Slakgedagtes

Hoekstene

Op Vrydag 21 April 2017 is oom Jan uit my kinderjare ter ruste gelê. Begrawe. Dood. Hartseer. Trane. Onthou. Soveel emosies, soveel gedagtes wat deur my kop maal oor hierdie verlies. Dit is nie net die persoon nie, maar dis die verlies van die laaste boetie van ‘n familie wat gehelp het om my te vorm in die mens wat ek vandag is, wat my trane laat stroom.

Binne loopafstand van ons het ‘n gesin gewoon – Ou oom Faan, tant Heilie, ooms Wies, Jan en Chris. Hulle broers Bert, Giel en Faan het op omliggende plase in die omgewing gewoon. Wat uniek was, is die feit dat slegs oom Bert en Giel getroud was in my kleindogtertjie-tyd. Oom Faan het saam met ou oom Faan se suster Kleintan gewoon om haar, oujongnooi, op te pas.

Hierdie mense was eenvoudige, doodgewone Boeremense. Uiters konserwatief. Hardwerkend. Eerlik. Godvresend. Bemind. Gelief. Elkeen is op sy eie manier in my gedagtes vasgeëts, prentjies verewig in die neurons van my brein.

Van ou oom Faan onthou ek maar min, net sy ore. Ek kon my verkyk aan die langste ore wat ek nog ooit aan ‘n mens gesien het, met oumens oorhare wat baldadig oral was. Of hierdie beeld die werklikheid was weet ek nie, dis wat ek kan herroep uit lankal se gedagtes.

Nie een van die plase rondom ons het elektriese krag gehad nie. Almal van ons het gefunksioneer met koolstowe, parafienlampe, kerse en natuurlik kleinhuisies en enamel kamerpotte vir die nag.

Die reuk van hulle huis is ingeprent as koffie, opregte boeretroos wat self gemaal is. Tant Heilie het vandat ek kan onthou, tot met haar dood, net gesit. Haar plekkie was langs haar koolstoof, waarop die pot moerkoffie altyd geprut het, en altyd ‘n vlieëplakkie in die hand. Porseleinkoppies is dalk uitgehaal vir dominee met huisbesoek, maar enige iemand anders het ‘n blikbeker gekry. Kinders mag ook koffie gekry het, en ek onthou die vuurwarm blikbeker met gifsterk koffie, gewoonlik sonder melk en meestal ook sonder suiker. En ons het beurte gemaak om die koppie te gebruik.

Die tante het nie gesit van luigeid nie. Sy het ‘n been gehad… Wat haar been makeer het, weet ek nie, ek vermoed dit moes iets soos sellulitis sere gewees het, maar wat ook al dit was, dit was pynlik. Haar beplooide gesiggie het min gelag, ek het baie trane gesien wat sommer net geloop het, veral wanneer sy ‘n nuwe lappie om die been gedraai het, en ons mag nooit gekyk het nie. Sy het erg kifose gehad en het net lang swart rokke gedra en elke dag sykouse wat sy in rolletjies kon afrol sodat die lappie vervang kon word. Haar lang, rêrig baie lang, dun grys haartjies het sy daar voor die stoof gesit en droogmaak wanneer sy dit gewas het. Wanneer dit droog was het sy dit stadig uitgekam, gevleg en dan in ‘n bollatjie gemaak. So… stel jou nou voor hierdie gryshaar boggelrug tantetjie in swart, wat wanneer sy wel gelag het, ‘n stel slegte tande ontbloot het. Dis die prentjie wat in ons kinderboeke voorgehou is as ‘n heks… maar sy was nie, sy was tant Heilie.

Van kleintyd af het ons kinders maar tydig en ontydig daar gaan draai, saam of sommer alleen. En elkeen van ons het ‘n ander ervaring beleef. Van die sussies is al deur die ooms geleer bestuur toe hulle nog in die laerskool was. Ek het dit nooit eers geweet nie, ek het dit eers gehoor by grootmens nabetragtings van ons kinderjare. Nie een van die ooms het dit opgehaal wanneer ek daar was nie, en nie een het aangebied om my te leer nie. Wat die rede is weet ek nie en ek breek ook nie my kop daaroor nie. Miskien was my hoenderpoepgrootte dalk die bepalende faktor, of dalk was hulle bang ek klik, want ek het nogal knoppies agter my vlerkies gehad waar die engelvlerkies wou bult. Die sussies is tot toegelaat om die pad Palmietfontein, die plaas waar hulle beeste was, toe te ry met die ooms se Datsun bakkie.

