Monthly Archives: Mei 2012

Vandag het my lewe iets beteken…

… want ek het ‘n klein bydrae gelewer tot die aanteken van biodiversiteit in ons land!

Ek het gister die pragtigste tor gekry toe ek gaan stap het, dadelik afgeneem en netnou op die iSpot biodiversiteit webblad geplaas.

Volgens ‘n kenner op die gebied van torre is die spesie nie veronderstel om in my omgewing voor te kom nie. Die insek was reeds dood toe ek hom gekry het, en ek het hom nou in ‘n houertjie op my studeertafel waar hy ‘n ereplekkie sal beklee as een van my kosbare besittings.

Taurhina splendens (Regal Fruit Chafer)

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | Sleutelwoordw: , | 2 Kommentaar

Vir oulaas…

Ek verstaan nou dat jy in my huis gepiepie het om te kan ruik waar jy moet gaan… dit het ek besef toe ek laasweek jou kosbak grond toe geskuif het en jy daar ‘n groot plas gaan staan en maak het.

Dis nou al meer as ‘n week wat jy nie by my kom slaap nie. Laaste keer was laasweek toe ek ‘n middagslapie gevat het en ek wakker geword het van jou wat oor my prrr en sentimeters van my gesig af na my staar. Het jy dalk vir my totsiens kom sê?

Vrydag het ek vir jou gekyk waar jy sit en dut en dit was weird. Jou blinde oog was oop en starend, maar die gesonde ene was toe. Die pupil was normaal vir ‘n helder dag toe ek oor jou ruggie vryf. Saterdag het ek jou glad nie gesien nie, en ek het my bekommer oor jou. Sondagoggend het ek jou saggies hoor maaiu, en my hart was bly om jou te hoor… Die saggies miaau was jou manier om te sê jy soek kos. Roelf het sommer gegaan, want dit was teedrinktyd vir my in die bed soos naweke nou maar is.  Maar hy het teruggekom en gesê dit lyk nou asof daar bloeding agter jou oog is, gesê dit lyk sleg.

My Pieterjie! Nee! Dit is dan sy gesonde oog! Ek het sommer begin huil. Dis allervreeslik. Die regteroog se pupil is dof en starend, en nou die linkeroog ook met vergrote pupil maar wat bloedrooi gloei.

Ek weet nie of hy dalk in iets vasgeloop het of wat nie. Ek het so gehoop die groot besluit kon nog ‘n bietjie wag. Toe ek skottelgoed was het hy my gehoor, en toe kon ek sien dat hy nou niks meer kan sien nie. Die katte se inkomvenster is langs die waskamer, en ek het gesien hoe hy regop teen die vensterbank gaan staan en voel-voel beweeg tot hy die opening gekry het. Hy het nie gespring soos altyd nie, maar homself met moeite opgetrek tot op die vensterbank.  My hart was stukkend en vir oulaas het ek spesiaal ‘n sakkie tuna oopgemaak nét vir hom.

Vir oulaas het ek vandag ‘n kiekie van jou geneem waar jy in die sonnetjie lê en bak. Ek moes mooi mik, sonder om jou oë te vang. Vir oulaas het Pippie kom krulstert trek in onderdanigheid vir jou. Jy het haar nie eers gesien nie, eers toe ek raas het jy notisie gevat. Vir oulaas het Oreo haar teen jou kom skuur.

  

Ek het jou nou net buite gaan haal. En gehuil toe jy binne teen alles vasloop en net wil uit. Nou sit jy by my op die bed en ek hoop dat jy vir oulaas my bene gaan warm lê en jy jou laaste nag kan warm slaap.

Ek sal nie huil môre-middag wanneer ek jou vat nie. Sorry my Pietertjie, maar ek kan nie sien dat jy ly nie. Ek sal jou vashou wanneer die naald gaan prik. En dan gaan ek huil…

Vir oulaas my Pietertjie…

*****

Ek is dankbaar dat ek kon afskeid neem van ons Pietertjie vandag. My gedagtes is by die Odendaals wat nie so gelukkig was hierdie naweek nie. Drufus Odendaal is Vrydag wreed vermoor met gif. Die een oomblik was hy nog daar, die volgende was daar ‘n doodsroggel voor hulle by hom kon wees.

