Monthly Archives: Desember 2013

Draadstrikke

NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE!!! HIERDIE SKRYWE BEVAT ONLEKKER FOTO’S!!!

Ons woon nou net meer as tien jaar op die plaas, en nooit voorheen het ek onveilig gevoel nie. Voorheen. Verlede tyd. Ander dag.

Net minder as drie weke gelede het Marina gesien ons troppie sebras se hing, of Die Hings, het ‘n draad wat afhang by sy nek. Dit beteken dat daar sluipers op die plaas is wat strikke stel. Dit beteken ek is nie meer veilig om heeldag en aldag alleen  in die veld te loop nie… en ek is kwaad daaroor. Baie, baie kwaad.

Gelukkig is die trop sebras relatief mak en was dit maklik vir die veearts om hom gedart te kry. Mens kan nou nie aan hulle gaan vat nie, maar ten minste naby genoeg kom om met die dart geweer te skiet. Sebras word TE maklik mak en dan is hulle ‘n verpesting. Ek het hulle nou al bietjie ‘ontmak’ nadat hulle die honde so verpes het dat hulle nie rus kon kry nie. Die draad was losserig om sy nek en het geen fisiese skade gedoen nie.

Veearts Nicoline en Jamie haar assistent

Veearts Nicoline en Jamie haar assistent

Jamie besig om die strik los te knip met 'n tang.

Jamie besig om die strik los te knip met ‘n tang.

Ons het die plek gekry waar die strik was, en dis ongelooflik hoe sterk hierdie diere is. Hy het die droë boom waaraan die strik was vir meters gesleep voordat hy losgeruk en die draadkabel gebreek

Ons het die plek gekry waar die strik was, en dis ongelooflik hoe sterk hierdie diere is. Hy het die droë boom waaraan die strik was vir meters gesleep voordat hy losgeruk en die draadkabel gebreek

IMG_9781

Kabel om die boom

Kan jy GLO dat 'n sebra so sterk kan wees?

Kan jy GLO dat ‘n sebra so sterk kan wees?

Dinsdagoggend het my nefie Stefan na ‘n wildsrit kom rapporteer dat daar nog ‘n sebra is met ‘n draad om die nek. Die slegte nuus was dat daar bloeding is, en bloeding lok vlieë en brommers wat eiers lê … Die ander slegte nuus was dat dit die Wilde Hings is. Al ons diere het nie name het nie, maar mens moet kan onderskeid tref tussen party. Die Wilde Hings is baie wild soos sy naam sê en hy bly in ‘n moeilike deel van die plaas waar dit baie ruig is met lantana en die pad soontoe is lelik verspoel en net bekombaar te voet of met die vierwiel motorfiets. Na oorlegpleging met die veearts het ons besluit ek sal in die pad ‘n voerplek maak sodat ons hom kan lok. Die diere is gek oor Niknak tipe chippies, en ek koop afval by ‘n plaaslike fabriek. Ek het nog een sak oorgehad na verlede week se dart en Stefan het dit dadelik gaan uitgooi. Gelukkig was die fabriek nog oop voor hulle sluit tot Januarie en kon ek ‘n paar sakke kry om naby genoeg aan hierdie wilde ding te probeer kom.

Hy het eers teen gistermiddag baie laat van die chips geëet  en ons het vanoggend weer uitgegooi. Marina was ook vandag tuis en ons voornemende veearts kon die veearts kom assisteer. Hulle twee het met die geweer en medisyne op die vierwiel gery en ek en ons twee werkertjies het gaan wagstaan op ‘n punt om te help soek wanneer hulle skiet. Die diere hardloop eers ‘n ent voordat hulle van die slaapmiddel omval, en dis belangrik om hulle gou te bereik indien hulle sleg val en asemnood ontwikkel.

Dit was toe nie die Wilde Hings nie, maar Wesie, ‘n driejaar oue hingsie wat saam met hom loop. Wesie is nie regtig ‘n weeskind nie. Toe dit tyd was vir hom om uit die trop geskop te word, wou hy nie. Sy pa, Die Hings, is baie kwaai met jong hingsies. Hulle moet uit die trop. Maar Wesie WOU eenvoudig nie gespeen wees nie. Die Hings het hom so gebyt en geskop dat ons destyds die veearts moes uitkry om hom te dart. Sy maanhare is so gebyt en uitgeruk dat daar ‘n oop sweer was. Toe het hy besluit ek is sy trop. Ek het nog in die chalet (stoksiel alleen) gebly en as ek my neus by die deur uitsteek dan is Wesie by. Elke dag, heeldag. Wanneer ek veld toe was, het Wesie so paar tree agter my geloop. Tot hy maar eendag die boodskap gekry het en saam met die Wilde Hings en klein Flap, wat later dood is aan wie weet wat, gaan trop maak het.

