Monthly Archives: September 2013

Spektrum (Lig van die wêreld 2)

In Lig van die wêreld skryf ek wat ek dink God is.

…GOD IS LIG en Alomteenwoordig in alles en almal as die verskillende vorme van ENERGIE wat in ons en deur ons oorgedra word. Ons is na Sy beeld geskape en ons sal ewig voortleef in Sy teenwoordigheid, in die LIG as ons die keuse maak om Hom te aanvaar. Doen jy dit nie, sal jy voortleef in die teenoorgestelde. Donkerte…

Let wel dat ek hierdie Lig met ‘n hoofletter spel, dis nie dieselfde as lig soos wat ons met ons oë ervaar nie.  God wat Lig is, is die hoof Energie waaruit en waardeur alles ontstaan, insluitende lig soos wat ons waarneem.

Sigbare lig lyk wit, maar dit beteken dit nie dat dit wit is nie. Lig soos ons dit ken bestaan uit die kleure van die reënboog. Die spektrum. Rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo en violet. Alle ander kleure is kombinasies van hierdie kleure. Elkeen van die kleure het sy eie unieke frekwensie. Wanneer ‘n mens diepseeduik doen, is rooi die eerste kleur wat nie diep deur die water kan dring nie en alles lyk dan blou. Om seker te maak dat jy kan waarneem watter kleur ‘n organisme is, neem jy met elke duik ‘n flits saam, selfs in die dag.

Aan beide kante van die spektrum is daar lig wat ons nie kan sien nie. Infrarooi aan die een kant en Ultraviolet aan die ander kant. Ons kan dit nie waarneem nie, maar dis nie te sê dat dit nie bestaan nie. Sekere organismes, byvoorbeeld blomme, bestaan ook uit kleure wat nie met die oog waargeneem kan word nie maar insekte kan wel die verskil in kleur waarneem en daar is mense wat ure spandeer om dit op ander maniere fotografies vas te vang.

Dispersie van die spektrum vind plaas wanneer wit lig refrakteer (breek) deur ‘n deurskynende voorwerp teen nét die regte hoek tref en dan opbreek in ‘n reënboog. Rooi word die minste gebreek en violet die meeste. Elke kleur met sy eie golflengte en frekwensie.

Lieflike spektrum van lig na 'n lekker buitjie reen

Lieflike spektrum van lig na ‘n lekker buitjie reen

Wanneer daar Sirrus wolke in die lug is, ontstaan daar soms ‘n baie unieke Sonkring. In die wolke is yskristalle en die lig word daardeur gerefrakteer en dan ook gereflekteer sodat jy die spektrumsirkel kan waarneem. Dieselfde verskynsel kom ook voor om die Maan, maar omdat dit donker is kan ons net nie die kleurspektrum duidelik waarneem nie.

Sonkring

Sonkring

‘n Voorwerp kan slegs waargeneem word deur ons oë indien dit die lig daarop inval kan weerkaats. In ons oë is fotoreseptors wat die ligenergie omskakel na elektriese energie wat as impulse deur die senuweeselle na die brein gaan wat dit dan interpreteer. Energie. Een vorm na ‘n ander vorm.

‘n Groen voorwerp weerkaats byvoorbeeld slegs die groen gedeelte van die spektrum wat daarop inval, die ander ses kleure word geabsorbeer.  Die waargeneemde kleur is dus slegs ‘n minimale gedeelte van dít wat geabsorbeer word.  Wit voorwerpe weerkaats alle lig terwyl  swart voorwerpe alle kleur lig absorbeer en niks reflekteer nie.

Dit bring my terug by Lig. En Donkerte. Weerkaatsing en Absorbering. Beteken dit dan dat jy ‘n kleur van die groter kosmiese spektrum is indien jy slegs bietjie van die Lig weerkaats en die meeste absorbeer?

