Monthly Archives: Oktober 2012

Letsels

Dink vir ‘n oomblik aan ‘n fisiese wond soos ‘n sny. Ontsmet en versorg die wond, en hy word vinnig gesond sonder dat sigbare letsels gesien kan word. Verwaarloor egter dieselfde sny en hy vrot; en wanneer dit uiteindelik gesond word is die letsel onooglik en hinderlik op jou lyf.

Geestelike wonde werk maar op die selfde manier. Die letsels wat mens oorhou na ‘n trauma is die direkte gevolg van hoe jy jou wonde hanteer. Net soos jyself klein fisiese wondjies kan versorg en self behandel aan jou lyf, so kan jy ook klein geestelike wonde hanteer. Sommiges egter is net te groot vir jou alleen, en jy het kundige hulp nodig. Soms het jy meer as net kundige hulp nodig, maar dit verg dat jy self moet besluit om jou hand uit te steek.

Ek put baie krag uit die natuur, wanneer ek in die veld stap is dit deel van my stiltetyd met my Vader. In hierdie spesiale tyd openbaar Hy vir my oplossings vir kwellinge, bemoedig my in swaar tye en wys dat Hy my blydskap sien. Vir elkeen van my emosies is daar iets in die natuur, vir elke menselike kenmerk is daar ‘n weerspieëling in ‘n gogga of ‘n ding se gedrag.

Wanneer ek sulke prag aanskou het ek vrede in my hart en in y gemoed

‘n Paar maande gelede het ons ‘n veldbrand op die plaas gehad.  Ek deel graag sommige van die dinge wat ek ervaar uit die gebeurtenis.

Selfs in die eerste direkte oorblyfsels was hierdie brandende stomp ‘n liggie om my te wys waar om te loop in die duisternis, al was hy ‘n potensiële nagmerrie vir die volgende dag.

‘n Enkele brandende stomp word ‘n liggie in die duisternis, ‘n enkele gebaar van liefde ‘n simbool van hoop.

Aanvanklik het alles net na roet en as gelyk. Selfs die eerste dag na die brand al kon mens sien dat daar lewe is. Oppervlakkig dood, maar waar die wortels in vastigheid groei en net ‘n bietjie dou ontvang het, stoot die lewe onmiddellik uit. Die as verskaf nutriënte om hierdie nuwe groei te versterk.

Wanneer trauma plaasvind in jou lewe, dan voel mens gewoonlik soos hierdie prentjie. Vaal, grou, verlate, afgestomp van emosie, dood

Sommige plante en diere het ongelukkig gesterf, dis onafwendbaar met ‘n vuur so groot.

In een organisme se dood, is daar verskeie wat weer kan lewe. Elkeen van ons is maar deel van die ewige siklus van stof tot stof, net ons siele vind ‘n ewige huis by ons Vader.

Hulle het egter nie verniet gelewe nie want hulle nutriënte is nou weer beskikbaar vir die wat wel oorleef het, en nou in oordaad lote uitstoot soos hierdie Drolpeer.

Nou, maande daarna is die effek van die veldbrand nog duidelik te sien. Gedink ‘n stuk van jou het afgebreek in jou trauma? Kyk na hierdie klip en weet die afgebreekte stuk is op die lang duur besig om kleiner en kleiner te breek om uiteindelik te omvorm tot gronddeeltjies wat wanneer dit gemeng word met organiese bestanddele weer lewe gaan voortbring.

Selfs abiotiese komponente soos klippe word deur die natuur gebreek in kleiner en kleiner stukkies om later grond te vorm wat saam met dooie organiese materiaal vastigheid en nutriënte verskaf vir nuwe lewe

Voel jy dood in jou gemoed? Dink jy jou trauma is so groot dat alles in jou afgesterf en afgestomp is? Kyk dan na hierdie stukkie stomp en weet dat by ons Vader niks onmoontlik is nie.

Gedink alles is tot niet en jy gestroop van enige lewe? Nee, daar is altyd hoop. Altyd.

Waar daar hoop is, is daar lewe; en waar daar lewe is, is daar groei. En waar groei is, daar is God. Trauma, wonde en die letsels agterna is maar net deel van die ewige siklus van groei. Jy kan nie kies watter trauma met jou gaan gebeur nie, maar jy kan kies hoe jy dit gaan hanteer. Kies vandag om jou hand uit te steek en die pad te loop met Iemand wat jou gaan dra. Sy Hand is altyd uitgesteek na jou. Vat dit net.

