Monthly Archives: Julie 2012

Introvert gebore, introvert sal ek sterf

Dis hierdie jaar dertig jaar gelede wat ek in matriek was en daar word ‘n reünie gereël vir ons groepie. Skielik maak mens kontak met mense wat jy doerdie tyd laas gesien het, en al die ou skoolstories word opgediep.

Ek is eintlik vreeslik hartseer wanneer ek so na almal se foto’s kyk en die stories hoor… nie omdat ek dit mis nie, maar omdat ek nooit deel was daarvan nie!

Eerstens het ons op ‘n plot buite die dorp gebly en in daardie tyd was agt kilometer ver… veral as jou ma nie ‘n lisensie gehad het nie, en jy aangewese was op iemand anders waar jy graag wou wees. Eers in my matriekjaar het sy haar lisensie gekry, en dit het nog steeds nie my sosiale probleem opgelos nie.

Eintlik is dit sommer net ‘n gerieflike verskoning. Om werklik eerlik met myself te wees, moet ek erken dat ek ‘n vreeslike introvert is en nie van ander mense se geselskap hou nie. Dis erg, maar dis waar. Ek is dood tevrede met my eie gedagtes… Dis een van die redes waarom ek my huidige situasie kan hanteer in ons swaar tyd waar Roelf in Pretoria werk en ek alleeen op die plaas in Barberton bly. Hy en my kinders is die enigste mense wat ek om my wil hê. En dan moet hulle ook nie heeltyd njarra njarra om my ore nie. Stilte. Ek soek stilte om my… met  my eie gedagtes en met my spesiale mense net so amper in my gedagtekring. Ek wil net aan hulle raak, ek wil nie noodwendig met hulle praat nie.

Selfs my ander naby familie leer my werklik nou eers ken deur my blog te lees. Al hou ek van my eie gedagtes, beteken nie dat ek alles vir myself wil hou nie!

Ek wil vreeslik graag die reünie bywoon, maar gaan ek iets hê om te deel? Gaan daar werklik iemand wees wat mý graag wil sien? Dis vrae waarmee ek worstel en een of ander tyd moet ek besluit of ek gaan of nie. Dis ver om te ry, dit beteken ek gaan dan vir twee weke nie my man sien nie. Gaan ek, kan ek darem ook by my sussie kuier in Brits, maar gaan dan in die aand vanaf die funksie moet terugry na haar huis en dis ‘n gevaarlike pad in die donker.

Eintlik het ek in my hart al klaar my besluit geneem, want ek is nou maar net nie ‘n tropdier nie… ‘n introvert gebore, en ‘n introvert sal ek sterf.

 

Advertisements
Categories: Lankal terug, Slakgedagtes | 13 Kommentaar

Wanneer omgee deel van plig word

Vandag was Madibadag en ek het baie gemengde gevoelens oor sulke dae. Vir my beteken om te gee moet uit jou hart kom. Wanneer jy ‘gedwing’ word om iets goeds vir iemand te doen, het jou daad werklik betekenis?

Omgee en liefde is maar net sinonieme van mekaar.

My sus Annemarie het ‘n sakkie bloed gaan skenk, dis toevallig op hierdie dag, want dit is haar twee en sewentigste sakkie. Ek dink ek kan haar onder die kategorie sit van omgee uit haar hart. Hoeveel lewens het daardie sakkies bloed al gered?

Op Facebook het sus Trisa ‘n klip in die bos gegooi met: “Hoe belaglik is hierdie 67 minuut ding! As jy nodig het om herinner te word om ‘n goeie daad te doen, en dit nog te time ook, kan dit mos nie uit jou hart kom nie? Doen jy nie van nature goeie dinge nie?”

Haar eie mening is egter: “ENIGE goeie daad, ENIGE tyd, is ‘n goeie daad. Al kom dit nie uit jou hart uit nie, die ander party trek darem die voordeel.”

Sus Magda beaam ook hierdie siening “Ek dink tog vandag is spesiaal. Madiba raak mense aan op vreemde maniere. En vir party is dit die begin van naasteliefde uitleef, as hulle 67 gedwonge minute vir hulle so bevredigend is, hou hulle aan.”

Die regering neem hierdie dag baie ernstig op, en by die skool moes ons vandag bewys lewer dat ons sewe en sestig minute afgestaan het aan omgee met die kinders. Hulle moes tot ‘n spesiale teenwoordigheidsregister invul wat ons moes terugstuur na die departement as bewys.

Ons skool het kruideniers- en toiletware ingesamel vir liefdadigheid. Uit my registerklas van vyf en twintig kinders het daar ‘n groot pak graankos en vyf blikkies gekom. Dit was al. Elke personeellid is ook gevra om bemoeienis te maak met die leerders in hulle klas, om iets oor omgee met die kinders te deel.

