Slakresies en ander sport

Sportstories uit die gesin

Oorwinning

‘Success is to be measured not so much by the position that one has reached in life as by the obstacles which he has overcome.’ – Booker T Washington

Ek glo dat elke mens se groei of ondergang bepaal word deur hóé jy ‘n bepaalde struikelblok hanteer. Sommige klippe op jou pad is rivierklippies wat net effense ongemak veroorsaak, terwyl ander massiewe rotse is met skerp punte wat bloed vergiet. Soms verg dit buk en afkyk om te vind dat die klippe eintlik diamantgruis is, al het dit net netnou jou toon nerfaf gestamp. Elke mens se pad het afdraai plekkies wat jy noodgedwonge moet vat. Ongelukkig gebeur dit met sommige mense dat hulle nooit weer by die grootpad uitkom nie want hulle ompad word ‘n vêr pad word waar wilde woeste monsters skuil. Parykeer is mens gelukkig en is daar iemand om jou te abba, maar soms is daar iemand wat jou in die dorings stamp. Ek glo aan ‘n Skepper, Grootste Koning, Opperwese wat jou gekies het, wat jou pad vir jou uitgemeet het, wat bepaalde struikelblokke plaas om te sien of jý Hóm kies om jou te abba om uiteindelik die plek van oorwinning te behaal.

My eie pad loop ek soos hy kom, soms deur modder, soms deur wind. Soms stap ek met ‘n blom in my hare, sommer net ‘n kind.

‘You are never old till the day that regret replace your dreams.’ -Anonymous

Om groot te geword het in ‘n plattelandse omgewing was vir my ‘n voorreg, maar nie sonder beperkinge nie. Ons is groot gemaak dat sport iets is waaraan jy deelneem vir die genot daarvan en nie noodwendig prestasie nie. Seker maar omdat ons nie presteer het nie… In ons klein plaasskooltjie was daar beperkte atletiekgeleenthede (100 m, verspring en hoogspring) en wintersport was rugby en netbal. Twee spannetjies vir elk, die lede was almal in die hele skool wat wou deelneem. G’n niks van o/11 of wat ookal nie, almal tussen standerd 3 en 5 wat wou, was in die span. Ag, maar hoe het ek tog nie gedroom van ‘n ou silwer bekertjie nie… daar was mos nie daardie tyd medaljes nie. Net een keer, net één ou bekertjie… Tweede of derde in die verspring en hoogspring het ek telkens behaal met my kort maer beentjies, selfs tot in die hoërskool, maar eerste, nooit.

My niggie in Pretoria het provinsiale kleure in atletiek en gimnastiek gehad en dit het verdere drome wakker gemaak. Wanneer hulle kom kuier het, het sy vir ons wawiele en allerhande dinge gewys en ek en sus Magda het groot gegaan vir weke en weke daarna. Dit was ook in die tyd van die kleine Nadia Comaneci wat die Olimiese Spele oorheers het en ons het ons eie apparate ontwerp en spronge gedoen met ‘n yster tafel as bok. Jy het jouself net één keer potblou teen daai yster tafel gestamp, die volgende keer het jy hòòg bo-oor gevlieg. Ek dink dat sou ons die geleentheid gehad het, beide van ons sou kon presteer het in gimnastiek.

My kop het egter geweet dat my klein liggaam nie kan kers vashou met groot sterkes om te presteer in sport wat spoed verg nie. My hart daarenteen wou my maar net nie laat los nie en ek het toe my kinders hanteerbaar was, begin draf. My spoeddroom het nou ‘n 21km droom geword. Wat ‘n ervaring was dit nie toe ek my eerste 10km padwedloop doen en ek ‘n medalje kry oor ek binne die tyd klaar maak… maar dit was nog nie ‘n silwer bekertjie nie… dit was nog nie éérste nie! My genetiese bunion-skewe voete was egter nie opgewasse teen die voortdurende impak nie en daar gaan die 21km droom.