2 Kor. 4:17 “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”

Vrede en liefde vir jou in die verwerking van jou eie traumas

Advertisements
Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: ,,, | 7 Kommentaar

Silhouette

Soms moet ‘n mens op die regte plek, op die regte tyd wees… Een so ‘n dag was Marina daar, maar sy het dit nie vir haarself gehou nie. Sy het met die vierwielmotorfiets huistoe gejaag en my en my kamera kom haal.

Ons het ‘n massiewe granietrots waar ons soms vir die son gaan koebaai sê. Dis ‘n vredevolle plek en die klip straal nog lank na die son onder is ‘n heerlike hitte uit. Toe sy daar kom het Frieda, ons geliefde kameelperdkoei, bo-op ons koebaaiklip gestaan.

Koebaai dag, hallo nag!

Die silhoutte van die gogga is teen ‘n ruit geneem en is vanaf die onderkant van die gogga. Interessant hoe die agtergrondkleur uitgekom het!

Chrysoperla

 

http://dailypost.wordpress.com/2012/10/19/weekly-photo-challenge-silhouette/

Categories: Plaaslewe, Weeklikse foto uitdaging | 16 Kommentaar

Ontdekkingsreis galore

Net gister het ek vir julle vertel wat my gelukkig maak. Na ons al ons aardse besittings verloor het, het ek net meer en meer besef dat ‘n mens jouself moet besig hou met dinge wat vir jou lekker is. Omdat reis nie nou deel uitmaak van my verwysingsraamwerk nie, ‘reis’ ek op my plaas. Ek ondersoek elke ding wat leef en beef en asem heef… en sommer elk en ieder ander ding ook.

Die wetenskaplike in my is maar altoos aan’t werk, dis deel van wie ek is. Ek is tans besig met ‘n stukkie navorsing oor ‘n sekere plantfamilie vir my biodiversiteitblog en het die hele middag in die veld spandeer op soek na drie spesifieke plantspesies. Dis maklik, want ek ken teen hierdie tyd elke klippie en gaatjie op die plaas en weet waar hulle groei, maar elkeen groei  in ‘n ander uithoek van die plaas! Die een wou ek kry in blom, ek stap al die afgelope weke elke naweek wat ek kan in afwagting. Ek het agt jaar laas een in blom gesien.  Saterdag was ek onsuksesvol, maar binne hierdie paar dae het dit begin blom! Ek het soveel keer al geleer dat mens op die regte tyd op die regte plek moet wees met baie plante. Die tweede een  weer moes ek die blaar se basis aan die agterkant gaan ondersoek in opdrag van ‘n wetenskaplike wat my help om hierdie plantfamilie korrek te identifiseer. Die derde een moes ek die blaar gaan breek om die binne-struktuur te sien.  Die stories op my ander blog word dus eers deeglik nagevors voordat ek ‘n plasing maak.

Dit beteken het ek hard ‘gewerk’ vandag. Dit was egter ‘n heeerlike reis en dit hou eers op later vanaand wanneer ek al my foto’s afgelaai en verwerk het, die nodige inligting aan die wetenskaplike gestuur het en my datarekords opgedateer het.

Wat ek éíntlik met julle wil deel is twee dinge. Die eerste het te doen met ‘n waarneming wat ek gemaak het. Ons sien baie ystervark aktiwiteit, maar baie min kere die rakkers self. Hulle loop mos in die nag. Ystervarke eet ‘n verskeidenheid voedsel en dit sluit onder andere knolle, bolle, wortels, bessies en bas in. Hulle hou baie van maroelas  is juis ook lief om die bolle uit te grou van die plante wat ek vandag gaan soek het.

Toe ek een so gat sien, het ek eers gedink dat hulle maar by die basis van die boom gegrou het opsoek na die knolle wat daar groei. Dit is ‘n jong Drolpeer (Dombeya rotundifolia) of Dikbas soos sommige hulle noem. ‘n Paar meter verder kry ek toe nog ‘n Drolpeer wat gevreet is… en ‘n paar meter verder nog een. My gevolgtrekking is dus dat hulle ook baie hou van Drolpeer wortels en bas!

Hulle het die boompie heeltemal ‘gering’, wat beteken dat hy gaan nou vrek.