Selfs as tiener het ek nog daar gaan draai. Op ‘n dag het tant Heilie met trane vir my vertel hoe lief sy vir blomme is. En dat sy nooit meer blomme in die huis het nie, want tant Bettie van oom Bert wat altyd vir haar blomme gebring het, kom amper nooit meer daar nie. Haar verlange na ietsie moois was voelbaar en ek het gesluk aan my eie trane. Toe vertel sy my dat daar blomme in die tuin is, ek moet dalk net gaan kyk.  Ek kon my ore nie glo nie. Blomme in daardie dorre stukkie tuin? Ewe ongelowig stap ek toe uit na waar sy beduie en sowaar… Teen ‘n draad naby die dam het ‘n rankrosie baldadig pienk gebloos en ‘n paar sukkelende rose het verkramp ‘n blommetjie gestoot. Al is rankrosies nie plukblomme nie, het ek dit tog gepluk en in ‘n vasie gaan sit. Ek wonder  of hulle tot die aand gehou het, maar dit was haar eie eie blomme en het haar gelukkig gemaak. As ek kon teruggaan in tyd sou ek vandag vir haar die grootste bos rose vat wat ek kan bekostig.

Van die boeties het net boetie Bert soos hy genoem is, kinders gehad. Hulle was baie ouer as ek en ons het hulle maar net gesien wanneer daar ‘n verjaardag was en ons en die boeties dit gevier het. Daar is net een gebeurtenis wat vasgehaak het in my menswees. Dis nie onthou nie, dis vashaak. Ek was seker so vyf jaar oud en sussie Teunet het geval en gesit en huil. Toe storm een van oom Bert se dogters op my af en vra hoekom troos ek nie my sussie nie. Ek was lam geskrik want ek het nie geweet wat beteken die woord troos nie… Sy moes seker my verwarde gesiggie gesien het en  verduidelik toe as iemand huil, moet mens sê jy is jammer dat hulle hartseer is en hulle ‘n drukkie gee. Ek was ontsteld dat sy dink ek gee nie om nie. Natuurlik het ek vir my sussie omgegee… maar in ons huis het mens klaar gehuil en dan opgestaan en aangegaan. Nie drukkies en jammer en sulke goed nie. Jy tjank klaar en dan staan jy op.

Oom Giel was getroud met tant Annetjie. Sy was net ‘n ou gesie… sy was deurskynend bleek, maer en vir my ‘n patetiese figuurtjie. Sy is toe vroeg dood aan haar hart en oom Giel het weer getrou met ‘n tannie Sarie wat ek nooit geken het nie. Hy is kinderloos en die enigste wat nog leef. Op agt en tagtig rook hy glo baie, is gesond en helder van gees.

Oom Wies. Liewe, liewe oom Wies. Hoe pyn my hart nou oor verlang na Oom. Plooie het diep spore oor sy gesig gekerf. Hy was verskriklik skaam en inkennig, veral wanneer daar enige vroumense in die geselskap was. Dit was hy wat altyd vir ons koffie gegee het. Wanneer daar melk was, het hy die bekertjie lou melk uit die spens gaan haal, en ek hoor die rinkel van die kraletjiedoilie teen die metaal melkbeker soos hy onbeholpe om die hoek van die tafel kom.

Al het oom Faan elders in die omgewing gebly om die oujongnooi tante op te pas, was hy byna elke dag maar by die ander boeties. Van almal was hy seker die skuuste vir mense, veral vroumense. Iemand anders uit ons kinderjare vertel dat hulle elke dag by oom Faan en Kleintan gaan kuier het en lekker tuisgemaakte brood en varkvet gaan eet het. Later toe die tante dood is, het oom Faan ook by die ander boeties kom bly.

Die dag toe ons hoor oom Jan het ‘n meisie, het ons omtrent omgeval. Die vier boeties sonder vrou was vir ons kinders ‘n aardigheid. Oom Jan se sagte bokkie oë omraam met diep lagplooitjies, sy skaam innemende glimlag sal altyd by my bly. En so het tannie Petro ook deel van ons lewe geword, iewers toe ek nog in die laerskool was.

Hulle het hul eie plaas gekoop maar het deel van ons lewe gebly. My ma en tannie Petro het goeie vriendinne geword en baie dinge saam gedoen. Tannie Petro het ons lekker bederf en dit was vir ons omtrent ‘n opgewondenheid die kere wat ons by hulle gaan oorslaap het. Haar spaarkamer was ‘n sagte lilapers, ‘n kleur ongehoord in ons wêreldjie. Kleur het nie ‘n groot rol in ons huis gespeel nie, beddegoed was enige sindelike kleur en die mure altyd wit gekalk. In my standerd vyf jaar het ons skoolhoof wat ook ons onderwyser was, siek geword. Tannie Petro het ons klassie met veertien kindertjies kom oorneem en ek was baie jaloers om mý tannie met die ander kinders te deel. Dit was sy wat my klasmaniere geleer het… om net te antwoord wanneer ek my hand opsteek. Dit was swaar, maar dankie Tannie, jy het dit reg gekry!

Die jongste broer Chris was ook maar stil. Lank na ek self getroud was het hy ‘n meisie ontmoet en is getroud. Ek was só bly dat hy ‘n maat gekry het, elke mens verdien ‘n goeie maat. Toe ek later hoor dat hulle geskei is, was ek baie hartseer vir hom. Dit moes ‘n uiters slegte situasie wees wat hom genoop het om te skei.  Trou was ‘n gróót stap in daardie konserwatiewe familie, skei iets ongehoord. Hy is oorlede na ‘n kankerlyding ‘n paar jaar gelede.

