Monthly Archives: Januarie 2013

Winnertz familie naweek 2013

Ek kom uit ‘n familie wat van familie en van kuier hou. My ma was ‘n nooi Winnertz, die tweede oudste van agt kinders wat oorleef het om groot te word. Die afgelope paar jare hou ons ‘n Winnertz familiesaamtrek in middel-Januarie , net ‘n Sondag om ‘n bietjie te kuier.

Ons familie is die enigste Winnertze in die land en my ousus het baie moeite gedoen om die familiegeskiedenis na te spoor. Sy het vir ons ‘n pragtige dokument saamgestel van haar navorsing en ek gaan slegs enkele feite hieruit gebruik as agtergrond, die storie gaan oor die kuier en nie die geskiedenis nie.

Ons groot-oupagrootjie Fritz Winnerts het ‘n syfabriek besit in Krefeld , Duitsland. Sy seun Johann Friedrich Winnertz het hom as onderwyser bekwaam en dit was hý wat ons Suid-Afrikaanse stamvader is. Hier het hy vir hom ‘n boerenooi, Annie Erasmus, as vrou geneem en my oupa Hansie Winnertz was sy enigste kind. Ons stamvader sterf op ‘n jong ouderdom aan malaria toe Oupa Hansie maar drie jaar oud was. Ouma Annie het weer getrou met Oupa Pieter du Plessis, en hulle het saam ook weer kinders gehad.

Ek vermoed baie sterk dat my en my ousus se voorliefde vir goggas en dinge ingeteel is, want in dieselfde tydperk wat my groot-oupagrootjie in Krefeld gewoon het, was daar ene Johannes Winnertz uit dieselfde dorp wat ‘n entomoloog was. Hy het gespesialiseer in Diptera, die vliegfamilie, en het ‘n aantal nuwe spesies benoem. Miskien was die mans neefs, wie weet.  Ek het myself nog altyd beskou as ene uit die genepoel van die Winnertze.

Vir die eerste jare is die kuier in Pretoria gehou, en net op ‘n Sondag so oor middagete, maar verlede jaar het ons oom Ford Winnertz ons genooi om sommer die naweek te kom kamp digby Potgietersrus. Die wat daar was het dit baie geniet, en hy het aangebied dat die kuier weer daar kon plaasvind. Self was ek jare gelede laas by die byeenkoms want dit val op dieselfde naweek wat een van my boogskietkompetisies altyd was. Ek het dus van die familie jaaaare laas gesien, en op die oomblik kompeteer ek nie en kon ons ook gaan.

Al het ons mekaar lank nie gesien nie,  is ons nie totale vreemdelinge vir mekaar nie…Sosiale media, spesifiek die Gesiggieboek, word baie positief aangewend in ons familie om ons bande te versterk. Tans woon ons wydverspreid en sien mekaar selde, maar ons wéét wat aangaan met mekaar. Ons leer mekaar se grille en giere ken, voorkeure en afkeure, ons lag saam en huil saam, ons bemoedig mekaar in tye van nood en vier fees wanneer daar gevier moet word. Ons deel ons foto’s van groot en klein sodat ons mekaar se gevreetjies kan herken. Wanneer ons mekaar dan die dag aangesig tot aangesig sien, is ons nie vreemd vir mekaar nie; daar is dan immers reeds tienduisend dinge om oor te giggel en die volledige stories te vertel wat nie in die openbaar sou deug nie.

Ons het mekaar vreeslik opgewerk die laaste maand voor die familienaweek, dit was net nie snaaks nie! Van elke stukkie voorbereiding op die plaas tot vreeslike reisreëlings wat getref moes word om daar te kom, is volledig verslag van gedoen. Beloftes van tuisgebakte brood met vars appelkoos- en aarbeikonfyt is gemaak, en nagekom ook hoor! Om van onderlinge skimpe van poetse wat gebak gaan word nie eers te praat nie… Ek dink daar was ‘n paar dankbare harte toe dit net by skimpe gebly het!

Die donkie in aanbou. Dankie CC dat jy so fluks gehelp het, die tannies veral was baie bly!

Die donkie in aanbou. Dankie CC dat jy so fluks gehelp het, die tannies veral was baie bly!

Selfs die ongesoute kampers het hulle nie laat afsit deur weervoorspellings en gerugte van vloede nie, hulle het maar net voorsiening gemaak vir die reën wat dalk sou kom.

Gazebo's bo!

Gazebo’s bo!

Dit was maar ons eie klein binnekring van sussies en gevolg, en ons een tannie met haar kleinkind wat die hele naweek saam met die plaasmense gekuier het. Die eintlike saamtrek sou plaasvind op die Sondag soos gewoonlik, met die groter familie wat dan as ‘dagbesoekers’ kom. Hulle het regtig groot uitgemis, die meeste pret en gekuier was tydends die kampery.