Die tweede ding wat ek met julle wil deel is die inhoud van my reistas. Dis sommer om julle lekker te laat lag, maar die mense wat my persoonlik ken weet dat dit is hoe en wie ek is.

Eerstens ‘n foto van my reistas…

Vir perspektief het ek ‘n koppie bygesit

Buiten my kamera het ek die volgende daaruit gehaal en gerangskik op ‘n potskerf wat ek nou die dag gekry het en vandag aangesleep het huistoe:

Die potskerf was handbagasie, dit het nie in my reistas gepas nie en die langste ystervarkpen wat ek vandag gekry het

Eerstens is daar ‘n sakkie met my batterylaaier en ‘n spul kameradrade. Ek het vergeet om die draadjie uit die kantsakkie te haal wat die kamera aan my rekenaar koppel. Die handleiding lê plat heel onder in.

Dan is daar ‘n notaboekie en skryfgoed om notas te maak indien ek sou wou. Die notaboekie pas regop netjies in. Baie keer is dit die koördinate van ‘n plant wat ek vanaf my selfoon kry (wat ek vergeet het om uit die voorste sakkie van my reistas te haal vir die foto!) wat opgeteken word, of soveel treë vanaf hierdie klip of daai boom het ek dit of dat gevind. Onthou, soms neem ek meer as honderd foto’s op ‘n dag en mens moet agterna kan sin maak daarvan!

Op die boekie is my botteltjie Celestamine, want ek is mos allergies vir bye en perdebye. Dit word gedoen na ‘n lélike ondervinding met ‘n perdeby, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Treasures uit my reistas

Dan is daar al die ander goedjies. Die klippies is met ‘n rede verdeel met die ystervarkpenne.  Kom ek begin maar by die middelste ystervarkpenne. Regs van dit is mooi kwarts klippies en ‘n Achatina transvaalensis skulp. Ek hou mos van slakke, onthou! Net regs is ‘n Acacia sieberiana (Papierbas) peul. Dit ruik vir my so lekker en wanneer ek op ander plekke reis en ek haal my kamera uit dan ruik ek my huis.

Die rolletjie is ‘n opgerolde kameelperd sterthaar waarvan ek ‘n armbandjie wil maak met kraletjies daarby.

Links van die rolletjie is twee saadjies. Die groot bruinetjie kom uit die Papierbaspeul wat aan die agterkant oopgebreek het. Die klein saadjie het ek vandag ingegooi om te kom plant. Dis van Ledebouria ovatifolia. Die rooi saadjie het afgebreek van ‘n tros Lucky bean peule wat ek anderdag aangedra het huistoe.

Die laaste twee klippies is baie spesiaal. Dis nie net klippies nie, maar Steentydwerktuie. Net verlede Vrydag het ek ‘n geoloog hier gehad om my meer van die klipgesteentes te kom vertel, en hy sê die naaste Chert (uitspraak?) waarvan die swartetjie gemaak is, kom voor in die berge van Barberton meer as twintig kilometer hiervandaan. Vir Steentydperk is twintigkilometer ‘n dagreis vêr! Die wittetjie se kwarts kon moontlik van die plaas self gekom het, alhoewel onwaarskynlik.

Pylpunte uit die Steentydperk. Die klein kwarts enetjie is baie mooi afgewerk. Die swart Chert punt is haastig gemaak.

Nou is party goetertjies teruggepak in my reistas en party goetertjies het ‘n ander bêreplekkie gekry. Dis my geheim wat waar is!

Nou is ek skoon moeg vertel, ek was op vêr reise heen vandag…

Categories: Plaaslewe, Slakgedagtes, So doen Slakke dit | 5 Kommentaar

Waar my geluk lê

Wat maak my gelukkig? Dis maklik maar ook kompleks, want dit wat my gelukkig maak is ‘n omskrywing van my as persoon en die dinge waarmee ek myself besig hou.

