So doen Slakke dit

Oorwinning

‘Success is to be measured not so much by the position that one has reached in life as by the obstacles which he has overcome.’ – Booker T Washington

Ek glo dat elke mens se groei of ondergang bepaal word deur hóé jy ‘n bepaalde struikelblok hanteer. Sommige klippe op jou pad is rivierklippies wat net effense ongemak veroorsaak, terwyl ander massiewe rotse is met skerp punte wat bloed vergiet. Soms verg dit buk en afkyk om te vind dat die klippe eintlik diamantgruis is, al het dit net netnou jou toon nerfaf gestamp. Elke mens se pad het afdraai plekkies wat jy noodgedwonge moet vat. Ongelukkig gebeur dit met sommige mense dat hulle nooit weer by die grootpad uitkom nie want hulle ompad word ‘n vêr pad word waar wilde woeste monsters skuil. Parykeer is mens gelukkig en is daar iemand om jou te abba, maar soms is daar iemand wat jou in die dorings stamp. Ek glo aan ‘n Skepper, Grootste Koning, Opperwese wat jou gekies het, wat jou pad vir jou uitgemeet het, wat bepaalde struikelblokke plaas om te sien of jý Hóm kies om jou te abba om uiteindelik die plek van oorwinning te behaal.

My eie pad loop ek soos hy kom, soms deur modder, soms deur wind. Soms stap ek met ‘n blom in my hare, sommer net ‘n kind.

‘You are never old till the day that regret replace your dreams.’ -Anonymous

Om groot te geword het in ‘n plattelandse omgewing was vir my ‘n voorreg, maar nie sonder beperkinge nie. Ons is groot gemaak dat sport iets is waaraan jy deelneem vir die genot daarvan en nie noodwendig prestasie nie. Seker maar omdat ons nie presteer het nie… In ons klein plaasskooltjie was daar beperkte atletiekgeleenthede (100 m, verspring en hoogspring) en wintersport was rugby en netbal. Twee spannetjies vir elk, die lede was almal in die hele skool wat wou deelneem. G’n niks van o/11 of wat ookal nie, almal tussen standerd 3 en 5 wat wou, was in die span. Ag, maar hoe het ek tog nie gedroom van ‘n ou silwer bekertjie nie… daar was mos nie daardie tyd medaljes nie. Net een keer, net één ou bekertjie… Tweede of derde in die verspring en hoogspring het ek telkens behaal met my kort maer beentjies, selfs tot in die hoërskool, maar eerste, nooit.

My niggie in Pretoria het provinsiale kleure in atletiek en gimnastiek gehad en dit het verdere drome wakker gemaak. Wanneer hulle kom kuier het, het sy vir ons wawiele en allerhande dinge gewys en ek en sus Magda het groot gegaan vir weke en weke daarna. Dit was ook in die tyd van die kleine Nadia Comaneci wat die Olimiese Spele oorheers het en ons het ons eie apparate ontwerp en spronge gedoen met ‘n yster tafel as bok. Jy het jouself net één keer potblou teen daai yster tafel gestamp, die volgende keer het jy hòòg bo-oor gevlieg. Ek dink dat sou ons die geleentheid gehad het, beide van ons sou kon presteer het in gimnastiek.

My kop het egter geweet dat my klein liggaam nie kan kers vashou met groot sterkes om te presteer in sport wat spoed verg nie. My hart daarenteen wou my maar net nie laat los nie en ek het toe my kinders hanteerbaar was, begin draf. My spoeddroom het nou ‘n 21km droom geword. Wat ‘n ervaring was dit nie toe ek my eerste 10km padwedloop doen en ek ‘n medalje kry oor ek binne die tyd klaar maak… maar dit was nog nie ‘n silwer bekertjie nie… dit was nog nie éérste nie! My genetiese bunion-skewe voete was egter nie opgewasse teen die voortdurende impak nie en daar gaan die 21km droom.

As klein seuntjie het Roelf sy eie boog gemaak en hy dra vandag nog ‘n letsel op sy bors waar sy nefie hom met ‘n pyl getref het tydens Cowboys en Indians speletjies. Sy ouboet het hom en sy boog op ‘n foto vasgelê en verlede jaar het ek my vriend Lourens gevra om hierdie beeld vir my te omskep in ‘n skildery.

image

image

Voor ons troue het hy ‘n Compound-boog gekoop en sommer net rondgespeel daarmee op ons plot en tarentale geskiet op sy ma se plaas. Hy is ‘n baie goeie skut en wou graag aan ‘n klub behoort en aan kompetisies deelneem, maar daardie dae het die klubs net Recurve-boë toegelaat en ‘n paar stywelip tannies het hom verbied om met sy Compound-boog naby hulle teikens te kom. Later het die boog maar net stof vergader in ‘n kas en toe hy op ‘n dag die opmerking maak dat hy nog eendag graag wil kompetisies skiet, het ek hom gevra hoekom doen hy dit dan nie. Sommer daardie selfde naweek nog het hy ‘n boogwinkel opgespoor om pyle te koop en blinkoog sommer met ‘n nuwe boog by die huis aangekom. En ook vertel daar is nou boë beskikbaar vir vrouens en kinders en dat hy dink ek ook daarvan sal hou. Ek was maar skepties, want dit het net te macho geklink, te veel na iets wat groot en sterk mense doen.

Uiteindelik was daar klubs en geleenthede vir sy tipe boog. Ek het toe ook saam begin skiet en alhoewel die 3-d tipe skiet baie lekker is in die veld oor berge en deur dale, is my afstandskat nie so goed nie. Roelf het sommer in die eerste jaar provinsiale kleure verwerf. In ‘n poging om myself te verbeter het ek die teikenskiet ding begin en ek het nog nooit weer terug gekyk nie.

Ek het ‘n spul medaljes en meer as een trofee gewen, my provinsiale kleure verwerf, ‘n brons medalje vir die ARFAC ( Afrika Field kampioenskappe) uitgeskiet, maar nooit ooit het ek die gevoel gehad dat ek ‘n silwer bekertjie gewen het nie.

‘Everyone has talent. What is rare is the courage to follow your talent through the door of your potential and to trust that it will lead you to the light.’ -Jannie Putter

Toe die SANAA (South African National Archery Association) ‘n paar jaar gelede besluit het om die sport ernstig te promoveer en die boodskap uitstuur ‘Do you have what it take?‘, het ek besluit: Hier is my kans om te sien wat in my steek… Marina het op provinsiale vlak gimnastiek gedoen en het op daardie stadium drie ure per dag geoefen. Ek het slegs naweke geoefen om my provinsiale kleure te verwerf. Ek het vir myself gesê as ek dan my oefentye verhoog na een uur per dag, dan kan ek dalk verbeter tot Nasionale vlak. En ek het. Ek is gekies vir die heel eerste Squad groep vir boogskiet. Ek het ‘n brons medalje op die SA kampioenskappe gekry, maar dit was steeds nie my bekertjie nie.

Elke mens het genetiese foutjies en my familie is vrot van outo-immuunsiektes. Diabetes, celiac disease, reumatoïede artritis, fibromialgie, Raynaud-sindroom en Sjogren-sindroom is van die goggas wat my sussies se lewens baie, baie moelik maak. Stres trigger en vererger enige outo-immuun verwante siekte. By my manifesteer die gemors as kosallergieë. Sommige goed soos piesangs laat my jeuk en swel, terwyl die meeste erge migraine veroorsaak. Dit het begin terwyl ek gewerk het vir my provinsiale kleure. Terwyl ek op die squad was het dit so erg geraak dat ek amper niks kon eet sonder om siek te word nie. Ek het erg gewig verloor en die kombinasie van wanvoeding en gewigsverlies as gevolg daarvan het my aspirasies kortgeknip.

Dit het verbeter met onthouding van die kos wat my siek maak. Dit was ‘n langsame proses om gewig op te tel en weer sterk te word. Ek het weer begin oefen en die dag waarop ek weer my eerste kompetisie sou skiet het ek die oggend in Pretoria ‘n telefoonoproep gekry wat my lewe onherroepelik verander het. Ons huis het afgebrand en ons was nie verseker nie… Toe weerlig ons ‘n tweede maal op die grond plat slaan het ek ook my boog en skiettoerusting verloor.

