Slakverdriet

Tot wederom swaer

Ons familie is geseënd en buiten my skoonpa wat op ‘n jong ouderdom oorlede is lank voor ek vir Roelf leer ken het, het ons nog net geliefdes verloor basies as gevolg van ouderdom. Daarom is dit ekstra hartseer om ‘n eerste boetie te verloor.

Ons kon nie in persoon daar wees om koebaai te sê nie, maar ek weet dat jy die rede verstaan. Dit was so vinnig, vanaf die diagnose van verspreide kanker tot jy oorlede is, was maar twaalf dae. Dit voel so onwerklik dat jy weg is… maar jy is. Ons het ons laaste eer aan jou betoon verlede week. Van nou af is dit net: Onthou julle wat het Petrus gesê… onthou julle dit, onthou julle dat?

Elkeen wat met jou te doen gehad het, sal jou op ‘n unieke manier onthou. Verseker was jý een van die uniekste mense met wie ek al te doen gehad het, in die manier hoe jou menseverhoudinge gewerk het. Hardkoppig verby, maar jy het tóg ongemerk geluister en op jou eie tyd aanpassings gemaak. Vreemde mense het gedink jy is bot, ons wat jou geken het, het geweet jy praat maar net min en dat chit-chat jou verveel. Wanneer jy wou gesels moes die gesprek lyf hê, anders het jy geloop. Jou skerp sê-goed op ‘n onverwagte oomblik kon mens soms maar net laat lag.

Jy het gehou van kaalvoet loop en wanneer julle op die plaas kom kuier het was dit ‘n komieklike gesig om jou met daai sagte wit voetjies te sien sluip oor die gruis. Maar skoene aantrek? Nee. Tekkies? Nee. Sandale? Nee. As jy dan skoene aangetrek het was dit jou swart outydse werkskoene sonder kouse, die veters los. Vandat ek jou leer ken het meer as dertig jaar terug tot nou, het jy nooit jou klere aangepas by die mode nie. Nooit.

Wanneer jou kleinboet se hare in ‘n kant paadjie gekam word, kan mens so duidelik sien dat julle met dieselfde patroon gemaak is. Die manier waarop julle eet en julle monde trek ,vertel julle is boeties. Ek sal altyd iets van jou in hom sien, en dan aan jou dink.

Mens leer baie van mense deur te kyk hoe hulle hul troeteldiere hanteer. Jou honde en jy, veral Herklaas, was onafskeidbaar. Herklaas was waar jy was, die grote swart hond by jou voete in die huis. Jy het selfs sy seun ook Herkie genoem na sy dood, in jou verlange na hom.

Ek dink nie ek ken iemand anders wat so baie lekkergoed kan eet soos jy kon nie. Ook nie iemand wat so baie van wêreld geskiedenis af weet nie en ook nie iemand wat die binnegoed van kameras en lenses verstaan en sy eie werkende kontrepsies daaruit kan bou nie.

Ek het gou geleer jy hou nie van druk en soen nie, en met ‘n “Ja Antie” en ‘n op en af scan van kop tot tone, sonder om lelik te kyk, was ek gegroet. Ek het dan gesê “Hallo Oom” en dit was dit. Die scan het beteken jy neem kennis van my nuutste haarstyl, die klere wat ek aan het of wat ook al en dan sou jy op ‘n onverwagse tyd ewe droog ‘n aanmerking maak.

Jou studeerkamer was jou koninkryk waar jy die grootste deel van elke dag spandeer het. As iemand bereid was om die moeite te doen om die trappie na benede te daal, dan was jy bereid om ‘n geselskap te voer… mits jy nie kom sit en bolle pik daar nie.

Ons gaan al jou maniertjies mis, dit het jou gedefeniëer in die mens wat ons geken het en vir wie ons lief was.

Tot wederom Oom.

image

Petrus du Preez

Advertisements
Categories: Slakverdriet | 4 Kommentaar

‘n Stukkie van my hart is uitgeruk

Dis geen geheim dat ek lief is vir die natuur nie, en dat ek omgee vir die plante en diere en elke klein goggatjie. Ek het al letterlik duisende foto’s van elke lewende en nie-lewende ding wat ek dokumenteer vandat ons die plaas gekoop het einde 2003. Elke lewendige organisme probeer ek identifiseer en maak ruspes groot om te sien hoe die volwasse insek lyk. Ek is die trotse eienaar van my Caterpillar Rearing Badge. Hierdie data word aan wetenskaplikes gestuur en op hierdie manier dra ek op ‘n eenvoudige manier by tot nuwe wetenskaplike inligting. Ek is ‘n paar weke gelede genader deur ‘n persoon oorsee wat van my data en foto’s in sy boek gaan gebruik.

Meer as 350 verskillende blommende plante is al op my lysie, en die hoeveelheid insekte, spinnekoppe en ander lewende organismes groei teen ‘n tempo. Ek kan elke plant se plek gaan wys waar ek dit gekry het.

Ek het ‘n intense passie om elke indringerplant te beveg met alles beskikbaar, om sodoende biodiversiteit te bewaar vir my nageslag. Ekself loop dae in skoolvakansies om Lantana uit te roei, dis benewens twee permanente werkers wat ons aangestel het slegs vir daardie doel. Jaarliks kry ons ook hulp van Work for Water, in die vorm van plantgif en ‘n span wat vir twee weke kom help uitroei. Dis ‘n langsame proses, daar is saad in die grond vir baie jare en so vinnig as wat jy uitroei, kom dit maar weer op. Maar stadig maar seker wen ons weiding terug. Stadig. Maar seker.

Party blomme is algemeen, ander het ek een keer gesien en nooit weer nie. Tot sover het ek vier orgideespesies gekry, een daarvan die lieflike epifiet, Ansellia africana.. Hy groei net op een plek op die plaas en Roelf het al male sonder tal gesê ek moet hom gaan verdeel en ‘n stukkie in ‘n boom by die huis kom vestig. Elke keer het ek gesê nee, dalk volgende seisoen. Wilde plante hoort tog waar hulle hoort… Dis word immers op die Rooi Data Lys geklassifiseer as ‘vulnerable’

Although no accurate values for the number of individuals or subpopulations are known due to the widespread nature of its distribution, it is it known that entire areas are destroyed during collection of Ansellia africana. Even if several subpopulations are known to exist within protected areas, large numbers of A. africana are under no form of protection and with the constant (or increasing) level of harvesting apparent throughout its range a population size reduction over the last few decades (generation length estimated as approximately 10 years) of over 30% can be inferred. This is based on the actual levels of exploitation and a reduction in mature individuals which are often the focus for collection, with the additional threat of habitat destruction. A future reduction of 30% over the next 30 years is also suspected due to their being no sign of a reduction in harvesting levels nor habitat destruction. This species has been categorized as Vulnerable under criteria A2cd and A3cd.”

Ansellia africana

Ansellia africana se pragtige geel blommetjies is ook welriekend

ansellia africana IMG_3127

Ansellia africana, in natuurlike habitat

As ek hom maar by my huis geplant het, dan het hy dalk nie afgebrand nie, want een van die groot redes waarom hy so onwettig gestroop word is om huishoudings teen weerlig te beskerm. “This species is an ornamental, and is therefore heavily collected throughout its range. In South Africa it is used as a love charm, as an antidote for bad dreams and at homesteads to ward off lightning.”

