My klein slakkies

My kinders is al jong grootmense, maar vir my nog steeds my klein slakkies

Moedersdag is nie een-dimensioneel nie…

My ma het twee weke ekstra met my geloop omdat die dokter gesê het ek is te klein om gebore te word. Uiteindelik was ek datem vyf pond ietsie… en is nou nog maar effentjies. Dankie dat Ma daardie ekstra ongemak verduur het om my ‘n beter kans in die lewe te gee, elkeen wat al ‘n kind gedra het weet daardie laaste maand is nege maande lank… Ek het darem nie moeilik grootgemaak nie, ek was stil en soet en bitter min siek… agtergrond van die gesin se skildery.

Ons is almal dankbaar vir die genade dat ons die dag op een of ander manier met Ma kan deel. Dankie vir alles Ma.

image

Blomme. Ek sal ALTYD vir Ma assosieer met blomme

Moedersdag is egter onvolledig as ek nie ook erkenning gee aan die ander moeders direk in my lewe nie.

Eerstens is daar Ouma Tilla. Dankie dat Ma my man so mooi grootgemaak het, hy is ‘n wonderlike man vir my, pa vir sy kinders en oupa vir ons kleintjies. Dankie vir alles wat Ma vir ons gedoen het. Ons verlang na Ma. Ma se lekker lag. Ma se lekker kos en koekies. Niemand kan ‘n skaapboud gaarmaak soos Ma nie, niemand nie. Daarom maak ek vandag ‘n skaapboud en lekker groente, sodat ons ook Ma se herinnering vars kan hou.

image

80 jaar oud!

image

Die foto is uit fokus, maar verteenwoordig Ma se avontuurlustigheid... Nooit te oud vir iets nuuts nie!

Tweedens is daar my eie kind wat ook al ‘n Mamma is. Jy doen ook ‘n goeie job. Jy is ‘n pragtige mamma vir onse Zellie en Roelfie en hulle is vir ons ‘n groot seëning. Lief jou!

image

Roelof se doop 'n paar maande gelede

Gelukkige moedersdag ook vir elke vrou wat ander mense se kinders grootmaak, wat mamma is vir ‘n kat, hond of voëltjie. Ook elke pappa wat alleen is. Liefde is liefde, van wie of vir wat dit ook al is.

Advertisements
Categories: Familie, My klein slakkies, Omgee | Sleutelwoordw: , | 2 Kommentaar

‘n Week van lekker werk

Dit was lekker om na ‘n baie stresvolle termyn bietjie tyd te he vir dinge wat vir my lekker is. Dit gee my weer woema vir ‘n lang tyd…

iBoké

Ondanks wat die grootste gros mense dink, het onderwysers het baie min tyd vir hulle self. Van die begin van hierdie jaar af moet alle punte voor die aanvang van ‘n skoolvakansie by die departement ingehandig word. Dit plaas ons vir ‘n paar weke onder baie groot druk, MAAR… dit gee ons dan ‘n welverdiende vakansie sonder merkwerk. Voorbereiding vir die nuwe termyn moet egter nog gedoen word, so ons kom nie skotvry af nie.

Dis lekker om te sê dat ek al my handwerk doelwitte hierdie week bereik het. Ek het verder met my glas ge-eksperimenteer…

Ek het pewter geskenke gemaak en mosaïek ingesluit in ‘n multimedia servethouer.

Twee ander doelwitte was om te lees, iets waarvoor ek bitter min tyd het, en om vir ‘n slag iets vir een van my ander blogs te skryf. Beide is gedoen… Dan het ek tussen deur ook tyd spandeer aan…

View original post 145 more words

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Familie, My klein slakkies, Plaaslewe, So doen Slakke dit | Lewer kommentaar

‘n Nuwe fase in my lewe

Ek gaan jok as ek sê dat ek nét uitsien na die nuwe fase in my lewe.

Ek sien op teen:

* handdoeke en klere op die vloer
* TV. Ek is geluidsensitief en na ‘n dag van skoolkinders se rumoer is ek op-my-knieë-dankbaar vir die stilte op die plaas.
* die feit dat ek in ‘n mate my vryheid verloor

Ek sien uit daarna:

* om deel te wees van my kleinkind se lewe
* om my eie kind weer by my te hê
* om ‘n goeie skoonma te wees wat nie gaan inmeng nie
* om nie elke dag self kos te maak nie maar ‘n beurt te kry
* om nie altyd alleen te wees nie, alhoewel ek meeste van die tyd daarvan hou
* om nie alleen die verantwoordelikheid van die plaas op my skouers te hê nie
* om te weet ek hoef nie weer alleen te sukkel met iets wat breek en ek is te poepswak om dit reg te maak nie
* om iemand te hê wat my wakker maak as ek verslaap
* om my familie van my nek af te hê oor my alleenblyery 😉
* om te weet my liefste man gaan nou minder bekommernisse hê met nog asems in die huis en ‘n man op die plaas

Ek weet die kinders het ook hulle eie dingetjies waarvoor hulle uit- en op sien, dalk baie meer as myne, maar ek weet ons sal al ons verskilletjies in liefde kan uitwerk en uitpraat.

