Boesman

Ai ou Boesie. Waar begin ek om jou storie te vertel? Hoe verwoord ek hierdie diep hartseer wat ek oor jou voel? Seker maar by die begin, né!

IMG_2677

Boesman Staffie du Preez

Ons het nie gevra om jou te kry nie. Buurman Brian het op ‘n dag aangekom met die pragtigste baba staffiebrakkie en gevra of ons jou wil hê, hy wil jou graag vir Marina gee. Hy het jou as geskenk gekry maar wou nie regtig nog ‘n hond hê nie en kon nie nee sê vir sy vriend wat dit goed bedoel het nie. Ons almal was onmiddellik verlief!

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Wie kan nou NIE verlief raak op so ou gesiggie nie?

Dit was die ideale tyd vir ‘n nuwe hond. Ons swart Sokkies Staffie was oud en kruppel en moes vervang word. Hy het groot geword op ‘n lekker groot stadserf maar kon nie regtig die aanpassing maak as plaashond soos T-Rex Langbeen Jackie nie. Hy het hier op die plaas hondesiekte oorleef maar dit het hom erg geknou. Sy heupe het ook osteo artritis gehad en hy het swaar begin loop. Sy instink om ons teen gediertes soos wildebeeste en sebras te beskerm het hom egter nuwe energie gegee… Ongelukkig was sy aanvanklike aanloop dan nie genoeg om onder hulle hoewe uit te bly nie en het hy erg deurgeloop.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Ons het bitter min digitale fotos van Sokkies. Alles was harde kopiee wat in die brand omgekom het.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Boesman en T-Rex het nie einde gehad wanneer hulle begin speel het nie.

Op verskillende stadiums van Boesie se lewe was hy elkeen van ons se hond. Eerste was hy Marina se hond, want hy is vir haar gegee.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Lekker bederf saam met sy maatjie

Natuurlik het sy hom lekker bederf en baie met hom gespeel maar omdat sy in die skool was en tot laat gimnasitiek gedoen het, het Boesie vir Roelf as syne aanvaar. Saam met Roelf en ‘n werker was hy elke dag in die veld en dit was ‘n plesier om hom te sien skoenlappers bekruip wat hy dan uitgelate in die lug bespring het. Een dag het ek uit my maag vir hom gelag toe hy ‘n skoenlapper bekruip en daar skielik ‘n sprinkaan opvlieg… hy het hom boeglam geskrik en was skoon skaam daaroor.

Hy het van kleins af saam met Roelf en T-Rex op die kwadfiets gery en dit verskriklik geniet. Soms wanneer ons net uitgegaan het buite toe, het hy op die fiets gaan sit en wag. Sy lip het omtrent gesleep wanneer fietsry nie ons rede was vir buite wees nie en soms het hy sommer op die fiets gaan lê en dan volstrek geweier om af te klim.

IMG_4235

Die koning van die plaas… hy het net ‘n kroon en ‘n septer gekort…

Boesman se grootste, grootste vreugde was om agter ‘n bal aan te handloop. Toe T-Rex nog gelewe het, kon ons nie tennisballe gooi nie. Hy het die balle onderskep en in ‘n halfuur verlos van hul haredos en dan stukkend gebyt. Sy naam was nie verniet T-Rex nie! Ons het ‘n paar rooi laboratoriumproppe gehad wat bestand was teen sy tande en dit het lekker gehop as jy kon regkry om dit op die ronding te laat val. Een van Boesie se ander troetelname was gevolglik Ou Proppie… Hy het sy prop nie onder sy oë laat uitgaan nie en wanneer hy gerus of geslaap het, was sy prop langs sy kop. Teenaan sy bek. Erger as ‘n kind met ‘n dummy…

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Boesman Proppie du Preez. Ek het nog nooit ‘n hond met soveel emosies gesien soos my ou Boesie nie. Hierdie droefgeestigheid was oor ek nie sy prop vir hom wou gooi nie.

Toe mense betaal het om hier te kamp moes ons soms sy prop wegsteek, want Boesman het eenvoudig nie opgehou om sy prop te bring nie. En elkeen wil gooi. Sy voete het naderhand onder gebloei soos hy sy kussinkies deurskuur om te briek, maar bring het hy sy bal gebring. En as een persoon nie wil nie, dan gaan hy na die volgende een. Hy het die kampers baie geniet en hulle vir hom. Een het hom tot in sy slaapsak ingenooi op ‘n koue wintersnag. Na T-Rex se dood kon ek vir Boesman tennisballe gekoop. Nie Crazystore specials nie, hulle het binne twee dae middeldeur gebars soos Boesie hap, propperse tennisballe by Sportsmans Warehouse. Hy het hulle nooit opgespeel nie, hulle het net agterweë gebly in die veld.

Wanneer ons veld toe was, het Boesie sy prop of bal saamgedra. Partykeer wanneer hy dan uitasem geraak het, het hy die bal onder ‘n bos gelos en wanneer ons weer daar verby loop, dit gaan haal. Soms het hy bietjie vergeet waar hy dit gelos het, en dan het ons maande daarna weer die bal gekry. Ongelukkig het hy klippe ook gesien as balle en het hy het sy tande stomp gekou. Hy was stout met die klippe en het hulle in sy beddegoed weggesteek vir ons.

Boesman was erg lief vir water maar was glad nie ‘n goeie swemmer nie. Intendeel, hy kon amper glad nie swem nie. Na ‘n stappie in die veld het hy die waterbak gebruik om in af te koel, of op die swembadtrappies se vlak watertjies gaan lawe.

Boesman swem

Het jy gesê Boesman? Dis MENEER Boesman vir jou, dankie!

Ons het hom in die swembad probeer waterveilig maak, maar dit was nie baie doeltreffend nie. Hy was egter glad nie bang nie en ons moes hom ‘n paar keer uit die dam gaan red as hy agter iets aangehol het en die water skielik dieper was as wat hy verwag het en hy moes swem. Hy kon vir ‘n klein entjie swem maar het dan paniekerig geraak. As mens ‘n klip in die water gegooi het, het hy sy kop onder die water gedruk en gesoek tot hy hom kry. Wafferse duikboot gewees, die Boesie van ons, en dit net sodat ons weer die klip kan gooi, en hy hom weer kan gaan haal.

Boesie kop in water

Sy stert het net NOOIT ophou swaai wanneer hy besig was op sy klip te soek nie…

IMG_0059

Boesman Submarine du Preez, op soek na sy klip onder die water

Een dag het ek en Roelf gaan stap en vir hom ‘n stok in die water gegooi, taamlik vêr en waar hy ‘n entjie moes swem. Hy het volspoed ingestorm en was oppad uit toe ons iets sien wat baie, baie vinnig op hom afswem. Die water het sommer ‘n groot V gevorm… Ek was yskoud geskrik. Ons het geskree en geroep en Boesie wat dit vir ‘n slag reggekry het om te swem, doen dit soos ‘n koning, stok in die bek… totaal onbewus van die gevaar waarin hy verkeer… Roelf het afgehardloop teen die wal en ek het paniekbevange aanhou roep. ‘n Paar meter voor die krokkodil by hom was het sy voete grond geraak en het hy bewus geraak van my paniek. Ons bure boer met krokkodille en soms loop hulle bietjie weg… Dit was nie ‘n grote nie, maar groot genoeg dat hy vir Boesie sou kon beseer. Ek het nooit, ooit weer vir hom ‘n stok of ‘n klip in die dam gegooi nie. As klein krokkodilletjies kan wegloop, kan grotes ook.

T-Rex was ‘n opperste slangvanger en terwyl hy gelewe het, het Boesman nie ‘n beurt gekry nie. Toe T-Rex dood is, het ons vir Chokki gekry. Sy was ‘n regte basterbrak, maar geliefd. Sy en Boesman het mekaar opgespeel. Chokki het egter ontaard in ‘n rondloper en die klein Delilla het vir Boesman saamgevat op haar ekskapades na die bure se plaas. Êrens op haar roete was daar verseker ‘n spoegkobra wat hulle elke dag gaan tart, maar nie doodgemaak het nie. Boesie het naderhand sere onder sy oë ontwikkel van al die gif. Ons het die moeilike besluit geneem dat Chokki ‘n ander huis moet kry. Om vir Boesman gesond te kry het ons vir Chokki onder ‘n koelteboom vasgemaak vir ‘n paar dae. Dit was hartverskeurend om te doen. Meer hartverskeurend was Boesie wat langs haar gaan lê het en nie ‘n voet van haar sy versit het nie. En dan het hy gelê en haar gesiggie gelek. Niemand moet ooit vir my vertel diere het nie emosie nie. Ek het soveel keer rou emosie op Boesman se gesig gesien, en hierdie was een van daardie kere. Annerine en Christo het vir Chokki kom haal en so het sy in die familie gebly.

Toe kry ons vir Rusty en ons leer ‘n sy van Boesie wat ons nie geken het nie. Van dag een af het hy niks van Rusty gehou nie. Na hy hom die derde keer gegryp het, het Rusty ‘n nuwe huis gekry vir sy eie veiligheid. Waarom hy so renons in die hondjie gehad het, weet ek nie. Dit was nie omdat hy ‘n reuntjie was nie, want Rusty se opvolger was Toffie, en hy en Boesie was dik tjomme. Ou Toffie was ‘n pragtige hond met die oulikste frons op sy voorkop.

Teen díé tyd was Boesman nie meer Roelf se hond nie, maar myne. Roelf moes ter wille van ons finansiële oorlewing werk aanvaar vêr weg en was net naweke tuis. Na Marina ook uit die huis is het ek net die honde en Oreo Swartkat gehad as geselskap. Ons het baie, baie middae saam in die veld spandeer, Oreo inkluis.

Toe gebeur die brand, een bliksemstraal wat ons lewe onherroepelik verander het. Almal van ons. Toffie het sy lewe in die brand verloor, ‘n aaklige, aaklige gesig. Die trauma van vuur en donderweer het in Boesman nes geskop. Wanneer die weer net bietjie daarna gebrom het, het Boesie by my kom skuiling soek.

Honde is soos mense, hulle moet ook maar iemand hê. Pippie het in ons harte kom kruip en sy en Boesman was maatjies tot op sy einde. Hulle tweetjies saam het ‘n baie spesiale plek in my hart. Ons het baie, baie ure saam spandeer in die veld. Ek het in die chalet op die plaas gebly terwyl ons nuwe huis in aanbou was. Saans het ek gestudeer en na skool het ek Lantana uitgeroei, ‘n taak wat ek begin aanpak het nog voor die huis gebrand het. Die twee honde was maar altyd aan my sy. Ek met die spuitkan op my rug, en hulle wat rus van koelteboom tot koelteboom soos ek loop. Vir meer as ‘n jaar was dit my roetine, tot ‘n tweede donderslag ons verder teen die grond kom vasdruk het.

Die chalet wat gebrand het was in ‘n mate vir my meer traumaties as die huis. Miskien omdat ek daarop afgekom het. Miskien omdat mens dink goed gebeur nie vir ‘n tweede keer nie. Miskien sommer net.