As klein seuntjie het Roelf sy eie boog gemaak en hy dra vandag nog ‘n letsel op sy bors waar sy nefie hom met ‘n pyl getref het tydens Cowboys en Indians speletjies. Sy ouboet het hom en sy boog op ‘n foto vasgelê en verlede jaar het ek my vriend Lourens gevra om hierdie beeld vir my te omskep in ‘n skildery.

image

image

Voor ons troue het hy ‘n Compound-boog gekoop en sommer net rondgespeel daarmee op ons plot en tarentale geskiet op sy ma se plaas. Hy is ‘n baie goeie skut en wou graag aan ‘n klub behoort en aan kompetisies deelneem, maar daardie dae het die klubs net Recurve-boë toegelaat en ‘n paar stywelip tannies het hom verbied om met sy Compound-boog naby hulle teikens te kom. Later het die boog maar net stof vergader in ‘n kas en toe hy op ‘n dag die opmerking maak dat hy nog eendag graag wil kompetisies skiet, het ek hom gevra hoekom doen hy dit dan nie. Sommer daardie selfde naweek nog het hy ‘n boogwinkel opgespoor om pyle te koop en blinkoog sommer met ‘n nuwe boog by die huis aangekom. En ook vertel daar is nou boë beskikbaar vir vrouens en kinders en dat hy dink ek ook daarvan sal hou. Ek was maar skepties, want dit het net te macho geklink, te veel na iets wat groot en sterk mense doen.

Uiteindelik was daar klubs en geleenthede vir sy tipe boog. Ek het toe ook saam begin skiet en alhoewel die 3-d tipe skiet baie lekker is in die veld oor berge en deur dale, is my afstandskat nie so goed nie. Roelf het sommer in die eerste jaar provinsiale kleure verwerf. In ‘n poging om myself te verbeter het ek die teikenskiet ding begin en ek het nog nooit weer terug gekyk nie.

Ek het ‘n spul medaljes en meer as een trofee gewen, my provinsiale kleure verwerf, ‘n brons medalje vir die ARFAC ( Afrika Field kampioenskappe) uitgeskiet, maar nooit ooit het ek die gevoel gehad dat ek ‘n silwer bekertjie gewen het nie.

‘Everyone has talent. What is rare is the courage to follow your talent through the door of your potential and to trust that it will lead you to the light.’ -Jannie Putter

Toe die SANAA (South African National Archery Association) ‘n paar jaar gelede besluit het om die sport ernstig te promoveer en die boodskap uitstuur ‘Do you have what it take?‘, het ek besluit: Hier is my kans om te sien wat in my steek… Marina het op provinsiale vlak gimnastiek gedoen en het op daardie stadium drie ure per dag geoefen. Ek het slegs naweke geoefen om my provinsiale kleure te verwerf. Ek het vir myself gesê as ek dan my oefentye verhoog na een uur per dag, dan kan ek dalk verbeter tot Nasionale vlak. En ek het. Ek is gekies vir die heel eerste Squad groep vir boogskiet. Ek het ‘n brons medalje op die SA kampioenskappe gekry, maar dit was steeds nie my bekertjie nie.

Elke mens het genetiese foutjies en my familie is vrot van outo-immuunsiektes. Diabetes, celiac disease, reumatoïede artritis, fibromialgie, Raynaud-sindroom en Sjogren-sindroom is van die goggas wat my sussies se lewens baie, baie moelik maak. Stres trigger en vererger enige outo-immuun verwante siekte. By my manifesteer die gemors as kosallergieë. Sommige goed soos piesangs laat my jeuk en swel, terwyl die meeste erge migraine veroorsaak. Dit het begin terwyl ek gewerk het vir my provinsiale kleure. Terwyl ek op die squad was het dit so erg geraak dat ek amper niks kon eet sonder om siek te word nie. Ek het erg gewig verloor en die kombinasie van wanvoeding en gewigsverlies as gevolg daarvan het my aspirasies kortgeknip.

