Monthly Archives: Februarie 2012

‘n Ma se drukkie

My ma is nie ‘n drukkie-ma nie. As ek net dink aan die jaloesie tussen my twee dogters wanneer ‘n mens begin drukkies uitdeel, kan ek nogal verstaan dat mens tussen agt woelwaters maar eerder nie druk nie. Party mense is doodeenvoudig nie aanraakmense nie.

Mý ma wys haar omgee en liefde deur koekies te bak, truie te brei en goeters vir jou te doen. Dis hoe ek grootgeword het, en dis wat ek ken. Dis hoe ek vir haar lief is.

In die tyd wat ek kompeterend booggeskiet het, het ek altyd by haar gaan bly tydens kompetisies. Alleen Ma-en-dogtertyd wat jare nie beskore was nie, is ingehaal. Ek mis daardie bietjie alleentyd met my ma noudat boogskiet vir ‘n tyd op die agtergrond moet bly.

Toe my groot huis afgebrand het, was ek twee dae daarna Pretoria toe om my kar te gaan haal. Natuurlik was ek ook na my ma toe.  Natuurlik het die trane geloop. Natuurlik het sy my gedruk toe ons mekaar groet.  Toe almal weg was en ek en sy alleen agtergebly het, kon ons eers regtig praat oor die vreeslike seer. Ek wou net by my ma wees. Alleen. Ek wou net ‘n dogtertjie wees en huil in my ma se arms. En my ma wat nie ‘n drukkie-ma is nie, het my laat huil en ons het meer as veertig jaar se vashou in ‘n paar minute gehou.

Vroeër vanjaar het sy begin teddies brei vir ‘n liefdadigheidsprojek. Altyd besig, altyd tyd vir iemand anders. Haar teddies het ‘n prys gewen en sy het vir my ook ‘n paartjie gebrei. Die teddies se kleertjies word vasgebrei, daar is geen los goetertjies nie. Twee weke voor die brand was ek by haar en het sy gevra of ek weer ‘n lekker bene-kombersie wil hê, want die ander liefdeskombersie het in die eerste brand omgekom. Asseblief, Ma, asseblief.

Gelukkig het ek ‘n fototjie van my beertjies met my selfoon geneem  en dit is op die oomblik die muurpapiertjie op my foon. Toe Annerine dit die naweek sien, het sy my net aangekyk en saggies kom sê ek kan maar die kombers kry wat Ouma lankal terug vir haar gehekel het. Ai my kind… nee. Dis JOUNE wat Ouma gebrei het. My voetekombersie en my beertjies dra ek in my hart.

Is dit nie alte fraai nie? Sonder ‘n patroon uit my ma se kop gebrei

Gister toe ek my ma bel sê sy uit die bloute dat my kombersie klaar is. Toe begin sy huil en sê ‘n beertjie-seuntjie is al halfpad gebrei, sy wil die paartjie klaar hê teen die troue se tyd wanneer sy kom. So druk sy my oor afstand heen, stekie vir stekie wat sy brei druk sy haar hart en liefde uit.

Dankie Ma. Dankie vir my drukkie. Dankie vir Ma se onbaatsugtige en onvoorwaardelike liefde.

Advertisements
Categories: Familie, Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 18 Kommentaar

Welkom tuis, Pietkat!

Twee weke terug het ek geskryf dat Pietkat nog soek is. Hy is nie meer soek nie… hy is veilig in sy mensma se huis!

Nadat die eerste huis gebrand het, was Pieter op hol elke keer wanneer die weer net brom en het hy óf onder my bed ingekruip, óf onder die tafel. Dit was dáár waar ek eerste na hom gaan soek het hierdie keer. Al wat ek gekry het was ‘n gebrande vlerkie van ons inwonende kleinstreepswaeltjies. Hy was nie daar nie, en dit het beteken: HOOP!

Ek het op twee plekke kos uitgesit na die brand. Een bakkie by die lapa wat tussen die huis en die gastehuisie is, en een bakkie by die murasie. Die bakkie by die lapa het ongeskonde bly staan, maar iemand het by die murasie geëet. My hart het geglo dat dit my Pieter was… Elke liewe dag het ek daardie murasie gaan trotseer met ‘n bakkie kos, elke dag het ek my Pieterkat gaan roep…

Verlede week was hier weer een middag ‘n afskuwelike donderstorm en harde reën en daarna was daar nie meer van die kos geëet wat ek onder by die murasie uitgesit het nie. My hart was maar baie seer, want dit kon maar net beteken dat Pietkat dalk finaal weg was.