Toe ek uit my kar geklim het, was Pippie dadelik by my. Haar stertjie kon nie vining genoeg waai nie en sy het letterlik in my arms gespring, oordadig dankbaar dat ek daar was. Boesman het op die enigste kolletjie gras wat nie gebrand het nie bly lê. ‘n Eilandjie bruin in ‘n stink, swart see. Omdat hy nie opgestaan het nie, het ek gedink hy het dalk seer gekry. Toe ek nader stap en my hand uitsteek na hom, het hy vir my geknor. My Boesie se gesig was vertrek met ‘n vreemde, vreemde uitdrukking en hy het sy tande vir my gewys. My hart wou in duisend stukke breek… Ek het in my kar gaan klim. Die histerie in my het ontplof en ek kon nie koherent praat toe ek vir Roelf bel nie. My huis was weg. Weer. En my hond knor vir my.

Toe ek kalmer was het ek weer uitgeklim. Boesie het nie meer geknor nie, hy het my toegelaat om hom te ondersoek en vas te hou, maar geweier om van daardie stukkie gras af te klim. En ek het hom gelos want ek het verstaan dat dit sy manier was om sy huis te probeer beskerm. Hy het daar gaan lê vir ‘n paar dae, elke keer wat ons onder toe was. Tot ons die gras weggevat het. 

IMG_5281

Waarom daardie stukkie van die grasdak nie gebrand het nie, weet ek nie.

Ek, Pietkat en Boesman het saam die eerste brand oorkom en saam met Pippie het ons die tweede trauma ook deurwerk. Ons was ‘n span. Ek sê nie dat dit erger vir my was, of is, as wat dit is vir een van my ander gesinslede nie. Maar hulle het weggery, en ek moes die realiteit van daardie verwoesting elke dag alleen in die oë staar. Elkeen van ons ervaar en verwerk dit op ons eie manier vanuit ons eie perspektief. My perspektief was ek en my honde en my kat.

Ek sal nooit, ooit ‘n nartjie kan eet sonder om na my Boesie te verlang nie. Hy was baie lief vir vrugte en waatlemoen en nartjies was sy gunsteling. Hy het goeie maniere gehad met kos, maar een ding wat hy uit my hand sou gryp, was ‘n naartjieskyfie. My broer het my herinner aan lietjies ook en toe onthou ek die pekanneute ook waaroor hy so stout was. Hannes vertel hoe hy jou kon aanstaar totdat jy vir hom ook ‘n  lietsjie afskil en dan mooitjies die pit uitspoeg. Wanneer die rooi-ivoorbessies ryp was, het ek, Boesie en Pippie kompetisie gehou om te sien wie kry die beste bessies. Hulle het altyd gewen, hulle ogies was te naby aan die grond en Boesie het soos ‘n varkie gesnork in sy soektog. Hierdie jaar sal dit net ek en Pipstert wees…Ek dink ek gaan bietjie huil…

IMG-20130105-00054

Varkies op soek na rooi-ivoorbessies tussen die gras en bossies. Lekker man… lekker!

Boesie was soos enige hond lief vir bene kou. Ongelukkig was sy kake so sterk dat hy nie net die kraakbeen afgekou het nie, maar die bene gekou en gesluk het. Een keer het hy te veel bene geëet en al die kalsium het in sy dermkanaal gekompakteer en hom verstop. Dit was so erg dat hy opgeneem moes word. Na meer as een enema sonder sukses het die arme veearts die goed uitgegrou. Arme Boesie. Hy was so ongemaklik, hy het dit maar toegelaat. Arme veearts…

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Hou ek van bene? Ek LOVE bene… sommer van ek ‘n klein brakkie was. Boesman Zebra-Beenvreter du Preez

Al ons honde het ‘n slang-blaf. Wanneer hulle op ‘n sekere manier blaf kan jy maar ‘n hardloop. Na T-Rex Slangvanger se afsterwe was die mantel op ou Boesie se skouers. Soos T-Rex het hy die slange agter die nek gegryp het, dan was dit twee keer se ruk en die arme slang was in drie stukke. Hy kon dit net nooit regkry om nie gespoeg te raak in die proses nie. Wanneer ons uitgegaan het vir Boesie se slang-blaf, sou hy eers die slang gryp wanneer ons daar was. Asof hy ons wou beskerm. Buiten een groen gespikkelde bosslang was al sy slagoffers Mosambiekse spoegkobras. Seker so twee jaar terug hoor ek Boesie blaf sy slang-blaf reg by die voorstoep. Ek hol toe om… ‘n Monster mamba van tussen drie en drie en ‘n half meter lê met haar gesig reg op Boesman se gesigvlak. En hy is beserk en sy kriewel haar lyf maar haar kop sekuur en doodstil op Boesie gerig. Ek was naar van skrik en het geweet as ek of Boesie één verkeerde beweging maak is hy bokveld toe. En dalk ek ook, sou ek nader gaan. Ek het hom geroep en geskree soos nooit tevore nie… Toe hy sy aandag vir ‘n split sekond op my rig het die slang afgesak en BAIE vinng begin wegseil. Ek het hom aanhou roep om na my toe te kom en uit die hoek van my oog die monstermamma dopgehou om seker te wees ons is buite gevaar. Ek word nie sommer bang nie, maar daardie dag was ek bang. Twee dinge van daardie dag sal my altyd bybly… Boesman het nie die slang gegryp nie. Hy het op een of ander manier geweet dit is nie die dag vir aanval nie. Die ander een is dat die slang nie na Boesman gepik het nie. Sy het nie haar oë van hom weggevat terwyl hy sovir haar geblaf het nie, maar sy het hom nie gebyt nie. Dit was nie die dag van doodgaan vir een van hulle nie. Ook nie vir my nie. En die potensiaal was daar vir al drie van ons.

Boesman het groot geword met ons wat boogskiet. Hy was nog altyd my getrouste oefenmaat. Toe hy jonger was het hy saamgestap wanneer ons gaan pyle trek en wanneer ons weer begin skiet, kon jy net sê “agter”, dan het hy agter ons inbeweeg om nie gevaar te loop om voor ‘n pyl in te loop nie. Later toe die ouderdom hom nou begin inhaal het, het hy net by my gelê, vandat ek begin skiet totdat ek klaar was. Tot op die einde.

20170109_162816[1]

Wanneer ek oefen, kom al die diere om my te ondersteun. Boesie het altyd gebly tot die bittereinde. Wanneer die deur oopmaak met my boog in die hand, het hy gaan wag vir my

Die donderweer trauma het nooit weer vir Boesie gelos nie. Elke reënseisoen het dit net erger en erger geword. Sy kop het die laaste tyd heeltemal uitgehaak wanneer die weer begin brom het. Hy het eenkeer by my studeerkamer se venster wat oopgestaan het ingekom net na ons die nuwe huis gebou het. Van toe af het hy met die geringste brom of drie druppels reën daarheen gegaan en met alles waartoe hy instaat is daar probeer inkom. Al was die venster toe. Al was hy in die beskutting van die garage. Ek het menige keer in gietende reën uitgegaan en hom soos ‘n baba daar gaan wegdra sodat hy homself nie kan beseer nie en sodat hy voor my bed kon slaap.

Boesie was twaalf jaar oud hierdie jaar, en ouderdom is maar ‘n nare, nare ding. Hy was nou al vir ‘n geruime tyd op kortisoon vir sy seer heupe, hy het begin velkankers kry en was stokdoof. Sy lewenskwaliteit was nog so dat ons hom kon behandel, en nie uitsit nie.

Ongelukkig is ‘n mens nie altyd by die huis wanneer dit begin reën nie. Vroeër die jaar het ek een dag by die huis gekom na ‘n reënbui terwyl ek by die werk was. Boesie was in die huis en ek het gedink Emelina het hom ingelaat. Sy het nie… Toe dit ‘n volgende keer reën het ek hom gevang terwyl hy by die kombuisvenster tussen die diefwering probeer inwriemel. En dit regkry voor ek die deur kon oopmaak. Hy het basies ingeval en die impak was reg op sy elmboog. Sy oë was dof van pyn en verder het hy nie ‘n geluid gemaak nie. Ek het hom dadelik veearts toe geneem vir plate. Dit het gewys dat die elmboog gekraak is, dat hy erg osteo-artritis het en dat sy beendigthed baie laag is. Na ‘n paar dae se pynbehandeling was hy weer sy ou self.

Die laaste paar maande het hy die gesinsirkel voltooi deur Annerine se hond te word. Daar is hy lekker bederf met die kinders se oorskietkossies en het hy in die huis geslaap. Ek het maar sy blikke sagte kos afgestuur soontoe, want die ou man se tande was stomp-af van al die klippe kou.

Ons wou so graag ‘n kind van Boesie hê en kon nooit iemand kry wat ‘n teefhond het wat bereid was dat hy haar dek nie. Toe kry ons maar vir Zena. Sy was een keer op hitte en dit het gelyk asof sy dragtig is, maar dit was toe ‘n skynswangerskap. Boesie was seker klaar steriel. Dis ook maar al wat hy in haar belang gestel het. Sy wil nog speel en Boesie nie. Sy het hom vreeslik geirriteer as sy so hap-hap en njaf aan hom om sy aandag te probeer kry. Dan het hy so skril blaffie vir haar gegee en sy gesig het gesê ‘Ag los my tog net uit jou simpel ding!’.

Ek sukkel om die laaste stuk geskryf te kry. Ek begin, en dan vee ek uit. Dan probeer ek weer, maar dan huil ek. Want dit is erger as swaar vir my. Dit wat gebeur het, breek my hart…

‘n Paar weke gelede is ons genooi vir ‘n potjie by vriende. Roelf was reeds daar en ek en Annerine sou later kom. Wanneer ons die huis se deur oopmaak probeer al wat ‘n hond is hulle luck. Pippie wil só graag ‘n huishondjie wees. Boesie val gewoonlik op die vloer neer met ‘n sug en verseg om op te staan. Zena weer, wil sommer net deurhol en kyk of daar nie iets is wat sy kan gryp om af te sluk voor iemand haar sien nie. Ons het hulle uitgejaag en Zena het vir Boesie geterg, hy het genjaf en hulle is uit.

En toe gebeur dit. Drie tree na ek begin ry het. Boesie moes in daai oomblik gaan lê het en nie besef het ek ry nie. As sy gesig weggedraai was kon hy nie weet nie, want hy kon nie hoor nie. Sy oë was dof en verwilderd van pyn. Ek wat gewoonlik kalm kan bly in ‘n noodsituasie, was nie. Ekself was verwilderd van skok. Annerine het oorgeneem. My probeer kalmeer. Vir Boesie pynpille fyngemaak en laat oplek. Dit was naweek en Marina het nie selfoonopvangs gehad nie.

Toe sy kon kom het ek Boesie se arm vasgehou sodat sy ‘n kateter in sy aar kon sit. Sy was so professioneel met hom. Sy het vir my gesê sy hart gaan eers vinniger klop, maar ek het dit reeds gevoel. Toe al swakker en swakker tot dit stop. Ons het by hom gesit. Net ‘n laaste bietjie by hom gewees. Roelf het ons hond met die grootste liefde opgetel en buite toe gevat. Met ligwordtyd het hy saggies opgestaan en hom by T-Rex gaan bêre.