Dit het verbeter met onthouding van die kos wat my siek maak. Dit was ‘n langsame proses om gewig op te tel en weer sterk te word. Ek het weer begin oefen en die dag waarop ek weer my eerste kompetisie sou skiet het ek die oggend in Pretoria ‘n telefoonoproep gekry wat my lewe onherroepelik verander het. Ons huis het afgebrand en ons was nie verseker nie… Toe weerlig ons ‘n tweede maal op die grond plat slaan het ek ook my boog en skiettoerusting verloor.

Ons het maar weer met genade van Bo opgestaan en aangegaan met ons lewens. Maklik is dit nie, en dit sal nooit wees nie, maar tyd maak rowe en ons probeer hard om dit nie af te krap om weer te bloei nie. Ons kyk vorentoe, na waar Lig is.

Drome bly drome solank jy niks daaraan doen nie. Wanneer mens egter werk aan ‘n droom, verander dit in ‘n doelwit en dan eers kan jy iets bereik. Ons het na ons trauma van aardse goed verloor besluit ons gaan nie ophou lewe nie. Boogskiettoerusting is vrek duur en ons het maar so stuk-stuk aangekoop oor ‘n paar jaar. My doelwit was om hierdie jaar se Nasionale kampioenskappe weer te begin kompeteer. En ek het, baie opofferinge, beplanning en voorbereiding later.

Dit gaan goed met my gesondheid, ek het weer ‘n aanvaarbare gewig en verlede jaar Augustus het ek my plan inwerking gestel. Ek het begin draf om fiks te raak. Ons skool het ‘n gala swembad en dit was die aangewese ding vir my skouers, arms en vir kardio, want my voete het laat weet of ek dan vergeet het hulle wil nie draf nie. En eers toe het ek begin skiet en geleidelik my boog se ponde opgestel tot waar ek dit wou hê. Slegs weke voor die toernooi het ek eers al die toerusting gehad wat ek nodig gehad het om te kompeteer. Ek kort nog baie dingetjies, maar ek kan kompeteer en dis die belangrikste.

‘In the power of the tongue is life and death, and whoever indulge in it shall live by the fruit of it.’ -Proverbs 18:22

Uiteindelik kon ek ook regkry om ‘n sekere negatiewe persoon uit my kop te kry wat veronderstel was om my te help terwyl ek op die squad was. Sy woorde maal nie meer in my kop nie. Dit was die een ding wat ek in my geestelike voorbereiding nie kon regkry nie.

‘The will to win means nothing if you haven’t the will to prepare’ – Juma Ikangaa

Boogskietkompetisies word slegs onderbreek vir uiterste weersomstandighede soos weerlig en daarom is dit belangrik om in enige weerstoestand te oefen. Wanneer dit reën trek jy maar ‘n reënjassie aan. Wanneer die wind waai, dan waai jy maar saam. Wanneer dit perfekte toestande is, juig jy. Dissipline is vir enige sportman essensieel, meer nog vir individuele sporte waar daar nie spanmaats is wat jou kan motiveer wanneer jy ‘n af dag het nie. Ek het nie ‘n afrigter nie, ek is op my eie. Ek moet myself motiveer. Ek moet self raas, ja, ek doen! Ek moet my eie foute identifiseer en regstel. Ek moet my eie skerwe optel as ek droog gemaak het. Ek oefen heeltemal alleen. Ag nee, ek jok. Ek het drie getroue ondersteuners elke oefensessie; Boesman Staffie, Pippie Jackie en Oreo Kat is elke keer by. Om mens-alleen te oefen is nie ideaal nie, maar dis hoe dit is en ek is trots op dit wat ek vermag het sover. Wanneer ek egter feesvier, deel ek dit met die wêreld…

Ek glo nie aan toeval nie. Ek glo aan ‘n uitgemete pad wat ons stap. My skool het aan die begin van die jaar vir ons ‘n spesiale spreker gekry om ons te motiveer vir die jaar, en die dinamiese Jannie Putter, sportsielkundige is op my pad gestuur. Hy het vir my sy boekie ‘Mentally tough‘ as geskenk gegee en dit het aangesluit by die kopsmokkel wat ek vir myself ontwikkel het toe ek op die squad was. Dankie Jannie vir jou aandeel in my ontwikkeling.