Wat is nou lekkerder as 'n Bosveldvuurtjie om in te tuur op 'n Saterdagaand?

Wat is nou lekkerder as ‘n Bosveldvuurtjie om in te tuur op ‘n Saterdagaand?

Saterdagoggend het ons almal gaan stap, en die blou donker wolk wat vêr gelyk het, het toe heeltemal te vinnig beweeg en ons het almal sopnat gereën.

Die klein stadsjapies weet nou dat koeie nie byt nie, en dat alle koeie nie 'koeie' is nie!

Die klein stadsjapies weet nou dat koeie nie byt nie, en dat alle koeie nie ‘koeie’ is nie!

Groot en klein durf die plaaspad aan.

Groot en klein durf die plaaspad aan.

Terwyl sommiges met die terugkom slag soos verwese nat hoenders gelyk het, was daar iemand wat loshande Mej. Wet T-shirt in haar ou wit hempiekie sou wen…  Die sensorraad het egter besluit dat geen foto’s daarvan die lig sou sien nie… dit sou dalk nét sensitiewe kykers ontstel het!

Ouma Drinie het natuurlik al die kleintjies bymekaar gemaak en in die modder gaan speel; dorpsjapies moet ook leer van moddertjies wat tussen toontjies deurwurm en reëndruppeltjies wat sommer in ‘n mens se keeltjie ingly. Gelukkig was daar ‘n hele paar gazebo’s opgeslaan en het ons lustig verder gekuier, dankbaar vir die reën wat die plaas nodig gehad het.

Is dit nie lekker om so 'n cool ouma te he nie?

Is dit nie lekker om so ‘n cool ouma te he nie?

Vang die druppels Sussa!

Vang die druppels Sussa!

Plase is natuurlik nie eg as daar nie ten mínste ‘n spinnekop en ‘n slang ook is nie… Ongelukkig het die luiperdwyfie en haar kleintjie wat die vorige week daar rondgehang het, so groot geskrik vir die lawaai dat hulle nêrens te sien was nie! Dalk maar goed vir van die stadsbesoekers se senuwees… van ons ander het heimlik gewens vir ‘n ou kykie in ‘n geeloog se siel.

Hierdie mooi spinnekop het dadelik my en Drinie se aandag gevang

Hierdie mooi spinnekop het dadelik my en Drinie se aandag gevang

Baba luislangetjie

Baba luislangetjie

Kan 'n mens dit eet, Blommetjie? ‘n Paar koeie het wel kom ondersoek instel na die stadsjapies en hulle vreemde gedoentes.

Kan ‘n mens dit eet, Blommetjie? ‘n Paar koeie het wel kom ondersoek instel na die stadsjapies en hulle vreemde gedoentes.

Laatmiddag is daar vars mielies gepluk uit die land en in ‘n groot swart pot gekook. Die wat nie verslind is met botter wat teen die kenne afgedrup het nie, is netjies afgesny en is pappot toe vir die aand.

397559_10200206903556461_1348021883_n

Roelf het die vorige naweek spesiaal ‘n byekorf leeggedra by ons op die plaas en as voorgereg vir die braai het ons daardie varsuitgehaalde veldheuning saam met varsgebakte brood en vars geroomde ryk plaasroom verorber. Vars man, várs!

Lekker heuning, brood en room... Poeding vir voorgereg

Lekker heuning, brood en room… Poeding vir voorgereg

Sondagoggend kon die kleintjies by die roomafskeier skuimwit melkies gaan proe, spesiaal vir hulle ‘gemaak’, soos klein Kuschke vertel het.

Mens MOET 'n wit snorretjie kan wys as jy vars 'gemaakte' melkies drink

Mens MOET ‘n wit snorretjie kan wys as jy vars ‘gemaakte’ melkies drink

Ek het die middagete gemis, en het net ‘n klein rukkie saam met die res van die familie gekuier want my pad terug huistoe was omslagtig en ons moes vroeg vertrek sodat ek nog in daglig by die huis kon kom. Dat hulle lekker geëet het is ‘n feit, ons is nogal goed met daai een…

Kos man! LEKKER!

Kos man! LEKKER!

Net vir interessantheid – ek is die kleinste volwassene in die familie, Omie die langste. Ek het die foto op Gesiggieboek gesit met die opskrif: “Die kort en die lank in die familie”, en hier is Omie se oulike kommentaar na aanleiding van die feit dat ons mekaar so baie lank laas gesien het “Jy was te kort hier, want jy was so lank weg” .  Die foto herinner my eintlik aan die uniekheid van ons elkeen. Ons het dieselfde gene, maar tog so verskillend aanmekaar gesit.