Party honde is troeteldiere. Boesie, jy was familie en my hart is rou oor jou. Oor dit ek was. Dis nie hoe ek vir vir jou sou wou hê nie. Ek is so, so jammer. Mag daar ‘n oneidige aantal tennisballe hop vir jou waar jy nou is, en mag jy en T-Rex uitgelate agter die skoenlappers en sprinkane aan baljaar. Dra my groete oor aan Sokkies en ou Toffe. Blaf maar vir Pietkat, dis OK , jy mag nou maar. Gee vir Chokki ‘n soen en tart maar die slange, ek dink nie hulle kan spoeg in die hemel nie.

Tot weersiens my ou maat.

Boesman

So wil ek jou onthou – in jou fleur en altyd op aandag en gereed om jou bal te jaag.

Advertisements
Categories: Omgee, Plaaslewe, Slakverdriet | 5 Kommentaar

Uil en kuiken plaasdingerasies

Die du Preez’tjies het ‘n week of so beleef waarin kuikens en uile meer as een maal iemand se dag óf gemaak het, óf iemand se seepborreltjie gebars het.

In ons ou huis se garage het op ‘n stadium Nonnetjiesuile gewoon.  Ek het hulle skril roep egter baie lanklaas gehoor. Meer algemeen is Gevlekte ooruile wat hoe-hooee deur die nag. Die afgelope twee weke al hang hier twee om die huis rond en het ons ook al gewoond geraak aan hulle ander geluid. My hoenders wei minder as tien tree vanwaar ons hulle sien en nog nooit het ‘n kuiken verdwyn nie.

Enige iemand wat al ‘n uil van baie naby gesien het sal kan beaam dat geen foto reg laat geskiet aan daai oë nie… Gevlekte ooruile het die mooiste, mooiste geel oë wat so helder is, dit lyk of dit dwarsdeur jou kan kyk.

Die eerste keer wat ek dit gesien het was toe Marina ‘n jong uil hier kom vrylaat het nadat dit behandel was in ‘n veeartpraktyk waar sy praktiese werk gedoen het.  Ek was verras met hoe gemaklik sy was om ‘n wilde voël met daai vreeslike koue te hanteer! En ook verras hoe ‘n wilde voël so ‘mak’ kan wees… Hy het nie één keer enige teëstand gebied teen enige hantering nie en ook nie met my wat om hom kloek met my kamera nie. Hy het ons net deurgeboor met daai kyk!

Die tweede keer was dit ‘n nog jonger een wat in die garage op die vloer kom skuil het. Dit het nie gelyk of hy al kon vlieg nie, hy het geskarrel. Ons het hom in die bos agter die huis gaan neersit omdat ons bang was die honde kry hom beet. 

Ook hy het geen teenstand gebied nie, so klein bietjie geblaas, maar dit was al. Die volgende dag was hy terug en die honde het hom ontdek. Gelukkig het ek die geblaas  en geblaf gehoor… Ek het die mamma hoor roep en hom toe in Roelf se werkskamer toegemaak vir die dag en die aand het ek die venster oopgelos sodat die mamma vir hom kon kos bring. In die nag het ek weer die mamma hoor roep. Wel, hy kón toe vlieg, want die volgende oggend was hy weg. Vir ‘n hele ruk het ons hulle om die huis gewaar.

As kind het ons altyd hoenders gehad. Hokhoenders.  Een van ons takies was om die eiers uit te haal. Op enige gegewe dag was dit nie ‘n probleem nie, maar wanneer dit gereën het… Nou ja wel, hoenderpoep en reën is nie ‘n kind se speelmaat nie! Ons moes ook die vere uittrek wanneer my ma geslag het. Daardie nathoenderreuk is vasge-ets in die diepste bêreplekke van my brein. Vir daardie redes het ek gesê ek wil nie hoenders op die plaas aanhou. Nooit. 

Ek het toe nou na veertien jaar op die plaas besluit ek gaan tog maar die hoenderding doen. Ek het hulle drie dae in ‘n hok gehad en toe die deur oopgemaak… Die eerste paar weke het hulle saans hok toe gekom, maar toe besluit werfhoenders slaap in bome… so al om die hok en party bo-op die hok, maar nie binne nie. Ons geniet die vars plaaseiers en die kleintjies wat nooit wou eiers eet nie, geniet nou Ouma se eiertjies nadat hulle saam met my in die bos gaan eiers uithaal het en dadelik help klits het om roereiers te maak. Ek bederf my hoenders elke dag met ‘n bakkie mielies al kry hulle genoeg om te eet buite. Die kleintjies geniet dit natuurlik vreeslik om dit te strooi… as ek nie keer nie, gooi hulle ‘n week se rantsoen uit in een dag!

Die probleem met werfhoenders is dat die henne geheime plekkies soek om te lê en soms kry ek nie die nesse nie. Soms kry ek dit reg om hulle skelmpies te agtervolg en soms nie. Dan sien ek maar net een verdwyn en kom eet af en toe en verskyn dan na drie weke met ‘n swetterjoel donsies. So is daar toe nou weer ‘n hen wat weg broei en een dag so amper twee weke terug hoor ek iets bo-op my werkskamer se plafon. Dis oop van die garage se kant af vir pakplek vir Roelf. Sowaar toe ek omstap garage toe hoor ek ‘n gepiep! 

‘n Hen met pas uitgebroeide kuikens is ‘n tierwyfie soos min! Snawels en pote is uitstekende wapens teen kuikendiewe… Tussen haar en fyntrap op die balke was dit ‘n taak en ‘n half. Gelukkig het Annerine kom help met ‘n kombers om oor haar en die kuikens te gooi en ek het op die leer gestaan om die mandjie met kuikens aan te vat.  Veertien bondeltjies dons…

Drie weke tevore het ‘n ander hen twaalf kuikens gehad. Dit het nou my kuiken totaal gebring op ses en twintig, ‘n pragtige gesig om die spulletjie saam te sien skrop.

Skoolvakansies beteken vir my tyd om aan my handwerk te spandeer en ek het lekker glas gesmelt. Onder andere het ek ‘n paar uiltjies gemaak.

In my badkamer hang ‘n loodglasuiltjie van ‘n vorige vakansie se werk en in die lapa ‘n pottery uil met ‘n stukkende tak van meer as twintig jaar terug.

Vroeër hierdie week het iemand weer vir Marina ‘n jong Gevlekte ooruil gebring met ‘n beseerde vlerk. Sy sê as mens hulle op hul rug laat lê is hulle so mak soos ‘n hoender… Verseker het sy nog nie ‘n hoender gevang nie… Ek het, en dit was wild! 

Sy het x-strale geneem en gevind die radius en ulna is nie net gebreek, maar ook verplaas. 

Dis nie iets wat sommer self mooi sal aangroei nie, ‘n operasie met tydelike sjirurgiese penne is al wat sy redding sou wees. Sy werk tans vir die staat en daar is nie geld vir sulke dinge nie. Sy het vir die penne uit haar eie sak betaal en ‘n kollega wat spesialiseer in voëls het haar geleer om die prosedure te doen. 

Sy het voor die prosedure gevra of hy in my hoenderhok kan kom aansterk aangesien my hoenders nou buite slaap, maar hy sterk nou aan by ‘n gespesialiseerde uilrehabilitasie fasiliteit totdat hulle weer die penne verwyder. Ook maar goed want ek het nou weer my hok nodig…

Henne met kuikens slaap op die grond en nie in die bome soos ongebonde geveerdes nie. Die dag voor eergister het ons ontdek mammahen van die kleintjies en ‘n nege van die groot kuikens het in die nag verdwyn, sonder dat die honde vir ‘n dierasie geblaf het. Ek kon hulle nie gevang kry nie en hulle moes ‘n nag alleen trotseer. Groot probleem… die volgende oggend naa die eerste wegraap is die kuikens nóg minder, met net die drie grotes en vier van die kleintjies oor. Groot skade!

Ons kry nie vere nie, ook nie bloed of derms nie. Niks. 

Al wat ons kon kry gister is twee uitgevrete uilkuikens bo-op die watertenk… 

Of hulle ouers die kuikenwegrapers is weet ek nie, want die ander hoenders slaap in die boom reg langs die boom, sonder angstige kekkels en kraaie… En die kuikens wei daar ongestoord. Dit was ‘n proses om hulle te vang. Hulle is nou so mensverskriklik toe ek gaan kos gee hol hulle in die diepste donker hoekie in…

Hoe-hooee… my kinders moet eet…

Kekkelekê… is my kinders dan die kos?

So is die ou lewe nè… 

Categories: Familie, Omgee, Plaaslewe, Sommer maar net | 2 Kommentaar

‘n Glasie wyn vir die pyn

Iemand wat van die traumas in my lewe ken vra vanoggend vir my hoe ek ‘n sekere situasie hanteer. Sug. Met moeite, sê ek vir hom… met moeite. Kry ek enige berading? Nee. Praat ek darem met iemand? Nee, ek bou ‘n boks om myself. Dink jy dis gesond? Nee, dis gif vir my bestaan. Wil jy ‘n nommer hê om met iemand te praat? Ek sal daaroor dink. Ek het klaar gedink. Ek praat mos nou met jou. Ek praat mos maar altyd net met jou. Luister dan.

Trauma is nie iets wat jy kies om te gebeur nie. Dit kies jou uit tussen die skares en miljoene rondom jou. Dit storm op jou af en val op jou neer wanneer jy dit die minste verwag. Dit verniel jou tot op die grond en los die bloederige gemors net daar. Dan is dit maar jou eie keuse of jy toelaat dat trauma sy besem gaan haal en die gemors opmop, óf jy kan die keuse maak om op te steier, pleisters op te plak en aan te gaan tot ‘n volgende geveg. As jy gelukkig is, word die wonde gesond en net littekens wys dat daar eens ‘n bose sweer was.

Partykeer veg mens vir almal om te sien. Maar partykeer kerf trauma die binnekamers van ‘n mens se hart met ‘n stomp mes, daar waar net jy weet van die bloed wat mors.

Niemand kan onaageraak wees na trauma nie. Jy kom nie daaroor nie. Jy werk deur dit. Hoe harder jy werk, hoe gouer sien jy weer die son.

Dis nou amper sewe jaar na ons eerste huis afgebrand het. Weerlig vul my steeds met angs. Die reuk van gebrande gras trek in my siel in en laat my asem snak. My hart pyn krampagtig wanneer ek dink aan alles wat was.

Stadig, stadig het ons weer ons lewe begin bou. Mens moet besluit of jy weer sekere dinge gaan doen en watter gaan jy los. Wanneer jy in die winkel staan en ‘n mooi rok sien, dan neem jy die besluit om dit te koop, of dit te los en eerder ‘n stuk pewter te koop of ‘n stuk glas. Van die klere wat ek dra is steeds dié uit liefdadigheid se kas, dit maak my bas toe en ek gebruik eerder geld vir my stokperdjies wat in elk geval dien as sielkundige en berading vir my brose gemoed.

Wanneer trauma jou in die openbaar aanvat, is dit so maklik om in die openbaar terug te veg. Mense weet daarvan en steek hande uit met hulp. Ons het baie daarvan gekry en ons kan nie genoeg dankbaar wees vir elkeen se bydrae nie. Geld en klere, huisgoed en kos. Ore wat geluister het. Hande wat vasgedruk het. Trane wat afgevee is. Hulp om ‘n nuwe huis te bou.