‘n Paar weke gelede het kwaaddoeners ‘n veldbrand gestig by die pad waar die plaas grens met die bure. Roelf en skoonseun het vieruur in die oggend gaan blus en die buurman gekontak waar die vuur vandaan gekom het. Hulle het nie hulle kant gebring nie en net na elf die volgende dag was die vuur buite beheer en het weer oorgekom na ons toe. Negentig persent van ons plaas het gebrand, ons het ‘n sebra en wildebees verloor… en ons koop nou nog voer aan vir ons diere.

Die naweek na die brand het ons bestek geneem en aangesien dit lente is en tyd vir my Ansellia om te blom, was dit een van my prioriteite om te gaan kyk of hy oorleef het. Die bos waarin hy groei het gebrand, met klein kolletjies wat oorleef het. Soos ons aangestap het, was my hart in my keel… as en swart net waar jy kyk… Nader en nader en toe Roelf sê “Kyk… rondom die orgidee se boom het dit nie gebrand nie!” Ek wou huil van blydskap… dis juis so mooi skoon van Lantana na die Work for Water span daar gewerk het, en dis dalk die rede dat dit nie in daardie spesifieke plek gebrand het nie.

My blydskap het verander in woede… waar my pragblom moes wees, was… niks. NIKS. Nie swart gebrande as nie, net niks. Iemand het my plant gesteel. My plant waarop ek so heilig was en nie eers self wou verdeel nie, is af gesteel. ‘n Stukkie van my hart is uitgeruk. Weg vir altyd, want dit was die enigste een op die plaas… net nog ‘n deeltjie in die stroperstatistiek van ons land. Indien die persoon wat hom geneem het dit dalk nog gebruik het as muti vir ‘n siekte, dan sou ‘n spinnerakkie dalk die gat in my hart kon toemaak. Maar as deel van bygelowe? Nee, daarvoor is die gat te diep vir selfs ‘n spinnekop om te probeer klim.

Net die oorblyfseltjies van 'n paar worteltjies is bewys dat daar wel 'n epifiet aan dit tak gegroei het

Net die oorblyfseltjies van ‘n paar worteltjies is bewys dat daar wel ‘n epifiet aan dit tak gegroei het

Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | 19 Kommentaar

Boomgom

Vandag hang ek my kop in skaamte. Ek het twee mense liederlik gefaal en hoop dat dit my vergewe sal word.

Ek is deel van die span wat hierdie jaar ons skool se matriekafskeid reël, en glo vir my, dis harde werk. Ons is al van einde verlede jaar af besig met klein voorbereidinkies, maar met die groot aand môre-aand, lewe ek op die oomblik in ‘n tuimeldroër. Net wanneer ek dink ek is bo, dan wiel ek rondomtalie en val ek weer op my kop.

Ons gebruik nie akademiese tyd vir ons voorbereidings nie, alles word smiddae en saans gedoen.

Vanoggend net met die aanvang van die tweede periode bel Sakhile, een van ons twee plaaswerkertjies. Hy kan skaars Engels praat, en ek gladnie SiSwati nie. Kommunikasie gaan gewoonlik gepaard met wilde arm bewegings om aan te dui waaroor die gesprek nou eintlik gaan.

Hy en sy broertjie bly in die lokasie en ry elke dag fiets plaastoe.  Toe ek nou uiteidelikdie gebroke Engels bymekaar sit is dit wat hoor “Fire close to home, I don’t know where is comes from” was my veronderstelling onmiddellik dat daar weer ‘n veldbrand is by die huis. “Sakhile, I am on my way!”

Ek het my sleutels en handsak gegryp, vir my klas gesê ek het ‘n krisis, die brandweer en LEFPA gebel om ‘n brandspan bymekaar te kry, my dogter in haar klas gebel om haar man te bel dat hy moet kom, ontvangs toe gehardloop om iemand in te lig van my krisis en dat daar ‘n klas sonder ‘n juffrou is, in my kar gespring en gebewe. By die hek gekom was hy gesluit, terug gehol om iemand met ‘n afstandbeheertoestelletjie te kry, terug gehol en net toe ek deur die hek is bel my dogter om te sê dat skoonseun vir Sakhile gebel het en dat dit nie ‘n veldbrand by die huis is nie.

Dit is Sakhile en Sibosisu se huis wat afgebrand het. Vanoggend al.

Terug werk toe, bel die brandweer en LEFPA om die nood te kanselleer. Besig bly. Besig bly. Moenie dink nie. Moenie. Maak die kokon se deurtjie styf toe en gaan aan met die dag soos wat hy beplan was. Spring in die tuimeldroër, fokus net op die take wat beplan was vir die dag.

Half vier is ek druk besig met die matriekafskeid toe my telefoon lui.

Sakhile. Sy dun verwese stemmetjie ruk my terug tot die werklikheid. “Miss, are you still coming?” En net daar slaan die werklikheid my. Hulle nood. Hulle verwesenheid. Wat ek ken maar wat ek nie wil ken nie. Wat ek baie graag van wil vergeet.  Wat ek toesmeer met ‘n rit in die tuimeldroër. Ek is al een wat hy kan bel om te kom help. Sy vroutjie is in Swaziland. Sy ouers ook. Roelf is in Johannesburg. Hulle  het net vir my. En ek het myself in ‘n kokon toegesluit om nie te dink aan my eie ervaring nie. Ek faal hom in hulle nood, die enigste persoon wat hom en sy broertjie nou kan help. Al wat ek kan vra is vergiffenis voor God.

Ek het dadelik gelos waarmee ek besig was, verskoning gemaak, skoonseun gebel om die twee te gaan haal en hulle by Pep gekry. Al het ek hom nie teen my lyf vasgedruk nie, het my oë dit gedoen toe ek in syne kyk. Vanaand hoef hulle nie koud te slaap nie. Môre en oormôre het hulle iets om aan te trek. Hulle kon eet vanaand. Was en afdroog. Christo sou hulle plaastoe vat, maar vriende het aangebied dat hulle daar kon gaan slaap, wat hulle verkies het. Vir die dag na oormôre sal ons die naweek planne maak.

Sorry Sakhile. Sorry Sibosisu.

Ek het vandag besef dat voordat bas oor ‘n snoeimerk groei, daar soms eers gom uitloop en dat die wondjie maar nog rou is indien die gom afgekrap word. Dit vat langer vir bas om te groei as wat ek gedink het, en mens moenie gom met bas verwar nie.

Categories: Omgee, Slakverdriet | 9 Kommentaar

Verlies

So jaar terug het my ma gevra dat ek asseblief iets oor verlies skryf. Ek was egter nie gereed daarvoor nie, want ek was te verwese oor my eie verlies om buite daardie perspektief te kon skryf. Gister se skrywe oor die diepte van verwesenheid, en twee persone na aan my wat intense verlies ervaar met die verlies van ‘n kindjie en ‘n eggenoot wat terminaal is met kanker, het my laat besef dat ek nou aan Ma se versoek kan aandag gee. Die meeste soektogte met soekenjins wat op my blog beland het ook betrekking op die onderwerp, en ek hoop dat dit wat ek vir jou gaan sê vir jou vertroosting sal bring. Die skrywe oor verwesenheid gaan ook ingevleg word in hierdie stuk.