My doelwit om die jaar weer te begin skiet was toenemend nie meer net ‘n droom nie en ek het onmiddellik my plek op die lyn bespreek toe die besprekings open.

Alles, alles, alles het net vir my reg geloop. Maar ek was nie alleen nie, daar is altyd mense wat jou sterk maak. Dankie vir Roelf, my geliefde, my maat. Jy maak my ekstra sterk. Dankie vir jou liefde, aanvaarding van wie ek is, jou ondersteuning. Dit was lekker om jou vir die eerste keer saaam met my op die lyn te hê. Die gastehuis wat jy bespreek het sodat ek nie hoef te stres oor verkeer nie, die positiewe kommentaar, die finansiële ondersteuning, sommer net dankie vir alles. Dankie.

My kinders, dankie vir julle liefde en aanmoediging. Dankie vir my liewe Ma, wat nadat ek vir haar ‘n deel van my geestelike voorbereiding vertel het toe ek op die squad was, elke keer voor ‘n kompetisie vir my ietsie spesiaal op my kussing gelos het wanneer ek by haar gebly het voor ‘n kompetisie. Ma weet nie wat dit vir my beteken nie… baie, oneindig baie. Ma is deel van die motivering waarom ek skiet. Ma sou die hoogste sport kon bereik in baie dinge, maar Ma se pad was anders uitgemeet. Ma is die beste Ma ooit.

My doelwit vir die kompetisie self was om ten minste drie rekords te breek indien weersomstandighede dit sou toelaat, ongeag of ek wen met my tellings of nie. Ek het immers slegs beheer oor my eie telling en nie oor hoe my opponente skiet nie. Ek het hard gewerk daarvoor, en het geweet my oefentellings was goed genoeg. Twee dae voor die kompetisie het ek die enigste terugslag gehad. Ek het my boog op die spaarkamer se bed neergesit en vergeet om die deur toe te trek. Toe ek my liefste twee kleinkindertjies hoor jil in die spaarkamer, was my hart in my keel… en nie sonder rede nie… My pylrus (arrow rest) was windskeef gebuig. Amper ‘n jaar se voorbereiding in gedrang van een onbewaakte fout… My liewe man het oor die foon getroos en met sy rubberhamer en ‘n plank het ek dit bitterlik versigtig reguit geslaan. Dankie tog, al het dit beteken dat ek al my afstande van vooraf moes instel.

Die laaste dag van die toernooi was dit Eliminasies, dis die stresvolste kompetisie. Dis slegs 15 pyle en daar is nie ruimte vir foute nie. Jy het slegs een opponent en julle skiet voor die toeskouers. Twintig sekondes om jou pyl te skiet en dan twintig vir jou opponent. Die oggend toe die baan open vir opwarming, het hulle uit die bloute musiek gespeel… en ek het trane in my oë gekry… die liedjie was dit wat op die oomblik my gunsteling liedjie is! Toevallig? Nee. Ek het my oë toegemaak, my hande omhoog gegooi en gesê dankie. Toe die kompetisie begin het ek op die baan gestap met die wete dat die dag reeds aan my behoort.

Success means doing the best we can with what we have. Success is the doing, not the getting; in the trying, not the triumph. Success is a personal standard, reaching for the highest that is in us, becoming all that we can be.‘– Zig Ziglar

image

Wen is soms meer as net wen. Hierdie twee medaljes, die silwer beker en die ses SA en Afrika rekords agter my naam wat ek tydens die 66e SA Nasionale Boogskietkampioenskappe 2016 verower het is vir my meer as net wen. Dis my klein silwer bekertjie. Uiteindelik ervaar ek daardie gevoel waarna ek my hele lewe nog gesmag het. Ek het hard gewerk hiervoor. My gesin het saam met my opofferinge gemaak. Dankie daarvoor.