Dink aan jou lewe as ‘n tros druiwe met groot ovaalvormige pers korrels vol doudruppels wat skitter in die son. Word daardie tros druiwe gepars, dan verander dit in wyn. Word dit net so verslind, verskaf dit energie. Word dit in die son gegooi, dan word dit heerlike suikersoet rosyntjies.

Maar alles het perke. Wyn kan suur word. Te veel vars druiwe kan jou suikervlak nadelig affekteer. Rosyntjies kan te droog word. Maar vir alles is daar ‘n sprakeltjie hoop. Suur wyn kan ons in ons kos gooi. Vir ‘n rosyntjie is selfs die kleinste doudruppeltjies hoop op rehidrasie, maar dit sal nooit, ooit weer plomp en sappig wees nie. Nóóit.

Jy alleen kan nie jou druiwetros tot sy reg laat kom nie. Laat toe dat die Wynmeester die proses beheer vir ‘n smaakvolle produk. Verslind die truiwetros dat die sap straaltjies langs jou mondhoeke maak. Eet die rosyntjies terwyl dit plomp en sappig is. LEWE jou lewe. Gebruik elke oomblik om iets te doen waarvan jy hou. Jy weet nóóit of dit van jou weggeruk gaan word nie. Niks gaan jou daarop kan voorberei nie. Niks.

En as trauma met vuilspel jou in die privaatheid van jou binnekamers onkant betrap, wanneer die druiwetros gepluk en in die woestyn gegooi word en jou laat met ‘n gebroke hart, ‘n rosyntjie wat vir eeue in die woestyn lê en dessikateer,  verskrompel tot amper niks, dan kan jy net op jou knieë neerval en bid.

Cheers – drink saam met my ‘n glasie wyn op die lewe!

Categories: Omgee, Slakgedagtes | Sleutelwoordw: , | 4 Kommentaar

Hoekstene

Op Vrydag 21 April 2017 is oom Jan uit my kinderjare ter ruste gelê. Begrawe. Dood. Hartseer. Trane. Onthou. Soveel emosies, soveel gedagtes wat deur my kop maal oor hierdie verlies. Dit is nie net die persoon nie, maar dis die verlies van die laaste boetie van ‘n familie wat gehelp het om my te vorm in die mens wat ek vandag is, wat my trane laat stroom.

Binne loopafstand van ons het ‘n gesin gewoon – Ou oom Faan, tant Heilie, ooms Wies, Jan en Chris. Hulle broers Bert, Giel en Faan het op omliggende plase in die omgewing gewoon. Wat uniek was, is die feit dat slegs oom Bert en Giel getroud was in my kleindogtertjie-tyd. Oom Faan het saam met ou oom Faan se suster Kleintan gewoon om haar, oujongnooi, op te pas.

Hierdie mense was eenvoudige, doodgewone Boeremense. Uiters konserwatief. Hardwerkend. Eerlik. Godvresend. Bemind. Gelief. Elkeen is op sy eie manier in my gedagtes vasgeëts, prentjies verewig in die neurons van my brein.

Van ou oom Faan onthou ek maar min, net sy ore. Ek kon my verkyk aan die langste ore wat ek nog ooit aan ‘n mens gesien het, met oumens oorhare wat baldadig oral was. Of hierdie beeld die werklikheid was weet ek nie, dis wat ek kan herroep uit lankal se gedagtes.

Nie een van die plase rondom ons het elektriese krag gehad nie. Almal van ons het gefunksioneer met koolstowe, parafienlampe, kerse en natuurlik kleinhuisies en enamel kamerpotte vir die nag.

Die reuk van hulle huis is ingeprent as koffie, opregte boeretroos wat self gemaal is. Tant Heilie het vandat ek kan onthou, tot met haar dood, net gesit. Haar plekkie was langs haar koolstoof, waarop die pot moerkoffie altyd geprut het, en altyd ‘n vlieëplakkie in die hand. Porseleinkoppies is dalk uitgehaal vir dominee met huisbesoek, maar enige iemand anders het ‘n blikbeker gekry. Kinders mag ook koffie gekry het, en ek onthou die vuurwarm blikbeker met gifsterk koffie, gewoonlik sonder melk en meestal ook sonder suiker. En ons het beurte gemaak om die koppie te gebruik.

Die tante het nie gesit van luigeid nie. Sy het ‘n been gehad… Wat haar been makeer het, weet ek nie, ek vermoed dit moes iets soos sellulitis sere gewees het, maar wat ook al dit was, dit was pynlik. Haar beplooide gesiggie het min gelag, ek het baie trane gesien wat sommer net geloop het, veral wanneer sy ‘n nuwe lappie om die been gedraai het, en ons mag nooit gekyk het nie. Sy het erg kifose gehad en het net lang swart rokke gedra en elke dag sykouse wat sy in rolletjies kon afrol sodat die lappie vervang kon word. Haar lang, rêrig baie lang, dun grys haartjies het sy daar voor die stoof gesit en droogmaak wanneer sy dit gewas het. Wanneer dit droog was het sy dit stadig uitgekam, gevleg en dan in ‘n bollatjie gemaak. So… stel jou nou voor hierdie gryshaar boggelrug tantetjie in swart, wat wanneer sy wel gelag het, ‘n stel slegte tande ontbloot het. Dis die prentjie wat in ons kinderboeke voorgehou is as ‘n heks… maar sy was nie, sy was tant Heilie.

Van kleintyd af het ons kinders maar tydig en ontydig daar gaan draai, saam of sommer alleen. En elkeen van ons het ‘n ander ervaring beleef. Van die sussies is al deur die ooms geleer bestuur toe hulle nog in die laerskool was. Ek het dit nooit eers geweet nie, ek het dit eers gehoor by grootmens nabetragtings van ons kinderjare. Nie een van die ooms het dit opgehaal wanneer ek daar was nie, en nie een het aangebied om my te leer nie. Wat die rede is weet ek nie en ek breek ook nie my kop daaroor nie. Miskien was my hoenderpoepgrootte dalk die bepalende faktor, of dalk was hulle bang ek klik, want ek het nogal knoppies agter my vlerkies gehad waar die engelvlerkies wou bult. Die sussies is tot toegelaat om die pad Palmietfontein, die plaas waar hulle beeste was, toe te ry met die ooms se Datsun bakkie.

Selfs as tiener het ek nog daar gaan draai. Op ‘n dag het tant Heilie met trane vir my vertel hoe lief sy vir blomme is. En dat sy nooit meer blomme in die huis het nie, want tant Bettie van oom Bert wat altyd vir haar blomme gebring het, kom amper nooit meer daar nie. Haar verlange na ietsie moois was voelbaar en ek het gesluk aan my eie trane. Toe vertel sy my dat daar blomme in die tuin is, ek moet dalk net gaan kyk.  Ek kon my ore nie glo nie. Blomme in daardie dorre stukkie tuin? Ewe ongelowig stap ek toe uit na waar sy beduie en sowaar… Teen ‘n draad naby die dam het ‘n rankrosie baldadig pienk gebloos en ‘n paar sukkelende rose het verkramp ‘n blommetjie gestoot. Al is rankrosies nie plukblomme nie, het ek dit tog gepluk en in ‘n vasie gaan sit. Ek wonder  of hulle tot die aand gehou het, maar dit was haar eie eie blomme en het haar gelukkig gemaak. As ek kon teruggaan in tyd sou ek vandag vir haar die grootste bos rose vat wat ek kan bekostig.

Van die boeties het net boetie Bert soos hy genoem is, kinders gehad. Hulle was baie ouer as ek en ons het hulle maar net gesien wanneer daar ‘n verjaardag was en ons en die boeties dit gevier het. Daar is net een gebeurtenis wat vasgehaak het in my menswees. Dis nie onthou nie, dis vashaak. Ek was seker so vyf jaar oud en sussie Teunet het geval en gesit en huil. Toe storm een van oom Bert se dogters op my af en vra hoekom troos ek nie my sussie nie. Ek was lam geskrik want ek het nie geweet wat beteken die woord troos nie… Sy moes seker my verwarde gesiggie gesien het en  verduidelik toe as iemand huil, moet mens sê jy is jammer dat hulle hartseer is en hulle ‘n drukkie gee. Ek was ontsteld dat sy dink ek gee nie om nie. Natuurlik het ek vir my sussie omgegee… maar in ons huis het mens klaar gehuil en dan opgestaan en aangegaan. Nie drukkies en jammer en sulke goed nie. Jy tjank klaar en dan staan jy op.

Oom Giel was getroud met tant Annetjie. Sy was net ‘n ou gesie… sy was deurskynend bleek, maer en vir my ‘n patetiese figuurtjie. Sy is toe vroeg dood aan haar hart en oom Giel het weer getrou met ‘n tannie Sarie wat ek nooit geken het nie. Hy is kinderloos en die enigste wat nog leef. Op agt en tagtig rook hy glo baie, is gesond en helder van gees.

Oom Wies. Liewe, liewe oom Wies. Hoe pyn my hart nou oor verlang na Oom. Plooie het diep spore oor sy gesig gekerf. Hy was verskriklik skaam en inkennig, veral wanneer daar enige vroumense in die geselskap was. Dit was hy wat altyd vir ons koffie gegee het. Wanneer daar melk was, het hy die bekertjie lou melk uit die spens gaan haal, en ek hoor die rinkel van die kraletjiedoilie teen die metaal melkbeker soos hy onbeholpe om die hoek van die tafel kom.

Al het oom Faan elders in die omgewing gebly om die oujongnooi tante op te pas, was hy byna elke dag maar by die ander boeties. Van almal was hy seker die skuuste vir mense, veral vroumense. Iemand anders uit ons kinderjare vertel dat hulle elke dag by oom Faan en Kleintan gaan kuier het en lekker tuisgemaakte brood en varkvet gaan eet het. Later toe die tante dood is, het oom Faan ook by die ander boeties kom bly.

Die dag toe ons hoor oom Jan het ‘n meisie, het ons omtrent omgeval. Die vier boeties sonder vrou was vir ons kinders ‘n aardigheid. Oom Jan se sagte bokkie oë omraam met diep lagplooitjies, sy skaam innemende glimlag sal altyd by my bly. En so het tannie Petro ook deel van ons lewe geword, iewers toe ek nog in die laerskool was.

Hulle het hul eie plaas gekoop maar het deel van ons lewe gebly. My ma en tannie Petro het goeie vriendinne geword en baie dinge saam gedoen. Tannie Petro het ons lekker bederf en dit was vir ons omtrent ‘n opgewondenheid die kere wat ons by hulle gaan oorslaap het. Haar spaarkamer was ‘n sagte lilapers, ‘n kleur ongehoord in ons wêreldjie. Kleur het nie ‘n groot rol in ons huis gespeel nie, beddegoed was enige sindelike kleur en die mure altyd wit gekalk. In my standerd vyf jaar het ons skoolhoof wat ook ons onderwyser was, siek geword. Tannie Petro het ons klassie met veertien kindertjies kom oorneem en ek was baie jaloers om mý tannie met die ander kinders te deel. Dit was sy wat my klasmaniere geleer het… om net te antwoord wanneer ek my hand opsteek. Dit was swaar, maar dankie Tannie, jy het dit reg gekry!