Verlies beteken om iets te verloor. Hoe jy reageer oor jou verlies gaan uiteindelik bepaal hoe lank dit gaan neem om daardie verlies te verwerk, wat die lengte van jou rouproses gaan bepaal.

Drie mense kan dieselfde ding verloor, maar elkeen gaan in sy eie uniekheid anders reageer oor die verlies. Een sal net kan skouers skud en ongeërg aangaan met sy lewe. ‘n Ander een gaan hartseer wees oor die verlies, vir ‘n tyd rou, en dan aangaan. Die laaste een is die een wat teen die grond geslaan word deur dit wat verlore is.

As mens nou daaroor dink, dan het die eerste een se ding wat verlore is, nie werklik saak gemaak vir hom nie en daarom is daar nie werklik ‘n impak nie. Die tweede persoon is hartseer, want dit wat verlore is, het wel ‘n betekenis gehad in sy lewe gehad, dit sal gemis word maar die verlies word gou verwerk. Die laaste een is die een wat verwese gelaat word deur die verlies, teen die grond, in ‘n put waarvan die diepte kan verskil, omdat die verlies ‘n baie groot impak het op die persoon se lewe.

Verwese… ‘n Kort woord wat swaar gelaai is aan emosie. Verwese. Verslae. Verslaentheid. Hoe verwoord jy die diepte van verwesenheid?

Wanneer jy daar onder in die dieptes is, is dit donker. Dis koud. Dis alleen. Jy weet nie watter kant toe nie.

Die dag na ons huis afgebrand het, het een van my liewe sussies gevra wat ek nodig het, sy is in die winkel. Ek onthou dat my antwoord was dat ek te verwese is om dit te weet, want ek het alles nodig en ek weet nie wat die nodigste is nie. Verwese. Dis wat ek gevoel het. Enkel. Gesnoei tot ‘n enkel tak.

Ek het geleer dat ons Vader leertjies het wat kan reik tot in die diepste van diepste putte van verwesenheid. Daardie lere word genoem: geloof, hoop, liefde. Dit kom van Hom af en Hy stuur familie, vriende, kennisse en vreemdes om die lere te help dra. Dit hang van jouself af of jy jou oë gaan oopdwing om die spatseltjies lig te kan sien wat saam met ‘n leertjie kom.

‘n Mens kan nie die diepte van verwesenheid verwoord nie, want daardie gevoel is ‘n allesomvattende gevoel van totale verslaentheid. Dis persoonlik. Dis in die diepte van jou siel. Ek dink egter dat ‘n mens die situasie kan verwoord wat gelei het tot daardie gevoel sodat jy dit kan verwerk. Jy kan jou oë oopdwing om die spatsels hoop en liefde te sien. Jy kan jouself oopmaak om dit te ervaar. Elke spatseltjie groei na meer lig totdat jy net op ‘n dag besef dat daar weer takkies aan jou groei. Later selfs blare en klein blombloeiseltjies.

Dis waar dat die letsels van ‘n intense snoei altyd daar sal wees, maar dit word oorgroei met nuwe bas om die seer weg te vat.

Glo my, daar is lewe na verwesenheid. Daar ís.

Dis so maklik om ‘n kokonnetjie om jou te bou wat ander mense heeltemal uitsluit wanneer jy intense verlies ervaar. Dit is waar dat sekere gedagtes en gevoelens te privaat is om met ander mense te deel, en dis goed so. Mens hoef jouself ook nie heeltemal nakend voor ander te los nie. Daarvoor is God daar. Hy ken jou gedagtes en gevoelens sonder dat jy dit vir Hom hoef uit te spel. Maar laat Hom egter toe om mense te gebruik wat jou met ‘n sagte, warm donskombers snoesig omvou. Haal uit jou kop onder die kombers, anders is dit ‘n kokon en gaan jy die lig mis wat vir jou skyn, want as jy dit nie doen nie gaan jy in ‘n dieper put val. Dis die put wat depressie genoem word.

Verwesenheid en depressie is nie vir my dieselfde ding nie. ‘n Mens kan depressief wees sonder dat jy verwese is. Dit gaan ook nie oor hoe diep jou put is nie, maar dit maak saak wat jy doen om uit die put te kom. Gryp jy die lig of trek jy die kombers oor jou kop.

Een persoon kan ‘n eggenoot verloor, platgeslaan wees daardeur en later weer trou. ‘n Ander een kan dieselfde ervaar maar stap alleen die toekoms in. Dit beteken nie dat een van die twee hulle eggenote minder of meer liefgehad het nie. Elkeen doen wat reg is vir sy eie situasie en die geleenthede wat weer op jou pad kom. Een resep bak nooit dieselfde koek nie. Een koek het dalk net te lank gestaan voor dit oond toe is, ‘n ander een se meel verskil en ‘n ander een het botter en nie margarine, al het die resep gesê smeermiddel. Doen wat reg is vir jóú.

Hoe sien mens dan die lig? ‘n Mens maak jou oë oop deur jou seëninge te tel, síén daardie silwerrandjie om ‘n donker wolk. Dis ‘n keuse wat jy moet maak, en nét jy kan dit maak. Gun jouself die leertjies van lig wat ander vir jou gee. Leer om net te sê: Dankie. Dankie sonder om onmiddellik iets te wil terug gee of terug doen. Net dankie. Later wanneer jy uit jou put is, dan is dit weer die tyd van gee. Gee sonder om iets terug te verwag, anders is dit maar net ‘n ruilproses en nie gee nie. Vir my persoonlik was daardie konsep van ontvang baie moeilik om te aanvaar. Dis dalk een lewensles wat ek uit my eie verlies moes leer. Om net dankie te sê. Dis BAIE makliker om te gee as om te ontvang. Mense neem nie altyd jou menswaardigheid in ag wanneer hulle gee nie. Hou jou kop hoog wanneer dit nodig is dat jy net dankie sê, en as jy gee, dink aan die ander persoon se trots.

Wat leer ons uiteindelik uit verlies? Verlies is ‘n geleentheid om weer vas te gryp aan God se ankertoue. Dis ‘n geleentheid om te bou aan die enigste verhouding wat veronderstel is om saak te maak, wat ons so maklik laat glip. Dis ‘n tyd om te bid vir die verwesenes. Moet nooit die krag van gebed onderskat nie, dit is die dikste ankertou met die grootste lig.

Vir elkeen wat verlies ervaar en verwese is, baie sterkte met jou pad. Gryp die leertjies en ankertoue, hoe gouer jy gaan gryp, hoe gouer gaan die put al vlakker word. Moet nooit vergeet dat verlies saamgaan met ‘n rouproses nie. Wees bedag op die stappe in die rouproses, sodat jou oë kan oop wees om die leertjies en die lig te kan sien, sodat nuwe bas ‘n letsel vorm en nie ‘n bose sweer toemaak nie.

Voetspoor

Categories: Omgee, Slakgedagtes, Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,,,,,,,,,,,,,, | 2 Kommentaar

Vrypas hemel toe

‘n Harde knal. ‘n Koeëlronde gaatjie waaruit ‘n bloedrooi slangetjie seil. ‘n Paar stuiptrekkings. Vrypas hemel toe.