O ja, net as nagedagte…Ek werk nou vir die Victrix Ludorm beker…

Categories: Slakresies en ander sport, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: ,, | 6 Kommentaar

Verlange

Vandag is een van daardie dae wat ek sommer net in die bed wou bly. Kop onder die kombers sodat ek niemand kan sien en niemand my kan sien nie. Want ek verlang. Na iets.

Iets is om sorgeloos my boog te vat en sommer net vir ‘n paar uur aaneen te oefen. Ek mis dit so ek wil sommer tjank.

Nou hoekom doen jy dit  nie net nie, is wat my man sou vra? My boog hang immers teen die muur neffens my bed, sigbaar, raakbaar, hand-uitsteek-raakbaar. Het hy my al gevra. Maar ek kan nie.

Ek het selfs verlede week die agtergrond van my foon verander van iets wat vir meer as vyf jaar my met elke blik herinner het dat dit lekker is om in die goud te skiet.

Ek wil nie skiet nie want ek voel skuldig. Oor iets wat ek nog nie eers gedoen het nie. Vir my beteken skiet dat ek ook wil kompeteer. En daar is nie nou geld vir kompeteer nie. Een naweek se kompetisie- en petrolgeld kan ‘n halwe badkamer teel. ‘n Nuwe stel pyle wat ek kort kan my werkkamer se vloer wees. Ensovoorts ensovoorts.

En nou moet ek volgende naweek as beoordeelaar optree vir ‘n kompetisie. My hart skreeu van pyn as ek net dink aan vyftig ander mense wat ek moet dophou vir ‘n paar uur lank. Waaroor ek beheer het om te kan skiet. Gil van pyn. Onbeheersd.

Skuldig omdat ek soveel het om dankbaar oor te wees. Dat ek gespaar gebly het omdat ek ‘n kompetisie sou skiet en nie by die huis was toe my huis afgebrand het.

Maar ek verlang… en dit maak seer.

Categories: Slakresies en ander sport | 4 Kommentaar

Afgrond van verlatenheid

Om amper te versuip is nie ‘n grappie nie… en dit het met my gebeur.

Ek het ‘n sus wat sommer binne loopafstand van die see af bly. Lóópafstand vanaf my geliefde!  

‘n Paar jaar gelede moes ek vir besigheid Kaap toe, en gebruik toe sommer die geleentheid om ‘n kuier in te werk… bly om my geliefde see ‘n bietjie te sien. ‘Bring jou wetsuit saam,’ – laat weet sy my – ‘… vriend Deon sê jy moet saam met hom kom alikreuk uithaal.’ Opgewonde! Iets wat ek nog nooit gedoen het nie!

My gewigtebelt los ek by die huis, dis te swaar vir die vliegtuig… vriend Deon sal voorsien. Permitte word uitgeneem. Ons wil nou nie onwettig wees nie, nee.

Die belt wat Deon bring kan amper dubbeld om my lyf. Ek dink nie hy het besef hoe klein ek regtig is nie! Maar ons maak ‘n plan en vleg hom deur en deur sodat die los ente nêrens kan vashaak nie. Sy hoodie is bietjie groot vir my, maar beter as niks… Ek ken net my geliefde van sy warm noordkus water, nie hierdie ysbibberkouigheid  nie.

‘n Sakkie vir die alikreuk word om my lyf gehaak. ‘n Pylgeweer word in my hand gestop. Oeps.  Net vir ingeval ons ietsie kry wat gepyl kan word. Nee. Néé! Hierdie een hou ek verby, dis net te ver buite my gemaksone. Ons bespreek mooi waar ons gaan swem en alles wat ek mag en nie mag nie. Hier is mos nou kelp om aan te dink, en allerhande ander vissies met tande as die onskuldige Raggies wat ek ken.

Uiteindelik is ek gereed, opgevuur vir ‘n nuwe kouewater avontuur.  My asem snak toe ons in die water ingly. Ek vergeet skoon van die alikreuk, dis so anders as die wondermooi koraalriwwe, maar uniek en mooi op ‘n ander manier. Die visse gly moeiteloos deur die kelpoerwoud en die verskeidenheid anemone is al te fraai. Kort-kort kom Deon en glip ‘n alikreuk in my sakkie… sodat ek nou nie leë hande by die huis aankom nie, sien.

