Lankal terug

Storietjies uit my kinderjare of sommer net outydse gewoontetjies

Hoekstene

Op Vrydag 21 April 2017 is oom Jan uit my kinderjare ter ruste gelê. Begrawe. Dood. Hartseer. Trane. Onthou. Soveel emosies, soveel gedagtes wat deur my kop maal oor hierdie verlies. Dit is nie net die persoon nie, maar dis die verlies van die laaste boetie van ‘n familie wat gehelp het om my te vorm in die mens wat ek vandag is, wat my trane laat stroom.

Binne loopafstand van ons het ‘n gesin gewoon – Ou oom Faan, tant Heilie, ooms Wies, Jan en Chris. Hulle broers Bert, Giel en Faan het op omliggende plase in die omgewing gewoon. Wat uniek was, is die feit dat slegs oom Bert en Giel getroud was in my kleindogtertjie-tyd. Oom Faan het saam met ou oom Faan se suster Kleintan gewoon om haar, oujongnooi, op te pas.

Hierdie mense was eenvoudige, doodgewone Boeremense. Uiters konserwatief. Hardwerkend. Eerlik. Godvresend. Bemind. Gelief. Elkeen is op sy eie manier in my gedagtes vasgeëts, prentjies verewig in die neurons van my brein.

Van ou oom Faan onthou ek maar min, net sy ore. Ek kon my verkyk aan die langste ore wat ek nog ooit aan ‘n mens gesien het, met oumens oorhare wat baldadig oral was. Of hierdie beeld die werklikheid was weet ek nie, dis wat ek kan herroep uit lankal se gedagtes.

Nie een van die plase rondom ons het elektriese krag gehad nie. Almal van ons het gefunksioneer met koolstowe, parafienlampe, kerse en natuurlik kleinhuisies en enamel kamerpotte vir die nag.

Die reuk van hulle huis is ingeprent as koffie, opregte boeretroos wat self gemaal is. Tant Heilie het vandat ek kan onthou, tot met haar dood, net gesit. Haar plekkie was langs haar koolstoof, waarop die pot moerkoffie altyd geprut het, en altyd ‘n vlieëplakkie in die hand. Porseleinkoppies is dalk uitgehaal vir dominee met huisbesoek, maar enige iemand anders het ‘n blikbeker gekry. Kinders mag ook koffie gekry het, en ek onthou die vuurwarm blikbeker met gifsterk koffie, gewoonlik sonder melk en meestal ook sonder suiker. En ons het beurte gemaak om die koppie te gebruik.

Die tante het nie gesit van luigeid nie. Sy het ‘n been gehad… Wat haar been makeer het, weet ek nie, ek vermoed dit moes iets soos sellulitis sere gewees het, maar wat ook al dit was, dit was pynlik. Haar beplooide gesiggie het min gelag, ek het baie trane gesien wat sommer net geloop het, veral wanneer sy ‘n nuwe lappie om die been gedraai het, en ons mag nooit gekyk het nie. Sy het erg kifose gehad en het net lang swart rokke gedra en elke dag sykouse wat sy in rolletjies kon afrol sodat die lappie vervang kon word. Haar lang, rêrig baie lang, dun grys haartjies het sy daar voor die stoof gesit en droogmaak wanneer sy dit gewas het. Wanneer dit droog was het sy dit stadig uitgekam, gevleg en dan in ‘n bollatjie gemaak. So… stel jou nou voor hierdie gryshaar boggelrug tantetjie in swart, wat wanneer sy wel gelag het, ‘n stel slegte tande ontbloot het. Dis die prentjie wat in ons kinderboeke voorgehou is as ‘n heks… maar sy was nie, sy was tant Heilie.

Van kleintyd af het ons kinders maar tydig en ontydig daar gaan draai, saam of sommer alleen. En elkeen van ons het ‘n ander ervaring beleef. Van die sussies is al deur die ooms geleer bestuur toe hulle nog in die laerskool was. Ek het dit nooit eers geweet nie, ek het dit eers gehoor by grootmens nabetragtings van ons kinderjare. Nie een van die ooms het dit opgehaal wanneer ek daar was nie, en nie een het aangebied om my te leer nie. Wat die rede is weet ek nie en ek breek ook nie my kop daaroor nie. Miskien was my hoenderpoepgrootte dalk die bepalende faktor, of dalk was hulle bang ek klik, want ek het nogal knoppies agter my vlerkies gehad waar die engelvlerkies wou bult. Die sussies is tot toegelaat om die pad Palmietfontein, die plaas waar hulle beeste was, toe te ry met die ooms se Datsun bakkie.

Selfs as tiener het ek nog daar gaan draai. Op ‘n dag het tant Heilie met trane vir my vertel hoe lief sy vir blomme is. En dat sy nooit meer blomme in die huis het nie, want tant Bettie van oom Bert wat altyd vir haar blomme gebring het, kom amper nooit meer daar nie. Haar verlange na ietsie moois was voelbaar en ek het gesluk aan my eie trane. Toe vertel sy my dat daar blomme in die tuin is, ek moet dalk net gaan kyk.  Ek kon my ore nie glo nie. Blomme in daardie dorre stukkie tuin? Ewe ongelowig stap ek toe uit na waar sy beduie en sowaar… Teen ‘n draad naby die dam het ‘n rankrosie baldadig pienk gebloos en ‘n paar sukkelende rose het verkramp ‘n blommetjie gestoot. Al is rankrosies nie plukblomme nie, het ek dit tog gepluk en in ‘n vasie gaan sit. Ek wonder  of hulle tot die aand gehou het, maar dit was haar eie eie blomme en het haar gelukkig gemaak. As ek kon teruggaan in tyd sou ek vandag vir haar die grootste bos rose vat wat ek kan bekostig.

Van die boeties het net boetie Bert soos hy genoem is, kinders gehad. Hulle was baie ouer as ek en ons het hulle maar net gesien wanneer daar ‘n verjaardag was en ons en die boeties dit gevier het. Daar is net een gebeurtenis wat vasgehaak het in my menswees. Dis nie onthou nie, dis vashaak. Ek was seker so vyf jaar oud en sussie Teunet het geval en gesit en huil. Toe storm een van oom Bert se dogters op my af en vra hoekom troos ek nie my sussie nie. Ek was lam geskrik want ek het nie geweet wat beteken die woord troos nie… Sy moes seker my verwarde gesiggie gesien het en  verduidelik toe as iemand huil, moet mens sê jy is jammer dat hulle hartseer is en hulle ‘n drukkie gee. Ek was ontsteld dat sy dink ek gee nie om nie. Natuurlik het ek vir my sussie omgegee… maar in ons huis het mens klaar gehuil en dan opgestaan en aangegaan. Nie drukkies en jammer en sulke goed nie. Jy tjank klaar en dan staan jy op.

Oom Giel was getroud met tant Annetjie. Sy was net ‘n ou gesie… sy was deurskynend bleek, maer en vir my ‘n patetiese figuurtjie. Sy is toe vroeg dood aan haar hart en oom Giel het weer getrou met ‘n tannie Sarie wat ek nooit geken het nie. Hy is kinderloos en die enigste wat nog leef. Op agt en tagtig rook hy glo baie, is gesond en helder van gees.

Oom Wies. Liewe, liewe oom Wies. Hoe pyn my hart nou oor verlang na Oom. Plooie het diep spore oor sy gesig gekerf. Hy was verskriklik skaam en inkennig, veral wanneer daar enige vroumense in die geselskap was. Dit was hy wat altyd vir ons koffie gegee het. Wanneer daar melk was, het hy die bekertjie lou melk uit die spens gaan haal, en ek hoor die rinkel van die kraletjiedoilie teen die metaal melkbeker soos hy onbeholpe om die hoek van die tafel kom.

Al het oom Faan elders in die omgewing gebly om die oujongnooi tante op te pas, was hy byna elke dag maar by die ander boeties. Van almal was hy seker die skuuste vir mense, veral vroumense. Iemand anders uit ons kinderjare vertel dat hulle elke dag by oom Faan en Kleintan gaan kuier het en lekker tuisgemaakte brood en varkvet gaan eet het. Later toe die tante dood is, het oom Faan ook by die ander boeties kom bly.

Die dag toe ons hoor oom Jan het ‘n meisie, het ons omtrent omgeval. Die vier boeties sonder vrou was vir ons kinders ‘n aardigheid. Oom Jan se sagte bokkie oë omraam met diep lagplooitjies, sy skaam innemende glimlag sal altyd by my bly. En so het tannie Petro ook deel van ons lewe geword, iewers toe ek nog in die laerskool was.

Hulle het hul eie plaas gekoop maar het deel van ons lewe gebly. My ma en tannie Petro het goeie vriendinne geword en baie dinge saam gedoen. Tannie Petro het ons lekker bederf en dit was vir ons omtrent ‘n opgewondenheid die kere wat ons by hulle gaan oorslaap het. Haar spaarkamer was ‘n sagte lilapers, ‘n kleur ongehoord in ons wêreldjie. Kleur het nie ‘n groot rol in ons huis gespeel nie, beddegoed was enige sindelike kleur en die mure altyd wit gekalk. In my standerd vyf jaar het ons skoolhoof wat ook ons onderwyser was, siek geword. Tannie Petro het ons klassie met veertien kindertjies kom oorneem en ek was baie jaloers om mý tannie met die ander kinders te deel. Dit was sy wat my klasmaniere geleer het… om net te antwoord wanneer ek my hand opsteek. Dit was swaar, maar dankie Tannie, jy het dit reg gekry!

