Monthly Archives: Februarie 2015

Ma se spesiale verjaardag

Die eerste dag van Julie 2014 was ‘n baie spesiale dag vir ons familie. Ons liefste Ma Anne het haar tagtigste verjaardag gevier en ons is baie bevoorreg dat ons dit met haar kon deel.

image

Ma met haar agt kinders

Ek dink byna elke mens dink sy of haar ma is spesiaal, maar mý ma is spesiaalste…

Ma se storie begin op 01 Julie 1934, die tweede dogtertjie gebore vir Hansie en Driena Winnertz. Die oudste dogter, Marie, of Ousie, is groot gemaak deur my oumagrootjie en Ma het dus ook ‘n groot rol gespeel  in die huis vir die ses ander wat gevolg het. Hulle het in baie swaar tye groot geword. Geld was skaars, armoede en swaarkry oorvloedig. Met ‘n Duitse van was daar baie vooroordeel na die oorlog, ongeag dat Oupa in Suid-Afrika gebore is en so Afrikaans was as wat kon. Oupa en Ouma het in Botswana gewoon, die kinders het skool gegaan in Potgietersrus. Kan jy jou índink om jou Graad Een kindjie by ‘n koshuis af te laai en dan net met Julie en Desember vakansies te sien? Dís die tye waarin sy moes leer oorleef, waarin sy moes leer om emosioneel sterk te word.

Ma is ‘n sterk vrou. Nie net geestelik nie, maar ook fisies. Oupa moes ‘n hand hê op die plaas om hom te help werk, en Ma was daardie hand in vakansietye, die seun wat nog nie gekom het nie. Tannie Ousie was te fyn vir hierdie soort van werk. Net nou die dag vertel sy hoe kwaad hy kon word as sy die verkeerde koei ingebring het vir melk, en dan ingelê het met die spantou. Vir haar het almal dieselfde gelyk, hy weer het elke koei op haar naam geken. Oupa was ‘n beneukte man, maar goed en lief vir sy familie. In die huis het Ma weer vir Ouma gehelp. Vakansietye was gevolglik nie daar vir speel en leeglê nie, maar vir werk.

image

Ma, Oupa en 'n werker oppad veld-in vir werk.

Ma het uitgeblink op akademiese en sportgebied. Haar rapport van standerd agt het die volgende inskrywing bevat: “Moet asseblief nie vir Anna uit die skool haal nie, sy is só talentvol”. Dis vir my hartseer verby, maar die realiteit van haar lewe was dat sy skool moes verlaat sodat die jonger kinders ook basiese skoling kon ondergaan, weggestuur om by ‘n tannie te gaan loseer sodat sy kon gaan werk. Die salaris wat sy gekry het is net so oorbetaal aan haar ouers. Onbaatsugtig vir altyd.

Ma en Pa het mekaar ontmoet op haar oom se troue en was dadelik verlief. So het ‘n nuwe fase van haar lewe begin op een en twintig jarige ouderdom toe hulle getroud is. Die jaar daarna is ons Ousus gebore en van toe af was daar die getrippel van nog sewe ander kinders in die huis.

image

Goue Bruilof, 'n seëning vir ons almal

Lewe was nog steeds moeilik as getroude vrou. Die ouer kinders het heeltemal sonder elektriese krag groot geword, sonder die gerief van lopende water in die huis en ‘n spoel toilet. Ek was in die hoërskool toe ons eers daardie geriewe gekry het. Ma het sonder kerm en kla al ons klere self gemaak, al ons truie gebrei, al ons brood gebak en koekies en beskuit by dosyne. Ons het ‘ n kamerspens gehad, met rye en rye vol tuisgemaakte konfyte en ingelegde vrugte.

Ons het nie toebroodjies skool toe gekry nie, ons is met ‘n behoorlike ontbyt uit die huis gestuur wat dit onnodig gemaak het. Smiddae het ‘n heerlike middagete gewag en saans was daar kookkos op die spyskaart. Die lekkerste middagete vir my was die nat beskuitbolletjies met ‘n frikkadel verrassing in die binnekant. Waar Ma tyd gekry het vir alles, weet ek so wragtig nie, want Ma het nog self gewas en gestryk ook. Daar was maar kort tydjies ‘n bediende terwyl ek in die huis was. Eers as vrou in my eie huis het ek besef hoe erg Ma ons bederf het, want Ma wou hê ons moet die sorgvrye kinderjare hê was sy nie gehad het nie. Dankie daarvoor Ma, Ma is ‘n besondere vrou en as Spreuke in ons tyd geskryf was, sou daar ‘n ekstra hoofstuk wees met Ma se deugde.

