Monthly Archives: Januarie 2012

Het jy al ‘n sonbesie bekruip?

Sonbesies  val in die Orde Hemiptera, die kewerfamilie (spesifiek Cicadidae), maar lyk soos reuse vlieë.

Ek hou daarvan om hulle te bekruip. My linkeroor is my dominante oor. Ek kan direk op ‘n sonbesie afstap deur my linkeroor te volg. Die regteroor ‘hoor’ die geluid goed, maar ek sukkel om in die regte rigting te fokus.

Mannetjie sikades het klankproduserende organe wat die skril klanke voortbring.

Die enigste probleem is dat hulle ophou die oomblik as hulle bewus raak van jou. Soms is ek gelukkig dan gewaar ek hulle eerste en dan kan hy maar stilbly, ek kan stadig nader beweeg. Hulle vlieg gewoonlik ‘n entjie weg voor ek en my kamera binne fokusafstand kan kom. As jy nie sien waar hy land nie, wag jy tevergeefs vir hom om weer sy deuntjie te sing.

Dis vir my interessant om te sien dat hulle omtrent altyd op omtrent dieselfde hoogte teen bome sit, ongeveer 1.7m bokant die grond.

Ekke is maar aan die kort kant, en sukkel om ‘n behoorlike foto te neem. Die foto hieronder is tot sover my beste poging. Ek het een gekry wat nie gevlieg het nie, en het die kamera maar so in sy rigting gemik en die knoppie gedruk.

Pycna semiclara

Gaan lees ook op my ander blog oor die ander sikade wat ek vandag gevind het.

Ek het al baie sonbesies bekruip, maar kon nog min naby genoeg kom om ‘n foto te neem. Eendag gaan ek naby genoeg kom om ‘n perfekte foto te neem…

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | 10 Kommentaar

My week in kort

Tyd vir skryf is bitter min, ek LEWE teen ‘n stywe pas.

Hierdie paar frases is ‘n kort opsomming van my week:

Vrek, Lantana, vrek

saam met laaste goue vakansie ure in die veld

My nuwe huis se afwerking is harde werk

‘n Telefoonkreet in die nag wat roep

ek kan nie meer nie, ek is al weer voos geslaan

Ons bid vir ander werk en heenkome, bid asseblief saam

My boog is afgestof en ‘n paar pyle is geskiet

‘n Spul papierwerk is gedoen met baie wat nog wag

Die wonder van nuwe lewe…

Mamma, jy gaan Ouma word

Wanhoop, Sweet, Geloof, Hoop, Liefde

Categories: Sommer maar net | 3 Kommentaar

Is jy ‘n wegkruiper of ‘n nabootser?

Klink dit vir jou na ‘n vreemde vraag? As ek nou wetenskaplik korrek wil wees, dan praat ek eintlik van kamoeflering en mimikrie. Dit is twee eienskappe wat diere gebruik om óf weg te kom van ‘n aanvaller af, óf om ‘n aanval te loods op ‘n niksvermoedende prooi.

  • Kamoeflering is ‘n metode om weg te kruip. Dit veroorsaak dat ‘n sigbare organisme saam met die omgewing smelt en sodoende nie opgemerk word nie. Baie diere maak gebruik van kleur op een of ander manier om so onsigbaar as moontlik te wees vir sy slagoffer of predatoor.
  • Mimikrie is die vermoeë  om soos iets anders te lyk as wat jy werklik is, of om iets anders na te boots. Somtyds boots die dier ‘n ander dier se vorm, kleur of gedrag na; en somtyds word die natuurlike omgewing van die dier nageboots.

Gaan kyk hier by my nuwe blog om voorbeelde van kamoeflering en mimikrie in die natuur te sien.

Maar kom ons bring nou die konsep deur na die hooggeplaasde mens. Ons doen dit op al dieselfde maniere as diere. So ons het diere-maniere. So ons is diere, al leef ons in die waan dat ons nie is nie.