Vroegoggend lui my telefoon. “Hallo. Ek wil net seker maak dat jy al wakker is. Jy het gister gesê jy gaan vanoggend kerk toe.” begroet my man se stem my, wetende dat ek ‘n naguiltjie is maar soggens sukkel om aan die gang te kom. “Hallo. Jip, ek is op. Nog deur die weer, maar op.” Die rekenaarstelsel waaraan hy werk in Johannesburg het lewendig begin loop die naweek en hy werk harde, harde ure. Miljoene rande van sy kliënt is op die spel en tyd vir huistoe kom is daar nie.

Die hek staan op ‘n klein skrefie oop. “Seker weer die kameelperde wat ‘n takkie op die spoor laat val het in ‘n poging om die sappigste blaartjies buite by te kom voor ek gistermiddag ingekom het.” dink ek en druk die knoppie toe ek niks gewaar nie.

Die hek gee ‘n ruk en begin beweeg. Staan weer stil. Begin weer rukkering beweeg. Staan stil. Dis met die uitklim wat ek dit hoor. My hart ruk yskoud en my verstand staan stil. Die hek se siklus wil hom toemaak. Verstar volg my oë die geluid. Die geblêr van die jong duikerooitjie sny tot in my siel en ek hoor ‘n beentjie breek. Ek sien hoe sy saamsleep, haar regter voorbeentjie amper heeltemal afgeskeur van haar lyfie.

Met die hek heeltemal toe, is sy stil. Haar ogies staar beangs in myne vas, met haar koppie probeer sy deur die tralies beur. Sy is vasgevang in ‘n gleuf tussen die hek en ‘n muurtjie, haar beentjies verstengel in die tralies. Stukkend. Stúkkend! Met ‘n snik wat rou wurg in my keel draai ek weg. Gaan sit in my kar. Bel ‘n vriend om sy geweer te bring toe ek uiteindelik in staat is om te praat.

‘n Harde knal. ‘n Koeëlronde gaatjie waaruit ‘n bloedrooi slangetjie seil. ‘n Paar stuiptrekkings. Vrypas hemel toe.

Vasgevang

Vasgevang

Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | 13 Kommentaar

Bekentenis van ‘n giffiedief

Lank, lank gelede was daar ‘n kind. Die kind het haar kinderlewe onbevange geleef, beskerm in ‘n kokon van ‘n oordentelike lewe.  Maar dalk was sy self nie so oordentelik as wat almal gedink het nie, want op ‘n dag het sy iets gevat wat nie aan haar behoort het nie…

Giffie is ‘n kinderspel waar drie gaatjies in die grond gegrou word so paar meter uitmekaar in ‘n reguit lyn. ‘n Ghoen, wat gewoonlik ‘n platterige klip is, word dan van gaatjie tot gaatjie gegooi. Wanneer jou ghoen in die gaatjie land, mag jy verder gooi totdat jy mis. Die spel begin om eers te bepaal wie gooi eerste, waar mens direk vanaf die beginpunt na die laaste gat gooi. Naaste aan die gat begin. Daardie posisie is ‘Jack’. Dan speel mens terug na die beginpunt wat ‘Queen’ is, en weer terug wat dan die ‘King’ posisie word. Eerste persoon by King begin dan die ander spelers elimineer deur op hulle ghoens te gooi. Wanneer jy met die eerste gooi direk in die ‘Jack’ gooi, is jy onmiddellik ‘King’. Mens mag ook ‘n opponent se ghoen ‘nick’ om jou eie in die gat te kry. Dis wanneer jy die ander ghoen raakgooi en joune val in die gat.

Die kind het mooi in goed gesien wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar het. Haar ma het vir haar ‘n klomp rivierklippies in paraffien in ‘n glasbotteltjie gebêre wat sy op haar oupa se plaas opgetel het. Die paraffien het dit laat lyk asof dit vars uit die rivier kom. Simpel goed soos rooi Chamberlain’s- en swart vanillabottelproppies was vir haar kosbare besittings.

Dis vandag nog so by laerskole dat daar speletjieseisoene is. Julle weet mos, daar kom ‘n albasterseisoen, ‘n rekspringseisoen, ‘n hopscotchseisoen… So het dit gebeur dat giffieseisoen aangebreek het in ‘n seisoen in die kind se lewe wat sy nooit sou vergeet nie.

Die kind was goed met giffie. Êrens het sy ‘n swaar plat stuk yster gevind wat ideaal in haar hand gepas het. Sy het gou ontdek dat ‘n lekker swaar ghoen beter rigting hou as ‘n ligte.

Een Maandag het ‘n ander dogtertjie baie selfvoldaan kom ‘brag’ met haar nuwe ghoen. ‘n Perfek simmetriese, plat ovalerige rivierklippie wat sy iewers oor die naweek bekom het. Die kind was stom. Hoe KAN iemand giffie speel met iets so perfek? Sy het daardie dag versigtig gespeel en nie gewen nie. Sy kon dit nie oor haar hart kry om met haar groot ysterghoen naby daardie stukkie perfektheid te kom nie.

Terug in die klas het sy skielik ‘n nood ontwikkel en oppad na die toilette vinnig by hulle speelplek gaan draai en die stukkie perfektheid gaan red. Dis hoe sy dit gesien het. Nie steel nie. Nee. Red.

Vandag is my hart baie seer. Daar was ‘n blommetjiedief in my huis. Ek weet nie of dit ‘n kind blommetjiedief of ‘n grootmensblommetjiedief was nie. Ek weet net daar was ‘n blommetjiedief.

Toe my huis afgebrand het, was ek gedwing om binne ‘n bepaalde tydsverband die opruimingswerk te doen want anders kon ek nie weer ‘n nuwe huis bou nie. Met die brand vroeër hierdie jaar is dit anders. Niks jaag my nou op op te ruim nie. Ek sien in elk geval nog nie kans daarvoor nie. Ek gaan kort-kort soontoe met die doel om te begin, maar ek krap-krap net so bietjie dan oorweldig my emosies my. So het ek nou al ‘n paar kosbaarheidjies uitgekrap en net eenkant gesit om later te gaan haal. Daar is ‘n paar kleinighede wat albei brande oorleef het.

Net voor die brand het ek ‘n muurmosaïek begin beplan en die meeste van die benodigdhede aangekoop. Dit het keramiekblommetjies soortgelyk aan hierdie enetjie bevat.

Van hierdie blommetjies het die brand oorleef. Saam met dit het ek keramiekskulpies en ‘n seeperdjie gesit wat beide brande oorleef het. Kosbare goed. Hartsbesittings.

Ek en Marina het met die brandrommel begin handwerkartikels maak, sy in die vakansie en ek hiedie naweek. Iets uit niets.

‘n Stuk geroesde doringdraad, ‘n tjipslepel en nog ander flenters rommel kry ‘n nuwe lewe in my huis

Die giffiedief het die dogtertjie se ghoen bewaar vir baie, baie jare. Sy het dit immers gered, en daarom moes sy dit oppas. Sy het dit eers verloor toe haar huis baie jare daarna afgebrand het.

Blommetjiedief. Mag jy eendag vrede vind.  Die blommetjies het ek net anderdag gekoop. Maar my skulpies en seeperdjie… My hart huil baie seer … want hulle was driedubbeld in die vuur. Ek het hulle self uit klei gemaak, glasuursel opgesit en gebak. Pas hulle op. Pas hulle asseblief net op.