Sy lewensmaat treur nog steeds. Haar oë was die hele Saterdag nat en treurig, haar stem doodstil in rou. Boksers lyks soms treurig wanneer jy na die afdraende bekke kyk, maar dis die weduwee se oë wat die storie vertel.

R.I.P Drufus Odendaal

Categories: Slakverdriet | Sleutelwoordw: , | 6 Kommentaar

Ek jaag daai wildehond…

Wanneer ek kombuis toe stap dan byt die ding my aan my skeen. Wanneer ek buitentoe wil stap dan spring die dêm ding teen my op. Wanneer ek werk toe gaan dan beloer die ding my belustig om elke hoek. Wanneer ek my oë toemaak om te slaap dan kweel die ding verdomp my nagmerries vol.

Maar vir jou wildeswartdêmhond, ek  skrik nie vir jou nie. Ek ken jou soort.

Voertsek man.  Voertsek.

Hou op om te lol met my.

Ek verjaag daai wildehond met besig bly…

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Slakgedagtes | 2 Kommentaar

As jy my gaan vaskeer gaan ek spring…

Dis geen geheim dat ek die ander organismes op my plaas respekteer nie. Maar soms druk mens hulle ook maar te ver in jou poging om hulle met jou ander oog vas te vang.

Met Annerine se troue wou skoonsus Annemarie die horriepiep kry oor ‘n onskuldige Suidelike skuimnespadda wat die stort in die houtbadkamer met haar wou deel. Ons pogings om haar te oortuig dat hulle gewoonlik nie sommer op jou sal spring nie, het haar natuurlik glad nie oortuig nie…

Maar nou ja… gewoonlik is ook maar ‘n relatiewe begrip…

Toe ek uiteindelik onthou om hom te gaan afneem, het ek die ander gedeelte van gewoonlik ervaar.

Ek het die ou gekarring vir ‘n beter hoek met my derde oog, toe hy besluit al waarheen hy nou kan gaan is reguit in my gesig in… en kerplaks daar kleef die ding toe my hele gesig vol! Die lyf het my hele brilarea vol gesit met daai klewerige pootjies op my voorkop en op my neus.

Ek kon maar net lag vir myself, want gril die doen ek nie vir paddas en goggas nie! Ek is net spyt ek het nie die kamera omgedraai en dit op myself gerig nie.

En so het ons nie vir Annemarie gejok nie, hulle spring net wanneer jy aan hulle karring, dis verseker!

Gaan maak gerus ‘n draai by my ander blog waar ek al my maatjies met die wêreld deel.

 

Categories: Lekker lag | Sleutelwoordw: , | 4 Kommentaar

Pietkat kry ‘n nuwe naam

Sowat sestien jaar gelede het ons Asjaskat drie kleintjies gehad. Twee dogtertjies en ‘n seuntjie. Sy was ‘n ligte gemmerkleur, meer kameelkleurig sou ek sê. Die twee dogtertjies was hoofsaaklik wit, maar met bietjie gemmer en grys ook ingeklits. Lang hare, en hulle was sag en liefies soos dit by dogtertjies hoort.

Die gemmer seuntjie aan die ander kant haad ‘n persoonlikheid van sy eie, wild en glad nie geneë vir enige aanraking nie. ‘n Ander huis kon ons nie vir hom kry nie, want niemand wou ‘n kat hê wat krap en blaas nie.

Die dogtertjies was gou-gou weg en so bly die seuntjie toe maar aan, want SPCA toe kon ek nie oor my hart kry nie.

Ons doop hom toe Pieter Hol… want as hy ‘n mens sien, dan hol die simpel kat. Mettertyd het hy langs my op die stoel kom sit, maar ook maar net tot ek my hand uitsteek om aan hom te vat. Stadigaan het ek sy vertroue gewen totdat hy heeltemal tuis was by die hele gesin.

So tuis het hy geraak dat hy selfs toegelaat het dat Marina hom in haar popwaentjie vasgordel en in die gang afjaag – geklee in ‘n pienk babygrow. Sy platgetrekte ore en skrefies oë was iets om te aanskou! Wanneer hy genoeg gehad het, het hy één spring gegee en dan was hy uit die waentjie én uit die babygrow.

Annerine het hom die meeste bederf en hy het haar Pieter Diesel geword , so hernoem oor sy harde prrr.