Hoeveel keer het jy al sekere modes gevolg net om nie uit te staan in ‘n groep nie? Hoeveel keer het jy al sekere modes gevolg SODAT jy kan deel raak van ‘n groep? Is dit nie maar net ‘n vorm van kamoeflering nie? Hierdie manier van ons om in te skakel eerder as om sosiaal gekruisig te word…

Wie ken jy wat voor ander mense mooipraatjies maak maar wat eintlik ‘n sluwe jakkals is? Daai tweegatjakkalse onder ons is maar net besig met mimikrie.

Op een of ander manier het elkeen van ons deel aan wegkruip en naboots, ons besef net nie ons doen dit elke dag nie. Ons kam ons hare op ‘n sekere manier. Ons ry met ‘n sekere kar. Ons het sekere vriende. Ons boots ‘n lewenstyl na al is ons eintlik armgatte. Ons trap ander mense in die modder in met ‘n groot glimlag sonder om te dink.

Ons is slagoffer of predatoor. So… kruip jy weg of boots jy na?  Kruip jy weg om te ontvlug of kruip jy weg om te oorwin? Of is jy ‘n individu wat op ander slinkse maniere oorleef in die waansin van ons bestaan? Want om te oorleef is nie vir sissies nie, jy moet iets doen om te keer dat jy nie in ‘n donker put verval nie – elkeen het maar sy eie manier om sy bestaansreg af te dwing.

Eintlik was dit nie ‘n vreemde vraag nie… dis deel van die oeroue skeppingsverhaal. Maar al is ons diere wat moet wegkruip of naboots om sosiaal, emosioneel en fisies te oorleef, is ons tóg spesiaal – God het ons die onderskeidingsvermoë gegee om hierdie dinge raak te sien . Om nie net te leef vir oorlewing nie, maar om te leef tot eer van Hom.

Categories: Slakgedagtes | 7 Kommentaar

Straatverhoor

‘n Paar weke terug het ek ‘n ontstellende ondervinding beleef.

Die Saterdagoggend baie vroeg was Roelf al uit die kooi. Ek hou van bietjie inlê Saterdagoggende en staan altyd eers na hom op. Na ‘n ruk kom sê hy die hoofwaterpyp is weer êrens af, die watertenk is leeg, maar hy moet eers Nelspruit toe. Vir my beteken dit ‘n uitnodiging om in die veld te kom en ek vat toe die pyp se spoor.  Ons boorgat is ‘n kilometer van die huis af en plek-plek is die pyp bogronds.  Die bokke trap gereeld ‘n gat êrens in die pyp.

Ons moes eers wag vir die plafonne om afgelewer te word voor ek kon koöperasie toe om klampe te gaan kry. Dom ou vrou wat ek is koop ek toe die verkeerdes en hy sê toe hy ry sommer saam, dis amper toemaaktyd en dan wys hy my sommer op watter rak ek moet kyk.

Ons magies het al lekker gegrom van die honger en hy stel toe voor ons koop sommer gou KFC, dit is nogal die enigte ou wegneemetetjie wat my nie migraine gee nie. Die KFC is op ‘n hoek by ons, en ons parkeer gewoonlik oorkant die straat. Ek hol toe oor maar draai net so in my spore om toe ek sien hoe besig dit binne is. Die tou staan buite die deur aan die kant waar ons nie kon sien nie.

Terwyl ek by die robot staan en wag hoor ek ‘n kabaal op die anderkantste hoek. Bottels wat breek. Goed wat val. Swart mense wat skree.  Twee wat baklei. Die een het ‘n 25 liter waterkan wat hy gebruik om die ander een se vuiste te probeer ontduik.