Uit die eienskappe van gewone lig weet ons dat ons nie in die donker kan sien nie, want daar is geen lig wat op ‘n voorwerp val wat gereflekteer kan word nie. Dis nie te sê die voorwerp is nie daar nie, die kwessie is net dat ons dit nie kan waarneem nie.

indien jy glad nie die Lig weerkaats nie, beteken dit ook nie dat jy nie bestaan of ophou bestaan nie. Dit beteken alle Lig word geabsorbeer. ‘n Swart Gat waarin Energie verdwyn.

'n Helder sonskyndag en hierdie blertsie het verskyn

‘n Helder sonskyndag en hierdie blertsie het verskyn

Advertisements
Categories: Slakgedagtes | 6 Kommentaar

Erfenisdag

In my erfenis is daar meer as net pap en braaivleis. As kinders het ons byna nooit gebraai nie, dit is ‘n meer moderne neiging dink ek. Dis ook lekker, ja, maar gee my eerder ‘n bord kos uit my kindertyd.

Sag gestoofde beesvleis met ‘n ou vetjie, aartappels deurtrek met die sous. Boontjies met bietjie room ingeroer, Ouma-patats karamelbruin gebraai, rys vir die ou sousie. Slaai bestaan slegs uit tamaties vars uit die tuin, opgesny saam met uie met net sout en witpeper om dit te geur. Die tamatiesousie wat oorbly in die bak behoort slegs aan Pa, maar as die bak by jou uitkom dan skep jy ongesiens ‘n lepeltjie vol en sluk dit vinnig af… en dink hy het dit nie gesien nie… Asynpoeding of sago met tuisgemaakte vla vir nagereg, later jare merendeels malvapoeding.

My erfenis is pap en kaiings of fyngestampte biltong. Hertzoggies, Ystervarkies en Handtertjies tot boordensvol gevul met tuisgemaakte appelkooskonfyt. Melkkos en melktert mildelik gekaneel. Wildsvleispasteitjies. Warm beskuit wat pas uit die oond kom wanneer ons van die skool af kom, en as jy dit eet vind jy ‘n heerlike frikkadel as verrassing aan die binnekant. Boontjiesop. Murgbene. Tuisgebakte brood. Emmers vol pannekoekdeeg vir ‘’n skool- of kerkfunksie. Lady’s fingers piesankies. Pers Adamsvye. Geelperskes. Tuisgemaakte droë perskes. Sagte soetsuur kweperlekkers. Gebakte kwepers. Vetkoek en Javels (spelling?). Roosterkoeke op die koolstoof. Appelkooskonfytkoekies vir ontbyt. Rooi-ivoor bessies, kruisbessies en maroelas.Vet uitgerysde witbeskuit. Tuis ingelegde perskes met rooi en groen jellie en vla. Oom Manie se suikersoet waatlemoene soveel soos ons wil eet. Moerbeie wat pers strepe jou hele gesig vol lê. Gebraaide mielies in die tabak droogoond. Boerseep wat Pa self gemaak het in die groot seeppot na ‘n varkslagtery.

Ek moes altyd teemaak met ons slagtery, want ek het sulke knoppies op my hande uitgeslaan van die varkvet. Word nou nog siek as ek vark eet. En al bly ék op ‘n plaas met wildsbokke, slag ek nié! Ek maak hoogstens die pakkies vleis op as my man en kinders klaar die vleis bewerk het. Sou jy dit nou kon oorvertel! Die reuk van warm vleis en ingewande gooi wilde draai uit my maag tot op die grond. My pa het dit altyd goed geag om ons kleintjies te roep as hy die vark oopsny, sodat ons kan sien waar sit al die organe. Maar die reuk het my uitgegross, en my nuuskierigheid kon nie die draaie uit my maag keer nie. My kinders het weer géén probleem daarmee nie, en so kry hulle pa ‘n beurt om die opvoedkunde ding te doen. En verwerk hy alleen ‘n grote koedoe of wildebees sonder om één keer ‘n lelike aanmerking te laat val oor baie werk.