Kort voor ons plaas toe getrek het,  het ons vir Piet amper verloor. Soos dit nou maar by manlike diere van enige soort is, was daar ‘n ander mannetjie in die omgewing wat meer dominant was as ou Piet. Dié het ons arme Piet so gebyt dat sy agterbeen begin sweer het, en voor ons hom kon aankeer veearts toe, het ou Piet gaan wegkruip. Ons bekommernis was groot, want die sweer was lelik. Gelukkig het hy een oggend voor skool uit sy skuilplek gekruip vir kos en kon ons hom met ‘n groot gesukkel vang. Die veearts moes baie weefsel verwyder en het gewaarsku dat hy dalk die gebruik van sy been sou verloor, maar gelukkig het hy net ‘n baie effense hink in sy stap oorgehou.

Toe ons plaas toe getrek het agt jaar terug was dit ook omtrent ‘n storie. Die laaste week het ek op n matrassie in die gang geslaap vir privaatheid en het reggekom met die minimum, Roelf was toe al vir drie maande op die plaas. Toe ek begin kar pak was Piet net weg. Ek pak en pak en Piet is weg. Ek moet sleutel oorgee, en Piet is weg. Die nuwe eienaars se opmerkings oor pellets en katte wat hulle gou-gou regsien het my vir twee ure op my rug laat lê en wag in die dolleë huis. Met ‘n groot gesukkel het ek hom in ‘n vervoerhokkie gekry toe hy uiteindelik opgedaag het, en het ek hom maar by die veearts laat inspuit met ‘n kalmeermiddel, want tyd vir Rescue se saggies werk was daar nie meer nie. Dit was ook maar net genoeg om hom stil te laat lê, sy poot het maar kort-kort gekap na ons hondjie wat saam met hom moes ry. Hy het nooit erg gehad aan enige hond nie.

Op die plaas het hy onmiddellik pad gevat die bosse in en ons het hom amper twee weke later op die hoop bokse met ons aardse besittings gekry wat onder ‘n seil gepak was. Daar was ons reuk, en daar het hy gaan skuil.

Hierdie bedonderde kyk is hoe ons vir Piet ken. Die foto is geneem kort na Annerine gaan studeer het, dus erens in 2007.

Piet is nie goed met trauma hantering nie. Met die eerste brand was hy vir ‘n maand lank weg. Ek het kos uitgesit en iets het dit geëet, maar of dit Piet was wis ons nie. Ek was baie dankbaar toe ek hom gekry het, maar hy het my arms flenters gekrap toe ek hom na die chalet wou neem waar ek toe gebly het. Ek het hom toe maar in ‘n kussingsloop gestop en gevat. ‘n Veearts het my eendag vertel dis die maklikste om katte te vervoer. Hy het net ‘n rukkie gebly en dan loop hy weer weg na sy wegkruipplek in die pompkamer. Ek moes hom vir amper ‘n week lank elke dag instop en lekkernye voer voor hy uiteidelik by die chalet gebly het.

Met die honde het hy nog steeds nie oor die weg gekom nie, en al is ou Piet bejaard, is hy nog bokant Pipstert op die territoriale lys. Ou Pippie het ‘n lidteken op haar oogbank wat getuig van gebiedsafbakening, katnaels en klein hondjies…

Maar nou is Piet weer herdoop. Hy is nou Piet Piepie.

Na die eerste huis gebrand het, het dit begin. Enige verandering of harde geluide in die huis, en hy gaan maak sy blaas leeg op my bed. Soos in sopdeurnat-stinkend-vrot.  Harde bliksemslae, dan pie ou Piet voor hy onder die bed inkruip.

Toe die chalet gebrand het, was ons ou Piet maar weer soek, ek het hom gouer gekry en hy het my nie weer so stukkend gekrap nie.

Hy het egter ‘n persoonlikheidsverandering ondergaan! Skielik hol hy nie meer weg wanneer hier mense kom nie, en Pippie kan selfs in dieselfde vertrek inkom en minder as ‘n halwe meter van hom af verbyloop.

Piet was nog nooit juis ‘n jagter nie, en in die chalet het ek agtergekom Piet eet skielik baie meer muise en voëltjies. So paar weke gelede het ek agtergekom hoekom… Ek het een aand ‘n snaakse diergeluid gehoor in die gang. Piet wat by my op die bed gelê het, het onmiddellik afgespring en is die gang af. By nadere ondersoek vind ek toe dis Oreo Vetkat wat vir hom ‘n muis gebring het.