Saterdagoggend toe ek afstap met ‘n vars bakkie kos het ek maar weereens eerste by die lapa omgestap. Die bakkie was dolleeg… Ek het amper geval in my haas om die steilte af te hol en toe ek roep toe antwoord my liewe oranje kat! Lê ewe rustig uitgestrek in die sonnetjie en bak…

Pieter Hol du Preez, ons oranje kat

Die trane het vrylik gevloei en ek is met hom in my arms die steilte uit terwyl ek hardop dankie dankie dankie. Dit het maar ‘n paar keer se loop haal gekos voor hy gebly het. Maar as ek roer is hy by en as ek sit is hy op my skoot.

Ons is sooo dankbaar dat hy hierdie keer rustig is. Met die eerste brand het hy vir ‘n maand in die bos gebly en tóé het hy my flenters gekrap toe ek hom gekry het. Ek moes hom in ‘n kussingsloop prop en huistoe dra. Flenters krap en huistoe dra. Flenters krap en huistoe dra.

Ou Pietkat is ongeveer vyftien of sestien jaar oud. Hy was een van drie babatjies, die enigste enetjie wat nie ‘n huis gekry het nie. Niemand wou hom hê nie, omdat hy gehol het wanneer hy mense sien. So het hy die naam Pieter Hol gekry. Ek het geweier om hom sommer net te laat uitsit, en hy moes maar deel van die gesin geword. Mettertyd het hy langs my op ‘n stoel kom sit, maar wanneer ek hom aangeraak het, het hy gehol.  Nog later was hy op my skoot. Net tot daar mense kom, dan HOL ou Piet maar weer!

Op ‘n keer was hy geterroriseer deur ‘n groot vet ander mannetjieskat wat hom, die arme reggemaakte Piet, gesien het as ‘n bedreiging. Hy het hom vreeslik gebyt, in so ‘n mate dat sy een been ‘n yslike sweer gemaak het. Piet het natuurlik verdwyn en een oggend voor skool toe ons hom by die kosbak vang kon ons hom eers veearts toe vat. Teen daardie tyd het sy been baie sleg gelyk en die veearts het ons voorberei dat hy dalk sy been sou verloor. ‘n Groot deel van die agterbeen spier was toe verwyder en vir ‘n lang tyd het sy been gehink.

Toe ons plaas toe getrek het agt jaar terug was dit ook omtrent ‘n storie. Die laaste week het ek op n matrassie in die gang geslaap vir privaatheid en het reggekom met die minimum, Roelf was toe al vir drie maande op die plaas. Toe ek begin kar pak was Piet net weg. Ek pak en pak en Piet is weg. Ek moet sleutel oorgee, en Piet is weg. Die nuwe eienaars se opmerkings oor pellets en katte wat hulle gou-gou regsien het my vir twee ure op my rug laat lê en wag in die dolleë huis. Met ‘n groot gesukkel het ek hom in ‘n vervoerhokkie gekry toe hy uiteindelik opgedaag het, en het ek hom maar by die veearts laat inspuit met ‘n kalmeermiddel, want tyd vir Rescue se saggies werk was daar nie meer nie. Dit was ook maar net genoeg om hom stil te laat lê, sy poot het maar kort-kort gekap na ons hondjie wat saam met hom moes ry.

Op die plaas het hy onmiddellik padgevat die bosse in en ons het hom amper twee weke later op die hoop bokse met ons aardse besittings gekry wat onder ‘n seil gepak was. Daar was ons reuk, en daar het hy gaan skuil.

Pietkat is tande is al vrot, hy raak maer en hy hol nog steeds wanneer hier mense kom. Maar Piet is óns kat en ek is baie bly dat ons gesin weer voltallig is. Welkom tuis, my Pietertjiekat!

 

Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,,,,, | 10 Kommentaar

‘n Versoek van Ma

‘n Paar weke gelede het ek vir ‘n middag by my ma gekuier, en sy het gevra ek moet asseblief iets skryf oor verlies, ons twee het ‘n hele ruk die onderwerp bepeins… min wetende dat twee weke later verlies weer my hele wese sou vul.

