Monthly Archives: Desember 2011

Nuwe era vir my

Ek het n nuwe fountjie gekry en kan nou my blog van hom af bykom… Dit beteken ek kan vinniger kommentaar lewer by ander en ook vinniger antwoord!

Advertisements
Categories: Sommer maar net | 3 Kommentaar

Sommer net oor dankbaarheid

Toorts het my gemerk om saam te skryf oor sondes, skandes en sommer net, maar vir my is my skandes privaat, nie iets wat ek om die kerkklokke wil hang nie. So ook my sondes, dis tussen my en God. En Maankind het alreeds so oulik geskryf wat eintlik ook maar my gevoeltes is oor sondes en skandes. Maar ‘sommer net’ val in my kraal vandag…

‘Sommer net’ wil ek graag dankbaar wees hierdie week vir:

My familie

  • Dankie dat ek ‘n goeie man en wonderlike kinders het.
  • Dankie vir my groter familie wat altyd daar is deur dik en dun. 
  • Ek is lief vir julle almal.

 ‘n Vonnis gevel oor ‘n dogtertjieverkragter

  • Mag sy vrede vind. Ons familie is hard geruk hierdeur. Dit het ook in ‘n mate vertroue in die regstelsel gebring. Hy was bekend aan haar en het haar en haar sussie met die dood gedreig en sy het die trauma vir amper ‘n jaar lank alleen gedra voor die bose sweer gebars het. Die getuienis van haar en haar kleiner sussie wat ‘n ooggetuie was, was egter so sterk dat hy wel aangekla is; en na maande se hofsake is hy skuldig bevind en hierdie week gevonnis.

 Gesondheid

  • Dankie dat ek gesond is om die lantana op my plaas te kan bestry, al moet ek baie dorings verduur en blase op my hande van die kapmes.

    Wanneer mens bad na Lantana-werk brand elke skrapie soos vuur van die blessitste gif in die plant. My arme naelborseltjie werk oortyd in werktyd op die plaas. Die bloukolle op my lyf is nog 'n ander saak...

  •  Dankie dat ek weet hoe om 99% te kan keer om migraine te kry.
  • Dankie dat ek kan LEWE.

 Mediese tegnologie

  • Dankie vir kortisooninspuitings wat vir my sussie weer drie maande se lewe kan koop al moet sy oor ‘n tydperk van drie dae pyn verduur wat morfien nie eers doof nie; en ‘n paar keer per dag teater toe gaan vir die inspuitings van kop tot toon. Meer as 300 pynlike kortisoon inspuitings wat haar vir ‘n paar dae in ‘n blaasoppie verander.
  • Dankie dat katarakke wat uit my ma se oë kan kom en vir nuwe lense sodat sy nie blind hoef te wees nie.

 Werk

  • Dankie dat Annerine ‘n onderwyspos gekry het vir volgende jaar en so opgewonde is oor die vooruitsig.
  • Dankie dat ons álmal werk het. Ek en Roelf was al baie ryk. Ons was ook al albei gelyktydig werkloos en arm. Ons  ken die soet en die suur.

 My plaas

  • Dankie aan my Vader vir ons stukkie grond, al is dit vol lantana. Daar is mooi goeters ook en ek werk hard om die biodiversiteit wat oor is te red van die lantana.

    Eulophia streptopetala, een van 4 orgideespesies op die plaas, nou in blom.

  •  (en dankie dat ek nou vir my ‘n oorpak en leerhandskoene kon koop om my te beskerm…)
  • ‘n Verdere dankie vir ‘n student is wat bereid is om my vir ‘n hele maand te kom help lantana kap en spuit; in ruil vir kos en slaapplek en ondervinding op ‘n plaas.

    Ek LIEF die veld!

 Genade

  • Dankie dat daar ‘n vrou is wat haar kombuis vandag afgestaan het aan my sodat ek bietjie vakansiekoekies kon bak vir my gesin na my eie kombuis in vlamme opgegaan het.

