Monthly Archives: Oktober 2017

Uil en kuiken plaasdingerasies

Die du Preez’tjies het ‘n week of so beleef waarin kuikens en uile meer as een maal iemand se dag óf gemaak het, óf iemand se seepborreltjie gebars het.

In ons ou huis se garage het op ‘n stadium Nonnetjiesuile gewoon.  Ek het hulle skril roep egter baie lanklaas gehoor. Meer algemeen is Gevlekte ooruile wat hoe-hooee deur die nag. Die afgelope twee weke al hang hier twee om die huis rond en het ons ook al gewoond geraak aan hulle ander geluid. My hoenders wei minder as tien tree vanwaar ons hulle sien en nog nooit het ‘n kuiken verdwyn nie.

Enige iemand wat al ‘n uil van baie naby gesien het sal kan beaam dat geen foto reg laat geskiet aan daai oë nie… Gevlekte ooruile het die mooiste, mooiste geel oë wat so helder is, dit lyk of dit dwarsdeur jou kan kyk.

Die eerste keer wat ek dit gesien het was toe Marina ‘n jong uil hier kom vrylaat het nadat dit behandel was in ‘n veeartpraktyk waar sy praktiese werk gedoen het.  Ek was verras met hoe gemaklik sy was om ‘n wilde voël met daai vreeslike koue te hanteer! En ook verras hoe ‘n wilde voël so ‘mak’ kan wees… Hy het nie één keer enige teëstand gebied teen enige hantering nie en ook nie met my wat om hom kloek met my kamera nie. Hy het ons net deurgeboor met daai kyk!

Die tweede keer was dit ‘n nog jonger een wat in die garage op die vloer kom skuil het. Dit het nie gelyk of hy al kon vlieg nie, hy het geskarrel. Ons het hom in die bos agter die huis gaan neersit omdat ons bang was die honde kry hom beet. 

Ook hy het geen teenstand gebied nie, so klein bietjie geblaas, maar dit was al. Die volgende dag was hy terug en die honde het hom ontdek. Gelukkig het ek die geblaas  en geblaf gehoor… Ek het die mamma hoor roep en hom toe in Roelf se werkskamer toegemaak vir die dag en die aand het ek die venster oopgelos sodat die mamma vir hom kon kos bring. In die nag het ek weer die mamma hoor roep. Wel, hy kón toe vlieg, want die volgende oggend was hy weg. Vir ‘n hele ruk het ons hulle om die huis gewaar.

As kind het ons altyd hoenders gehad. Hokhoenders.  Een van ons takies was om die eiers uit te haal. Op enige gegewe dag was dit nie ‘n probleem nie, maar wanneer dit gereën het… Nou ja wel, hoenderpoep en reën is nie ‘n kind se speelmaat nie! Ons moes ook die vere uittrek wanneer my ma geslag het. Daardie nathoenderreuk is vasge-ets in die diepste bêreplekke van my brein. Vir daardie redes het ek gesê ek wil nie hoenders op die plaas aanhou. Nooit. 

Ek het toe nou na veertien jaar op die plaas besluit ek gaan tog maar die hoenderding doen. Ek het hulle drie dae in ‘n hok gehad en toe die deur oopgemaak… Die eerste paar weke het hulle saans hok toe gekom, maar toe besluit werfhoenders slaap in bome… so al om die hok en party bo-op die hok, maar nie binne nie. Ons geniet die vars plaaseiers en die kleintjies wat nooit wou eiers eet nie, geniet nou Ouma se eiertjies nadat hulle saam met my in die bos gaan eiers uithaal het en dadelik help klits het om roereiers te maak. Ek bederf my hoenders elke dag met ‘n bakkie mielies al kry hulle genoeg om te eet buite. Die kleintjies geniet dit natuurlik vreeslik om dit te strooi… as ek nie keer nie, gooi hulle ‘n week se rantsoen uit in een dag!