Welkom op die plaas kinders, dis nou julle huis ook. Dis vir ons ‘n voorreg dat julle kom. Lief julle baie xxx

Naskrif – die kinders en ons het almal fisies gehelp bou aan hierdie huis en dis net reg as ons almal saam hier kan bly 🙂

Categories: My klein slakkies | 9 Kommentaar

Ouma Koobs

Snaaks hoe ‘n mens se persepsie oor dinge verander. Dit voel soos net nou die dag wat ek my vererg het toe die eerste hoërskoolseun my aangespreek het as “Tannie”. Nou is daar ‘n kleine dogtertjie wat eersdaags vir my gaan “Ouma” sê, en dit pla my nie in die minste nie… Inteendeel, ek kan nie wag nie!  Haar ander ouma se kleinkinders spreek haar aan as Oumie, so ek sal nie Oumie wees nie. Ek vermoed dit gaan eindig as Ouma Plaas, maar dis ook reg.

Laasweek gesels ek en van my sussies oor hoe ons maar almal op ons eie gesukkel het, met tydskrifte,  biblioteekboeke en een keer ‘n week se telefoonoproep na Ma toe as ons enigste bron van inligting. Maar… toe het ons ‘n hele week in die hospitaal gebly na ‘n baba se geboorte, borsvoeding- en geelsugprobleme is uitgesorteer voor ons huistoe is en ‘n klinieksuster het kom huisbesoek doen om seker te maak jy kom reg. Nou bly die mamma en baba een tot twee dae in die hospitaal, en moet op hulle eie die probleme hanteer. Selfone met internettoegang maak hulle is vir hulle ‘n groot hulpmiddel. Tik in “newborn jaundice” en binne sekondes kan jy lees wat die oorsaak is, hoe dit behandel moet word en watter gevaartekens om voor op te let.

Dit was vir my ‘n groot voorreg om vir ‘n week lank bietjie te gaan popspeel met ons dogtertjie. Om my kind in haar nuwe rol as mamma te sien is ongelooflik… skielik is sy ‘n volwaardige vrou! Om te sien hoe behendig my skoonseun met sy dogtertjie is, maak my hart sommer vuurwarm. Ek weet ons Zellie is in goeie hande.

Ons is ‘n familie van stérk vroue, en ek het gesien my dogter is nie aangeneem nie. Sy wou baie graag normaal kraam, in ‘n tyd waar die meeste jong meisies wat ek ken weier. En sy het, al was sy baie lank in kraam. Sy wou baie graag borsvoed, en ten spyte van probleme wat baie ander vroue laat terugdeins, byt sy vas en is dit vir haar dogtertjie beskore om neffens haar hart te voed.

Die nuwe mamma het ‘n fobie vir naalde en het haar oë uitgehuil toe die eerste bloedjies getrek moes word by die ou Gifappeltjie. Sy het buite gesit en huil terwyl pappa vir poppie vashou, net die gedagte was vir haar te veel. Ouma Koobs het maar die tweede keer vir mamma by die huis gelos en vir poplap gaan houvas toe pappa moes gaan werk.

Daar is net een ding wat geen tydskrif, geen boek, geen internetblad en geen ouma vir ‘n nuwe mamma en pappa kan leer nie… en dit is geduld. Daardie één ding is iets wat jy self moet leer. Jy moet leer dat jou ongeduld die babatjie laat stres. Maar ek kan dít vir hulle sê… dit kom eers wanneer jy ‘n ouma is, en dan ook maar net!

Of ek nou Ouma, of Oums, of Oumie of wat ook al genoem gaan word, maak nie vir my saak nie. Dis die nuwe fase in my lewe wat saak maak.

Ouma Koobs en haar Zelmarie

Categories: Familie, My klein slakkies | 2 Kommentaar

Ontmoet Zelmarie Ann van der Merwe…

… ons eerste kleinkind!

Vrydag 17 Augustus 2012

Die groot opwinding het verlede Vrydag oggend 07h00 begin toe Annerine my bel om te sê dat sy in kraam is na sewe en dertig en ‘n halwe week. Ons familie is baie na aan mekaar en die Whatsup en BBM lyne het gegons soos ons op hoogte gebly het van elke sentimeter wat sy ontsluit het.