  • Om te weet dat God my Vader is en dat Hy my behoed.
  • Klein dingetjies in die lewe – dit vat nie veel om my hart aan te raak nie. Toe ek ryk was het een van my sussies eenkeer gesê ek kan goud en diamante bekostig, maar ek behang my met vere en sade. Dis wie ek is. Eenvoudig. Sonder smuk. My liewe man weet, en wat vir iemand anders ‘n duur bos rose is, is vir my ‘n aanwysing om in ‘n sekere paadjie, agter ‘n sekere klip te gaan kyk dat hy daar ‘n klein pers blommetjie gesien het. Enetjie wat hy dink ek nog nie gesien het nie.
  • My familie – om my man en kinders by my te hê verskaf my eindelose vreugde.
  • ‘n Tweede kans – Om ‘n kleinkind te hê vir wie ek allerhande dingetjies kan leer wat ek vergeet het om vir my kinders te leer omdat ek altyd te besig was.
  • Om vry op my plaas te kan rondstap net wanneer ek wil – dis een van die heel lekkerste dinge. Hier ontdek ek wonderlike dinge.
  • Om met my hande te skep… en dit dan weg te gee. Ek het amper niks vir myself wat ek gemaak het nie. Nie net omdat dit vernietig is in die brand nie, maar omdat dit lekker is om te gee.
  • Om te skryf – as introvert is dit ‘n manier om my siening te lug oor alles en nog wat want ek hou nie daarvan om met mense te praat nie.
  • Om te kan observeer – Dis in my wese om dinge fýn uit te kyk. Dit geld vir mense en hulle gedrag, maar ook interaksie in die natuur. Elkeen en alles is met ‘n doel te skape, dis verskaf my eindelose ure van genot om interaksies te ondersoek. Om te probeer sin maak vir iets se bestaan en dis sluit my eie in. Daarom is dit vir my maklik om slegte dinge te verwerk. Ek sien elke gebeurtenis  in die groter legkaart van die lewe. Ek sien die roumateriaal wat God gebruik vir Sy klei, maar ek visualiseer ook die pragtige eindproduk.
  • Om te wees. Om te ruik. Om te sien. Om te voel. Om te lag. Om te huil. Om te ruik. Om kwaad te wees. Om te ervaar.

Dit maak van my MENS. Dis lekker om te is.

Toorts het my aangesit om te skryf wat my gelukkig maak. Nou stuur ek die stokkie aan vir Seegogga, Rovati en Amipapat.

http://dailypost.wordpress.com/2012/10/05/weekly-photo-challenge-happy/

Categories: Slakgedagtes, Weeklikse foto uitdaging | 3 Kommentaar

Molletjie

Molletjie, molletjie kom tog uit,

Sout en peper en boerbeskuit!

Kenmerkende holtetjie van ‘n mierleeularwe

Ken julle hierdie rympie? Ons het dit as kinders opgesê terwyl ons met ‘n grassie roer om die molletjies (mierleeularwes) uit hulle gaatjies te kry.

Molletjie, molletjie kom tog uit,
Sout en peper en boerbeskuit!

Teen die tyd wat mens by ‘boerbeskuit’ uitgekom het, was die molletjie gewoonlik op die oppervlak en is hulle in klewerige kinderhandjies van naderby beskou. Dit was groot pret om hulle weer terug te gooi en te sien hoe vinnig hulle so agteruit grawe om weer weg te kruip.

Uiteindelik, jou klein rakker!

Mooi van lelikgeid

Soms het ons miertjies gevang om te probeer kyk of die molletjie hulle gaan kom vang, maar daarmee was ek nooit suksesvol nie. Dalk was ek net te haastig…

Ek het nooit die rympie vir my kinders geleer nie. Dis vreeslik! Ma’s kan tog so besig raak met hul eie dinge dat hulle vergeet van vreeslike belangrike kinderopvoeding.

Maar ek sal onthou om my kleinkinders te leer wanneer hulle op die plaas gaan kom kuier. Ouma Plaas het al ‘n goggaboek wat wag in die kas want een van die dae gaan sewe week oue Zelmarietjie groot genoeg wees dat Oums dit vir haar kan lees…

Gaan lees gerus op my ander blog ‘n paar interessante feite oor mierleeus en diesulkes.

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | 16 Kommentaar

Myne

‘n Simpel, alledaagse voorwerpie, maar dis MYNE! Hoekom is dit so spesiaal dat dit ‘n storie verdien? Want hierdie naelvyltjie het ‘n spesiale storie om te vertel…

Die grootste rede vir sy spesiaalgeid is sy funksionaliteit en ek het in meer as dertig jaar nog nie sy gelyke gekry nie.Glo my, ek het in die afgelope jaar twee gekoop en hulle lê ongebruik in my laai.