Later jare is die kleinkinders net so bederf. Sommer net ‘n klein voorbeeld is Marianne en Annerine wat pouses by die muur van Ma se kompleks geroep het… en dan het Ouma sakkies koekies of ‘n kosblikkie met lekkernye oor die muur gegooi, kompleet met ‘n vurk of lepel en ‘n servet sodat die boeke nie moet vuilsmeer nie. Voordelig as jou skool net langs Ouma se kompleks is, né! Van die ander kindersnwat van marmelade hou se sitrus stukkies was nie net opgekerf nie, nee…. dit was vissies en blommetjies en vol van liefde. Elke kind en kleinkind is altyd op die hande gedra en spesiaal laat voel. Soos Johan met die Goue Bruilof gesê het… daar is nie baie Oumas was saam met haar kleinseuns babers in die dam met haar hande gevang het nie…

image

Sewe dogters en uiteindelik 'n seuntjie! Ma het ons rokke alles self gemaak, van klein tot groot. Geld vir patrone was daar nie, en elke skepping is uit haar kop gesny. Hierdie is vir my een van die spesiaalste foto's van ons kinders, al is Hannes se gesiggie verdoesel in sy doopgewaad.

Dan was Ma altyd betrokke by die skool, kerk en gemeenskap. Ek sal verseker nooit daardie emmers en emmers vol pannekoek deeg vergeet wat in ons huis aangemaak is vir die pannekoek stalletjie nie. My arme kinders se ma was so oorweldig dat sy geweier het om enigsins by skoolaktiwiteite betrokke te raak…

Ons oupa en ouma Pretorius was van dag een af deel van die gesin, en Ma het beide met liefde versorg tot die dag van hulle dood. Na slegs ‘n paar jaar sonder oumense in die huis, het oupa en ouma Winnertz by ons kom bly. Weereens was dit Ma wat versorg het. Moenie dink Ma het ophou werk en dien toe ons almal uit die huis uit is nie, o nee. Toe Ma ‘afgetree’ het was daar betrokkenheid by die kompleks se beheerliggaam, by die aftree oord waar Ma nou is, is daar kermisreëlings en nugter weet wat nog.

Met Ma se verjaardag was my gemoed so vol, ek kon nie sê wat ek graag wou nie, ek het gesê ek sal vir Ma ietsie skryf… Met ons familie se geleenthede mag elkeen wat wil iets sê. Party het voorberei, party het sommer net spontaan opgestaan en vertel wat Ma vir hulle beteken het, en van die wat nie daar kon wees nie het gebel of ‘n briefie geskryf wat voorgelees is.

Dankie Ma vir so baie dinge wat ons by Ma kon leer. Daar is eintlik te veel om op te noem, maar hier is ‘n paar lewenslesse wat ek vir altyd sal onthou.

Dankie dat Ma ons geleer het dat:

* Elke donker wolk het ‘n goue randjie. Sekerlik een van die belangrikste dinge wat ons by Ma geleer het, is dat daar ALTYD iets is om oor dankbaar te wees, maak nie saak hóé erg ‘n situasie lyk nie. Toe daar donkerte en trauma was in my lewe, was dit een van die dingetjies waaraan ek geklou het om ‘n liggie te skyn om my pad weer te vind.

* Elke persoon het die reg op privaatheid. Met so baie mense in ‘n huis is privaatheid ‘n luukse. Elkeen van ons is geleer dat jy die ander se privaatheid respekteer, en dit was nooit nodig om enige iemand daaroor te straf nie. Van straf gepraat – ons het bitter min pakslae gekry. Ek kan dit amper op my een hand tel. Ons het ‘n traanvormige leer plak gehad waarmee jy in die badkamer gaan wag het. Die vernedering om self die plak van die rak te haal was vir my baie erger as die pakslae. Dit het beteken dat ons nooit ooit in woede gedissiplineer is nie. Iets wat vir my aansluit by privaatheid is die voorbeeld wat Ma en Pa gestel het om nooit voor ons kinders woorde te hê nie, en dis ook die voorbeeld wat ek toepas op my eie gesin.

* Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Iemand het my eenkeer gevra of ek dan nooit rus nie, toe sê ek rus beteken mens ruil een aktiwiteit vir ‘n ander een. Ek is egter nie naastenby so intens besig soos wat Ma was en is nie. Vandat ek kan onthou was Ma altyd besig. Bedags was daar die groente-, vrugte- en blomtuin om te versorg, kos wat gemaak is, blikke en blikke vol koekies en beskuit, klere om almal se basse toe te maak. Saans het Ma voor die radio, en later die televisie, gesit en brei. Daar was nie winkeltruie in ons huis nie. Geen oomblik van ‘n dag is ooit vermors nie. Die enigste ledige tyd was Sondagmiddae wanneer Ma ‘n middagslapie op die bank gevat het. Askies vir die tye wat ek Ma wakker gemaak het om iets te vra, ek besef noudat ek groot is eers watter inbreuk ek gemaak het op Ma se kosbare rustydjie. Vir Ma se tagtigste verjaardagete by die aftree oord het Ma self gebak en gewys Ma kan nog. Die rumatoïede artritis weerhou Ma nou van brei, hekel en verf, nou doen Ma maar blokraaisels en Sudoku om daai brein flink te hou.

