.

Die sysagste diertjie. Ek het haar gevat en op my arm gesit. Sy het dadelik teen my arm begin opkruip, skoon windverskrik. Dié wat nie te veel gegril het nie het aan haar sagte pelsie gevoel. Vir die eerste ruk het ek haar maar in die donkerte van ‘n laai gesit, en toe ek kon, op ‘n plekkie agter ‘n geut teen die agterkant van die klas.

Lewe nog ‘n dag, liewe vlermuisie, sommige kinders is wrede goed.

——————————————————————————————————————————————–

Naskrif:

Hierdie was my presentjie die volgende dag – 30cm huisslangetjie

Categories: Skoolhou | 4 Kommentaar

‘n Klein bietjie erkenning

Om wetenskap te gee is nie grappies nie. Om vir juniors Natuurwetenskap te gee is ‘n riller, veral as ons by Chemie kom en daarna by Elektrisiteit. Hoekom? Want allereers is Chemie konsepte soos onsigbare atome met elektrone en protone wat verstaan moet word, en dan in Elektrisiteit beweeg hierdie onsigbare, ondenkbare goed nog in stroombane waar weerstand gebied word en moet hulle op die koop toe nog Berekeninge ook doen. Sug. Die oorgrote meerderheid van hierdie kinders het nie ‘n idéé wat wetenskap beteken nie, maar moet die vak neem. Geen keuse nie. Moet. Die van julle wat dalk tieners het of al gehad het, sal natuurlik dadelik raai dat wanneer jy vir ‘n tiener sê MOET, dan steek ‘n rebel sy kop uit.

Met dít nou alles in ag geneem, moet die juffrou sorg dat die meerderheid die vak deurkom, en dat daar ook genoeg leerders is wat Fisiese- of Lewenswetenskap kies vir hulle FET- fase, anders word die Wetenskappe departement gesluit.

… En hierdie juffrou is KWAAI, as sy sê jy kry nie ‘n punt as jou formule of eenhede nie by jou berekening is nie, dan kry jy nie ‘n punt nie. Klaar. Finish. Geen onderhandeling. Reg of weg. Só berei ek die kind voor wat aangaan met die vak, en die ander leer net dissipline by. Reg of weg. Hulle weet presies waar hulle staan, en dis wat ‘n tiener nodig het – spesifieke grense. Konsekwentheid. Vandag reg, môre ook reg.

Ek het eers vir meer as twintig jaar in die Chemiebedryf gewerk voor ek onderwyser geword het, en dis nou my vierde jaar van skoolhou. Ek het gou geleer dat die kleinste vorm van erkenning ‘n kind laat floreer. In my klas mag ‘n kind nie sê hy het nie sy werk gedoen omdat hy nie verstaan het nie. Hulle móét wys dat hulle probeer.

Die minder-slim kind in my klas het net soveel aansien as die intellektuele ene. Inklusiewe onderwys is deel van ons sisteem, en die mees minder-slim kindertjies werk soms die heel hardste… en kom dan nog steeds nie deur nie. Jy moet hulle gemotiveerd hou en belangrik raak voel, en dis ‘n enorme taak.

Sommige werk leen hulle daartoe uit dat die kinders ‘n som of iets op die bord kan doen. Hulle is mál daaroor, want dit maak nie vir my saak of dit reg of verkeerd is nie. Ek laat gewoonlik, as tyd toelaat, so twee tot drie kinders dieselfde ding doen. So voel hulle nie minderwaardig as hulle ‘n fout maak nie, want hulle is nie alleen blootgestel nie. Dan bespreek ons die goeie en slegte punte in elke antwoord sodat hulle by mekaar ook kan leer.

Ons skool probeer om die intellekte mooi te groepeer in klasse, maar dit gebeur maar tog dat jy erg minder-slim tot medium intelligente kinders in een klas kry. Die vrae wat jy stel moet voorsiening maak vir almal en so vra jy dan die eenvoudigste vragie vir die regte persoon, en as een hulle ‘n handjie opsteek en jy wéét dit gaan verkeerd wees, dan gee jy ‘n ander een geleentheid om te antwoord.

Voorverlede week het ek ‘n redelike moeilike vraag gevra, en toe ek ‘n regte antwoord vanuit ‘n onverwagte oord kry, vir die seun ‘n “high five” gegee. Ek wens julle kon die trots op daardie gesiggie sien. Net daarna vra ek weer iets en kry ‘n antwoord met regte elemente, maar vér van regtig reg af. En net daar kry hy toe ‘n “high pinky”  vir sy poging tot groot vermaak van die klas. “What about a THUMB, Mam? Pleaaze, at least a THUMB!”