Ek dink ‘n mens sal vir altyd huil oor sekere goed wat uit jou lewe weggeruk is. Altyd. Op hierdie stadium blok ek my kop daaroor, want om daaraan te dink is net te pynlik. Ek DWING myself om aan dinge te dink wat NOU en MôRE is, want ek kan niks aan gister doen nie.

Nou bou ek huis en maak reg vir Annerine se troue wat oor sewe weke is. Sien uit na my kleinkind wat ek beplan om te bederf.

Uiteindelik gaan ons tog die wêreld uit sonder al die fisiese bagasie. Uiteindelik is dit tog net niks. Maar ons verknog ons aan hierdie niks. Want ons is net mense. Ons verknog ons siele aan aardse goed, en dis die laaste goed wat kan saamgaan eendag op ons ewige reis. Ek moet leer om my kop op hierdie reis te fokus.

Later, Ma. Later. Asseblief nie nou nie.

Categories: Slakgedagtes, Slakverdriet | Sleutelwoordw: , | 8 Kommentaar

Buig Jakoba, buig!

Vrydagmiddag het die skool vroeg uitgekom omdat die atlete ‘n byeenkoms by Ermelo gehad het, en dit dan nie die moeite werd is om skool te hou vir die wat oorbly nie. Ek het eers gou ‘n pakkie vir Marina opgetel by haar veearts vriendin en toe vinnig klere vir die twee dae gegryp en my kamera vir die wis en die onwis vir die verrassing wat die kinders gereël het. My laptop het sommer in die kar gebly. Die katte en honde se bakke is volgemaak met genoeg vir die twee dae en so neergesit dat dit nie kan nat reën nie. Boesman die staffie het hom natuurlik gewip toe hy sien ek dra ‘n tas kar toe en op die vierwielmotorfiets gaan sit en geweier om my te groet.

By die Nelshoogte bergpas het ek deur die ergste storm gery waardeur ek nog ooit self moes bestuur. Ek het gehuil in die kar van banggeid. Dit het VERSKRIKLIK gehael en die wind het erg geruk. Op ‘n bergpas kan jy nie stilhou nie, jy moet net ry. Van die skielike afkoeling op die teerpad het mis opgewalm, en met die hael en vreeslike reën van bo af was die sig met tye heeltemal weg. Soos in niks. Heeltemal niks. Ek het maar net gehuil en gebid “Vader vat asseblief net die stuurwiel want ek weet nie waar om te ry nie.” Gewoonlik swets ek vreeslik wanneer daar ‘n groot trok voor my ry, maar Vrydag het ek gesê “Dankie Vader dat ek iets het om te probeer volg.” Daar was tye wat ek nie eers die trok se liggies voor my kon sien nie. Ek het letterlik op sy stert gaan ry, en die kar agter my het op my stert gery om my noodligte as baken te gebruik. Anderkant die berg was daar geen teken van reën nie, net lekker sonskyn.

Sondag voor ek weg is uit Pretoria het ek en Roelf vir oulaas gaan saam ontbyt eet. Toe Annerine bel om te sê ek het haar UNISA handboeke wat ek saamgebring het in die kar vergeet Saterdag, was dit ‘n ekstra geleentheid om ook vir oulaas met my kind te kuier. Ons het mekaar sommer by die winkelsentrum gekry en toe sommer vir haar skoene gekoop vir die troue en ‘n paar stukkies kraamdrag vir die ou lyfie wat een van die dae gaan uitsit.

Ek gee nie om dat ek alleen bly in die week nie, maar om alleen die lang pad van Pretoria af huistoe te ry is vir my alleraaklig. Ek verkort my rit so bietjie deur oppad eers ‘n bietjie in Middelburg by my broer aan tegaan en ‘n lekker teetjie  te drink.

So kom ek toe by die huis en ry eerste op na my nuwe huis toe, sodat ek al die presente daar kan aflaai, want in my ou gastehuisie is nie plek vir ‘n muis nie. Ek kon sien die storm wat ek op die berg gekry het was ook hier deur, want ek het ‘n hele paar bome gesien wat afgebreek was. Nie omgewaai nie, afgebreek. Die honde het nie soos gewoonlik opgekom boontoe om te kom groet nie, maar omdat alles reg bo was, het ek gedink hulle het dalk nie gehoor toe ek ingery het nie. Op my tyd het ek alles netjies gepak en gou die reënmeter leeggemaak. Díé hang net aan een spykertjie en is nie regtig akkuraat as dit so skeef hang nie. Ek het 64mm uitgegooi, maar dit was verseker meer.