 * Ons is in staat tot alles deur Hom wat ons krag gee. Dit is my lewens motto, en ek het die praktyk daarvan gesien in Ma se lewe. Ma het ons altyd aangemoedig om te probeer, om nie tou op te gee nie, dat alles moontlik is as jy bereid is om te werk daarvoor. Ma wat so lief is vir blomme, se huis het gestaan in arm grond en klippe. Maar Ma het ‘n kruiwa gevat en self klip terrasse gebou met leivore en die pragtigste blomme geplant. Elke keer wanneer ek rose ruik, kry ek trane in my oë van onthou. Elke keer wanneer ek Namakwalandse madeliefies sien, dan sien ek die plate geel en oranje in Ma se beddings en ruik ek die soet reuk van die saadjies wat ek ge-oes het vir Ma teen 5c vir ‘n kondensmelkblikkie vol saad.

image

Dis die prentjie van Ma wat ek vir altyd en altyd sal onthou... glimlag om die mond en blomme in die hand.

 * Al is ‘n mens arm, jy nie hoef armsalig te wees nie. Ma en Pa was gerekende mense in ons gemeenskap. Mense het opgesien na Ma en Pa integriteit, die betrokkenheid in ons gemeenskap was ‘n voorbeeld vir baie. Ons was altyd skoon en netjies, en trots om die Pretorius’ies van Langberg te wees. Al was ons finansieel arm, was daar altyd iets oor om vir iemand te gee wat minder het. Noudat ek groot is besef ek dat ons arm was, maar toe ek ‘n kind was het ek dit nie geweet nie. Ons het liefde en sekerheid in ons lewe gehad, ‘n rykdom wat geen geld in die wêreld kan koop nie.

 * Geleenthede wat verby is, is verby. Gaan soek iets nuuts om jouself in te verdiep. Lewe jou lewe en maak die beste daarvan. Ek het nog nooit, ooit vir Ma hoor kla dat Ma nie geleentheid gehad het om universiteit toe te gaan nie. Ma sou verseker gemaklik enige graadkursus met lof kon slaag, verseker tot die hoogste vlak in sport kon gaan as die geleentheid daar was. Ma het Ma uitgeleef om ander te dien. Ma se gesin het altyd maar altyd eerste gekom. Dan het Ma nog Noodhulp klasse aangebied by die skool sonder enige vergoeding, Saterdae omgesit langs die sportveld om diens te doen. Dis maar een voorbeeld van baie dinge waarby Ma betrokke was. Nou nog is Ma se naam eintlik Martha… lees vir die blinde oom Bybel, bied ondersteuning en liefde vir die mense om Ma.

* Al is jy siek, jy is nie sieklik nie. Toe Teunet op agtjarige ouderdom met diabetes gediagnoseer is, is sy en ons geleer dat mens nooit siekte as verskoning gebruik om op te hou lewe nie. Nou nog steeds is Noek vir ons almal ‘n inspirasie met die wyse waarop sy al haar fisiese beperkinge hanteer en die lewe volstoom aanpak. Toe Ma beroerte gehad het en nie kon vat, praat of loop nie, het Ma verbete die arbeidsterapeut se oefeninge honderdvoudig aangepak en in so ‘ n mate herstel dat Ma nog vir Pa ook kon versorg tot sy dood.

Tagtig is ‘n geseënde ouderdom om te bereik en ons weet dat Ma al groot fisiese terugslae gehad het om hier te kom. Twee breinoperasies om massiewe gewasse te verwyder, hartstilstand na ‘n epileptiese aanval as gevolg van die breinletsels, ‘n hartomleiding, vele stente daarna en nou ses maande na Ma se verjaardag ‘n groot tumor in Ma se maag en breingewasse wat weer groei, is daar niks wat kan Ma nie onderkry nie, want Ma se taak in ons lewe is onvoltooid.

image

Die mees onlangse foto van Ma, twee dae nadat die maagtumor verwyder is.

Dankie vir Ma se liefde en omgee Ma se hele lewe lank. Liefste Ma, ons glo en hou vas aan God se genade dat ons Ma nog ‘n lang ruk by ons gaan hê. Mag elke oomblik vorentoe vir Ma net emmers vol seëninge inhou, Ma verdien NET die beste. Ma was so bevoorreg om die hemelpoorte te sien met ‘n Naby-doodondervinding met die eerste breinoperasie. Die boodskap wat Ma gekry het was dat Ma moet terugkom want Ma het ‘n taak het om te voltooi. Daardie taak is steeds onvoltooid, net ons Vader weet wanneer dit sal wees.

Ma se gunsteling Skrifberyming het daarom vir my soveel meer betekenis, en ek sing dit daarom net vir Ma:

“Hy het my die stad getoon,
Groot en van die hemel dalend,
En deur God se ligglans skoon,
Soos ‘n kleurgesteente stralend,
Helder soos ‘n kristallyn
Wat in al sy klaarheid skyn.”

 

Categories: Familie, Omgee | 9 Kommentaar

Blog at WordPress.com.