Almal weet dat geboortes maar onvoorspelbaar is, maar sy wou graag normaal kraam en ek is dankbaar dat dit vir haar so beskore was.

Teen 18h45 het Zellie ingeweeg met 2.87kg, net 45cm lank… ‘n kleine, kleine ou babatjie.

Hier in hulle huis is nie behoorlike selfoon opvangs nie en ons sit spesiaal gou in die Wimpy om hierdie te deel. Volgende week vertel ek alles.

Wat ‘n voorreg is dit nie om vir ‘n paar dae by my dogter te kan wees nie!

Categories: My klein slakkies | 11 Kommentaar

Ek is bietjie stil…

… want ek is BAIE besig.

Merk merk merk en dit kry nie klaar nie…

Ons Dingetjie is nou 18 weke en wil nie vir ons wys wat word toegeknyp nie…

Dingetjie 18 weke

En dan was ek Saterdag die moeder van ‘n pragtige bruid…

My pragtige dogter

Dit was bontstaan om alles te organiseer, maar ek is nie bang nie en ek sal volgende week al die stories skryf.

Die bruid en haar moeder

Ek moes op so baie plekke gelyk wees en is ernstig aangemaan toe ek huis oor ek nie by die kerk self ook kon foto’s neem nie.

My hart se punt... twee pragtige dogters

Ons het ‘n ‘fun booth’ gehad en ek kan nie wag vir die fotograaf se fotos nie.

Lekker pret met 'n boks vol bykomstighede

Die groot oomblik

Pa en dogter

en verder merk ek en ek merk en ek merk…

Koebaai ek gaan nou weer merk, my brekie is verby!

Categories: My klein slakkies | 13 Kommentaar

‘n Nuwe fase in my lewe

Daar is so baie fases in ‘n mens se lewe dat jy eintlik nie byhou om met alles te cope nie! Party gaan te gou verby en party bekruip jou agter jou rug… maar die nuwe fase in mý lewe is iets waarna ek baie uitsien!

Oor minder as twee weke gaan ek die titel dra van Moeder van die Bruid… ‘n Rok en skoene is al gekoop, maar nie die tipe rok wat die meeste mense gaan verwag as Moeder van die Bruid nie. Nee. My skoonseun het vir sy skoonma ‘n pragtige turkoise rokkie met blinkers uitgekies nadat haar mooi pers rokkie verwoes is in die brand net meer as ‘n maand gelede. Dié het sy darem vir haar sus gewys wat kom kuier het…

Die fase waarna ek éintlik uitsien is die fase van Ouma-wees. En ek is nie skaam om te sê dat my kind swanger is nie. Sy is groot en dis ‘n kind in liefde verwek, nie ‘n een-dag-belustigheid nie. Die troue wat vir November beplan was, is nou net vervroeg.  Ons aanstaande skoonseun is al lánkal ons seun.

Dingetjie is nou amper 17 weke verweef in sy moederskoot en volgende week gaan ek en Oumagrootjie ook saam met Mamma en Pappa op die sonar kyk of ons nou blou of pienk moet koop…  Jy beter jou boudjies móói draai Dingetjie… jy beter!

Eerste foto van my kleinkind. Ontmoet vir Dingetjie, hier net na 12 weke en 5.76cm lank.

My nuwe stoep is spesiaal lekker groot sodat die kleinkinders met hulle skopfietsie kan resies jaag. Ons het hom al laat uittoets met Elzandri, my nefie se pragtige dogtertjie. Wanneer ek net sien hoe my susters en broer hulle kleinkinders geniet, wéét ek dat dit vir my ook ‘n groot plesier gaan wees.

Maar Dingetjie… hierdie ouma van jou is nie soos gewone oumas nie. Ek wil dit net nou al vir jou duidelik maak. Ek gaan dalk nie vir jou koekies bak nie. Maar ek sal op my kop vir jou staan. Ek gaan jou nie bederf met sweeties nie. Maar ek sal vir jou ‘n sprinkaan se poot onder ‘n mikroskoop wys. En mooi patroontjies in die wolke. En die piepklein spoortjies van ‘n duikertjie in die sand. En die mooi patroontjies op ‘n wurm se lyf. En ons sal perdeblomsaadjies blaas in die wind  en ons tone krul in die modder wanneer dit reën. En ek sal vir jou ‘n padda vang en wys waar bly ‘n groot bobbejaanspinnekop.

Kom Dingetjie. Kom kleinkind van my ander kind. Ek wil vir julle ‘n Ouma wees.

Categories: My klein slakkies | Sleutelwoordw: | 14 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.