Sommer maar net

Iets wat nêrens anders pas nie…

Uil en kuiken plaasdingerasies

Die du Preez’tjies het ‘n week of so beleef waarin kuikens en uile meer as een maal iemand se dag óf gemaak het, óf iemand se seepborreltjie gebars het.

In ons ou huis se garage het op ‘n stadium Nonnetjiesuile gewoon.  Ek het hulle skril roep egter baie lanklaas gehoor. Meer algemeen is Gevlekte ooruile wat hoe-hooee deur die nag. Die afgelope twee weke al hang hier twee om die huis rond en het ons ook al gewoond geraak aan hulle ander geluid. My hoenders wei minder as tien tree vanwaar ons hulle sien en nog nooit het ‘n kuiken verdwyn nie.

Enige iemand wat al ‘n uil van baie naby gesien het sal kan beaam dat geen foto reg laat geskiet aan daai oë nie… Gevlekte ooruile het die mooiste, mooiste geel oë wat so helder is, dit lyk of dit dwarsdeur jou kan kyk.

Die eerste keer wat ek dit gesien het was toe Marina ‘n jong uil hier kom vrylaat het nadat dit behandel was in ‘n veeartpraktyk waar sy praktiese werk gedoen het.  Ek was verras met hoe gemaklik sy was om ‘n wilde voël met daai vreeslike koue te hanteer! En ook verras hoe ‘n wilde voël so ‘mak’ kan wees… Hy het nie één keer enige teëstand gebied teen enige hantering nie en ook nie met my wat om hom kloek met my kamera nie. Hy het ons net deurgeboor met daai kyk!

Die tweede keer was dit ‘n nog jonger een wat in die garage op die vloer kom skuil het. Dit het nie gelyk of hy al kon vlieg nie, hy het geskarrel. Ons het hom in die bos agter die huis gaan neersit omdat ons bang was die honde kry hom beet. 

Ook hy het geen teenstand gebied nie, so klein bietjie geblaas, maar dit was al. Die volgende dag was hy terug en die honde het hom ontdek. Gelukkig het ek die geblaas  en geblaf gehoor… Ek het die mamma hoor roep en hom toe in Roelf se werkskamer toegemaak vir die dag en die aand het ek die venster oopgelos sodat die mamma vir hom kon kos bring. In die nag het ek weer die mamma hoor roep. Wel, hy kón toe vlieg, want die volgende oggend was hy weg. Vir ‘n hele ruk het ons hulle om die huis gewaar.

As kind het ons altyd hoenders gehad. Hokhoenders.  Een van ons takies was om die eiers uit te haal. Op enige gegewe dag was dit nie ‘n probleem nie, maar wanneer dit gereën het… Nou ja wel, hoenderpoep en reën is nie ‘n kind se speelmaat nie! Ons moes ook die vere uittrek wanneer my ma geslag het. Daardie nathoenderreuk is vasge-ets in die diepste bêreplekke van my brein. Vir daardie redes het ek gesê ek wil nie hoenders op die plaas aanhou. Nooit. 

Ek het toe nou na veertien jaar op die plaas besluit ek gaan tog maar die hoenderding doen. Ek het hulle drie dae in ‘n hok gehad en toe die deur oopgemaak… Die eerste paar weke het hulle saans hok toe gekom, maar toe besluit werfhoenders slaap in bome… so al om die hok en party bo-op die hok, maar nie binne nie. Ons geniet die vars plaaseiers en die kleintjies wat nooit wou eiers eet nie, geniet nou Ouma se eiertjies nadat hulle saam met my in die bos gaan eiers uithaal het en dadelik help klits het om roereiers te maak. Ek bederf my hoenders elke dag met ‘n bakkie mielies al kry hulle genoeg om te eet buite. Die kleintjies geniet dit natuurlik vreeslik om dit te strooi… as ek nie keer nie, gooi hulle ‘n week se rantsoen uit in een dag!

