Monthly Archives: November 2011

Soesji

Gistermiddag sit Marina en vertel hoe lekker sy en haar vriende die vorige aand die einde van die eksamen gaan vier het met ‘n lekker soesji-ete , en Roelf beaam alles wat sy sê met sý vertellings van sy ge-etery saam met vriende Donderdagaand. Terstond besluit ek toe dat dit hoog tyd is dat ek ook moet proe hoe proe hierdie ryshappietjies. Met so min vissies in die gereg, klink dit toe heel veilig vir my migraine… En Ma het baie jare laas iets uit ‘n Chinese restaurant geëet… En Pa en dogter gaan gereeld bietjie uit en ek sit alleen op die plaas, en Ma wil ôk bietjie mooi lyk vir Pa vir ‘n slag.

Alles op die spyskaart klink te heerlik en hulle verduidelik elke keer in die fynste detail hoe elke item lyk en wat daarin is. Mens word ook glo gou versadig daarvan… Sussie verkies om hare in sojasous te doop, maar mens moet vra vir die soja sonder of met min sout. Pappa hou nie van die sojasous nie, en verkies dit nes dit kom. Met al die kennis om die tafel en die feit dat ons klein eters is,  besluit ons toe dat ons ‘n ‘Lover’s Platter for 2’ gaan bestel en as dit te min as dan kry ons nog. Mamma weet sy sal glad nie eers oorweeg om hare in die soja te dip nie, siende dat dit gif is vir haar lyf. Sy bestel toe ‘n groente ‘spring roll’ by net oor sy dit gewoonlik kan eet, en Pa en Sus elkeen ene met ‘n garnaaltjie in.

Die rolletjies kom toe met ‘n hemelse soetrissiesous en ek probeer maar die risiko verder beperk en sit my rolletjie maar net effentjies daarin. Baie effentjies. My rysrolletjies ook. Toe ek die derde piepklein stukkie gemmerverderf nadertrek uit die gemeenskaplike bord vermaan Sus: “Mammaaa, jy wéét jy word siek van gemmer…” Snip. “Ek weeeeet, dis net ‘n klein stukkie, en ek sal nie nog vat nie.”

Slaat daai bose gees my uit vir ‘n ses! Ek word vanoggend wakker met die moeder van alle migraines… Ek brul die brul van ‘n gekweste leeu en die suur en gal stoot tot in my neusholtes in en brand my rou. Strompel weer kamer toe en steek my kop weg vir die lig wat my aanval. Verval met rukke in die nagmerriewêreld van migraineslaap. Baken weer my gebied af met ‘n angswekkende gebrul. Op ‘n stadium deur die newels kom sê Roelf hy dink ek moet maar nog ‘n stel pille drink. Marina bring ‘n bietjie tee.

‘Koebaai, ek gaan ry.’ Genade! Dit beteken dis al twee uur, die tyd wat Roelf Pretoria toe ry. En ek lê nog steeds in my pajamas onder die kombers. ‘Ek moet nog kos maak en jou klere stryk’, huil ek. ‘Ek het vir my ‘n pizza gemaak en ek het my klere gestryk. Slaap maar verder.’

Hy is al by die deur toe hy terugroep: ‘Kyk op jou kamera, ek het vir jou ‘n blommetjie afgeneem.’ Liewe, liewe Roelf.

Ma het darem mooi gelyk vir Pa gisteraand, al het sy nie vandag vir hom kos gekook en sy klere gestryk nie…

Categories: Slakverdriet, Sommer maar net | Sleutelwoordw: | 9 Kommentaar

Haal die balk uit jou eie oog

Is daar duwweltjies wat steek onder jou voet se sagte plek? Ons almal het seker maar goetertjies in ons lewens wat ons pla, maar hoe en waar ons ontslae raak van daardie duwweltjies is wat saak maak in die ou lewe.

Nou die ander dag toe kyk ek op en sien hierdie pragtige oog in ‘n boom sommer neffens my ou chaletjie se deur.  Ek het hom al probeer afneem maar my kamera se zoom en die lig wou nog nooit saamwerk nie. Vroeër vanmiddag het ek uiteindelik ‘n leer gaan nadersleep en skuins geklou om die balk in my oog met julle te deel.  Dit maak nie saak waarmee ek besig is nie, ek vind altyd simboliek in goeters om my.

Haal eers die balk uit jou eie oog...

Wat my foto vir my sê: As jy die duwweltjies onder jou voet wil afvryf, doen dit op jou eie stoep en moenie anderman se werf bemors nie. Gun elke mens sy lewenspasietjie, al is dit hoe klein en jy gewoond aan die wye wêreld. Haal eers die balk uit jou eie oog voordat jy die splinters uit anderman se oog wil haal.