Erfenis se onthou sluit in ‘n kuier in Magalieskraal (Mamogaleskraal) se dorre rooigrond en natuurlik die neefs se simpel getergery die hele dag… Pa se twee broers is met twee susters getroud en woon op plase langs mekaar. Die huise is binne stapafstand van mekaar, en ons gaan eerste aan by Oom Bertus en tant Cato. Eerste hulle, want hy is die oudste en dis meer respekvol. Wanneer ons daar kom groet die tannie met: “Kom se tatta vir Tool” en ons giggel vir die verkeerdom groetery. Ons eet Ma se lekker koekies en hol in die rooi stof rond. Oom Bêr (soos die tannie hom noem) skil vye uit sy tuin wat jy moet raakvat anders glip dit uit jou hand.

Dan stap ons oor na oom Lood en Kleintan. Daar eet ons gou ‘’n toebroodjie, ook van tuisgebakte brood, en ons ver-eet ons want dit proe anders as dié wat Ma elke dag bak. Hare is witter en het ‘’n surerige smaak. Ons eet van oom Lood se suikersoet laat nartjies aan die skadukant van die boom en kry ‘’n mandjie waterpere om huis toe te neem. Pere is die enigste vrugte wat nie by ons wou dra nie.

Sondagmiddag stap ons oor vir ‘’n kuiertjie by die oujongbroers om die draai van. Daar is nie kinders nie en ons is maar te dankbaar om buite te gaan speel. Die somberheid wil jou aan die skene vang in daardie huis. Tant Heilie, kromgetrek en diepbeplooid in ‘’n lang swart rok sit sonder lag langs die koolstoof waar die moerkoffie altyd staan en prut. Haar grys haartjies se bollatjie rol los en jy verwonder jou aan die dun vlegseltjie wat amper by haar voete hang. Jy sê altyd nee as sy vra of jy ook wil koffie hê, want die koffiesakkie lyk asof dit in daardie pot is van almelee af aan.

Maar nooit sê ons nee vir kondensmelktee en Marie koekies by tant Elsie op die plot tussen ons en die oujongbroers nie. In ons huis was regte melk en tuisgemaakte koekies en winkelgoed was vir ons spesiaal.

So onthou elkeen ietsie anders wat ‘’n erfenis is. Ons is immers individue en ervaar dinge op ‘’n eie manier.

Helaas. ‘’n Deel van my erfenis sal slegs voortbestaan in my geheue as herinneringe. Vir my eie kinders kan ek ‘’n erfenis skep met ons eie gewoontetjies en lekker kos. En so leef ons voort, waar herinneringe in ons sal bly en die toekoms voortdurend vernuwe word soos wat ons blootgestel word aan ander tipes kos en ander mense om die gaatjies van onthou weer vol te maak.

Categories: Familie, Lankal terug, Omgee, So doen Slakke dit | 2 Kommentaar

Plaasliefde

My man bring nooit vir my blomme nie. En ek kla nie daaroor nie, want hy plavei die pad na my hart met vere en ander dingetjies uit die veld.

Ons het ‘n Gevlekte Ooruil wat elke aand op die skoorsteen sit en ‘hoe’, met vere so sag soos satyn om my siel te kom streel.

Was dit nie vir die honde se blaf en ‘n skerp pen wat verloor word in die haas om weg te kom nie, sou mens nie eers weet van die ystervarke wat suutjies die kombuisafval kom verwyder nie.

Dankie vir my presentjies. Ek dink aan jou wanneer ek dit sien en jy vêr weg is van my.

Categories: Plaaslewe, Slakkeding, So doen Slakke dit | Lewer kommentaar

Lig van die wêreld.

Ek het tans so min tyd vir blog maar ek MOET net vandag iets uit my uit geskryf kry waaroor ek nou al wie weet hoe lank maal en maal.

