Posts Tagged With: Dankbaarheid

Oorwinning

‘Success is to be measured not so much by the position that one has reached in life as by the obstacles which he has overcome.’ – Booker T Washington

Ek glo dat elke mens se groei of ondergang bepaal word deur hóé jy ‘n bepaalde struikelblok hanteer. Sommige klippe op jou pad is rivierklippies wat net effense ongemak veroorsaak, terwyl ander massiewe rotse is met skerp punte wat bloed vergiet. Soms verg dit buk en afkyk om te vind dat die klippe eintlik diamantgruis is, al het dit net netnou jou toon nerfaf gestamp. Elke mens se pad het afdraai plekkies wat jy noodgedwonge moet vat. Ongelukkig gebeur dit met sommige mense dat hulle nooit weer by die grootpad uitkom nie want hulle ompad word ‘n vêr pad word waar wilde woeste monsters skuil. Parykeer is mens gelukkig en is daar iemand om jou te abba, maar soms is daar iemand wat jou in die dorings stamp. Ek glo aan ‘n Skepper, Grootste Koning, Opperwese wat jou gekies het, wat jou pad vir jou uitgemeet het, wat bepaalde struikelblokke plaas om te sien of jý Hóm kies om jou te abba om uiteindelik die plek van oorwinning te behaal.

My eie pad loop ek soos hy kom, soms deur modder, soms deur wind. Soms stap ek met ‘n blom in my hare, sommer net ‘n kind.

‘You are never old till the day that regret replace your dreams.’ -Anonymous

Om groot te geword het in ‘n plattelandse omgewing was vir my ‘n voorreg, maar nie sonder beperkinge nie. Ons is groot gemaak dat sport iets is waaraan jy deelneem vir die genot daarvan en nie noodwendig prestasie nie. Seker maar omdat ons nie presteer het nie… In ons klein plaasskooltjie was daar beperkte atletiekgeleenthede (100 m, verspring en hoogspring) en wintersport was rugby en netbal. Twee spannetjies vir elk, die lede was almal in die hele skool wat wou deelneem. G’n niks van o/11 of wat ookal nie, almal tussen standerd 3 en 5 wat wou, was in die span. Ag, maar hoe het ek tog nie gedroom van ‘n ou silwer bekertjie nie… daar was mos nie daardie tyd medaljes nie. Net een keer, net één ou bekertjie… Tweede of derde in die verspring en hoogspring het ek telkens behaal met my kort maer beentjies, selfs tot in die hoërskool, maar eerste, nooit.

My niggie in Pretoria het provinsiale kleure in atletiek en gimnastiek gehad en dit het verdere drome wakker gemaak. Wanneer hulle kom kuier het, het sy vir ons wawiele en allerhande dinge gewys en ek en sus Magda het groot gegaan vir weke en weke daarna. Dit was ook in die tyd van die kleine Nadia Comaneci wat die Olimiese Spele oorheers het en ons het ons eie apparate ontwerp en spronge gedoen met ‘n yster tafel as bok. Jy het jouself net één keer potblou teen daai yster tafel gestamp, die volgende keer het jy hòòg bo-oor gevlieg. Ek dink dat sou ons die geleentheid gehad het, beide van ons sou kon presteer het in gimnastiek.

My kop het egter geweet dat my klein liggaam nie kan kers vashou met groot sterkes om te presteer in sport wat spoed verg nie. My hart daarenteen wou my maar net nie laat los nie en ek het toe my kinders hanteerbaar was, begin draf. My spoeddroom het nou ‘n 21km droom geword. Wat ‘n ervaring was dit nie toe ek my eerste 10km padwedloop doen en ek ‘n medalje kry oor ek binne die tyd klaar maak… maar dit was nog nie ‘n silwer bekertjie nie… dit was nog nie éérste nie! My genetiese bunion-skewe voete was egter nie opgewasse teen die voortdurende impak nie en daar gaan die 21km droom.

As klein seuntjie het Roelf sy eie boog gemaak en hy dra vandag nog ‘n letsel op sy bors waar sy nefie hom met ‘n pyl getref het tydens Cowboys en Indians speletjies. Sy ouboet het hom en sy boog op ‘n foto vasgelê en verlede jaar het ek my vriend Lourens gevra om hierdie beeld vir my te omskep in ‘n skildery.

image

image

Voor ons troue het hy ‘n Compound-boog gekoop en sommer net rondgespeel daarmee op ons plot en tarentale geskiet op sy ma se plaas. Hy is ‘n baie goeie skut en wou graag aan ‘n klub behoort en aan kompetisies deelneem, maar daardie dae het die klubs net Recurve-boë toegelaat en ‘n paar stywelip tannies het hom verbied om met sy Compound-boog naby hulle teikens te kom. Later het die boog maar net stof vergader in ‘n kas en toe hy op ‘n dag die opmerking maak dat hy nog eendag graag wil kompetisies skiet, het ek hom gevra hoekom doen hy dit dan nie. Sommer daardie selfde naweek nog het hy ‘n boogwinkel opgespoor om pyle te koop en blinkoog sommer met ‘n nuwe boog by die huis aangekom. En ook vertel daar is nou boë beskikbaar vir vrouens en kinders en dat hy dink ek ook daarvan sal hou. Ek was maar skepties, want dit het net te macho geklink, te veel na iets wat groot en sterk mense doen.