Die jongste broer Chris was ook maar stil. Lank na ek self getroud was het hy ‘n meisie ontmoet en is getroud. Ek was só bly dat hy ‘n maat gekry het, elke mens verdien ‘n goeie maat. Toe ek later hoor dat hulle geskei is, was ek baie hartseer vir hom. Dit moes ‘n uiters slegte situasie wees wat hom genoop het om te skei.  Trou was ‘n gróót stap in daardie konserwatiewe familie, skei iets ongehoord. Hy is oorlede na ‘n kankerlyding ‘n paar jaar gelede.

Met elke groot gebeurtenis in ons familie het oom Jan en tannie Petro moeite gedoen om dit saam met ons te vier. Nou is net tannie Petro oor, die laaste deel van die hoekstene van my kinderjare.

As dit enigsins moontlik sou wees om terug te gaan in tyd, sal ek baie graag net één keer nog by hierdie familie wou gaan kuier. Vir tant Heilie sou ek ‘n groot bos blomme vat. Uit my ma se spens sou ek vir die ooms hertzoggies en handtertjies vat. Ons sou lag en moerkoffie uit blikbekers drink wat ons hande brand. Miskien sou ons beplan om Palmietfontein toe te gaan. Dalk sou hulle sê dat my pa ‘n rooibok daar mag skiet. Dalk sal tannie Petro ons nooi om in haar pers kamer te kom slaap. Dalk sou dit lekker wees. Maar as is verbrande hout en daardie tyd is nou net behoue in onthou.

As onthou ‘n plaasdam is, het ek nou lekker in die modder gespeel. Ek wil nie hierdie moddervoetspore van my gaan was nie. Ek wil my voete net effentjies afstof en dan my skoene bo-oor aantrek sodat ek vir altyd kan onthou waar my wortels lê en wie my menswees help vorm het.

image My Pa en Ma voor. Oom Jan, tannie Petro en oom Chris agter. Geleentheid: 2005 Pa 80e verjaardag

********************************************************************

Bygevoeg na die tyd

Die ding van plaasdamme is as jy eers in die modder begin baljaar, dan spring daar platannas uit…

Dit wat ek geskryf het hierbo is maar enkele herinneringe. My susters en broer het elkeen iets anders ervaar, waarvan ek sommiges hierby voeg.

Ek het byvoorbeeld skoon vergeet dat daar nog ‘n boetie was. Oom Frans. Hy en oom Bert was eie broers en het ‘n ander ma gehad. Ek kan nie onthou dat ek hom ooit gesien het nie. Hulle het in Pretoria gewoon. Sy seun Frans het op ‘n stadium by die ooms gebly en daarna baie kom kuier. Ek was ‘n klein dogtertjie en die ouer sussies tieners. Sus Annemarie sê sy was verlief op Frans, maar hy het net oë gehad vir Trisa…

Trisa sê: ”Pragtige herinneringe wat ook deel was van my kinderjare, hoewel myne bietjie anders is. Ek onthou hoe hulle my geterg het toe ek klein was, en my Cheeky genoem het. Oom Chris het ook my vlegsels se linte (onthou Ma het altyd mooi linte ingebind) aan die lemoenboom vasgemaak. Ek was seker maar vier of so, want toe ek op vyf skool toe is, was my hare kort en nooit weer laat groei nie.

Ek onthou ook hoe hulle teen skemertyd omgestap het en by ons kom tee drink het. En by ons het hulle soos al die gaste, of kuiermense soos ons dit geken het, tee gekry. Die skinkbord moes behoorlik gedek wees, met al die lepeltjies in dieselfde rigting.

Koringstrooptyd het ek en Mara vir hulle pannekoek gebak. In daardie kombuisie. (Ek het by ons huis gaan bakpoeier haal)

En dan Frans se kuiers…”

In die Franstyd was daar ook nog ‘n Taljaardseun wat saam met Frans daar gebly het. Daar was twee perde, Nugget en Suurpap. Ek onthou net vir Suurpap, ‘n grys skimmel, vir my ‘n lelike perd. Trisa sê sy het eenkeer in die kanaalpad afgejaag met Nugget en my Ouma hoor skree van skrik oor die affêre. Kan my net indink… my ouma het nie juis gehou van meisies wat buite speel nie… Ek kan onthou hoe ek altyd aan die groot sussies gekarring het om ook te ry maar net een keer toegelaat is.

Trisa se bestuurslesse het blykbaar nie so goed verloop nie. Haar bene kon nog nie bykom nie en na een les het oom Chris gesê sy moet eers gaan pap eet voor sy weer kom. Annemarie en Heleen het help lande ploeg. Annemarie sê sy het eenkeer met die ooms se ou bakkie in die kanaal ingery en gelukkig kon Heleen haar met die trekker uitsleep. Ek wonder of my pa en ma ooit maar ooit gehoor het van hierdie dinge…

Net soos met bestuurslesse wat ek nie gekry het nie, het ek ook nooit die voorreg gehad om saam te ry na die groentemark in Pretoria nie. Annemarie en Heleen het baie saam met oom Chris gery, en hy het hulle dan bederf met hamburgers. ‘n Bederf ook vir hom, dit was iets wat nie deel was van die kos op enige van ons tafels nie.

Annemarie onthou van ‘n keer toe my pa nie by die huis was nie en daar ‘n vreeslike groot slang onder my ouma se watertenk was. Hulle gaan roep toe vir oom Chris en hy kom skiet die slang… met ‘n haelpatroontjie… Ek was seker te klein om dit te onthou, maar ek kan my pa se gesig voorstel toe hy by die huis kom en die water spuit orals uit…

Magda en Hannes was baie saam met oom Wies Palmietfontein toe. Ook iets waarop ek uitgemis het… Dis waar kinders, bestuur en openbare paaie in die prentjie kom… Hulle onthou gekookte eiers, broodjies en koue swart koffie by die dam, party keer ‘n vleisie op die vuur. En gekoopte koekies by Greenstores vir padkos… Hoe verstote voel ek nie nou nie..

Al het die ooms nie kinders gehad nie, het hulle vir ons gehad. Ons was maar elke dag omtrent daar. Saam of elkeen op sy eie.

En nou verlang ek net nog meer na hulle…

Categories: Familie, Lankal terug, Omgee, Slakgedagtes | 10 Kommentaar

Liewe Hanlie

Dis tyd om jou verjaardag te vier en ek kan nie glo ons het al die half eeu merk bereik nie! Ek het darem nog ‘n paar maande van ‘jeug’ aan my kant, maar helaas… jy is nou ‘n tannie!

Ons het mekaar ontmoet voor ons skool toe gegaan het, want ons sussies was maats. Dit was so half onafwendbaar dat ons ook maats sou wees, want hulle oor-en-weer kuiery het altyd die hele kaboedel sussies ondertoe ingesluit. Basies was jy my eerste kennismaking met ‘n sosiale lewe, weet jy dit?

In die laerskool was ons keuses vir maats maar beperk, ons ou plaasskooltjie het maar gewoonlik rondom tagtig-negentig kindertjies in TOTAAL gehad. Ons het daai sewe jare saamgestap, ons het baklei, ons het gelag, ons het gehuil. Die lekkerste wat om saam te speel.

In ons ogies was julle sooo ryk. Jou pa het meer as een trekker gehad. Julle het ‘n bakkie én ‘n kar gehad. Julle het FIETSE gehad. Dit was by julle wat ek ook geleer fiets ry het, eers op daai vreeslike groot yster driewiele, en later gewone fietse. Ek dink nie jy het regtig verstaan dat ek net wou fiets ry wanneer ons by julle was nie. Vir jou was dit ‘n gegewe, vir my was dit ‘n luukse. Toe ons later EEN  fiets tussen almal gekry het, het ek middae en middae op en af en op en af gery… Voete op die handles, wind in die hare – vry!

Hoërskool was vir my nogal ‘n groot skok. Skielik was ons in ‘n skool met ver oor ‘n duisend leerlinge, en ek, introvert, het dieper en dieper terug getrek. Omdat ons dieselfde vakkeuses gehad het, was ons natuurlik van die begin tot die einde in dieselfde klas, ons hele twaalf jaar van skool. Ons was steeds maats, en soos in die laerskool het ek soms die pad gevat en ander vriendinne gehad. Soms was dit jy. Maar ons het altyd teruggegaan na mekaar toe. Jy het my altyd met ope arms in jou nuwe vriendekring ontvang as myne uitgesuur het.

Na skool het ons ou plasies van Langberg die wêreld ingevaar. Jy is universiteit toe en ek is technikon toe. Jy het floreer met die studentelewe, ek is getroud. Ons lewens het niks meer gehad wat ons aan mekaar gebind het nie. Daar was nie selfone en sosiale media om kontak te hou nie, en so het ons baie skielik uitmekaar gedryf. Ek het baie na jou verlang, maar omdat jy my nooit gekontak het nie, was ek ook maar te trots om jóú te kontak.