Ek is mos ‘n wetenskapjuffer en my vakgebied lê baie na aan my hart. In my klas is daar sekere goed wat ek so baie herhaal, party kinders papegaai dit al hard wanneer ek dit begin sê.  “Onthou! Energie kan nie geskep of vernietig word nie”.  Die konsep word gepreek in my Fisiese- en Lewenswetenskappe klasse. Lig. Kineties. Hitte. Elektries. E=mc2. Fotosintese. Selrespirasie. Trofiese (energie) vlakke by ekosisteme.

Energie.  Alle dinge het ten alle tye energie. Alles.  Dis net nie altyd in dieselfde vorm nie. Potensiëel. Kineties (beweging). Elektries. Chemies. Lig. Hitte. Ensovoorts. Ensovoorts. En energie word van een vorm oorgedra na ‘n ander, nooit geskep nie, nooit vernietig nie.

Vir ‘n baie lang tyd loop ek nou al met die gedagte van God en Energie in my kop. Dit maal en maal en maal. Want God is in alles. En energie is in alles.

Maar dit nie al nie. Daar is ook nog lig. Lig. Sonder lig kan ek en jy nie bestaan nie. Want lig is die stralingsenergie wat nodig is vir die fotosintese proses. Fotosintese en selrespirasie, die twee teenoorgestelde prosesse wat onontbeerlik nodig is vir die voorbestaan van enige lewe op aarde. Lig en Donker.

Baie kinders het al vir my gevra of ek ‘n wetenskaplike is. Dan sê ek ja. Dan sê hulle vir my maar wetenskaplikes glo nie in God nie. Dan sê ek vir hulle ek doen. Juis omdat ek ‘n wetenskaplike is.

Kom juffrou verduidelik. Die atmosfeer (laag gasse rondom die aarde) bevat maar ongeveer 20% suurstof (O2). Julle almal weet ons het dit nodig om asem te haal. Maar wat DOEN ons presies met daardie suurstof, en wat sou gebeur indien dit opraak? En sê nou dit raak te veel?

Dis moeilik om ‘n begin te kies, maar kom ek probeer. Die proses begin by die vorming van suurstof. Plante gebruik koolstofdioksied (CO2) en water (H2O) om glukose en suurstof te vorm. Maar… die proses kan slegs plaasvind in die teenwoordigheid van lig en chlorofil. Chlorofil is die groen pigment (kleurstof) wat in plante voorkom. Die plante het klein huidmondjies (gaatjies) in die blare waar die koolstofdioksied die plant binnekom en deur die diffusie proses (iets beweeg van hoë konsentrasie na lae konsentrasie tot dit ewewig bereid) na die selle beweeg.

 Lig. Energie. Die beginpunt van die oordragsproses van energie.

CO2 + H2O  →chlorofil en ligenergie→ glukose + O2

Sooo…“Waar is die energie dan heen?”  is jou vraag. Eenvoudig. Die ligenergie is nou omgeskakel na chemiese energie in die glukose en word gestoor as stysel.  Die suurstof het ook chemiese energie en word vrygestel terug aan die atmosfeer deur die huidmondjies.

In die afwesigheid van lig (dus donker) vind selrespirasie plaas. Die proses is presies die teenoorgestelde van fotosintese.

Glukose + O2 → CO2 + H2O  + energie

Die koolstofdioksied en water diffundeer deur die selle en word vrygestel aan die atmosfeer, en die energie word deur die plant self gebruik vir groei, voortplanting en ander metaboliese prosesse. Oorgedra in ander vorme.

Hoe kom die energie dan by ons? Ek en jy eet die plant wat maar slegs ‘n klein gedeelte van die oorspronklike hoeveelheid energie as stysel gestoor het. Die energie word nou oorgedra aan ons, en gestoor steeds as chemiese energie.

In ons selle vind ook selrespirasie plaas, deurentyd. Die suurstof word ingeasem en diffundeer deur die alveoli (longblasies) na die bloed in die kapillêre buisies wat naderhand are vorm wat na die hart beweeg en dan word die bloed na die res van die liggaam gepomp word deur die slagare. Die slagare vertak in kapillêre buisies en die suurstof diffundeer na die liggaamselle. Nou is daar energie en suurstof beskikbaar in die selle.

