Monthly Archives: Augustus 2012

Stutte vir die lewe

Ek het hierdie aanmerking gemaak op Toortsie se blog, en toe dog ek later ek kan dit dalk allenig met almal deel saam met een van my prentjies

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 4 Kommentaar

Elke nuwe dag bring hoop

Op ons plaas…

Categories: Plaaslewe, Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 1 Kommentaar

Het jy geweet dat…?

Maankind het my getag om sewe dinge omtrent myself met julle te deel. Geheime. Doodsondes. Vir Alta wat dit vir haar gestuur het, wil ek net sê dat hierdie ding al lank in omloop is onder hierdie seimste bloggers, dis net ‘n foefie en daar is nie awards nie. Net lekker lag vir ons selwers.

Dis waar dat ek van my gedagtes alreeds met julle deel op my blog, maar geheime en doodsondes? Dis my binnekamer en daar sal dit bly. Daai goed hys ek nie aan ‘n vlagpaal op nie, ek bedek dit met ‘n groot erdekoos en stoot dit onder die bed weg sodat dit maar daar alleen kan lê en stink. So vrot dit tot dit opgebreek is in nutriënte wat komposhoop toe gaan vir hersiklering vir ‘n ander ou se foute. Want ons maak immers maar almal dieselfde foute oor en oor en ons leer maar almal dieselfde lewenslessies.

Ek sal wel ‘n paar dinge met julle deel wat julle dalk nie weet nie, en interessant of ammusant sal vind:

  1. Ek het as baba stink voetjies in my gebreide sokkies gehad.
  2. My linker ringtoontjie is erg krom en dis geneties. Ten minste een sussie (lees Maankind) het ook so enetjie en van my neefs aan vaderskant. En dit wil voorkom of my kleindogter was net laasweek gebore is ook daardie toontjie het soos haar mamma.
  3. Ek gooi witpeper op my soetpatats. Dis vir my heeeerlik! Probeer dit bietjie.
  4. Ek sal maklik van hongerte doodgaan want ek vergeet om te eet. Soms onthou ek teen 22hoo dat ek nog nie kos gemaak het nie. Daar is altyd iets interessanter om te doen as om kos te maak, en veral nou wat ek alleen bly is dit soms ‘n probleem. Dankie tog vir vrugte en kaas…
  5. Ek verpes yskaswater. Ek drink louwarm water en eet my vrugte altyd teen kamertemperatuur.
  6. My kosallergieë was vir jare lank die oorsaak van onredelike woede uitbarstings wat nou nooit meer gebeur nie. Die identifisering hiervan het my lewe onherroepelik verander.
  7. Ek het nog nooit lang hare gehad nie en na ons traumas en verlies van die afgelope tyd het ek besef hoe kosbaar tyd is en dat mens dinge moet doen anders is dit verlore soos jou aardse besittings. My hare is op die oomblik die langste wat dit nog ooit was.

Om vyf ander bloggers te kry wat ek ken en wat nie alreeds genomineer is nie, is maar moeilik.

Maatjies, kom speel bietjie saam met ons… ons is lus vir lekker lag. Huil ook as julle iets het om ons te laat huil.

  • Rovati wat vir ‘n slaggie bietjie in Afrikaans kan oor haar geheime kan skryf
  • Kyker wat ‘n storie moet skryf sonder ‘n prentjie by
  • Pienkpantoffels wat net ‘n paar dae terug haar geheime kalamari-resep met ons gedeel het
  • Bileamsedonkie – net stadig oor die klippe Donks, ons wil nou nie weer die Sinode op jou hals hê en dan kom dit uit dit was ek wat jou verlei het tot die sonde nie
  • Klipindiebos wat van die aardbol af verdwyn het

Die storie werk so:

  • Erken/bedank die persoon wat jou blog genomineer het.
  • Noem sewe interessante/weird/geheime dinge omtrent jouself.
  • Nomineer ten minste vyf ander blogs.
Categories: Sommer maar net | 7 Kommentaar

Ouma Koobs

Snaaks hoe ‘n mens se persepsie oor dinge verander. Dit voel soos net nou die dag wat ek my vererg het toe die eerste hoërskoolseun my aangespreek het as “Tannie”. Nou is daar ‘n kleine dogtertjie wat eersdaags vir my gaan “Ouma” sê, en dit pla my nie in die minste nie… Inteendeel, ek kan nie wag nie!  Haar ander ouma se kleinkinders spreek haar aan as Oumie, so ek sal nie Oumie wees nie. Ek vermoed dit gaan eindig as Ouma Plaas, maar dis ook reg.