Uiteindelik was daar klubs en geleenthede vir sy tipe boog. Ek het toe ook saam begin skiet en alhoewel die 3-d tipe skiet baie lekker is in die veld oor berge en deur dale, is my afstandskat nie so goed nie. Roelf het sommer in die eerste jaar provinsiale kleure verwerf. In ‘n poging om myself te verbeter het ek die teikenskiet ding begin en ek het nog nooit weer terug gekyk nie.

Ek het ‘n spul medaljes en meer as een trofee gewen, my provinsiale kleure verwerf, ‘n brons medalje vir die ARFAC ( Afrika Field kampioenskappe) uitgeskiet, maar nooit ooit het ek die gevoel gehad dat ek ‘n silwer bekertjie gewen het nie.

‘Everyone has talent. What is rare is the courage to follow your talent through the door of your potential and to trust that it will lead you to the light.’ -Jannie Putter

Toe die SANAA (South African National Archery Association) ‘n paar jaar gelede besluit het om die sport ernstig te promoveer en die boodskap uitstuur ‘Do you have what it take?‘, het ek besluit: Hier is my kans om te sien wat in my steek… Marina het op provinsiale vlak gimnastiek gedoen en het op daardie stadium drie ure per dag geoefen. Ek het slegs naweke geoefen om my provinsiale kleure te verwerf. Ek het vir myself gesê as ek dan my oefentye verhoog na een uur per dag, dan kan ek dalk verbeter tot Nasionale vlak. En ek het. Ek is gekies vir die heel eerste Squad groep vir boogskiet. Ek het ‘n brons medalje op die SA kampioenskappe gekry, maar dit was steeds nie my bekertjie nie.

Elke mens het genetiese foutjies en my familie is vrot van outo-immuunsiektes. Diabetes, celiac disease, reumatoïede artritis, fibromialgie, Raynaud-sindroom en Sjogren-sindroom is van die goggas wat my sussies se lewens baie, baie moelik maak. Stres trigger en vererger enige outo-immuun verwante siekte. By my manifesteer die gemors as kosallergieë. Sommige goed soos piesangs laat my jeuk en swel, terwyl die meeste erge migraine veroorsaak. Dit het begin terwyl ek gewerk het vir my provinsiale kleure. Terwyl ek op die squad was het dit so erg geraak dat ek amper niks kon eet sonder om siek te word nie. Ek het erg gewig verloor en die kombinasie van wanvoeding en gewigsverlies as gevolg daarvan het my aspirasies kortgeknip.

Dit het verbeter met onthouding van die kos wat my siek maak. Dit was ‘n langsame proses om gewig op te tel en weer sterk te word. Ek het weer begin oefen en die dag waarop ek weer my eerste kompetisie sou skiet het ek die oggend in Pretoria ‘n telefoonoproep gekry wat my lewe onherroepelik verander het. Ons huis het afgebrand en ons was nie verseker nie… Toe weerlig ons ‘n tweede maal op die grond plat slaan het ek ook my boog en skiettoerusting verloor.

Ons het maar weer met genade van Bo opgestaan en aangegaan met ons lewens. Maklik is dit nie, en dit sal nooit wees nie, maar tyd maak rowe en ons probeer hard om dit nie af te krap om weer te bloei nie. Ons kyk vorentoe, na waar Lig is.

Drome bly drome solank jy niks daaraan doen nie. Wanneer mens egter werk aan ‘n droom, verander dit in ‘n doelwit en dan eers kan jy iets bereik. Ons het na ons trauma van aardse goed verloor besluit ons gaan nie ophou lewe nie. Boogskiettoerusting is vrek duur en ons het maar so stuk-stuk aangekoop oor ‘n paar jaar. My doelwit was om hierdie jaar se Nasionale kampioenskappe weer te begin kompeteer. En ek het, baie opofferinge, beplanning en voorbereiding later.

Dit gaan goed met my gesondheid, ek het weer ‘n aanvaarbare gewig en verlede jaar Augustus het ek my plan inwerking gestel. Ek het begin draf om fiks te raak. Ons skool het ‘n gala swembad en dit was die aangewese ding vir my skouers, arms en vir kardio, want my voete het laat weet of ek dan vergeet het hulle wil nie draf nie. En eers toe het ek begin skiet en geleidelik my boog se ponde opgestel tot waar ek dit wou hê. Slegs weke voor die toernooi het ek eers al die toerusting gehad wat ek nodig gehad het om te kompeteer. Ek kort nog baie dingetjies, maar ek kan kompeteer en dis die belangrikste.