Die Hings het klein Flap se ma Flappie (hulle het albei elkeen ‘n flap oortjie gehad) net nou die dag ook so gebyt toe haar vulletjie siek was. ‘n Siek dier word nie in ‘n trop geduld nie, en die ma wat getrou by hom bly word dan ook as ongewens beskou. Die vulletjie is toe dood en dit het WEKE gevat voor Flappie weer in die trop aanvaar is. Haar maanhare begin nou eers terug groei.

Ons is baie dankbaar dat ons vir Wesie betyds gekry het. Die wonde om sy nek is lelik en baie diep, maar gelukkig is daar nog nie maaiers in nie.

Die snye is BAIE diep

Die snye is BAIE diep

Arme ou Wesie

Arme ou Wesie

Mens kan die vet onder die vel sien

Mens kan die vet onder die vel sien

Die mens is die wreedste dier op die aarde

Die mens is die wreedste dier op die aarde

Tyd vir wakker word... die anti-slaapmiddel word binne-aars in 'n lekker groot oor-aar ingespuit en dan laat spaander jy want minder as 90 sekondes later hol hy weg.

Tyd vir wakker word… die anti-slaapmiddel word binne-aars in ‘n lekker groot oor-aar ingespuit en dan laat spaander jy want minder as 90 sekondes later skop en hol hy.

Marina het hom gedart, haar eerste eie dart. Sy het mooi geskiet. Hulle het die wonde goed behandel met antibiotika en medikasie om die brommers weg te hou. Nou moet ons net bid vir herstel vir hom.

Veearts Nicoline en studerende veearts Marina

Veearts Nicoline en studerende veearts Marina

En wat maak ek as ek ‘n poacher vang? Ek weet so waar as wragtig nie. ‘n Kennis het baie onlangs een aan die polisie oorhandig en hy het ‘n R600 boete gekry en poach al weer… Dis om van naar te word!

Advertisements
Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,, | 11 Kommentaar

Reëndans

Hier is baie verskeie soorte paddas op die plaas. Wanneer dit lekker gereën het, is hulle geroep na ‘n maatjie baie spesiaal en vier hulle fees in die krip en in my visdammetjie. Ek sal nooit weer na ‘n paddakoor kan luister sonder om nostalgies te raak nie.

Gedurende Desember 2002 was ons saam met vriende op die wonderlikste 4×4 toer ooit. Dit was net voor die oorgrenspark met Mosambiek , die Great Limpopo Park geproklameer is en mens kon nog ‘ongehinderd’ die bosse invaar. Om die waarheid te sê, die papiere is geteken in die tyd wat ons daar was.

Ons beplanning was om deur die wildtuin te ry en in die noorde Mosambiek binne te gaan. Ons sou dan deur die Limpoporivier ry op ‘n sekere plek waar mens klippers langs kon gaan (daar is nie ‘n brug nie) en dan ry tot by die kus by Beira, ‘n gewilde 4×4-roete op daardie stadium. Dit was  egter ‘n vreeslike goeie reënjaar in die Limpopo se opvangsgebied en die rivier het in so mate gestroom dat ons ons toer sou moes afstel of ons reisplanne hersien.

Gaan wou ons gaan en die groep besluit toe om duskant die Limpoporivier te bly en dan ‘n ander oorgang kry.  Die nadeel was egter dat dit beteken het dat ons ‘blind’ sou ry, met geen padaanwysings of verhale van vorige ervarings nie, net met die GPS as gids… En as jy Google Maps oopmaak, sal jy sien dat daar eintlik nie paaie is nie. Die GPS het dus maar net bepaal waar ons is, ons kon dit nie as roete-aanwyser gebruik nie. Ons het ons eie geskiedenis gemaak… Dit was WILD! Die modder was so diep ons moes op ‘n stadium elke minder- as-‘n- kilometer stop, die Land Rovers se wiele afhaal, skoonmaak en dan weer minders as ‘n kilometer vêr herhaal. Indien ons dit nie gedoen het nie, sou ons vassit in die modder. Daar was vier Landy’s en vier waentjies in die groep…

Ons eie geskiedenis het ook beteken dat ons tussen die Shingwedzi rivier en die Limpopo getoebroodjie was en een van die twee riviere moes oorsteek om by die kus te kom. En beide het afgekom… Die Shingwedzi is ‘n kleiner rivier en die keuse het op hom geval en dan via Masingir na die kus by Xai-Xai.