Ons het maar weer met genade van Bo opgestaan en aangegaan met ons lewens. Maklik is dit nie, en dit sal nooit wees nie, maar tyd maak rowe en ons probeer hard om dit nie af te krap om weer te bloei nie. Ons kyk vorentoe, na waar Lig is.

Drome bly drome solank jy niks daaraan doen nie. Wanneer mens egter werk aan ‘n droom, verander dit in ‘n doelwit en dan eers kan jy iets bereik. Ons het na ons trauma van aardse goed verloor besluit ons gaan nie ophou lewe nie. Boogskiettoerusting is vrek duur en ons het maar so stuk-stuk aangekoop oor ‘n paar jaar. My doelwit was om hierdie jaar se Nasionale kampioenskappe weer te begin kompeteer. En ek het, baie opofferinge, beplanning en voorbereiding later.

Dit gaan goed met my gesondheid, ek het weer ‘n aanvaarbare gewig en verlede jaar Augustus het ek my plan inwerking gestel. Ek het begin draf om fiks te raak. Ons skool het ‘n gala swembad en dit was die aangewese ding vir my skouers, arms en vir kardio, want my voete het laat weet of ek dan vergeet het hulle wil nie draf nie. En eers toe het ek begin skiet en geleidelik my boog se ponde opgestel tot waar ek dit wou hê. Slegs weke voor die toernooi het ek eers al die toerusting gehad wat ek nodig gehad het om te kompeteer. Ek kort nog baie dingetjies, maar ek kan kompeteer en dis die belangrikste.

‘In the power of the tongue is life and death, and whoever indulge in it shall live by the fruit of it.’ -Proverbs 18:22

Uiteindelik kon ek ook regkry om ‘n sekere negatiewe persoon uit my kop te kry wat veronderstel was om my te help terwyl ek op die squad was. Sy woorde maal nie meer in my kop nie. Dit was die een ding wat ek in my geestelike voorbereiding nie kon regkry nie.

‘The will to win means nothing if you haven’t the will to prepare’ – Juma Ikangaa

Boogskietkompetisies word slegs onderbreek vir uiterste weersomstandighede soos weerlig en daarom is dit belangrik om in enige weerstoestand te oefen. Wanneer dit reën trek jy maar ‘n reënjassie aan. Wanneer die wind waai, dan waai jy maar saam. Wanneer dit perfekte toestande is, juig jy. Dissipline is vir enige sportman essensieel, meer nog vir individuele sporte waar daar nie spanmaats is wat jou kan motiveer wanneer jy ‘n af dag het nie. Ek het nie ‘n afrigter nie, ek is op my eie. Ek moet myself motiveer. Ek moet self raas, ja, ek doen! Ek moet my eie foute identifiseer en regstel. Ek moet my eie skerwe optel as ek droog gemaak het. Ek oefen heeltemal alleen. Ag nee, ek jok. Ek het drie getroue ondersteuners elke oefensessie; Boesman Staffie, Pippie Jackie en Oreo Kat is elke keer by. Om mens-alleen te oefen is nie ideaal nie, maar dis hoe dit is en ek is trots op dit wat ek vermag het sover. Wanneer ek egter feesvier, deel ek dit met die wêreld…

Ek glo nie aan toeval nie. Ek glo aan ‘n uitgemete pad wat ons stap. My skool het aan die begin van die jaar vir ons ‘n spesiale spreker gekry om ons te motiveer vir die jaar, en die dinamiese Jannie Putter, sportsielkundige is op my pad gestuur. Hy het vir my sy boekie ‘Mentally tough‘ as geskenk gegee en dit het aangesluit by die kopsmokkel wat ek vir myself ontwikkel het toe ek op die squad was. Dankie Jannie vir jou aandeel in my ontwikkeling.

My doelwit om die jaar weer te begin skiet was toenemend nie meer net ‘n droom nie en ek het onmiddellik my plek op die lyn bespreek toe die besprekings open.

Alles, alles, alles het net vir my reg geloop. Maar ek was nie alleen nie, daar is altyd mense wat jou sterk maak. Dankie vir Roelf, my geliefde, my maat. Jy maak my ekstra sterk. Dankie vir jou liefde, aanvaarding van wie ek is, jou ondersteuning. Dit was lekker om jou vir die eerste keer saaam met my op die lyn te hê. Die gastehuis wat jy bespreek het sodat ek nie hoef te stres oor verkeer nie, die positiewe kommentaar, die finansiële ondersteuning, sommer net dankie vir alles. Dankie.

My kinders, dankie vir julle liefde en aanmoediging. Dankie vir my liewe Ma, wat nadat ek vir haar ‘n deel van my geestelike voorbereiding vertel het toe ek op die squad was, elke keer voor ‘n kompetisie vir my ietsie spesiaal op my kussing gelos het wanneer ek by haar gebly het voor ‘n kompetisie. Ma weet nie wat dit vir my beteken nie… baie, oneindig baie. Ma is deel van die motivering waarom ek skiet. Ma sou die hoogste sport kon bereik in baie dinge, maar Ma se pad was anders uitgemeet. Ma is die beste Ma ooit.

My doelwit vir die kompetisie self was om ten minste drie rekords te breek indien weersomstandighede dit sou toelaat, ongeag of ek wen met my tellings of nie. Ek het immers slegs beheer oor my eie telling en nie oor hoe my opponente skiet nie. Ek het hard gewerk daarvoor, en het geweet my oefentellings was goed genoeg. Twee dae voor die kompetisie het ek die enigste terugslag gehad. Ek het my boog op die spaarkamer se bed neergesit en vergeet om die deur toe te trek. Toe ek my liefste twee kleinkindertjies hoor jil in die spaarkamer, was my hart in my keel… en nie sonder rede nie… My pylrus (arrow rest) was windskeef gebuig. Amper ‘n jaar se voorbereiding in gedrang van een onbewaakte fout… My liewe man het oor die foon getroos en met sy rubberhamer en ‘n plank het ek dit bitterlik versigtig reguit geslaan. Dankie tog, al het dit beteken dat ek al my afstande van vooraf moes instel.

Die laaste dag van die toernooi was dit Eliminasies, dis die stresvolste kompetisie. Dis slegs 15 pyle en daar is nie ruimte vir foute nie. Jy het slegs een opponent en julle skiet voor die toeskouers. Twintig sekondes om jou pyl te skiet en dan twintig vir jou opponent. Die oggend toe die baan open vir opwarming, het hulle uit die bloute musiek gespeel… en ek het trane in my oë gekry… die liedjie was dit wat op die oomblik my gunsteling liedjie is! Toevallig? Nee. Ek het my oë toegemaak, my hande omhoog gegooi en gesê dankie. Toe die kompetisie begin het ek op die baan gestap met die wete dat die dag reeds aan my behoort.

Success means doing the best we can with what we have. Success is the doing, not the getting; in the trying, not the triumph. Success is a personal standard, reaching for the highest that is in us, becoming all that we can be.‘– Zig Ziglar

image

Wen is soms meer as net wen. Hierdie twee medaljes, die silwer beker en die ses SA en Afrika rekords agter my naam wat ek tydens die 66e SA Nasionale Boogskietkampioenskappe 2016 verower het is vir my meer as net wen. Dis my klein silwer bekertjie. Uiteindelik ervaar ek daardie gevoel waarna ek my hele lewe nog gesmag het. Ek het hard gewerk hiervoor. My gesin het saam met my opofferinge gemaak. Dankie daarvoor.