‘In the power of the tongue is life and death, and whoever indulge in it shall live by the fruit of it.’ -Proverbs 18:22

Uiteindelik kon ek ook regkry om ‘n sekere negatiewe persoon uit my kop te kry wat veronderstel was om my te help terwyl ek op die squad was. Sy woorde maal nie meer in my kop nie. Dit was die een ding wat ek in my geestelike voorbereiding nie kon regkry nie.

‘The will to win means nothing if you haven’t the will to prepare’ – Juma Ikangaa

Boogskietkompetisies word slegs onderbreek vir uiterste weersomstandighede soos weerlig en daarom is dit belangrik om in enige weerstoestand te oefen. Wanneer dit reën trek jy maar ‘n reënjassie aan. Wanneer die wind waai, dan waai jy maar saam. Wanneer dit perfekte toestande is, juig jy. Dissipline is vir enige sportman essensieel, meer nog vir individuele sporte waar daar nie spanmaats is wat jou kan motiveer wanneer jy ‘n af dag het nie. Ek het nie ‘n afrigter nie, ek is op my eie. Ek moet myself motiveer. Ek moet self raas, ja, ek doen! Ek moet my eie foute identifiseer en regstel. Ek moet my eie skerwe optel as ek droog gemaak het. Ek oefen heeltemal alleen. Ag nee, ek jok. Ek het drie getroue ondersteuners elke oefensessie; Boesman Staffie, Pippie Jackie en Oreo Kat is elke keer by. Om mens-alleen te oefen is nie ideaal nie, maar dis hoe dit is en ek is trots op dit wat ek vermag het sover. Wanneer ek egter feesvier, deel ek dit met die wêreld…

Ek glo nie aan toeval nie. Ek glo aan ‘n uitgemete pad wat ons stap. My skool het aan die begin van die jaar vir ons ‘n spesiale spreker gekry om ons te motiveer vir die jaar, en die dinamiese Jannie Putter, sportsielkundige is op my pad gestuur. Hy het vir my sy boekie ‘Mentally tough‘ as geskenk gegee en dit het aangesluit by die kopsmokkel wat ek vir myself ontwikkel het toe ek op die squad was. Dankie Jannie vir jou aandeel in my ontwikkeling.

My doelwit om die jaar weer te begin skiet was toenemend nie meer net ‘n droom nie en ek het onmiddellik my plek op die lyn bespreek toe die besprekings open.

Alles, alles, alles het net vir my reg geloop. Maar ek was nie alleen nie, daar is altyd mense wat jou sterk maak. Dankie vir Roelf, my geliefde, my maat. Jy maak my ekstra sterk. Dankie vir jou liefde, aanvaarding van wie ek is, jou ondersteuning. Dit was lekker om jou vir die eerste keer saaam met my op die lyn te hê. Die gastehuis wat jy bespreek het sodat ek nie hoef te stres oor verkeer nie, die positiewe kommentaar, die finansiële ondersteuning, sommer net dankie vir alles. Dankie.

My kinders, dankie vir julle liefde en aanmoediging. Dankie vir my liewe Ma, wat nadat ek vir haar ‘n deel van my geestelike voorbereiding vertel het toe ek op die squad was, elke keer voor ‘n kompetisie vir my ietsie spesiaal op my kussing gelos het wanneer ek by haar gebly het voor ‘n kompetisie. Ma weet nie wat dit vir my beteken nie… baie, oneindig baie. Ma is deel van die motivering waarom ek skiet. Ma sou die hoogste sport kon bereik in baie dinge, maar Ma se pad was anders uitgemeet. Ma is die beste Ma ooit.

My doelwit vir die kompetisie self was om ten minste drie rekords te breek indien weersomstandighede dit sou toelaat, ongeag of ek wen met my tellings of nie. Ek het immers slegs beheer oor my eie telling en nie oor hoe my opponente skiet nie. Ek het hard gewerk daarvoor, en het geweet my oefentellings was goed genoeg. Twee dae voor die kompetisie het ek die enigste terugslag gehad. Ek het my boog op die spaarkamer se bed neergesit en vergeet om die deur toe te trek. Toe ek my liefste twee kleinkindertjies hoor jil in die spaarkamer, was my hart in my keel… en nie sonder rede nie… My pylrus (arrow rest) was windskeef gebuig. Amper ‘n jaar se voorbereiding in gedrang van een onbewaakte fout… My liewe man het oor die foon getroos en met sy rubberhamer en ‘n plank het ek dit bitterlik versigtig reguit geslaan. Dankie tog, al het dit beteken dat ek al my afstande van vooraf moes instel.