Elke oggend open ek of een van die leerders die oggend met ‘n skriflesing en gebed. Vanoggend het ek self die beurt gevat, en heel eerste innerlik gevra vir leiding vir hierdie taak, vir ‘n boodskap vir hierdie kinders oor hierdie Madibadag. Ek het my klas Bybel oopgemaak en dit het op die volgende oopgeval, en ek het slegs hierdie een vers vir die kinders gelees: Ps 115:1 “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys.”

Ek sou hulle lank kon besig hou met omgee, want ek het baie om te vertel oor die onderwerp. In die tyd wat ek gehad het, het ek vir hulle vandag vertel van die omgee van mense vir my en my gesin die afgelope jaar en ‘n half. Van hulle het saam met my gehuil toe ek vir hulle vertel

  • van mense wat vir ons sakke kos en klere gebring het
  • van geld wat in ons rekening inbetaal is, nie net van ryk mense nie, maar van ook van mense wat self finansieel sukkel
  • van familie en vriende wat met handewerk kom help bou aan ‘n nuwe huis en nuwe meubels
  • van al die gebede en liefde
  • van God se hand in ons lewe
  • dat ek dit waardeer het dat van hulle my getroos het na die brand met ‘n ou briefie
  • dat ek weet van die kind wat dieselfde dag ‘n geldjie by die kantoor gaan inbetaal het sodat hulle vir my iets kan koop

Dan was daar nie eers tyd om hulle te vertel van

  • jou agt en sewentig jarige ma wat vir jou al haar gunsteling resepte afskryf omdat al jou resepteboeke verwoes is in ‘n brand (en dis baie, want sy is líéf vir bak en brou). Dis gedoen met rumatiekhande en ‘n ‘dom’ hand na ‘n beroerte.

en dan is daar klein notatjies by elke resep

  • jou ma wat vir jou ‘n benekombersiegehekel het vir die koue aande wat jy moet boeke merk

    Te mooi om mee te bad

  • die fynste kruissteek geborduurde waslappie van jou sussie met rumatoïede artritis. Sy wat elke dag haar dag aanpak in geloof, want as sy nie daaraan kan vashou nie, sal sy nie die pyn in haar liggaam kan hanteer nie
  • van mense wat hoor daar is ‘n veldbrand op jou plaas en dan sommer net self kom help
  • van presentjies op jou stoel in die personeelkamer. ‘n Pakkie met die pragtigste armbande omdat iemand weet jy hou van iets wat klingel aan jou arm. Mooi klere. ‘n Sakkie vol kraletjies omdat iemand weet jy hou daarvan om jou hande besig te hou. Ietsie lekkers om te eet.
  • van jou familie wat vir jou fotos van jou kinders uit hulle albums haal

Dis maar net enkele dinge waar mense vir my omgegee het, die lys is eintlik ellelank.

Ons almal het soms ‘n behoefte vir omgee en liefde. Net ‘n drukkie. Net ‘n ekstra glimlag. Ek het vir my kinders gesê dat ons elke dag vir mekaar moet omgee. As voorbeeld het ek vir hulle vertel dat my pa nou die dag verjaar het, en ek het verlang na hom en sou net wou hê iemand moet weet en aan my dink. Ek het ‘n voorstel gemaak en dis so aanvaar. Daar is van nou af ‘n “Please think of me today” boksie in my klas waarin hulle ‘n briefie kan gooi sodat ons almal die volgende dag vir daardie persoon kan omgee. Dit mag anoniem ingegooi word. In ‘n af periode het ek sommer die boksie se gleufie ingesny en hy is reg vir môre. Ek sal sommer self ‘n briefie ingooi om die ys te breek.

Eers netnou toe ek hierdie begin skryf het en my dag in oordenking geneem het, het ek onthou van ‘n ander voorval in my dag. Dis ysbibberkoud by ons op die oomblik. Dis die hartjie van die winter, hier is ‘n koue front en daar is kinders wat sonder truie skool toe kom. Regtig! Wanneer jy vra of hulle nie koud kry nie, dan lag hulle en sê jy moet kom voel. Dan is hulle lywe en hande warm en jy glo hulle. Maar vandag was daar enetjie met dieselfde velkleur as ek wat gesit en bibber het, en sy antwoord was dat hy sy trui in die eksamentyd uitgetrek het, vergeet het daarvan en nou is hy weg. Hy hoef nie te sê daar is nie geld vir ‘n ander ene nie, ek weet dit. Minder as ‘n halfuur later het hy nie meer gebibber nie, al kon ek dit nie self koop nie, kon ek dit reël.

Vandag was ek deur my werkgewer ‘gedwing’ om omgee op een of ander manier uit te leef. Ek het, maar dit het ook uit my hart gekom. Dis hoe ek grootgemaak is. Dis deel van wie ek is.

Elke dag is ‘n ervaring in ‘n mens se lewe. My ervaring van vandag het my twee dinge laat besef. God is altyd by ons. Hy wil ons gebruik om Sy Naam te eer, want Hy is groter as enige mens. Madiba of nie Madiba nie. En dan het ek besef dat Magda reg is, dat daar wel iets goeds kan kom wanneer jy gedwing word om naasteliefde uit te leef, want dit raak dalk iemand aan wat dit werklik nodig het, of dit uit jou hart gekom het of nie.