Soos mens ouer word, wil jy weer op jou ou voetspore loop, soek jy weer die mense wat jou gevorm het. My kinderjare se grootste beitels was jy en Christa. In ons leeftyd maak Facebook en ander sosiale media maak dit maklik en een-twee-drie weet ons weer wat aangaan in mekaar se lewe, ken ons mekaar weer.

Ek het jou man gevra om uit my handwerk repertoire vir jou iets te kies waarvan jy sal hou en sy keuse het op ’n kremetart geval. Dis met liefde gemaak, met heimwee na ’n vergete tyd uit ons jeug.

Tye verander en ons is ouer. Wyser. Dis makliker nou vir my om te sê wat in my hart is. Ek het jou altyd as vanselfsprekend in my lewe gesien, totdat ek jou nie meer gehad het nie. Vandag kan ek vir jou sê dankie. Dankie – dat jy altyd daar was vir my. Dankie – dat jy my altyd terug gevat het as ek ander maatjies gehad het. Dankie – dat jy ‘n integrale deel is van dit wat my menswees gevorm het.  Jy was ‘’n goeie beitel vir my.

Vyftig is ‘’n groot verjaardag. Dankie dat ek hierdie spesiale dag met jou en jou familie mag deel. Mag jy emmersvol seëninge ontvang vir die res van jou lewe,  jy verdien dit.

Kremetart op canvas

Kremetart op canvas

Categories: Lankal terug, Omgee | 12 Kommentaar

Reëndans

Hier is baie verskeie soorte paddas op die plaas. Wanneer dit lekker gereën het, is hulle geroep na ‘n maatjie baie spesiaal en vier hulle fees in die krip en in my visdammetjie. Ek sal nooit weer na ‘n paddakoor kan luister sonder om nostalgies te raak nie.

Gedurende Desember 2002 was ons saam met vriende op die wonderlikste 4×4 toer ooit. Dit was net voor die oorgrenspark met Mosambiek , die Great Limpopo Park geproklameer is en mens kon nog ‘ongehinderd’ die bosse invaar. Om die waarheid te sê, die papiere is geteken in die tyd wat ons daar was.

Ons beplanning was om deur die wildtuin te ry en in die noorde Mosambiek binne te gaan. Ons sou dan deur die Limpoporivier ry op ‘n sekere plek waar mens klippers langs kon gaan (daar is nie ‘n brug nie) en dan ry tot by die kus by Beira, ‘n gewilde 4×4-roete op daardie stadium. Dit was  egter ‘n vreeslike goeie reënjaar in die Limpopo se opvangsgebied en die rivier het in so mate gestroom dat ons ons toer sou moes afstel of ons reisplanne hersien.

Gaan wou ons gaan en die groep besluit toe om duskant die Limpoporivier te bly en dan ‘n ander oorgang kry.  Die nadeel was egter dat dit beteken het dat ons ‘blind’ sou ry, met geen padaanwysings of verhale van vorige ervarings nie, net met die GPS as gids… En as jy Google Maps oopmaak, sal jy sien dat daar eintlik nie paaie is nie. Die GPS het dus maar net bepaal waar ons is, ons kon dit nie as roete-aanwyser gebruik nie. Ons het ons eie geskiedenis gemaak… Dit was WILD! Die modder was so diep ons moes op ‘n stadium elke minder- as-‘n- kilometer stop, die Land Rovers se wiele afhaal, skoonmaak en dan weer minders as ‘n kilometer vêr herhaal. Indien ons dit nie gedoen het nie, sou ons vassit in die modder. Daar was vier Landy’s en vier waentjies in die groep…

Ons eie geskiedenis het ook beteken dat ons tussen die Shingwedzi rivier en die Limpopo getoebroodjie was en een van die twee riviere moes oorsteek om by die kus te kom. En beide het afgekom… Die Shingwedzi is ‘n kleiner rivier en die keuse het op hom geval en dan via Masingir na die kus by Xai-Xai.

Ons het gery tot amper donker en redelik naby die grens sommer net ‘n mooi plekkie gekies en kamp opgeslaan. Die volgende oggend was daar vars luiperdspore op ons spore net buite ons ‘kamp.’ Baie spesiaal en ‘n herinnering dat ons moet onthou ons is in die bos reg langs die wildtuin!

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Die reën het bietjie opgehou en die humiditeit was baie hoog. Ons het gery en gery en oral gevra waar mens kan oor. By ‘n geskikte plek het ons toe toestemming by ‘n plaaslike hoofman gekry om in sy gebied te kamp totdat die rivier in so mate gesak het dat ons kon deurgaan, vir ‘n klein fooi natuurlik. Regtig klein en ons het geensins omgegee om dit te betaal nie. Hy het ons die versekering van veiligheid gegee en dat geeneen van sy mense naby ons toegelaat sal word nie. Ons het nooit, ooit onveilig gevoel nie en hy was sy woord waardig. ‘n Geskikte deurgang beteken ‘n rivierbedding van klip wat vastrap plek gee vir die wiele. Sonder klippe sal die voertuie slegs vasval en dan meegesleur word deur die stroom.

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Ek weet ek het dit al gesê. Maar Mosambiek in Desember is warm, dis blerrie warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Lafenis het ons gevind deur in ‘n vars, helder stroompie neffens ons ou kampie te lê. Lou, nie koud nie… ‘n Gat is gegrou, ‘n toiletsitplek staangemaak met ‘n skermpie om en elkeen wat die geriefie gebruik het moes ‘n grafie sand opgooi.

Desember is ook Mopaniewurm tyd en oral om en in ons ou kampplekkie was duisende wurms. Dalk was dit eerder miljoene. Een vriend se tent is permanent gevlek deur die wurms wat hulle pap geval het uit die bome. Die mans was naderhand redelik verveeld en het ‘n wurmgooi kompetisie gehou om die tyd te verwyl. Die reëls was eenvoudig: sit ‘n wurm op ‘n graaf en kyk wie gooi hom die vêrste… Sit twee wurms op ‘n graaf…

Tydens ons verblyf langs die Shingwedzi rivier was daar drie dinge wat vir my betekenisvol was. Die eerste was die hoeveelste keer in my lewe wat ek besef het hoe klein die wêreld is. Die mans het elke dag die rivier se vlak gemeet om te bepaal wanneer ons kan deurry en dan met die plaaslike mans gesels by die rivier. Een dag het hulle een saamgebring om spesifiek met mý te kom gesels… want ons het gemeenskaplike ‘kennisse’ gehad! Kan jy dit glo? In die wilde bosse van Mosambiek bly ‘n man langs ‘n rivier en hy het op plase gewerk in die omgewing waar ek my kleintyd spandeer het en ken dieselfde mense wat ek ken!

Die tweede ding wat betekenisvol was, is dat uitkoms altyd op die regte tyd kom. In die tyd wat ons gewag het, het daar ‘n tweede groep opgedaag. Maar nie in ‘n 4×4 nie. Nee. ‘n Gewone ou Toyota bakkietjie deur daardie vreeslike modder. Dit was ‘n plaaslike man op pad na Masingir, met ‘n vrag vol mense wat hy by die grens opgetel het wat onwettig in ons land betrap is en net by die grenspos gedump is. Die passasiers moes maar net stoot wanneer die modder te erg geraak het en gelukkig is die Toyota baie ligter as die Land Rovers. Hulle het by die plaaslike mense gebly en ook elke dag die rivier kom meet en dis waar die groepe ontmoet het. ‘n Ooreenkoms is aangegaan – as ons hulle bakkie deur die rivier sou sleep, sou hulle ons voertuie stoot wanneer daar modder is. Deal.

Die derde ding was gatjeuk. Iemand se gat het beneuk gejeuk en ‘n stelling van “Of ons draai vandag terug of ons gaan deur want ek sit nie nog ‘n dag langs hierdie rivier nie” het baie dinge bepaal vir daardie dag en baie dae daarna. Nou ja, die rivier se vlak word toe as voldoende geag en die grootste uitdaging ooit het aangebreek. Ons gaan deur. Die mans het ‘n roete gestap en gemerk met stokke wat in die rivierbedding geplant is. ‘n Ongeskrewe reël in 4×4 is indien jy deur water kan stap, kan jy daardeur ry indien die vloer hard is.

Ek word nie sommer bang nie, maar daardie dag was ek bevrees vir die veiligheid van my gesin en my vriende. Almal was bang. Die mans was vol bravade, maar eintlik het hulle foefernjolle klein geknyp. En natuurlik as ‘n foefernjol knyp, dan stoot dit mos ‘n ego bo-uit en die poep onder… Die getroue ou V8 is eerste ingestuur vir die baanbrekerswerk. Hy moes deurry en dan met die winch anker aan die ander kant indien een van die ander voertuie in die moeilikheid sou raak. Baie benoude oomblikke, ’n klomp gebede, trane en harde woorde het daai voertuig weer aan die loop gekry toe hy na net ‘n kort ent in die water gevrek het. Maar opgooi en terug wou die ego’s nie. Nee, ons gaan deur. Op die ou einde het Roelf een vriend se waentjie deurgery en teruggekom. Toe die ander vriend se kar deurgesleep en teruggekom. Toe hulle waentjie deurgery en teruggekom. Toe die V8 se waentjie deurgevat en teruggekom. Toe ons waentjie kom haal en deurgery. En ek sit en wag en kyk heeltyd hoe gaan my man heen en weer. En ek bid en ek huil binnetrane want my kinders mag nie my bang sien nie. Hulle het met een van die ritte die rivier gekruis en ander kant gewag. Verlate. Verlore. Dis hoe mens voel as jou kinders aan een kant van ‘n groot rivier is, jou man binne-in die rivier en jy sit soos ‘n wasbeeld spookbleek op ‘n klip aan die ander kant. Toe het Roelf vir ‘n laaste keer teruggekom vir die Toyota en ons het finaal deurgery.