Met elke groot gebeurtenis in ons familie het oom Jan en tannie Petro moeite gedoen om dit saam met ons te vier. Nou is net tannie Petro oor, die laaste deel van die hoekstene van my kinderjare.

As dit enigsins moontlik sou wees om terug te gaan in tyd, sal ek baie graag net één keer nog by hierdie familie wou gaan kuier. Vir tant Heilie sou ek ‘n groot bos blomme vat. Uit my ma se spens sou ek vir die ooms hertzoggies en handtertjies vat. Ons sou lag en moerkoffie uit blikbekers drink wat ons hande brand. Miskien sou ons beplan om Palmietfontein toe te gaan. Dalk sou hulle sê dat my pa ‘n rooibok daar mag skiet. Dalk sal tannie Petro ons nooi om in haar pers kamer te kom slaap. Dalk sou dit lekker wees. Maar as is verbrande hout en daardie tyd is nou net behoue in onthou.

As onthou ‘n plaasdam is, het ek nou lekker in die modder gespeel. Ek wil nie hierdie moddervoetspore van my gaan was nie. Ek wil my voete net effentjies afstof en dan my skoene bo-oor aantrek sodat ek vir altyd kan onthou waar my wortels lê en wie my menswees help vorm het.

image My Pa en Ma voor. Oom Jan, tannie Petro en oom Chris agter. Geleentheid: 2005 Pa 80e verjaardag

********************************************************************

Bygevoeg na die tyd

Die ding van plaasdamme is as jy eers in die modder begin baljaar, dan spring daar platannas uit…

Dit wat ek geskryf het hierbo is maar enkele herinneringe. My susters en broer het elkeen iets anders ervaar, waarvan ek sommiges hierby voeg.

Ek het byvoorbeeld skoon vergeet dat daar nog ‘n boetie was. Oom Frans. Hy en oom Bert was eie broers en het ‘n ander ma gehad. Ek kan nie onthou dat ek hom ooit gesien het nie. Hulle het in Pretoria gewoon. Sy seun Frans het op ‘n stadium by die ooms gebly en daarna baie kom kuier. Ek was ‘n klein dogtertjie en die ouer sussies tieners. Sus Annemarie sê sy was verlief op Frans, maar hy het net oë gehad vir Trisa…

Trisa sê: ”Pragtige herinneringe wat ook deel was van my kinderjare, hoewel myne bietjie anders is. Ek onthou hoe hulle my geterg het toe ek klein was, en my Cheeky genoem het. Oom Chris het ook my vlegsels se linte (onthou Ma het altyd mooi linte ingebind) aan die lemoenboom vasgemaak. Ek was seker maar vier of so, want toe ek op vyf skool toe is, was my hare kort en nooit weer laat groei nie.

Ek onthou ook hoe hulle teen skemertyd omgestap het en by ons kom tee drink het. En by ons het hulle soos al die gaste, of kuiermense soos ons dit geken het, tee gekry. Die skinkbord moes behoorlik gedek wees, met al die lepeltjies in dieselfde rigting.

Koringstrooptyd het ek en Mara vir hulle pannekoek gebak. In daardie kombuisie. (Ek het by ons huis gaan bakpoeier haal)

En dan Frans se kuiers…”

In die Franstyd was daar ook nog ‘n Taljaardseun wat saam met Frans daar gebly het. Daar was twee perde, Nugget en Suurpap. Ek onthou net vir Suurpap, ‘n grys skimmel, vir my ‘n lelike perd. Trisa sê sy het eenkeer in die kanaalpad afgejaag met Nugget en my Ouma hoor skree van skrik oor die affêre. Kan my net indink… my ouma het nie juis gehou van meisies wat buite speel nie… Ek kan onthou hoe ek altyd aan die groot sussies gekarring het om ook te ry maar net een keer toegelaat is.

Trisa se bestuurslesse het blykbaar nie so goed verloop nie. Haar bene kon nog nie bykom nie en na een les het oom Chris gesê sy moet eers gaan pap eet voor sy weer kom. Annemarie en Heleen het help lande ploeg. Annemarie sê sy het eenkeer met die ooms se ou bakkie in die kanaal ingery en gelukkig kon Heleen haar met die trekker uitsleep. Ek wonder of my pa en ma ooit maar ooit gehoor het van hierdie dinge…

Net soos met bestuurslesse wat ek nie gekry het nie, het ek ook nooit die voorreg gehad om saam te ry na die groentemark in Pretoria nie. Annemarie en Heleen het baie saam met oom Chris gery, en hy het hulle dan bederf met hamburgers. ‘n Bederf ook vir hom, dit was iets wat nie deel was van die kos op enige van ons tafels nie.