Die robot wil nie slaan nie. Hulle hardloop in my rigting. Wil nie oorslaan nie. Die karre ry. Ek kan nie hol nie. Wil nie oorslaan nie… Uiteindelik kry ek ‘n kans en ek hol oor die pad. Bewend ruk ek die kar se deur oop. Hulle is nou oorkant ons. Die vlugtende ene val. Onvas op sy voete strompel hy op. Hardloop voor ‘n kar in na ons rigting. Dit alles gebeur in ‘n oogwink, want my deur is nog oop toe is hulle reg voor ons kar. Roelf skree “Fokof hier by my kar!” Iemand skree iets in SiSwati. My deur is toe. Die hordes kom agterna gehol, een het ‘n leë groen bottel in die hand gereed om mee te slaan…

Oë groot en verstar. Neusvleuels wyd oopgesper. Hy keer nie meer nie. Hy is vasgedruk tussen die bakkie voor ons en ons kar. Die ander een slaan en slaan. Nie met sy vuis nie maar met die elmboog in die gesig. Die oë… is dit die bang of is dit drank of is dit drugs wat dit so stokstyf maak? Hy slaan weer maar snaaks daar is nie ‘n druppel bloed nie. Die ander is daar maar hulle kom slaan nie ook nie. Help ook nie. Maar staan gereed.

Dit voel soos ‘n ewigheid voor ons wegtrek. “Hulle gaan hom doodmaak” sê ek met ‘n bewende stem. Roelf wat SiSwati kan praat sê hulle skree hy het iets gesteel by iemand. “Toemaar, daai groot, vet swartman het hulle klaar uitmekaar gehaal” sê Roelf wat in sy truspieëltjie kyk.  Ek het nie eers die groot man raakgesien nie. Ek weet nie watter tipe of kleur klere iemand aangehad het nie.

‘n Wit waterkan, ‘n groen bottel, ‘n elmboog in ‘n gesig. Arms wat nie meer keer nie. Verstarde oë en wydgesperde neusgate . Dis al wat by my geregistreer het. Straatverhoor.

Categories: Sommer maar net | 10 Kommentaar

Desember

… is die maand van die jaar waarvan ek die meeste hou. Buiten dat dit vakansie is, is dit SOMER!

Tyd vir blog was daar tot sover nie, en die enigste rede waarom ek nou tyd het om iets op te sit is omdat dit eintlik ‘n weenklag is omdat my liewe Roelf vandag weer moes terug Pretoria toe om môre te begin werk. Wat my in sak en as laat, en vreeslik alleen.

Ons het tot sover BAIE BAIE hard gewerk… op die plaas en aan ons nuwe huis. Ons het net Kersdag en die dag daarna nie ‘verlof’ geneem nie. Selfs op Oujaar het ons tot amper sesuur gewerk en ons het die Nuwejaar ingewy met Pompom (Camputoclinium macrocephalum) spuit. Die Pompom begin saadskiet, hulle steur hulle nie aan enige spesiale dae nie.

Die hele huis buiten die stoep het vloerbedekkings gekry. Die teëls is in waar dit moet in, en al die ander vertrekke het van die nuwerwetse gelamineerde hout. Die plafonne is eerste gedoen, al die skroewe buiten die stoep se gaatjies is opgevul met Polyfilla en die basislaag van al die plafonne is geverf. Die bekabeling van die krag is klaar, al die toilette werk, die huis is klaar geverf aan die buitekant, my badkamermuur is geverf en party vertrekke se plafonne het hul finale laag verf gekry. Dis maar die groot werk wat gedoen is, die magdom klein goedjies is te veel om op te noem.

Meet en pas...

My aanstaande skoonseun sê sy lobola is nou laaankal afbetaal, hy werk nou aan ‘n erfporsie… Die kinders het almal hulle deel kom bydrae, en ook ‘n spesiale dankie vir neef Stefan wat twee dae van sý verlof afgestaan het om te kom help bou.

en dan kort dit nog net afronding...