Maar eind goed, alles goed en ons was weer op pad. Maar alles was nie goed nie. Daar het iets gebreek. Fyn en flenters, duisend stukkies en kleiner. En dit was nie goed nie, want saam met ego flenters het ‘n vriendskap verdamp in die niet van Mosambiek se hitte. En dit het seergemaak, vir baie baie lank daarna.

Dit was net ‘n paar keer nodig vir die Toyota passasiers om die voertuie te stoot. Dit het vreeslik baie tyd gespaar. Teen hierdie tyd het die modder darem nie meer so vreeslik aan die wiele geplak nie. Laatmiddag het ons weer by ‘n gemeenskappie gekom en die beste pad gevra. Een voertuig het die pad gaan ondersoek saam met hulle verteenwoordiger en die res van ons het ‘n wonderlike ervaring saam met die gemeenskappie gehad. Daar was ‘n klein sokkerveldjie en ons was genoeg om ‘n ‘span’ te maak teen die locals.

Die meisies en vrouens was stomgeslaan om te sien dat ons vroumense ook in die span wou wees en toegelaat word. Hulle was soos ‘regte vroumense met lang naels’ wat gegiggel het en nie eers ‘n bal kon vang nie! Hier en daar kon een van die jong mans ‘n paar woorde Engels praat maar met gebare en baie gelag het ons mekaar aangevat. Wanneer die bal na een van ons vroumense toe gekom het, was die jong mans baie respekvol en het hulle teruggeval en ons toegelaat om die bal te speel. Hulle het hulle verwonder aan ons waagmoed om saam met die manne te speel. Wanneer die bal egter by die mans was, was daar géén genade nie en het hulle gespeel om te wen. Toe een van ons manne egter die bal gryp en ‘n drie gaan druk was dit die hoogtepunt. ‘n Free for all… As jy die bal kry hardloop jy met hom, jy skop hom, jy duik of stamp jou opponent. Nog nooit, ooit weer het ek sulke gemoedelikheid en aanvaarding beleef soos daardie dag nie, in die diep bosse van Mosambiek was daar respek en gemoedelikheid met mekaar.

Daardie mense is glad nie gewoond dat daar wit mense in hulle rigting kom nie. Die kindertjies het nie soos in die toeriste gebiede handjies bak gehou en ‘sweeeets’ geroep nie. Die sokker was natuurlik goed om ons kinders se rooimiere bietjie onder beheer te kry en Marina kon nie wag om net ‘n paar wawiele en handstande te doen nie. Sy was mos ‘n uitblinker gimnas op haar tyd en elke oop spasie was ‘n uitnodiging vir ‘n paar truuks. Die kindertjies se monde het omtrent oopgehang en het haar probeer namaak. En sy was HOOGS geïrriteerd as hulle in verwondering net aan haar ou vlegseltjies wou kom vat. HOOGS.

Mens kan nie sulke wilde dinge doen en nie pleisters gebruik nie. Seker die volgende dag lê ek op ‘n stadium tydens ‘n rustyd onder ‘n bos waar ek landslakkies ontdek het. Wat is Slakkelak nou sonder ‘n slak en ‘n skulp? Ek lê nog so toe een vriendin kom vra waar my noodhulp sak is. Ek sê haar toe en sy sê nie vir my waarvoor sy dit nodig het nie en ek vra ook nie. Ek het maar aangeneem dat een van die kinders ‘n pilletjie of iets wil hê. As iets dringend was, sou sy mos sê. Toe ek uiteindelik klaar skulpies versamel het, moes ek hoor dat die een waentjie se haak amper deur my man se hand gesteek het. Oeps. Sy kon gesê het en ek kon gevra het. Nog ‘n keer oeps en die flentertjies breek nog verder.

Ons het toe uiteindelik by die kus uitgekom en by Bilene se strandmeer gekamp voordat ons teerpad terug is huis toe. Teerpad was sooo vervelig, ‘n antiklimaks na karakterbouende ervarings.

Die heel, heel grootste oomblikke van die hele toer was egter nie die rivierkruising of die sokkerwedstryd nie.

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Dis VREESLIK warm. As ék warm kry, dan moet jy weet dis baie warm. “Kyk die wolke Pappa, dink Pappa dit gaan vandag bietjie reën?” was naderhand woorde wat ek nie meer WOU hoor nie.

Een laatmiddag het die weer egter baie belowend donkerblou opgesteek en ek het my kinders belowe dat ons in die reën gaan bad as dit kom. Ons moes baie vinnig kamp soek om nie in reën en dan donker gevang te word nie. Ons was in vleigebied en het nie ‘n keuse van ander kampplek gehad nie. Vreemd genoeg was daar nie muskiete nie. My kinders was eers skrikkerig vir die kaalgat stanery doer eenkant, ‘n entjie weg van die kamp, in die oopte van die veld. Hulle is gewoond aan stort in die veld, maar met ‘n skermpie om.  Maar toe die reën eers val en die skuimbolle spat, het ons ‘n behoorlike reëndans in die donkerte gedoen.  Ek en my dogters. Kaalgat in die reën.

En toe kwaak die paddas en besef ek hoekom daar nie muskiete was nie. Honderde en honderde paddas in daardie vlei. Verskillende soorte met verskillende stemme. Kwake en squeeke. Diep stemme en skril stemme. Dit was ongelóóflik. Elke kort-kort het ‘n nuwe soort begin kwaak vir ‘n maatjie. Dan hoor jy doer anderkant enetjie met dieselfde stemmetjie antwoord. Dan kwaak hierdie een, dan kwaak die ander enetjie bietjie nader. Tot jy naderhand hoor hulle is nou naby mekaar en dan raak dit stil. Jannie het vir Sannie gevind. Die volgende dag was die enigste bewys van die baie paddas die stringe en stringe eiers. En bolle van ander soorte. En skuim van ander. In die water, langs die water en bietjie verder weg van die water. Oral. Alles bewys dat daar ‘n oeroue partytjie plaasgevind het die vorige aand, die partytjie gangers nou uitgeput en seeroog vir die wêreld in die sonlig.

Om ‘n kaalgat reëndans te kon doen, om so deel te kon wees van die ongerepte natuur, is ‘n voorreg wat ek altyd sal in my hart sal koester.

Categories: Lankal terug, So doen Slakke dit | 2 Kommentaar

Erfenisdag

In my erfenis is daar meer as net pap en braaivleis. As kinders het ons byna nooit gebraai nie, dit is ‘n meer moderne neiging dink ek. Dis ook lekker, ja, maar gee my eerder ‘n bord kos uit my kindertyd.

Sag gestoofde beesvleis met ‘n ou vetjie, aartappels deurtrek met die sous. Boontjies met bietjie room ingeroer, Ouma-patats karamelbruin gebraai, rys vir die ou sousie. Slaai bestaan slegs uit tamaties vars uit die tuin, opgesny saam met uie met net sout en witpeper om dit te geur. Die tamatiesousie wat oorbly in die bak behoort slegs aan Pa, maar as die bak by jou uitkom dan skep jy ongesiens ‘n lepeltjie vol en sluk dit vinnig af… en dink hy het dit nie gesien nie… Asynpoeding of sago met tuisgemaakte vla vir nagereg, later jare merendeels malvapoeding.

My erfenis is pap en kaiings of fyngestampte biltong. Hertzoggies, Ystervarkies en Handtertjies tot boordensvol gevul met tuisgemaakte appelkooskonfyt. Melkkos en melktert mildelik gekaneel. Wildsvleispasteitjies. Warm beskuit wat pas uit die oond kom wanneer ons van die skool af kom, en as jy dit eet vind jy ‘n heerlike frikkadel as verrassing aan die binnekant. Boontjiesop. Murgbene. Tuisgebakte brood. Emmers vol pannekoekdeeg vir ‘’n skool- of kerkfunksie. Lady’s fingers piesankies. Pers Adamsvye. Geelperskes. Tuisgemaakte droë perskes. Sagte soetsuur kweperlekkers. Gebakte kwepers. Vetkoek en Javels (spelling?). Roosterkoeke op die koolstoof. Appelkooskonfytkoekies vir ontbyt. Rooi-ivoor bessies, kruisbessies en maroelas.Vet uitgerysde witbeskuit. Tuis ingelegde perskes met rooi en groen jellie en vla. Oom Manie se suikersoet waatlemoene soveel soos ons wil eet. Moerbeie wat pers strepe jou hele gesig vol lê. Gebraaide mielies in die tabak droogoond. Boerseep wat Pa self gemaak het in die groot seeppot na ‘n varkslagtery.