Om te verhoed dat Pipstert brak die katte se kos opvreet, sit ek dit op die wasmasjien. Voorlaasweek het ek begin agterkom Piet spring die wasmasjien mis. Eers het ek gedog dis nou maar die bene wat begin rumatiek kry of iets, maar dis veel erger. Piet is besig om blind te word! Sy een oog  is so glaserig en beide pupille heeltemal verwyd.

Is dit dalk die rede waarom Oreo so sorgsaam vir hom kos aandra? Omdat hy nou Pieter Mol word? Die gedagte is vir my erg, ek weet nie of ek kans sien daarvoor nie. Maar ek sien op hierdie stadium ook nie kans vir die alternatief nie…

Kom ons bly maar liewer by Pietertjie du Preez. Dis minder seer.

Pietertjie du Preez net na die chalet gebrand het. Kyk die uitdrukking is sy oe is rustiger as op die vorige foto.

Categories: Slakverdriet | 9 Kommentaar

Moedersdag

Daar is nie ‘n manier waarop ek in een klein bloggie kan hulde bring aan my ma nie. Daarom is ek besig met ‘n boek oor haar lewe… ‘n dankie-sê geskenk vir haar, want haar lewe is iets om te deel met ander.

Dankie Ma, in elk geval.

‘n Blommetjie uit my veld vir Ma

Categories: Sommer maar net | 4 Kommentaar

Damesvingertjies bring heimwee in my hart

Weet jy wat ‘n Damesvingertjie is?

Dis ietsie uit my kinderdae wat min mense ken… en my oë het vol trane geskiet toe my vriendin Bianca vir my laasweek ‘n paartjies uit haar tuin gebring het.

Net effentjies langer as my vriendin se wysvinger

Dis die heerlikste piesankies met ‘n delikate soet-gemeng-met-bietjie-suur smaak. Wanneer hulle baie ryp is het dit ‘n effense glibberigheid, nie melerig soos winkelpiesangs nie. Hulle het baie dun skilletjies en al is daar ‘n swart kol op die skil soos die enetjie hierbo, is die vrug binne nog vars. So is hulle op hulle lekkerste…

Dit het my sommer laat verlang na my vriendin Christelle in Pretoria wat weer altyd vir my ‘n granaat uit haar tuin gebring het.

Dankie vriendinne, vir julle hartsgeskenke.

Categories: Sommer maar net | 4 Kommentaar

Sakkie lemoene vir die kerk

 Dit voel vir my soos gister toe ek saam met Jan gaan huisbesoek doen het op daai plaas. Dit was ons eerste beroep, en jong afgestudeerde predikante  glo aan God se wil en vat maar wat hulle kry. Die Here weet, huisbesoek op die plase was vir my ‘n uitkom soos winkels toe gaan vir vrouens in die stad. Daar was níks in daardie Godverlate dorpie nie. Níks. En Sondag sit almal vroom en ontvang seën vir die week wat kom. Net om die seën te mors op hoerery en drank.

Met teemaaktyd het ‘n langbeen meisiemens in die kombuis se deur gestaan en wink met die kop. Seker so by sestien jaar het ek haar geskat. Kombuis toe durf ek nie, dis andervrou se heiligdom.

“Ag Tante, kan Tante my dalk beduie na die toilet?” maak ek toe ‘n plan. “Nee, niggie, ‘n toilet het ons nie. Maar Susêr sal die toorts vat en saam met jou kleinhuisie toe stap. Daar is nog genoeg koerantpapier.”

Die meisiemens het heeltyd agter haar gekyk. Seker ook maar bang vir die donker.

“Antie, ek wil Antie iets vra.” My oë het die flitslig gevolg vir die geringste beweging van ‘n spinnekop, my hare reeds orent met die gedagte aan koerantpapier. “Antie, hoekom kom daar goed tussen jou bene uit?”  Heuwels slaan op my neer! Bykans sestien jaar oud en sy weet nog nie. Wat vir ‘n ma het sy?

Net toe hol daar iets wollerig oor my hand en teen die derde gil was ek klaar terug in die voorkamer.