Annemarie onthou van ‘n keer toe my pa nie by die huis was nie en daar ‘n vreeslike groot slang onder my ouma se watertenk was. Hulle gaan roep toe vir oom Chris en hy kom skiet die slang… met ‘n haelpatroontjie… Ek was seker te klein om dit te onthou, maar ek kan my pa se gesig voorstel toe hy by die huis kom en die water spuit orals uit…

Magda en Hannes was baie saam met oom Wies Palmietfontein toe. Ook iets waarop ek uitgemis het… Dis waar kinders, bestuur en openbare paaie in die prentjie kom… Hulle onthou gekookte eiers, broodjies en koue swart koffie by die dam, party keer ‘n vleisie op die vuur. En gekoopte koekies by Greenstores vir padkos… Hoe verstote voel ek nie nou nie..

Al het die ooms nie kinders gehad nie, het hulle vir ons gehad. Ons was maar elke dag omtrent daar. Saam of elkeen op sy eie.

En nou verlang ek net nog meer na hulle…

Categories: Familie, Lankal terug, Omgee, Slakgedagtes | 10 Kommentaar

Dispersie

‘n Rukkie gelede het ek die mooiste spektrum wat ek nog ooit gesien het vasgevang met my kamera. Om dit meer spesiaal te maak het het my kleinseun geroep sodat daardie lieflike Lig op sy handjie kan skyn. En vandag het ek ‘n paar woorde by my foto gesit. Net ‘n paar, want meer is nie nodig nie.

image

Gaan lees gerus ook by die volgende skakel en sy opvolg wat my gedagtes rondom Lig is.

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: , | 2 Kommentaar

Lourens 16 Aug 2015

Winterblare word poeier onder my voet se val

‘n Paadjie oop geloop, bo teen die wal

Menige geselse om ‘n potjie tee

oor diepe dinge of sommer net, wel en wee.

Ons tydjie saam raak min my vrind…

Maar ons albei wéét

ons sal hierdie beskore tydjie nooit vergeet.

Ek het jou genooi en jy het gekom,

Jy beloon my kos met ‘n prentjie van ‘n blom.

Ons tydjie saam raak min my vrind…

Ek sou graag wou hê dat jy nog ‘n bietjie bly

maar ek weet elders gaan jy ook weer gedy.

Eendag… eendag sal ons mekaar weer vind

want ons is albei één asem in die grote wind.

Ons tydjie saam raak min – my liewe vrind!

16 Aug 2015

lourens

Categories: Gedigte, Omgee, Slakgedagtes | 2 Kommentaar

Ledigheid is die duiwel se oorkussing

Desember vakansies is sekerlik van die spesiaalste tye in my lewe. Die rede… tyd. Tyd om by my gesin te wees. Tyd om aan my huis te spandeer. Tyd om te lees. Tyd om tuin te maak. Tyd om in die veld te gaan loop. Tyd om te werk aan allerhande lekker dinge. Tyd om net bietjie my menswees in te haal wat verlore raak in die stres van skoolhou, voorbereiding, eksamens, vraestelle, ander mense se kinders, personeelkamer politiek en ander benullighede wat mens tot raserny dryf.

Ons skool is ‘n matriek merksentrum en ons sluit dus ‘n week vroeër as ander skole… bonus tyd!

Ek het weggetrek met ‘n krat appelkose en ‘n krat perskes wat verwerk is tot bottels en bottels vol konfyt en kerrie perskepiekels om in my boerespens te pak vir die volgende jaar. Spesiale mense kry soms ‘n botteltjie as ‘n geskenk, en dit word spesiaal verpak. Toe het ek en my liefste man ‘n week weg spandeer by Sodwana – heerlik geduik, leeg gelê en gelees. Mens kan nie net herinneringe in jou kop weg bêre nie… mens moet ietsie maak om die see se mooi op te roep. Daarom het ek vir my ietsie gemaak om om my nek te hang om die see te onthou.

My eerste handwerk projek vir die vakansie was loodglas venstertjies vir my kombuiskassies. So groot projek is ‘n tyd-vreet-gogga van formaat en ek eet, slaap en lewe tot dit klaar is. Daar is drie groot vensters en een langetjie om te vul, ek het nou net fase een gedoen, twee van die groot vensters. Al rede waarom ek nou net twee doen is dat ek nie op die patroon van die middel venster kan besluit nie.

Tussendeur die loodglas het ek my mikrogolf oondjie gebruik om glas hangertjies te maak. Dit neem baaaaie lank vir die glas om af te koel en die versoeking is kleiner om in te loer as daar iets anders is wat my besig hou.

My twee liewe kleinkinders was albei bietjie olik laasweek en hulle het maar baie van my handwerk tyd opgeneem, maar dis beleggingstyd in hulle lewe, so dis nie tyd wat gemors is nie.