Die jongste broer Chris was ook maar stil. Lank na ek self getroud was het hy ‘n meisie ontmoet en is getroud. Ek was só bly dat hy ‘n maat gekry het, elke mens verdien ‘n goeie maat. Toe ek later hoor dat hulle geskei is, was ek baie hartseer vir hom. Dit moes ‘n uiters slegte situasie wees wat hom genoop het om te skei.  Trou was ‘n gróót stap in daardie konserwatiewe familie, skei iets ongehoord. Hy is oorlede na ‘n kankerlyding ‘n paar jaar gelede.

Met elke groot gebeurtenis in ons familie het oom Jan en tannie Petro moeite gedoen om dit saam met ons te vier. Nou is net tannie Petro oor, die laaste deel van die hoekstene van my kinderjare.

As dit enigsins moontlik sou wees om terug te gaan in tyd, sal ek baie graag net één keer nog by hierdie familie wou gaan kuier. Vir tant Heilie sou ek ‘n groot bos blomme vat. Uit my ma se spens sou ek vir die ooms hertzoggies en handtertjies vat. Ons sou lag en moerkoffie uit blikbekers drink wat ons hande brand. Miskien sou ons beplan om Palmietfontein toe te gaan. Dalk sou hulle sê dat my pa ‘n rooibok daar mag skiet. Dalk sal tannie Petro ons nooi om in haar pers kamer te kom slaap. Dalk sou dit lekker wees. Maar as is verbrande hout en daardie tyd is nou net behoue in onthou.

As onthou ‘n plaasdam is, het ek nou lekker in die modder gespeel. Ek wil nie hierdie moddervoetspore van my gaan was nie. Ek wil my voete net effentjies afstof en dan my skoene bo-oor aantrek sodat ek vir altyd kan onthou waar my wortels lê en wie my menswees help vorm het.

image My Pa en Ma voor. Oom Jan, tannie Petro en oom Chris agter. Geleentheid: 2005 Pa 80e verjaardag

********************************************************************

Bygevoeg na die tyd

Die ding van plaasdamme is as jy eers in die modder begin baljaar, dan spring daar platannas uit…

Dit wat ek geskryf het hierbo is maar enkele herinneringe. My susters en broer het elkeen iets anders ervaar, waarvan ek sommiges hierby voeg.

Ek het byvoorbeeld skoon vergeet dat daar nog ‘n boetie was. Oom Frans. Hy en oom Bert was eie broers en het ‘n ander ma gehad. Ek kan nie onthou dat ek hom ooit gesien het nie. Hulle het in Pretoria gewoon. Sy seun Frans het op ‘n stadium by die ooms gebly en daarna baie kom kuier. Ek was ‘n klein dogtertjie en die ouer sussies tieners. Sus Annemarie sê sy was verlief op Frans, maar hy het net oë gehad vir Trisa…

Trisa sê: ”Pragtige herinneringe wat ook deel was van my kinderjare, hoewel myne bietjie anders is. Ek onthou hoe hulle my geterg het toe ek klein was, en my Cheeky genoem het. Oom Chris het ook my vlegsels se linte (onthou Ma het altyd mooi linte ingebind) aan die lemoenboom vasgemaak. Ek was seker maar vier of so, want toe ek op vyf skool toe is, was my hare kort en nooit weer laat groei nie.

Ek onthou ook hoe hulle teen skemertyd omgestap het en by ons kom tee drink het. En by ons het hulle soos al die gaste, of kuiermense soos ons dit geken het, tee gekry. Die skinkbord moes behoorlik gedek wees, met al die lepeltjies in dieselfde rigting.

Koringstrooptyd het ek en Mara vir hulle pannekoek gebak. In daardie kombuisie. (Ek het by ons huis gaan bakpoeier haal)

En dan Frans se kuiers…”

In die Franstyd was daar ook nog ‘n Taljaardseun wat saam met Frans daar gebly het. Daar was twee perde, Nugget en Suurpap. Ek onthou net vir Suurpap, ‘n grys skimmel, vir my ‘n lelike perd. Trisa sê sy het eenkeer in die kanaalpad afgejaag met Nugget en my Ouma hoor skree van skrik oor die affêre. Kan my net indink… my ouma het nie juis gehou van meisies wat buite speel nie… Ek kan onthou hoe ek altyd aan die groot sussies gekarring het om ook te ry maar net een keer toegelaat is.

Trisa se bestuurslesse het blykbaar nie so goed verloop nie. Haar bene kon nog nie bykom nie en na een les het oom Chris gesê sy moet eers gaan pap eet voor sy weer kom. Annemarie en Heleen het help lande ploeg. Annemarie sê sy het eenkeer met die ooms se ou bakkie in die kanaal ingery en gelukkig kon Heleen haar met die trekker uitsleep. Ek wonder of my pa en ma ooit maar ooit gehoor het van hierdie dinge…

Net soos met bestuurslesse wat ek nie gekry het nie, het ek ook nooit die voorreg gehad om saam te ry na die groentemark in Pretoria nie. Annemarie en Heleen het baie saam met oom Chris gery, en hy het hulle dan bederf met hamburgers. ‘n Bederf ook vir hom, dit was iets wat nie deel was van die kos op enige van ons tafels nie.

Annemarie onthou van ‘n keer toe my pa nie by die huis was nie en daar ‘n vreeslike groot slang onder my ouma se watertenk was. Hulle gaan roep toe vir oom Chris en hy kom skiet die slang… met ‘n haelpatroontjie… Ek was seker te klein om dit te onthou, maar ek kan my pa se gesig voorstel toe hy by die huis kom en die water spuit orals uit…

Magda en Hannes was baie saam met oom Wies Palmietfontein toe. Ook iets waarop ek uitgemis het… Dis waar kinders, bestuur en openbare paaie in die prentjie kom… Hulle onthou gekookte eiers, broodjies en koue swart koffie by die dam, party keer ‘n vleisie op die vuur. En gekoopte koekies by Greenstores vir padkos… Hoe verstote voel ek nie nou nie..

Al het die ooms nie kinders gehad nie, het hulle vir ons gehad. Ons was maar elke dag omtrent daar. Saam of elkeen op sy eie.

En nou verlang ek net nog meer na hulle…

Categories: Familie, Lankal terug, Omgee, Slakgedagtes | 10 Kommentaar

Dispersie

‘n Rukkie gelede het ek die mooiste spektrum wat ek nog ooit gesien het vasgevang met my kamera. Om dit meer spesiaal te maak het het my kleinseun geroep sodat daardie lieflike Lig op sy handjie kan skyn. En vandag het ek ‘n paar woorde by my foto gesit. Net ‘n paar, want meer is nie nodig nie.

image

Gaan lees gerus ook by die volgende skakel en sy opvolg wat my gedagtes rondom Lig is.

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: , | 2 Kommentaar

Oorwinning

‘Success is to be measured not so much by the position that one has reached in life as by the obstacles which he has overcome.’ – Booker T Washington

Ek glo dat elke mens se groei of ondergang bepaal word deur hóé jy ‘n bepaalde struikelblok hanteer. Sommige klippe op jou pad is rivierklippies wat net effense ongemak veroorsaak, terwyl ander massiewe rotse is met skerp punte wat bloed vergiet. Soms verg dit buk en afkyk om te vind dat die klippe eintlik diamantgruis is, al het dit net netnou jou toon nerfaf gestamp. Elke mens se pad het afdraai plekkies wat jy noodgedwonge moet vat. Ongelukkig gebeur dit met sommige mense dat hulle nooit weer by die grootpad uitkom nie want hulle ompad word ‘n vêr pad word waar wilde woeste monsters skuil. Parykeer is mens gelukkig en is daar iemand om jou te abba, maar soms is daar iemand wat jou in die dorings stamp. Ek glo aan ‘n Skepper, Grootste Koning, Opperwese wat jou gekies het, wat jou pad vir jou uitgemeet het, wat bepaalde struikelblokke plaas om te sien of jý Hóm kies om jou te abba om uiteindelik die plek van oorwinning te behaal.

My eie pad loop ek soos hy kom, soms deur modder, soms deur wind. Soms stap ek met ‘n blom in my hare, sommer net ‘n kind.

‘You are never old till the day that regret replace your dreams.’ -Anonymous

Om groot te geword het in ‘n plattelandse omgewing was vir my ‘n voorreg, maar nie sonder beperkinge nie. Ons is groot gemaak dat sport iets is waaraan jy deelneem vir die genot daarvan en nie noodwendig prestasie nie. Seker maar omdat ons nie presteer het nie… In ons klein plaasskooltjie was daar beperkte atletiekgeleenthede (100 m, verspring en hoogspring) en wintersport was rugby en netbal. Twee spannetjies vir elk, die lede was almal in die hele skool wat wou deelneem. G’n niks van o/11 of wat ookal nie, almal tussen standerd 3 en 5 wat wou, was in die span. Ag, maar hoe het ek tog nie gedroom van ‘n ou silwer bekertjie nie… daar was mos nie daardie tyd medaljes nie. Net een keer, net één ou bekertjie… Tweede of derde in die verspring en hoogspring het ek telkens behaal met my kort maer beentjies, selfs tot in die hoërskool, maar eerste, nooit.

My niggie in Pretoria het provinsiale kleure in atletiek en gimnastiek gehad en dit het verdere drome wakker gemaak. Wanneer hulle kom kuier het, het sy vir ons wawiele en allerhande dinge gewys en ek en sus Magda het groot gegaan vir weke en weke daarna. Dit was ook in die tyd van die kleine Nadia Comaneci wat die Olimiese Spele oorheers het en ons het ons eie apparate ontwerp en spronge gedoen met ‘n yster tafel as bok. Jy het jouself net één keer potblou teen daai yster tafel gestamp, die volgende keer het jy hòòg bo-oor gevlieg. Ek dink dat sou ons die geleentheid gehad het, beide van ons sou kon presteer het in gimnastiek.

My kop het egter geweet dat my klein liggaam nie kan kers vashou met groot sterkes om te presteer in sport wat spoed verg nie. My hart daarenteen wou my maar net nie laat los nie en ek het toe my kinders hanteerbaar was, begin draf. My spoeddroom het nou ‘n 21km droom geword. Wat ‘n ervaring was dit nie toe ek my eerste 10km padwedloop doen en ek ‘n medalje kry oor ek binne die tyd klaar maak… maar dit was nog nie ‘n silwer bekertjie nie… dit was nog nie éérste nie! My genetiese bunion-skewe voete was egter nie opgewasse teen die voortdurende impak nie en daar gaan die 21km droom.