Die probleem met werfhoenders is dat die henne geheime plekkies soek om te lê en soms kry ek nie die nesse nie. Soms kry ek dit reg om hulle skelmpies te agtervolg en soms nie. Dan sien ek maar net een verdwyn en kom eet af en toe en verskyn dan na drie weke met ‘n swetterjoel donsies. So is daar toe nou weer ‘n hen wat weg broei en een dag so amper twee weke terug hoor ek iets bo-op my werkskamer se plafon. Dis oop van die garage se kant af vir pakplek vir Roelf. Sowaar toe ek omstap garage toe hoor ek ‘n gepiep! 

‘n Hen met pas uitgebroeide kuikens is ‘n tierwyfie soos min! Snawels en pote is uitstekende wapens teen kuikendiewe… Tussen haar en fyntrap op die balke was dit ‘n taak en ‘n half. Gelukkig het Annerine kom help met ‘n kombers om oor haar en die kuikens te gooi en ek het op die leer gestaan om die mandjie met kuikens aan te vat.  Veertien bondeltjies dons…

Drie weke tevore het ‘n ander hen twaalf kuikens gehad. Dit het nou my kuiken totaal gebring op ses en twintig, ‘n pragtige gesig om die spulletjie saam te sien skrop.

Skoolvakansies beteken vir my tyd om aan my handwerk te spandeer en ek het lekker glas gesmelt. Onder andere het ek ‘n paar uiltjies gemaak.

In my badkamer hang ‘n loodglasuiltjie van ‘n vorige vakansie se werk en in die lapa ‘n pottery uil met ‘n stukkende tak van meer as twintig jaar terug.

Vroeër hierdie week het iemand weer vir Marina ‘n jong Gevlekte ooruil gebring met ‘n beseerde vlerk. Sy sê as mens hulle op hul rug laat lê is hulle so mak soos ‘n hoender… Verseker het sy nog nie ‘n hoender gevang nie… Ek het, en dit was wild! 

Sy het x-strale geneem en gevind die radius en ulna is nie net gebreek, maar ook verplaas. 

Dis nie iets wat sommer self mooi sal aangroei nie, ‘n operasie met tydelike sjirurgiese penne is al wat sy redding sou wees. Sy werk tans vir die staat en daar is nie geld vir sulke dinge nie. Sy het vir die penne uit haar eie sak betaal en ‘n kollega wat spesialiseer in voëls het haar geleer om die prosedure te doen. 

Sy het voor die prosedure gevra of hy in my hoenderhok kan kom aansterk aangesien my hoenders nou buite slaap, maar hy sterk nou aan by ‘n gespesialiseerde uilrehabilitasie fasiliteit totdat hulle weer die penne verwyder. Ook maar goed want ek het nou weer my hok nodig…

Henne met kuikens slaap op die grond en nie in die bome soos ongebonde geveerdes nie. Die dag voor eergister het ons ontdek mammahen van die kleintjies en ‘n nege van die groot kuikens het in die nag verdwyn, sonder dat die honde vir ‘n dierasie geblaf het. Ek kon hulle nie gevang kry nie en hulle moes ‘n nag alleen trotseer. Groot probleem… die volgende oggend naa die eerste wegraap is die kuikens nóg minder, met net die drie grotes en vier van die kleintjies oor. Groot skade!

Ons kry nie vere nie, ook nie bloed of derms nie. Niks. 

Al wat ons kon kry gister is twee uitgevrete uilkuikens bo-op die watertenk… 

Of hulle ouers die kuikenwegrapers is weet ek nie, want die ander hoenders slaap in die boom reg langs die boom, sonder angstige kekkels en kraaie… En die kuikens wei daar ongestoord. Dit was ‘n proses om hulle te vang. Hulle is nou so mensverskriklik toe ek gaan kos gee hol hulle in die diepste donker hoekie in…

Hoe-hooee… my kinders moet eet…

Kekkelekê… is my kinders dan die kos?

So is die ou lewe nè… 

Advertisements
Categories: Familie, Omgee, Plaaslewe, Sommer maar net | 2 Kommentaar

Liewe Christa

Vandag is jou grootword-dag, jy is ook nou ‘n tannie…

Dit was so wonderlik om jou te sien met Hanlie se spesiale verjaardag, dit het net gevoel of die jare wegval en ons kon omtrent nie ophou praat nie.