'n Boom naby die huis wat afgebreek is

Eers tóé het ek afgery ondertoe. Die gastehuisie is so amper in ‘n sloot gebou en toe ek naderkom het ek besef iets is verkeerd met die prentjie voor my.  Ek het so gestop dat ek vinnig kan omdraai as ek moes en toe tref dit my wat verkeerd is met die prentjie. Ek sien nie die huis se dak nie…

Toe ek uitklim en afstap het my honde gekom en my amper omgespring en ek wou nie kyk nie. Ek wou nie. Ek wou nie. Maar ek moes. En dit was ‘n verskriklike skok. Ek was histeries toe ek vir Roelf bel en hy moes mooi paai voor ek kon uitkry wat aangaan.

Boesman pas getrou die murasie op

 Die mure was nog warm en een van die groot hope gras. Ek was te geskok om verder aandag aan die honde te gee. My eerste gedagte was net dat hulle al die heel naweek sonder kos was en ek het blindelings weggery dorp toe om vir hulle te gaan kos koop. By die hek het ek eers die kinders, my ma, ousus en vriende gebel en gevra hulle moet almal laat weet. Oppad het my oom gebel en om te hoor waar ek is, my sus het hom toe reeds gebel. Die winkels was al toe en hulle het gesê ek kan daar kom kos kry. Hulle het getroos en tee aangedra tot Roelf ‘n paar uur later aangekom het van Pretoria af.

My slaapkamer. Die breekgoed op die vloer is goedjies wat op die plafon gebere was waarvoor ek nie plek gehad het nie. Dit was goedjies vir die nuwe huis...

Die arme honde het omtrent die kos verslind. Boesman was kwaad vir my en erg getraumatiseerd. Hy het vir my gegrom wanneer ek naderkom, iets wat hy nog nooit, ooit met enige persoon gedoen het nie. Ons het hom laat klaar eet en toe het hy toegelaat Roelf hom troos en daarna ek.My arme, arme hond. Na die vorige keer was hy vreesbevange as die weer net brom, en Pietkat wat laaskeer vir ‘n maand in die veld gebly het, het dan onder die bed ingekruip. Nou moes hulle weer alleen deur die trauma. Pietkat is op hierdie stadium nog weg, ek sit kos uit, en daar is van geëet, ons hoop maar dis hy. Ek het Oreo swartkat Maandag gekry.

Yskas met verkoolde inhoud

Die vierwielmotorfiets wat die vorige keer byna uitgebrand het, is hierdie keer amper platgeval deur een van die bome wat afgebreek het van die wind.

Millimeters... net genade. Net genade.

Wat is die KANS dat jou huis twee keer in ‘n jaar se tyd afbrand, wat is die kans?

Ons probeer maar net om die silwer wolkie om die donker wolk te sien soos my ma ons van kleins af geleer het. My nuwe huis is darem so dat ek nou daar kan bly, Roelf het slotte aan die deure gesit en hy kon die elektrisiteit so koppel dat ek lig en warm water het totdat Eskom volgende week amptelik sal kom. Daar is nog BAIE werk, maar ten minste het ons ‘n dak oor ons kop.

My badkamer is die volledigste. Net die spieel bokant die wasbak kort, 'n stortdeur en 'n kassie.

Vir ‘n jaar het ek in ‘n skottel gebad omdat ek van bad hou en die gastehuisie net ‘n stort gehad het, nou bad ek weer dat die borrels spat.

Ek sit maar die koppies en glase in 'n boksie, dis maklik om te skuif wanneer ons in die kombuis wil werk.

Ons het sommer ‘n staaltafel gaan koop wat Roelf weer later in die garage kan gebruik en ‘n tweeplaat gasstofie. Ek het ‘n ou lappie omgesoom sodat ek bietjie kleur kan verskaf. Roelf se gereedskap het oorleef en my nuwe naaimasjien en omkapper wat ons in die ons bo gebêre het. En ons het die kombuistee goed en nog ‘n paar goedjies wat ek by die lapa in ‘n kassie gehad het.