My oom is meer as 2m lank, my neef amper daar en ekke is 1.57m kort

My oom is meer as 2m lank, my neef amper daar en ekke is 1.57m kort. Ek weeg onder 50kg, en hulle nie.

Omie, ons het lekker by julle gekuier! Baie dankie vir al julle harde werk om die kampplekk skoon te maak en die warmwater geriewe wat spesiaal opgeknap is. Tannie Marthie verdien ook spesiale vermelding vir al die reëlings wat sy getref het. Elkeen van die familielede het eintlik op ‘n unieke manier ‘n bydrae gedoen om die kuier lekker te maak, dankie julle spul Winnertze en nakomeling, julle is almal puik!

Ek het by die huis gekom met ‘n warm gevoel in my hart. Ek is trots op my Winnertz bloed. Ek is trots waar ek vandaan kom en trots waarheen my familie groei. Vorentoe. Saam.

Categories: Familie | 4 Kommentaar

Voorreg en rugbreker

Laatmiddag sit ek in die soelte op my stoepmuurtjie en hou geammuseerd die spul jong wildebesies dop wat mekaar baldadig al om die bome jaag soos ‘n spul uitgelate laerskoolkinders op die eerste dag van vakansie. Sonbesies skril verwoed voort wanneer tweetjies ewe grootmeneer koppies stamp. Die mammas luier ongestoord al vretend met die bokspringertjies rondom hulle. Rooibokrammetjies blaas alreeds agter die ooitjies aan vir volgende seisoen se oes en hardloop wye draaie terwyl ons kameelperdbul rustig sy balle staan en krap teen ‘n jong boompie wat hy afgebreek het tot nét die regte hoogte. Net ‘n entjie verder staan ‘n hoogswanger sebramerrie en skuur haar flank teen ‘n boom terwyl die tarental tjir-tjir oppad na hulle slaapboom vir die aand.

Die son blets sy laaste goue lig en eensklaps is die wildebesies se middagspel oor. Elkeen hol na sy ma en stamp gulsend die uiers na ‘n ruk se gesuip en begin dan rustig saam met die trop te wei.

Dit alles in ‘n agtermiddag se kyk. Vredevol. Rustig.. Bevoorreg. Geseënd

Maar dis nie altyd so nie en dit kom nie vanself nie.. Ons plaas is nie selfonderhoudend nie, en ons moet hard werk en groot opofferings maak om hierdie rustigheid te kan ervaar. Veldbrande. Wildstropers. Indringerplante. Alleenbly op die plaas terwyl manlief geld verdien amper vier ure se ry hiervandaan. Weerlig en nog donderweer ook. ‘n Werk doen wat nie jou keuse is nie, maar wat jy aanvaar om die lewe makliker te maak.

Ons kommer ons oor ons kameelperd koei wat nou enige dag moet kalf. Verlede jaar se kalf het sy verloor na ons haar laat ‘dart’ het vir ‘n ondersoek. Kameelperdkoeie is blykbaar oor die algemeen nie goeie mammas nie en die man van Parkeraad sê al wat hulle nog kan dink is dat sy dalk dink dat hier te min kos is en dan die kalf skop. Dus het ons besluit om ekstra voeding te verskaf in die laaste weke van haar swangerskap. Ek het lank gesoek na lusernbale en nie gekry nie. Uiteindelik het ons lusernpille gekoop en toe wil sy nie haar bek daaraan sit nie! Gelukkig weet ons sy vrek oor die Niknaks tipe tjippies en meng toe die lusern daarmee om gewoond te raak aan die smaak. Ons voer dit in wintertye wanneer dit nodig is, ‘n fabriek in Nelspruit verkoop die afval as voer want dit is maar net mielies. Nou is sy so blerrie bederf dat sy aanhol wanneer mens met die emmertjie na die voerbak toe stap.

‘n Plaas is ‘n finansiële put en dit verg fyn bestuur om nie in die modder te gly nie. Vir al die vreugdes is die opofferinge egter die moeite werd.