IMG-20141123-00087.jpg

Zelmarie lees vir Roelof ‘n storie

Ons bly mos in die bos en die bokke loop reg by my huis en loer in by my deur. Daar is altyd iewers ‘n veldblom of twee wat blom, maar ek wil nou bietjie gewone blomme hê ook en ons het besluit om hulle so bietjie uit te span. Ek het nou al een bedding gemaak en Roelf het vir my ‘’n groooot visdam by die swembad gebou. My goudvisse broei teen ‘n tempo en dis goed so, ons wil later ons groentetonneltjie met die nutriënte uit die visdam natmaak.

Roelf het my die week gehelp om presente vir my tuin te maak, stapblokke (‘stepping stones’) wat later gebruik gaan word saam met wit spoelklippe in ‘’n gedeelte van die tuin wat nog in beplannig is.

Ek het ook my naaimasjien nader getrek en vir die eerste kker in ‘n baie lang tyd vir myself iets gemaak. Sommer net ‘n vinnige lekker los viskose langbroek. Dan was daar die ‘normale’ kombuis werkies soos beskuit bak en ‘n heerlike vrugtekoek…

Vandag het ek wildsvleisies sag gekook sodat ek môre lekker pasteitjies kan maak vir ons familie Kersete in Pretoria.

Dan het ek nog twee weke se vakansie oor wat ek gaan spandeer aan pewter en verf. Ek is besig met ‘n reeks bome in pewter vir my sitkamer, ek het al in die Julievakansie begin en dit moet nou klaar. My kombuis moet ‘n hoenderhaan kry in pewter, in akriel verf en in glas.

 Nou ja, ek kan nie tyd skep nie, maar ek kan my tyd bestuur en maksimum benut. Ledigheid is immers die duiwel se oorkussing en deur besig te bly, lewe ek tot eer van God wat vir my wonderlike geleenthede en talente gee.

Categories: Slakgedagtes, So doen Slakke dit, Sommer maar net | 1 Kommentaar

Lewensreis

Pak vir jou ‘n koffer,

pak vir jou ‘n tas.

Gryp ‘n strandsak

maar onthou tog net jou jas.

 

Jy mag kom net soos jy daar is,

of tof ‘n uur vooruit…

maar onthou dat na God

die eind reis is.

 

lewensreis IMG_7229

Categories: Gedigte, Slakgedagtes | Lewer kommentaar

Gom

 

Ons is ‘n vreeslike hegte familie wat daar is vir mekaar deur dik en dun. Nou nog wanneer ons geleentheid het speel ons saam. Soms is dit fisiese spel soos jukskei, tafeltennis of volleyball, en soms word die breine ingespan vir 30 seconds of iets dergeliks. Deur spel leer mens dissipline, jy leer om jou plek te ken, jy leer om op te staan vir jouself, jy leer om te lag, om bly te wees, om te verloor, om terug te veg, om weer op te staan na ‘n neerslag. Mens leer om jouself te wees.

saamspeel gom

 

 

Categories: Familie, Slakgedagtes | 8 Kommentaar

Toe bly net die brilletjie oor…

Dit gaan maar wild wat tyd betref hier by my. Tyd vir blog is maar min. Hierdie termyn is rof op onnies en kinders. Met die beplanning van die kurrikulum is daar nie voorsiening gemaak vir al die vakansie dae en nog stemdag daarby nie. Skool kurrikulums maak ook nie voorsiening vir onderwysers wat siek word nie. Dit het regtig wild gegaan met oggend klasse vir my gr 10 Fisiese Wetenskappe klas en middag klasse vir die gr. 11 Lewenswetenskappe klas na ek in die hospitaal was. My vyf gr 9 Natuurwetenskap klasse was maklik om in skooltyd op te vang. My skoolvakansie het ek by die Nasionale Boogskiet kampioenskappe spandeer as Judge.

Die afgelope paar weke heelwat oor my eie liggaam geleer. Alles was nie lekker nie, maar alles was ook nie sleg nie.

Een van die dinge wat vir my uitstaan is my wete dat ons gebore word om te sterwe. Dis wat jy in die tydjie wat jy lewe dóén wat saak maak, nie hoe lank jy gelewe het nie. Natuurlik wil ons almal langer lewe. Natuurlik wil ons die beste lewenskwaliteit hê wat moontlik is. Maar uiteindelik is daar keuses wat mens moet maak wat beide kan beïnvloed.

‘n Paar jaar gelede het dit af en toe begin voel of my hart ‘n mis gee. Toe dit op ‘n stadium erg was het ek dokter toe gegaan maar ons kon dit nooit op ‘n EKG vasvang nie. Dit het verdwyn vir maande en dan sporadies, ongevraag en onverwags weer opgeduik. Op ‘n stadium het ek dit gekoppel aan suiker inname, maar ek kon dit nog nooit regtig bevestig nie. Ek sal maar weer aandag gee daaraan.