Slaapkamer

Net verlede week het ek my eerste bestelling gekry vir drie piouter juweledosies, en Roelf het Maandag by Mica gestop en gesê ek moet gaan benodighede koop. Hy weet hoe terapeuties dit is om te skep en ek sal gek word as ek niks het om te doen in die aande nie.

My wasbak het warm water! Die gastehuisie waar ek 'n jaar gebly het se opwasgeriewe was aan die buitekant, daar was nie plek binne nie.

My vriendin het blomme gebring om te troos.

'n Tikkie kleur doen wondere aan 'n vertrek, al staan die blompot op die vloer.

Roelf het die potplant wat in die lapa gestaan het gaan haal en dit skep sommer ook ‘n huislike atmosfeer.

Die meubels het ons gekry na die ander huis gebrand het, en dit het gelukkig nie in die gastehuisie gepas nie!

Ons fisiese nood is nie so groot hierde keer nie. Ek móét sê ek is OK, sodat ek dit self kan glo. Maar binnekant is ons maar rou. Dankie familie, vriende, Facebook- en Blogvriende vir julle gebede en onderskraging. Dankie dat ek vir jou kon vertel. Dit maak die verwerking bietjie makliker. Ons kyk net vorentoe, want ons kan nie die verlede verander nie.

Fil. 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Categories: Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,,, | 22 Kommentaar

Kobie, jy verjaar!

‘n Paar weke gelede lig Annerine, my oudste dogter, my in dat ek die tweede naweek van Februarie Pretoria toe moet gaan. Vir ‘n verrassing. Presies wanneer oor die naweek die verrassing is, sal ‘n verrassing wees. Ongelukkig moes sy sê van die verrassing, sy het nie geweet wat anders om te maak om my daar te kry nie. Hulle ry spesiaal van Dundee af vir die okkasie.

Ek kry geen leidrade nie, want sy weet al van beter… ek ontknoop altyd die leidrade. Om die verrassingselement te behou vis ek maar liewer nie. Sy vra net op ‘n stadium hoe lank ons nou presies getroud is nou weer, en ek dog sy reël ‘n lekker romantiese ete vir ek en Roelf aangesien ons silwerbruilof so paar jaar terug stil-stil verbygegaan het.

Ousus Drinie bel toe in die week en sê sy het gereël ons moet nou sommer terwyl ek in Pretoria is ‘n lekker familiebraai hou die Saterdag, aangesien sy en kleinsus Magda in Januarie verjaar het, en niemand het tyd gehad vir ‘n kuier nie. Mmm… beteken dit die hele familie is dalk betrokke by die verrassing? Ek gebruik toe sommer die geleentheid en reël vir Annerine wat die Paasnaweek trou ‘n kombuistee terwyl almal daar is.

Later bel Drinie weer en sê ons moet sommer die Vrydagaand by hulle kom eet, aangesien Roelf iets by swaer Koos moet gaan haal. Mmmm… Nou begin ek weer wonder, is die verrassing dalk daardie aand?

Kort voor die afgespreekte tyd bel Koos. Ons is welkom om vroeër te kom, hulle dogter Marianne bou ook huis en wil graag vir my wys. Mmmm… die opwinding duur voort… Wil hulle ons nou vir ‘n rukkie weghê of wat?

Dit was toe net ‘n doodgewone héérlike ete. Twee dae oor van die naweek…

Saterdag trek ons toe almal saam by niggie Hannelie en Japie se plot buite Centurion. Toe ons daar aankom en ek ook my vriende se kar sien staan, toe weet ek…

Ons het nog vir ‘n paar van die familielede gewag toe die driejarige Luca van Marianne met blink ogies my op die been kom tik en vreeslik opgewonde sê: “Kobie! Jy verjaar!

Dis toe ‘n propperse kombuistee vir my nuwe huis. Hulle het tot gekonkel met Roelf om ‘n spul vrae op te stel wat ek moes antwoord en met ‘n verkeerde antwoord moet ek ‘n groenetjie sluk… My kop het naderhand lekker gedraai van daai lekker appeltjies!