Categories: Lankal terug, Slakverdriet | 7 Kommentaar

Die mens wik, maar God beskik

Dis vir my vreeslik hoe ‘n wat jy dink ‘n normale dag in jou lewe sou wees, skielik ontaard in ‘n nagmerrie. My sewe maande swanger kind kuier bietjie by my en op ons beplanning vir gister was om vir babatjie haar laaste paar goedjies te gaan koop, dan lekker tee drink met een van haar vriendinne en om daarna bietjie by die InniBos feesterrein te gaan draai. Ons eet elkeen net ‘n beskuit voor ons ry, want ons beplan lekker eet in die Mall.

Maar die mens wik en God beskik. Ons was nog in die Illanga mall in Nelspruit toe my vriendin Bianca bel. “Kobie, waar is jy?” Wanneer iemand dit vir my vra, dan weet ek al dis geen gewone oproep nie. “Ek en Annerine is in die mall. Hoekom?” Haar antwoord het my yskoud laat word. “Want ek en Enca is nou net verby jou plaas en dit brand.” Vader help. Nie weer vuur nie.

Bid. Tick. Bel die brandweer. Tick. Bel vir Roelf. Tick. Bel vir Emelina. Tick. Moenie panick nie. Tick. Bel vir nog hulp. Tick.

Wanneer mens by die bergpas kom, dan kyk jy uit op die Barberton vallei. En ons sien die swart en grys rookwolke van daar af. Moenie panick nie. Tick. Ry versigtig en moenie teen die pas afjaag nie. Tick. Probeer ophou bewe. Tick. Gee vir Annerine my foon sodat sy ‘n Facebook inskrywing kan plaas namens my vir ‘n gebedsoproep.

Dit was gelukkig nog nie ver gevorder nie, maar die wind was STERK. Ek kon verby jaag huistoe om werksklere aan te trek en my spuitkan te kry en ekstra kanne met water. Hare vasgemaak dat dit uit die pad is. Ek het die buurman gebel waarheen die vuur beweeg indien ons hom nie kon keer nie, en hy was ook in die dorp. Ons moes die brandweer nog ‘n keer bel. Hulp het begin opdaag. Party sommer vanself. Die brandweer was dit eens dat ons nie die vuur met water sou kon blus nie. Hulle ry weg na die buurplaas waarvandaan die brand gekom het om hulle chalets te gaan beveilig en ons sien hulle nie weer nie, hulle het ander nood as ons en los vir my ‘n selfoon nommer indien ons vuur buite beheer raak. Ons besluit om terug te brand en sodoende te keer dat dit verder versprei.

By hierdie pad het ons hom gekeer

As jy nog nooit ‘n veldbrand beleef het nie… dis verskriklik. Mens kan nie die hitte oorvertel nie. Jy storm in en slaan so paar slae dan brand jou longe en jou oë en jou hele lyf brand soos ‘n kool vuur van die rook en die hitte.  Vir Annerine het ek huistoe gestuur sodat sy nie die rook moet inasem nie. Sy bly paraat en bring ‘n broodjie en koeldrank toe ek wil flou val. Drinkwater. Wanneer die vlamme aan ‘n olienhoutboom lek tel sy eeen… tweee… driee… dan is die boom weg.  Dis verskriklik! Maar dis ook verskriklik mooi. Ek het gewens ek het my kamera daar gehad, ‘n selfoon is so beperk en ek het ook my battery wat reeds halfpad pap was probeer spaar vir kommunikasie.

Ek sien hoe die vuur oorspring na die buurman toe en al wat ek kan doen is om hom te bel. Drie plase langs mekaar wat brand… Met ons inbrand kon ons die vuur stuit aan ons kant, en dit het nog ‘n ruk by die bure geneem. Tydens nabetragting staan ek en ‘n vriend en gesels toe ‘n bondel droeë sebramis minder as 20cm van ons voete af begin smeul as gevolg van ‘n kooltjie wat die wind aangedra het. Só is veldbrande. Dit hou nie op nie.

Toe almal weg is het ek agtergebly met my spuitkan om die stompe nat te spuit. Indien die wind weer optel, is daardie kooltjies wat waai genoeg om ‘n nuwe brand te begin. Dis hoe dit begin het gister. Die een plaas het drie dae terug gebrand. My liggaam bewe nog van die adrenalien en werk is al manier om dit uit te kry.

Laataand was ek pikswart.

Laatmiddag spuit ek nog water en toe ek weer opkyk sien ek net vlamme by die buurman, reguit oppad na my toe na die gedeelte wat nie gebrand het nie. Terwyl ek besig was om hom te probeer bel, bel hy en sê hy dink ek moet gaan kyk, dit lyk of die vuur weer by my opgevlam het. Hy glo my eers nie toe ek sê ek is dáár en dis nie by my nie. Ek bel weer die brandweer en ander hulp. Hierdie keer word die brandweervoertuig vinnig gestuur. Gelukkig het die wind heeltemal gaan lê en is dit ‘n koue vuur wat brand. Ek, die brandweer en my vriende slaan die vuur op die buurman se plaas, terwyl hy knus in sy huis sit. As dit nie vir my ‘n gevaar was nie, het ek gisteraand daai vuur gelos. Ek klouter die ses voet grensdraad heen en weer asof ek dit elke dag doen om te help om die brandweerwa se brandslang heen en weer te trek.

Eers wanneer jy iets het om dit mee te vergelyk, kan mens die omvang van die vlamme besef.

Ek wens ek kon alles vasvang. Op ‘n stadium het ek en een van die brandweermanne dieselfde gesig met ons selfone probeer vasvang, maar beide onsuksesvol  – ‘n majestieuse papierbas wat vlamvat. In die donkerte het dit soos ‘n boom vol liggies gelyk. Dit het gelyk asof elke takkie ‘n ry liggies op het. Dis die gasse uit die boom wat vrygestel word wat begin brand. En dan skielik is die hele boom oortrek met groot vlamme en word dit ‘n vúúr.

Dis smeulende stompe soos hierdie wat jou nagmerrie van more is

Laataand was die vuur geblus en het  net die smeulende stompe oorgebly. Ek en ‘n jongman wat ek van geen kant af ken nie, het weer deurgeloop en al die gevaarlike smeule by my kant gespuit. Ons het die wat regop gestaan het omgestoot sodat dit ‘n kleiner risiko was. Ek flits, en hy spuit. Hy gee vir my sy nommer en sê “Tannie, bel my vannag as dit nodig is. Ek kom.” Half tien stap ek in die huis in, asvaal en bewend van al die adrenalien en moeg. Gelukkig het ek die vorige dag ‘n pot sop gemaak en kon ek vinnig iets inkry. Toe gaan maak ek weer my kanne vol sodat ek nie onverhoeds in die nag betrap word nie, en daarna het ek gaan bad.

Slaap wou maar net nie kom nie. Ek kry elke dag ‘n ‘Vers vir die dag’ en toe my vers kom vir vandag was ek meer as net onsteld. Ek was vreesbevange omdat ek reeds twee keer my aardse woning verloor het. Die laaste keer was sommer net nou die dag. Lees dit en jy sal dalk my kleingelowigheid en angs vir die nag wat voorgelê het verstaan.

