Monthly Archives: Maart 2013

Die groot blou draak

Die meeste kinders by die skool dink ek is ‘n groot blou draak.

Hoekom? Want jy is in my klas vir akademie. Jy moet eerlik wees. Jy moet werk, en as jy dit nie doen nie, word jy gestraf. Ek bel sommer maklik jou ma. Punte word nie weggegee nie, jy werk daarvoor.

Hoe kry party dit dan reg om verby die growwe skubbe te sien? Hoekom bang hulle nie die sogenaamde rookbolle wat die hele klas vol hang nie?

Hoekom kom breek die afvlerkies dan hulle damwalle in my skoot?

Is dit omdat ek aan doodeerlik glo? Is dit omdat ek hulle teen my vasdruk as die seunslyfies ruk van snik? Of is dit sommer maar net?

Wanneer jy onderwys studeer word jy geleer van die verskillende rolle wat jy moet vertolk; maar daar is geen handboek wat jou kan voorberei op die werklikheid van ‘n klaskamer nie.

Elke jaar is anders. Elke klas is anders. Elke kind is anders.

As ‘n kind vir my vra dat ek met haar ma moet gaan praat, dan doen ek dit. Ek gaan drink tee in die Wimpy en gaan hoor die ander kant. Soms is dit net vir die kinders te moeilik om met die ouers te praat, soms kort hulle net iemand om die ys te breek.

Ek ken egter my beperkinge en bid
dat ek die verskil sal ken tussen betrokke wees sonder om ooit in te meng.

Sommige onderwysers raak nooit betrokke by die kinders nie. Ek kan egter nie ‘n kind wat sy hart kom uitstort vir die wolwe gooi nie en ek kan net bid dat my Vader die wysheid in my hart sal lê om elke situasie reg te hanteer.

Die groot blou draak lyk maar net van vêr af of sy skurfsiekte het en rookbolle blaas. As jy bereid is om nader te kom sal jy sien dat daar sagte wolletjies aan die binnekant van haar hande is en ‘n groot sagte hart.

Advertisements
Categories: Skoolhou | 11 Kommentaar

‘n Nuwe fase in my lewe

Ek gaan jok as ek sê dat ek nét uitsien na die nuwe fase in my lewe.

Ek sien op teen:

* handdoeke en klere op die vloer
* TV. Ek is geluidsensitief en na ‘n dag van skoolkinders se rumoer is ek op-my-knieë-dankbaar vir die stilte op die plaas.
* die feit dat ek in ‘n mate my vryheid verloor

Ek sien uit daarna:

* om deel te wees van my kleinkind se lewe
* om my eie kind weer by my te hê
* om ‘n goeie skoonma te wees wat nie gaan inmeng nie
* om nie elke dag self kos te maak nie maar ‘n beurt te kry
* om nie altyd alleen te wees nie, alhoewel ek meeste van die tyd daarvan hou
* om nie alleen die verantwoordelikheid van die plaas op my skouers te hê nie
* om te weet ek hoef nie weer alleen te sukkel met iets wat breek en ek is te poepswak om dit reg te maak nie
* om iemand te hê wat my wakker maak as ek verslaap
* om my familie van my nek af te hê oor my alleenblyery 😉
* om te weet my liefste man gaan nou minder bekommernisse hê met nog asems in die huis en ‘n man op die plaas

Ek weet die kinders het ook hulle eie dingetjies waarvoor hulle uit- en op sien, dalk baie meer as myne, maar ek weet ons sal al ons verskilletjies in liefde kan uitwerk en uitpraat.

Welkom op die plaas kinders, dis nou julle huis ook. Dis vir ons ‘n voorreg dat julle kom. Lief julle baie xxx

Naskrif – die kinders en ons het almal fisies gehelp bou aan hierdie huis en dis net reg as ons almal saam hier kan bly 🙂

Categories: My klein slakkies | 9 Kommentaar

Vreemde ervaring

Op dieselfde dag wat Toorts geskryf het oor bid, het ek ‘n vreemde ervaring gehad.

In ons familie deel ons elke dag ons vreugdes en smarte met mekaar. Ons bid vir ons familie, ons vriende en sommer net kennisse. Ek of een van die kinders in my Omgeeklas open elke dag met Skriflesing en gebed. Dan bid ek sommer daar ook weer vir wie dit nodig het op daardie dag.

Dit gebeur egter baie keer wanneer ek spesiaal vir ‘n ernstige geval wil bid, dat die klok daardie dag vroeër lui of iets anders wat die satan probeer om te verhoed dat ons bid, want hoe van ons bid, hoe kragtiger raak die gebed. Dan bid ek maar alleen. Verlede week was my sus se dogter se vorige vriend baie, baie ernstig siek in die hospitaal in intensiewe sorg en ek wou spesiaal dat my klas ook help bid. Daai listige ding was weer heeltemal te aktief en so gebeur dit toe dat ons net Bybel lees en nie nog by bid ook uitkom nie.

Ek werk baie hard op hierdie stadium, te hard, en was ook ‘n bietjie olik vir ‘n lang tyd. Ek het pootuit, lewens- en sielsmoeg by die huis gekom en vir ‘n rukkie op die bed gaan lê. My kop het skaars die kussing geraak toe ek in ‘n baie diep slaaap verval.

Die ervaring was egter by die wakker word. Ek het wakker geword met die intense ervaring dat daar iemand in my kop is en dat ons saam bid, maar ek weet nie waaroor of vir wie nie. Dit was bid op ‘n ander vlak as woorde. Dit was in oomblikke wat ek die ervaring bewus was, ek was wakker en bewus van my omgewing, maar terselfterdyd bewus van die ‘bid’ en die ‘persoon’ wat swaar is in my kop. Toe skielik was die ‘persoon’ weg uit my kop en was ek ‘lig’ en nugter wakker.

Ek glo dat dit ‘n engel was wat daardie dag kom help het om my gebed te versterk. Was dit vir die siek kind? Ek weet nie. Maar dat ek dit ervaar het, is waar. Ons Vader weet wat ons dit wil bid voordat ons dit nog sê.  Geen mooi woorde, geen lang gebed is nodig nie, Hy ken ons sondes, Hy ken die versugting van ons hart.

 

 

 

 

Categories: Slakgedagtes | 2 Kommentaar

Blog at WordPress.com.