Luca het na ‘n rukkie weer by my kom staan en kom vra wanneer sing ons nou. Toe sing almal maar “Veels geluk liewe Kobie… o-omdat jy verjaar…”

Dit was ‘n heerlike dag saam met die familie en vriende. Dankie julle. Julle is die beste ooit. Kobie het ‘n wonderlike verjaardag gehad.

Categories: Sommer maar net | Sleutelwoordw: , | 3 Kommentaar

Soms moet ‘n mens ‘n strepie trek

Ek wonder of ek al ooit vir so lang tydperk aaneen fisies so hard gewerk het soos die afgelope somervakansie. Dit het my verskriklik goed gedoen.  Ek was lanklaas so ontspanne en ek het amper alles geëet wat ek wou, sonder om migraine te kry. Marina sê sy dink ek het al die gifstowwe uitgesweet elke dag.

Die dag toe die skool  begin het, het die borreltjie egter gebars. Skielik is dit net skool, skool, skool en nogmaals skool. Voorbereiding. Vergaderings. Oueraande. My dae word opgeslurp en my aande verwoes. Daar is nie tyd om veld toe te gaan nie. Die Pompoms floreer op die skielike bevryding van my spuitkan en die Lantana koggel my ooghoogte as ek verby jaag vir werk. My Boesmanhond bring kop onderstebo sy bal wanneer ek donkertyd by die huis kom. Jaag dan maar sy frustrasies uit op die uitgeskopte sebrahingsie wat vertroosting kom soek omdat hy dink ons is sy trop.

Die wonderlike nuus waarvoor ek lankal wens “Mamma, jy gaan ouma word…” is net ‘n bietjie onverwags in hierdie mallemeule-rondomtalie-wind. November se troue word vervroeg na April. ‘n Nuwe venue moet gesoek word, ‘n spysenier, trourok, ‘n dominee, strooimeisierokke, ensovoorts.

Elke dag word bepaal deur my dagboek se prioriteitslysie. Daar is nie tyd vir blog en Facebook nie, kommunikasie kanale is toe na my familie en vriende. Laasweek Dinsdag skryf ek op Facebook: “Tussen skool en troureëlings is my lewe besig om by my verby te hardloop. Dit gaan so vinnig ek is bang ek pootjie en val my nerwe af.” So weet my hulle darem dat ek nog asemhaal. Ook maar net.

Die lysie word afgewerk en God is groot en goed met my troulysie. Altyd. Vir R30 000 kan ek vir 100 gaste kos gee (skemerkelkie en eetgoedjies terwyl hulle foto’s neem en voorgereg tot nagereg), my kind kry ‘n pragtige trourok, die strooimeisies kry rokke, die blomme word gedoen, my kind kry haar wit tooisels en baie liggies, haar truffeltoring as troukoek en vele meer. VIVA platteland en mense met gul harte! Dankie Vader vir U goedgeid om hierdie mense op my pad te bring.

Die eerste onstpan kom laasweek Woensdag toe my ousus-hulle by my oorslaap en ek die hele aand heerlik met hulle kuier. Hulle het alleen tyd verwyl op die plaas gedurende die middag toe ek by die skool verpligtinge nagekom het. Maar toe my dagboek my middernag meedeel dat dit my beurt is om te open en ‘n boodskappie te lewer Donderdagoggend in die personeelkamer, wou ek amper huil. Wat, WAT gaan ek tog sê? My hart huil na Bo en my Bybelse dagboek vir vroue van Hennie Symington val oop en ek staan verstom oor die boodskap wat ek kry.

“Tyd kan nie herhaal word nie” is die opskrif van die dagstuk. Die teksvers is Luk 6:12 waar vertel word dat Jesus tyd gemaak het vir Sy Vader. “Jy word geken aan die manier waarop jy jou tyd deurbring. Dit weerspieël jou waardes.” Skool jou verpestelike ding. “Teoreties gesproke is ons vryetyd vir ons baie belangrik, maar tog bevind ons ons in beroepe wat elke greintjie vryetyd uit ons pers.” Skool jou verpestelike ding, nog ‘n keer. Ek dink die stuk is NET vir onderwysers geskryf. Ek lees die boodskap die volgende dag en stap bevry uit die personeelkamer. Dit wat vir my belangrik is, is nie skool nie. Ek spreek die woorde hardop uit voor ander dat ek ‘n strepie gaan trek… my lewe vir my gaan terugvat.