Ons het gery tot amper donker en redelik naby die grens sommer net ‘n mooi plekkie gekies en kamp opgeslaan. Die volgende oggend was daar vars luiperdspore op ons spore net buite ons ‘kamp.’ Baie spesiaal en ‘n herinnering dat ons moet onthou ons is in die bos reg langs die wildtuin!

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Die reën het bietjie opgehou en die humiditeit was baie hoog. Ons het gery en gery en oral gevra waar mens kan oor. By ‘n geskikte plek het ons toe toestemming by ‘n plaaslike hoofman gekry om in sy gebied te kamp totdat die rivier in so mate gesak het dat ons kon deurgaan, vir ‘n klein fooi natuurlik. Regtig klein en ons het geensins omgegee om dit te betaal nie. Hy het ons die versekering van veiligheid gegee en dat geeneen van sy mense naby ons toegelaat sal word nie. Ons het nooit, ooit onveilig gevoel nie en hy was sy woord waardig. ‘n Geskikte deurgang beteken ‘n rivierbedding van klip wat vastrap plek gee vir die wiele. Sonder klippe sal die voertuie slegs vasval en dan meegesleur word deur die stroom.

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Ek weet ek het dit al gesê. Maar Mosambiek in Desember is warm, dis blerrie warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Lafenis het ons gevind deur in ‘n vars, helder stroompie neffens ons ou kampie te lê. Lou, nie koud nie… ‘n Gat is gegrou, ‘n toiletsitplek staangemaak met ‘n skermpie om en elkeen wat die geriefie gebruik het moes ‘n grafie sand opgooi.

Desember is ook Mopaniewurm tyd en oral om en in ons ou kampplekkie was duisende wurms. Dalk was dit eerder miljoene. Een vriend se tent is permanent gevlek deur die wurms wat hulle pap geval het uit die bome. Die mans was naderhand redelik verveeld en het ‘n wurmgooi kompetisie gehou om die tyd te verwyl. Die reëls was eenvoudig: sit ‘n wurm op ‘n graaf en kyk wie gooi hom die vêrste… Sit twee wurms op ‘n graaf…

Tydens ons verblyf langs die Shingwedzi rivier was daar drie dinge wat vir my betekenisvol was. Die eerste was die hoeveelste keer in my lewe wat ek besef het hoe klein die wêreld is. Die mans het elke dag die rivier se vlak gemeet om te bepaal wanneer ons kan deurry en dan met die plaaslike mans gesels by die rivier. Een dag het hulle een saamgebring om spesifiek met mý te kom gesels… want ons het gemeenskaplike ‘kennisse’ gehad! Kan jy dit glo? In die wilde bosse van Mosambiek bly ‘n man langs ‘n rivier en hy het op plase gewerk in die omgewing waar ek my kleintyd spandeer het en ken dieselfde mense wat ek ken!

Die tweede ding wat betekenisvol was, is dat uitkoms altyd op die regte tyd kom. In die tyd wat ons gewag het, het daar ‘n tweede groep opgedaag. Maar nie in ‘n 4×4 nie. Nee. ‘n Gewone ou Toyota bakkietjie deur daardie vreeslike modder. Dit was ‘n plaaslike man op pad na Masingir, met ‘n vrag vol mense wat hy by die grens opgetel het wat onwettig in ons land betrap is en net by die grenspos gedump is. Die passasiers moes maar net stoot wanneer die modder te erg geraak het en gelukkig is die Toyota baie ligter as die Land Rovers. Hulle het by die plaaslike mense gebly en ook elke dag die rivier kom meet en dis waar die groepe ontmoet het. ‘n Ooreenkoms is aangegaan – as ons hulle bakkie deur die rivier sou sleep, sou hulle ons voertuie stoot wanneer daar modder is. Deal.