O ja, net as nagedagte…Ek werk nou vir die Victrix Ludorm beker…

Advertisements
Categories: Slakresies en ander sport, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: ,, | 6 Kommentaar

Ledigheid is die duiwel se oorkussing

Desember vakansies is sekerlik van die spesiaalste tye in my lewe. Die rede… tyd. Tyd om by my gesin te wees. Tyd om aan my huis te spandeer. Tyd om te lees. Tyd om tuin te maak. Tyd om in die veld te gaan loop. Tyd om te werk aan allerhande lekker dinge. Tyd om net bietjie my menswees in te haal wat verlore raak in die stres van skoolhou, voorbereiding, eksamens, vraestelle, ander mense se kinders, personeelkamer politiek en ander benullighede wat mens tot raserny dryf.

Ons skool is ‘n matriek merksentrum en ons sluit dus ‘n week vroeër as ander skole… bonus tyd!

Ek het weggetrek met ‘n krat appelkose en ‘n krat perskes wat verwerk is tot bottels en bottels vol konfyt en kerrie perskepiekels om in my boerespens te pak vir die volgende jaar. Spesiale mense kry soms ‘n botteltjie as ‘n geskenk, en dit word spesiaal verpak. Toe het ek en my liefste man ‘n week weg spandeer by Sodwana – heerlik geduik, leeg gelê en gelees. Mens kan nie net herinneringe in jou kop weg bêre nie… mens moet ietsie maak om die see se mooi op te roep. Daarom het ek vir my ietsie gemaak om om my nek te hang om die see te onthou.

My eerste handwerk projek vir die vakansie was loodglas venstertjies vir my kombuiskassies. So groot projek is ‘n tyd-vreet-gogga van formaat en ek eet, slaap en lewe tot dit klaar is. Daar is drie groot vensters en een langetjie om te vul, ek het nou net fase een gedoen, twee van die groot vensters. Al rede waarom ek nou net twee doen is dat ek nie op die patroon van die middel venster kan besluit nie.

Tussendeur die loodglas het ek my mikrogolf oondjie gebruik om glas hangertjies te maak. Dit neem baaaaie lank vir die glas om af te koel en die versoeking is kleiner om in te loer as daar iets anders is wat my besig hou.

My twee liewe kleinkinders was albei bietjie olik laasweek en hulle het maar baie van my handwerk tyd opgeneem, maar dis beleggingstyd in hulle lewe, so dis nie tyd wat gemors is nie.

IMG-20141123-00087.jpg

Zelmarie lees vir Roelof ‘n storie

Ons bly mos in die bos en die bokke loop reg by my huis en loer in by my deur. Daar is altyd iewers ‘n veldblom of twee wat blom, maar ek wil nou bietjie gewone blomme hê ook en ons het besluit om hulle so bietjie uit te span. Ek het nou al een bedding gemaak en Roelf het vir my ‘’n groooot visdam by die swembad gebou. My goudvisse broei teen ‘n tempo en dis goed so, ons wil later ons groentetonneltjie met die nutriënte uit die visdam natmaak.

Roelf het my die week gehelp om presente vir my tuin te maak, stapblokke (‘stepping stones’) wat later gebruik gaan word saam met wit spoelklippe in ‘’n gedeelte van die tuin wat nog in beplannig is.

Ek het ook my naaimasjien nader getrek en vir die eerste kker in ‘n baie lang tyd vir myself iets gemaak. Sommer net ‘n vinnige lekker los viskose langbroek. Dan was daar die ‘normale’ kombuis werkies soos beskuit bak en ‘n heerlike vrugtekoek…

Vandag het ek wildsvleisies sag gekook sodat ek môre lekker pasteitjies kan maak vir ons familie Kersete in Pretoria.

Dan het ek nog twee weke se vakansie oor wat ek gaan spandeer aan pewter en verf. Ek is besig met ‘n reeks bome in pewter vir my sitkamer, ek het al in die Julievakansie begin en dit moet nou klaar. My kombuis moet ‘n hoenderhaan kry in pewter, in akriel verf en in glas.

 Nou ja, ek kan nie tyd skep nie, maar ek kan my tyd bestuur en maksimum benut. Ledigheid is immers die duiwel se oorkussing en deur besig te bly, lewe ek tot eer van God wat vir my wonderlike geleenthede en talente gee.

Categories: Slakgedagtes, So doen Slakke dit, Sommer maar net | 1 Kommentaar

‘n Week van lekker werk

Dit was lekker om na ‘n baie stresvolle termyn bietjie tyd te he vir dinge wat vir my lekker is. Dit gee my weer woema vir ‘n lang tyd…

iBoké

Ondanks wat die grootste gros mense dink, het onderwysers het baie min tyd vir hulle self. Van die begin van hierdie jaar af moet alle punte voor die aanvang van ‘n skoolvakansie by die departement ingehandig word. Dit plaas ons vir ‘n paar weke onder baie groot druk, MAAR… dit gee ons dan ‘n welverdiende vakansie sonder merkwerk. Voorbereiding vir die nuwe termyn moet egter nog gedoen word, so ons kom nie skotvry af nie.

Dis lekker om te sê dat ek al my handwerk doelwitte hierdie week bereik het. Ek het verder met my glas ge-eksperimenteer…

Ek het pewter geskenke gemaak en mosaïek ingesluit in ‘n multimedia servethouer.

Twee ander doelwitte was om te lees, iets waarvoor ek bitter min tyd het, en om vir ‘n slag iets vir een van my ander blogs te skryf. Beide is gedoen… Dan het ek tussen deur ook tyd spandeer aan…

View original post 145 more words

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Familie, My klein slakkies, Plaaslewe, So doen Slakke dit | Lewer kommentaar

Dertig jaar getroud

Einde Januarie was dit ons huweliksherdenking. Ek is nie eintlik iemand wat groot gaan met verjaardae of herdenkings nie. Vir my is elke dag, elke uur, elke minuut kosbaar en spesiaal. Dit is immers net een dag langer as gister, een minuut later as netnou.

Almal dink nie dieselfde as ek nie, en vir ons oudste is dit absoluut ondenkbaar dat haar moeder so kan dink!  Hierdie jaar is eintlik vir ons ‘n groot jaar, ‘n ronde 30 jaar! Sy en haar pa het toe saamgespan en vir ons tweetjies ‘n heerlike verrassingsdag beplan.

Natuurlik sou dit onbetaamlik wees indien ons spesiale dag nie ‘n avontuur ook ingesluit het nie! Avontuur en adrenalien is mos maar deel van die du Preez’tjies se diepste wese.

Ek het al voorheen die Tree Canopy ding gedoen en het dus presies geweet wat om te verwag. Daarom was ek heel gemaklik en het soms gat-kant-bo met die katrolletjie gery! Roelf het ook probeer maar dit nie reggekry nie. Ek was dus baie in my noppies dat daar IETS is wat ek kon doen wat hy nie kon nie…

Dankie my man vir die lekker dag, die lag en samesyn. Dit was baie spesiaal.

Baie dankie vir ons leeftyd saam. Dankie dat jy nog nooit my persoonlikheid doelbewus probeer verander het nie. Dankie dat ek aan jou sy kon groei as mede-verantwoordelike in ons verbintenis in die mens wat ek vandag is. Baie dankie dat jy nie aan my karring wanneer ek in my innerdieptes in verdwyn nie. Dankie vir ons twee pragtige dogters vir wie jy ‘n pa duisend is en ‘n veilige hawe. Dankie dat jy so oulike bederf oupa is vir ons babatjie en vir haar swaaie bou en op die motorfiets al die diere gaan wys. Dankie dat jy my gun om my eie ek te wees, om dinge doen wat na aan my hart lê en altyd aanmoedig vir aanhouer-wen waar ek ‘n tou wil laat los.

Jy is spesiaalste spesiaal. Dankie vir alles. Mag ons pad vorentoe emmers vol geluk en seëninge inhou, dit is vir my ‘n voorreg om my pad saam met jou te stap.