Toe ons loop sê die meisiemens. “Ek het ook ‘n offer, Dominee. Daar neffens die voordeur staan ‘n sakkie lemoene vir die kerk. Dis vir al die seëninge Dominee.”

***

Dis jammer ek gaan nie meer skooltoe nie. Dit was lekker by die skool. Maar tye is swaar en Pa sê hy kan nie bloed uit ‘n klip tap nie. En buitendien moet ek help sôre, Ma kan nie meer alleen nie. Ek wonder of Santjie nog in die skool is. Maar háár ma het nie ‘n mank been nie. Dis nogal allenig op die plaas. Smôrens maak ons beddens op en maak kos. Smiddae vee ek die werf en soek eiers van die weglê henne. Dis dan wanneer ek dinge sien, en ek sien hoenders en bokke is ook maar soos mense, hulle sôre ook maar. Dan weet ek Pa was reg, my plek is op die plaas en dan is die verlang na Santjie ook minder.

Dominee se Antie het vir my ‘n hele boks vol boeke en tydskrifte gebring. Sy sê daar is ene wat vir my alles sal vertel wat ek haar laaskeer met huisbesoek gevra het, want sy het mos haar broek nat gepie oor ‘n simpel spinnekop oor haar hand gehardloop het.  Sy het vir my skoolboeke ook gebring en ‘n woordeboek. Ek het gaan kyk wat staan by sôre. Maar daar is niks. Die naaste wat ek kry is sorg.

***

“Pappa, is hierdie berig in die koerant nie van die mense uit ons eerste gemeente nie? Daai oom en tannie op die plaas met die dogter. Siestog, dit moes vreeslik traumaties gewees het. Sy darem ongedeerd. Ek lees gou vir jou ‘n stukkie uit die berig:

Die gemeenskap is geruk oor  die aanval op die Bekker gesin van die plaas Sorgenvry verlede Vrydag. Mevrou Anna Bekker se man Hugo het op haar verminkte lyk afgekom na hy van die landerye terug gekeer het. Hy is oorval en ernstig aangerand. Hulle sewe-en-dertig jarige dogter, Susara, was in die skuur toegesluit. Buiten ‘n paar snymerke aan haar bene was sy ongedeerd. Volgens speurder-sersant Viljoen van die plaaslike polisiestasie ondersoek hulle die moontlikheid van ‘n muti-moord. Hugo Bekker is gekastreer in die voorval.Volgens Hugo was hy geblinddoek en kon hy nie sy aanvallers sien nie.

Sjoe, kan jy glo daai meisiekind is nou al ‘n vrou van sewe en dertig jaar? Ek wonder of sy my nog sal onthou. Haar ouers  het haar mos laat in hulle lewe gehad, en dan het hulle haar mos vroeg uit die skool gehaal. Siestog, dit moes maar ‘n eensame lewe wees so afgesonder met net oumensgeselskap. Sy het so mooi vir hulle gesorg. Wou mos net altyd bak vir die kerkbasaar.”

***

Ek het nie gepraat van bloei nie, Antie. Ek wou weet van die ander goed. Ma het my vertel bloei is ‘n seën van God.

Die antie se boeke het my slim gemaak, sy het later sommer gekom sonder dat dit huisbesoek was. Dan het sy die een klomp boeke gevat en weer nuwes gebring. Partykeer was daar ‘n kant sakdoekie tussen die blaaie van ‘n boek. Of ‘n boksie Dainties met suikertjies wat kraak onder jou tande. Een keer toe ek verjaar het was daar ‘n botteltjie baba-olie vir my bene en ‘n skeermes om die hare af te sny, het haar briefie gesê.

***

Vir my dertiende verjaardag het Ma ‘n jodetert gemaak en ‘n baksel witkoek waarmee sy ystervarkies gemaak het. Saam met die kos se maak was sy amper heeldag voor die stoof. Haar gesig het vir my vertel haar mank been was seer, maar ons het lekker verjaarsdagkoek geëet.

“Skuif op Susêr, jou ma is moeg. Jy moet nou begin help om vir my te sôre. Sluk maar net as jy so voel.”