Ongelukkig het dit nou ‘n alledaagsheid begin word en ek het al wakker geword van my hart wat bokspring en vreeslik hard saamtrek. Dit gebeur so gereeld dat ons dit nou mooi kon vasvang op ‘n EKG. Die eerste stap was om my op ‘n betablokker te sit om die hartklop te probeer reguleer. Maar ek pas mos nie in by wat ander mense normaal noem nie… Gewoonlik ly mense aan hoë bloeddruk, maar nie ek nie… En die betablokker verlaag my bloeddruk en hartklop toe in so mate dat dít my nog slegter laat voel en ek word opgeneem met ‘n pols van 40 en bloeddruk wat val tot 75/45…

Dis hierna wat die kardioloog besluit het op die angiogram. Daar was wonderlike nuus. Daar is geen tekens van arterosklerose nie en die sonar wys ook geen verdikkings in my hartwand nie. Dit wat ek ervaar is ook glad nie ‘n mis nie, maar ‘n ekstra sametrekking aan een kant en wanneer die ander kant dan nie saamtrek nie, ervaar jy dit as ‘n mis. Êrens in die wande van my linker ventrikel (onderste hartkamer) is daar eksta geleidingsweefsel wat nie weet wanneer die regte tyd is om saam te trek nie. Die sonar wys ook dat beide my inlaatkleppe lek, maar dit is nie ernstig nie en pla nie. Dis skynbaar as gevolg van rumatiekkoors wat ek een of ander tyd in my lewe moes gehad het wat skade veroorsaak het. Nugter alleen weet wanneer, want ek weet nie.

Die tweede alternatief om die ritme te beheer, is met ‘n kalsiumkanaalblokker. Ek het al gesê as jy stip vir my kyk dan val my bloeddruk die dieptes in. Nou ja, wanneer jy aanhou kyk dan kry ek nét daar ‘n migraine… Sug. Dis baie moeilik vir enige kombuis om kos te maak vir iemand met kosallergieë en mens sou dink hospitale is opgelei daarvoor. Toe nou nie. Ek moes telkens my bord kos terug stuur. Na ek die eerste pilletjie gedrink het word ek mos daai nag wakker en dog my brein peul by my een oog uit. Ek het sooo mooi vir die kombuispersoneel verduidelik… maar toe my dokter die volgende oggend kom word ek meegedeel dis die pilletjie.

Die derde alternatief is die laaste mediese uitweg, die ablasie tegniek. Soos met ‘n angiogram werk hulle deur jou liesslagaar. Om by die probleem area te kom word ‘n gaatjie deur die septum (de deel tussen linker en regter hartkamers) gemaak en dan word die ektra geleidingsweefsel met laser geisoleer sodat die elektriese impulse nie oorgedra kan word nie. Probleem 1 – dis nie altyd suksesvol nie en in baie gevalle kan die probleem vererger en dít kan ek nie bekostig nie aangesien die medikasie wat beskikbaar is nie vir my werk nie. Probleem 2 -my hart is baie klein en die gedeelte waar hulle deur die septum moet beweeg is gevaarlik naby my aorta en die risiko bestaan dat hulle my aorta kan raaksteek en dan is dit net daar tickets met my.

image

Ek en die dokter het saam op die vierde alternatief beskuit. Niks. Ons los alles net soos dit is en ek lewe saam met die onreëlmatige klop. Dis nie op hierdie stadium lewensgevaarlik nie, net baie ongerieflik, en ons sal monitor indien daar agteruitgang is en dan die situasie in heroorweging neem.

Dis so maklik om te sê dat jy so lewe dat jy enige tyd kan doodgaan. Maar as jy nie SELF daarmee gekonfronteer word nie, weet jy nie wat dit is nie. Nie dat ek in lewensgevaar was nie, glad nie. Hierdie ding het egter erg in my kop gaan nesskrop, ek is skielik bewus van my eie mortaliteit. Mens neem jou gesondheid te veel kere as vanselfsprekend. As gesonde mens is ek skielik gekonfronteer met beperkings en dit was vir my emosioneel baie moeilik.

Hier waar ek sit en tik, bokspring my hart. Maar ek weet nou dat ek nie in lewensgevaar is nie, en ek weet dat daar nie nou ‘n ander alternatief is nie. Dis toe nie brilletjies én pilletjies vir my nie…

My kop is weer reg. Dit gaan goed met my.

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: ,,, | 2 Kommentaar

Nannatjies

Ek hou nie van nannatjies nie! Glad nie… niks nie!

My laptop is mos my beste vriendin, my heel, heel beste tjomma.  Met haar ry ek die Internet branders lag-lag, lees boeke, laai foto’s, speel op Photoshop en nog baie meer. Nou het sy ‘n maatjie gekry wat met haar wil meeding, so spierwit Samsung tablet. Mededinging is sterk maar met my laptop vlieg ek in die branders met ‘n kite en die tablet is maar net ‘n lang plank….

Die ding met die nannatjies kom nou in by hierdie twee wat nou my lewe wil kompliseer in hulle mededinging. Samsung wil nou weer anderste wees deur ‘n kleiner SIM kaart te wil gebruik. Toe moes die nou geknip word om in te pas en nou pas dit nie meer in my Vodacom stokkie nie. Nannatjie nommer een. Al manier waarop ek nou met my laptop met my kite kan ry is wanneer ek by die werk is en WiFi toegang het.