Die derde ding was gatjeuk. Iemand se gat het beneuk gejeuk en ‘n stelling van “Of ons draai vandag terug of ons gaan deur want ek sit nie nog ‘n dag langs hierdie rivier nie” het baie dinge bepaal vir daardie dag en baie dae daarna. Nou ja, die rivier se vlak word toe as voldoende geag en die grootste uitdaging ooit het aangebreek. Ons gaan deur. Die mans het ‘n roete gestap en gemerk met stokke wat in die rivierbedding geplant is. ‘n Ongeskrewe reël in 4×4 is indien jy deur water kan stap, kan jy daardeur ry indien die vloer hard is.

Ek word nie sommer bang nie, maar daardie dag was ek bevrees vir die veiligheid van my gesin en my vriende. Almal was bang. Die mans was vol bravade, maar eintlik het hulle foefernjolle klein geknyp. En natuurlik as ‘n foefernjol knyp, dan stoot dit mos ‘n ego bo-uit en die poep onder… Die getroue ou V8 is eerste ingestuur vir die baanbrekerswerk. Hy moes deurry en dan met die winch anker aan die ander kant indien een van die ander voertuie in die moeilikheid sou raak. Baie benoude oomblikke, ’n klomp gebede, trane en harde woorde het daai voertuig weer aan die loop gekry toe hy na net ‘n kort ent in die water gevrek het. Maar opgooi en terug wou die ego’s nie. Nee, ons gaan deur. Op die ou einde het Roelf een vriend se waentjie deurgery en teruggekom. Toe die ander vriend se kar deurgesleep en teruggekom. Toe hulle waentjie deurgery en teruggekom. Toe die V8 se waentjie deurgevat en teruggekom. Toe ons waentjie kom haal en deurgery. En ek sit en wag en kyk heeltyd hoe gaan my man heen en weer. En ek bid en ek huil binnetrane want my kinders mag nie my bang sien nie. Hulle het met een van die ritte die rivier gekruis en ander kant gewag. Verlate. Verlore. Dis hoe mens voel as jou kinders aan een kant van ‘n groot rivier is, jou man binne-in die rivier en jy sit soos ‘n wasbeeld spookbleek op ‘n klip aan die ander kant. Toe het Roelf vir ‘n laaste keer teruggekom vir die Toyota en ons het finaal deurgery.

Maar eind goed, alles goed en ons was weer op pad. Maar alles was nie goed nie. Daar het iets gebreek. Fyn en flenters, duisend stukkies en kleiner. En dit was nie goed nie, want saam met ego flenters het ‘n vriendskap verdamp in die niet van Mosambiek se hitte. En dit het seergemaak, vir baie baie lank daarna.

Dit was net ‘n paar keer nodig vir die Toyota passasiers om die voertuie te stoot. Dit het vreeslik baie tyd gespaar. Teen hierdie tyd het die modder darem nie meer so vreeslik aan die wiele geplak nie. Laatmiddag het ons weer by ‘n gemeenskappie gekom en die beste pad gevra. Een voertuig het die pad gaan ondersoek saam met hulle verteenwoordiger en die res van ons het ‘n wonderlike ervaring saam met die gemeenskappie gehad. Daar was ‘n klein sokkerveldjie en ons was genoeg om ‘n ‘span’ te maak teen die locals.

Die meisies en vrouens was stomgeslaan om te sien dat ons vroumense ook in die span wou wees en toegelaat word. Hulle was soos ‘regte vroumense met lang naels’ wat gegiggel het en nie eers ‘n bal kon vang nie! Hier en daar kon een van die jong mans ‘n paar woorde Engels praat maar met gebare en baie gelag het ons mekaar aangevat. Wanneer die bal na een van ons vroumense toe gekom het, was die jong mans baie respekvol en het hulle teruggeval en ons toegelaat om die bal te speel. Hulle het hulle verwonder aan ons waagmoed om saam met die manne te speel. Wanneer die bal egter by die mans was, was daar géén genade nie en het hulle gespeel om te wen. Toe een van ons manne egter die bal gryp en ‘n drie gaan druk was dit die hoogtepunt. ‘n Free for all… As jy die bal kry hardloop jy met hom, jy skop hom, jy duik of stamp jou opponent. Nog nooit, ooit weer het ek sulke gemoedelikheid en aanvaarding beleef soos daardie dag nie, in die diep bosse van Mosambiek was daar respek en gemoedelikheid met mekaar.