Dis nou ‘n instelling in hierdie klas. Klein bietjie erkenning loop ‘n lang pad saam. Gee dit as dit toekom, maar moenie dit goedkoop maak nie, want dan verloor dit sy waarde.

Categories: Skoolhou | 16 Kommentaar

Sonde met die diere

Vandag kla ek met ‘n sponskoek onder die arm. Nie eers ‘n witbrood nie.

Ons het twee troppies zebras op die plaas, die een wilder as wild en die ander ene mak. Of makkerig. Vreet nou nie uit my hand nie, maar wei om die huis en hol nie weg vir my of die honde nie.

En dís nou juis waaroor ek wil kla. Kan die goed nou nie net ander plek loop wei nie? Nee. Die grassies wat mooi groen uitslaan op my stoepie se drumpel waar Roelf elke week sy kar was is mos nou juis die sappigste. Die poeding op die plaas. Ek bly mos regtig-egtig  in die bos, nie grasperke en mooi tuine nie. Net wilde gras wat netjies gesny word om die huis.

My arme honde weet nie meer waarheen nie. Nou staan hulle en blaf en blaf en blaf en blaf en blaf en blaf en blaf en blaf en… kry die idee? Kort-kort kan arme Boesman die Staf dit nie meer hou as hulle net vyf treë van sy kosbak wei nie. Dan storm hy hulle met ‘n groot gedruis. As julle al ooit ‘n zebra sien wegtrek het, dan weet julle dat dit met ‘n gepoep en geproes gebeur. Agtertoe skop en twee treë verder staan hulle weer. My arme hart is skoon op hol van al die asemhou van die honde onder die hoewe.

Hieronder is Vettie (van ons diere het name) die ongelooflike moeder. By haar is haar twee dogters van die vorige twee seisoene, en in die pens enetjie wat baie binnekort gaan kom. Die merrietjies bly in die trop, terwyl die seuntjies verdryf word. Ou Hings is baie kwaai, hy het so paar weke terug ‘n seuntjie wat nie ore gehad het om sy ma te los nie so gekarnuffel dat hy dood is. Die kleinste enetjie wil weer begin suip, so Vettie se melk begin seker produseer.

 

Netnou besluit ek toe GENOEG is nou GENOEG. Die eerste ding wat ek in die hande kry is ‘n halwe Coke bottel wat ek gebruik om plantjies in te kweek. Gooi vir Hings netjies op sy boud, maar sal so ‘n vermetele Hings nou nie ‘n drie-dubbele poep gee en op die ding gaan staan en spring tot hy flenters is nie. Wie is ek nou om hom van die poeding weg te jaag?

So sponskoek onder die arm of nie. Genoeg is soms net genoeg.

Categories: Plaaslewe | 14 Kommentaar

Grense van my menswees

Gen. 2:7 “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.”

Gen. 3:19 “net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem . Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Die see. Wonderwêreld. Absolute liefde met ‘n oogopslag. Ek het op sestienjarige ouderdom vir die eerste keer die see gesien. Die tweede keer wat ek my geliefde sien was toe ons vir ons wittebrood Mauritius toe was. Avonturier Roelf doen ‘n blitskursus in skubaduik by die hotel.  Dis vir my ‘n groot teleurstelling toe die geluid van my eie asemhaling my  in wanhoop die snorkel van my gesig laat afruk in die poele, wat staan nog van skubaduik.  Maar hy los my en paai saggies die hartseer van my teleurstelling weg. Later sou ek leer dat dit die verkeerde grootte snorkel was wat hierdie reaksie ontketen het.

Gedurende ons jong getroude jare boer ons by Sodwana saam met ons vriende… en wanneer hulle gaan snorkel, stap ek vir ure en ure alleen langs die strand. Toe kón jy nog. Luister na my geliefde… dartel deur die watertjies, tel die skulpies op wat hy vir my gee. Soms voel ek skuldig oor my verraad aan my Bosgeliefde, maar net soms.

Later toe die kinders kom was dit nie meer moontlik om so vry met my geliefde om te gaan nie. ‘n Groot gemis vir my.

Op ‘n dag besluit Roelf en die klomp vriende dis tyd om ‘n behoorlike skubakursus te doen. En ek moet saam. Eina. Op daardie stadium het ek begin besef dat ek moet bybly met my man se avonture, of anders gaan ek alleen agterbly. Eina.

Ek sukkel. Die donker dieptes sluk my in en die ander, insluitend Roelf, verwerp my onvermoeë om teen dieselfde tempo as hulle die kursus te voltooi.  Maak lelike opmerkings. Lag agter hulle hande as hulle dink ek sien nie.