Na ‘n ruk begin die koue die asem uit my lyf uit wurg. Ek swem stadiger. Raak agter. En skielik moet ek swem om bo bly… nie meer die gemaklike snorkeldryf van vroeër nie. Erger en erger. Ek besef skielik dat ek in die moeilikheid is, my brein te koud om te probeer verstaan hoekom.  Skree vir Deon ek gaan uit, ek kry koud.  Wil nie dat hy sien hoe bekommerd ek regtig oor myself is nie. Hy wys dis reg, hy gaan nog ‘n bietjie bly.

My brein vertel vir my dis nie ver kant toe nie. Ek probeer hard om dit te glo wanneer die paniek my wil oorval, want ek voel hoe naby ek is aan té koud kry. Weet dat ek op my laaste reserwes is. En ek weet ek is alleen, Deon is ver anderkant die rotse sonder iemand wat hom kan terughou.

Uiteindelik bereik ek die vlak water maar wanneer ek wil staan val ek net eenvoudig om. Ek kruip op my knieë tot by die naaste rots waar ek my kan stut. Rus. Uitasem. Na wat voel soos ‘n eeu voel ek sterk genoeg om weer te probeer opstaan.  Toe ek orent beur verstaan ek skielik wat die probleem is… die alikreuke! Elke alikreuk weeg naastenby soveel soos een gewig wat ek om my lyf dra! En met ‘n paar ekstra gewigte het ek negatief boyant geraak en daarom moes ek swém om bo te bly instede van net dryf.

Daar is nog geen gevoel in my voete nie maar ek begin stadig die twee blokke huiswaarts strompel. Na die eerste blok begin die lewe terugkom en toe ek uiteindelik daar kom voel ek amper weer mens. Baie bewerig oor wat kon gebeur het, oor die afgrond se diepte wat ek gesien het.

Ek het nog nooit weer geleentheid gehad om alikreuke te gaan uithaal nie, die volgende keer toe ek daar besoek afgelê het was dit onmoontlik om my wetsuit saam te neem.

Een ding het ek wel besef – en dit is as jy respek vir jou geliefde verloor, alle geliefdes, dan wag daar vir jou ‘n afgrond van verlatenheid.

Categories: Slakresies en ander sport, Sommer maar net | 5 Kommentaar

Drome oor groen en goud

Elke mens het talente ontvang. Wat ons met daardie talente maak, bepaal op die ou einde wie en wat ons in die lewe is.

 Toe ek klein was wou almal my altyd oppiep omdat ek so klein is. Petiet-klein is. Ek het dit gehaat – tot ek later van tyd geleer het om dit tot my voordeel te gebruik, selfs soms te misbruik ook! Ek wou só graag ‘n vreeslike goeie atleet wees, maar my bene is net té kort om by te bly, net té kort om vêr genoeg te spring… Dit het my egter nie gekeer nie en dit was vir my lekker om net deel te neem.

 ‘n Jaar of wat na ons troue koop Roelf ‘n boog. Fassinerend, maar ai, ek kry die snaar nie geroer nie. Mettertyd word die boog toe weggepak toe hy nie meer plek het om te skiet nie. Op ‘n dag, na baie jare, praat ons oor ons toekomsdrome, wat ons nog wil doen, goeters wat vir ons belangrik is. Een van sý drome was om nog kompeterend boog te skiet. ‘Eendag is nóu’, sê ek vir hom, ‘Moenie wag tot jy te oud raak nie. As mens nie werk aan jou drome nie dan bly dit net drome.’. Sommer die volgende dag besoek hy ‘n boogskietwinkel om pyle te gaan koop. Blinkoog kom hy toe daar aan – nie net met nuwe pyle nie, maar sommer met ‘n splinternuwe boog. Vertel so ewe vir my dat daar nou baie dames-boë ook op die mark is, en dat ons vir my een moet kry… Ek wou nie sommer net ‘n spul geld uitgee nie, en skiet toe eers met ‘n geleende boog om te kyk of ek regtig daarvan gaan hou. En hóé hou ek toe nie daarvan nie! En ek is ook nie te klein nie, mens koop ‘n boog wat by jou eie lyf pas. Net vir jou.