As klein seuntjie het Roelf sy eie boog gemaak en hy dra vandag nog ‘n letsel op sy bors waar sy nefie hom met ‘n pyl getref het tydens Cowboys en Indians speletjies. Sy ouboet het hom en sy boog op ‘n foto vasgelê en verlede jaar het ek my vriend Lourens gevra om hierdie beeld vir my te omskep in ‘n skildery.

image

image

Voor ons troue het hy ‘n Compound-boog gekoop en sommer net rondgespeel daarmee op ons plot en tarentale geskiet op sy ma se plaas. Hy is ‘n baie goeie skut en wou graag aan ‘n klub behoort en aan kompetisies deelneem, maar daardie dae het die klubs net Recurve-boë toegelaat en ‘n paar stywelip tannies het hom verbied om met sy Compound-boog naby hulle teikens te kom. Later het die boog maar net stof vergader in ‘n kas en toe hy op ‘n dag die opmerking maak dat hy nog eendag graag wil kompetisies skiet, het ek hom gevra hoekom doen hy dit dan nie. Sommer daardie selfde naweek nog het hy ‘n boogwinkel opgespoor om pyle te koop en blinkoog sommer met ‘n nuwe boog by die huis aangekom. En ook vertel daar is nou boë beskikbaar vir vrouens en kinders en dat hy dink ek ook daarvan sal hou. Ek was maar skepties, want dit het net te macho geklink, te veel na iets wat groot en sterk mense doen.

Uiteindelik was daar klubs en geleenthede vir sy tipe boog. Ek het toe ook saam begin skiet en alhoewel die 3-d tipe skiet baie lekker is in die veld oor berge en deur dale, is my afstandskat nie so goed nie. Roelf het sommer in die eerste jaar provinsiale kleure verwerf. In ‘n poging om myself te verbeter het ek die teikenskiet ding begin en ek het nog nooit weer terug gekyk nie.

Ek het ‘n spul medaljes en meer as een trofee gewen, my provinsiale kleure verwerf, ‘n brons medalje vir die ARFAC ( Afrika Field kampioenskappe) uitgeskiet, maar nooit ooit het ek die gevoel gehad dat ek ‘n silwer bekertjie gewen het nie.

‘Everyone has talent. What is rare is the courage to follow your talent through the door of your potential and to trust that it will lead you to the light.’ -Jannie Putter

Toe die SANAA (South African National Archery Association) ‘n paar jaar gelede besluit het om die sport ernstig te promoveer en die boodskap uitstuur ‘Do you have what it take?‘, het ek besluit: Hier is my kans om te sien wat in my steek… Marina het op provinsiale vlak gimnastiek gedoen en het op daardie stadium drie ure per dag geoefen. Ek het slegs naweke geoefen om my provinsiale kleure te verwerf. Ek het vir myself gesê as ek dan my oefentye verhoog na een uur per dag, dan kan ek dalk verbeter tot Nasionale vlak. En ek het. Ek is gekies vir die heel eerste Squad groep vir boogskiet. Ek het ‘n brons medalje op die SA kampioenskappe gekry, maar dit was steeds nie my bekertjie nie.

Elke mens het genetiese foutjies en my familie is vrot van outo-immuunsiektes. Diabetes, celiac disease, reumatoïede artritis, fibromialgie, Raynaud-sindroom en Sjogren-sindroom is van die goggas wat my sussies se lewens baie, baie moelik maak. Stres trigger en vererger enige outo-immuun verwante siekte. By my manifesteer die gemors as kosallergieë. Sommige goed soos piesangs laat my jeuk en swel, terwyl die meeste erge migraine veroorsaak. Dit het begin terwyl ek gewerk het vir my provinsiale kleure. Terwyl ek op die squad was het dit so erg geraak dat ek amper niks kon eet sonder om siek te word nie. Ek het erg gewig verloor en die kombinasie van wanvoeding en gewigsverlies as gevolg daarvan het my aspirasies kortgeknip.

Dit het verbeter met onthouding van die kos wat my siek maak. Dit was ‘n langsame proses om gewig op te tel en weer sterk te word. Ek het weer begin oefen en die dag waarop ek weer my eerste kompetisie sou skiet het ek die oggend in Pretoria ‘n telefoonoproep gekry wat my lewe onherroepelik verander het. Ons huis het afgebrand en ons was nie verseker nie… Toe weerlig ons ‘n tweede maal op die grond plat slaan het ek ook my boog en skiettoerusting verloor.

Ons het maar weer met genade van Bo opgestaan en aangegaan met ons lewens. Maklik is dit nie, en dit sal nooit wees nie, maar tyd maak rowe en ons probeer hard om dit nie af te krap om weer te bloei nie. Ons kyk vorentoe, na waar Lig is.

Drome bly drome solank jy niks daaraan doen nie. Wanneer mens egter werk aan ‘n droom, verander dit in ‘n doelwit en dan eers kan jy iets bereik. Ons het na ons trauma van aardse goed verloor besluit ons gaan nie ophou lewe nie. Boogskiettoerusting is vrek duur en ons het maar so stuk-stuk aangekoop oor ‘n paar jaar. My doelwit was om hierdie jaar se Nasionale kampioenskappe weer te begin kompeteer. En ek het, baie opofferinge, beplanning en voorbereiding later.

Dit gaan goed met my gesondheid, ek het weer ‘n aanvaarbare gewig en verlede jaar Augustus het ek my plan inwerking gestel. Ek het begin draf om fiks te raak. Ons skool het ‘n gala swembad en dit was die aangewese ding vir my skouers, arms en vir kardio, want my voete het laat weet of ek dan vergeet het hulle wil nie draf nie. En eers toe het ek begin skiet en geleidelik my boog se ponde opgestel tot waar ek dit wou hê. Slegs weke voor die toernooi het ek eers al die toerusting gehad wat ek nodig gehad het om te kompeteer. Ek kort nog baie dingetjies, maar ek kan kompeteer en dis die belangrikste.

‘In the power of the tongue is life and death, and whoever indulge in it shall live by the fruit of it.’ -Proverbs 18:22

Uiteindelik kon ek ook regkry om ‘n sekere negatiewe persoon uit my kop te kry wat veronderstel was om my te help terwyl ek op die squad was. Sy woorde maal nie meer in my kop nie. Dit was die een ding wat ek in my geestelike voorbereiding nie kon regkry nie.

‘The will to win means nothing if you haven’t the will to prepare’ – Juma Ikangaa

Boogskietkompetisies word slegs onderbreek vir uiterste weersomstandighede soos weerlig en daarom is dit belangrik om in enige weerstoestand te oefen. Wanneer dit reën trek jy maar ‘n reënjassie aan. Wanneer die wind waai, dan waai jy maar saam. Wanneer dit perfekte toestande is, juig jy. Dissipline is vir enige sportman essensieel, meer nog vir individuele sporte waar daar nie spanmaats is wat jou kan motiveer wanneer jy ‘n af dag het nie. Ek het nie ‘n afrigter nie, ek is op my eie. Ek moet myself motiveer. Ek moet self raas, ja, ek doen! Ek moet my eie foute identifiseer en regstel. Ek moet my eie skerwe optel as ek droog gemaak het. Ek oefen heeltemal alleen. Ag nee, ek jok. Ek het drie getroue ondersteuners elke oefensessie; Boesman Staffie, Pippie Jackie en Oreo Kat is elke keer by. Om mens-alleen te oefen is nie ideaal nie, maar dis hoe dit is en ek is trots op dit wat ek vermag het sover. Wanneer ek egter feesvier, deel ek dit met die wêreld…

Ek glo nie aan toeval nie. Ek glo aan ‘n uitgemete pad wat ons stap. My skool het aan die begin van die jaar vir ons ‘n spesiale spreker gekry om ons te motiveer vir die jaar, en die dinamiese Jannie Putter, sportsielkundige is op my pad gestuur. Hy het vir my sy boekie ‘Mentally tough‘ as geskenk gegee en dit het aangesluit by die kopsmokkel wat ek vir myself ontwikkel het toe ek op die squad was. Dankie Jannie vir jou aandeel in my ontwikkeling.

My doelwit om die jaar weer te begin skiet was toenemend nie meer net ‘n droom nie en ek het onmiddellik my plek op die lyn bespreek toe die besprekings open.

Alles, alles, alles het net vir my reg geloop. Maar ek was nie alleen nie, daar is altyd mense wat jou sterk maak. Dankie vir Roelf, my geliefde, my maat. Jy maak my ekstra sterk. Dankie vir jou liefde, aanvaarding van wie ek is, jou ondersteuning. Dit was lekker om jou vir die eerste keer saaam met my op die lyn te hê. Die gastehuis wat jy bespreek het sodat ek nie hoef te stres oor verkeer nie, die positiewe kommentaar, die finansiële ondersteuning, sommer net dankie vir alles. Dankie.

My kinders, dankie vir julle liefde en aanmoediging. Dankie vir my liewe Ma, wat nadat ek vir haar ‘n deel van my geestelike voorbereiding vertel het toe ek op die squad was, elke keer voor ‘n kompetisie vir my ietsie spesiaal op my kussing gelos het wanneer ek by haar gebly het voor ‘n kompetisie. Ma weet nie wat dit vir my beteken nie… baie, oneindig baie. Ma is deel van die motivering waarom ek skiet. Ma sou die hoogste sport kon bereik in baie dinge, maar Ma se pad was anders uitgemeet. Ma is die beste Ma ooit.

My doelwit vir die kompetisie self was om ten minste drie rekords te breek indien weersomstandighede dit sou toelaat, ongeag of ek wen met my tellings of nie. Ek het immers slegs beheer oor my eie telling en nie oor hoe my opponente skiet nie. Ek het hard gewerk daarvoor, en het geweet my oefentellings was goed genoeg. Twee dae voor die kompetisie het ek die enigste terugslag gehad. Ek het my boog op die spaarkamer se bed neergesit en vergeet om die deur toe te trek. Toe ek my liefste twee kleinkindertjies hoor jil in die spaarkamer, was my hart in my keel… en nie sonder rede nie… My pylrus (arrow rest) was windskeef gebuig. Amper ‘n jaar se voorbereiding in gedrang van een onbewaakte fout… My liewe man het oor die foon getroos en met sy rubberhamer en ‘n plank het ek dit bitterlik versigtig reguit geslaan. Dankie tog, al het dit beteken dat ek al my afstande van vooraf moes instel.

Die laaste dag van die toernooi was dit Eliminasies, dis die stresvolste kompetisie. Dis slegs 15 pyle en daar is nie ruimte vir foute nie. Jy het slegs een opponent en julle skiet voor die toeskouers. Twintig sekondes om jou pyl te skiet en dan twintig vir jou opponent. Die oggend toe die baan open vir opwarming, het hulle uit die bloute musiek gespeel… en ek het trane in my oë gekry… die liedjie was dit wat op die oomblik my gunsteling liedjie is! Toevallig? Nee. Ek het my oë toegemaak, my hande omhoog gegooi en gesê dankie. Toe die kompetisie begin het ek op die baan gestap met die wete dat die dag reeds aan my behoort.

Success means doing the best we can with what we have. Success is the doing, not the getting; in the trying, not the triumph. Success is a personal standard, reaching for the highest that is in us, becoming all that we can be.‘– Zig Ziglar

image

Wen is soms meer as net wen. Hierdie twee medaljes, die silwer beker en die ses SA en Afrika rekords agter my naam wat ek tydens die 66e SA Nasionale Boogskietkampioenskappe 2016 verower het is vir my meer as net wen. Dis my klein silwer bekertjie. Uiteindelik ervaar ek daardie gevoel waarna ek my hele lewe nog gesmag het. Ek het hard gewerk hiervoor. My gesin het saam met my opofferinge gemaak. Dankie daarvoor.

