Plaaslewe

Gebeurlikhede en ervarings op ons plaas.

‘n Week van lekker werk

Dit was lekker om na ‘n baie stresvolle termyn bietjie tyd te he vir dinge wat vir my lekker is. Dit gee my weer woema vir ‘n lang tyd…

iBoké

Ondanks wat die grootste gros mense dink, het onderwysers het baie min tyd vir hulle self. Van die begin van hierdie jaar af moet alle punte voor die aanvang van ‘n skoolvakansie by die departement ingehandig word. Dit plaas ons vir ‘n paar weke onder baie groot druk, MAAR… dit gee ons dan ‘n welverdiende vakansie sonder merkwerk. Voorbereiding vir die nuwe termyn moet egter nog gedoen word, so ons kom nie skotvry af nie.

Dis lekker om te sê dat ek al my handwerk doelwitte hierdie week bereik het. Ek het verder met my glas ge-eksperimenteer…

Ek het pewter geskenke gemaak en mosaïek ingesluit in ‘n multimedia servethouer.

Twee ander doelwitte was om te lees, iets waarvoor ek bitter min tyd het, en om vir ‘n slag iets vir een van my ander blogs te skryf. Beide is gedoen… Dan het ek tussen deur ook tyd spandeer aan…

View original post 145 more words

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Familie, My klein slakkies, Plaaslewe, So doen Slakke dit | Lewer kommentaar

‘n Stukkie van my hart is uitgeruk

Dis geen geheim dat ek lief is vir die natuur nie, en dat ek omgee vir die plante en diere en elke klein goggatjie. Ek het al letterlik duisende foto’s van elke lewende en nie-lewende ding wat ek dokumenteer vandat ons die plaas gekoop het einde 2003. Elke lewendige organisme probeer ek identifiseer en maak ruspes groot om te sien hoe die volwasse insek lyk. Ek is die trotse eienaar van my Caterpillar Rearing Badge. Hierdie data word aan wetenskaplikes gestuur en op hierdie manier dra ek op ‘n eenvoudige manier by tot nuwe wetenskaplike inligting. Ek is ‘n paar weke gelede genader deur ‘n persoon oorsee wat van my data en foto’s in sy boek gaan gebruik.

Meer as 350 verskillende blommende plante is al op my lysie, en die hoeveelheid insekte, spinnekoppe en ander lewende organismes groei teen ‘n tempo. Ek kan elke plant se plek gaan wys waar ek dit gekry het.

Ek het ‘n intense passie om elke indringerplant te beveg met alles beskikbaar, om sodoende biodiversiteit te bewaar vir my nageslag. Ekself loop dae in skoolvakansies om Lantana uit te roei, dis benewens twee permanente werkers wat ons aangestel het slegs vir daardie doel. Jaarliks kry ons ook hulp van Work for Water, in die vorm van plantgif en ‘n span wat vir twee weke kom help uitroei. Dis ‘n langsame proses, daar is saad in die grond vir baie jare en so vinnig as wat jy uitroei, kom dit maar weer op. Maar stadig maar seker wen ons weiding terug. Stadig. Maar seker.

Party blomme is algemeen, ander het ek een keer gesien en nooit weer nie. Tot sover het ek vier orgideespesies gekry, een daarvan die lieflike epifiet, Ansellia africana.. Hy groei net op een plek op die plaas en Roelf het al male sonder tal gesê ek moet hom gaan verdeel en ‘n stukkie in ‘n boom by die huis kom vestig. Elke keer het ek gesê nee, dalk volgende seisoen. Wilde plante hoort tog waar hulle hoort… Dis word immers op die Rooi Data Lys geklassifiseer as ‘vulnerable’

Although no accurate values for the number of individuals or subpopulations are known due to the widespread nature of its distribution, it is it known that entire areas are destroyed during collection of Ansellia africana. Even if several subpopulations are known to exist within protected areas, large numbers of A. africana are under no form of protection and with the constant (or increasing) level of harvesting apparent throughout its range a population size reduction over the last few decades (generation length estimated as approximately 10 years) of over 30% can be inferred. This is based on the actual levels of exploitation and a reduction in mature individuals which are often the focus for collection, with the additional threat of habitat destruction. A future reduction of 30% over the next 30 years is also suspected due to their being no sign of a reduction in harvesting levels nor habitat destruction. This species has been categorized as Vulnerable under criteria A2cd and A3cd.”