Die laaste dag van die toernooi was dit Eliminasies, dis die stresvolste kompetisie. Dis slegs 15 pyle en daar is nie ruimte vir foute nie. Jy het slegs een opponent en julle skiet voor die toeskouers. Twintig sekondes om jou pyl te skiet en dan twintig vir jou opponent. Die oggend toe die baan open vir opwarming, het hulle uit die bloute musiek gespeel… en ek het trane in my oë gekry… die liedjie was dit wat op die oomblik my gunsteling liedjie is! Toevallig? Nee. Ek het my oë toegemaak, my hande omhoog gegooi en gesê dankie. Toe die kompetisie begin het ek op die baan gestap met die wete dat die dag reeds aan my behoort.

Success means doing the best we can with what we have. Success is the doing, not the getting; in the trying, not the triumph. Success is a personal standard, reaching for the highest that is in us, becoming all that we can be.‘– Zig Ziglar

image

Wen is soms meer as net wen. Hierdie twee medaljes, die silwer beker en die ses SA en Afrika rekords agter my naam wat ek tydens die 66e SA Nasionale Boogskietkampioenskappe 2016 verower het is vir my meer as net wen. Dis my klein silwer bekertjie. Uiteindelik ervaar ek daardie gevoel waarna ek my hele lewe nog gesmag het. Ek het hard gewerk hiervoor. My gesin het saam met my opofferinge gemaak. Dankie daarvoor.

O ja, net as nagedagte…Ek werk nou vir die Victrix Ludorm beker…

Categories: Slakresies en ander sport, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: ,, | 6 Kommentaar

Verlies

So jaar terug het my ma gevra dat ek asseblief iets oor verlies skryf. Ek was egter nie gereed daarvoor nie, want ek was te verwese oor my eie verlies om buite daardie perspektief te kon skryf. Gister se skrywe oor die diepte van verwesenheid, en twee persone na aan my wat intense verlies ervaar met die verlies van ‘n kindjie en ‘n eggenoot wat terminaal is met kanker, het my laat besef dat ek nou aan Ma se versoek kan aandag gee. Die meeste soektogte met soekenjins wat op my blog beland het ook betrekking op die onderwerp, en ek hoop dat dit wat ek vir jou gaan sê vir jou vertroosting sal bring. Die skrywe oor verwesenheid gaan ook ingevleg word in hierdie stuk.

Verlies beteken om iets te verloor. Hoe jy reageer oor jou verlies gaan uiteindelik bepaal hoe lank dit gaan neem om daardie verlies te verwerk, wat die lengte van jou rouproses gaan bepaal.

Drie mense kan dieselfde ding verloor, maar elkeen gaan in sy eie uniekheid anders reageer oor die verlies. Een sal net kan skouers skud en ongeërg aangaan met sy lewe. ‘n Ander een gaan hartseer wees oor die verlies, vir ‘n tyd rou, en dan aangaan. Die laaste een is die een wat teen die grond geslaan word deur dit wat verlore is.

As mens nou daaroor dink, dan het die eerste een se ding wat verlore is, nie werklik saak gemaak vir hom nie en daarom is daar nie werklik ‘n impak nie. Die tweede persoon is hartseer, want dit wat verlore is, het wel ‘n betekenis gehad in sy lewe gehad, dit sal gemis word maar die verlies word gou verwerk. Die laaste een is die een wat verwese gelaat word deur die verlies, teen die grond, in ‘n put waarvan die diepte kan verskil, omdat die verlies ‘n baie groot impak het op die persoon se lewe.

Verwese… ‘n Kort woord wat swaar gelaai is aan emosie. Verwese. Verslae. Verslaentheid. Hoe verwoord jy die diepte van verwesenheid?

Wanneer jy daar onder in die dieptes is, is dit donker. Dis koud. Dis alleen. Jy weet nie watter kant toe nie.

Die dag na ons huis afgebrand het, het een van my liewe sussies gevra wat ek nodig het, sy is in die winkel. Ek onthou dat my antwoord was dat ek te verwese is om dit te weet, want ek het alles nodig en ek weet nie wat die nodigste is nie. Verwese. Dis wat ek gevoel het. Enkel. Gesnoei tot ‘n enkel tak.

Ek het geleer dat ons Vader leertjies het wat kan reik tot in die diepste van diepste putte van verwesenheid. Daardie lere word genoem: geloof, hoop, liefde. Dit kom van Hom af en Hy stuur familie, vriende, kennisse en vreemdes om die lere te help dra. Dit hang van jouself af of jy jou oë gaan oopdwing om die spatseltjies lig te kan sien wat saam met ‘n leertjie kom.

‘n Mens kan nie die diepte van verwesenheid verwoord nie, want daardie gevoel is ‘n allesomvattende gevoel van totale verslaentheid. Dis persoonlik. Dis in die diepte van jou siel. Ek dink egter dat ‘n mens die situasie kan verwoord wat gelei het tot daardie gevoel sodat jy dit kan verwerk. Jy kan jou oë oopdwing om die spatsels hoop en liefde te sien. Jy kan jouself oopmaak om dit te ervaar. Elke spatseltjie groei na meer lig totdat jy net op ‘n dag besef dat daar weer takkies aan jou groei. Later selfs blare en klein blombloeiseltjies.