Laasweek gesels ek en van my sussies oor hoe ons maar almal op ons eie gesukkel het, met tydskrifte,  biblioteekboeke en een keer ‘n week se telefoonoproep na Ma toe as ons enigste bron van inligting. Maar… toe het ons ‘n hele week in die hospitaal gebly na ‘n baba se geboorte, borsvoeding- en geelsugprobleme is uitgesorteer voor ons huistoe is en ‘n klinieksuster het kom huisbesoek doen om seker te maak jy kom reg. Nou bly die mamma en baba een tot twee dae in die hospitaal, en moet op hulle eie die probleme hanteer. Selfone met internettoegang maak hulle is vir hulle ‘n groot hulpmiddel. Tik in “newborn jaundice” en binne sekondes kan jy lees wat die oorsaak is, hoe dit behandel moet word en watter gevaartekens om voor op te let.

Dit was vir my ‘n groot voorreg om vir ‘n week lank bietjie te gaan popspeel met ons dogtertjie. Om my kind in haar nuwe rol as mamma te sien is ongelooflik… skielik is sy ‘n volwaardige vrou! Om te sien hoe behendig my skoonseun met sy dogtertjie is, maak my hart sommer vuurwarm. Ek weet ons Zellie is in goeie hande.

Ons is ‘n familie van stérk vroue, en ek het gesien my dogter is nie aangeneem nie. Sy wou baie graag normaal kraam, in ‘n tyd waar die meeste jong meisies wat ek ken weier. En sy het, al was sy baie lank in kraam. Sy wou baie graag borsvoed, en ten spyte van probleme wat baie ander vroue laat terugdeins, byt sy vas en is dit vir haar dogtertjie beskore om neffens haar hart te voed.

Die nuwe mamma het ‘n fobie vir naalde en het haar oë uitgehuil toe die eerste bloedjies getrek moes word by die ou Gifappeltjie. Sy het buite gesit en huil terwyl pappa vir poppie vashou, net die gedagte was vir haar te veel. Ouma Koobs het maar die tweede keer vir mamma by die huis gelos en vir poplap gaan houvas toe pappa moes gaan werk.

Daar is net een ding wat geen tydskrif, geen boek, geen internetblad en geen ouma vir ‘n nuwe mamma en pappa kan leer nie… en dit is geduld. Daardie één ding is iets wat jy self moet leer. Jy moet leer dat jou ongeduld die babatjie laat stres. Maar ek kan dít vir hulle sê… dit kom eers wanneer jy ‘n ouma is, en dan ook maar net!

Of ek nou Ouma, of Oums, of Oumie of wat ook al genoem gaan word, maak nie vir my saak nie. Dis die nuwe fase in my lewe wat saak maak.

Ouma Koobs en haar Zelmarie

Categories: Familie, My klein slakkies | 2 Kommentaar

Ontmoet Zelmarie Ann van der Merwe…

… ons eerste kleinkind!

Vrydag 17 Augustus 2012

Die groot opwinding het verlede Vrydag oggend 07h00 begin toe Annerine my bel om te sê dat sy in kraam is na sewe en dertig en ‘n halwe week. Ons familie is baie na aan mekaar en die Whatsup en BBM lyne het gegons soos ons op hoogte gebly het van elke sentimeter wat sy ontsluit het.

Almal weet dat geboortes maar onvoorspelbaar is, maar sy wou graag normaal kraam en ek is dankbaar dat dit vir haar so beskore was.

Teen 18h45 het Zellie ingeweeg met 2.87kg, net 45cm lank… ‘n kleine, kleine ou babatjie.

Hier in hulle huis is nie behoorlike selfoon opvangs nie en ons sit spesiaal gou in die Wimpy om hierdie te deel. Volgende week vertel ek alles.

Wat ‘n voorreg is dit nie om vir ‘n paar dae by my dogter te kan wees nie!

Categories: My klein slakkies | 11 Kommentaar

Bekentenis van ‘n giffiedief

Lank, lank gelede was daar ‘n kind. Die kind het haar kinderlewe onbevange geleef, beskerm in ‘n kokon van ‘n oordentelike lewe.  Maar dalk was sy self nie so oordentelik as wat almal gedink het nie, want op ‘n dag het sy iets gevat wat nie aan haar behoort het nie…

Giffie is ‘n kinderspel waar drie gaatjies in die grond gegrou word so paar meter uitmekaar in ‘n reguit lyn. ‘n Ghoen, wat gewoonlik ‘n platterige klip is, word dan van gaatjie tot gaatjie gegooi. Wanneer jou ghoen in die gaatjie land, mag jy verder gooi totdat jy mis. Die spel begin om eers te bepaal wie gooi eerste, waar mens direk vanaf die beginpunt na die laaste gat gooi. Naaste aan die gat begin. Daardie posisie is ‘Jack’. Dan speel mens terug na die beginpunt wat ‘Queen’ is, en weer terug wat dan die ‘King’ posisie word. Eerste persoon by King begin dan die ander spelers elimineer deur op hulle ghoens te gooi. Wanneer jy met die eerste gooi direk in die ‘Jack’ gooi, is jy onmiddellik ‘King’. Mens mag ook ‘n opponent se ghoen ‘nick’ om jou eie in die gat te kry. Dis wanneer jy die ander ghoen raakgooi en joune val in die gat.

