Monthly Archives: September 2018

Nostalgie 

My liefde vir goggas en dingetjies kom van lankal af. Lankal soos in my hele leeftyd…

Ons het party jare net n paar sywurms gehad, maar soms duisende. Dan het ons boekmerkies vir ons Bybels laat spin, party op Kersfeeskaartjie prentjies en party op karton wat ons dan kon aftrek vir daai ragfyn velletjies sy.

Verlede jaar het ek in ons dorp geadverteer ek soek sywurms.  Ek het gedink dis nogal tyd vir my kleinkinders om sywurms te hê. Niemand het gehad nie en dié wat gereageer het, het gevra hulle wil ook graag hê indien ek sou kry.

 ‘n Boogskietvriendin het laat weet sy het vir my en sal vir my na die volgende kompetisie bring. Ongelukkig het die miere hulle gepak terwyl ons geskiet het en hulle was tot niet.  Gelukkig het sy reeds ‘n paar motte gehad wat eiers gelê het, en so is ek toe huistoe met die hoop op wurms na ‘n jaar.

In die winter skoolvakansie onthou ek toe ek moet begin kyk of daar aktiwiteit in die houer is maar kon toe om die dood onthou waar ek dit gebêre het nie… Ek is nogal bekend in my gesin dat ek dinge veilig kan bêre… so veilig dat mens die ding nooit, ooit weer kry nie…

Middel-Julie toe kry ek die houer. In die boonste rak van my spens, want ek onthou toe dat ek ‘n jaar terug gereken het dat die eiers veilig sal wees teen Doom wat dit per ongeluk sal doodmaak.  Mens spuit mos nie gif tussen kos nie…

Sowaar was daar ‘n paar pas uitgebroeide wurmpies en die boom by my werk het drie piepklein blaartjies! Wat ‘n genade! Dit het maar bars gegaan maar hulle het oorleef. En nog het uitgebroei en nog en nog… By bietjie oor driehonderd het ek halt geroep en die eiers weggegee…

Die boom by my werk se blare het nie vinnig genoeg gegroei nie en ek het gelukkig onthou van ‘n boom by ons veearts se praktyk. Ek het maar genoeg gepluk vir ‘n paar dae op ‘n slag en dit in my yskas gebêre. Een middag toe ek kar toe stap na ek blare gaan pluk het, kom ‘n man aangestap en sê hy wil my iets vra. Hy wil toe weet wat maak ek met die blare wat ek so pluk, hy hou my al geruime tyd dop. Eet ek dit of wat? Toe ek sê dis vir my sywurms het hy gelag en gesê hy het al vergeet van sywurms.

Ek kon nie voorbly met blare nie en adverteer toe dat ek sywurms beskikbaar het. Beide kleuterskole in die dorp het ook gekry en so is ‘n kring voltooi want my vriendin wat vir my die eiers gegee het, het drie jaar gelede ‘n paar wurms by haar kind se kleuterskool gekry. 

Nou het Barberton se kinders weer sywurms… en sommer ‘n paar grootmense ook! 

Vir myself het ek net tien uitgehou, en twee vormpies laat spin, en ek verwonder my steeds aan daardie goue draadjies sy wat so perfek vorm uit groen moerbeiblare.

  

Advertisements
Categories: Sommer maar net | 8 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.