Dis waar dat die letsels van ‘n intense snoei altyd daar sal wees, maar dit word oorgroei met nuwe bas om die seer weg te vat.

Glo my, daar is lewe na verwesenheid. Daar ís.

Dis so maklik om ‘n kokonnetjie om jou te bou wat ander mense heeltemal uitsluit wanneer jy intense verlies ervaar. Dit is waar dat sekere gedagtes en gevoelens te privaat is om met ander mense te deel, en dis goed so. Mens hoef jouself ook nie heeltemal nakend voor ander te los nie. Daarvoor is God daar. Hy ken jou gedagtes en gevoelens sonder dat jy dit vir Hom hoef uit te spel. Maar laat Hom egter toe om mense te gebruik wat jou met ‘n sagte, warm donskombers snoesig omvou. Haal uit jou kop onder die kombers, anders is dit ‘n kokon en gaan jy die lig mis wat vir jou skyn, want as jy dit nie doen nie gaan jy in ‘n dieper put val. Dis die put wat depressie genoem word.

Verwesenheid en depressie is nie vir my dieselfde ding nie. ‘n Mens kan depressief wees sonder dat jy verwese is. Dit gaan ook nie oor hoe diep jou put is nie, maar dit maak saak wat jy doen om uit die put te kom. Gryp jy die lig of trek jy die kombers oor jou kop.

Een persoon kan ‘n eggenoot verloor, platgeslaan wees daardeur en later weer trou. ‘n Ander een kan dieselfde ervaar maar stap alleen die toekoms in. Dit beteken nie dat een van die twee hulle eggenote minder of meer liefgehad het nie. Elkeen doen wat reg is vir sy eie situasie en die geleenthede wat weer op jou pad kom. Een resep bak nooit dieselfde koek nie. Een koek het dalk net te lank gestaan voor dit oond toe is, ‘n ander een se meel verskil en ‘n ander een het botter en nie margarine, al het die resep gesê smeermiddel. Doen wat reg is vir jóú.

Hoe sien mens dan die lig? ‘n Mens maak jou oë oop deur jou seëninge te tel, síén daardie silwerrandjie om ‘n donker wolk. Dis ‘n keuse wat jy moet maak, en nét jy kan dit maak. Gun jouself die leertjies van lig wat ander vir jou gee. Leer om net te sê: Dankie. Dankie sonder om onmiddellik iets te wil terug gee of terug doen. Net dankie. Later wanneer jy uit jou put is, dan is dit weer die tyd van gee. Gee sonder om iets terug te verwag, anders is dit maar net ‘n ruilproses en nie gee nie. Vir my persoonlik was daardie konsep van ontvang baie moeilik om te aanvaar. Dis dalk een lewensles wat ek uit my eie verlies moes leer. Om net dankie te sê. Dis BAIE makliker om te gee as om te ontvang. Mense neem nie altyd jou menswaardigheid in ag wanneer hulle gee nie. Hou jou kop hoog wanneer dit nodig is dat jy net dankie sê, en as jy gee, dink aan die ander persoon se trots.

Wat leer ons uiteindelik uit verlies? Verlies is ‘n geleentheid om weer vas te gryp aan God se ankertoue. Dis ‘n geleentheid om te bou aan die enigste verhouding wat veronderstel is om saak te maak, wat ons so maklik laat glip. Dis ‘n tyd om te bid vir die verwesenes. Moet nooit die krag van gebed onderskat nie, dit is die dikste ankertou met die grootste lig.

Vir elkeen wat verlies ervaar en verwese is, baie sterkte met jou pad. Gryp die leertjies en ankertoue, hoe gouer jy gaan gryp, hoe gouer gaan die put al vlakker word. Moet nooit vergeet dat verlies saamgaan met ‘n rouproses nie. Wees bedag op die stappe in die rouproses, sodat jou oë kan oop wees om die leertjies en die lig te kan sien, sodat nuwe bas ‘n letsel vorm en nie ‘n bose sweer toemaak nie.

Voetspoor

Categories: Omgee, Slakgedagtes, Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,,,,,,,,,,,,,, | 2 Kommentaar

Die mens wik, maar God beskik

Dis vir my vreeslik hoe ‘n wat jy dink ‘n normale dag in jou lewe sou wees, skielik ontaard in ‘n nagmerrie. My sewe maande swanger kind kuier bietjie by my en op ons beplanning vir gister was om vir babatjie haar laaste paar goedjies te gaan koop, dan lekker tee drink met een van haar vriendinne en om daarna bietjie by die InniBos feesterrein te gaan draai. Ons eet elkeen net ‘n beskuit voor ons ry, want ons beplan lekker eet in die Mall.