 Alleen. Geïsoleer met net my eie gedagtes. Te vinnig in en uit en ek hiperventileer amper in ‘n koma in. Onder die water beteken dit moeilikheid. Groot, groot moeilikheid.

Wanneer ek iets aanpak doen ek dit met my hele wese. Dit oorheers my. Eet, leef en slaap. Gedagtes. Drome. Boeke. TV en videos. Soms moet ek keer of dit oorheers almal om my ook.  En as ek besluit om iets te doen, dan DOEN ek dit.

My drome raak meer intens en ek ervaar hoe ek lewe onder die water. Soos wat ek lewe in die lug.

Op ‘n dag kyk ek op en sien die borrels silwer teen die lig. Lig. Ek verwonder my aan die borrels gas wat net netnou deel  van mý was. Die wetenskaplike in my sê gas los op in water, waar daar mikrodeeltjies DNA uit my longe aan kan kleef en dit beteken ek omring myself met myself. Ek is deel van alles om my. Lig. En toe weet ek daar is hoop.

Maar die volgende keer gaan die asem gaan steeds te vinnig in en uit, weerhou ek myself daarvan om genoegsaam van die koolsuurgas ontslae te raak. En dit trigger maar net weer die brein met die oeroue boodskap… asem in. Een laaste keer kry ek ‘n vuil kyk en word agtergelaat in ‘n wilde deining by Aliwal Shoal. Wie wil tog nou ‘n hiperventilerende sukkelaar probeer kalmeer? Nie eers my eie man nie, hy wil net gaan duik.

My lyf hang soos ‘n lappop in die water terwyl my masker opwasem van my warm trane. My maag wil-wil begin ruk van seesiek. En toe skielik kom daar ‘n kalmte oor my. En ek maak my oë toe en ek sien die silwer borrels teen die lug. Lig. En ek onthou die vrede in my drome.

Met my oë steeds toe maak ek my BC leeg en sak die dieptes in. Equalise. Asem in, asem uit… een… twee… drie… Dan eers asem in… Dan eers maak ek my oë oop. En die wonderlikste vrede omvou my. Ek doen dit. Ek is één met die water. Ek is een met myself.

Ek weet nou dat my menswees nie grense hét nie… dat ek vry is en in my vryheid deel is van ‘n Skepping groots… dat my atome van nou deel gaan wees van oormôre eeu se iemand anders. Maar nie weer ék nie, want my lewensasem gaan by God wees.  God het ons gemaak, stof uit stof en tot stof sal ons weer vergaan… met net ons lewensasem veilig terug by Hom, om vir altyd en altyd saam met Hom te wees.

Categories: Slakgedagtes | 4 Kommentaar

Uiterste vryheid

Verlede week het ek Elektrostatika met my graad neges behandel, en laataand het ek bietjie my gedagtes bietje vrygelaat om in die buitenste ruimtes te gaan swewe. Alles wat ek hier gaan kwytraak is nie noodwendig feite uit die wetenskap nie, maar sommiges is wel en sommiges is gedagtes uit my kop om jou ook te laat dink.

Braaivleisvure is die katalis vir menige wyshede, dis ‘n feit soos ‘n vis. Laataand rondom so ‘n vuurtjie ver in die bosse van Botswana het ‘n oom eenkeer gesê dat die stoom uit die keteltjie die uiterste vorm van vryheid is vir die watermolekules. Waar ja, want in die gasfase kan die molekule vry beweeg, en as daar nie wande van ‘n houer is wat dit beperk nie, dan is hy weg die ruimtes in.

Atome is die eenvoudigste vorm waarin enige stof kan bestaan. Dit is die boustene van materie en ‘n eenvoudige model stel voor dat dit bestaan uit ‘n kern met protone en neutrone, met elektrone wat in ‘n wolkie in vasgestelde bane daarom beweeg. Ons liggame bestaan ook uit atome. Stof van die aarde. Elemente. Atome.

Hierdie elektrone kan nou oorgedra of gedeel word om chemiese bindings te vorm. Die vloei van elektrone in geleiers (metale) word elektrisiteit genoem. Wanneer nie-geleiers as gevolg van wrywing teen mekaar skuur, word ‘n lading gevorm. In leketaal beteken dit basies die elektrone in die atome word opgewek en gaan beweeg in ‘n wolkie om die voorwerp, want nie-metale kan nie die elektrone gelei déúr die voorwerp nie.

Dink nou byvoorbeeld aan die feit dat wanneer jy jou voete op ‘n mat vryf, en jy vat aan ‘n ander persoon, dan ‘skok’ hy. Soms kan mens in die donker selfs ‘n vonkie sien spring. Dit beteken maar net dat die elektrone wat om jóú beweeg het as gevolg van die wrywing teen nie mat, baie vinnig ontlaai het na die ander persoon. Soms skok jy wanneer jy aan jou kardeur raak. Die elektrone het opgewek as gevolg van die wrywing van die kar se wiele teen die teer. En so maak ons gebruik van hierdie beginsel as ons Glad Wrap om ‘n bak sit, in fotostaatmasjiene, ensovoorts.