Ansellia africana

Ansellia africana se pragtige geel blommetjies is ook welriekend

ansellia africana IMG_3127

Ansellia africana, in natuurlike habitat

As ek hom maar by my huis geplant het, dan het hy dalk nie afgebrand nie, want een van die groot redes waarom hy so onwettig gestroop word is om huishoudings teen weerlig te beskerm. “This species is an ornamental, and is therefore heavily collected throughout its range. In South Africa it is used as a love charm, as an antidote for bad dreams and at homesteads to ward off lightning.”

‘n Paar weke gelede het kwaaddoeners ‘n veldbrand gestig by die pad waar die plaas grens met die bure. Roelf en skoonseun het vieruur in die oggend gaan blus en die buurman gekontak waar die vuur vandaan gekom het. Hulle het nie hulle kant gebring nie en net na elf die volgende dag was die vuur buite beheer en het weer oorgekom na ons toe. Negentig persent van ons plaas het gebrand, ons het ‘n sebra en wildebees verloor… en ons koop nou nog voer aan vir ons diere.

Die naweek na die brand het ons bestek geneem en aangesien dit lente is en tyd vir my Ansellia om te blom, was dit een van my prioriteite om te gaan kyk of hy oorleef het. Die bos waarin hy groei het gebrand, met klein kolletjies wat oorleef het. Soos ons aangestap het, was my hart in my keel… as en swart net waar jy kyk… Nader en nader en toe Roelf sê “Kyk… rondom die orgidee se boom het dit nie gebrand nie!” Ek wou huil van blydskap… dis juis so mooi skoon van Lantana na die Work for Water span daar gewerk het, en dis dalk die rede dat dit nie in daardie spesifieke plek gebrand het nie.

My blydskap het verander in woede… waar my pragblom moes wees, was… niks. NIKS. Nie swart gebrande as nie, net niks. Iemand het my plant gesteel. My plant waarop ek so heilig was en nie eers self wou verdeel nie, is af gesteel. ‘n Stukkie van my hart is uitgeruk. Weg vir altyd, want dit was die enigste een op die plaas… net nog ‘n deeltjie in die stroperstatistiek van ons land. Indien die persoon wat hom geneem het dit dalk nog gebruik het as muti vir ‘n siekte, dan sou ‘n spinnerakkie dalk die gat in my hart kon toemaak. Maar as deel van bygelowe? Nee, daarvoor is die gat te diep vir selfs ‘n spinnekop om te probeer klim.

Net die oorblyfseltjies van 'n paar worteltjies is bewys dat daar wel 'n epifiet aan dit tak gegroei het

Net die oorblyfseltjies van ‘n paar worteltjies is bewys dat daar wel ‘n epifiet aan dit tak gegroei het

Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | 19 Kommentaar

Draadstrikke

NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE!!! HIERDIE SKRYWE BEVAT ONLEKKER FOTO’S!!!

Ons woon nou net meer as tien jaar op die plaas, en nooit voorheen het ek onveilig gevoel nie. Voorheen. Verlede tyd. Ander dag.

Net minder as drie weke gelede het Marina gesien ons troppie sebras se hing, of Die Hings, het ‘n draad wat afhang by sy nek. Dit beteken dat daar sluipers op die plaas is wat strikke stel. Dit beteken ek is nie meer veilig om heeldag en aldag alleen  in die veld te loop nie… en ek is kwaad daaroor. Baie, baie kwaad.