O ja, net as nagedagte…Ek werk nou vir die Victrix Ludorm beker…

Categories: Slakresies en ander sport, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: ,, | 6 Kommentaar

Lourens 16 Aug 2015

Winterblare word poeier onder my voet se val

‘n Paadjie oop geloop, bo teen die wal

Menige geselse om ‘n potjie tee

oor diepe dinge of sommer net, wel en wee.

Ons tydjie saam raak min my vrind…

Maar ons albei wéét

ons sal hierdie beskore tydjie nooit vergeet.

Ek het jou genooi en jy het gekom,

Jy beloon my kos met ‘n prentjie van ‘n blom.

Ons tydjie saam raak min my vrind…

Ek sou graag wou hê dat jy nog ‘n bietjie bly

maar ek weet elders gaan jy ook weer gedy.

Eendag… eendag sal ons mekaar weer vind

want ons is albei één asem in die grote wind.

Ons tydjie saam raak min – my liewe vrind!

16 Aug 2015

lourens

Categories: Gedigte, Omgee, Slakgedagtes | 2 Kommentaar

Moedersdag is nie een-dimensioneel nie…

My ma het twee weke ekstra met my geloop omdat die dokter gesê het ek is te klein om gebore te word. Uiteindelik was ek datem vyf pond ietsie… en is nou nog maar effentjies. Dankie dat Ma daardie ekstra ongemak verduur het om my ‘n beter kans in die lewe te gee, elkeen wat al ‘n kind gedra het weet daardie laaste maand is nege maande lank… Ek het darem nie moeilik grootgemaak nie, ek was stil en soet en bitter min siek… agtergrond van die gesin se skildery.

Ons is almal dankbaar vir die genade dat ons die dag op een of ander manier met Ma kan deel. Dankie vir alles Ma.

image

Blomme. Ek sal ALTYD vir Ma assosieer met blomme

Moedersdag is egter onvolledig as ek nie ook erkenning gee aan die ander moeders direk in my lewe nie.

Eerstens is daar Ouma Tilla. Dankie dat Ma my man so mooi grootgemaak het, hy is ‘n wonderlike man vir my, pa vir sy kinders en oupa vir ons kleintjies. Dankie vir alles wat Ma vir ons gedoen het. Ons verlang na Ma. Ma se lekker lag. Ma se lekker kos en koekies. Niemand kan ‘n skaapboud gaarmaak soos Ma nie, niemand nie. Daarom maak ek vandag ‘n skaapboud en lekker groente, sodat ons ook Ma se herinnering vars kan hou.

image

80 jaar oud!

image

Die foto is uit fokus, maar verteenwoordig Ma se avontuurlustigheid... Nooit te oud vir iets nuuts nie!

Tweedens is daar my eie kind wat ook al ‘n Mamma is. Jy doen ook ‘n goeie job. Jy is ‘n pragtige mamma vir onse Zellie en Roelfie en hulle is vir ons ‘n groot seëning. Lief jou!

image

Roelof se doop 'n paar maande gelede

Gelukkige moedersdag ook vir elke vrou wat ander mense se kinders grootmaak, wat mamma is vir ‘n kat, hond of voëltjie. Ook elke pappa wat alleen is. Liefde is liefde, van wie of vir wat dit ook al is.

Categories: Familie, My klein slakkies, Omgee | Sleutelwoordw: , | 2 Kommentaar

Ma se spesiale verjaardag

Die eerste dag van Julie 2014 was ‘n baie spesiale dag vir ons familie. Ons liefste Ma Anne het haar tagtigste verjaardag gevier en ons is baie bevoorreg dat ons dit met haar kon deel.

image

Ma met haar agt kinders

Ek dink byna elke mens dink sy of haar ma is spesiaal, maar mý ma is spesiaalste…

Ma se storie begin op 01 Julie 1934, die tweede dogtertjie gebore vir Hansie en Driena Winnertz. Die oudste dogter, Marie, of Ousie, is groot gemaak deur my oumagrootjie en Ma het dus ook ‘n groot rol gespeel  in die huis vir die ses ander wat gevolg het. Hulle het in baie swaar tye groot geword. Geld was skaars, armoede en swaarkry oorvloedig. Met ‘n Duitse van was daar baie vooroordeel na die oorlog, ongeag dat Oupa in Suid-Afrika gebore is en so Afrikaans was as wat kon. Oupa en Ouma het in Botswana gewoon, die kinders het skool gegaan in Potgietersrus. Kan jy jou índink om jou Graad Een kindjie by ‘n koshuis af te laai en dan net met Julie en Desember vakansies te sien? Dís die tye waarin sy moes leer oorleef, waarin sy moes leer om emosioneel sterk te word.

Ma is ‘n sterk vrou. Nie net geestelik nie, maar ook fisies. Oupa moes ‘n hand hê op die plaas om hom te help werk, en Ma was daardie hand in vakansietye, die seun wat nog nie gekom het nie. Tannie Ousie was te fyn vir hierdie soort van werk. Net nou die dag vertel sy hoe kwaad hy kon word as sy die verkeerde koei ingebring het vir melk, en dan ingelê het met die spantou. Vir haar het almal dieselfde gelyk, hy weer het elke koei op haar naam geken. Oupa was ‘n beneukte man, maar goed en lief vir sy familie. In die huis het Ma weer vir Ouma gehelp. Vakansietye was gevolglik nie daar vir speel en leeglê nie, maar vir werk.

image

Ma, Oupa en 'n werker oppad veld-in vir werk.

Ma het uitgeblink op akademiese en sportgebied. Haar rapport van standerd agt het die volgende inskrywing bevat: “Moet asseblief nie vir Anna uit die skool haal nie, sy is só talentvol”. Dis vir my hartseer verby, maar die realiteit van haar lewe was dat sy skool moes verlaat sodat die jonger kinders ook basiese skoling kon ondergaan, weggestuur om by ‘n tannie te gaan loseer sodat sy kon gaan werk. Die salaris wat sy gekry het is net so oorbetaal aan haar ouers. Onbaatsugtig vir altyd.

Ma en Pa het mekaar ontmoet op haar oom se troue en was dadelik verlief. So het ‘n nuwe fase van haar lewe begin op een en twintig jarige ouderdom toe hulle getroud is. Die jaar daarna is ons Ousus gebore en van toe af was daar die getrippel van nog sewe ander kinders in die huis.

image

Goue Bruilof, 'n seëning vir ons almal

Lewe was nog steeds moeilik as getroude vrou. Die ouer kinders het heeltemal sonder elektriese krag groot geword, sonder die gerief van lopende water in die huis en ‘n spoel toilet. Ek was in die hoërskool toe ons eers daardie geriewe gekry het. Ma het sonder kerm en kla al ons klere self gemaak, al ons truie gebrei, al ons brood gebak en koekies en beskuit by dosyne. Ons het ‘ n kamerspens gehad, met rye en rye vol tuisgemaakte konfyte en ingelegde vrugte.

Ons het nie toebroodjies skool toe gekry nie, ons is met ‘n behoorlike ontbyt uit die huis gestuur wat dit onnodig gemaak het. Smiddae het ‘n heerlike middagete gewag en saans was daar kookkos op die spyskaart. Die lekkerste middagete vir my was die nat beskuitbolletjies met ‘n frikkadel verrassing in die binnekant. Waar Ma tyd gekry het vir alles, weet ek so wragtig nie, want Ma het nog self gewas en gestryk ook. Daar was maar kort tydjies ‘n bediende terwyl ek in die huis was. Eers as vrou in my eie huis het ek besef hoe erg Ma ons bederf het, want Ma wou hê ons moet die sorgvrye kinderjare hê was sy nie gehad het nie. Dankie daarvoor Ma, Ma is ‘n besondere vrou en as Spreuke in ons tyd geskryf was, sou daar ‘n ekstra hoofstuk wees met Ma se deugde.

Later jare is die kleinkinders net so bederf. Sommer net ‘n klein voorbeeld is Marianne en Annerine wat pouses by die muur van Ma se kompleks geroep het… en dan het Ouma sakkies koekies of ‘n kosblikkie met lekkernye oor die muur gegooi, kompleet met ‘n vurk of lepel en ‘n servet sodat die boeke nie moet vuilsmeer nie. Voordelig as jou skool net langs Ouma se kompleks is, né! Van die ander kindersnwat van marmelade hou se sitrus stukkies was nie net opgekerf nie, nee…. dit was vissies en blommetjies en vol van liefde. Elke kind en kleinkind is altyd op die hande gedra en spesiaal laat voel. Soos Johan met die Goue Bruilof gesê het… daar is nie baie Oumas was saam met haar kleinseuns babers in die dam met haar hande gevang het nie…

image

Sewe dogters en uiteindelik 'n seuntjie! Ma het ons rokke alles self gemaak, van klein tot groot. Geld vir patrone was daar nie, en elke skepping is uit haar kop gesny. Hierdie is vir my een van die spesiaalste foto's van ons kinders, al is Hannes se gesiggie verdoesel in sy doopgewaad.

Dan was Ma altyd betrokke by die skool, kerk en gemeenskap. Ek sal verseker nooit daardie emmers en emmers vol pannekoek deeg vergeet wat in ons huis aangemaak is vir die pannekoek stalletjie nie. My arme kinders se ma was so oorweldig dat sy geweier het om enigsins by skoolaktiwiteite betrokke te raak…

Ons oupa en ouma Pretorius was van dag een af deel van die gesin, en Ma het beide met liefde versorg tot die dag van hulle dood. Na slegs ‘n paar jaar sonder oumense in die huis, het oupa en ouma Winnertz by ons kom bly. Weereens was dit Ma wat versorg het. Moenie dink Ma het ophou werk en dien toe ons almal uit die huis uit is nie, o nee. Toe Ma ‘afgetree’ het was daar betrokkenheid by die kompleks se beheerliggaam, by die aftree oord waar Ma nou is, is daar kermisreëlings en nugter weet wat nog.

Met Ma se verjaardag was my gemoed so vol, ek kon nie sê wat ek graag wou nie, ek het gesê ek sal vir Ma ietsie skryf… Met ons familie se geleenthede mag elkeen wat wil iets sê. Party het voorberei, party het sommer net spontaan opgestaan en vertel wat Ma vir hulle beteken het, en van die wat nie daar kon wees nie het gebel of ‘n briefie geskryf wat voorgelees is.

Dankie Ma vir so baie dinge wat ons by Ma kon leer. Daar is eintlik te veel om op te noem, maar hier is ‘n paar lewenslesse wat ek vir altyd sal onthou.

Dankie dat Ma ons geleer het dat:

* Elke donker wolk het ‘n goue randjie. Sekerlik een van die belangrikste dinge wat ons by Ma geleer het, is dat daar ALTYD iets is om oor dankbaar te wees, maak nie saak hóé erg ‘n situasie lyk nie. Toe daar donkerte en trauma was in my lewe, was dit een van die dingetjies waaraan ek geklou het om ‘n liggie te skyn om my pad weer te vind.