Hanlie was my eerste ervaring van sosialisering buite my gesin, en jy was tweede, ek het jou ontmoet die eerste dag van graad een in juffrou Heilie se klas.

In ons skooljare was daar nog nie amptelike uniforms wat mens in ‘n winkel kon gaan koop nie, ons ma’s moes maar maak. Gelukkig was ons ma’s almal handvaardig. Die eerste ding wat ek van jou onthou is jou twee vlegsels en jou skoolrokkie wat anders gemaak was as ons s’n. Jou ma het Crimplene gebruik en in plaas van ‘n aparte wit hempie maak, het sy wit moutjies aangewerk, asof dit ‘n wit hempie is. Klein soos ek was, het ek nogal gedink jou ma is baie innoverend, want jou rok hoef nie gestryk te word nie, en jy kry nie so warm soos ons wat ‘n hempie en ‘n rokkie aan het nie. Ek en Hanlie weer, se ma’s het self ons skoolbroekies gemaak. Ek onthou dit was van dieselfde materiaal as die rokkies en myne het pof gestaan en ek het myself siek geskaam daarvoor… en ja, ek het julle winkel skoolbroekies begeer… ek het myne in standerd een gekry toe ons in juffrou Kobie se klas was.

By jou het ek vir die eerste keer alleen uitgeslaap. Hoe opwindend was dit nie vir my nie! Jy het net een keer by my kom slaap, end ek was BAIE  teleurgesteld toe jy die aand gehuil het en jou pa jou moes kom haal… Ek het later jare dit oordink en dink die piepiepot onder ons bed en die kleinhuisie buite moes dalk baie bygedra het tot jou huistoe verlang…

Ek en jy was nie sportreuse nie, maar het mekaar opgekeil in akademie. Jy is na matriek onderwys kollege toe en ek het by die Technikon gaan chemie swot, en uiteindelik het ek in dieselfde beroep geëindig, in dieselfde vakgebied, Wetenskap.

Baie dankie vir al die wonderlike speeltye en lewenservaring wat ek by jou gekry het. Jy het ‘n groot aandeel in hoe ek gevorm het en ek sien uit na die kuier wat ek, jy en Hanlie beplan vir iewers hierdie jaar.

Mag jou lewenspad vorentoe vol rose sonder dorings wees en jou gesin baie lank geseën word met jou teenwoordigheid.

image

Categories: Sommer maar net | 2 Kommentaar

Ledigheid is die duiwel se oorkussing

Desember vakansies is sekerlik van die spesiaalste tye in my lewe. Die rede… tyd. Tyd om by my gesin te wees. Tyd om aan my huis te spandeer. Tyd om te lees. Tyd om tuin te maak. Tyd om in die veld te gaan loop. Tyd om te werk aan allerhande lekker dinge. Tyd om net bietjie my menswees in te haal wat verlore raak in die stres van skoolhou, voorbereiding, eksamens, vraestelle, ander mense se kinders, personeelkamer politiek en ander benullighede wat mens tot raserny dryf.

Ons skool is ‘n matriek merksentrum en ons sluit dus ‘n week vroeër as ander skole… bonus tyd!

Ek het weggetrek met ‘n krat appelkose en ‘n krat perskes wat verwerk is tot bottels en bottels vol konfyt en kerrie perskepiekels om in my boerespens te pak vir die volgende jaar. Spesiale mense kry soms ‘n botteltjie as ‘n geskenk, en dit word spesiaal verpak. Toe het ek en my liefste man ‘n week weg spandeer by Sodwana – heerlik geduik, leeg gelê en gelees. Mens kan nie net herinneringe in jou kop weg bêre nie… mens moet ietsie maak om die see se mooi op te roep. Daarom het ek vir my ietsie gemaak om om my nek te hang om die see te onthou.

My eerste handwerk projek vir die vakansie was loodglas venstertjies vir my kombuiskassies. So groot projek is ‘n tyd-vreet-gogga van formaat en ek eet, slaap en lewe tot dit klaar is. Daar is drie groot vensters en een langetjie om te vul, ek het nou net fase een gedoen, twee van die groot vensters. Al rede waarom ek nou net twee doen is dat ek nie op die patroon van die middel venster kan besluit nie.