 Ons begin 3-d skiet, en Roelf vaar van die begin af sommer goed en kry provinsiale kleure al in die eerste jaar. Ek daarenteen sukkel maar, kry so af en toe ‘n medalje, maar kom nooit op provinsiale vlak nie. Toe ons plaas toe trek besluit ek dis nou sommer tjol om altyd so tweede-beste te voel. As deel van my plan om my vorm te verbeter begin ek FITA teikenskiet.

 Op ‘n dag kom daar ‘n uitdaging vanaf die South African National Archery Association  ‘Do you have what it take?’ en ek besluit ‘Ja, ek HET … en ek WIL’ die uitdaging aanvaar om vir my nasionale kleure te werk en te kwalifiseer vir die nuwe National Squad program. Die gedissiplineerde, meer introverte vorm van boogskiet pas baie beter by my persoonlikheid en sommer gou word Roelf se stokperdjie en droom mý obsessie!

 Ek werk hard en dis ‘n hoë berg om te klim maar die teleurstelling is baie groot toe ek 5 punte kort op my gemiddeld om as ‘Candidate Squad’-lid aanvaar te word in Julie 2006. In sak en as. Net vir kort, want my harde werk is raakgesien en ek word op meriete gekies!

 Kwalifisering vir nasionale kleure was ‘n gemiddeld van 1305. Soveel kere het ek al meer as 1300 geskiet by die huis, soveel kere het ek met groot verwagtinge na ‘n toernooi vertrek. Maar keer na keer ontwyk die ou grote my, en ek werk maar weer… vol hoop vir die volgende keer.

Elke mens doen dinge met sy eie motiverings, ek het meer as een ding wat vir my ‘n motivering is om my beste te gee. Een van daardie motiverings is Ma. Onder spesiale mense is sy die spesiaalste. Ons kuiertjies alleen voor elke kompetisie wat ek in Pretoria of Johannesburg skiet spesiaalste-spesiaal, alleen geselsies wat nooit beskore was in ‘n gesin vol kinders nie. Soms sit ons sommer net bymekaar, sy besig met ‘n breiwerkie en ek vasgevang in my geestelike voorbereiding. Dood tevrede bymekaar. Ek vertel vir haar van die rol van laventel in my geestelike voorbereiding tydens oefening en kompetisie; en toe ek weer in my kamer kom staan daar ‘n POT vol vir my… ‘n Pakkie laventel badsout om in te bad voor nasionale kampioenskappe… ‘n Laventelroompie skelmpies weggesteek in my badkamertassie. Vir haar skiet ek oor al die geleenthede wat sy nooit gehad het nie, vir al haar intellektuele en sportiewe talente wat sy nie kon gebruik het nie, omdat sy vir ons gehad het. ‘n Man en ‘n huis vol kinders. Maar waar sy AL haar ander talente honderd persent uitgeleef het sodat sy IETS is, sonder intellektuele of sportiewe glorie; net ‘n wonderlike Ma en ouma vir haar vele kleinkinders, ‘n steunpilaar vir almal rondom haar. Nou nog selfs in die aftree oord waar ons verlede week haar sewe-en-sewentigste verjaardag gevier het.