Daardie mense is glad nie gewoond dat daar wit mense in hulle rigting kom nie. Die kindertjies het nie soos in die toeriste gebiede handjies bak gehou en ‘sweeeets’ geroep nie. Die sokker was natuurlik goed om ons kinders se rooimiere bietjie onder beheer te kry en Marina kon nie wag om net ‘n paar wawiele en handstande te doen nie. Sy was mos ‘n uitblinker gimnas op haar tyd en elke oop spasie was ‘n uitnodiging vir ‘n paar truuks. Die kindertjies se monde het omtrent oopgehang en het haar probeer namaak. En sy was HOOGS geïrriteerd as hulle in verwondering net aan haar ou vlegseltjies wou kom vat. HOOGS.

Mens kan nie sulke wilde dinge doen en nie pleisters gebruik nie. Seker die volgende dag lê ek op ‘n stadium tydens ‘n rustyd onder ‘n bos waar ek landslakkies ontdek het. Wat is Slakkelak nou sonder ‘n slak en ‘n skulp? Ek lê nog so toe een vriendin kom vra waar my noodhulp sak is. Ek sê haar toe en sy sê nie vir my waarvoor sy dit nodig het nie en ek vra ook nie. Ek het maar aangeneem dat een van die kinders ‘n pilletjie of iets wil hê. As iets dringend was, sou sy mos sê. Toe ek uiteindelik klaar skulpies versamel het, moes ek hoor dat die een waentjie se haak amper deur my man se hand gesteek het. Oeps. Sy kon gesê het en ek kon gevra het. Nog ‘n keer oeps en die flentertjies breek nog verder.

Ons het toe uiteindelik by die kus uitgekom en by Bilene se strandmeer gekamp voordat ons teerpad terug is huis toe. Teerpad was sooo vervelig, ‘n antiklimaks na karakterbouende ervarings.

Die heel, heel grootste oomblikke van die hele toer was egter nie die rivierkruising of die sokkerwedstryd nie.

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Dis VREESLIK warm. As ék warm kry, dan moet jy weet dis baie warm. “Kyk die wolke Pappa, dink Pappa dit gaan vandag bietjie reën?” was naderhand woorde wat ek nie meer WOU hoor nie.

Een laatmiddag het die weer egter baie belowend donkerblou opgesteek en ek het my kinders belowe dat ons in die reën gaan bad as dit kom. Ons moes baie vinnig kamp soek om nie in reën en dan donker gevang te word nie. Ons was in vleigebied en het nie ‘n keuse van ander kampplek gehad nie. Vreemd genoeg was daar nie muskiete nie. My kinders was eers skrikkerig vir die kaalgat stanery doer eenkant, ‘n entjie weg van die kamp, in die oopte van die veld. Hulle is gewoond aan stort in die veld, maar met ‘n skermpie om.  Maar toe die reën eers val en die skuimbolle spat, het ons ‘n behoorlike reëndans in die donkerte gedoen.  Ek en my dogters. Kaalgat in die reën.

En toe kwaak die paddas en besef ek hoekom daar nie muskiete was nie. Honderde en honderde paddas in daardie vlei. Verskillende soorte met verskillende stemme. Kwake en squeeke. Diep stemme en skril stemme. Dit was ongelóóflik. Elke kort-kort het ‘n nuwe soort begin kwaak vir ‘n maatjie. Dan hoor jy doer anderkant enetjie met dieselfde stemmetjie antwoord. Dan kwaak hierdie een, dan kwaak die ander enetjie bietjie nader. Tot jy naderhand hoor hulle is nou naby mekaar en dan raak dit stil. Jannie het vir Sannie gevind. Die volgende dag was die enigste bewys van die baie paddas die stringe en stringe eiers. En bolle van ander soorte. En skuim van ander. In die water, langs die water en bietjie verder weg van die water. Oral. Alles bewys dat daar ‘n oeroue partytjie plaasgevind het die vorige aand, die partytjie gangers nou uitgeput en seeroog vir die wêreld in die sonlig.

Om ‘n kaalgat reëndans te kon doen, om so deel te kon wees van die ongerepte natuur, is ‘n voorreg wat ek altyd sal in my hart sal koester.