Die probleem met werfhoenders is dat die henne geheime plekkies soek om te lê en soms kry ek nie die nesse nie. Soms kry ek dit reg om hulle skelmpies te agtervolg en soms nie. Dan sien ek maar net een verdwyn en kom eet af en toe en verskyn dan na drie weke met ‘n swetterjoel donsies. So is daar toe nou weer ‘n hen wat weg broei en een dag so amper twee weke terug hoor ek iets bo-op my werkskamer se plafon. Dis oop van die garage se kant af vir pakplek vir Roelf. Sowaar toe ek omstap garage toe hoor ek ‘n gepiep! 

‘n Hen met pas uitgebroeide kuikens is ‘n tierwyfie soos min! Snawels en pote is uitstekende wapens teen kuikendiewe… Tussen haar en fyntrap op die balke was dit ‘n taak en ‘n half. Gelukkig het Annerine kom help met ‘n kombers om oor haar en die kuikens te gooi en ek het op die leer gestaan om die mandjie met kuikens aan te vat.  Veertien bondeltjies dons…

Drie weke tevore het ‘n ander hen twaalf kuikens gehad. Dit het nou my kuiken totaal gebring op ses en twintig, ‘n pragtige gesig om die spulletjie saam te sien skrop.

Skoolvakansies beteken vir my tyd om aan my handwerk te spandeer en ek het lekker glas gesmelt. Onder andere het ek ‘n paar uiltjies gemaak.

In my badkamer hang ‘n loodglasuiltjie van ‘n vorige vakansie se werk en in die lapa ‘n pottery uil met ‘n stukkende tak van meer as twintig jaar terug.

Vroeër hierdie week het iemand weer vir Marina ‘n jong Gevlekte ooruil gebring met ‘n beseerde vlerk. Sy sê as mens hulle op hul rug laat lê is hulle so mak soos ‘n hoender… Verseker het sy nog nie ‘n hoender gevang nie… Ek het, en dit was wild! 

Sy het x-strale geneem en gevind die radius en ulna is nie net gebreek, maar ook verplaas. 

Dis nie iets wat sommer self mooi sal aangroei nie, ‘n operasie met tydelike sjirurgiese penne is al wat sy redding sou wees. Sy werk tans vir die staat en daar is nie geld vir sulke dinge nie. Sy het vir die penne uit haar eie sak betaal en ‘n kollega wat spesialiseer in voëls het haar geleer om die prosedure te doen. 

Sy het voor die prosedure gevra of hy in my hoenderhok kan kom aansterk aangesien my hoenders nou buite slaap, maar hy sterk nou aan by ‘n gespesialiseerde uilrehabilitasie fasiliteit totdat hulle weer die penne verwyder. Ook maar goed want ek het nou weer my hok nodig…

Henne met kuikens slaap op die grond en nie in die bome soos ongebonde geveerdes nie. Die dag voor eergister het ons ontdek mammahen van die kleintjies en ‘n nege van die groot kuikens het in die nag verdwyn, sonder dat die honde vir ‘n dierasie geblaf het. Ek kon hulle nie gevang kry nie en hulle moes ‘n nag alleen trotseer. Groot probleem… die volgende oggend naa die eerste wegraap is die kuikens nóg minder, met net die drie grotes en vier van die kleintjies oor. Groot skade!

Ons kry nie vere nie, ook nie bloed of derms nie. Niks. 

Al wat ons kon kry gister is twee uitgevrete uilkuikens bo-op die watertenk… 

Of hulle ouers die kuikenwegrapers is weet ek nie, want die ander hoenders slaap in die boom reg langs die boom, sonder angstige kekkels en kraaie… En die kuikens wei daar ongestoord. Dit was ‘n proses om hulle te vang. Hulle is nou so mensverskriklik toe ek gaan kos gee hol hulle in die diepste donker hoekie in…

Hoe-hooee… my kinders moet eet…

Kekkelekê… is my kinders dan die kos?

So is die ou lewe nè… 

Advertisements
Categories: Familie, Omgee, Plaaslewe, Sommer maar net | 2 Kommentaar

Blog at WordPress.com.