Die kabels is lekker lank en ons het altyd veilig gevoel

Die kabels is lekker lank en ons het altyd veilig gevoel

image

image

image

image

image

Gat-oor-kop al die pad!

image

‘n Mens se agterste hand is jou briek, die voorste hand is net gemaklik op die harnas. Ons het natuurlik nooit gebriek nie! Aan die einde is daar ‘n stopper wat namens jou briek, mens hoef nie bekommerd te wees dat jy nie gaan stop nie. Een vrou was vrek bang en het te veel gebriek en toe so amper rien meter voor die einde gestop en toe moes die gids homself met sy arms tot by haar trek en haar toe gaan
image

Categories: Familie, Omgee, Slakkeding, So doen Slakke dit | 1 Kommentaar

Reëndans

Hier is baie verskeie soorte paddas op die plaas. Wanneer dit lekker gereën het, is hulle geroep na ‘n maatjie baie spesiaal en vier hulle fees in die krip en in my visdammetjie. Ek sal nooit weer na ‘n paddakoor kan luister sonder om nostalgies te raak nie.

Gedurende Desember 2002 was ons saam met vriende op die wonderlikste 4×4 toer ooit. Dit was net voor die oorgrenspark met Mosambiek , die Great Limpopo Park geproklameer is en mens kon nog ‘ongehinderd’ die bosse invaar. Om die waarheid te sê, die papiere is geteken in die tyd wat ons daar was.

Ons beplanning was om deur die wildtuin te ry en in die noorde Mosambiek binne te gaan. Ons sou dan deur die Limpoporivier ry op ‘n sekere plek waar mens klippers langs kon gaan (daar is nie ‘n brug nie) en dan ry tot by die kus by Beira, ‘n gewilde 4×4-roete op daardie stadium. Dit was  egter ‘n vreeslike goeie reënjaar in die Limpopo se opvangsgebied en die rivier het in so mate gestroom dat ons ons toer sou moes afstel of ons reisplanne hersien.

Gaan wou ons gaan en die groep besluit toe om duskant die Limpoporivier te bly en dan ‘n ander oorgang kry.  Die nadeel was egter dat dit beteken het dat ons ‘blind’ sou ry, met geen padaanwysings of verhale van vorige ervarings nie, net met die GPS as gids… En as jy Google Maps oopmaak, sal jy sien dat daar eintlik nie paaie is nie. Die GPS het dus maar net bepaal waar ons is, ons kon dit nie as roete-aanwyser gebruik nie. Ons het ons eie geskiedenis gemaak… Dit was WILD! Die modder was so diep ons moes op ‘n stadium elke minder- as-‘n- kilometer stop, die Land Rovers se wiele afhaal, skoonmaak en dan weer minders as ‘n kilometer vêr herhaal. Indien ons dit nie gedoen het nie, sou ons vassit in die modder. Daar was vier Landy’s en vier waentjies in die groep…

Ons eie geskiedenis het ook beteken dat ons tussen die Shingwedzi rivier en die Limpopo getoebroodjie was en een van die twee riviere moes oorsteek om by die kus te kom. En beide het afgekom… Die Shingwedzi is ‘n kleiner rivier en die keuse het op hom geval en dan via Masingir na die kus by Xai-Xai.

Ons het gery tot amper donker en redelik naby die grens sommer net ‘n mooi plekkie gekies en kamp opgeslaan. Die volgende oggend was daar vars luiperdspore op ons spore net buite ons ‘kamp.’ Baie spesiaal en ‘n herinnering dat ons moet onthou ons is in die bos reg langs die wildtuin!

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Die reën het bietjie opgehou en die humiditeit was baie hoog. Ons het gery en gery en oral gevra waar mens kan oor. By ‘n geskikte plek het ons toe toestemming by ‘n plaaslike hoofman gekry om in sy gebied te kamp totdat die rivier in so mate gesak het dat ons kon deurgaan, vir ‘n klein fooi natuurlik. Regtig klein en ons het geensins omgegee om dit te betaal nie. Hy het ons die versekering van veiligheid gegee en dat geeneen van sy mense naby ons toegelaat sal word nie. Ons het nooit, ooit onveilig gevoel nie en hy was sy woord waardig. ‘n Geskikte deurgang beteken ‘n rivierbedding van klip wat vastrap plek gee vir die wiele. Sonder klippe sal die voertuie slegs vasval en dan meegesleur word deur die stroom.

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Ek weet ek het dit al gesê. Maar Mosambiek in Desember is warm, dis blerrie warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Lafenis het ons gevind deur in ‘n vars, helder stroompie neffens ons ou kampie te lê. Lou, nie koud nie… ‘n Gat is gegrou, ‘n toiletsitplek staangemaak met ‘n skermpie om en elkeen wat die geriefie gebruik het moes ‘n grafie sand opgooi.

Desember is ook Mopaniewurm tyd en oral om en in ons ou kampplekkie was duisende wurms. Dalk was dit eerder miljoene. Een vriend se tent is permanent gevlek deur die wurms wat hulle pap geval het uit die bome. Die mans was naderhand redelik verveeld en het ‘n wurmgooi kompetisie gehou om die tyd te verwyl. Die reëls was eenvoudig: sit ‘n wurm op ‘n graaf en kyk wie gooi hom die vêrste… Sit twee wurms op ‘n graaf…

Tydens ons verblyf langs die Shingwedzi rivier was daar drie dinge wat vir my betekenisvol was. Die eerste was die hoeveelste keer in my lewe wat ek besef het hoe klein die wêreld is. Die mans het elke dag die rivier se vlak gemeet om te bepaal wanneer ons kan deurry en dan met die plaaslike mans gesels by die rivier. Een dag het hulle een saamgebring om spesifiek met mý te kom gesels… want ons het gemeenskaplike ‘kennisse’ gehad! Kan jy dit glo? In die wilde bosse van Mosambiek bly ‘n man langs ‘n rivier en hy het op plase gewerk in die omgewing waar ek my kleintyd spandeer het en ken dieselfde mense wat ek ken!

Die tweede ding wat betekenisvol was, is dat uitkoms altyd op die regte tyd kom. In die tyd wat ons gewag het, het daar ‘n tweede groep opgedaag. Maar nie in ‘n 4×4 nie. Nee. ‘n Gewone ou Toyota bakkietjie deur daardie vreeslike modder. Dit was ‘n plaaslike man op pad na Masingir, met ‘n vrag vol mense wat hy by die grens opgetel het wat onwettig in ons land betrap is en net by die grenspos gedump is. Die passasiers moes maar net stoot wanneer die modder te erg geraak het en gelukkig is die Toyota baie ligter as die Land Rovers. Hulle het by die plaaslike mense gebly en ook elke dag die rivier kom meet en dis waar die groepe ontmoet het. ‘n Ooreenkoms is aangegaan – as ons hulle bakkie deur die rivier sou sleep, sou hulle ons voertuie stoot wanneer daar modder is. Deal.

Die derde ding was gatjeuk. Iemand se gat het beneuk gejeuk en ‘n stelling van “Of ons draai vandag terug of ons gaan deur want ek sit nie nog ‘n dag langs hierdie rivier nie” het baie dinge bepaal vir daardie dag en baie dae daarna. Nou ja, die rivier se vlak word toe as voldoende geag en die grootste uitdaging ooit het aangebreek. Ons gaan deur. Die mans het ‘n roete gestap en gemerk met stokke wat in die rivierbedding geplant is. ‘n Ongeskrewe reël in 4×4 is indien jy deur water kan stap, kan jy daardeur ry indien die vloer hard is.

Ek word nie sommer bang nie, maar daardie dag was ek bevrees vir die veiligheid van my gesin en my vriende. Almal was bang. Die mans was vol bravade, maar eintlik het hulle foefernjolle klein geknyp. En natuurlik as ‘n foefernjol knyp, dan stoot dit mos ‘n ego bo-uit en die poep onder… Die getroue ou V8 is eerste ingestuur vir die baanbrekerswerk. Hy moes deurry en dan met die winch anker aan die ander kant indien een van die ander voertuie in die moeilikheid sou raak. Baie benoude oomblikke, ’n klomp gebede, trane en harde woorde het daai voertuig weer aan die loop gekry toe hy na net ‘n kort ent in die water gevrek het. Maar opgooi en terug wou die ego’s nie. Nee, ons gaan deur. Op die ou einde het Roelf een vriend se waentjie deurgery en teruggekom. Toe die ander vriend se kar deurgesleep en teruggekom. Toe hulle waentjie deurgery en teruggekom. Toe die V8 se waentjie deurgevat en teruggekom. Toe ons waentjie kom haal en deurgery. En ek sit en wag en kyk heeltyd hoe gaan my man heen en weer. En ek bid en ek huil binnetrane want my kinders mag nie my bang sien nie. Hulle het met een van die ritte die rivier gekruis en ander kant gewag. Verlate. Verlore. Dis hoe mens voel as jou kinders aan een kant van ‘n groot rivier is, jou man binne-in die rivier en jy sit soos ‘n wasbeeld spookbleek op ‘n klip aan die ander kant. Toe het Roelf vir ‘n laaste keer teruggekom vir die Toyota en ons het finaal deurgery.