Die kind het mooi in goed gesien wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar het. Haar ma het vir haar ‘n klomp rivierklippies in paraffien in ‘n glasbotteltjie gebêre wat sy op haar oupa se plaas opgetel het. Die paraffien het dit laat lyk asof dit vars uit die rivier kom. Simpel goed soos rooi Chamberlain’s- en swart vanillabottelproppies was vir haar kosbare besittings.

Dis vandag nog so by laerskole dat daar speletjieseisoene is. Julle weet mos, daar kom ‘n albasterseisoen, ‘n rekspringseisoen, ‘n hopscotchseisoen… So het dit gebeur dat giffieseisoen aangebreek het in ‘n seisoen in die kind se lewe wat sy nooit sou vergeet nie.

Die kind was goed met giffie. Êrens het sy ‘n swaar plat stuk yster gevind wat ideaal in haar hand gepas het. Sy het gou ontdek dat ‘n lekker swaar ghoen beter rigting hou as ‘n ligte.

Een Maandag het ‘n ander dogtertjie baie selfvoldaan kom ‘brag’ met haar nuwe ghoen. ‘n Perfek simmetriese, plat ovalerige rivierklippie wat sy iewers oor die naweek bekom het. Die kind was stom. Hoe KAN iemand giffie speel met iets so perfek? Sy het daardie dag versigtig gespeel en nie gewen nie. Sy kon dit nie oor haar hart kry om met haar groot ysterghoen naby daardie stukkie perfektheid te kom nie.

Terug in die klas het sy skielik ‘n nood ontwikkel en oppad na die toilette vinnig by hulle speelplek gaan draai en die stukkie perfektheid gaan red. Dis hoe sy dit gesien het. Nie steel nie. Nee. Red.

Vandag is my hart baie seer. Daar was ‘n blommetjiedief in my huis. Ek weet nie of dit ‘n kind blommetjiedief of ‘n grootmensblommetjiedief was nie. Ek weet net daar was ‘n blommetjiedief.

Toe my huis afgebrand het, was ek gedwing om binne ‘n bepaalde tydsverband die opruimingswerk te doen want anders kon ek nie weer ‘n nuwe huis bou nie. Met die brand vroeër hierdie jaar is dit anders. Niks jaag my nou op op te ruim nie. Ek sien in elk geval nog nie kans daarvoor nie. Ek gaan kort-kort soontoe met die doel om te begin, maar ek krap-krap net so bietjie dan oorweldig my emosies my. So het ek nou al ‘n paar kosbaarheidjies uitgekrap en net eenkant gesit om later te gaan haal. Daar is ‘n paar kleinighede wat albei brande oorleef het.

Net voor die brand het ek ‘n muurmosaïek begin beplan en die meeste van die benodigdhede aangekoop. Dit het keramiekblommetjies soortgelyk aan hierdie enetjie bevat.

Van hierdie blommetjies het die brand oorleef. Saam met dit het ek keramiekskulpies en ‘n seeperdjie gesit wat beide brande oorleef het. Kosbare goed. Hartsbesittings.

Ek en Marina het met die brandrommel begin handwerkartikels maak, sy in die vakansie en ek hiedie naweek. Iets uit niets.

‘n Stuk geroesde doringdraad, ‘n tjipslepel en nog ander flenters rommel kry ‘n nuwe lewe in my huis

Die giffiedief het die dogtertjie se ghoen bewaar vir baie, baie jare. Sy het dit immers gered, en daarom moes sy dit oppas. Sy het dit eers verloor toe haar huis baie jare daarna afgebrand het.

Blommetjiedief. Mag jy eendag vrede vind.  Die blommetjies het ek net anderdag gekoop. Maar my skulpies en seeperdjie… My hart huil baie seer … want hulle was driedubbeld in die vuur. Ek het hulle self uit klei gemaak, glasuursel opgesit en gebak. Pas hulle op. Pas hulle asseblief net op.

Categories: Lankal terug, Slakverdriet | 7 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.