Monthly Archives: Julie 2011

Opstel in my matriekjaar se jaarblad

My ou jaarblad het saam met my huis gebrand, en ek het ‘n vriendin gevra om hare vir my te skandeer. My pa was versot op blokkiesraaisels, en ons moes hom altyd help woorde soek. So het ek geleer om woordeboeke te lees en nuwe woorde aan te leer wat weggesteek is vir die algemene publiek.

Ek was BAIE vies oor die kantoortannie my ‘ronkedoor’ gespel het as ‘dondedoor’! Klik hieronder om dit te lees.

opstel matriek (780k)

 

Categories: Lankal terug | Lewer kommentaar

Ek is gisteraand uit my slaap gewek…

Gisteraand het ek en Roelf die versiering van ons nuwe huis bespreek. Ek is besig om ‘n groot collage te maak met van die goetertjies wat ek uit die as gesif het, en span ‘n verskeidenheid media in vir my produk… (wag maar tot hy klaar is voor ek hom deel).

Ek het so paar weke gelede pewter ligskakelaars begin, maar was baie teleurgesteld toe dit nie pas op die basisse wat Roelf gekoop het nie.

Gisteraand met ons bespreking sê hy toe hy dink ek moet ‘n tipe versie of iets maak vir die voordeur, en ek wys hom toe wat ek al klaar beplan het… (great minds think alike…)

Ek hou van inlê op Saterdagoggende, maar vanoggend lank voor sonskyn was ek skielik HELDER wakker, met woorde vir my voordeur in my kop geplant… Ek het dadelik saggies opgestaan en dit gaan neerskryf…

En sal dit deel sodra dit voltooi is.  God is so goed, ek loof Hom vir die woorde van ‘n gebed wat by my voordeur ingegraveer sal word in metaal.

 

Categories: Sommer maar net | Lewer kommentaar

Die dag toe juffrou gevlieg het

In mý klas moet kinders verbeelding kan gebruik. Hoe verduidelik jy vir ‘n kind hoe ‘n atoom werk as hy dit nie kan sien nie? “Juffrou hoe weet mens dat ‘n atoom massa het as dit dan so klein is dat daar nie ‘n skaal bestaan waarmee jy dit kan weeg nie?” Wetenskap kan tog só ‘n abstrakte vak wees van wit of swart dat mens maar jou eie grysgebied moet skep met verbeeldingsvlugte en grappies… en gelukkig is mý verbeelding kleurvol en groot!

‘n Jaar of wat gelede is ons in die graad nege klasse besig met kragte, die effekte daarvan en wanneer verrig jy nou eintlik arbeid. Hulle hou natuurlik baie daarvan as ek hulle inspan as modelle wat een of ander iets verteenwoordig.

Vir die van julle wat lank laas in die skool was, eers ‘n wetenskap les  – arbeid word slegs verrig wanneer ‘n voorwerp in die rigting beweeg van die krag wat daarop toegepas is.  Wanneer ‘n krag toegepas word op ‘n voorwerp kan jy die vorm verander, dit stop of laat beweeg, die snelheid verander, van rigting laat verander, ensovoorts.

Die eerste klas om die les te kry stap toe in. So staan ek en ‘n paar gewilliges voor in die klas en demonstreer die hele ketoet. Ek fluister in elkeen se oor wat hy moet doen sodat die effek wat gedemonstreer word uit die situasie duidelik word en nie uit juffrou se woorde nie. Ons moet mos pedagogies en uitkomsgebaseerd korrek wees om leerders geleentheid te gee om op verskillende maniere te leer… en so kan ons ook bietjie pret inwerk in die wetenskaplike vervelendheid.

Ek verduidelik mooi in Lebogang se oor dat ek stadig gaan stap, dan moet hy ‘n ligte krag (lees stampie…) op my moet  toepas sodat ek van rigting kan verander wanneer ek die teken gee. In die stilligheid van my eie ou gedagtetjies besluit ek toe dat ek net so kléín sprongetjie gaan gee, want ek is bang ek verander nie van rigting nie…. En in die stilligheid van sý eie gedagtetjies besluit Lebo dat ‘n ligte krag nie genoeg gaan wees nie…

Een… twee… drie… vier treëtjies en dan gee ek die teken – en ons twee se stilligheidjies word toe ‘n reuse krag en ek VLIEG meer as twee meter deur die lug! Ek mis die voorste ry net-net en land amper bo-op ‘n kind se bank, my kop klap dat my tande kletter  en  ek val met my hele gewig op my regter knie.

