FIKSIE

Sakkie lemoene vir die kerk

 Dit voel vir my soos gister toe ek saam met Jan gaan huisbesoek doen het op daai plaas. Dit was ons eerste beroep, en jong afgestudeerde predikante  glo aan God se wil en vat maar wat hulle kry. Die Here weet, huisbesoek op die plase was vir my ‘n uitkom soos winkels toe gaan vir vrouens in die stad. Daar was níks in daardie Godverlate dorpie nie. Níks. En Sondag sit almal vroom en ontvang seën vir die week wat kom. Net om die seën te mors op hoerery en drank.

Met teemaaktyd het ‘n langbeen meisiemens in die kombuis se deur gestaan en wink met die kop. Seker so by sestien jaar het ek haar geskat. Kombuis toe durf ek nie, dis andervrou se heiligdom.

“Ag Tante, kan Tante my dalk beduie na die toilet?” maak ek toe ‘n plan. “Nee, niggie, ‘n toilet het ons nie. Maar Susêr sal die toorts vat en saam met jou kleinhuisie toe stap. Daar is nog genoeg koerantpapier.”

Die meisiemens het heeltyd agter haar gekyk. Seker ook maar bang vir die donker.

“Antie, ek wil Antie iets vra.” My oë het die flitslig gevolg vir die geringste beweging van ‘n spinnekop, my hare reeds orent met die gedagte aan koerantpapier. “Antie, hoekom kom daar goed tussen jou bene uit?”  Heuwels slaan op my neer! Bykans sestien jaar oud en sy weet nog nie. Wat vir ‘n ma het sy?

Net toe hol daar iets wollerig oor my hand en teen die derde gil was ek klaar terug in die voorkamer.

Toe ons loop sê die meisiemens. “Ek het ook ‘n offer, Dominee. Daar neffens die voordeur staan ‘n sakkie lemoene vir die kerk. Dis vir al die seëninge Dominee.”

***

Dis jammer ek gaan nie meer skooltoe nie. Dit was lekker by die skool. Maar tye is swaar en Pa sê hy kan nie bloed uit ‘n klip tap nie. En buitendien moet ek help sôre, Ma kan nie meer alleen nie. Ek wonder of Santjie nog in die skool is. Maar háár ma het nie ‘n mank been nie. Dis nogal allenig op die plaas. Smôrens maak ons beddens op en maak kos. Smiddae vee ek die werf en soek eiers van die weglê henne. Dis dan wanneer ek dinge sien, en ek sien hoenders en bokke is ook maar soos mense, hulle sôre ook maar. Dan weet ek Pa was reg, my plek is op die plaas en dan is die verlang na Santjie ook minder.

Dominee se Antie het vir my ‘n hele boks vol boeke en tydskrifte gebring. Sy sê daar is ene wat vir my alles sal vertel wat ek haar laaskeer met huisbesoek gevra het, want sy het mos haar broek nat gepie oor ‘n simpel spinnekop oor haar hand gehardloop het.  Sy het vir my skoolboeke ook gebring en ‘n woordeboek. Ek het gaan kyk wat staan by sôre. Maar daar is niks. Die naaste wat ek kry is sorg.

***

“Pappa, is hierdie berig in die koerant nie van die mense uit ons eerste gemeente nie? Daai oom en tannie op die plaas met die dogter. Siestog, dit moes vreeslik traumaties gewees het. Sy darem ongedeerd. Ek lees gou vir jou ‘n stukkie uit die berig:

Die gemeenskap is geruk oor  die aanval op die Bekker gesin van die plaas Sorgenvry verlede Vrydag. Mevrou Anna Bekker se man Hugo het op haar verminkte lyk afgekom na hy van die landerye terug gekeer het. Hy is oorval en ernstig aangerand. Hulle sewe-en-dertig jarige dogter, Susara, was in die skuur toegesluit. Buiten ‘n paar snymerke aan haar bene was sy ongedeerd. Volgens speurder-sersant Viljoen van die plaaslike polisiestasie ondersoek hulle die moontlikheid van ‘n muti-moord. Hugo Bekker is gekastreer in die voorval.Volgens Hugo was hy geblinddoek en kon hy nie sy aanvallers sien nie.

Sjoe, kan jy glo daai meisiekind is nou al ‘n vrou van sewe en dertig jaar? Ek wonder of sy my nog sal onthou. Haar ouers  het haar mos laat in hulle lewe gehad, en dan het hulle haar mos vroeg uit die skool gehaal. Siestog, dit moes maar ‘n eensame lewe wees so afgesonder met net oumensgeselskap. Sy het so mooi vir hulle gesorg. Wou mos net altyd bak vir die kerkbasaar.”

***

Ek het nie gepraat van bloei nie, Antie. Ek wou weet van die ander goed. Ma het my vertel bloei is ‘n seën van God.