Dit is my missie in die lewe om die biodiversiteit op ons plaas te beskerm, en ek het baie hard gewerk en daar lê nog twee weke se verlof vir my voor… Dit maak my hart baie bly om te sien dat my harde werk begin vrugte afwerp. Waar ek ander jare sakke vol Pompom  blomme oes, het ek nou nog nie eers twee sakke vol nie. Die bure moet nou net hulle deel ook begin doen, want alles wat hulle los se saadjies word maar net deur die wind opgetel…

Om die Granadinas (Passiflora subpeltata) wat in die bome inrank uit te ruk verniel vir my. Hulle ruk maklik uit, wortels ook na die lekker reën, maar die dorings… o die dorings van die lantana (Lantana camara) waarin dit oprank maak my gaar… Terwyl ek werk is ek nie eers bewus dat dit my krap nie, maar wanneer ek vanaand stort dan brand daai skrapies soos vuur van die lantana se gif.

Gevegswonde in die oorlog teen indringerplante

Ek het vir my ‘n oorpak gekoop, maar dan oorverhit ek weer. Van díé gemors het ek nou al ‘n paar sakke vol vrugte ge-oes. Ek kan verstaan dat Lantana en Pompoms vir iemand mooi was om die land in te bring. Maar Granadinas! Dit stink vrot en is giftig, vir wat iemand nou daardie granadilla  wou invoer weet nugter alleen.

Saans is ons te moeg selfs vir lees. Die e-Boek uitgewer Boekemakranka wat deur my sus Trisa bedryf word se presente is net afgelaai en word gebêre om later te lees wanneer dit weer rustiger hier by ons gaan.

Die bietjie ‘vrye tyd’ wat ek vir myself gun word gebruik om dinge met my hande te skep. Ek het vir my dogters piouter juweledosies gemaak vir Kersfees, en is halfpad met ‘n muurbehangsel vir my nuwe huis. ‘n Mosaïek vir my stoep is darem beplan en die benodigdhede is gekoop…

Die voorreg om heeldag in die veld te kan loop maak op vir die skrape, ek sien die mooiste goed… Die hoogtepunt vir díé seisoen is verseker ‘n pragtige krapspinnekoppie. Ek het hom op ‘n Pompomblommetjie gekry en toe ‘n kilometer huistoe gestap om my kamera te gaan haal. Met my terugkoms was hy nog op sy blom, maar het intussen vir hom ‘n by gevang. Wat dit nog meer spesiaal maak is die vliegie wat ook op die by is. Volgens my insekteboek behoort hierdie vlieg aan die familie Milichiidae en hulle hang rond by predatore se vangs om daar te aas. ‘n Soortgelyke foto as myne is in die insekboek. Die middag laat was die by leeggesuig en het die spinnekop gewag vir sy volgende prooi… Hy het vir twee dae op die blom gesit voor hy groener weivelde gaan soek het, en eers tóé het ek daardie blommetjie gepluk om te gaan verbrand.

Die blom, die spinnekop, die by en die vlieg, elkeen vervul sy doel in die groot skepping

Môre beplan ek weer die hele dag in die veld, en so ook vir die volgende paar weke. Vanaf die vierde Januarie is daar ‘n jongman wat vir drie weke saam met my kom werk op die plaas. Hy is ‘n student wat graag praktiese ondervinding wil opdoen op ‘n plaas en is bereid om te kom help met die indringerplantbeheer. Roelf het ook vir hom ‘n paar lekker werkies uitgedink soos om die rooibokbevolking te tel. Marina werk so by ons plaaslike veearts, en dit sal vir my ‘n plesier wees om sy tyd hier leersaam en aangenaam te maak in ruil vir sy werk. Hy is bereid om net vir kos en slaapplek te werk vir die drie weke, en weet nie dat ek hom gaan betaal nie.

Januarie is die maand waarvan ek die tweede meeste hou… dis nog somer en ek het nog twee voltydse weke oor op die plaas…

Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,,, | 3 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.