Ek moes altyd teemaak met ons slagtery, want ek het sulke knoppies op my hande uitgeslaan van die varkvet. Word nou nog siek as ek vark eet. En al bly ék op ‘n plaas met wildsbokke, slag ek nié! Ek maak hoogstens die pakkies vleis op as my man en kinders klaar die vleis bewerk het. Sou jy dit nou kon oorvertel! Die reuk van warm vleis en ingewande gooi wilde draai uit my maag tot op die grond. My pa het dit altyd goed geag om ons kleintjies te roep as hy die vark oopsny, sodat ons kan sien waar sit al die organe. Maar die reuk het my uitgegross, en my nuuskierigheid kon nie die draaie uit my maag keer nie. My kinders het weer géén probleem daarmee nie, en so kry hulle pa ‘n beurt om die opvoedkunde ding te doen. En verwerk hy alleen ‘n grote koedoe of wildebees sonder om één keer ‘n lelike aanmerking te laat val oor baie werk.

Erfenis se onthou sluit in ‘n kuier in Magalieskraal (Mamogaleskraal) se dorre rooigrond en natuurlik die neefs se simpel getergery die hele dag… Pa se twee broers is met twee susters getroud en woon op plase langs mekaar. Die huise is binne stapafstand van mekaar, en ons gaan eerste aan by Oom Bertus en tant Cato. Eerste hulle, want hy is die oudste en dis meer respekvol. Wanneer ons daar kom groet die tannie met: “Kom se tatta vir Tool” en ons giggel vir die verkeerdom groetery. Ons eet Ma se lekker koekies en hol in die rooi stof rond. Oom Bêr (soos die tannie hom noem) skil vye uit sy tuin wat jy moet raakvat anders glip dit uit jou hand.

Dan stap ons oor na oom Lood en Kleintan. Daar eet ons gou ‘’n toebroodjie, ook van tuisgebakte brood, en ons ver-eet ons want dit proe anders as dié wat Ma elke dag bak. Hare is witter en het ‘’n surerige smaak. Ons eet van oom Lood se suikersoet laat nartjies aan die skadukant van die boom en kry ‘’n mandjie waterpere om huis toe te neem. Pere is die enigste vrugte wat nie by ons wou dra nie.

Sondagmiddag stap ons oor vir ‘’n kuiertjie by die oujongbroers om die draai van. Daar is nie kinders nie en ons is maar te dankbaar om buite te gaan speel. Die somberheid wil jou aan die skene vang in daardie huis. Tant Heilie, kromgetrek en diepbeplooid in ‘’n lang swart rok sit sonder lag langs die koolstoof waar die moerkoffie altyd staan en prut. Haar grys haartjies se bollatjie rol los en jy verwonder jou aan die dun vlegseltjie wat amper by haar voete hang. Jy sê altyd nee as sy vra of jy ook wil koffie hê, want die koffiesakkie lyk asof dit in daardie pot is van almelee af aan.

Maar nooit sê ons nee vir kondensmelktee en Marie koekies by tant Elsie op die plot tussen ons en die oujongbroers nie. In ons huis was regte melk en tuisgemaakte koekies en winkelgoed was vir ons spesiaal.

So onthou elkeen ietsie anders wat ‘’n erfenis is. Ons is immers individue en ervaar dinge op ‘’n eie manier.

Helaas. ‘’n Deel van my erfenis sal slegs voortbestaan in my geheue as herinneringe. Vir my eie kinders kan ek ‘’n erfenis skep met ons eie gewoontetjies en lekker kos. En so leef ons voort, waar herinneringe in ons sal bly en die toekoms voortdurend vernuwe word soos wat ons blootgestel word aan ander tipes kos en ander mense om die gaatjies van onthou weer vol te maak.

Categories: Familie, Lankal terug, Omgee, So doen Slakke dit | 2 Kommentaar

‘n Lang tyd gelede was ek in die laerskool

Ek het al gewonder of alle laerskoolonderwysers so ‘n groot invloed het op kinders se lewens as wat díé in ons ou skooltjie gehad het. Ek weet dat elkeen van die kinders in ons huis spesiale en soms slegte herinneringe het. Daardie mense het defnitief ‘n groot rol gespeel in die vorming van die mens wat ek vandag is. Goed en sleg.

Ons was in ‘n klein plaasskooltjie buite Brits. Daar was slegs vier permanente personeellede, en wanneer die leerdertal meer as ‘n honderd gegaan het, kon hulle ‘n tydelike persoon aanstel. Gewoonlik het dít so twee kwartale gehou. Ons het groot geword in ‘n standvastige huis en ons almal was in dieselfde laer- en hoërskole, dit was vir ons (vir my altans!) baie vreemd dat daar kinders was wat net een of twee termyne in ons skool was.

Ek kan selfs ‘n deel van die skoollied onthou:

“Op ‘n plekkie tussen berge
Is ‘n skool wat trots is op sy werke
….. (geheueverlies)….
Ons sal aanhou werk en wen”

Omdat daar beperkte onderwysers was, moes die standerds noodgedwonge gedeel word. Jy was dus vir twee jaar by dieselfde onnie, en net in jou laaste jaar alleen by die hoof van die skool. Dit is onafwendbaar dat daardie mense jou lewe sou raak.

In my jare was die graad een en twee juffrou ene Juffrou Heilie. Die twee grade was in een klassie en ek kan nou nog die alfabetkaarte onthou wat reg rondom die klas opgeplak was. Ek dink buiten die twee oudste sussies, het sy die res van ons agt kinders almal leer lees en skryf. In ons gemeenskap was nie so iets soos kleuterskole nie, ons ma’s was almal huisvrouens. Sy was ‘n liewe, geduldige mens, maar nie ‘n drukkies-juffrou nie. Ons het baie groot respek vir haar gehad, en so ook die hele gemeenskap. ‘n Aardse, raakvat vrou, die juffrou Heilie van ons. Al was ons almal al reeds groot, was dit ‘n groot skok toe sy later jare in ‘n motorongeluk oorlede is.

Juffrou Heilie het vir al die dogters naaldwerk gegee en ek kan nou nog nie garing deur ‘n naald druk sonder om aan haar te dink nie. Mens mag nie die garing gelek het nie. Jy moes dit dubbeld vou, platdruk en dan deur die gaatjie druk. Ek lek nou nog my garing nat. Skelmpies. En dan onthou ek vir juffou Heilie. Elke blerrie garing wat ek deurdruk. Wanneer dit huissport was, het die paar standerd vyf dogters die kaartjies vir verkope gehelp stik met die naaimasjiene (sonder garing). Dan skeur dit mos maklik af, soos seëls. Dit was sulke swart Singers met draaihandvatsels vir aandrywing. Dan het ons resies gejaag en gekyk wie gaan die vinnigste, en raas gekry vir die onuitwisbare krom rye stiksels wat dan skewe kaartjies tot gevolg gehad het.

Juffrou Heilie se buitemuurs was om reëlings te tref en te werk met skoolbyeenkomstes. Dit het gewoonlik ook behels dat my ma se hele kombuis aangery is na ‘n ‘skoolsports’ toe. My ma was die pannekoektannie wat emmers vol deeg aangemaak het en saam met haar helpertannies omskep het in duisende pannekoeke. Ek kan nie glo dat so klein gemeenskappie soveel pannekoeke kon verorber nie. Dit moes die Boerepappas wees!

Ek en my maatjie was die enigste twee dogtertjies in die klas met tuisgemaakte broekies, van dieselfde materiaal as die skoolrokkies. Daardie tyd het die skool nie klaargemaakte rokkies gebruik nie, die ma’s moes self maak. Net een dogtertjie in die klas het kokipenne gehad aan die begin van die jaar. Sy het ook ‘n bokstassie gehad. My pa het my leertassie self gemaak en ek het hare begeer!

Juffrou Kobie het die gesamentlike standerd een en –twee klasse behartig. Baie kinders het haar as ‘kwaai’ ervaar, maar sy was nie regtig nie. Sy het aan haar senuwees gely, soos die oumense sê, en dit was altyd asof daar ‘n diep ongelukkigheid om haar gesweef het. Ek onthou dat sy baie hoofpynpille gedrink het, en as ek nou daaraan dink dan dink ek dat sy dalk baie migraine moes gehad het. Vir my het sy altyd soos ‘n porseleinpoppie gelyk, so fyn en breekbaar. Die seuns kon haar nogal treiter tot sy op hulle skree, maar op ons dogtertjies nooit. Juffrou Kobie was ‘n dame, baie vroulik en het altyd lekker geruik en was keurig gegrimeer. Sy het ‘n fyn ronde handskriffie gehad en het altyd die mooiste boodskappies in ons rapporte geskryf. “Sy is ‘n juweeltjie in die klas” is een van haar opmerkings wat my baie spesiaal laat voel het, want ek het eintlik gevoel dat sy my nie raaksien nie… aangesien sy nogal haar witbroodjies gehad het, veral ‘n familielid in die klas.