* Elke persoon het die reg op privaatheid. Met so baie mense in ‘n huis is privaatheid ‘n luukse. Elkeen van ons is geleer dat jy die ander se privaatheid respekteer, en dit was nooit nodig om enige iemand daaroor te straf nie. Van straf gepraat – ons het bitter min pakslae gekry. Ek kan dit amper op my een hand tel. Ons het ‘n traanvormige leer plak gehad waarmee jy in die badkamer gaan wag het. Die vernedering om self die plak van die rak te haal was vir my baie erger as die pakslae. Dit het beteken dat ons nooit ooit in woede gedissiplineer is nie. Iets wat vir my aansluit by privaatheid is die voorbeeld wat Ma en Pa gestel het om nooit voor ons kinders woorde te hê nie, en dis ook die voorbeeld wat ek toepas op my eie gesin.

* Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Iemand het my eenkeer gevra of ek dan nooit rus nie, toe sê ek rus beteken mens ruil een aktiwiteit vir ‘n ander een. Ek is egter nie naastenby so intens besig soos wat Ma was en is nie. Vandat ek kan onthou was Ma altyd besig. Bedags was daar die groente-, vrugte- en blomtuin om te versorg, kos wat gemaak is, blikke en blikke vol koekies en beskuit, klere om almal se basse toe te maak. Saans het Ma voor die radio, en later die televisie, gesit en brei. Daar was nie winkeltruie in ons huis nie. Geen oomblik van ‘n dag is ooit vermors nie. Die enigste ledige tyd was Sondagmiddae wanneer Ma ‘n middagslapie op die bank gevat het. Askies vir die tye wat ek Ma wakker gemaak het om iets te vra, ek besef noudat ek groot is eers watter inbreuk ek gemaak het op Ma se kosbare rustydjie. Vir Ma se tagtigste verjaardagete by die aftree oord het Ma self gebak en gewys Ma kan nog. Die rumatoïede artritis weerhou Ma nou van brei, hekel en verf, nou doen Ma maar blokraaisels en Sudoku om daai brein flink te hou.

 * Ons is in staat tot alles deur Hom wat ons krag gee. Dit is my lewens motto, en ek het die praktyk daarvan gesien in Ma se lewe. Ma het ons altyd aangemoedig om te probeer, om nie tou op te gee nie, dat alles moontlik is as jy bereid is om te werk daarvoor. Ma wat so lief is vir blomme, se huis het gestaan in arm grond en klippe. Maar Ma het ‘n kruiwa gevat en self klip terrasse gebou met leivore en die pragtigste blomme geplant. Elke keer wanneer ek rose ruik, kry ek trane in my oë van onthou. Elke keer wanneer ek Namakwalandse madeliefies sien, dan sien ek die plate geel en oranje in Ma se beddings en ruik ek die soet reuk van die saadjies wat ek ge-oes het vir Ma teen 5c vir ‘n kondensmelkblikkie vol saad.

image

Dis die prentjie van Ma wat ek vir altyd en altyd sal onthou... glimlag om die mond en blomme in die hand.

 * Al is ‘n mens arm, jy nie hoef armsalig te wees nie. Ma en Pa was gerekende mense in ons gemeenskap. Mense het opgesien na Ma en Pa integriteit, die betrokkenheid in ons gemeenskap was ‘n voorbeeld vir baie. Ons was altyd skoon en netjies, en trots om die Pretorius’ies van Langberg te wees. Al was ons finansieel arm, was daar altyd iets oor om vir iemand te gee wat minder het. Noudat ek groot is besef ek dat ons arm was, maar toe ek ‘n kind was het ek dit nie geweet nie. Ons het liefde en sekerheid in ons lewe gehad, ‘n rykdom wat geen geld in die wêreld kan koop nie.

 * Geleenthede wat verby is, is verby. Gaan soek iets nuuts om jouself in te verdiep. Lewe jou lewe en maak die beste daarvan. Ek het nog nooit, ooit vir Ma hoor kla dat Ma nie geleentheid gehad het om universiteit toe te gaan nie. Ma sou verseker gemaklik enige graadkursus met lof kon slaag, verseker tot die hoogste vlak in sport kon gaan as die geleentheid daar was. Ma het Ma uitgeleef om ander te dien. Ma se gesin het altyd maar altyd eerste gekom. Dan het Ma nog Noodhulp klasse aangebied by die skool sonder enige vergoeding, Saterdae omgesit langs die sportveld om diens te doen. Dis maar een voorbeeld van baie dinge waarby Ma betrokke was. Nou nog is Ma se naam eintlik Martha… lees vir die blinde oom Bybel, bied ondersteuning en liefde vir die mense om Ma.

* Al is jy siek, jy is nie sieklik nie. Toe Teunet op agtjarige ouderdom met diabetes gediagnoseer is, is sy en ons geleer dat mens nooit siekte as verskoning gebruik om op te hou lewe nie. Nou nog steeds is Noek vir ons almal ‘n inspirasie met die wyse waarop sy al haar fisiese beperkinge hanteer en die lewe volstoom aanpak. Toe Ma beroerte gehad het en nie kon vat, praat of loop nie, het Ma verbete die arbeidsterapeut se oefeninge honderdvoudig aangepak en in so ‘ n mate herstel dat Ma nog vir Pa ook kon versorg tot sy dood.

Tagtig is ‘n geseënde ouderdom om te bereik en ons weet dat Ma al groot fisiese terugslae gehad het om hier te kom. Twee breinoperasies om massiewe gewasse te verwyder, hartstilstand na ‘n epileptiese aanval as gevolg van die breinletsels, ‘n hartomleiding, vele stente daarna en nou ses maande na Ma se verjaardag ‘n groot tumor in Ma se maag en breingewasse wat weer groei, is daar niks wat kan Ma nie onderkry nie, want Ma se taak in ons lewe is onvoltooid.

image

Die mees onlangse foto van Ma, twee dae nadat die maagtumor verwyder is.

Dankie vir Ma se liefde en omgee Ma se hele lewe lank. Liefste Ma, ons glo en hou vas aan God se genade dat ons Ma nog ‘n lang ruk by ons gaan hê. Mag elke oomblik vorentoe vir Ma net emmers vol seëninge inhou, Ma verdien NET die beste. Ma was so bevoorreg om die hemelpoorte te sien met ‘n Naby-doodondervinding met die eerste breinoperasie. Die boodskap wat Ma gekry het was dat Ma moet terugkom want Ma het ‘n taak het om te voltooi. Daardie taak is steeds onvoltooid, net ons Vader weet wanneer dit sal wees.

Ma se gunsteling Skrifberyming het daarom vir my soveel meer betekenis, en ek sing dit daarom net vir Ma:

“Hy het my die stad getoon,
Groot en van die hemel dalend,
En deur God se ligglans skoon,
Soos ‘n kleurgesteente stralend,
Helder soos ‘n kristallyn
Wat in al sy klaarheid skyn.”

 

Categories: Familie, Omgee | 9 Kommentaar

Wanneer goeie dinge in jou hart woon…

Het jy al iets vreeslik stupid gedoen wat jy verskriklik berou het, op jou tande gekners het van frustrasie en jou tong wou stukkies kou van woede vir jouself?

Ek dink die meeste van ons het al, miskien selfs meer as een keer. Verlede Vrydag het ek.

My ousus verjaar oormôre en dis ‘n groot verjaardag waarvan ek later meer sal vertel, en ons familie het dit vir ‘n hele naweek saam met haar gevier. Ek en ons oudste Annerine met haar kindertjies sou van Barberton af ry, my skoonseun in Middelburg kry en kry dan my man en ons jongste van Pretoria af  by Nylsvley waar die res van die familie wag. Sug. Al die reëlings is al klaar genoeg om mens moeg te maak…

Vrydag oggend vra Marina ek moet asseblief vir haar vrugte saambring, ons woon mos in heerlike mango en lietsjie wêreld. Ons was maar haastig, want vyf ure se ry met twee klein kindertjies in die kar is nooit pret nie. Ek was vriendelik deur die bestuurder van die bakkie vermaan om assebliéf tog net gou te maak… Dit was maar ‘n gestoei om die boksies vrugte te balanseer, die seiltjie oop te maak, die vrugte in te squeeze in die oorvol bak, en dan nog goú te maak ook…

By Mookgopong (Naboomspruit) aangekom, vra ek ons moet asseblief by ‘n stalletjie stop, ek wil sommer klaar waatlemoene koop want met ‘n vorige keer was die keuses beperk op die Sondag toe ons huistoe is. By ons sukkel ons al van voor Kersfees af om waatlemoene te kry. En toe is my beursie soek…

Ons ry toe maar tot by Nylsvley sodat ek behoorlik by my voete kan kyk, maar nee, die beursie is weg. Dis waar die geween en gekners van tande toe begin, want julle weet almal watse riekmerol dit is om jou kaarte te stop, jou bestuurslisensie wat vervang moet word en verkeersdepartemente wat net lisensies op sekere dae doen in klein dorpies waarvan jy hierdie week werksverpligtinge het, ensovoorts, ensovoorts…

In die haastigheid om die vrugteboksies onder die seiltjie in te kry in Barberton, het ek die stupid ding gedoen om my beursie op die bumper agter neer te sit om my hande los te kry, en dit daar vergeet. My breinselle is mos maar soms afwesig…

Ek kon darem my bankkaarte dadelik stop en toe is die sein weg vir die res van die naweek. Ek skryf toe maar ‘n Whatsap boodskappie vir my liewe vriendin Bianca in Barberton en vra sy moet aseblief vir my gaan vra by die stalletjie of hy daar afgeval het, in die hoop dat die boodskap een of ander tyd sou deurgaan wanneer daar ‘n glimpsie sein is. Ek koop net by een spesifieke stalletjie, want Annie ken my al en sal vir my sê: Moenie vandag lemoene koop nie hulle is suur, of: Kom môre terug, dan is die tamaties beter. My boodskap het haar eers Saterdag bereik, en haar antwoord dat daar niks was nie, eers vir my Sondagmiddag oppad huistoe.

Kners.

Vandag sit ek in ‘n vergadering en sien my Whatsap liggie brand vir ‘n boodskap van my man af. Dis altyd vir my prioriteit, want ons kontak mekaar net vir iets ernstig in werkstyd. “Iemand het jou beursie opgetel. Bel vir Patricia, hy is by haar in Nelspruit” met haar nommer daarby. Ek skryf toe dadelik vir haar ‘n boodskap dat ek haar sal bel sodra ek kan.

Sy is toe Paticia du Plessis van Alan Hudson Motors in Nelspruit. Haar werkgewer se drywer Dennis het my beursie naby die lisensiekantore van Elukwatini (spelling?) naby Malelane in die pad sien lê, gestop en dit opgetel. Daar was geen kontant in nie…obvious… maar my kaarte was ongeskonde. Die eerste persoon wat die beursie opgetel het, het die kontant geneem en my beursie toe weggegooi. Paticia het toe deur die inhoud gegaan en aan planne gedink om my op te spoor.  Sy kry toe ‘n visite kaartjie van ons veearts, bel hulle toe en vra of hulle my ken. Natuurlik ken hulle my! Roelf se nommer is op leêr as kontaknommer en so kom die boodskap toe by Roelf uit.

Maar dis nie al hoe die boodskap by my uitgekom het in hulle opsporingsproses nie. Haar kollega Wickus

Categories: Omgee | 8 Kommentaar

Blog at WordPress.com.