 “Die varkvet is goor, Ma. Dit maak my naar.” Dit was voor die antie die boeke gebring het. Die volgende dag het die bloubottel by my bed gestaan. Ma het ‘n warm bad getap en ‘n spul kruie ingegooi. Ek het geskrik toe ek sien hoeveel bloubottel ek moes drink en die water was baie warm en die kruie het gestink. “Jy kom nie uit die kleinhuisie voor ál die krampe nie opgehou het nie. Al sit jy daar vir drie dae.” Die krampe was baie erg. Naderhand was daar ‘n bloedstreep teen my been van al die krampe. Ma het kort-kort kom kyk. Sy het met die toorts op my jy-weet-wat gelig toe ek sê van die bloed. “Ek het ‘n nuwe stuk boerseep uitgehaal. Loop was vir jou behoorlik, ek is nie nog lus vir koors ook nie.”

Elke keer as die varkvet goor was het ek ekstra bloubottel gekry saam met ‘n kruiebad. Eenkeer het ek nie gesê nie en die naar afgesluk.  Maar toe is ek nie meer geseën nie.  Ma het dit gesien en toe is dit maar weer die stinkende kruie en die wag by die kleinhuisie.

Toe die nuwe dominee gekom het eenkeer het ek ‘n dankoffer gegee vir al my seëninge. Dit was die aand toe die antie ook saamgekom het vir die eerste keer.  

***

Moedswillige koekies vir die bokkapater. Ooibeklimmer. Bloubottel bloei bloedrooi teen my been. Bloei is ‘n seën van God. Vir wat wag jy so lank? Gaan begrawe die dêm gemors onder die lemoenboom.

Die lemmetjie is al amper skerp genoeg. Ek snuif behaaglik aan die baba-olie en ritmies, ritmies trek ek my knipmessie se lem oor die slypsteen. Hy is skerp genoeg wanneer ek met een haal die hare op my voorarm kan skeer.

Ek sny stadig. Dit maak dit soveel lekkerder om die bloed stadig te sien uitsypel uit my been. Klein snytjies maak baie bloed. Maar ek sny net op my bo-been waar net hy kan sien.  Bloeding is ‘n seën van God.

Die antie se boeke het prentjies ook van daai dêm gemors. Die dêm gemors het arms en bene Pa.

Drie en twintig skoenboksies Ma.  In agtien jaar se tyd. Ek het almal getel. Kyk Ma, dis hoe ons bokpeertjies uitsny. Sluk maar net Ma.

***

Dis verskriklik! Dit kan nie waar wees nie! “Pappa, kom kyk wat sê die koerant! Daai arme mense is alweer in die nuus.”

Susara Bekker is  gister gevonnis in ‘n saak van  winkeldiefstal. Sy is verlede jaar gearresteer na sy op heterdaad betrap is toe sy babaklere in haar klere versteek het. ‘n Bottel baba-olie is in haar handsak gevind. Die veertigjarige Bekker was ongetroud.  Haar familie was drie jaar gelede in die nuus na die grusame muti-moord op haar ma.

Haar bejaarde pa was teenwoordig tydens vonnisoplegging. Tydens gister se hofverrigtinge het hy in trane uitgebars toe die beskuldige hom skielik met ‘n lemoen gooi. Dis onbekend waar sy die lemoen vandaan gekry het en wat die rede vir haar woede was. Bekker is gevonnis tot ses maande gemeenskapsdiens. Sy het genoem dat sy voortaan in die dorp sal bly.

Haar pa het snikkend aan ‘n joernalis gesê dat daar nou niemand is om vir hom te sorg nie. “Sôre vir jouself ou man! Jy het hande gekry!” het sy hom toegesnou voordat sy haastig vertrek het.

Categories: FIKSIE | 8 Kommentaar

Voetspoor in die klip

Slegs mense wat my ken sal weet waarvan ek praat, en daarom bietjie agtergrond vir jou wat dalk die eerste keer hier lees…

Jy sal maar die skakels moet volg vir die hele storie.

‘n Keerpunt het gebeur in my lewe wat my siening oor baie dinge beinvloed en verander het. Mens kan nie onaangeraak gelaat wees na so ‘n trauma nie. Om dit twee keer in net bietjie meer as ‘n jaar se tyd te belewe is om jouself werklik in nederigheid te onderwerp aan die Wil van God. Dit laat jou nakend voor God, gestroop van alle aardse bande. 