Maar eers moes die dag se lysie afgewerk word. Donderdagmiddag se tyd was haarfyn beplan en ek kon nie glo dat ek alles gedoen gekry het nie. Ek is eers 15h00 weg by die skool, en is toe Nelspruit toe om die laaste kartonnetjies vir die troukaartjies te koop. Barberton is 45km vanaf Nelspruit, ek bly op ‘n plaas tussen die twee. In die winkel leen hulle vir my ‘n skêr, linaal en potlood om dit gou te knip. Teen 16h30 storm ek by ‘n ander winkel in waar ek dit met die allerfraaiste blommetjies embosseer. Gratis. Desember het ek al gereël dat ek een of ander dag gaan kom. Ek het toe ‘n aansienlike bedrag vir mosaïekbenodighede daar gespandeer en hulle gee om vir hulle klante. VIVA platteland! Ek rol daai Cuttlebug teen die spoed van lig en 16h57 HARDLOOP ek uit om die poskantoor so drie besighede verder se deur nog oop te kry. Eers toe ek die papiertjie met die opsporingsnommer vir Annerine in Dundee sms bedaar my hartklop en hou my hande op met bewe. Toe pak ek my skoollysie by die huis. So het dit die afgelope drie weke met my gegaan.

Vrydagmiddag is ek weg Witrivier toe. Vir die skool. Nadat ons ‘n uur gewag het vir die fasiliteerder van die kursus het die groep halt geroep. Ek het my skoolhoof gebel en hom gesê. Hy het nie ‘n probleem gehad toe ek sê dat ek nie my tyd Saterdag weer gaan mors nie. By die huis het ek met ‘n huppel in my stap my spuitkannetjie gevat en vir die eerste keer in drie weke het ek die veld geruik. Ek het nie ‘n hoed opgesit nie – die wind het toestemming gehad om vrylik met my hare speel… My brakke was uit hulle self van blydskap om saam te kon gaan. Ek het nie omgegee vir die skrape op my bene nie. Ook nie vir die paar bosluise wat ‘n happie bloed gesteel het nie. Want ek was in die veld.

Ek kook gewoonlik Vrydagaande omdat Roelf ‘n lekker bord kos mis in die week. Dit was ‘n heerlike aand en ons het na ete in die halfmaan se lig die kilometer tot by die hek gestap en terug. Sommer net lekker gekuier met mekaar en alles wat die naweek gedoen moes word beplan. Dis heerlik om so in die aand te stap. Die pad staan helder uit in die maanlig. Die naguiltjies het spesiaal vir ons ekstra hard gesing, die kameelperde ewe nuuskierig agter ons aan. Hy mis die veld nog meer as ek, ek hoor darem die naggeluide en asem die vars lug in, drink ons lekker boorgatwater. Hy moet chloorwater drink en asem heeldag motoruitlaatgasse en gemors in.

Ons het nie aan die huis gebou hierdie naweek nie, daar was te veel plaaswerk wat gedoen moes word na ons Saterdag ons besigheid in die dorp afgehandel het. Laatmiddag het ons vir Marina ‘n hokkie vir haar haas gebou.

Vanoggend na kerk was ons gou Nelspruit toe want die haashok het iets gekort. Vir oulaas het ons elkeen ‘n spuitkan volgemaak en al geselsende het ons die laaste tydjie saam spandeer voor dit half twee was. Want half twee moet ek sy klere stryk en twee uur ry hy  van my af weg.

En toe het ek my teruggevatte tyd spandeer om my sprinkane op my ander blog te sit. En te skryf dat my lewe nog steeds nie rustig genoeg is nie, maar dat ek ‘n strepie getrek het.

Ek het talente ook gekry wat uitgeleef moet word. Talente waarmee ek Hom moet eer. Ons moet tyd spandeer met Hom, en ons kan dit nie doen as ons so jaag na wind nie. Ons tyd hier is kort gemeet aan die ewige tyd wat vir ons wag . Want ons word gebore net sodat ons kan sterwe, ons is uitgekies daarvoor sodat ons die ewige lewe kan erwe.

Categories: Plaaslewe, Skoolhou, Slakgedagtes | 9 Kommentaar

Can you help to identify this caterpillar?

Can you help to identify this caterpillar?.

Categories: Biodiversiteit op die plaas | 1 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.