Natuurlik het ek WordPress se App afgelaai vir die tablet…. MAAR…. my duisende foto’s en files is op my laptop…. en die Apps is nou maar eenmaal nie so lekker soos die vol program nie. Hier kom nannatjie nommer twee – die tablet het nie ‘n USB poort nie! Ek moes ‘n ekstra nannatjie koop om nou my geheuestokkie te kan gebruik. Hierdie kabeltjie is so kort en klein, ek het hom erens gesit… en nou is erens nerens. Ek hoop maar hy het Vrydag by die eerk agter gebly. Ek hoop…

Party nannatjies is nie gaatjies en uitsteekseltjies nie… hulle is die jakkalsies wat nou in my druiwetrosse baljaar soos dat ek nog nie weet hoe om ‘n kappie of kolletjie op ‘n “e” te kry nie en dit frustreer die vale hel uit my uit…

Ek voorsien dat ek baie binnekort nog ‘n SIM kaart gaan kry want hierdie nuwe wit vriendinnetjie wat my heel beste vriendin wil word, is net tweede beste vriendin en dit net oor ek die kaart moes knip. Ek kan nie verstaan waarom daar nie maar sekere standaarde kan wees vir al die nannatjies nie. Lees voort

Categories: Slakgedagtes | 3 Kommentaar

Borreltjies uit die dieptes

Elke mens het dinge in sy lewe wat sy of haar karakter grootliks beïnvloed het. In my lewe is skubaduik een van daardie dinge. Dit het nie vir my maklik gekom nie, ek het klippe gekou voordat ek gemaklik in die water was. Dit het my ‘n vasberadenheid geleer, iets wat nie voorheen deel was van my nie.

Toe ons die plaas gekoop het, het baie dinge in ons lewe tot ‘n stilstand gekom want ons was in ‘n finansiële oorlewingstryd om ons droom te kan lewe. Ons het net mooi daardie stryd begin wen toe gebeur daai vreeslike ding wat ons pad vorentoe onherroepelik verander het. En toe nog ‘n keer net om te bevestig dat platvee beteken eintlik ploeter in die modder rond…

Familie, vriende, kennisse en vreemdes het ons gehelp om weer op ons voete te kom sodat ons onsself weer kan help. Daarsonder sou ons verlore geraak het in die modder van die lewe en ons beker van dankbaarheid loop oor van almal se goedheid. Dankie. Dankie dat ons weer voete het om op te staan.

Ons lewe nog steeds ons droom op die plaas. Dis nog steeds nie maklik nie, ons maak baie opofferings om dit te kan doen. Ek en my liewe man sien mekaar byvoorbeeld net naweke en dit sal so wees totdat ons eendag nie meer kan werk nie. Ons weet ons gaan nie eendag in weelde kan aftree nie, maar ons weet ons het ‘n opbetaalde dak oor ons kop, al is daar nog baie afwerking wat gedoen moet word aan daardie dak.

Daar is baie dinge wat ons nooit weer sal kan doen nie. Daar is dinge wat ons nooit weer wíl doen nie, maar daar is ‘n paar goedjies wat ons vir altyd deel van ons lewe wil hê. Skubaduik is een van daardie dinge en ons is bereid om sonder sekere afwerkings in die huis klaar te kom net om dit weer te kan ervaar. Annerine was twaalf of dertien toe sy haar kursus gedoen het in ons ‘ou’ lewe en Marina moes wag tot sy nou ampertjies twee en twintig is… Ons het van die toerusting gekoop, party geleen en party gehuur, maar duik het ons geduik die vakansie!

My breër familie trek baie swaar aan gesondheidsprobleme wat erge hindernisse plaas op enige avontuurlike ding. Daarom beteken dit vir my soveel meer om skubaduik deel van my lewenservarings te kan lys.

Eers was ek te bang om opgewonde te raak oor ons beplande duik vakansie by Sodwana. Ek kan egter nie die opgewondenheid oorvertel wat ek ervaar het die laaste dag voor ons vakansie nie! Ek was te bang om asem te haal… te bang ek word wakker en dit was net ‘n droom… Maar dit was nie net ‘n droom nie, dit was rêrig êrig, strues bob njannies kopela.

Marina se kursus pakket het haar verblyf en etes ingesluit. Ek het Roelf het selfsorg gekies en sodoende met ‘n hele paar rand goedkoper weggekom. Ek het vir ons elkeen ook net twee duike geboek, waar haar kursus vier duike ingesluit het. Sy wou baie graag ‘n duik saam met ons doen en ons het vir haar een duik ekstra gekoop vir ‘n spesiale ervaring om as as nuut gekwalifiseerde duiker saam met Pappa en Mamma te duik.

Al het ek al my aanvanklike vrese oorwin en het ek al agt en negentig duike gedoen, het my senuwees maar erg geknaag voor ons eerste duik. Ons het immers in die tien jaar wat ons nou op die plaas is net een keer vier jaar gelede een vlak drie meter duik gedoen. Dit het gereën by Sodwana, maar gelukkig was die see mooi plat en die sigbaarheid meer as vyftien meter onder die water en dit het bygedra dat ek minder gespanne was.