Categories: Lankal terug, So doen Slakke dit | 2 Kommentaar

Borreltjies uit die dieptes

Elke mens het dinge in sy lewe wat sy of haar karakter grootliks beïnvloed het. In my lewe is skubaduik een van daardie dinge. Dit het nie vir my maklik gekom nie, ek het klippe gekou voordat ek gemaklik in die water was. Dit het my ‘n vasberadenheid geleer, iets wat nie voorheen deel was van my nie.

Toe ons die plaas gekoop het, het baie dinge in ons lewe tot ‘n stilstand gekom want ons was in ‘n finansiële oorlewingstryd om ons droom te kan lewe. Ons het net mooi daardie stryd begin wen toe gebeur daai vreeslike ding wat ons pad vorentoe onherroepelik verander het. En toe nog ‘n keer net om te bevestig dat platvee beteken eintlik ploeter in die modder rond…

Familie, vriende, kennisse en vreemdes het ons gehelp om weer op ons voete te kom sodat ons onsself weer kan help. Daarsonder sou ons verlore geraak het in die modder van die lewe en ons beker van dankbaarheid loop oor van almal se goedheid. Dankie. Dankie dat ons weer voete het om op te staan.

Ons lewe nog steeds ons droom op die plaas. Dis nog steeds nie maklik nie, ons maak baie opofferings om dit te kan doen. Ek en my liewe man sien mekaar byvoorbeeld net naweke en dit sal so wees totdat ons eendag nie meer kan werk nie. Ons weet ons gaan nie eendag in weelde kan aftree nie, maar ons weet ons het ‘n opbetaalde dak oor ons kop, al is daar nog baie afwerking wat gedoen moet word aan daardie dak.

Daar is baie dinge wat ons nooit weer sal kan doen nie. Daar is dinge wat ons nooit weer wíl doen nie, maar daar is ‘n paar goedjies wat ons vir altyd deel van ons lewe wil hê. Skubaduik is een van daardie dinge en ons is bereid om sonder sekere afwerkings in die huis klaar te kom net om dit weer te kan ervaar. Annerine was twaalf of dertien toe sy haar kursus gedoen het in ons ‘ou’ lewe en Marina moes wag tot sy nou ampertjies twee en twintig is… Ons het van die toerusting gekoop, party geleen en party gehuur, maar duik het ons geduik die vakansie!

My breër familie trek baie swaar aan gesondheidsprobleme wat erge hindernisse plaas op enige avontuurlike ding. Daarom beteken dit vir my soveel meer om skubaduik deel van my lewenservarings te kan lys.

Eers was ek te bang om opgewonde te raak oor ons beplande duik vakansie by Sodwana. Ek kan egter nie die opgewondenheid oorvertel wat ek ervaar het die laaste dag voor ons vakansie nie! Ek was te bang om asem te haal… te bang ek word wakker en dit was net ‘n droom… Maar dit was nie net ‘n droom nie, dit was rêrig êrig, strues bob njannies kopela.

Marina se kursus pakket het haar verblyf en etes ingesluit. Ek het Roelf het selfsorg gekies en sodoende met ‘n hele paar rand goedkoper weggekom. Ek het vir ons elkeen ook net twee duike geboek, waar haar kursus vier duike ingesluit het. Sy wou baie graag ‘n duik saam met ons doen en ons het vir haar een duik ekstra gekoop vir ‘n spesiale ervaring om as as nuut gekwalifiseerde duiker saam met Pappa en Mamma te duik.

Al het ek al my aanvanklike vrese oorwin en het ek al agt en negentig duike gedoen, het my senuwees maar erg geknaag voor ons eerste duik. Ons het immers in die tien jaar wat ons nou op die plaas is net een keer vier jaar gelede een vlak drie meter duik gedoen. Dit het gereën by Sodwana, maar gelukkig was die see mooi plat en die sigbaarheid meer as vyftien meter onder die water en dit het bygedra dat ek minder gespanne was.

Jy trek reeds jou Wetsuit aan en ‘Kit op’, wat beteken jou Buoyancy Compensator (BC) word aan jou silinder vasgegespe en jou Demand Valve (DV) waardeur jy asemhaal word aan die BC gekoppel en alle toerusting word nagegaan.

IMG_9635

BC word aan die silinder gekoppel

Voor die duik hou die Dive Master eers ‘n praatjie en alle moets en moenies word vertel.