Die antie se boeke het my slim gemaak, sy het later sommer gekom sonder dat dit huisbesoek was. Dan het sy die een klomp boeke gevat en weer nuwes gebring. Partykeer was daar ‘n kant sakdoekie tussen die blaaie van ‘n boek. Of ‘n boksie Dainties met suikertjies wat kraak onder jou tande. Een keer toe ek verjaar het was daar ‘n botteltjie baba-olie vir my bene en ‘n skeermes om die hare af te sny, het haar briefie gesê.

***

Vir my dertiende verjaardag het Ma ‘n jodetert gemaak en ‘n baksel witkoek waarmee sy ystervarkies gemaak het. Saam met die kos se maak was sy amper heeldag voor die stoof. Haar gesig het vir my vertel haar mank been was seer, maar ons het lekker verjaarsdagkoek geëet.

“Skuif op Susêr, jou ma is moeg. Jy moet nou begin help om vir my te sôre. Sluk maar net as jy so voel.”

 “Die varkvet is goor, Ma. Dit maak my naar.” Dit was voor die antie die boeke gebring het. Die volgende dag het die bloubottel by my bed gestaan. Ma het ‘n warm bad getap en ‘n spul kruie ingegooi. Ek het geskrik toe ek sien hoeveel bloubottel ek moes drink en die water was baie warm en die kruie het gestink. “Jy kom nie uit die kleinhuisie voor ál die krampe nie opgehou het nie. Al sit jy daar vir drie dae.” Die krampe was baie erg. Naderhand was daar ‘n bloedstreep teen my been van al die krampe. Ma het kort-kort kom kyk. Sy het met die toorts op my jy-weet-wat gelig toe ek sê van die bloed. “Ek het ‘n nuwe stuk boerseep uitgehaal. Loop was vir jou behoorlik, ek is nie nog lus vir koors ook nie.”

Elke keer as die varkvet goor was het ek ekstra bloubottel gekry saam met ‘n kruiebad. Eenkeer het ek nie gesê nie en die naar afgesluk.  Maar toe is ek nie meer geseën nie.  Ma het dit gesien en toe is dit maar weer die stinkende kruie en die wag by die kleinhuisie.

Toe die nuwe dominee gekom het eenkeer het ek ‘n dankoffer gegee vir al my seëninge. Dit was die aand toe die antie ook saamgekom het vir die eerste keer.  

***

Moedswillige koekies vir die bokkapater. Ooibeklimmer. Bloubottel bloei bloedrooi teen my been. Bloei is ‘n seën van God. Vir wat wag jy so lank? Gaan begrawe die dêm gemors onder die lemoenboom.

Die lemmetjie is al amper skerp genoeg. Ek snuif behaaglik aan die baba-olie en ritmies, ritmies trek ek my knipmessie se lem oor die slypsteen. Hy is skerp genoeg wanneer ek met een haal die hare op my voorarm kan skeer.

Ek sny stadig. Dit maak dit soveel lekkerder om die bloed stadig te sien uitsypel uit my been. Klein snytjies maak baie bloed. Maar ek sny net op my bo-been waar net hy kan sien.  Bloeding is ‘n seën van God.

Die antie se boeke het prentjies ook van daai dêm gemors. Die dêm gemors het arms en bene Pa.

Drie en twintig skoenboksies Ma.  In agtien jaar se tyd. Ek het almal getel. Kyk Ma, dis hoe ons bokpeertjies uitsny. Sluk maar net Ma.

***

Dis verskriklik! Dit kan nie waar wees nie! “Pappa, kom kyk wat sê die koerant! Daai arme mense is alweer in die nuus.”

Susara Bekker is  gister gevonnis in ‘n saak van  winkeldiefstal. Sy is verlede jaar gearresteer na sy op heterdaad betrap is toe sy babaklere in haar klere versteek het. ‘n Bottel baba-olie is in haar handsak gevind. Die veertigjarige Bekker was ongetroud.  Haar familie was drie jaar gelede in die nuus na die grusame muti-moord op haar ma.

Haar bejaarde pa was teenwoordig tydens vonnisoplegging. Tydens gister se hofverrigtinge het hy in trane uitgebars toe die beskuldige hom skielik met ‘n lemoen gooi. Dis onbekend waar sy die lemoen vandaan gekry het en wat die rede vir haar woede was. Bekker is gevonnis tot ses maande gemeenskapsdiens. Sy het genoem dat sy voortaan in die dorp sal bly.

Haar pa het snikkend aan ‘n joernalis gesê dat daar nou niemand is om vir hom te sorg nie. “Sôre vir jouself ou man! Jy het hande gekry!” het sy hom toegesnou voordat sy haastig vertrek het.

Categories: FIKSIE | 8 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.