Maar die mens wik en God beskik. Ons was nog in die Illanga mall in Nelspruit toe my vriendin Bianca bel. “Kobie, waar is jy?” Wanneer iemand dit vir my vra, dan weet ek al dis geen gewone oproep nie. “Ek en Annerine is in die mall. Hoekom?” Haar antwoord het my yskoud laat word. “Want ek en Enca is nou net verby jou plaas en dit brand.” Vader help. Nie weer vuur nie.

Bid. Tick. Bel die brandweer. Tick. Bel vir Roelf. Tick. Bel vir Emelina. Tick. Moenie panick nie. Tick. Bel vir nog hulp. Tick.

Wanneer mens by die bergpas kom, dan kyk jy uit op die Barberton vallei. En ons sien die swart en grys rookwolke van daar af. Moenie panick nie. Tick. Ry versigtig en moenie teen die pas afjaag nie. Tick. Probeer ophou bewe. Tick. Gee vir Annerine my foon sodat sy ‘n Facebook inskrywing kan plaas namens my vir ‘n gebedsoproep.

Dit was gelukkig nog nie ver gevorder nie, maar die wind was STERK. Ek kon verby jaag huistoe om werksklere aan te trek en my spuitkan te kry en ekstra kanne met water. Hare vasgemaak dat dit uit die pad is. Ek het die buurman gebel waarheen die vuur beweeg indien ons hom nie kon keer nie, en hy was ook in die dorp. Ons moes die brandweer nog ‘n keer bel. Hulp het begin opdaag. Party sommer vanself. Die brandweer was dit eens dat ons nie die vuur met water sou kon blus nie. Hulle ry weg na die buurplaas waarvandaan die brand gekom het om hulle chalets te gaan beveilig en ons sien hulle nie weer nie, hulle het ander nood as ons en los vir my ‘n selfoon nommer indien ons vuur buite beheer raak. Ons besluit om terug te brand en sodoende te keer dat dit verder versprei.

By hierdie pad het ons hom gekeer

As jy nog nooit ‘n veldbrand beleef het nie… dis verskriklik. Mens kan nie die hitte oorvertel nie. Jy storm in en slaan so paar slae dan brand jou longe en jou oë en jou hele lyf brand soos ‘n kool vuur van die rook en die hitte.  Vir Annerine het ek huistoe gestuur sodat sy nie die rook moet inasem nie. Sy bly paraat en bring ‘n broodjie en koeldrank toe ek wil flou val. Drinkwater. Wanneer die vlamme aan ‘n olienhoutboom lek tel sy eeen… tweee… driee… dan is die boom weg.  Dis verskriklik! Maar dis ook verskriklik mooi. Ek het gewens ek het my kamera daar gehad, ‘n selfoon is so beperk en ek het ook my battery wat reeds halfpad pap was probeer spaar vir kommunikasie.

Ek sien hoe die vuur oorspring na die buurman toe en al wat ek kan doen is om hom te bel. Drie plase langs mekaar wat brand… Met ons inbrand kon ons die vuur stuit aan ons kant, en dit het nog ‘n ruk by die bure geneem. Tydens nabetragting staan ek en ‘n vriend en gesels toe ‘n bondel droeë sebramis minder as 20cm van ons voete af begin smeul as gevolg van ‘n kooltjie wat die wind aangedra het. Só is veldbrande. Dit hou nie op nie.

Toe almal weg is het ek agtergebly met my spuitkan om die stompe nat te spuit. Indien die wind weer optel, is daardie kooltjies wat waai genoeg om ‘n nuwe brand te begin. Dis hoe dit begin het gister. Die een plaas het drie dae terug gebrand. My liggaam bewe nog van die adrenalien en werk is al manier om dit uit te kry.

Laataand was ek pikswart.

Laatmiddag spuit ek nog water en toe ek weer opkyk sien ek net vlamme by die buurman, reguit oppad na my toe na die gedeelte wat nie gebrand het nie. Terwyl ek besig was om hom te probeer bel, bel hy en sê hy dink ek moet gaan kyk, dit lyk of die vuur weer by my opgevlam het. Hy glo my eers nie toe ek sê ek is dáár en dis nie by my nie. Ek bel weer die brandweer en ander hulp. Hierdie keer word die brandweervoertuig vinnig gestuur. Gelukkig het die wind heeltemal gaan lê en is dit ‘n koue vuur wat brand. Ek, die brandweer en my vriende slaan die vuur op die buurman se plaas, terwyl hy knus in sy huis sit. As dit nie vir my ‘n gevaar was nie, het ek gisteraand daai vuur gelos. Ek klouter die ses voet grensdraad heen en weer asof ek dit elke dag doen om te help om die brandweerwa se brandslang heen en weer te trek.

Eers wanneer jy iets het om dit mee te vergelyk, kan mens die omvang van die vlamme besef.