    In my huis is Desembervakansie en Kersfees sinoniem met Hertzoggies Wie van julle ken ook appelkooskonfytkoekies? Sinoniem met my ma se huis...

  • Dankie dat ons weer ‘n huis kan bou al beteken dit ek bly in die week 350km van my man af vir die volgende paar jaar.
  • Dankie dat ek ‘n dak oor my kop het tot my huis klaar is, al is dit net drie vertrekke en baie beknop.
  • Dankie dat ons al plafonne slaan in die nuwe huis en môre teëls gaan koop.
  • Dankie dat Roelf se kar ongeskonde is na ‘n boom gisteraand omgeval het nadat boortorre lekker gevreet het. Die kar het net een klein duik.

    GROOT skrik! en GROOT dankbaarheid oor net 'n klein-klein duikie op die regterkantste hoek...

 DANKIE! DANKIE! DANKIE!

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: ,,, | 8 Kommentaar

Lewensiklus

WAARSKUWING – die volgende inskrywing bevat ontstellende materiaal!

Geboorte gaan gewoonlik gepaard met trane van blydskap en vreugde, terwyl sterfte universele trane van hartseer bring.

Dis nou tyd vir die nuwe babas om te kom, en die eerste baba om gesiggie vir die wêreld te wys was ‘n piepklein wildebesie. Toe sien ek twee fyne ou rooibokkies en Vrydagoggend terwyl ek Lantana spuit gewaar ek vir Flappie met haar klein strepiesperdjie hol. Gisteroggend was daar drie stelle nageboortes twintig tree van my huis, waarskynlik rooibokkies.

Ons dink in hierdie tyd spesiaal aan Frieda, wat verlede week eers haar aangenome baba laat vaar het en nou aangaan met haar gewone kameelperdlewe.

Frieda in Oktober by die aangenome baba

Frieda se aangenome baba hierdie jaar. Die swart is soos sy elke keer daar piepie.

Vir Flappie en die trop vergewe ek vandag vir die afgelope weke se irritasie by Boesie en Pippie se waterbak – net oor hulle my met die motorfiets so na aan hulle toegelaat het om ‘n foto van Flappie se klein strepiesperdjie te neem.

Flap en haar dagoud baba. Dis haar vierde vulletjie.

 

Flappie het een hang oortjie. Dis waar haar naam vandaan kom.

Sterftes had ons ook die week. Ek het ‘n jong wildebesie van verlede jaar se oes dood by die dam gekry. Vars dood omtrent die vorige dag of aand. Longbloeding wat wys by die neus. Omdat hy ‘n bulletjie is, was ons vermoede maar dadelik dat die tropbul hom per ongeluk ‘n té harde stamp met die horing gegee het in sy poging om hom te verdryf met die nuwe babas wat kom. Jaaroud bulletjies word uitgestoot, die versies mag bly. Roelf het laasweek al vir my gesê hy sien die jongetjie lyk nie lekker nie.

Vandag het ek egter my bedenkinge. ‘n Stroper is weer doenig hier, in die draad is ‘n yslike gat geknip waar ‘n bok gisteraand ná ‘n buitjie reën uitgesleep is. Was dit die tropbul wat vir kleintjie leer wat outoriteit beteken of was dit ‘n dwaalkoeël van die stroper? Ons sal nooit weet nie. Ek weet net dit is moord as dit die stroper is. Vir die afgelope twee jaar het ons self niks gejag nie, die stropers het vir hulle toegeëien dit wat ons sou eet. Dit maak mens naar.

Hartseer, maar deel van lewe op die plaas

Lewe lê tussen-in geboorte en sterfte. En ons LEWE in hoofletters hier. Elke dag is spesiaal, ‘n seëning van Bo.

Lewe op die plaas is maar deel van die siklus van geboorte, lewe en sterfte. Vandag lewe jy, môre is jy deel van die nutriënte vir die volgende lewe. Stof tot stof, met die lewensasem van God wat die groot verskil maak tussen die twee pole.

Categories: Plaaslewe | 6 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.