Gelukkig is die trop sebras relatief mak en was dit maklik vir die veearts om hom gedart te kry. Mens kan nou nie aan hulle gaan vat nie, maar ten minste naby genoeg kom om met die dart geweer te skiet. Sebras word TE maklik mak en dan is hulle ‘n verpesting. Ek het hulle nou al bietjie ‘ontmak’ nadat hulle die honde so verpes het dat hulle nie rus kon kry nie. Die draad was losserig om sy nek en het geen fisiese skade gedoen nie.

Veearts Nicoline en Jamie haar assistent

Veearts Nicoline en Jamie haar assistent

Jamie besig om die strik los te knip met 'n tang.

Jamie besig om die strik los te knip met ‘n tang.

Ons het die plek gekry waar die strik was, en dis ongelooflik hoe sterk hierdie diere is. Hy het die droë boom waaraan die strik was vir meters gesleep voordat hy losgeruk en die draadkabel gebreek

Ons het die plek gekry waar die strik was, en dis ongelooflik hoe sterk hierdie diere is. Hy het die droë boom waaraan die strik was vir meters gesleep voordat hy losgeruk en die draadkabel gebreek

IMG_9781

Kabel om die boom

Kan jy GLO dat 'n sebra so sterk kan wees?

Kan jy GLO dat ‘n sebra so sterk kan wees?

Dinsdagoggend het my nefie Stefan na ‘n wildsrit kom rapporteer dat daar nog ‘n sebra is met ‘n draad om die nek. Die slegte nuus was dat daar bloeding is, en bloeding lok vlieë en brommers wat eiers lê … Die ander slegte nuus was dat dit die Wilde Hings is. Al ons diere het nie name het nie, maar mens moet kan onderskeid tref tussen party. Die Wilde Hings is baie wild soos sy naam sê en hy bly in ‘n moeilike deel van die plaas waar dit baie ruig is met lantana en die pad soontoe is lelik verspoel en net bekombaar te voet of met die vierwiel motorfiets. Na oorlegpleging met die veearts het ons besluit ek sal in die pad ‘n voerplek maak sodat ons hom kan lok. Die diere is gek oor Niknak tipe chippies, en ek koop afval by ‘n plaaslike fabriek. Ek het nog een sak oorgehad na verlede week se dart en Stefan het dit dadelik gaan uitgooi. Gelukkig was die fabriek nog oop voor hulle sluit tot Januarie en kon ek ‘n paar sakke kry om naby genoeg aan hierdie wilde ding te probeer kom.

Hy het eers teen gistermiddag baie laat van die chips geëet  en ons het vanoggend weer uitgegooi. Marina was ook vandag tuis en ons voornemende veearts kon die veearts kom assisteer. Hulle twee het met die geweer en medisyne op die vierwiel gery en ek en ons twee werkertjies het gaan wagstaan op ‘n punt om te help soek wanneer hulle skiet. Die diere hardloop eers ‘n ent voordat hulle van die slaapmiddel omval, en dis belangrik om hulle gou te bereik indien hulle sleg val en asemnood ontwikkel.

Dit was toe nie die Wilde Hings nie, maar Wesie, ‘n driejaar oue hingsie wat saam met hom loop. Wesie is nie regtig ‘n weeskind nie. Toe dit tyd was vir hom om uit die trop geskop te word, wou hy nie. Sy pa, Die Hings, is baie kwaai met jong hingsies. Hulle moet uit die trop. Maar Wesie WOU eenvoudig nie gespeen wees nie. Die Hings het hom so gebyt en geskop dat ons destyds die veearts moes uitkry om hom te dart. Sy maanhare is so gebyt en uitgeruk dat daar ‘n oop sweer was. Toe het hy besluit ek is sy trop. Ek het nog in die chalet (stoksiel alleen) gebly en as ek my neus by die deur uitsteek dan is Wesie by. Elke dag, heeldag. Wanneer ek veld toe was, het Wesie so paar tree agter my geloop. Tot hy maar eendag die boodskap gekry het en saam met die Wilde Hings en klein Flap, wat later dood is aan wie weet wat, gaan trop maak het.