Juffrou Kobie was verantwoordelik vir Netbal. Ons was so min, almal vanaf standerd drie tot standerd vyf wat wou speel, het span gekry. Die skool se eerste en tweede span. Die skool se enigste spannetjies…

Die standerd drie en vier’s was ook in een klas, in die sorg van meneer Koos. Hy was juffrou Heilie se skoonseun. ‘n Beneukte rooikopmannetjie, die jongste van die personeel en almal se slaaf. Dalk dié dat hy so beneuk was. Ek onthou die frustrasie op sy gesig as hy met pikswart hande uit die afrolkamertjie kom en die bedonderdgeid wanneer daar ‘n kol op sy blou safaripak was. Daai taai swart ink het mos geklóú…

In standerd drie is jy mos nou groot en begin met wetenskap of wat ook al dit daai tyd genoem was, ek kan nie eers onthou nie! Maar ek onthou veral die kwik wat ons in ons hande laat rondglip het, daardie wonderlike vloeibare metaal; en die eksperiment waar jy ‘n leë Erlenmeyerfles met ‘n prop en glasbuisie daardeur met ‘n Bunsenbrander verhit en dan word die pypie in die water gedruk. Dan spuit die water mos so op in die fles. Dit het ‘n baie groot indruk op my gemaak en ek het my eie apparaat by die huis prakseer met ‘n pillebotteltjie en strooitjie wat ek deur die prop gedruk het. Ek het die gat geseël met speelklei en die botteltjie oor ‘n kers verhit. Ek het my verwonder aan daai spuitfonteintjie, keer op keer. Ek wonder of my kleiner sussies onthou dat ek dit gedoen het? Dit was die begin van Slakkelak die Fisiese wetenskaplike…

My hart het altyd ineengekrimp vir die minder-slim kindertjies in sy klas. Ek onthou eenkeer het ek nie my tafels geleer nie, want ek het dit tog in elke geval geken. Hy het kinders gekies om voor die hele klas die tafels volgens die ‘horlosie’ metode dan hier en dan daar te gee. Arme Pofmuis kon niks regkry nie. Toe skree hy vir hom hy sal nou vir hom wys hoe moet jy jou tafels ken en roep my naam. Ek wou moedswillig verkeerd antwoord maar was te bang. En vet Pofmuis krimp en krimp met trane wat oor sy gesiggie rol. Hy was nie saam met ons tot in standerd vyf nie, hy is na ‘n spesiale skool waar ek hoop sy selfbeeld weer opgebou is. Uit die dieptes van my geheue is meneer Koos die eerste persoon wat ek van kan onthou vir wie ek my respek verloor het. Oor Pofmuis.

Meneer Koos was verantwoordelik vir die ‘sports’ wat nou deesdae in mooi Afrikaans atletiek genoem word. Ons het net die reguit resies (seker 60-100m) gehad, verspring, hoogspring en aflos. Dis dit. Natuurlik was hy ook die rugbyafrigter.

Die standerd vyfs was alleen in ‘n klas by die hoof, meneer Piet. Hy kom uit ‘n ‘ou geslag’ en het homself nog Meester genoem. Vreeslik vernaam. Ek sien hom nou nog in sy strepies pak klere Sondae in die kerk, ‘n lang maer man met Brilcreme hare. En vir mevrou met styfgespuite haartjies, stywe lipstiek lippies, Crimpilene pakkie en bokshandsakkie oor die arm. Vreeslik, vreeslik vernaam. Uit die aard van sy hoofamp het hy geen buitemuurs gehad nie. Halfpad deur ons jaar het hy siek geword en uit die diens getree. Wat hom makeer het weet ek nie.

Wat goeds sal ek nou van hom kan sê… ja… daar is tóg iets. Ons moes ‘n koerantberig skryf in Afrikaans en hy het gesê ek sal eendag ‘n joernalis kan word. En ek was vir twee jaar een.

Maar hy het my Beenkoppie genoem en die spot met my gedryf oor ek so klein en maer was. En vir my gesê ek moet tog net nie kuns in standerd ses as vak kies nie, want ek kan glad nie teken nie. En hy het gejok. En dit het my jare gevat om te glo dat daar iets kunstig in my is.

Die laaste gedeelte van standerd vyf het juffrou Petro die klas behartig. Sy was my ma se vriendin en dit het my spesiaal laat voel. Sy is eintlik ‘n hoërskoolonderwyseres en dit was die eerste keer wat ek in ‘n klas behandel is asof ek groot was. Nie omdat sy my ma se vriendin was nie, maar omdat sy ons met respek behandel het. So anders as die twee menere, in wie se oë jy niks was nie. Sy het my nie voorgetrek nie, ek is gou-gou in die bek geruk toe ek eendag ‘n antwoord uitgeskree het toe sy iemand anders gevra het. By die huis was sy nog steeds tannie Petro, by die skool was sy juffrou, professioneel soos dit hoort.

Ons was uiteindelik veertien wat die hele jaar in die klas was. Kobie, Hanlie, Christa, Elbie, Lynette, Annelise, Ronel, Carin, Cheryl, Daleen, Patrick, Jannie, Louwtjie en Heinrich. Tweetjies, Cara-Mia en Heilie is weg na ander skole voor die einde van die jaar. Kan jy jouself die skok op ‘n kind se sisteem voorstel om van so klein skooltjie na ‘n hoërskool te gaan waar daar meer as ‘n duisend kinders is? Waar jy moet klasse wissel? Waar daar ses standerd ses klasse was? Dis ‘n storie vir ‘n ander dag…

Dan was daar mense soos Ou Bolla en die tandarts wat ook deel was van ons laerskool milieu. Ek weet nou nie eintlik wat Bolla se naam of amptelike posbenaming was nie, ek dink dit moes dalk iets soos distriksverpleegster wees… Sy en haar span het eenkeer ‘n jaar ‘n draai by die skool gemaak en dan is almal ondersoek en moes ons in ‘n ry, in net ons broekies, wag vir jou beurt. Dit was alleraaklig! Veral vir die ontwikkelende dogtertjies . Ek dink die kifose van my ruggraat is juis te danke aan my skouers wat gehang het in ‘n poging om daardie piepklein roosknoppies te probeer wegsteek van ander se oë! Ons is grootgemaak dat jy ander se privaatheid respekteer en het nie voor mekaar aangetrek nie. Na die ondersoek moes jy piepie in ‘n houertjie. Voor almal. Die koppierige houertjies het op ‘n papier met jou naam en klas gewag in die badkamer. Juffrou Kobie het altyd die wreedheid so bietjie versag, haar klassie se naambriefies was in die vorm van hasies geknip. Almal is eers laat aantree in ‘n lang ry onderkant die stoep, en dan moes jy op en af spring met ou Bolla aan’t heen en weer spring bo-op die stoep om die piepie aan te help. Waarvoor hulle getoets het, weet ek nie. Die ondersoek was vir skewe ruggies, ondervoeding en wie weet wat nog.

Een keer ‘n jaar het die plaaslike hospitaal se kombi gekom en almal wat wou of moes tandarts toe gaan is ingelaai. Staatstandarts toe. Gelukkig het ek sterk tande, maar ‘n skewe tand is summier getrek om plek te maak vir die ander… geen opsie van draadjies nie.

Die skool het elke paar jaar konsert gehou. In standerd een het ek die hoofrol gehad in n Repelsteeltjie. Ek dink hoofsaaklik omdat ek so klein soos ‘n kaboutertjie was… My ma het vir my ‘n baard van regte boerbokvel gemaak, en ek was baie ongelukkig daaroor. Ek wou ook soos die res van die kabouters ‘n sagte pofferige baard van watte hê. Ene wat nie kriewel en stink onder my neus nie! Juffrou Kobie se klassies het natuurlik altyd die oulikste gelyk! Sy het net daai ekstra moeite gedoen wat enige geleentheid in ‘n spesiale geleentheid omskep het. Meneer Koos het altyd sulke simpel goedjies self geskryf vir die groot (standerd drie tot vyf) kinders.

Wat nie lekker was van so ‘n klein skooltjie nie, is die plaatjies wat om jou nek gehang word. Ek weet dit word maar jou lewe lank gedoen, maar in so ‘n klein gemeenskap is net net meer opvallend. Slim of dom. Arm of ryk. Mooi of lelik. Ek wil nie eers almal noem wat te noeme is nie. Daar is te min om weg te raak in die bondel. Jy is iets of jy is nie iets nie.

Onregverdighede teenoor kinders was ooglopend. Voortrekkery aan die orde van die dag. Buiging van reëls om die pappas met die beursies en hand-op-die-balls-ek-knyp-hulle-af mense se kinders te bevoordeel. Akademiese bekers kry skielik ‘n sportbeoordeling by want die regte kind presteer nie akademies nie maar in sport. Algemene kennis toetse word oor geskryf totdat die regte kind die meeste punte het. Punte word van een kind weggevat en vir ‘n ander gegee.

Ons was arm, maar my ouers was gerespekteerd in die gemeenskap. Ons kinders was almal akademies sterk. Party baie sterk en dan het die ander daaronder gely, want die bordjie om jou nek sê ‘Slim Petoorsie’, ‘n naam wat ons almal nou nog haat. Dis die blikkie waarin ons almal gedruk is. Party het gerebelleer oor onregverdighede en ander het gelate aanvaar. Maar dat dit aan elkeen geslyp het om sy karakter van vandag te vorm is, is die waarheid.