Jy trek reeds jou Wetsuit aan en ‘Kit op’, wat beteken jou Buoyancy Compensator (BC) word aan jou silinder vasgegespe en jou Demand Valve (DV) waardeur jy asemhaal word aan die BC gekoppel en alle toerusting word nagegaan.

IMG_9635

BC word aan die silinder gekoppel

Voor die duik hou die Dive Master eers ‘n praatjie en alle moets en moenies word vertel.

IMG_9643

Moets en moenies word bespreek

 

Daarna word die boot met ‘n trekker gestoot tot in die water. Dan moet die duikers die boot verder instoot en sorg dat sy neus in die regte rigting bly, anders kan dit omslaan met ‘n verkeerde golf.

IMG_9650

Boot is in die water… ons gaan duik!

Wanneer die motors mooi in die water is, dan spring mens op en ry ‘n klein entjie in en elkeen kry dan ‘n reddingsbaadjie wat jy aanhou totdat die boot deur die branders is.

ALL ABOARD!

ALL ABOARD!

Daar is straps om jou voete in te haak en mens hou aan ‘n tou vas om te balanseer. Na die golwe word daar gestop, reddingsbaadjies word uitgetrek en jy woerts die see in.

Uiteindelik! Koraalriwwe, hier kom ons!

Uiteindelik! Koraalriwwe, hier kom ons!

By die rif kry elkeen sy toerusting en die silinders word oopgedraai. Jy trek jou BC, vinne (of flippers soos party mense dit noem), masker (goggles) en gewigbelt (weight belt) aan, toerusting word weer nagegaan en dan word daar afgetel… One… two… three… GO!

Met ons eerste duik het die meisie wat langs my sit bietjie laat geval en toe bo-op my geval. Af was my masker… Stres. Hyg. Panic… PANIC!  Gelukkig het ek ‘n ekstra band op die masker (sodat my langer hare nie moet vaskoek nie) wat hom laat dryf en het ek hom gekry, maar toe sukkel ek om af te gaan. Die ander was al almal onder die water toe hyg ek nog daar bo. Dit was vir myself verskriklik om die vreemde kerm geluidjies uit my eie keel aan te hoor sonder dat ek dit wil kerm… Maar ek was vasbeslote dat dit my nie sou weerhou van die wonderwêreld wat ek geweet het daaronder op my wag nie en ek het myself tot bedaring gebring en gaan duik…

Met ons tweede duik was Marina ook nou saam met ek en Roelf en dit was vir my ‘n baie spesiale duik… my honderdste en Marina se eerste gekwalifiseerde duik! Ons het geboek vir ‘n sekere rif, Anton’s, waar jy kan haaitande optel. Dis Skeurtandhaai (Ragged Tooth) of Raggie tande en ek wou baie graag weer vir my ene laat set in silwer soos wat ek gehad het om my spesiale honderdste duik te gedenk. Ongelukkig was daar toe ‘n junior in die groep wat nie gekwalifiseerd was vir daardie diepte nie en ons sal dit dan maar later doen. Iets om na uit te sien! Ek het heel agter gesit en gesorg dat ek skuins agtertoe val om te verhoed dat iemand weer op my val. Arme Marina het ‘n hou met ‘n staal silinder weg teen die kop met haar vorige duik onder dieselfde omstandighede as ek.

Ons het ‘n onderwater kamera gehuur maar ongelukkig het die battery nie tien minute gehou nie en kon ons slegs ‘n paar herinneringe vasvang. Nou nie ‘n tandjie wat ek in silwer kan set nie, maar ook baie, baie spesiaal.

Duik nommer 100... wat 'n voorreg om 'n foto daarvan te he!

Duik nommer 100… wat ‘n voorreg om ‘n foto daarvan te he!

Aan die einde val elke duik doen jy ‘n veiligheidstop op vyf meter waar jy vir vyf minute bly. Dan sien jy nie vissies en korale nie, maar wanneer jy opkyk sien jy silwer borreltjies uit elke duiker wat opstyg en geaksentueer word teen die blou-blou lug. Eendag… eendag sal ek ‘n foto daarvan neem…

Stel jou nou voor al die  silwer borreltjies teen die blou lug as jy opkyk...

Stel jou nou voor al die silwer borreltjies teen die blou lug as jy opkyk…

Ek buig in diepe dankbaarheid voor my Skepper vir gesondheid en die geleentheid om iets wat vir my groots in my lewe is, terug te hê. Dankie. Dankie. Dankie.

Categories: Slakgedagtes, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Die son sal weer skyn

Ek het hierdie woord vir iemand op Facebook gese, maar dis sommer bedoel vir almal wat dit nodig het. Dit is ook as dankbaarheid omdat dit so is…

Son sal weer skyn IMG_9508

 

 

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 2 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.