Kan jy kaalgat in die maanlig saam met jou man gaan stap met net die aandlug wat jou vel bedek? Kan jy die sterrewolke sien en nie net ‘n vae belofte van sterre vêr weg nie? Jou klere uitpluk na ‘n uitmergelende oggend van werk in die veld en net so in die swembad spring? Kan jy vier verskillende paddas op een slag hoor kwaak en ‘n piepklein babaduikertjie sien wegskarrel saam met sy ma? Kan jy ‘n visarend hoor roep of die diep stem van ‘n gevlekte ooruil in die nag? Kan jy in die veld gaan stap terwyl die wit skoenlappertjies migreer en die swaeltjies sentimenters van jou gesig swiep in hulle baldadige baljaar in die oorvloed? Kan jy jou trommeldik eet aan rooi-ivoorbessies en jou kiewietjies in ‘n knop trek met ‘n bloedrooi suurpruim? Kan jy asemhaal sonder dat jou sinusholtes brand? Kan jy as jy jou ore spits die blommetjies hoor groei en jou tone laat krul in ‘n modderpoeletjie na ‘n buitjie reën?

Ek kan. Vir hierdie voorregte en seëninge en nog baie meer sal ek my vingers stompies werk en die rugbreke vat in die swaar tye. Ek is gelukkig hier, ek het vrede in my gemoed. My siel het ‘n tuiste gevind.

Dankie. Vader, aan U al die eer.

Almagtige God Amos 4 vers 13

Categories: Plaaslewe | 6 Kommentaar

Juffrou spring vêr

Donderdag en Vrydag het ons atletiek- en swemuitdunne by die skool gehad. Donderdag het ek by spiesgooi gewerk met die seuns se atletiekuitdunne en Vrydag was ek en ‘n medekollega verantwoordelik om die o/15 dogters te vergesel na elke item.

Van ons en die personeel by elke punt is verwag om massadeelname aan te moedig in ons groepe en dis regtig nie ‘n maklike taak met 60 tienermeisies nie!

Die puntpersoneel het aanvanklik basies al die motivering in my groep gedoe en ek het net die administrasie gedoen. Ons derde item was vêrspring en ek het so ewe in die ry gaan staan en ‘n beurt afgewag. Die meisies het my baie geammuseerd dopgehou en nie gedink ek gaan dit regtig doen nie! Toe ek begin hardloop was daar ‘n luide gejuig en handeklap totdat ek geland het. “Sjoe, Juffrou! Juffrou het sowaar verder as ek gespring. Eish Mam, we didn’t know you can run… ”

Die enkele afdaal na hulle vlak en ‘voorbeeld’ wat ek gestel het sonder om te raas en skel het gemaak dat my hele groepie daarna aan byna al die items deelgeneem sonder aanmoediging, met uitsondering van hekkies waar sommiges se lyfies nou regtig nie geskik was nie. By hoogspring het ons die lat afgehaal en elkeen het op die mat neergeplons, die atlete het tipiese hoogspringstyl gespring en het verdere beurte gekry.
By elke item het hulle mekaar aangemoedig en niemand was dikbek nie.

Maar wee o wee… Toe ek nou gistermiddag begin rustig raak met huistoe kom tyd het ek bewus geraak van ‘n pyntjie in my voet. En hoe later hoe kwater…Toe ek my tekkies uittrek toe raak my voet regtig seer en al hoe seerder. Teen die tyd wat ek en Marina halpad deur die mall geloop het, wou ek huil. Ons het ons shoppingspree kortgeknip en by die apteek gaan perdesalf en Voltarenpille kry. En teen die tyd wat ons by die huis gekom het, moes Roelf my kom in dra… my voet was vet opgeswel en BAIE seer. Ek kan nou nog nie glo dat ek hom so kon beseer en die hele dag loop sonder om enige iets te voel nie!

“Mamma, dis oor mens nie in die vêrspringput hoort as jy amper agt-en-veertig is nie.” en “Jy weet mos met jou voete is dit stupid.” was van die opmerkings by die huis. Gelukkig is die swelling vanoggend baie beter en die pyn amper heeltemal weg.

Ek hoop van harte dat ek elke kind gister met respek en deernis behandel het en dat niemand enige letsels oorgehou het nie.In ons skooldae was almal gedwing om deel te neem en dis nie altyd met deernis gedoen nie.

Almal is nie atlete nie, en almal is nie akademies aangelê nie; maar dis tog soms nodig om uit jou gemaksone te beweeg om eenheid in jou groep te leer… om te leer om ander aan te moedig om iets nuuts te bereik, al is dit net om ‘n gewig een meter vêr te gooi of die spies in die regte rigting te houvas.

Ons skool se motto vir die jaar is “Werk saam, wen saam” en ons leuse is “Volhard/Persevere”. Ek hoop dat ek dit positief saam met my groepie kon uitleef gister en dat elkeen iets positief uit die ondervinding kon haal.

Vandag is my voet nog effens geswel en rooi waar hy beseer is

Vandag is my voet nog effens geswel en rooi waar hy beseer is

Categories: Skoolhou | 6 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.