Maar eind goed, alles goed en ons was weer op pad. Maar alles was nie goed nie. Daar het iets gebreek. Fyn en flenters, duisend stukkies en kleiner. En dit was nie goed nie, want saam met ego flenters het ‘n vriendskap verdamp in die niet van Mosambiek se hitte. En dit het seergemaak, vir baie baie lank daarna.

Dit was net ‘n paar keer nodig vir die Toyota passasiers om die voertuie te stoot. Dit het vreeslik baie tyd gespaar. Teen hierdie tyd het die modder darem nie meer so vreeslik aan die wiele geplak nie. Laatmiddag het ons weer by ‘n gemeenskappie gekom en die beste pad gevra. Een voertuig het die pad gaan ondersoek saam met hulle verteenwoordiger en die res van ons het ‘n wonderlike ervaring saam met die gemeenskappie gehad. Daar was ‘n klein sokkerveldjie en ons was genoeg om ‘n ‘span’ te maak teen die locals.

Die meisies en vrouens was stomgeslaan om te sien dat ons vroumense ook in die span wou wees en toegelaat word. Hulle was soos ‘regte vroumense met lang naels’ wat gegiggel het en nie eers ‘n bal kon vang nie! Hier en daar kon een van die jong mans ‘n paar woorde Engels praat maar met gebare en baie gelag het ons mekaar aangevat. Wanneer die bal na een van ons vroumense toe gekom het, was die jong mans baie respekvol en het hulle teruggeval en ons toegelaat om die bal te speel. Hulle het hulle verwonder aan ons waagmoed om saam met die manne te speel. Wanneer die bal egter by die mans was, was daar géén genade nie en het hulle gespeel om te wen. Toe een van ons manne egter die bal gryp en ‘n drie gaan druk was dit die hoogtepunt. ‘n Free for all… As jy die bal kry hardloop jy met hom, jy skop hom, jy duik of stamp jou opponent. Nog nooit, ooit weer het ek sulke gemoedelikheid en aanvaarding beleef soos daardie dag nie, in die diep bosse van Mosambiek was daar respek en gemoedelikheid met mekaar.

Daardie mense is glad nie gewoond dat daar wit mense in hulle rigting kom nie. Die kindertjies het nie soos in die toeriste gebiede handjies bak gehou en ‘sweeeets’ geroep nie. Die sokker was natuurlik goed om ons kinders se rooimiere bietjie onder beheer te kry en Marina kon nie wag om net ‘n paar wawiele en handstande te doen nie. Sy was mos ‘n uitblinker gimnas op haar tyd en elke oop spasie was ‘n uitnodiging vir ‘n paar truuks. Die kindertjies se monde het omtrent oopgehang en het haar probeer namaak. En sy was HOOGS geïrriteerd as hulle in verwondering net aan haar ou vlegseltjies wou kom vat. HOOGS.

Mens kan nie sulke wilde dinge doen en nie pleisters gebruik nie. Seker die volgende dag lê ek op ‘n stadium tydens ‘n rustyd onder ‘n bos waar ek landslakkies ontdek het. Wat is Slakkelak nou sonder ‘n slak en ‘n skulp? Ek lê nog so toe een vriendin kom vra waar my noodhulp sak is. Ek sê haar toe en sy sê nie vir my waarvoor sy dit nodig het nie en ek vra ook nie. Ek het maar aangeneem dat een van die kinders ‘n pilletjie of iets wil hê. As iets dringend was, sou sy mos sê. Toe ek uiteindelik klaar skulpies versamel het, moes ek hoor dat die een waentjie se haak amper deur my man se hand gesteek het. Oeps. Sy kon gesê het en ek kon gevra het. Nog ‘n keer oeps en die flentertjies breek nog verder.

Ons het toe uiteindelik by die kus uitgekom en by Bilene se strandmeer gekamp voordat ons teerpad terug is huis toe. Teerpad was sooo vervelig, ‘n antiklimaks na karakterbouende ervarings.

Die heel, heel grootste oomblikke van die hele toer was egter nie die rivierkruising of die sokkerwedstryd nie.

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Dis VREESLIK warm. As ék warm kry, dan moet jy weet dis baie warm. “Kyk die wolke Pappa, dink Pappa dit gaan vandag bietjie reën?” was naderhand woorde wat ek nie meer WOU hoor nie.

Een laatmiddag het die weer egter baie belowend donkerblou opgesteek en ek het my kinders belowe dat ons in die reën gaan bad as dit kom. Ons moes baie vinnig kamp soek om nie in reën en dan donker gevang te word nie. Ons was in vleigebied en het nie ‘n keuse van ander kampplek gehad nie. Vreemd genoeg was daar nie muskiete nie. My kinders was eers skrikkerig vir die kaalgat stanery doer eenkant, ‘n entjie weg van die kamp, in die oopte van die veld. Hulle is gewoond aan stort in die veld, maar met ‘n skermpie om.  Maar toe die reën eers val en die skuimbolle spat, het ons ‘n behoorlike reëndans in die donkerte gedoen.  Ek en my dogters. Kaalgat in die reën.

En toe kwaak die paddas en besef ek hoekom daar nie muskiete was nie. Honderde en honderde paddas in daardie vlei. Verskillende soorte met verskillende stemme. Kwake en squeeke. Diep stemme en skril stemme. Dit was ongelóóflik. Elke kort-kort het ‘n nuwe soort begin kwaak vir ‘n maatjie. Dan hoor jy doer anderkant enetjie met dieselfde stemmetjie antwoord. Dan kwaak hierdie een, dan kwaak die ander enetjie bietjie nader. Tot jy naderhand hoor hulle is nou naby mekaar en dan raak dit stil. Jannie het vir Sannie gevind. Die volgende dag was die enigste bewys van die baie paddas die stringe en stringe eiers. En bolle van ander soorte. En skuim van ander. In die water, langs die water en bietjie verder weg van die water. Oral. Alles bewys dat daar ‘n oeroue partytjie plaasgevind het die vorige aand, die partytjie gangers nou uitgeput en seeroog vir die wêreld in die sonlig.

Om ‘n kaalgat reëndans te kon doen, om so deel te kon wees van die ongerepte natuur, is ‘n voorreg wat ek altyd sal in my hart sal koester.

Categories: Lankal terug, So doen Slakke dit | 2 Kommentaar

Borreltjies uit die dieptes

Elke mens het dinge in sy lewe wat sy of haar karakter grootliks beïnvloed het. In my lewe is skubaduik een van daardie dinge. Dit het nie vir my maklik gekom nie, ek het klippe gekou voordat ek gemaklik in die water was. Dit het my ‘n vasberadenheid geleer, iets wat nie voorheen deel was van my nie.

Toe ons die plaas gekoop het, het baie dinge in ons lewe tot ‘n stilstand gekom want ons was in ‘n finansiële oorlewingstryd om ons droom te kan lewe. Ons het net mooi daardie stryd begin wen toe gebeur daai vreeslike ding wat ons pad vorentoe onherroepelik verander het. En toe nog ‘n keer net om te bevestig dat platvee beteken eintlik ploeter in die modder rond…

Familie, vriende, kennisse en vreemdes het ons gehelp om weer op ons voete te kom sodat ons onsself weer kan help. Daarsonder sou ons verlore geraak het in die modder van die lewe en ons beker van dankbaarheid loop oor van almal se goedheid. Dankie. Dankie dat ons weer voete het om op te staan.