“Jou woonplek is tydelik

Carina Francke

Teksvers: 2 Kor 4:16; 5:1

 Tentbly is lekker, maar permanent?! Sekerlik nie die ideaal nie, want die elemente speel nie altyd saam om dit ‘n aangename verblyf te maak nie.

 Paulus gebruik hierdie beeld om ons verblyf in ‘n deurmekaar en stukkende lewe wat aan elemente soos siekte, hartseer, honger, teleurstellings, ouderdom en dood blootgestel is, te beskryf, maar ook om ‘n hoopvolle verwagting by ons op te wek:

“daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. (4:16). Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.”(5:1) Ons is daagliks pynlik daarvan bewus hoedat ons tentwoning aan’t verweer is, maar dit moet juis die verwagting van ‘n ewige huis in ons wakker maak. En daardie huis is een wat nooit kan verweer nie, omdat dit ‘n geestelike huis, ewig, in die hemele is. Die daaglikse swaarkry en die aftakeling van ons liggaam moet ons nooit moedeloos maak nie, want ons het die belofte dat “

Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek…” (2Kor4:14) Begin liewer jou lewe voluit leef en fokus op die eindstreep wat in sig is en op die prys van ‘n nuwe (heel en gesonde) huis. Dit ís moontlik want jou 24/7 Metgesel loop elke tree saam met jou.

 In teenstelling met die uiterlike, word ons innerlike daagliks vernuwe. Jy sien, ons hart, ons gees, ons ‘binne-menswees’ het lewend geword toe ons 24/7 Metgesel – die Drie-eenheid woning by ons kom maak het. Deur ons verhouding met Hom en Sy inspraak in ons lewens wanneer ons die Woord lees, bepeins en doen wat daarin staan, word ons innerlike mens op wonderbare en misterieuse wyse verander om nooit te verouder nie. G’n wonder nie dat Paulus hoopvol aanbeveel:

Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe…. om Hom welbehaaglik te wees.” (2Kor5:9).

Gebed: Vader, dankie vir die wete dat ek in my binne- mens nooit sal oud word nie en dat my sterwende liggaam opgewek gaan word deur U krag.”

Ek het my wekker vir 02h00 gestel sodat ek kon gaan stomp- en windinspeksie hou. Teen daai tyd het ek nog nie geslaap nie en vanuit my kamer kon ek sien dat dit absoluut windstil was, en met die maan reeds weg kon ek sien niks brand nie. Ek het bly lê en my wekker vir 04h00 gestel. Ongeveer 03h00 het ek eers aan die slaap geraak en toe so nagmerries gehad dat ek gedink het ek het myself wakker geskree. Toe staan ek maar op en ry. Daar was vlammetjies by die een stomp en ek het my watertjies gegooi en weer gaan lê tot 08h00 vanoggend.

Gelukkig het ek ‘n Sibusiso en Samanga gehad wat vanoggend kon help om die warm gedeeltes van die stompe af te saag om dit makliker te spuit. Mens spuit daai stompe, maar dis soos ‘n waterpistooltjie in ‘n groot braaivleis vuur.  Ek moes dorp toe – ongelukkig loop van ons waterpype bo-grond, en hulle is in die gedeelte wat eerste gebrand het. Dit spaar net baie tyd as alles reeds aangekoop is wanneer hy kom. Dit beteken dat die water in die tenk al is vir die volgende paar dae totdat Roelf huistoe kom. Vir hom was dit (is dit) hel om in Pretoria te wees terwyl ons hierdie kant stoei. Ons het hom heeltyd op hoogte probeer hou.

Die oggend na die brand.

Vanmiddag laat het ek weer inspeksie gaan doen en ek dink ek het die laaste stomp nou dood. Dis die eerste veldbrand waar ek sonder Roelf moes besluite neem, die enkele ander kere was hy altyd hier. Almal se gebede het gehelp. Ons het slegs een derde weiding verloor en hoef slegs ‘n gedeelte waterpyp te vervang en ‘n paar wildsblokke vir die kameelperde.

‘n Mens dink alles is weg, tot jy naby kyk. Hoop. Genade. Ek het reeds vanmiddag rooibokke gesien rondloop in die as.

Mens leer altyd uit enige trauma, die grootste ding is dat mens altyd paraat moet wees.

  • Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Hedendaagse tegnologie soos Facebook kon dadelik die woord versprei dat ons nood het en vanoor die hele land, nee, vanoor die hele wêreld was daar mense wat vir ons gebid het. Ons Vader het Sy hand oor ons gehou, en ons loof en prys Hom daarvoor.
  • Hou jou selfoon se battery so vol moontlik. Ek het gesien hoe vinnig dit afgaan met al die bellery en het op ‘n stadium huistoe gery om my simkaart in Annerine se foon te sit. Indien myne pap was om mee te begin, het ek ‘n probleem gehad.
  • Moenie in haastigheid jou simkaart ruil nie, ruil die battery. Nommers wat jy nodig het is dalk op jou foon en nie op jou simkaart nie.
  • Moenie maaltye oorslaan nie. Ek het op ‘n stadium amper flou geword van lae suiker en lae bloeddruk. Annerine se broodjie en koeldrank het my lewe gered. Jy dink dalk jy gaan in die dorp iets eet, en dan moet jy huistoe kom voordat jy daardie kossies gehad het.
  • As Samanga die tuinslang laat ooplê, ry dadelik en stel die pomp sodat hy meermale pomp. Want nou is die watertenks nie vol nie, inteendeel, hulle is amper leeg. Vir nood kan ek by die pomp self ‘n plan gaan maak, maar wasgoedwas en sulke goed is uit tot Saterdag wanneer die pype weer gekoppel word. Ons pomp is ‘n kilometer weg van die huis.
  • Sorg dat jou voertuie brandstof in het. Jy moet dalk net skielik rondskarrel in nood.
  • Dra katoenonderklere en katoen bo-klere wanneer jy vuurslaan. Dit hou jou die veiligste. Bly weg van sintetiese stowwe. Gelukkig was ek veilig.
  • Moenie veiligheidskoene met staalpunte dra nie. Die punte word warm en dan brand jou tone. Dra leer bootse. Daar gaan my budget al weer.
  • Haal jou juwele af voor jy gaan vuurslaan. My silwer armbandjie is twee keer amper af geruk en my vinger het ‘n bloedblaas waar my ring gehaak en geruk het. Hoeveel boere of mans wat met hulle hande werk sien jy wat trouringe dra?
  • Wees ingelig oor verenigings in jou omgewing. Ek het gisteraand die nommer gekry van die Lowveld & Escarpment Fire Protection Association (Lefpa) en het hulle sommer vandag al gaan sien. Hulle het die brand op hulle lewendige satelietkaart gesien, maar omdat nie een van ons ‘n lid is nie mag hulle nie ‘n span uitstuur nie.  Hulle ledegeld is bitter min, daar is net ‘n paar (eenmalige) duur vereistes waaraan jy moet voldoen, en jy moet ‘n basiese vuurslaankursus doen, en jou voorbrande en veiligheidstroke volgens hulle vereistes doen. Hulle help jou met jou voorbrande, stuur smse van brandgevaar toestande, hou jou op hoogte indien daar enige brand in jou omgewing is, en stuur ‘n span indien jy dit nodig het.
  • Wees altyd bereid om ander mense te help, want môre het jý nood. Nood vra nie om te gebeur nie. Dit kom sommer vanself.