Die Hings het klein Flap se ma Flappie (hulle het albei elkeen ‘n flap oortjie gehad) net nou die dag ook so gebyt toe haar vulletjie siek was. ‘n Siek dier word nie in ‘n trop geduld nie, en die ma wat getrou by hom bly word dan ook as ongewens beskou. Die vulletjie is toe dood en dit het WEKE gevat voor Flappie weer in die trop aanvaar is. Haar maanhare begin nou eers terug groei.

Ons is baie dankbaar dat ons vir Wesie betyds gekry het. Die wonde om sy nek is lelik en baie diep, maar gelukkig is daar nog nie maaiers in nie.

Die snye is BAIE diep

Die snye is BAIE diep

Arme ou Wesie

Arme ou Wesie

Mens kan die vet onder die vel sien

Mens kan die vet onder die vel sien

Die mens is die wreedste dier op die aarde

Die mens is die wreedste dier op die aarde

Tyd vir wakker word... die anti-slaapmiddel word binne-aars in 'n lekker groot oor-aar ingespuit en dan laat spaander jy want minder as 90 sekondes later hol hy weg.

Tyd vir wakker word… die anti-slaapmiddel word binne-aars in ‘n lekker groot oor-aar ingespuit en dan laat spaander jy want minder as 90 sekondes later skop en hol hy.

Marina het hom gedart, haar eerste eie dart. Sy het mooi geskiet. Hulle het die wonde goed behandel met antibiotika en medikasie om die brommers weg te hou. Nou moet ons net bid vir herstel vir hom.

Veearts Nicoline en studerende veearts Marina

Veearts Nicoline en studerende veearts Marina

En wat maak ek as ek ‘n poacher vang? Ek weet so waar as wragtig nie. ‘n Kennis het baie onlangs een aan die polisie oorhandig en hy het ‘n R600 boete gekry en poach al weer… Dis om van naar te word!

Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,, | 11 Kommentaar

Plaasliefde

My man bring nooit vir my blomme nie. En ek kla nie daaroor nie, want hy plavei die pad na my hart met vere en ander dingetjies uit die veld.

Ons het ‘n Gevlekte Ooruil wat elke aand op die skoorsteen sit en ‘hoe’, met vere so sag soos satyn om my siel te kom streel.

Was dit nie vir die honde se blaf en ‘n skerp pen wat verloor word in die haas om weg te kom nie, sou mens nie eers weet van die ystervarke wat suutjies die kombuisafval kom verwyder nie.

Dankie vir my presentjies. Ek dink aan jou wanneer ek dit sien en jy vêr weg is van my.

Categories: Plaaslewe, Slakkeding, So doen Slakke dit | Lewer kommentaar

Daar is mense wat plaaslewe vervelig vind

Hierdie jaar hardloop teen ‘n spoed waarby ek nie kan hou nie. Elke jaar in ‘n onderwyser se lewe is anders, en hierdie is vir my ‘n dol-dol jaar. My werksverpligtinge is net so dat daar nie tyd oorbly vir blog nie… en dis vir my sooo verkeerd!

Lewe op die plaas gaan aan en daar is altyd iets nuut om te ontdek en iets interessant wat gebeur.

My skoonseun is verplaas na ons dorp toe en hulle bly nou tydelik by my in die huis. Dit beteken dat ek deel is van my poppie se ontwikkeling en dis vir enige ouma ‘n seëning. Die chalet wat gebrand het is gesloop die naweek en ons gaan die fondasie gebruik, dit vergroot en vir hulle ‘n tweeslaapkamerhuisie bou.

Die afwerking in my eie huis gebeur nog maand vir maand, ons wil mos nie skuld maak met die bouery nie, en is nou al amper klaar. My spens het twee weke gelede rakke gekry en hierdie naweek is daar teëls geplak in my kombuis.