Tussendeur die loodglas het ek my mikrogolf oondjie gebruik om glas hangertjies te maak. Dit neem baaaaie lank vir die glas om af te koel en die versoeking is kleiner om in te loer as daar iets anders is wat my besig hou.

My twee liewe kleinkinders was albei bietjie olik laasweek en hulle het maar baie van my handwerk tyd opgeneem, maar dis beleggingstyd in hulle lewe, so dis nie tyd wat gemors is nie.

IMG-20141123-00087.jpg

Zelmarie lees vir Roelof ‘n storie

Ons bly mos in die bos en die bokke loop reg by my huis en loer in by my deur. Daar is altyd iewers ‘n veldblom of twee wat blom, maar ek wil nou bietjie gewone blomme hê ook en ons het besluit om hulle so bietjie uit te span. Ek het nou al een bedding gemaak en Roelf het vir my ‘’n groooot visdam by die swembad gebou. My goudvisse broei teen ‘n tempo en dis goed so, ons wil later ons groentetonneltjie met die nutriënte uit die visdam natmaak.

Roelf het my die week gehelp om presente vir my tuin te maak, stapblokke (‘stepping stones’) wat later gebruik gaan word saam met wit spoelklippe in ‘’n gedeelte van die tuin wat nog in beplannig is.

Ek het ook my naaimasjien nader getrek en vir die eerste kker in ‘n baie lang tyd vir myself iets gemaak. Sommer net ‘n vinnige lekker los viskose langbroek. Dan was daar die ‘normale’ kombuis werkies soos beskuit bak en ‘n heerlike vrugtekoek…

Vandag het ek wildsvleisies sag gekook sodat ek môre lekker pasteitjies kan maak vir ons familie Kersete in Pretoria.

Dan het ek nog twee weke se vakansie oor wat ek gaan spandeer aan pewter en verf. Ek is besig met ‘n reeks bome in pewter vir my sitkamer, ek het al in die Julievakansie begin en dit moet nou klaar. My kombuis moet ‘n hoenderhaan kry in pewter, in akriel verf en in glas.

 Nou ja, ek kan nie tyd skep nie, maar ek kan my tyd bestuur en maksimum benut. Ledigheid is immers die duiwel se oorkussing en deur besig te bly, lewe ek tot eer van God wat vir my wonderlike geleenthede en talente gee.

Categories: Slakgedagtes, So doen Slakke dit, Sommer maar net | 1 Kommentaar

Moedersdag

Liewe Ma,

‘n Duisend rose gaan nie genoeg wees om op hierdie dag vir Ma te gee nie. Ma was en is vir ons die beste voorbeeld van Moederskap wat daar is.
Sonder kla en murmurering het Ma ons spannetjie van agt grootgemaak met ‘n oorvloed van liefde en sorgsaamheid. Niks was ooit te veel gevra nie.

Een van die mooiste eienskap wat Ma ons geleer het is dié van positiwiteit. Die silwer randjie om elke donker wolk is een van die lewenslesse wat ek baie hard in my eie lewe probeer toepas. Maar ek kry nie die blikke en blikke vol tuisgemaakte koekies reg nie, daar skiet ek vêr te kort!

Dankie Ma. Dankie vir wie Ma is en vir alles wat Ma in ons lewens toegevoeg het wat defenieer wie ons vandag is.

image

Anne Pretorius, ampertjies 80 jaar oud en altyd aan die glimlag. Ons blomme-Ma. Ons liefde-Ma.

Categories: Sommer maar net | Lewer kommentaar

Oor brille en pille…

Ek moes gewéét het dat multifokale brille ‘n onding is! Brille lei na pille, onafwendbare tekens van die ouderdom wat ons bekruip terwyl ons oogklappe-toe-deur-die-lewe probeer gaan…

So moes ek nou onlangs ‘n hartpilletjie begin drink om te kyk of ons die ou pompie in ‘n oordentlike ritme kan dwing. Maar wee o wee… Die pilletjie akkordeer toe nie so goed met my nie.