Categories: Familie, Omgee | Sleutelwoordw: , | 12 Kommentaar

Die somer is oppad julle, die somer is oppad!

Ek wonder soms waarom die meeste mense dink dat onderwysers baie verlof het. Indien jy nou nog nie weet nie – dis ‘n mite. Ons moet vraestelle en vraestelle merk in skoolvakansies (dié is  net vir kinders!!) en dan moet party nog kinders op toere ook vergesel indien dit deel van hulle werksindeling vir die jaar is. Ek doen nie sportafrigting nie, maar het weer meer administratiewe werke wat ek moet doen.

Die winterskoolvakansie is nou amptelik op sy rug en ek het by niks van my persoonlike dinge uitgekom nie. Daar is darem voordele soos een van my kollegas sê – mens kan in jou kamerjas met ‘n beker koffie sit en merk; en as jy op ‘n plaas woon soos ek, dan is daar Janfrederikke, Tiptolle, ‘n mooi Speg,  sebras, kameelperde en ander mooi goeters wat jou aandag deur die venster kan aftrek.

Gister het iets vreesaanjaends egter mý aandag afgetrek. My staffie hond het sy slangblaf gegee en toe ek uitstorm vind ek hom al dansend om ‘n meer-as-drie-meter Mamba! Hy is ‘n gesoute Mosambiekse spoegkobravanger, maar vir hierdie een was hy instinktief meer versigtig. En dit minder as twintig tree van my slaapkamer skuifdeur af! Ons het nie op die oomblik enige vuurwapens nie, en ek het ‘n lang stuk yster gegryp vir ingeval… nie regtig om die slang mee aan te durf nie, meer as ‘n troos indien ek regtig moet.

Die oomblik toe ek vir Boesman begin roep om na my toe te kom, was hý net meer vasberade om mý te probeer beskerm. My keel was seer geskree toe hy uiteindelik vir ‘n slitsekonde sy aandag van die slang afgehaal het. Dié het oombliklik in ‘n klein boompie opgeseil en ek dog die boompie gaan knak onder die gewig! Gelukkig het Boesie dit nie gesien nie, en na nog ‘n paar roepe het hy na my toe gekom. Met een oog op die slang, en een oog op die hond om seker te maak hy is nie gebyt nie, het ek maar bewend gestaan van al die adrenalien.

Dis absoluut ongelóóflik hoe vinnig Mambas is. Die slang het nooit vir Boesman werklik probeer byt nie, dit was meer ‘n kwessie van: gaan weg jy irriteer my met jou geblaf! Toe die hond vir ‘n slitsekonde sy aandag op my geplaas het, het die slang gevlug in plaas van aangeval. Dit kon net sowel anders gewees het. Een ding weet ek, ek gaan defnitief nie met ‘n stok na ‘n mamba slaan nie. Al was dit by my huis, is ek bly die slang is weg en nie dood nie. Daar is ‘n hele paar rotte wat egter nie lekker gaan slaap vanaand nie!

Ek stap in die somer baie in die veld wanneer ek Lantana spuit, maar ek kan letterlik op my een hand tel hoeveel keer ek al slange teëgekom het in die agt jaar wat ons op die plaas bly; en net een keer was dit ‘n mamba en dit was ‘n monster groter as hierdie een.  By die huis kry ons in die somer baie Mosambiekse spoegkobras, hierdie is maar die tweede mamba wat ons by die huis kry. Al wat ek gereeld gewaar is die Groengespikkeldebosslangetjie wat in die Eskom se vooruitbetaalmeterboksie bly. Hy bly nou al meer as ‘n jaar daarin, en glip vinnig agter die metertjie aan die binnekant  in wanneer mens dit oopmaak.

Na ons slangonderonsie het ek nog ‘n rukkie buite gestaan en sien toe twee oulike goed. Ongeveer tien kilometer van my af was daar vanoggend ‘n brand, en hierdie flentertjie blaarassies het uit die lug neergedaal om neffens my kamerdeur teen ‘n graspolletjie te kom lê om ekstra nutriënte vir die seisoen se groei  te verskaf.

Kyk net hoe perfek het hierdie assie gebly, meer as 10km aangewaai deur ‘n lugstroom

Terwyl ek dit bestudeer, sien ek toe daardie graspolletjie en al die graspolletjies rondom het sulke walletjies om die polletjies. My eerste gedagte was miere, maar toe onthou ek die sebras se blaas en kou in die oggende. Is dit nie te oulik nie… mens kan duidelik sien hoe hulle die polletjies oopblaas om dan allerlekker te kan knibbel aan die grassies.

Regs onder op die foto is die oorblyfsel van ‘n bietjie sebra drool…

Dis lékker om op die plaas te bly. Slange en al. Want nou weet ek verseker, as die slange begin loop beteken dit net een ding – die somer kom en dan LEWE ek weer!

Categories: Plaaslewe, Skoolhou | 4 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.