Ons lewe nog steeds ons droom op die plaas. Dis nog steeds nie maklik nie, ons maak baie opofferings om dit te kan doen. Ek en my liewe man sien mekaar byvoorbeeld net naweke en dit sal so wees totdat ons eendag nie meer kan werk nie. Ons weet ons gaan nie eendag in weelde kan aftree nie, maar ons weet ons het ‘n opbetaalde dak oor ons kop, al is daar nog baie afwerking wat gedoen moet word aan daardie dak.

Daar is baie dinge wat ons nooit weer sal kan doen nie. Daar is dinge wat ons nooit weer wíl doen nie, maar daar is ‘n paar goedjies wat ons vir altyd deel van ons lewe wil hê. Skubaduik is een van daardie dinge en ons is bereid om sonder sekere afwerkings in die huis klaar te kom net om dit weer te kan ervaar. Annerine was twaalf of dertien toe sy haar kursus gedoen het in ons ‘ou’ lewe en Marina moes wag tot sy nou ampertjies twee en twintig is… Ons het van die toerusting gekoop, party geleen en party gehuur, maar duik het ons geduik die vakansie!

My breër familie trek baie swaar aan gesondheidsprobleme wat erge hindernisse plaas op enige avontuurlike ding. Daarom beteken dit vir my soveel meer om skubaduik deel van my lewenservarings te kan lys.

Eers was ek te bang om opgewonde te raak oor ons beplande duik vakansie by Sodwana. Ek kan egter nie die opgewondenheid oorvertel wat ek ervaar het die laaste dag voor ons vakansie nie! Ek was te bang om asem te haal… te bang ek word wakker en dit was net ‘n droom… Maar dit was nie net ‘n droom nie, dit was rêrig êrig, strues bob njannies kopela.

Marina se kursus pakket het haar verblyf en etes ingesluit. Ek het Roelf het selfsorg gekies en sodoende met ‘n hele paar rand goedkoper weggekom. Ek het vir ons elkeen ook net twee duike geboek, waar haar kursus vier duike ingesluit het. Sy wou baie graag ‘n duik saam met ons doen en ons het vir haar een duik ekstra gekoop vir ‘n spesiale ervaring om as as nuut gekwalifiseerde duiker saam met Pappa en Mamma te duik.

Al het ek al my aanvanklike vrese oorwin en het ek al agt en negentig duike gedoen, het my senuwees maar erg geknaag voor ons eerste duik. Ons het immers in die tien jaar wat ons nou op die plaas is net een keer vier jaar gelede een vlak drie meter duik gedoen. Dit het gereën by Sodwana, maar gelukkig was die see mooi plat en die sigbaarheid meer as vyftien meter onder die water en dit het bygedra dat ek minder gespanne was.

Jy trek reeds jou Wetsuit aan en ‘Kit op’, wat beteken jou Buoyancy Compensator (BC) word aan jou silinder vasgegespe en jou Demand Valve (DV) waardeur jy asemhaal word aan die BC gekoppel en alle toerusting word nagegaan.

IMG_9635

BC word aan die silinder gekoppel

Voor die duik hou die Dive Master eers ‘n praatjie en alle moets en moenies word vertel.

IMG_9643

Moets en moenies word bespreek

 

Daarna word die boot met ‘n trekker gestoot tot in die water. Dan moet die duikers die boot verder instoot en sorg dat sy neus in die regte rigting bly, anders kan dit omslaan met ‘n verkeerde golf.

IMG_9650

Boot is in die water… ons gaan duik!

Wanneer die motors mooi in die water is, dan spring mens op en ry ‘n klein entjie in en elkeen kry dan ‘n reddingsbaadjie wat jy aanhou totdat die boot deur die branders is.

ALL ABOARD!

ALL ABOARD!

Daar is straps om jou voete in te haak en mens hou aan ‘n tou vas om te balanseer. Na die golwe word daar gestop, reddingsbaadjies word uitgetrek en jy woerts die see in.

Uiteindelik! Koraalriwwe, hier kom ons!

Uiteindelik! Koraalriwwe, hier kom ons!

By die rif kry elkeen sy toerusting en die silinders word oopgedraai. Jy trek jou BC, vinne (of flippers soos party mense dit noem), masker (goggles) en gewigbelt (weight belt) aan, toerusting word weer nagegaan en dan word daar afgetel… One… two… three… GO!

Met ons eerste duik het die meisie wat langs my sit bietjie laat geval en toe bo-op my geval. Af was my masker… Stres. Hyg. Panic… PANIC!  Gelukkig het ek ‘n ekstra band op die masker (sodat my langer hare nie moet vaskoek nie) wat hom laat dryf en het ek hom gekry, maar toe sukkel ek om af te gaan. Die ander was al almal onder die water toe hyg ek nog daar bo. Dit was vir myself verskriklik om die vreemde kerm geluidjies uit my eie keel aan te hoor sonder dat ek dit wil kerm… Maar ek was vasbeslote dat dit my nie sou weerhou van die wonderwêreld wat ek geweet het daaronder op my wag nie en ek het myself tot bedaring gebring en gaan duik…

Met ons tweede duik was Marina ook nou saam met ek en Roelf en dit was vir my ‘n baie spesiale duik… my honderdste en Marina se eerste gekwalifiseerde duik! Ons het geboek vir ‘n sekere rif, Anton’s, waar jy kan haaitande optel. Dis Skeurtandhaai (Ragged Tooth) of Raggie tande en ek wou baie graag weer vir my ene laat set in silwer soos wat ek gehad het om my spesiale honderdste duik te gedenk. Ongelukkig was daar toe ‘n junior in die groep wat nie gekwalifiseerd was vir daardie diepte nie en ons sal dit dan maar later doen. Iets om na uit te sien! Ek het heel agter gesit en gesorg dat ek skuins agtertoe val om te verhoed dat iemand weer op my val. Arme Marina het ‘n hou met ‘n staal silinder weg teen die kop met haar vorige duik onder dieselfde omstandighede as ek.

Ons het ‘n onderwater kamera gehuur maar ongelukkig het die battery nie tien minute gehou nie en kon ons slegs ‘n paar herinneringe vasvang. Nou nie ‘n tandjie wat ek in silwer kan set nie, maar ook baie, baie spesiaal.

Duik nommer 100... wat 'n voorreg om 'n foto daarvan te he!

Duik nommer 100… wat ‘n voorreg om ‘n foto daarvan te he!

Aan die einde val elke duik doen jy ‘n veiligheidstop op vyf meter waar jy vir vyf minute bly. Dan sien jy nie vissies en korale nie, maar wanneer jy opkyk sien jy silwer borreltjies uit elke duiker wat opstyg en geaksentueer word teen die blou-blou lug. Eendag… eendag sal ek ‘n foto daarvan neem…

Stel jou nou voor al die  silwer borreltjies teen die blou lug as jy opkyk...

Stel jou nou voor al die silwer borreltjies teen die blou lug as jy opkyk…

Ek buig in diepe dankbaarheid voor my Skepper vir gesondheid en die geleentheid om iets wat vir my groots in my lewe is, terug te hê. Dankie. Dankie. Dankie.

Categories: Slakgedagtes, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Erfenisdag

In my erfenis is daar meer as net pap en braaivleis. As kinders het ons byna nooit gebraai nie, dit is ‘n meer moderne neiging dink ek. Dis ook lekker, ja, maar gee my eerder ‘n bord kos uit my kindertyd.

Sag gestoofde beesvleis met ‘n ou vetjie, aartappels deurtrek met die sous. Boontjies met bietjie room ingeroer, Ouma-patats karamelbruin gebraai, rys vir die ou sousie. Slaai bestaan slegs uit tamaties vars uit die tuin, opgesny saam met uie met net sout en witpeper om dit te geur. Die tamatiesousie wat oorbly in die bak behoort slegs aan Pa, maar as die bak by jou uitkom dan skep jy ongesiens ‘n lepeltjie vol en sluk dit vinnig af… en dink hy het dit nie gesien nie… Asynpoeding of sago met tuisgemaakte vla vir nagereg, later jare merendeels malvapoeding.