Wat ek eintlik wil vertel is my nuutste ontdekking op die plaas. Verlede week het my dogter met die vierwielmotorfiets gaan ry sonder om te kyk of daar genoeg brandstof in is. Julle ken mos daai simpel Murphy outjie né… Daar was natuurlik nie en sy het amper ‘n kilometer van die huis af gaan staan. Die volgende dag het sy ‘n kannetjie brandstof gaan koop en ingegooi, maar iemand moes nog steeds stap om die fiets te gaan haal en vir haar is dit moeilik met Poplap saam.  Ek was eeue laas in die veld en het aangebied om die stappie te doen.

Maar o wee… Die liewe Frieda kameelperd het mos weer haar kalf doodgeskop en ly al weer aan nageboortedepressie. Die simpel ding neem mos  ‘n voorwerp aan wat sy dan vir ‘n paar maande met haar lewe verdedig asof dit haar kind is. Simpel ding weer ‘n keer! Pleks sy net haar kalf los, dan het sy iets. So stap ek en Boesman-staffiebrak toe pad af om die fiets te gaan haal. Hy ry soos ‘n lord op die fiets. Die enigste probleem was… die fiets het ‘n paar meter vanaf Frieda se ‘kind’, ‘n stuk betonpyp, gaan staan. Ons het haar en Frikkie so ent agter ons gekry en gedagtig daaraan dat ons nou tussen haar en haar kind inbeweeg, het ek maar kort-kort ‘n oog agtertoe gegooi. Sy het stadig in ons rigting begin stap en in ‘n oogwink besluit ons waag dit nou heeltemal te na aan haar kind! Sy het begin draf en ek en Boesie moes HOL om voor te bly en veilig weg te swenk veld in… met ‘n kameelperd vol woede vir haarself lol ek defnitief nie! Normale tye laat sy my tussen vyf en tien meter vanaf haar toe, maar NIE naby haar kind nie!

Ek was nie regtig aangetrek vir boendoe-bashing nie, en padlangs moes ons toe ‘n vreeslike ompad stap, en dit was in die hitte van die dag. Halfpad is ons gronddam en Boesie hol altyd vooruit om te gaan lyf natmaak. Voorlaasweek het ek ‘n nuwe waterplantjie ontdek wat ingekom het met watervoëls wat die dam besoek. Ek moes in die water klim om dit nader te trek om af te neem en met die uitklim ontdek ek toe bloedsuiers op my voete en my been. Daar is regtig min dinge waarvoor ek gril, maar bloedsuiers freak my uit! Freak soos in histerie… Gelukkig was Roelf by en het hy die goed verwyder voor ek my broek vuilgemaak het… want nat was hy wel en dit was nie van die water nie…

Ek was reeds nie lus vir ‘n nat hond saam met my op die motorfiets nie, en gedagtig aan die pestillensies wou ek vir Boesie keer, maar dis nie regtig moontlik nie. Hy was net in die water toe hoor ek PLONS…  ‘n Harde plons, nie ‘n saggiese inglip van ‘n padda nie. My hare het dadelik orent gestaan en adrenalien het teen ‘n tempo gepomp… want… die bure boer met krokkodille…

Boesie het hom nie gesteur aan my angstige geroep dat hy moet KOM nie… en sowaar as vet! Minder as twee meter van hom af pop krokkodil se kind uit die water! Nie ‘n grote nie, net so meter lank, maar as daar een is wat ek kan sien, kan daar meer wees onder die water…

Boesman was darem al bietjie afgedroog teen die tyd wat ons by die fiets gekom het van die ander kant af, en ons kon vinnig opklim en huistoe ry. Van die ander kant af was Frieda rustig en het ons net stip dopgehou en op die fiets is ons nie ‘n bedreiging vir haar kind nie.