Ek wens ek kon alles vasvang. Op ‘n stadium het ek en een van die brandweermanne dieselfde gesig met ons selfone probeer vasvang, maar beide onsuksesvol  – ‘n majestieuse papierbas wat vlamvat. In die donkerte het dit soos ‘n boom vol liggies gelyk. Dit het gelyk asof elke takkie ‘n ry liggies op het. Dis die gasse uit die boom wat vrygestel word wat begin brand. En dan skielik is die hele boom oortrek met groot vlamme en word dit ‘n vúúr.

Dis smeulende stompe soos hierdie wat jou nagmerrie van more is

Laataand was die vuur geblus en het  net die smeulende stompe oorgebly. Ek en ‘n jongman wat ek van geen kant af ken nie, het weer deurgeloop en al die gevaarlike smeule by my kant gespuit. Ons het die wat regop gestaan het omgestoot sodat dit ‘n kleiner risiko was. Ek flits, en hy spuit. Hy gee vir my sy nommer en sê “Tannie, bel my vannag as dit nodig is. Ek kom.” Half tien stap ek in die huis in, asvaal en bewend van al die adrenalien en moeg. Gelukkig het ek die vorige dag ‘n pot sop gemaak en kon ek vinnig iets inkry. Toe gaan maak ek weer my kanne vol sodat ek nie onverhoeds in die nag betrap word nie, en daarna het ek gaan bad.

Slaap wou maar net nie kom nie. Ek kry elke dag ‘n ‘Vers vir die dag’ en toe my vers kom vir vandag was ek meer as net onsteld. Ek was vreesbevange omdat ek reeds twee keer my aardse woning verloor het. Die laaste keer was sommer net nou die dag. Lees dit en jy sal dalk my kleingelowigheid en angs vir die nag wat voorgelê het verstaan.

“Jou woonplek is tydelik

Carina Francke

Teksvers: 2 Kor 4:16; 5:1

 Tentbly is lekker, maar permanent?! Sekerlik nie die ideaal nie, want die elemente speel nie altyd saam om dit ‘n aangename verblyf te maak nie.

 Paulus gebruik hierdie beeld om ons verblyf in ‘n deurmekaar en stukkende lewe wat aan elemente soos siekte, hartseer, honger, teleurstellings, ouderdom en dood blootgestel is, te beskryf, maar ook om ‘n hoopvolle verwagting by ons op te wek:

“daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. (4:16). Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.”(5:1) Ons is daagliks pynlik daarvan bewus hoedat ons tentwoning aan’t verweer is, maar dit moet juis die verwagting van ‘n ewige huis in ons wakker maak. En daardie huis is een wat nooit kan verweer nie, omdat dit ‘n geestelike huis, ewig, in die hemele is. Die daaglikse swaarkry en die aftakeling van ons liggaam moet ons nooit moedeloos maak nie, want ons het die belofte dat “

Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek…” (2Kor4:14) Begin liewer jou lewe voluit leef en fokus op die eindstreep wat in sig is en op die prys van ‘n nuwe (heel en gesonde) huis. Dit ís moontlik want jou 24/7 Metgesel loop elke tree saam met jou.

 In teenstelling met die uiterlike, word ons innerlike daagliks vernuwe. Jy sien, ons hart, ons gees, ons ‘binne-menswees’ het lewend geword toe ons 24/7 Metgesel – die Drie-eenheid woning by ons kom maak het. Deur ons verhouding met Hom en Sy inspraak in ons lewens wanneer ons die Woord lees, bepeins en doen wat daarin staan, word ons innerlike mens op wonderbare en misterieuse wyse verander om nooit te verouder nie. G’n wonder nie dat Paulus hoopvol aanbeveel:

Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe…. om Hom welbehaaglik te wees.” (2Kor5:9).

Gebed: Vader, dankie vir die wete dat ek in my binne- mens nooit sal oud word nie en dat my sterwende liggaam opgewek gaan word deur U krag.”

Ek het my wekker vir 02h00 gestel sodat ek kon gaan stomp- en windinspeksie hou. Teen daai tyd het ek nog nie geslaap nie en vanuit my kamer kon ek sien dat dit absoluut windstil was, en met die maan reeds weg kon ek sien niks brand nie. Ek het bly lê en my wekker vir 04h00 gestel. Ongeveer 03h00 het ek eers aan die slaap geraak en toe so nagmerries gehad dat ek gedink het ek het myself wakker geskree. Toe staan ek maar op en ry. Daar was vlammetjies by die een stomp en ek het my watertjies gegooi en weer gaan lê tot 08h00 vanoggend.