Elke mens ervaar ‘n situasie uit sy eie verwysingsraamwerk. Iemand anders mag dalk dinge heel anders ervaar het as ek van dieselfde mense. Ons is immers elkeen ‘n individu. En dis goed so. Ek het my plekkie in die lewe lankal gevind. Ek het vrede met wie ek is. Ek bly nou dalk op ‘n ander plek. My omstandighede is dalk nou heeltemal anders maar daar is een mens wie ek altyd sal bly. Ek is Kobie, vyfde dogter van Hansie en Anne Pretorius van Langberg, Distrik Brits. Ek is ek.

Categories: Lankal terug | 14 Kommentaar

Bekentenis van ‘n giffiedief

Lank, lank gelede was daar ‘n kind. Die kind het haar kinderlewe onbevange geleef, beskerm in ‘n kokon van ‘n oordentelike lewe.  Maar dalk was sy self nie so oordentelik as wat almal gedink het nie, want op ‘n dag het sy iets gevat wat nie aan haar behoort het nie…

Giffie is ‘n kinderspel waar drie gaatjies in die grond gegrou word so paar meter uitmekaar in ‘n reguit lyn. ‘n Ghoen, wat gewoonlik ‘n platterige klip is, word dan van gaatjie tot gaatjie gegooi. Wanneer jou ghoen in die gaatjie land, mag jy verder gooi totdat jy mis. Die spel begin om eers te bepaal wie gooi eerste, waar mens direk vanaf die beginpunt na die laaste gat gooi. Naaste aan die gat begin. Daardie posisie is ‘Jack’. Dan speel mens terug na die beginpunt wat ‘Queen’ is, en weer terug wat dan die ‘King’ posisie word. Eerste persoon by King begin dan die ander spelers elimineer deur op hulle ghoens te gooi. Wanneer jy met die eerste gooi direk in die ‘Jack’ gooi, is jy onmiddellik ‘King’. Mens mag ook ‘n opponent se ghoen ‘nick’ om jou eie in die gat te kry. Dis wanneer jy die ander ghoen raakgooi en joune val in die gat.

Die kind het mooi in goed gesien wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar het. Haar ma het vir haar ‘n klomp rivierklippies in paraffien in ‘n glasbotteltjie gebêre wat sy op haar oupa se plaas opgetel het. Die paraffien het dit laat lyk asof dit vars uit die rivier kom. Simpel goed soos rooi Chamberlain’s- en swart vanillabottelproppies was vir haar kosbare besittings.

Dis vandag nog so by laerskole dat daar speletjieseisoene is. Julle weet mos, daar kom ‘n albasterseisoen, ‘n rekspringseisoen, ‘n hopscotchseisoen… So het dit gebeur dat giffieseisoen aangebreek het in ‘n seisoen in die kind se lewe wat sy nooit sou vergeet nie.

Die kind was goed met giffie. Êrens het sy ‘n swaar plat stuk yster gevind wat ideaal in haar hand gepas het. Sy het gou ontdek dat ‘n lekker swaar ghoen beter rigting hou as ‘n ligte.

Een Maandag het ‘n ander dogtertjie baie selfvoldaan kom ‘brag’ met haar nuwe ghoen. ‘n Perfek simmetriese, plat ovalerige rivierklippie wat sy iewers oor die naweek bekom het. Die kind was stom. Hoe KAN iemand giffie speel met iets so perfek? Sy het daardie dag versigtig gespeel en nie gewen nie. Sy kon dit nie oor haar hart kry om met haar groot ysterghoen naby daardie stukkie perfektheid te kom nie.

Terug in die klas het sy skielik ‘n nood ontwikkel en oppad na die toilette vinnig by hulle speelplek gaan draai en die stukkie perfektheid gaan red. Dis hoe sy dit gesien het. Nie steel nie. Nee. Red.

Vandag is my hart baie seer. Daar was ‘n blommetjiedief in my huis. Ek weet nie of dit ‘n kind blommetjiedief of ‘n grootmensblommetjiedief was nie. Ek weet net daar was ‘n blommetjiedief.

Toe my huis afgebrand het, was ek gedwing om binne ‘n bepaalde tydsverband die opruimingswerk te doen want anders kon ek nie weer ‘n nuwe huis bou nie. Met die brand vroeër hierdie jaar is dit anders. Niks jaag my nou op op te ruim nie. Ek sien in elk geval nog nie kans daarvoor nie. Ek gaan kort-kort soontoe met die doel om te begin, maar ek krap-krap net so bietjie dan oorweldig my emosies my. So het ek nou al ‘n paar kosbaarheidjies uitgekrap en net eenkant gesit om later te gaan haal. Daar is ‘n paar kleinighede wat albei brande oorleef het.

Net voor die brand het ek ‘n muurmosaïek begin beplan en die meeste van die benodigdhede aangekoop. Dit het keramiekblommetjies soortgelyk aan hierdie enetjie bevat.

Van hierdie blommetjies het die brand oorleef. Saam met dit het ek keramiekskulpies en ‘n seeperdjie gesit wat beide brande oorleef het. Kosbare goed. Hartsbesittings.

Ek en Marina het met die brandrommel begin handwerkartikels maak, sy in die vakansie en ek hiedie naweek. Iets uit niets.

‘n Stuk geroesde doringdraad, ‘n tjipslepel en nog ander flenters rommel kry ‘n nuwe lewe in my huis

Die giffiedief het die dogtertjie se ghoen bewaar vir baie, baie jare. Sy het dit immers gered, en daarom moes sy dit oppas. Sy het dit eers verloor toe haar huis baie jare daarna afgebrand het.

Blommetjiedief. Mag jy eendag vrede vind.  Die blommetjies het ek net anderdag gekoop. Maar my skulpies en seeperdjie… My hart huil baie seer … want hulle was driedubbeld in die vuur. Ek het hulle self uit klei gemaak, glasuursel opgesit en gebak. Pas hulle op. Pas hulle asseblief net op.

Categories: Lankal terug, Slakverdriet | 7 Kommentaar

Introvert gebore, introvert sal ek sterf

Dis hierdie jaar dertig jaar gelede wat ek in matriek was en daar word ‘n reünie gereël vir ons groepie. Skielik maak mens kontak met mense wat jy doerdie tyd laas gesien het, en al die ou skoolstories word opgediep.

Ek is eintlik vreeslik hartseer wanneer ek so na almal se foto’s kyk en die stories hoor… nie omdat ek dit mis nie, maar omdat ek nooit deel was daarvan nie!

Eerstens het ons op ‘n plot buite die dorp gebly en in daardie tyd was agt kilometer ver… veral as jou ma nie ‘n lisensie gehad het nie, en jy aangewese was op iemand anders waar jy graag wou wees. Eers in my matriekjaar het sy haar lisensie gekry, en dit het nog steeds nie my sosiale probleem opgelos nie.

Eintlik is dit sommer net ‘n gerieflike verskoning. Om werklik eerlik met myself te wees, moet ek erken dat ek ‘n vreeslike introvert is en nie van ander mense se geselskap hou nie. Dis erg, maar dis waar. Ek is dood tevrede met my eie gedagtes… Dis een van die redes waarom ek my huidige situasie kan hanteer in ons swaar tyd waar Roelf in Pretoria werk en ek alleeen op die plaas in Barberton bly. Hy en my kinders is die enigste mense wat ek om my wil hê. En dan moet hulle ook nie heeltyd njarra njarra om my ore nie. Stilte. Ek soek stilte om my… met  my eie gedagtes en met my spesiale mense net so amper in my gedagtekring. Ek wil net aan hulle raak, ek wil nie noodwendig met hulle praat nie.

Selfs my ander naby familie leer my werklik nou eers ken deur my blog te lees. Al hou ek van my eie gedagtes, beteken nie dat ek alles vir myself wil hou nie!

Ek wil vreeslik graag die reünie bywoon, maar gaan ek iets hê om te deel? Gaan daar werklik iemand wees wat mý graag wil sien? Dis vrae waarmee ek worstel en een of ander tyd moet ek besluit of ek gaan of nie. Dis ver om te ry, dit beteken ek gaan dan vir twee weke nie my man sien nie. Gaan ek, kan ek darem ook by my sussie kuier in Brits, maar gaan dan in die aand vanaf die funksie moet terugry na haar huis en dis ‘n gevaarlike pad in die donker.

Eintlik het ek in my hart al klaar my besluit geneem, want ek is nou maar net nie ‘n tropdier nie… ‘n introvert gebore, en ‘n introvert sal ek sterf.

 

Categories: Lankal terug, Slakgedagtes | 13 Kommentaar

Van toeka tot nou

Toeka se tyd is diere op ons plaas gejag met boë wat toegerus was met klip pylpunte. Die bewys hiervoor is die steentydperk pylpuntjies wat ons optel, veral na harde buie reën wat dit oopspoel. Hulle wissel van ongeveer 2.5 tot 5 cm in die lengte. Ek het ‘n perfekte enetjie gehad waarmee ek vir Roelf ‘n hangertjie wou maak, maar ongelukkig het hy uitmekaar gebars in die groot vuur. Wanneer ek nou nuwes kry word hulle dadelik afgeneem vir my plaasjoernaal.

Roelf het die naweek hierdie mooi pylpuntjie opgetel.

 

'n BAAAIE besonderse enetjie...