Ek was maar baie bang vir die angiogram wat moes kom. Baie. Bang vir wat hulle kon sien. Bang vir die onbekende. Bang dat die proppie in my lies uitspring en ek alles uitbloei sonder dat iemand sien.

Ek was so lanklaas in ‘n hospitaal dit voel asof ek in ‘n vreemde land is… My eie taal word skaarser as skaars gepraat, al wat ek hoor is die inheemse taal van die omgewing behalwe wanneer ek direk in Engels aangespreek word. Bekwaam, ja… Ek is net nie so seker van die nagpersoneel nie. Daar is van dokter se instruksies verontagsaam wat nadelig vir my kon wees en dit is nie ‘n goeie beeld van gesondheidsorg nie.

My eerste ete was nogal ‘n beproewing, mens mag mos net jou kop regop bring in die eerste agt ure. En hier kom ‘n bord met varkribbetjie en rys wat swem in soja sous… My leêr besonderhede was duidelik nog nie kombuis toe nie! Die dametjie het mooi verstaan waarom ek nie die kos kon eet nie en het dadelik gevra wat sy dan kan bring. En ‘n paar minute later het ek ‘n bord kos gehad wat ek met my hand en ‘n lepel kon lê en eet, en sojaloos.

Ek het nie omgegee om wakker te wees vir die prosedure nie, maar daai koue in die teater het my laat ruk. My linkerbeen en halwe lyf het hulle darem toegegooi en warm lug ingeblaas wat baie verligting gebring het.

Die teaterpersoneel was medies baie professioneel en het voortdurend met my gepraat en my op my gemak gemaak veral wanneer hulle gewerskaf het sodat ek presies geweet het wat gebeur wanneer. Vol grappe en lag was hulle ook en ek is ongenadiglik gespot oor ek so klein is. Die narkotiseur en kardioloog moes beide aanpassings met hulle toerusting maak, hulle is gewoond aan mense trippel my size… My arme susters het dadelik die skuld vir my grootte gekry, want hulle het sweerlik al my kos gegaps, nie soos die twee dokters wat sommer van die begin af te veel moedersmelk ingekry het nie, het die ronde narkotiseur gespot…

My bloeddruk val mos die dieptes in as jy net te stip vir my kyk en in die herstelkamer moes ek kort-kort hoor: ‘Mrs D, open your eyes’ wanneer die afgrond my wou verswelg terwyl die suster vir twintig minute aaneen direkte drukking toegepas het op die slagaar waarvandaan die dokter gewerk het.

Vir nou is ek nog ‘n gevangene in ‘n 2×2 gordynhuisie, vasgeboei met ‘n naald wat koue drup drup drup my arm in.

Die eerste vier en twintig uur van twee en sewentig is verby waarin ek nie my been mag buig of sit nie.
Gelukkig mag ek self toilet toe stap, ek moet net eers roep sodat hulle seker maak ek val nie om nie… Gelukkig het my bloeddruk darem al vandag 107/70 gehaal…

Ek dank God dat daar geen tekens is van koronêre hartvatsiektes nie. My probleempie is egter nog nie opgelos nie en die nuwe hartpilletjies lyk belowend maar nou is daar weer ander newe-effekte wat aangespreek moet word voor ek kan huistoe gaan.

Brilletjies en pilletjies, ek aanvaar julle maar in my lewe, want sonder julle was my lewenskwaliteit dalk nou baie anders as wat dit was. Viva… ja, viva!

Categories: Sommer maar net | Sleutelwoordw: | 11 Kommentaar

Piouter blommetjies vir my ma se teeblikkies

iBoké

Daar is so min wat mens vir iemand kan gee wat min plek het. Daarom het ek besluit om vir my ma se 79e verjaardag net iets by te voeg by bestaande items in haar aftree-oord kombuisie.

Wanneer ek aan haar dink, dink ek aan blomme. Sy is baie, baie lief vir blomme en het in moeilike omstandighede ‘n lushof vir haarself geskep om in te ontsnap. In bar klipperige grond, teen ‘n steil helling, het sy self terrasse gebou met klip. Kruiwa vir kruiwa. Sy het water met emmers aangedra totdat sy leivoortjies gekry het om haar geliefde plante nat te lei.