Ons het in die aand gaan kyk, dan sien mens maklik die oranje ogies in die flitslig as daar meer as een is, en dit lyk darem asof dit net hierdie enetjie is. Die bure se volwasse teeldiere word apart aangehou, die kleintjies word in duisendemassas in sementdammetjies gehou en een of meer? moes ontsnap het. Hierdie is die grootte wanneer hulle geslag word. Ons het al in die verlede krokkodilletjies in die pad gekry en twee wat in ons bure se dam was (hulle moes oor ons plaas loop om daar te kom). Mense kilometers verder het al hierdie grootte dierasies in hulle swembaddens gekry.

Vervelig op ‘n plaas? Nie by ons nie…

Categories: Plaaslewe | 8 Kommentaar

Vrypas hemel toe

‘n Harde knal. ‘n Koeëlronde gaatjie waaruit ‘n bloedrooi slangetjie seil. ‘n Paar stuiptrekkings. Vrypas hemel toe.

Vroegoggend lui my telefoon. “Hallo. Ek wil net seker maak dat jy al wakker is. Jy het gister gesê jy gaan vanoggend kerk toe.” begroet my man se stem my, wetende dat ek ‘n naguiltjie is maar soggens sukkel om aan die gang te kom. “Hallo. Jip, ek is op. Nog deur die weer, maar op.” Die rekenaarstelsel waaraan hy werk in Johannesburg het lewendig begin loop die naweek en hy werk harde, harde ure. Miljoene rande van sy kliënt is op die spel en tyd vir huistoe kom is daar nie.

Die hek staan op ‘n klein skrefie oop. “Seker weer die kameelperde wat ‘n takkie op die spoor laat val het in ‘n poging om die sappigste blaartjies buite by te kom voor ek gistermiddag ingekom het.” dink ek en druk die knoppie toe ek niks gewaar nie.

Die hek gee ‘n ruk en begin beweeg. Staan weer stil. Begin weer rukkering beweeg. Staan stil. Dis met die uitklim wat ek dit hoor. My hart ruk yskoud en my verstand staan stil. Die hek se siklus wil hom toemaak. Verstar volg my oë die geluid. Die geblêr van die jong duikerooitjie sny tot in my siel en ek hoor ‘n beentjie breek. Ek sien hoe sy saamsleep, haar regter voorbeentjie amper heeltemal afgeskeur van haar lyfie.

Met die hek heeltemal toe, is sy stil. Haar ogies staar beangs in myne vas, met haar koppie probeer sy deur die tralies beur. Sy is vasgevang in ‘n gleuf tussen die hek en ‘n muurtjie, haar beentjies verstengel in die tralies. Stukkend. Stúkkend! Met ‘n snik wat rou wurg in my keel draai ek weg. Gaan sit in my kar. Bel ‘n vriend om sy geweer te bring toe ek uiteindelik in staat is om te praat.

‘n Harde knal. ‘n Koeëlronde gaatjie waaruit ‘n bloedrooi slangetjie seil. ‘n Paar stuiptrekkings. Vrypas hemel toe.

Vasgevang

Vasgevang

Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | 13 Kommentaar

Voorreg en rugbreker

Laatmiddag sit ek in die soelte op my stoepmuurtjie en hou geammuseerd die spul jong wildebesies dop wat mekaar baldadig al om die bome jaag soos ‘n spul uitgelate laerskoolkinders op die eerste dag van vakansie. Sonbesies skril verwoed voort wanneer tweetjies ewe grootmeneer koppies stamp. Die mammas luier ongestoord al vretend met die bokspringertjies rondom hulle. Rooibokrammetjies blaas alreeds agter die ooitjies aan vir volgende seisoen se oes en hardloop wye draaie terwyl ons kameelperdbul rustig sy balle staan en krap teen ‘n jong boompie wat hy afgebreek het tot nét die regte hoogte. Net ‘n entjie verder staan ‘n hoogswanger sebramerrie en skuur haar flank teen ‘n boom terwyl die tarental tjir-tjir oppad na hulle slaapboom vir die aand.

Die son blets sy laaste goue lig en eensklaps is die wildebesies se middagspel oor. Elkeen hol na sy ma en stamp gulsend die uiers na ‘n ruk se gesuip en begin dan rustig saam met die trop te wei.