Baie dankie vir my vriendinne wat gebel het om te sê. Baie dankie vir almal se gebede. Baie dankie dat die boodskap versprei is. Baie dankie vir al die mense wat kom help het.  Baie dankie vir my man wat vertrou dat ek die regte besluite hierdie kant maak. Mag ons Vader julle almal se paadjies net seën.

Vader, ek staan klein voor U. U almag is bokant my verstand en rede. Dankie vir U genade. Dankie.

Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,, | 24 Kommentaar

My wonde se rofies lê nog vlak

Vandag se brand in Kleinmond en die brand in Hartbeespoort waar drie kindertjies omgekom het, is genoeg om my ou wonde se rofies af te trek. En dit bloei nog, want die rofies lê nog baie vlak, dis vandag maar vier maande na ons chalet ook afgebrand het.

Daardie trauma moes ek op die agtergrond stoot, want ek moes fokus op my kind se troue wat moes plaasvind. Die gevolg is dat dit my op ‘n manier meer vang as die eerste keer, en dit vat langer om daaroor te kom. Dit maak my siek. Fisies siek.

Kleinmond se brand raak my meer, want dis sus Trisa se woonplek, sy ken die mense daar en is betrokke om hulle te help. Haar bloginskrywing en sus Magda se opmerking op Facebook wat dit opsom sê dieselfde ding: “Daai skrik gaan sit vas in jou selle, in jou DNA, dis tog waaruit alles bestaan. Waar anders word geheue gestoor? Dis in jou wese, en as jy dit nie hanteer en verwerk nie, sal dit nooit weggaan nie.”

Ek was tussen twee toesigsessies by die skool toe ek Trisa se Facebook plasing gesien het. Ek het baie vinnig geantwoord: “Trisa vat goed wat hulle VANDAG nodig het. Toiletries, handdoeke seep waslap, LIEFDE iets om te eet. Notaboek en pen. Ek het nie tyd om al die comments te lees nie. Skuus as ek dubbeld se. Slaapgoed en klere. ONDERKLERE. Warm goed. ‘n kussing, mense gee n kombers maar nie n kussing nie. Tandeborsel en tandepasta. Kos klaar voorberei om te eet. MY HART GAAN UIT NA HULLE.” 

Sy het geantwoord: “Kobie elke item wat ek gekoop het was asof ek dit vir iemand koop wat jou gehelp het.” Dankie. Dankie vir jou omgee vir daardie mense.

Die brand daar is ná aan ons hele familie, want my familie gaan SAAM met my en my gesin deur my verwerkingsproses. Hierdie brand vat aan ons almal vandag.

Vir julle wat iets wil doen. Daai mens het LIEFDE nodig. Hulle het VASHOU nodig. Hulle het SAAM HUIL nodig, want vashou en huil was al daai skrik weg. Hulle het NOU ‘n koffiebekertjie en ‘n ketel nodig, en goedjies om ‘n teetjie te brou. Vat vir die tannies wolle en breinaalde. Hou hulle hande besig. Handewerk hou mens se gedagtes besig en dit help mens om om te weet dat daar weer ‘n môre gaan wees. Dink maar self aan iets vir die omies.

Ons chalet lê nog net soos hy gebrand het. Oor twee weke het ek skoolvakansie en dan gaan ek die opruimingswerk begin. Maar weer met my siffie sit en soek na my goue oorbelletjies en nuwe hangertjie wat in my laai was. Dalk kry ek dit en dalk nie, dit maak nie saak nie; want ek weet dit maak heel om te soek. Soos wat mens deur die as werk, so werk jy dit uit jou gestel.

Kom vakansie. Kom.

Categories: Familie, Slakverdriet | 13 Kommentaar

Vir oulaas…

Ek verstaan nou dat jy in my huis gepiepie het om te kan ruik waar jy moet gaan… dit het ek besef toe ek laasweek jou kosbak grond toe geskuif het en jy daar ‘n groot plas gaan staan en maak het.

Dis nou al meer as ‘n week wat jy nie by my kom slaap nie. Laaste keer was laasweek toe ek ‘n middagslapie gevat het en ek wakker geword het van jou wat oor my prrr en sentimeters van my gesig af na my staar. Het jy dalk vir my totsiens kom sê?

Vrydag het ek vir jou gekyk waar jy sit en dut en dit was weird. Jou blinde oog was oop en starend, maar die gesonde ene was toe. Die pupil was normaal vir ‘n helder dag toe ek oor jou ruggie vryf. Saterdag het ek jou glad nie gesien nie, en ek het my bekommer oor jou. Sondagoggend het ek jou saggies hoor maaiu, en my hart was bly om jou te hoor… Die saggies miaau was jou manier om te sê jy soek kos. Roelf het sommer gegaan, want dit was teedrinktyd vir my in die bed soos naweke nou maar is.  Maar hy het teruggekom en gesê dit lyk nou asof daar bloeding agter jou oog is, gesê dit lyk sleg.

My Pieterjie! Nee! Dit is dan sy gesonde oog! Ek het sommer begin huil. Dis allervreeslik. Die regteroog se pupil is dof en starend, en nou die linkeroog ook met vergrote pupil maar wat bloedrooi gloei.

Ek weet nie of hy dalk in iets vasgeloop het of wat nie. Ek het so gehoop die groot besluit kon nog ‘n bietjie wag. Toe ek skottelgoed was het hy my gehoor, en toe kon ek sien dat hy nou niks meer kan sien nie. Die katte se inkomvenster is langs die waskamer, en ek het gesien hoe hy regop teen die vensterbank gaan staan en voel-voel beweeg tot hy die opening gekry het. Hy het nie gespring soos altyd nie, maar homself met moeite opgetrek tot op die vensterbank.  My hart was stukkend en vir oulaas het ek spesiaal ‘n sakkie tuna oopgemaak nét vir hom.

Vir oulaas het ek vandag ‘n kiekie van jou geneem waar jy in die sonnetjie lê en bak. Ek moes mooi mik, sonder om jou oë te vang. Vir oulaas het Pippie kom krulstert trek in onderdanigheid vir jou. Jy het haar nie eers gesien nie, eers toe ek raas het jy notisie gevat. Vir oulaas het Oreo haar teen jou kom skuur.

  

Ek het jou nou net buite gaan haal. En gehuil toe jy binne teen alles vasloop en net wil uit. Nou sit jy by my op die bed en ek hoop dat jy vir oulaas my bene gaan warm lê en jy jou laaste nag kan warm slaap.

Ek sal nie huil môre-middag wanneer ek jou vat nie. Sorry my Pietertjie, maar ek kan nie sien dat jy ly nie. Ek sal jou vashou wanneer die naald gaan prik. En dan gaan ek huil…

Vir oulaas my Pietertjie…

*****

Ek is dankbaar dat ek kon afskeid neem van ons Pietertjie vandag. My gedagtes is by die Odendaals wat nie so gelukkig was hierdie naweek nie. Drufus Odendaal is Vrydag wreed vermoor met gif. Die een oomblik was hy nog daar, die volgende was daar ‘n doodsroggel voor hulle by hom kon wees.

Sy lewensmaat treur nog steeds. Haar oë was die hele Saterdag nat en treurig, haar stem doodstil in rou. Boksers lyks soms treurig wanneer jy na die afdraende bekke kyk, maar dis die weduwee se oë wat die storie vertel.