 ‘n Ander motivering is ‘n spesiale sussie. Jonk gediagnoseer met diabetes en twee jaar jonger as ek. Dis al meer as 30 jaar vanaf diagnose, en haar organe se aftakelingsproses is aan’t versnel. Nou het sy ook rumatoïede artritis, met elke gewrig in haar liggaam ‘n punt van pyn. Die behandeling is toksies en maak haar soms sieker as die siektes saam, sy is op die laaste linie behandeling wat die mediese wetenskap haar kan bied. Net voor Kersfees 2006 kry sy binne die bestek van 2 dae 300 kortisoon inspuitings, darem onder ligte narkose. Drie honderd! Haar ledemate en lyf was oortrek met blou kolle. Dit was maar die eerste van baie kere, soos wat die jare aanstap gebeur dit meer en meer. Maar sy loop haar pad sonder dat sy ooit kla, sonder dat jy dit eers weet as jy haar nie ken nie.

 In ons familie word mens groot as jy 40 is, en my hart was baie seer toe ek Noek se partytjie mis. Maar ek was ‘n geleentheid gegun om ‘n ekstra probeerslag in te sit, en ek doen dit, ek skiet elke pyl vir haar – my eerste telling bo 1300 – en ek doen dit GOED, met ‘n telling van 1330! My trane was nie net van blydskap oor my punte nie, dit was ook van trane vir my sus en ek skryf vir haar ‘n gedig as verjaardag geskenk.

 Dit alles gee my moed en ek kwalifiseer ‘n paar weke later vir my nasionale kleure en vir National Squad. Net-net, maar ek máák dit! Ek is no. 5 op die ranglys, en mis my groen en goud – die eerste vier kry geleentheid om oorsee deel te neem. Die kwalifisering skuif September 2007 op na 1325, en ek moet van voor af werk… Kort daarna begin gesondheidsprobleme pla en moet ek drasties afskaal aan my oefenprogram.

 Dit neem ‘n paar jaar om weer mens te word en in die vroeë môre-ure van my heel eerste kompetisie daarna, op 06 November 2011, is daar ‘n bliksemstraal uit die hemel en brand al my drome tot as. Van my bronsmedalje met nasionale kampioenskappe en my nasionale lapelwapen is slegs ‘n lae resolusie digitale fototjie oor. Sonder versekering gaan dit ‘n paar jaar neem voor my sport weer my obsessie kan word, nou moet daar eers weer ‘n nuwe huis gebou word en die kinders moet geleerdheid kry en getroud kom. Gelukkig is dit ‘n sport sonder ‘n ouderdomsbeperking en weet ek dat ek met harde werk weer daar kan kom.

 Boogskiet self is nie een van my talente nie, maar my wil en deursettingsvermoë om nie op te gee nie, dalk ‘n groter faktor vir my sukses. Sommiges noem dit hardkoppigheid, noem dit nét wat jy wil. My boogskietpad is ‘n opdraende pad, ene wat ek nou kruip, maar met ‘n lied in my hart.

Die berg wat ek gedink het ek klim was toe net ‘n illusie, die gróót piek lê nog voor. Ek gáán by die piek uitkom, die piek waar die groen bokkie wei en die goue protea blom… al gaan dit dan as bejaarde wees in ‘n rolstoel wat Para Archery verteenwoordig. En my uitsig gaan so wyd en so ver wees dat my oë piepklein skrefies gaan trek en ek die wind gaan blameer vir die water wat daaruit stroom.

Vir Teunet – op jou 40e verjaardag, 12 Jan 2007

Ek kyk op, die teiken vaag voor my.

My hart klop-klop in my keel.

Ek span my boog…

voel my spiere werk.

 

My kop word leeg.

Die pyl verlaat die boog

wanneer ek vir ‘n splitsekond

my liggaam van asem weerhou.

 

Ek volg die vlug

en die dowwe slag bevestig

dat dit ‘n kolskoot is.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jy die mooiste hare het,

dat ek jou sproete begeer het toe ons kinders was.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jou lewe vir my ‘n inspirasie is,

dat ek altyd opkyk na jou.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat my soeke na die goud

‘n ode is aan jou wat sonder kla,

sonder verwyt, voluit lewe.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jy baie spesiaal is vir my.

Ek wou nog vir jou sê…

dat ek dit nou gesê het.

Categories: Gedigte, Slakresies en ander sport | 5 Kommentaar

Blog at WordPress.com.