My erfenis is pap en kaiings of fyngestampte biltong. Hertzoggies, Ystervarkies en Handtertjies tot boordensvol gevul met tuisgemaakte appelkooskonfyt. Melkkos en melktert mildelik gekaneel. Wildsvleispasteitjies. Warm beskuit wat pas uit die oond kom wanneer ons van die skool af kom, en as jy dit eet vind jy ‘n heerlike frikkadel as verrassing aan die binnekant. Boontjiesop. Murgbene. Tuisgebakte brood. Emmers vol pannekoekdeeg vir ‘’n skool- of kerkfunksie. Lady’s fingers piesankies. Pers Adamsvye. Geelperskes. Tuisgemaakte droë perskes. Sagte soetsuur kweperlekkers. Gebakte kwepers. Vetkoek en Javels (spelling?). Roosterkoeke op die koolstoof. Appelkooskonfytkoekies vir ontbyt. Rooi-ivoor bessies, kruisbessies en maroelas.Vet uitgerysde witbeskuit. Tuis ingelegde perskes met rooi en groen jellie en vla. Oom Manie se suikersoet waatlemoene soveel soos ons wil eet. Moerbeie wat pers strepe jou hele gesig vol lê. Gebraaide mielies in die tabak droogoond. Boerseep wat Pa self gemaak het in die groot seeppot na ‘n varkslagtery.

Ek moes altyd teemaak met ons slagtery, want ek het sulke knoppies op my hande uitgeslaan van die varkvet. Word nou nog siek as ek vark eet. En al bly ék op ‘n plaas met wildsbokke, slag ek nié! Ek maak hoogstens die pakkies vleis op as my man en kinders klaar die vleis bewerk het. Sou jy dit nou kon oorvertel! Die reuk van warm vleis en ingewande gooi wilde draai uit my maag tot op die grond. My pa het dit altyd goed geag om ons kleintjies te roep as hy die vark oopsny, sodat ons kan sien waar sit al die organe. Maar die reuk het my uitgegross, en my nuuskierigheid kon nie die draaie uit my maag keer nie. My kinders het weer géén probleem daarmee nie, en so kry hulle pa ‘n beurt om die opvoedkunde ding te doen. En verwerk hy alleen ‘n grote koedoe of wildebees sonder om één keer ‘n lelike aanmerking te laat val oor baie werk.

Erfenis se onthou sluit in ‘n kuier in Magalieskraal (Mamogaleskraal) se dorre rooigrond en natuurlik die neefs se simpel getergery die hele dag… Pa se twee broers is met twee susters getroud en woon op plase langs mekaar. Die huise is binne stapafstand van mekaar, en ons gaan eerste aan by Oom Bertus en tant Cato. Eerste hulle, want hy is die oudste en dis meer respekvol. Wanneer ons daar kom groet die tannie met: “Kom se tatta vir Tool” en ons giggel vir die verkeerdom groetery. Ons eet Ma se lekker koekies en hol in die rooi stof rond. Oom Bêr (soos die tannie hom noem) skil vye uit sy tuin wat jy moet raakvat anders glip dit uit jou hand.

Dan stap ons oor na oom Lood en Kleintan. Daar eet ons gou ‘’n toebroodjie, ook van tuisgebakte brood, en ons ver-eet ons want dit proe anders as dié wat Ma elke dag bak. Hare is witter en het ‘’n surerige smaak. Ons eet van oom Lood se suikersoet laat nartjies aan die skadukant van die boom en kry ‘’n mandjie waterpere om huis toe te neem. Pere is die enigste vrugte wat nie by ons wou dra nie.

Sondagmiddag stap ons oor vir ‘’n kuiertjie by die oujongbroers om die draai van. Daar is nie kinders nie en ons is maar te dankbaar om buite te gaan speel. Die somberheid wil jou aan die skene vang in daardie huis. Tant Heilie, kromgetrek en diepbeplooid in ‘’n lang swart rok sit sonder lag langs die koolstoof waar die moerkoffie altyd staan en prut. Haar grys haartjies se bollatjie rol los en jy verwonder jou aan die dun vlegseltjie wat amper by haar voete hang. Jy sê altyd nee as sy vra of jy ook wil koffie hê, want die koffiesakkie lyk asof dit in daardie pot is van almelee af aan.

Maar nooit sê ons nee vir kondensmelktee en Marie koekies by tant Elsie op die plot tussen ons en die oujongbroers nie. In ons huis was regte melk en tuisgemaakte koekies en winkelgoed was vir ons spesiaal.

So onthou elkeen ietsie anders wat ‘’n erfenis is. Ons is immers individue en ervaar dinge op ‘’n eie manier.

Helaas. ‘’n Deel van my erfenis sal slegs voortbestaan in my geheue as herinneringe. Vir my eie kinders kan ek ‘’n erfenis skep met ons eie gewoontetjies en lekker kos. En so leef ons voort, waar herinneringe in ons sal bly en die toekoms voortdurend vernuwe word soos wat ons blootgestel word aan ander tipes kos en ander mense om die gaatjies van onthou weer vol te maak.

Categories: Familie, Lankal terug, Omgee, So doen Slakke dit | 2 Kommentaar

Plaasliefde

My man bring nooit vir my blomme nie. En ek kla nie daaroor nie, want hy plavei die pad na my hart met vere en ander dingetjies uit die veld.

Ons het ‘n Gevlekte Ooruil wat elke aand op die skoorsteen sit en ‘hoe’, met vere so sag soos satyn om my siel te kom streel.

Was dit nie vir die honde se blaf en ‘n skerp pen wat verloor word in die haas om weg te kom nie, sou mens nie eers weet van die ystervarke wat suutjies die kombuisafval kom verwyder nie.

Dankie vir my presentjies. Ek dink aan jou wanneer ek dit sien en jy vêr weg is van my.

Categories: Plaaslewe, Slakkeding, So doen Slakke dit | Lewer kommentaar

Om te skep

Om te skep is deel van my. Om byna alles wat ek maak weg te gee, is ook deel van my. Dis maar hoe dit is.

Vir jaaaare het ek geglo daar is niks kunssinnig in my nie, nadat my standerd vyf onderwyser met vakkeuses vir die Hoërskool gesê het ek moet tog net nie daaraan dink om eers kuns as vak te oorweeg nie. Dieselfde onderwyser het ‘n sprankie hoop in my gevestig deur te sê dat ek eendag ‘n joernalis kan word…

Die eerste handwerk artikels wat ek kan onthou wat ek gemaak het was popklere. Ek was nie ‘n popspeler nie, maar so af en toe het my ma ter aanmoediging ‘n paar uitrustinkies geknip en dan het ek met die hand die dingetjie gemaak.

Die tweede artikel was ‘n versierde wasgoedpennetjie wat ek onder leiding van sus Trisa gemaak het een vakansie in standerd vyf toe ek gaan help het met haar kleutertjie. Sy was hoogswanger en moes UNISA-eksamen skryf. Ek was seker maar naderhand ook maar verveeld.

Ousus Drinie wat vreeslik presies werk se houtsneewerk, naaldwerk, kwilts en ander was vir my ‘n inspirasie om ook dinge te probeer toe ek ouer word.

Vir jare het ek my en my kinders se klere gemaak. Ek het tot my eie jeans gemaak. Deesdae is ek bietjie lui vir alledaagse klere, en dis nie meer goedkoper as ‘n vervaardigde kledingstuk nie. Net vir spesiale geleenthede waar dineerokkies ter sprake is, word my naaimasjien nader getrek. My dogters gee die prentjie, en dan moet ma maak. Veral Marina stel my vernuf op die proef, want haar uitrustings moet uniek wees..

As jong vrou was ek ‘n paar keer in die hospitaal met piep, en ek het elke keer die tyd benut en lappe gehekel vir my huis. Daai tyd is jy nog ‘n dag voor ‘n operasie opgeneem, en jy het daar gebly vir ten minste ‘n week of langer indien jou maag nog nie sy behoorlike draaie gemaak het nie. Hoe anders is dit nie nou nie!