Dit alles in ‘n agtermiddag se kyk. Vredevol. Rustig.. Bevoorreg. Geseënd

Maar dis nie altyd so nie en dit kom nie vanself nie.. Ons plaas is nie selfonderhoudend nie, en ons moet hard werk en groot opofferings maak om hierdie rustigheid te kan ervaar. Veldbrande. Wildstropers. Indringerplante. Alleenbly op die plaas terwyl manlief geld verdien amper vier ure se ry hiervandaan. Weerlig en nog donderweer ook. ‘n Werk doen wat nie jou keuse is nie, maar wat jy aanvaar om die lewe makliker te maak.

Ons kommer ons oor ons kameelperd koei wat nou enige dag moet kalf. Verlede jaar se kalf het sy verloor na ons haar laat ‘dart’ het vir ‘n ondersoek. Kameelperdkoeie is blykbaar oor die algemeen nie goeie mammas nie en die man van Parkeraad sê al wat hulle nog kan dink is dat sy dalk dink dat hier te min kos is en dan die kalf skop. Dus het ons besluit om ekstra voeding te verskaf in die laaste weke van haar swangerskap. Ek het lank gesoek na lusernbale en nie gekry nie. Uiteindelik het ons lusernpille gekoop en toe wil sy nie haar bek daaraan sit nie! Gelukkig weet ons sy vrek oor die Niknaks tipe tjippies en meng toe die lusern daarmee om gewoond te raak aan die smaak. Ons voer dit in wintertye wanneer dit nodig is, ‘n fabriek in Nelspruit verkoop die afval as voer want dit is maar net mielies. Nou is sy so blerrie bederf dat sy aanhol wanneer mens met die emmertjie na die voerbak toe stap.

‘n Plaas is ‘n finansiële put en dit verg fyn bestuur om nie in die modder te gly nie. Vir al die vreugdes is die opofferinge egter die moeite werd.

Kan jy kaalgat in die maanlig saam met jou man gaan stap met net die aandlug wat jou vel bedek? Kan jy die sterrewolke sien en nie net ‘n vae belofte van sterre vêr weg nie? Jou klere uitpluk na ‘n uitmergelende oggend van werk in die veld en net so in die swembad spring? Kan jy vier verskillende paddas op een slag hoor kwaak en ‘n piepklein babaduikertjie sien wegskarrel saam met sy ma? Kan jy ‘n visarend hoor roep of die diep stem van ‘n gevlekte ooruil in die nag? Kan jy in die veld gaan stap terwyl die wit skoenlappertjies migreer en die swaeltjies sentimenters van jou gesig swiep in hulle baldadige baljaar in die oorvloed? Kan jy jou trommeldik eet aan rooi-ivoorbessies en jou kiewietjies in ‘n knop trek met ‘n bloedrooi suurpruim? Kan jy asemhaal sonder dat jou sinusholtes brand? Kan jy as jy jou ore spits die blommetjies hoor groei en jou tone laat krul in ‘n modderpoeletjie na ‘n buitjie reën?

Ek kan. Vir hierdie voorregte en seëninge en nog baie meer sal ek my vingers stompies werk en die rugbreke vat in die swaar tye. Ek is gelukkig hier, ek het vrede in my gemoed. My siel het ‘n tuiste gevind.

Dankie. Vader, aan U al die eer.

Almagtige God Amos 4 vers 13

Categories: Plaaslewe | 6 Kommentaar

‘n Klip is ‘n klip

Sien jy wat ek sien?

Sien jy wat ek sien?

Het julle ook toe julle kinders was op die naat van julle rûe gelê en soek na patroontjies in die wolke?

Ek sien patroontjies orals, nou nog! Kyk bietjie volgende keer wat jy ‘n lekker borrelbad vat watter mooi goedjies jy kan sien in die skuimpatroontjies.