Gelukkig het ek ‘n Sibusiso en Samanga gehad wat vanoggend kon help om die warm gedeeltes van die stompe af te saag om dit makliker te spuit. Mens spuit daai stompe, maar dis soos ‘n waterpistooltjie in ‘n groot braaivleis vuur.  Ek moes dorp toe – ongelukkig loop van ons waterpype bo-grond, en hulle is in die gedeelte wat eerste gebrand het. Dit spaar net baie tyd as alles reeds aangekoop is wanneer hy kom. Dit beteken dat die water in die tenk al is vir die volgende paar dae totdat Roelf huistoe kom. Vir hom was dit (is dit) hel om in Pretoria te wees terwyl ons hierdie kant stoei. Ons het hom heeltyd op hoogte probeer hou.

Die oggend na die brand.

Vanmiddag laat het ek weer inspeksie gaan doen en ek dink ek het die laaste stomp nou dood. Dis die eerste veldbrand waar ek sonder Roelf moes besluite neem, die enkele ander kere was hy altyd hier. Almal se gebede het gehelp. Ons het slegs een derde weiding verloor en hoef slegs ‘n gedeelte waterpyp te vervang en ‘n paar wildsblokke vir die kameelperde.

‘n Mens dink alles is weg, tot jy naby kyk. Hoop. Genade. Ek het reeds vanmiddag rooibokke gesien rondloop in die as.

Mens leer altyd uit enige trauma, die grootste ding is dat mens altyd paraat moet wees.

  • Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Hedendaagse tegnologie soos Facebook kon dadelik die woord versprei dat ons nood het en vanoor die hele land, nee, vanoor die hele wêreld was daar mense wat vir ons gebid het. Ons Vader het Sy hand oor ons gehou, en ons loof en prys Hom daarvoor.
  • Hou jou selfoon se battery so vol moontlik. Ek het gesien hoe vinnig dit afgaan met al die bellery en het op ‘n stadium huistoe gery om my simkaart in Annerine se foon te sit. Indien myne pap was om mee te begin, het ek ‘n probleem gehad.
  • Moenie in haastigheid jou simkaart ruil nie, ruil die battery. Nommers wat jy nodig het is dalk op jou foon en nie op jou simkaart nie.
  • Moenie maaltye oorslaan nie. Ek het op ‘n stadium amper flou geword van lae suiker en lae bloeddruk. Annerine se broodjie en koeldrank het my lewe gered. Jy dink dalk jy gaan in die dorp iets eet, en dan moet jy huistoe kom voordat jy daardie kossies gehad het.
  • As Samanga die tuinslang laat ooplê, ry dadelik en stel die pomp sodat hy meermale pomp. Want nou is die watertenks nie vol nie, inteendeel, hulle is amper leeg. Vir nood kan ek by die pomp self ‘n plan gaan maak, maar wasgoedwas en sulke goed is uit tot Saterdag wanneer die pype weer gekoppel word. Ons pomp is ‘n kilometer weg van die huis.
  • Sorg dat jou voertuie brandstof in het. Jy moet dalk net skielik rondskarrel in nood.
  • Dra katoenonderklere en katoen bo-klere wanneer jy vuurslaan. Dit hou jou die veiligste. Bly weg van sintetiese stowwe. Gelukkig was ek veilig.
  • Moenie veiligheidskoene met staalpunte dra nie. Die punte word warm en dan brand jou tone. Dra leer bootse. Daar gaan my budget al weer.
  • Haal jou juwele af voor jy gaan vuurslaan. My silwer armbandjie is twee keer amper af geruk en my vinger het ‘n bloedblaas waar my ring gehaak en geruk het. Hoeveel boere of mans wat met hulle hande werk sien jy wat trouringe dra?
  • Wees ingelig oor verenigings in jou omgewing. Ek het gisteraand die nommer gekry van die Lowveld & Escarpment Fire Protection Association (Lefpa) en het hulle sommer vandag al gaan sien. Hulle het die brand op hulle lewendige satelietkaart gesien, maar omdat nie een van ons ‘n lid is nie mag hulle nie ‘n span uitstuur nie.  Hulle ledegeld is bitter min, daar is net ‘n paar (eenmalige) duur vereistes waaraan jy moet voldoen, en jy moet ‘n basiese vuurslaankursus doen, en jou voorbrande en veiligheidstroke volgens hulle vereistes doen. Hulle help jou met jou voorbrande, stuur smse van brandgevaar toestande, hou jou op hoogte indien daar enige brand in jou omgewing is, en stuur ‘n span indien jy dit nodig het.
  • Wees altyd bereid om ander mense te help, want môre het jý nood. Nood vra nie om te gebeur nie. Dit kom sommer vanself.

Baie dankie vir my vriendinne wat gebel het om te sê. Baie dankie vir almal se gebede. Baie dankie dat die boodskap versprei is. Baie dankie vir al die mense wat kom help het.  Baie dankie vir my man wat vertrou dat ek die regte besluite hierdie kant maak. Mag ons Vader julle almal se paadjies net seën.

Vader, ek staan klein voor U. U almag is bokant my verstand en rede. Dankie vir U genade. Dankie.

Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,, | 24 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.