Die arme Lebo se gesig sal ek nooit vergeet nie… asvaal, oë wyd oopgesper en albei hande oor sy mond van skrik. Ek was dalk net so wit… dit was so seer ek wou huil maar ek het maar net staaaadig orent gekom en hom gerus gestel dat ek nog lewendig is. Die klas was tjoepstil, te bang om ‘n verkeerde geluid te maak.  Toe breek ek die ys deur hardop te begin lag en vertel hulle die wonderlike gevoel van vlieg het alles die moeite werd gemaak…

En so is ‘n kosbare herinnering geskep vir ons almal… die dag toe juffrou gevlieg het!

Categories: Skoolhou | 7 Kommentaar

Liewe Sophia

“Dreams in our lives are like sunshine over the landscape: even the most ordinary objects are gilded by the light of hope.” – Carmen Sylva

Verlede week sien ek ‘n mooi goue geskenksakkie in my poshokkie. Geen briefie, geen niks. Net die pragtige goue lapsakkie. Ietsie vir mý, wonder ek? Dis nie my verjaardag nie, ek het ook nie iets spesiaal vir iemand gedoen waarvan ek weet  nie en ek wonder maar of dit nie dalk vir iemand anders bedoel is en per ongeluk in my hokkie beland het nie. Net ingeval dit nie myne is nie, wil ek ook nie daaraan vat nie…  Ek stap maar eers my draaie wat ek moet stap en toe ek later terugkom is dit nog steeds daar.

Dis swaar, en daar’s baie goedjies in. Ek trek die strikkie versigtig oop, nog steeds bang ek moet dit dalk weer toemaak sodat die regte persoon nie moet weet daar is mee gepeuter nie.

Kraletjies… baie, baie kraletjies! En toe weet ek dis vir my. My gedagtes maal oor wie so oulik is, maar tyd vir móói kyk is daar nie want die klok lui al weer en my klasse wag.

Pouse gaan haal ek ‘n piering en gooi dit versigtig uit. Baie, baie kraletjies. Baie, baie mooi! …En toe wonder ek nie meer nie, want baie mense weet ek hou van kraletjies , maar daar is net één wat weet dat ek sukkel om mooi blommetjies en blaartjies te kry…

In die groot hellevuur het daar nogal ‘n klompie kraletjies behoue gebly wat ek vir dae sit en uitsif het uit die as… wat ek later sal gebruik om ietsie spesiaals vir my en my dogters te maak as herinnering van wat was. Die gesiwwery was terapie… dit het my gehelp om vrede te maak, om opgewonde te wees vir een ongeskonde kraletjie wat vir my gespaar is in ‘n hoop van as.

As jy na die huisfoto kyk – ek het die week voor die brand op my stoel in die sitkamer hier gesit en snoertjies ryg… en daarom het ek geweet waar om te gaan sif.

Dankie liewe Sophia, jy het my hart aangeraak met hierdie kosbare geskenk vir my. Nuwe blaartjies, ‘n nuwe lente vir ‘n nuwe begin.

Categories: Sommer maar net | 1 Kommentaar

Afgrond van verlatenheid

Om amper te versuip is nie ‘n grappie nie… en dit het met my gebeur.

Ek het ‘n sus wat sommer binne loopafstand van die see af bly. Lóópafstand vanaf my geliefde!  

‘n Paar jaar gelede moes ek vir besigheid Kaap toe, en gebruik toe sommer die geleentheid om ‘n kuier in te werk… bly om my geliefde see ‘n bietjie te sien. ‘Bring jou wetsuit saam,’ – laat weet sy my – ‘… vriend Deon sê jy moet saam met hom kom alikreuk uithaal.’ Opgewonde! Iets wat ek nog nooit gedoen het nie!

My gewigtebelt los ek by die huis, dis te swaar vir die vliegtuig… vriend Deon sal voorsien. Permitte word uitgeneem. Ons wil nou nie onwettig wees nie, nee.

Die belt wat Deon bring kan amper dubbeld om my lyf. Ek dink nie hy het besef hoe klein ek regtig is nie! Maar ons maak ‘n plan en vleg hom deur en deur sodat die los ente nêrens kan vashaak nie. Sy hoodie is bietjie groot vir my, maar beter as niks… Ek ken net my geliefde van sy warm noordkus water, nie hierdie ysbibberkouigheid  nie.