Om grond te vorm waarin lewendige organismes bly moet groot klippe eers verweer – die alewige skeppingsproses aan die gebeur… ‘n getuienis van die werke van Sy hand op ons sonsondergangklip. 

Ons kan net getuig van die Liefde van God. So baie mense het Hy gestuur op ons pad wat sonder huiwering net gee. Dit het nog nooit opgehou nie, en dit is swaar om te ontvang. Dankie daarvoor. Dankie vir almal se liefde uit God se genade. 

Simbole om my aan my eie sondigheid en sterflikheid te herinner, is oral. Ek lees die Woord ook in die natuur.

Alle lewende organismes is vir my belangrik. Eers eendag na hierdie lewe sal ons werklik weet waar ons inpas in die groot geheel. Dit is vir my ‘n voorreg om op my plaas te kan loop en al God se kinders te kan sien, en dit is vir my ‘n lewenstaak om my roeping te vervul as bestuurder van die stukkie grond wat vir ons gegee is in ‘n siek wêreld waar indringing as normaal beskou word.

Voetspoor op ons sonsondergangklip

Categories: Gedigte, Slakgedagtes | Lewer kommentaar

Weekly Photo Challenge: Together

Uit die natuur is daar voorbeelde van hoe ons is. Rêrig is. Hoe ons is wanneer ons saam is. Hier is maar enkele voorbeelde wat ook op ons van toepassing is.

Daar is die wat op mekaar vertrou. Een sterk en magtig, die ander een klein en onopmerklik. Maar tog is daar vrede en harmonie in hulle saamleef; want elkeen vervul sy funksie in die groot geheel.

Vier spesies in afhanklikheid van mekaar. Die blom word bestuif deur die by vir sy voortbestaan. Die spinnekop wag egter geduldig en slaan toe wanneer die by dit die minste verwag, met die klein vliegie wat ongemerk in die agtergrond sit en wag vir krummeltjies van die uitgesuigte prooi. In die geval was dit slegs die by wat met sy lewe geboet het, om die voortbestaan van drie ander spesies te verseker.

Ken julle mense wat parasiete is? Eers lyk hulle onskuldig – jy verdra hulle sonder ongemak. Hulle lyk selfs goed saam met jou…

Larwe van die ‘Skipper butterfly’ (familie Hesperiidae)

Maar dan verander hulle in monsters wat teer op jou en jou emosioneel uitsuig vir hulle eie voortbestaan… tot daar niks meer oor is nie, net ‘n leë dop…

Die eiers van die parasitiese wesp het uitgebroei en stadigaan word die gasheer leeg gesuig

Daar is ook die wat saam is omdat dit so moet wees – waar beter kry ons voorbeelde van moedersorg? Soms is dit diere van wie jy dit verwag en dit dan nie doen nie

Frommel op dag 2. As mens hom saam met Frieda sien, dan besef jy eers hoe groot kameelperde regtig is.

Maar daar is ook ander wat onverwags vir jou ‘n knop in die keel gee.

‘n Honderdpoot wat haar broeisel kleintjies beskerm

Vir sommige is saamwees ‘n afhanklikheid, soos ‘n klein bobbejaantjie aan sy ma se tiet. Die verskil is net dat sommige mense nie meer babas is nie.

Nog swart van kleingeid hang hy aan sy ma se tiet

Dan is daar diegene wat oor grense heen saam kan wees. Kat en hond. Wit en swart. Kinders van dieselfde God.

Pippie Pipstertbrak klim boom om by haar maatjie Oreo te wees…

Partykeer is ons diere ons beste pêlle

Sy naam was Arend, en met sy getroue vriend het hulle olifante, buffels en leeus gejag

Saam hou ons partytjie, ons tooi op en ons is vrolik…

Vrolik en veelkleurig, vol van lewenspret

Ons kyk dit af in die helderste dansbaan van almal, ‘n goudgeel blom.

‘n Kleurvolle partytjie, elkeen feestelik aangetrek vir die okkasie

Saam gaan ons ‘n toekoms bou…

Afgeloer en uitgevang!

En soms is ons sommer net saam. Omdat ons wil. Of omdat die saadjies so geval het en ons so moet groei. Omdat dit in die Vader se plan is.

Saam… sommer net saam…

Wie is jy? Waar pas jy in my prentjies in? Hoe lewe jý met ander mense saam?

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Weeklikse foto uitdaging | 7 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.