R.I.P Drufus Odendaal

Categories: Slakverdriet | Sleutelwoordw: , | 6 Kommentaar

Pietkat kry ‘n nuwe naam

Sowat sestien jaar gelede het ons Asjaskat drie kleintjies gehad. Twee dogtertjies en ‘n seuntjie. Sy was ‘n ligte gemmerkleur, meer kameelkleurig sou ek sê. Die twee dogtertjies was hoofsaaklik wit, maar met bietjie gemmer en grys ook ingeklits. Lang hare, en hulle was sag en liefies soos dit by dogtertjies hoort.

Die gemmer seuntjie aan die ander kant haad ‘n persoonlikheid van sy eie, wild en glad nie geneë vir enige aanraking nie. ‘n Ander huis kon ons nie vir hom kry nie, want niemand wou ‘n kat hê wat krap en blaas nie.

Die dogtertjies was gou-gou weg en so bly die seuntjie toe maar aan, want SPCA toe kon ek nie oor my hart kry nie.

Ons doop hom toe Pieter Hol… want as hy ‘n mens sien, dan hol die simpel kat. Mettertyd het hy langs my op die stoel kom sit, maar ook maar net tot ek my hand uitsteek om aan hom te vat. Stadigaan het ek sy vertroue gewen totdat hy heeltemal tuis was by die hele gesin.

So tuis het hy geraak dat hy selfs toegelaat het dat Marina hom in haar popwaentjie vasgordel en in die gang afjaag – geklee in ‘n pienk babygrow. Sy platgetrekte ore en skrefies oë was iets om te aanskou! Wanneer hy genoeg gehad het, het hy één spring gegee en dan was hy uit die waentjie én uit die babygrow.

Annerine het hom die meeste bederf en hy het haar Pieter Diesel geword , so hernoem oor sy harde prrr.

Kort voor ons plaas toe getrek het,  het ons vir Piet amper verloor. Soos dit nou maar by manlike diere van enige soort is, was daar ‘n ander mannetjie in die omgewing wat meer dominant was as ou Piet. Dié het ons arme Piet so gebyt dat sy agterbeen begin sweer het, en voor ons hom kon aankeer veearts toe, het ou Piet gaan wegkruip. Ons bekommernis was groot, want die sweer was lelik. Gelukkig het hy een oggend voor skool uit sy skuilplek gekruip vir kos en kon ons hom met ‘n groot gesukkel vang. Die veearts moes baie weefsel verwyder en het gewaarsku dat hy dalk die gebruik van sy been sou verloor, maar gelukkig het hy net ‘n baie effense hink in sy stap oorgehou.

Toe ons plaas toe getrek het agt jaar terug was dit ook omtrent ‘n storie. Die laaste week het ek op n matrassie in die gang geslaap vir privaatheid en het reggekom met die minimum, Roelf was toe al vir drie maande op die plaas. Toe ek begin kar pak was Piet net weg. Ek pak en pak en Piet is weg. Ek moet sleutel oorgee, en Piet is weg. Die nuwe eienaars se opmerkings oor pellets en katte wat hulle gou-gou regsien het my vir twee ure op my rug laat lê en wag in die dolleë huis. Met ‘n groot gesukkel het ek hom in ‘n vervoerhokkie gekry toe hy uiteindelik opgedaag het, en het ek hom maar by die veearts laat inspuit met ‘n kalmeermiddel, want tyd vir Rescue se saggies werk was daar nie meer nie. Dit was ook maar net genoeg om hom stil te laat lê, sy poot het maar kort-kort gekap na ons hondjie wat saam met hom moes ry. Hy het nooit erg gehad aan enige hond nie.

Op die plaas het hy onmiddellik pad gevat die bosse in en ons het hom amper twee weke later op die hoop bokse met ons aardse besittings gekry wat onder ‘n seil gepak was. Daar was ons reuk, en daar het hy gaan skuil.

Hierdie bedonderde kyk is hoe ons vir Piet ken. Die foto is geneem kort na Annerine gaan studeer het, dus erens in 2007.

Piet is nie goed met trauma hantering nie. Met die eerste brand was hy vir ‘n maand lank weg. Ek het kos uitgesit en iets het dit geëet, maar of dit Piet was wis ons nie. Ek was baie dankbaar toe ek hom gekry het, maar hy het my arms flenters gekrap toe ek hom na die chalet wou neem waar ek toe gebly het. Ek het hom toe maar in ‘n kussingsloop gestop en gevat. ‘n Veearts het my eendag vertel dis die maklikste om katte te vervoer. Hy het net ‘n rukkie gebly en dan loop hy weer weg na sy wegkruipplek in die pompkamer. Ek moes hom vir amper ‘n week lank elke dag instop en lekkernye voer voor hy uiteidelik by die chalet gebly het.

Met die honde het hy nog steeds nie oor die weg gekom nie, en al is ou Piet bejaard, is hy nog bokant Pipstert op die territoriale lys. Ou Pippie het ‘n lidteken op haar oogbank wat getuig van gebiedsafbakening, katnaels en klein hondjies…

Maar nou is Piet weer herdoop. Hy is nou Piet Piepie.

Na die eerste huis gebrand het, het dit begin. Enige verandering of harde geluide in die huis, en hy gaan maak sy blaas leeg op my bed. Soos in sopdeurnat-stinkend-vrot.  Harde bliksemslae, dan pie ou Piet voor hy onder die bed inkruip.

Toe die chalet gebrand het, was ons ou Piet maar weer soek, ek het hom gouer gekry en hy het my nie weer so stukkend gekrap nie.

Hy het egter ‘n persoonlikheidsverandering ondergaan! Skielik hol hy nie meer weg wanneer hier mense kom nie, en Pippie kan selfs in dieselfde vertrek inkom en minder as ‘n halwe meter van hom af verbyloop.

Piet was nog nooit juis ‘n jagter nie, en in die chalet het ek agtergekom Piet eet skielik baie meer muise en voëltjies. So paar weke gelede het ek agtergekom hoekom… Ek het een aand ‘n snaakse diergeluid gehoor in die gang. Piet wat by my op die bed gelê het, het onmiddellik afgespring en is die gang af. By nadere ondersoek vind ek toe dis Oreo Vetkat wat vir hom ‘n muis gebring het.

Om te verhoed dat Pipstert brak die katte se kos opvreet, sit ek dit op die wasmasjien. Voorlaasweek het ek begin agterkom Piet spring die wasmasjien mis. Eers het ek gedog dis nou maar die bene wat begin rumatiek kry of iets, maar dis veel erger. Piet is besig om blind te word! Sy een oog  is so glaserig en beide pupille heeltemal verwyd.

Is dit dalk die rede waarom Oreo so sorgsaam vir hom kos aandra? Omdat hy nou Pieter Mol word? Die gedagte is vir my erg, ek weet nie of ek kans sien daarvoor nie. Maar ek sien op hierdie stadium ook nie kans vir die alternatief nie…

Kom ons bly maar liewer by Pietertjie du Preez. Dis minder seer.

Pietertjie du Preez net na die chalet gebrand het. Kyk die uitdrukking is sy oe is rustiger as op die vorige foto.

Categories: Slakverdriet | 9 Kommentaar

Blog at WordPress.com.