Rondom standerd sewe rond was daar een naweek ‘n JV kamp by die kerk en ‘n groep van Pretoria van my suster se kerk het dit ook bygewoon. Oppad terug het my suster en haar man vir oulaas by ons huis aangekom, en die groep was saam.

Na hulle weg is het ek ‘n draai gaan maak by die aarbeibedding om te kyk of hulle darem vir ons ietsie oorgelos het. Daar vind ek toe hierdie klein, fyn vyltjie. Ek het hom mooi gewas en hom myne gemaak. My kleinsus het my verdink dat ek dit gesteel het, want sy het vroeër die dag ‘n meisiekind met hom gesien… maar ek het nie. Hy het seker uit haar sak geval toe sy gebuk het om ‘n aarbei te pluk.

Vir baie jare het dit diens gedoen. Later het die kinders hom ook ontdek, en ek het hom tekemale uit hulle badkamersakkies gaan konfiskeer.

En toe raak hy weg. Niemand kon onthou wie of waar hy laaste gebruik was nie.

Ongeveer vier jaar gelede het my wasmasjien opgepak en ons het ‘n nuwe gekoop. Die oue is na my swaer toe, hy het altyd ‘n gebruik vir een of ander part in ou goed. Een dag toe hy weer kom kuier het vertel hy my dat hy amper R70 se silwergeld uit die ou wasmasjien se binnegoed gekry het, en ‘n naelvyltjie wat so lekker handig is! Die walvis het vir Jona uitgespoeg…

Nou toe. Ek weet dis lelik om iets weg te gee en dan terug te vra. Maar ek het. Ek het vir hom die wasmasjien gegee, maar die naelvyltjie teruggevra.

Toe ons huis afgebrand het, was hy gelukkig in my badkamersakkie by my. Ongelukkig het hy in die chalet agtergebly toe dié afgebrand het vroeër hierdie jaar. Ek het ‘n nuwe een gekoop, maar hy lê ongebruik. Toe koop ek nog ene, maar dis steeds ‘n aaklige ding wat net té groot is vir behoorlik skoonmaak wanneer ek handwerk doen.

Gister het ek gaan krap in die as. En ja, ek het my naelvyltjie gekry. Die spieël se raam bokant die wasbak was sy bêreplek.

Oorblyfsels van die wasbak in die badkamer

Is daar enige hoop?

Lyk hy lelik? Ja. Gaan ek hom weggooi? Nee. Gaan ek hom gebruik? Natuurlik, wat vra jy nog! Dis dan myne…

Afgeskrop met swembadsuur en ‘n staalborsel is my spesiale naelvyltjie saam met twee groteske wit olifante

Not “Made in Ch…” maar Stainless steel tripple cut van Lifedge Sheffield Engeland.

 

Categories: Weeklikse foto uitdaging | 6 Kommentaar

Petrus Msiza

Jare gelede toe ons in Centurion gewoon het, het my man ‘n jong skoolseun in diens geneem om Saterdae in die tuin te help. Hy was omtrent so standerd sewe. Petrus Msiza. Sy glimlag was net tande waar jy kyk. Hy was altyd betyds, altyd vrolik en hardwerkend.

Op ‘n dag vra hy vir Roelf of hy nie dalk vir hom ‘n ekstra geldjie het nie, want hy wil graag op ‘n sokker toer gaan. Daardie aand het sy ma, Maria, gebel om te sê dankie vir die geld. Die eerste keer van baie. Ons het gehad om te gee, en omdat ons geweet het hy vat nie kanse nie, was dit net ‘n plesier.

Toe hy in standers nege was het hy een Saterdag met ‘n ander jongman daar aangekom, en gesê sy ma stuur hom vir ‘n rukkie weg na iewers ver, want in die skool waar hy was was daar te veel onluste en die kinders het nie geleer nie. Hy het baie mooi gevra dat ons sy werk vir hom moet hou, en daarom het hy ‘n plaasvervanger gebring.

Sy ma het daarop aangedring dat hy sy matriekjaar moet oordoen, aangesien sy punte nie na haar wense was nie. Ek het nooit self sy punte gesien nie, maar dit kon nie te sleg gewees het nie want hy is intelligent. Hy was toe al weer terug by die huis en naweke op sy tuin pos.