Glukose + O2 → CO2 + H2O  + energie

Van die energie word omgeskakel na kinetiese energie (beweging), van dit word omgeskakel na elektriese energie (ja! boodskappe na en van jou brein is elektriese impulse wat deur die senuweeselle oorgedra word) en so meer.  Van dit word gestoor as chemiese energie. Die koolsuurgas diffundeer uit die selle na die bloed, beland weer in die longe en word uitgeasem.

Ek dink jy begin nou ‘n prentjie vorm van die oorspronklike energie wat oorgedra word.  Lig. Lig is ‘n moeilike konsep, want ons dink byvoorbeeld aan die son as ‘n bron van lig. Dis son is nie die bron nie. God is. Die lig vanaf die son is stralingsenergie wat vrygestel word as gevolg van die geweldige waterstof ontploffings. Die energie oorspronklik kom van God. Lig is wat God eerste geskep het, want daar was net donkerte.

Maar wat is ons nou eintlik? Wat het eerste gekom die hoender of die eier? Hoe kan die plantjie groei as daar nie ‘n saadjie was nie? Wat is die plante en die diere nou eintlik? Stof… die elemente wat God geskape het. Waterstof, koolstof, suurstof en al die ander elemente op die periodieke tabel. Dit verbind met mekaar en vorm meer komplekse verbindings.  Die stowwe bevat chemiese energie. Dink maar aan die geweldige energie vrystelling wanneer atome gesplit word (atoombom!). Energie. God is in alles. En Hy het alles geskape. Kaboem. ‘n Plant wat Sy stof bevat met die vermoë om te kan fotosinteer. ‘n Dier om die plant te eet. ‘n Fungi om die plant weer af te breek na die oorspronklike stowwe vir hersiklering.

En ons? Daar is iets spesiaal aan ons. God het ons na Sy Beeld geskape, sy asem in ons geblaas. Hy het ‘n deel van Sy Energie in die stof geblaas, ons die vermoë gegee om met hierdie siel keuses te maak. Ons het ‘n keuse om die Lig te aanvaar. God is die Lig van die wêreld. Hy vertel dit vir ons in die Bybel, gaan lees maar 1 Joh. 1:1-5. Ons is verligte voorwerpe, die Lig van God weerkaats slegs van ons af indien ons die Lig aanvaar. Gaan lees Heb. 6: 4-6. Beteken dit dan dat diere en plante nie siele het nie? Ek weet nie. Want ek is te nietig om alles te weet.

Ek weet dat Hy ten alle tye bewus is van wat aangaan en wat ons dink. Dat bid ‘n manier is om met Hom te kommunikeer. Ek glo dat Hy sy Lig openbaar in alles wat Hy geskape het. Dat ons almal vry is in God.

En hier kom Amos van der Merwe en hy skryf SHIMMERstate. Dis vir my die hoogtepunt van alles wat ek nog ooit gelees het, en ek gaan dit weer en weer lees. Want hy beskryf God en Energie en Lig soos wat my eie kop dit bymekaar gesit het. Dit is ‘n ABSOLUTE leeservaring. ‘n MOET! Ek sou graag ‘n deeltjie wou aanhaal, maar dis onmoontlik, want dan gaan ek die hele boek moet weergee. Gaan lees dit. Vandag. Maak met sy idees wat jy wil. Maak met my idees wat jy wil.

Maar vandag sê ek hardop, nee, ek skree dit vir die wêreld: GOD IS LIG en Alomteenwoordig in alles en almal as die verskillende vorme van ENERGIE wat in ons en deur ons oorgedra word. Ons is na Sy beeld geskape en ons sal ewig voortleef in Sy teenwoordigheid, in die LIG as ons die keuse maak om Hom te aanvaar. Doen jy dit nie, sal jy voortleef in die teenoorgestelde. Donkerte.

God is Lig. Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.

 

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: ,, | 6 Kommentaar

Blog at WordPress.com.