Kyk of jy ook die man kan sien wat sy gesig vir my in klip gewys toe ek nou die dag in die veld gaan stap het. Ek het net ‘n foto geneem en hom nie aangedra huistoe nie… hy wil graag in die veld bly, al het my hande gejuk om hom saam te dra.

Vir die van julle wat nie so groot verbeelding het soos ek nie...

Vir die van julle wat nie so groot verbeelding het soos ek nie…

Eintlik jok ek, hy was te swaar om te dra met een hand… hy wou nie regtig daar bly nie, hy wou saam met my huistoe gaan!

Eendag wanneer ek hom weer kry sal ek dalk ‘n plannetjie maak.

Categories: Plaaslewe | 3 Kommentaar

Is diep binne jou nog ‘n kind?

Ek dog maar net ek vra of daar nog diep binne jou ‘n kindjie woon, want ek het nog nooit die sywurmfase ontgroei nie en ek het maar net gewonder of ek allenig op hierdie aarde is…

Onthou maar die spreekwoord van “beauty lies in the eye of the beholder”, né, voor ek nou weer moet hoor “Waar’s die Doom?”

Hierdie is my gunsteling ruspe, Rhanidophora phedonia. In Engels is die algemene naam Shortsnout Dice moth.

Rhanidophora phedonia

Hulle gasheerplant is Thunbergia atripicifolia en ek kan nie verby ‘n plant loop sonder om te kyk of daar nie een of meer van hierdie mooi goedjies op is nie.

Thunbergia atripicifolia

My insekboek het my verwar met die name en ek wou doodseker maak vir myself. En vir ander mense wat ook dalk so verward kan wees soos ek, ons is nie almal ewe slim nie! Toe dra ek maar enetjie aan huistoe en prakseer vir hom ‘n houer waarin ek hom heeltyd kon beskou. Die eintlike rede is dat ek wou sien hoe die volwasse organisme lyk, in hierdie geval die mot.

Roomyshouers is nuttig vir baie dinge!

Gelukkig is daar ander mense wat baaaaie slim is wat vir my met die regte naampie kon help nadat ek ‘n foto van die mot op ‘n identifiseringswebblad gesit het.En nou weet ek.

Rhanidophora phedonia, Shortsnouted dice moth

Intussen het ek nog drie ander mooies ook aangedra en wag vir hulle motte ook om te verskyn…

Woon daar nog ‘n kind binne my? Verseker! Maar die grootmens gebruik die kind in haar en lewer ‘n bydrae tot wetenskaplike kennis sodat niemand hoef te wonder watter motjie hoort by watter ruspetjie nie…

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | 12 Kommentaar

Uil op ‘n kluit

Ek het gister die voorreg gehad om ‘n Gevlekte ooruil van naderby te bekyk… in my eie kombuis!

Ons voornemende veearts werk in haar vakansietyd by die plaaslike kliniek en hulle het die uil behandel nadat hy beetgekry is deur honde. Sy het hom saamgebring huistoe en ons het hom op die plaas vrygelaat. Hier is Gevlekte ooruile en hy sal gou ‘n maatjie kry. Ons sien en hoor ook Bosuile en Nonnetjiesuile.

Die oë is aangrypend geel, die foto’s doen nie glad nie reg daaraan nie! Dis die helderste, helder geel wat sterk kontrastreer met die pikswart pupille; ek het nog nooit voorheen so iets gesien nie.

Ek het gedink hy gaan kwaai wees, en gedink die velle gaan waai wanneer Marina haar hande in die boks druk. Hy was egter baie rustig en sy het hom baie professioneel opgetel sonder dat hy stres. Vir my het hy natuurlik gesis toe ek my kameralens in sy gesig druk, maar dis seker te verstane, dis darem ‘n vreeslike groot oog wat vir hom gekyk het!

Ek het baie vinnig ‘n paar foto’s geneem want ek was regtig bang die dier begin stres.

Wat ‘n voorreg om op die plaas te bly en kontak te kan hê met sulke manjifieke diere!

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | Sleutelwoordw: , | 7 Kommentaar

Blog at WordPress.com.