Petrus se groot wens was om ‘n polisieman te word. Ongelukkig vir hom was daar soveel rekrute dat hy elke keer nie die inname gemaak het nie. Hy het meer as een jaar probeer. Dit was vir hom ‘n baie groot teleurstelling en hy het gesukkel om werk te kry. Hy was ook bietjie stout (sy eie woorde) in matriek en uit die stoutigheid is ‘n klein seuntjie gebore. Die gevolg was dat hy moes ‘damage’ betaal.

So het hy toe nou maar in voltydse diens by die du Preez’s ingeklok. Op daardie stadium het Roelf al van die huis af gewerk vir sy programmeringsbesigheid. In af tydjies het hy aan ons en ons vriende se Land Rovers gepeuter. Natuurlik was Petrus ‘n baie gewillige leerling van alles wat Roelf hom wou wys. Sweis. Bou. Land Rovers regmaak.

Roelf het vir Petrus gedwing om sy bestuurslisensie te kry. Hy het hom net een dag ingelaai, ‘n afspraak gemaak vir die leerlinglisensie en die geld betaal. Ek het in die stad gewerk en dit was Pa se plig om die twee dogters rond te ry na al hulle aktiwiteite toe, ek het hulle weer opgetel wanneer ek van my werk af gekom het. Toe word dit Petrus se werk toe hy sy lisensie kry. Hy mag net met die een voertuig, ‘n ou Land Rover bakkie, gery het… soos ‘n koning in ‘n koets was hy agter daardie stuur, net tande waar jy kyk!

Sy damage is afbetaal en toe help ons weer met die lobola.

Ons finansies het ‘n dippie begin vang en dit het ook moeilik geraak om Petrus voltyds besig te hou. ‘n Stadserf het net soveel werk, jou voertuie en jou vrinne se voertuie breek net soveel keer en Petrus se gesin se eise was meer as wat ons kon bybring. Roelf het goeie kontakte gehad by die Land Rover agente en vertel toe vir een van sy vriende dat hy vir Petrus mooi opgelei het en vra of hy dit nie in sy hart sien om hom ‘n kans te gee in sy werkswinkel nie.

Dit was vir ons ‘n hartseer dag, want Petrus was teen daardie tyd al ‘n vriend. Hy en Roelf kon mekaar se siele vreeslik uittrek wanneer hulle gewerk het.  Toe my sus se kinders nie meer na die huis kon kyk wanneer ons met vakansie was nie, het Petrus dit gedoen. Baas was nie meer Baas nie, maar Madala (oom)

Sy nuwe werknemer het baie gou sy potensiaal gesien en omdat hy ‘n bestuurslisensie gehad het, was hy so bietjie verhewe bo die ander werkers. Hulle het hom daarvoor gehaat, en vir ‘n ruk was dit nie vir hom lekker by sy werk nie. Met tyd het alles uitgesorteer geraak en wanneer Roelf daar gekom het, was hy altyd net vol lag.

Toe trek ons plaas toe en verloor kontak.

Vandag het Roelf se kar gebreek en het hy daardie besigheid gebel om hom te kom insleep.

Dit was Petrus wat hom kom haal het. Ons Petrus. Hy ry sy eie Land Rover en het sy eie huis gekoop. Sy ‘stoutigheidjie’ is nou al amper klaar met skool en hy sê hy gaan sy seun laat leer by die Technikon. Dit gaan goed met hom. En dankie Madala dat jy vir my hierdie werk gekry het. Dankie Madala, dankie.

Een van die dae wanneer hy verlof kan vat, gaan hy vir ons kom kuier op die plaas. Ons sien uit na jou kuier Petrus Msiza.

Opdatering 11 Januarie 2015

Dis nou twee jaar later. Die kuier is uitgestel en uitgestel en sal nou nooit meer gebeur nie. Petrus se werkgewer het ons Vrydag laat weet dat hy Donderdag oorlede is in ‘n motorongeluk terwyl hy aan diens was. Hy het ‘n voertuig êrens gaan oplaai en ‘n petrol tenkwa se bestuurder het aan die slaap geraak agter die wiel. Petrus is op slag dood. In ‘n oogwink word ‘n goeie man se lewe is deel van die statistiek van die padsterftes in ons land.

Petrus Msiza – Ons gesin vuur 21 kanonskote vir jou en ons stap die dodemars in gelid.

Categories: Omgee | 8 Kommentaar

Blog at WordPress.com.