IMG_9643

Moets en moenies word bespreek

 

Daarna word die boot met ‘n trekker gestoot tot in die water. Dan moet die duikers die boot verder instoot en sorg dat sy neus in die regte rigting bly, anders kan dit omslaan met ‘n verkeerde golf.

IMG_9650

Boot is in die water… ons gaan duik!

Wanneer die motors mooi in die water is, dan spring mens op en ry ‘n klein entjie in en elkeen kry dan ‘n reddingsbaadjie wat jy aanhou totdat die boot deur die branders is.

ALL ABOARD!

ALL ABOARD!

Daar is straps om jou voete in te haak en mens hou aan ‘n tou vas om te balanseer. Na die golwe word daar gestop, reddingsbaadjies word uitgetrek en jy woerts die see in.

Uiteindelik! Koraalriwwe, hier kom ons!

Uiteindelik! Koraalriwwe, hier kom ons!

By die rif kry elkeen sy toerusting en die silinders word oopgedraai. Jy trek jou BC, vinne (of flippers soos party mense dit noem), masker (goggles) en gewigbelt (weight belt) aan, toerusting word weer nagegaan en dan word daar afgetel… One… two… three… GO!

Met ons eerste duik het die meisie wat langs my sit bietjie laat geval en toe bo-op my geval. Af was my masker… Stres. Hyg. Panic… PANIC!  Gelukkig het ek ‘n ekstra band op die masker (sodat my langer hare nie moet vaskoek nie) wat hom laat dryf en het ek hom gekry, maar toe sukkel ek om af te gaan. Die ander was al almal onder die water toe hyg ek nog daar bo. Dit was vir myself verskriklik om die vreemde kerm geluidjies uit my eie keel aan te hoor sonder dat ek dit wil kerm… Maar ek was vasbeslote dat dit my nie sou weerhou van die wonderwêreld wat ek geweet het daaronder op my wag nie en ek het myself tot bedaring gebring en gaan duik…

Met ons tweede duik was Marina ook nou saam met ek en Roelf en dit was vir my ‘n baie spesiale duik… my honderdste en Marina se eerste gekwalifiseerde duik! Ons het geboek vir ‘n sekere rif, Anton’s, waar jy kan haaitande optel. Dis Skeurtandhaai (Ragged Tooth) of Raggie tande en ek wou baie graag weer vir my ene laat set in silwer soos wat ek gehad het om my spesiale honderdste duik te gedenk. Ongelukkig was daar toe ‘n junior in die groep wat nie gekwalifiseerd was vir daardie diepte nie en ons sal dit dan maar later doen. Iets om na uit te sien! Ek het heel agter gesit en gesorg dat ek skuins agtertoe val om te verhoed dat iemand weer op my val. Arme Marina het ‘n hou met ‘n staal silinder weg teen die kop met haar vorige duik onder dieselfde omstandighede as ek.

Ons het ‘n onderwater kamera gehuur maar ongelukkig het die battery nie tien minute gehou nie en kon ons slegs ‘n paar herinneringe vasvang. Nou nie ‘n tandjie wat ek in silwer kan set nie, maar ook baie, baie spesiaal.

Duik nommer 100... wat 'n voorreg om 'n foto daarvan te he!

Duik nommer 100… wat ‘n voorreg om ‘n foto daarvan te he!

Aan die einde val elke duik doen jy ‘n veiligheidstop op vyf meter waar jy vir vyf minute bly. Dan sien jy nie vissies en korale nie, maar wanneer jy opkyk sien jy silwer borreltjies uit elke duiker wat opstyg en geaksentueer word teen die blou-blou lug. Eendag… eendag sal ek ‘n foto daarvan neem…

Stel jou nou voor al die  silwer borreltjies teen die blou lug as jy opkyk...

Stel jou nou voor al die silwer borreltjies teen die blou lug as jy opkyk…

Ek buig in diepe dankbaarheid voor my Skepper vir gesondheid en die geleentheid om iets wat vir my groots in my lewe is, terug te hê. Dankie. Dankie. Dankie.

Categories: Slakgedagtes, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Die son sal weer skyn

Ek het hierdie woord vir iemand op Facebook gese, maar dis sommer bedoel vir almal wat dit nodig het. Dit is ook as dankbaarheid omdat dit so is…

Son sal weer skyn IMG_9508

 

 

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 2 Kommentaar

Blog at WordPress.com.