Ons plasie is in ‘n oorgangsfase tussen grasveld- en savannabiome en ek wonder hoe dit moes gelyk het selfs net ‘n paar honderd jaar gelede. Vorige eienaars het die grond totaal oorbewei met beeste en Lantana bedreig die biodiversiteit nog verder. Ek wonder watter wild in die steentydperk natuurlik hier voorgekom het, nou is alles ingebring behalwe grys- en rooiduikers, bosvarke, ape, bosbokke en witkwasjakkalse.

Ek wonder of die oermense ook gedink het dis mooi hier....

 

Dit is my missie om die biodiversiteit wat hier nog is te probeer bewaar. Die stukkie grond is my hemel op aarde waar ek vrede vind en ek ontdek allerhande mooi en interessanthede. Ek het ‘n Google Maps lugkaart van die plaas stukkie vir stukkie gecopy en gepaste wat ek nou gebruik as verwysing vir my plaasgids. Sodoende kan ek mooi aantoon watter plante waar voorkom.  Ek het ook ‘n stukkie versteende been gehad maar ongelukkig het ek hom nooit gefotografeer nie en is hy ook nou verlore.

Die voëlnessie hieronder is netjies uitgevoer met wildebees-sterthare, ons het al meer as enetjie wat so lyk opgetel na ‘n windstorm. Ek kon egter tot sover nie vasstel wie so oulik is nie, maar ek hou my oë oop!

Kyk die lang swart wildebees-sterthare!

Slegs wanneer van die wild uitgedun moet word of toe die finansies erg geknyp het en ons nie winkelvleis kon bekostig nie, word daar ‘n bok geskiet. Nooit met ‘n geweer nie, maar met ‘n moderne boog en vlymskerp lemmetjies as pylpunte en te voet sodat die bok ‘n regverdige kans het om weg te hol.

Roelf as klein seuntjie met groot drome van grootwildjag

Toeka is klip pylpunte gebruik wat waarskynlik met gif gesmeer is, nou ‘n boog met katrolletjies om die slaankrag te verhoog en vlymskerp lemmetjies om onnodige lyding te verhoed. Dieselfde beginsel… die mens moet eet.

Categories: Lankal terug, Plaaslewe | Sleutelwoordw: , | 3 Kommentaar

My pa het ‘n banjo gehad

‘n Foto is ‘n twee-dimensionele vasvang van ‘n gebeurtenis. Ek dink ek kan met vertroue LEWE as is ‘n multi-dimensionele gebeurtenis beskryf.  Buiten sien en hoor, is daar nog ons tas- en reuksintuie, ons emosies, intuïsies en ander dinge wat ‘n rol speel in hóé ons ‘n ervaring interpreteer.

Op 6 November 2010 het weerlig my huis getref en het ons alles verloor.  Dit is een van die redes waarom ek my gedagtes nou met ander deel. Baie mense vra wat het ek geleer in die proses… watter raad kan ek gee vir ander mense. Daar is baie wat ek kan sê, maar vandag wil ek nét een ding sê.

Lééf jou foto’s.

Kyk gou na jou gunsteling foto, wat dit ook al mag wees. Maak nou jou oë toe… en skielik kan jy die see hoor bruis. Of jou kind se babaskaterlaggie hoor. Of ruik jy jou ma se vars gebakte beskuit. Of ervaar jy die opwinding van jou matriekafskeid. Of dit, of dat. Maar net deur te kýk het jou brein die konneksies gekoppel om al die ander sintuie se ervarings ook te onthou. Word die foto lewendig.

Vertel vir almal wat deur jou albums blaai wat die foto se storie is. Maak dit ‘n lewendige gebeurtenis. Praat daaroor. Lag daaroor. Huil daaroor.

In my ma se foto-album is ‘n foto van my pa as jong man saam met twee ander onbekende mans. Scottburgh 1950, ‘n paar jaar voordat hy my ma ontmoet het. My pa met ‘n banjo, die een oom met ‘n trekklavier en die ander een met ‘n kitaar. Hy was deel van ‘n klein orkes. Musiek gemaak. As ek nie die banjo in die kas gesien het nie, sou ek vir iemand gesê het dis nie my pa in die foto nie, maar dalk iemand wat per ongeluk net soos hy lyk. Solank as wat ek kan terug onthou het ek hom nooit daai banjo gehoor of gesien speel nie. Dit was deel van ‘n lewe waaraan hy ons nie toegelaat het om te deel nie. Later het hy die banjo vir my man gegee en nou is dit verbrand.

Vir hom was die foto ‘n herinnering, ‘n jolige vakansie by die see saam met ‘n groot groep familie en vriende. ‘n Herinnering, maar net vir hom. Vir my is dit ‘n prentjie waarin my pa ook is, geneem tydens ‘n vakansie by die see in 1950. Net ‘n prentjie. Ons is geleer om ander se privaatheid te respekteer, en as kind sou ek nie vra nie. Nou is hy nie meer met ons nie en kan ek as grootmens nie meer vra hoekom hy sy banjo weggepak het en nooit weer musiek gemaak het nie. Dis vir my ‘n verlies. Die gebeurtenis is dood vir my. Vir altyd. En dis vir my baie hartseer.

Lééf jou lewe. Déél jou prentjies en herinneringe met die mense rondom jou. Al is dit deel van ‘n tyd wat verby is. Jou foto’s kan verbrand, dan leef die woorde ten minste voort. Jy kan sterf, en dan leef jy in jou foto’s voort omdat die storie vertel is. Help jou foto’s om lewendige herinneringe te wees, nie net dooie prentjies nie.

My pa het ook ‘n tent gehad…

Categories: Lankal terug, Slakgedagtes | 11 Kommentaar

Hospitaal manewales

Baie jare gelede moes my verstandtande uit, jare terug voor selfone hier beskikbaar was. Dit word mos sommer by daghospitale gedoen, vinnig-vinnig. My man het nog nooit by my gesit voor ek teater toe gaan nie. Dis net nie sy ding nie, en ek neem hom nie kwalik nie, want ek verstaan waarom nie. So word ek toe vroegoggend afgelaai vir die prosedure. Op my eie. Allenig.

My lyf is BAIE sensitief vir medikasie en die pre-med inspuiting is gewoonlik al genoeg om my diep in droomland te sit. Dis nou nadat ek eers ‘n kwota gal skenk in die nierbakkies, en my bloeddruk die dieptes in val. Met die wakker word brul ek soos ‘n gewonde leeu en moet ‘n blink oorlewingskombers om my gedraai word om my temperatuur normaal te kry.

Op die spesifieke dag het ek die gewone skenking gedoen en naderhand ingedommel. Na ‘n ruk het ek wakker geword en gedink die prosedure is al verby. Voel-voel met my tong in my mond. Bitter gal. Niks wat bloederig proe nie. Niks is geswel nie. Roep toe maar ‘n nurse. “Ag sies tog, mevroutjie, dokter is laat en ons weet glad nie waar hy is nie. Probeer maar weer ‘n bietjie slaap.” Huh? Kan sy nie net  iets uitdink om vir my te sê nie? Na ‘n ruk kom sê die nurse hulle is baie verlig, dokter het net ‘n pap wiel gehad, teater kom my sommer nou-nou haal.

Dommel weer in en ek word wakker toe die bewegende bed teen ‘n hoek stamp. “Askies Mevrou Marais” begin die teaternurse… Voor sy nog verder iets kan sê is ek KIETSREGOP in die bed. “Het jy gesê Marais? Ek is nie mevrou Marais nie!” My nek sweepslag omtrent soos hulle stop. Die kaart word uitgepluk en my armbandjie bestudeer. “O vrek, ons is een vloer te hoog. Sorry mevrou.” O vrek, sorry mevrou? Oo Bliksem!

Met dokter wat laat is, is die hele teaterlys laat. Hulle koppel solank die elektrodes om my hart en bloeddruk te monitor terwyl ek soos ‘n stuk vleis vir die worsmasjien lê en wag. My oë is toe, die pre-meds lankal uitgewerk. Die nursies sit om die hoek. “Wie is die narkotiseur vandag? Ek hoop tog net nie dis dokter So-en-so nie. Ek dink regtig nie hy is nie ‘n goeie dokter nie.” Huh? Ek is WAKKER! Ek het ‘n ander narkotiseur maar dis net te veel. Die hartmonitor gaan mal. Ek maak een oog oop. 140… 145… Kalmeer Jakoba, kalmeer….135… 140… KALMEER… “Sies tog mevroutjie, hoekom is jy so bang? Ons gaan mooi na jou kyk.” kom my dokter se stem van agter af. En toe is ek weg.

Die bloederige spoeg loop by my mondhoeke uit en ek kry nie eers gesluk nie. So geswel my lippe kan nie toe nie. Ons gaan mooi na jou kyk. En Roelf dink ek huil oor dit seer is.

Eers later kon ek vir hom vertel… dat ek mevrou du Preez is, en nie mevrou Marais nie. En as ek nou hospitaal toe gaan drink ek geen pre-meds nie, klim self op die teaterbed, maak seker ek sien my dokter en vertel mooi vir die narkotiseur hoe hy my aan die slaap moet maak; want ek wil verseker weet my nier word nie uitgehaal of my been geamputeer net onderkant my stuitjie nie.

Categories: Lankal terug | 7 Kommentaar

Blog at WordPress.com.