Categories: Slakgedagtes | 11 Kommentaar

Keuses

Gaan ek my wekker so bietjie paai vir nog tien minute se slaap? Watter skoene gaan ek by my nuwe pienk pantie aantrek? Dit is maar van die eerste keuses in my oggend wat die res van my dag beïnvloed…

… want kies ek om die wekker te lank te paai, dan is ek laat vir werk. Kies ek om dadelik op te staan, dan het ek baaaie tyd om allerhande dingetjies in te pas en dan is ek óók laat vir werk. Kry die idee? Ek is altyd laat vir werk… of liewer – ek wás altyd laat vir werk, want dit het maar net beteken dat ek ‘n groter keuse moes maak om ‘n spesifieke roetine te hê sodat ek betyds kan wees .

Op dieselfde beginsel werk ander keuses in ‘n mens se lewe ook maar. ‘n Mens maak ‘n keuse en jou lewe loop ‘n sekere pad. Dis nie altyd die regte pad, of ‘n maklike pad nie. Dan maak mens weer ‘n keuse om dit te probeer verander en die uiteinde is maar dieselfde as die eerste keuse. Dis dan hiér waar ‘n mens êrens moet besef dat jy oor die muur moet klim waarin jy jouself vasloop, want daar is nie ‘n pad deur die muur nie. En dít lyk gewoonlik soos ‘n onbegonne taak en dan stamp jy jou kop besimpeld – weer en weer en weer…

Daar is so baie groot keuses wat ons in ons gesin moes maak die afgelope paar jaar wat ons lewe elke dag raak.

Om finansiëel te oorleef moes ons die keuse maak dat Roelf in Pretoria werk en ek alleen op die plaas agterbly. Dis ons keuse om hard aan ons huwelik te werk in sulke moeilike omstandighede. Dis ons keuse om aan te gaan met ons lewens nadat ons huis afgebrand het. Dis ons keuse om nie toe te laat dat die lewe nou by ons verbygaan nie. Dis ons keuse om weer stokperdjies te hê en maar die geld op ander plekke af te knyp. Dis ons keuse om hard te studeer en nie te jol nie. Dis ons keuse om gelukkig te wees. Dis ons keuse…

Dis so hartverskeurend om te sien as mense na aan jou verkeerde keuses neem. Hartverskeurend as hulle weet dis verkeerde keuse maar dit nogtans neem. Hartverskeurend as hulle maar bereid is om die lewe se pakslae te vat, om die pad te loop van emosionele mishandeling, drank en dagga en wat ook nog.

 ‘n Keuse wat ek hierdie week gemaak het is om nie pa te staan vir ander na aan my se verkeerde keuses nie, maar ook om dit nie heeltyd voor hulle koppe te gooi nie. Hulle maar toe te laat om hulle keuses te lewe. Want maak nie saak watter kant toe nie, hulle keuse beïnvloed my lewe, en mý keuse oor hulle beïnvloed my gesin se lewe; maar my en my gesin se welstand is my prioriteit. Dis my keuse.

Eendag. Eendag moet ons elkeen verantwoording doen vir die keuses wat ons vandag en gister en die dag voor dit gemaak het.

“n Facebook vriend, Lourens Oosthuizen het in die week die volgende gesê

DOEN alles volgens die wil van God.

Doen ALLES volgens die wil van God.

Doen alles VOLGENS die wil van God.

Doen alles volgens DIE wil van God.

Doen alles volgens die WIL van God.

Doen alles volgens die wil VAN God.

Doen alles volgens die wil van GOD.

Net ek. Net jy. Niemand anders voor God nie. En daarom kan ek maar net bid – Vader, help my asseblief om te onthou om U te raadpleeg as ek ‘n keuse moet maak. Gee asseblief vir my die wysheid om te kan insien watter die regte paadjie is. En help my om die paadjie te loop as hy vol dorings is.

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 8 Kommentaar

Verleentheid oor my eie spelling

Verlede week het ek vir ‘n paar dae ‘n saamrygeleentheid gehad werk toe saam met ‘n kollega. Ek het hom vertel dat ek pewter doen, maar nie gespesifiseer watter tipe nie, en hy het aangeneem dat dit pewter gietwerk is.

Hy vra toe vir my Vrydag of ek nie asseblief vir sy dogter ‘n menorah sal maak nie. Soos ons toe praat kom ek toe agter dat hy gedog het ek doen gietwerk, en toe ek verduidelik dat ek eintlik ‘repoussé’ of te wel embossering doen, toe sê hy dis ook reg.

So kom ek toe by die huis en laataand toe dink ek dat ek solank prentjies op die internet sal begin soek. Ek het nie geweet hoe mens menorah spel nie, en spel dit toe maar soos mens dit sê en tik by Google search in “soos die skeermeslemmetjies pictures” (Ek wil dit nie spel nie, die search enjins tel sulke woorde op in mens se blog en dan kom daar allerhande besoeke met baie lelike soektogte!)

‘n Paar sekondes later toe blom my hele skerm vol van l…a…b…i…a m…i…n…o…r…a! My hele skerm vol! Roelf wou hom skeur toe ek hom hiervan vertel en hy het my nou al die hele naweek gespot, want hy weet hoe preuts ek is.

Hoe dankbaar is ek nie dat ek nie vir my manlike kollega gesê het om gou saam met my in te gaan op die internet en ‘n prentjie te kies nie!

Categories: Sommer maar net | 2 Kommentaar

Blog at WordPress.com.