Plate pronkertjies in skakerings van pienk en pers se geur is vasgelê in my diepste onderbewussyn. Die vrolikste Namakwamadeliefies se geur klou taai aan my vingers vas. Aan die einde van die seisoen het ek altyd vir haar die saadjies geoes, en dit het ‘n kenmerkende taai…

View original post 103 more words

Categories: Sommer maar net | Lewer kommentaar

Vandag was my dag van harte

‘n Rukkie gelede het ek op een van my ander blogs ietsie geskryf oor die Blaas-klimop, ‘n uitheemse rankplant met medisinale waarde. Dit het swart en wit saadjies en ek het nie op daardie stadium ‘n foto geneem van die pragtige detail van die saadjies nie. Een van die Engelse algemene name is Love-in-a-puff en is ‘n verwysing na die roomkleurige hartjie op die swart saadjie, en die saadjie groei in ‘n pof omhulseltjie.

IMG_8846.

Ek was so lanklaas in die veld en het vanoggend besluit vandag is die dag wat ek net vir myself gaan vat en doen net wat ek wil. Een ding wat ek op my agenda gehad het was om te gaan kyk of hierdie pragtige saadjies al begin ryp word sodat ek ‘n foto kon neem.

“Hoeveel keer het ek nie al by hierdie klip verbygestap nie…” was een van die eerste dinge wat ek gedink het toe ek hierdie hartklip reg langs my roete kry wat ek baie gereeld stap. En hy was nie verskuil in bossies en gras nie, oop en bloot het hy gelê. Siende blind stap ek al by hom verby vir amper tien jaar.

Hartjie-my-liefie, sit my in jou sak en vat my saam...

Hartjie-my-liefie, sit my in jou sak en vat my saam…

Dit het my nogal laat dink oor hoe ons so baie keer nie God se liefde vir ons raaksien nie. Dis daar, altyd… ons moet net ons oë  oopmaak en dit raaksien. Alles gebeur met ‘n doel al is dit hoe moeilik vir ons om te verstaan. Sy Liefde dra ons, ons moet net gedra WIL wees. WIL vandag dat God jou liefhê.

Categories: Sommer maar net | 2 Kommentaar

Laaste sonsondergang van 2012

Vader in die hemel,

Baie dankie vir al die seëninge in ons lewe. Dankie dat die son so mooi totsiens gesê het vir 2012. Dankie dat ons kan hoop op ‘n nuwe môre. Dankie vir al die liefde van die mense rondom ons.

Dankie dankie dankie

Amen

Categories: Sommer maar net | 5 Kommentaar

Stof tot stof

‘n Wetenskaples in kort vir jou oor Stikstof, een van die belangrikste elemente op die periodieke tabel, en weerlig.

Ons atmosfeer bevat amper 78% stikstof en dit kom voor as ‘n diatomiese molekule, N2. Hierdie molekule is inert (dit beteken onreaktief) en om die bindings te breek sodat die atoom met ander atome kan verbind, benodig ‘n enorme hoeveelheid energie.

Weerlig is ‘n natuurlike bron van energie wat genoeg is om die bindings te breek sodat die stikstofatome met die suurstof in die atmosfeer kan verbind om stikstofoksied te vorm. Dit los op in die rëen en vorm oplosbare nitrate wat na die aarde val om die grond te verryk.

Plante gebruik hierdie nitrate uit die grond en vorm nutriënte. Ons eet die plante en proteïene soos spiere vorm in ons liggame. Uiteindelik verrot ons wanneer ons sterf en word die stikstof weer vrygestel aan die atmosfeer.

Stof tot stof.

*************

Gaan lees hier meer oor die stikstofsiklus, dis in eenvoudige taal geskryf

Categories: Gedigte, Slakgedagtes, Sommer maar net | 8 Kommentaar

please reboot

System low on memory. Please reboot to clear cache. System frozen can’t go into sleep mode due to too many programs running in background. Ouch system crash system crash with loss in all functionality… Input all variables into human equation equals to severe migraine to force human down.

Categories: Sommer maar net | 13 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.