Wikipedia verduidelik die proses só: “Electrostatics involves the buildup of charge on the surface of objects due to contact with other surfaces. Although charge exchange happens whenever any two surfaces contact and separate, the effects of charge exchange are usually only noticed when at least one of the surfaces has a high resistance to electrical flow. This is because the charges that transfer to or from the highly resistive surface are more or less trapped there for a long enough time for their effects to be observed. These charges then remain on the object until they either bleed off to ground or are quickly neutralized by a discharge: e.g., the familiar phenomenon of a static ‘shock’ is caused by the neutralization of charge built up in the body from contact with nonconductive surfaces.“

“Electrostatic discharge (ESD) is the sudden and momentary electric current that flows between two objects at different electrical potentials.”

Op reënerige dae werk eksperimente met elektrostatika glad nie goed nie. Met die baie watermolekules in die lug ontlaai die elektrone eenvoudig soontoe. Die reëndruppels val grondtoe en die elektrone word weer deel van die groot poel in die aarde.

Maar party elektrone kan ook oordra na die klein, klein druppels wat vry in die atmosfeer beweeg. Vry om die hele atmosteer vol te beweeg. Hierdie vry watermolekules koel af wanneer dit met die yskoue atmosferiese lug in aanraking kom en vorm wolke. In die wolke skuur die yskristalle teen mekaar, die lading wat vorm raak só groot dat dit ontlaai terug aarde toe. ‘n Bliksemstraal. Weerligstaal. Elektrone wat báie vinnig ontlaai aarde toe. Energie. Baie, baie energie. Elektrone en energie wat kom van my af, van jou af, van ons almal af.

En so is ons almal deel van die uiterste vorm van vryheid. Vryer as die oom se watermolekule. Die elektron. Geskep deur God. Ons is deel van die Skepping van God. Ons is almal vry in God.

Categories: Skoolhou, Slakgedagtes | Lewer kommentaar

Ek is boringste boring verby

Maankind praat van boring. Ek dink elke mens het maar sy eie idee van wat daardie boring woordjie beteken.

Vir my is rugby boring. Die sokker wat die land so gaande gehad het, het my teen die mure uit gedryf. Ek kon nie wág vir elke sokkerentosias om die land te verlaat nie. Praat jies oor die nuuste flieks en filmsterre verveel my so ek kan soos ‘n plat spinnekop die mure uitdraf. Malls en winkelsentrums is seker een van die heel, heel boringste plekke op aarde. Ek haat klerewinkels, en koop gewoonlik as ek iets sien wat my aandag trek en vir my pas. My dogters weet waarvan ek hou, so hulle koop sommer namens my. Dis vir my uiters, uiters boring om in ‘n restaurant vol mens te sit en eet.

Ek het met my nuustste speelgoed gespeel vandag, en dit was nie vir my boring nie, dit is vir my terapeuties om te skep. Gister het ek heeldag ‘n saal vol mense tydens ‘n provinsiale boogskietkompetisie vertel wanneer hulle mag skiet en wanneer nie , en dit was nie vir my boring nie. So gee ek terug en bly betrokke in my sport terwyl ek nie nou self kan kompeteer nie. Self kan ek vir ure alleen staan en skiet, en dis nie vir my boring nie, ek oordink al my sondes so.

Om my hele Desenbervakansie met ‘n spuitkan op my rug te loop en Pom-pom weed en Lantana spuit is nie vir my boring nie, dit beteken ek kan die heeldag in my geliefde veld loop. My kamera gaan ook saam en ek kan soms net ontspan by ‘n pragtige gogga of ding. Ek het juis die pragtigste paddatjie so gekry. En ek het heeldag geselskap, ek praat met God en Hy praat met my, en dis vir my genoeg. Ek gee nie om om agter ‘n bos te piepie as ek gaan stap nie, dis nie vir my boring nie, ek hersikleer nutriënte en water vir die watersiklus. Dis nie vir my boring om stoksiel alleen te bly nie, ek is nie skaam vir my eie gedagtes nie.

So is ons almal se doen en late vir iemand boring, en vir iemand interressant. Wat vir my belangrik is, is dat ons almal repek moet hê vir mekaar, want dan maak boring nie meer saak nie. Daar is ‘n plekkie vir ons almal onder die son.

Categories: Sommer maar net | 9 Kommentaar

Blog at WordPress.com.