Toe FIMO klei in Suid-Afrika uitgekom het, was ek daar om ook op die wa te spring. Dit was in die tyd wat Printer’s Trays in die mode was, en ek het die oulikste kreatuurtjies gemaak. Tot verkoop ook. Toe die mode bietjie taan het ek dit agterweë gelos. Polimeerklei is nou weer hoogmode onder handwerkers, veral in die skepping van gemengde media kunsartikels. In dieselfde tyd het ek krale met ‘n ander tipe klei gemaak, geverf en verkoop. Vandag kan ek nie dink dat iemand daardie goed sou koop nie, maar mense het. En dit gedra.

Later het ek begin met pottebakkery om bietjie uit die huis te kom en die familie het elke jaar met Kersfees deurgeloop onder my pogings. Ek het vir my ‘n wiel gekoop, met die langtermynbeplanning om later ook ‘n oond by te koop op die plaas.

Nog voor ons weg is uit Pretoria het ek met loodglas begin nadat my vriendin Christelle my bekend gestel het daaraan, een van die aktiwiteite wat ek vir altyd sal doen. Glas is net iets besonders om mee te werk. Dit voel soms vir my soos sonde om ‘n stuk glas in kleiner stukke op te sny. Nou het die familie nuwe geskenke gekry… en my plaaskombuis se kassies wat Roelf self gemaak het van hout op die plaas geoes is, is pragtig versier met vrugte. Ongelukkig het ek nie alles afgeneem nie en is dit nou verlore, behalwe in ons herinnering.

Deel van die pottebakkersoond se langtermyn beplanning was dat ek Glass slumping sou begin, maar helaas daai beplanning is na die maai toe ons huis met alles daarin afgebrand het en ek al my toerusting verloor het. Van my klein potjies wat ek nog gehad het, het oorleef, die glasuursel is natuurlik net nie meer dieselfde nie.

Rakuvuring se onvoorspelbaarheid is vir my ‘n uitdaging, my pottebakkerjuffrou het elke jaar ‘n Rakudag gehou. Dis iets wat ek weer kan doen, Raku-oonde is nie onbekostigbaar nie. My vriending Evette, ‘n kunsonderwyser, het vir my ‘n bietjie klei gegee en ek mag dit in haar oond gaan bak. In my kop het ek ‘n sekere pot, Raku-gevuur, met insetsels van glas en piouter wat wag om ‘n meesterstuk te word. Eendag… daai pot se tyd is nog nie hier nie.

My ma het altyd gebrei. Altyd. Winter- en somersaande is voor die radio en later die TV omgebrei. Om agt kinders toe te kry vir die winter was ‘n allemintige taak… een wat sy sonder kla en mor gedoen het. Ekself is nie so lief vir brei nie, maar ek het darem vir my oudste kind babasokkies gebrei en ‘n truitjie. Nogal een met kabels… Verlede winter het ek begin om vir elkeen van my sussies ‘n serp te brei, maar die projek het begin kleintjies kry en nou het al die groot niggies ook elkeen een, en daar is vrek baie van hulle! Dit was lekker toe ek nou die dag ‘n fotogekry om te wys hoe mooi ‘n serp by ‘n uitrusting pas.

Ek het natuurlik nie die kralemode oorgeslaan nie, dit bly steeds lekker om iets uniek te maak. My gunsteling om te maak is armbande, ek hou van klingels om my hand. Ek is ook gek na ringe en sou net voor ons huis gebrand het begin het met Art Clay Silver. Ek het al die toerusting al bymekaar gehad, ek moes net Pretoria toe ry om die silwerklei te koop. Eendag dalk… mens moet kan aanhou droom oor ‘n volgende projek…

Een van die heel, heel lekkerste dinge wat ek nog ooit aangepak het is piouter. Dit, saam met glas en mosaïek, is media wat by my veelsydigheid pas. Die lekker is dat mens dit kan kombineer, jou verbeelding kan vry in die wind gaan dans. My beplanning is om in die Desembervakansie my nuwe kombuiskassies se venstertjies mooi te maak met glas.

Die gene van skep kom van my ma af. Vir jare en jare en jare was sy te besig om haar skeppingsdrang uit te lewe. Sy het as skoolkind baie mooi potloodsketste gemaak. Ek het haar ou skoolbloemlesing gehad wat sy self versier het met potlood en ink. Sy het nie eers geweet ek het dit gehad nie. Vir een of ander rede het sy een dag toe ek nog ‘n kind was al haar skoolherinneringe probeer verbrand. Op ‘n plaas is mens self verantwoordelik vir vullisverwydering of vernietiging as jy dit so wou noem. Ons klein goed soos papiere is in ‘n drom gebrand en ek het op die brandende sertifikate en goed afgekom. Ek het die drom natgegooi en gered wat ek kon en al die jare weggesteek… tot dit tot as gebrand het op my eie plaas soos wat sy bedoel het daarmee moet gebeur.

Toe hulle dorp toe getrek het met ‘aftrede’ het sy begin lapverf doen. Net hierdie week het sy vir my een gegee vir my nuwe huis. Wat dit merkwaardig maak is dat dit gedoen is na ‘n massiewe beroerte ‘n paar jaar gelede wat haar verlam aan die regterkant gelaat het. Sy het egter geoefen het totdat sy weer die gebruik van haar hand teruggekry het. Nie honderd persent nie, maar sy kan weer verf, rumatiekhande daarby of nie.

My susters en broer is almal skeppers van iets. Woorde, houtsnee, kwilt, krale, borduurwerk, naaldwerk, mosaiëk, piouter, lapverf, skilder, kruisiesteek, miniatuur geweertjies, lampe met wildshorings en nog meer. Party aktiwiteite het meer as een skepper, maar elke aktiwiteit het ‘n meester na wie se werk jy kan opsien.

Na die huis gebrand het, was een van die eerste dinge wat Roelf vir my gesê het om te gaan koop ‘n vel piouter en gereedskappies. Die terapie in die maak van iets is onvervangbaar in my lewe en ek kan dit aanbeveel vir enige persoon wat deur ‘n trauma gaan. Dit gee jou iets om op te fokus, al wat jy aan moet dink is daardie blommetjie wat jy versigtig moet uitdruk. Dit gee jou hoop wanneer jy die vordering van iets mooi te sien. Dit gee jou weer eiewaarde en ‘n doel om te wil aangaan.

Vandag weet ek dat as iets in jou hart geplaas isen jy WIL dit doen, dan KAN jy. Jy moet net die eerste stappie vat.

Netnou gaan ek my eerste stappie vat met waterverf. Ek weet dis ‘n moeilike medium, maar dis wat ek wil doen. Olieverf staan my nie aan nie, en ek wil nie akriel doen nie. Ek wil WATERVERF doen.

Categories: Familie, Slakgedagtes, So doen Slakke dit | 12 Kommentaar

So doen Slakke dit

Hoeveel keer sien mens nie in die oggende ‘n nat slymspoortjie op die plaveisel nie? Dit is soms die enigste aanduiding dat daar ‘n slak in jou blomtuin is. Slakke hou mos van wegkruipertjie speel in die donker hoekies, ongemerk en kom net uit wanneer hulle wil.

Hierdie slak het ‘n spoortjie gelos in ‘n liefdadigheidsprojek,  “My kort vir jou sop” saamgestel deur Trisa Hugo.

Dit is in e-Boek en boekformaat te koop en is regtig baie bekostigbaar. Alle opbrengste word aan liefdadigheid geskenk. Koop een en weet dat jou swaarverdiende geldjie vir jou lekker gehalte leesstof van bekende en onbekende skrywers koop en dat iemand ‘n bordjie sop en ‘n storieboek gaan geniet wat andersins nie beskore was nie.

Hoop maar dat niemand ‘n potjie sout of ‘n piering bier gaan uitsit vir die slak nie..

 

 

 

 

Categories: So doen Slakke dit | Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.