‘n Sakkie vir die alikreuk word om my lyf gehaak. ‘n Pylgeweer word in my hand gestop. Oeps.  Net vir ingeval ons ietsie kry wat gepyl kan word. Nee. Néé! Hierdie een hou ek verby, dis net te ver buite my gemaksone. Ons bespreek mooi waar ons gaan swem en alles wat ek mag en nie mag nie. Hier is mos nou kelp om aan te dink, en allerhande ander vissies met tande as die onskuldige Raggies wat ek ken.

Uiteindelik is ek gereed, opgevuur vir ‘n nuwe kouewater avontuur.  My asem snak toe ons in die water ingly. Ek vergeet skoon van die alikreuk, dis so anders as die wondermooi koraalriwwe, maar uniek en mooi op ‘n ander manier. Die visse gly moeiteloos deur die kelpoerwoud en die verskeidenheid anemone is al te fraai. Kort-kort kom Deon en glip ‘n alikreuk in my sakkie… sodat ek nou nie leë hande by die huis aankom nie, sien.

Na ‘n ruk begin die koue die asem uit my lyf uit wurg. Ek swem stadiger. Raak agter. En skielik moet ek swem om bo bly… nie meer die gemaklike snorkeldryf van vroeër nie. Erger en erger. Ek besef skielik dat ek in die moeilikheid is, my brein te koud om te probeer verstaan hoekom.  Skree vir Deon ek gaan uit, ek kry koud.  Wil nie dat hy sien hoe bekommerd ek regtig oor myself is nie. Hy wys dis reg, hy gaan nog ‘n bietjie bly.

My brein vertel vir my dis nie ver kant toe nie. Ek probeer hard om dit te glo wanneer die paniek my wil oorval, want ek voel hoe naby ek is aan té koud kry. Weet dat ek op my laaste reserwes is. En ek weet ek is alleen, Deon is ver anderkant die rotse sonder iemand wat hom kan terughou.

Uiteindelik bereik ek die vlak water maar wanneer ek wil staan val ek net eenvoudig om. Ek kruip op my knieë tot by die naaste rots waar ek my kan stut. Rus. Uitasem. Na wat voel soos ‘n eeu voel ek sterk genoeg om weer te probeer opstaan.  Toe ek orent beur verstaan ek skielik wat die probleem is… die alikreuke! Elke alikreuk weeg naastenby soveel soos een gewig wat ek om my lyf dra! En met ‘n paar ekstra gewigte het ek negatief boyant geraak en daarom moes ek swém om bo te bly instede van net dryf.

Daar is nog geen gevoel in my voete nie maar ek begin stadig die twee blokke huiswaarts strompel. Na die eerste blok begin die lewe terugkom en toe ek uiteindelik daar kom voel ek amper weer mens. Baie bewerig oor wat kon gebeur het, oor die afgrond se diepte wat ek gesien het.

Ek het nog nooit weer geleentheid gehad om alikreuke te gaan uithaal nie, die volgende keer toe ek daar besoek afgelê het was dit onmoontlik om my wetsuit saam te neem.

Een ding het ek wel besef – en dit is as jy respek vir jou geliefde verloor, alle geliefdes, dan wag daar vir jou ‘n afgrond van verlatenheid.

Categories: Slakresies en ander sport, Sommer maar net | 5 Kommentaar

Klip-klip

Klip-klip

is ‘n klop-klop.

Klip klop aan my hart…

Hou my – nee, grýp! my binne vas.

Sommer ‘n gediggie wat ek vir Roelf geskryf het jare gelede, wat ek nog altyd uit my kop uit ken. Dit was op ‘n klein stukkie papier geskryf  in ‘n blikkie op my spieëlkas van doerdie tyd af. Ons was kort getroud en met vakansie by Ramsgate. Hy het gou geleer dat die pad na my hart blommetjies groei as hy vir my mooi goedjies optel en bring.

Hy het vir my ‘n besondere golf-en-sandgeskuurde klippie gegee wat vir ses-en-twintig jaar altyd naby my was. Wit-romige kleur met ‘n tekstuur wat my laat dink het aan ‘n stukkie gepoleerde versteende hout, wat ek nog nooit êrens anders gesien het nie. Amper reghoekig in vorm, met twee gaatjies waar sandkorreltjies ronde ogies in geskuur het oor ‘n baie lang tyd. In my laboratoriumjas se sak. Bo-op my lessenaar. In my wegsteekplekkies saam met ander kosbaarhede. Afhangend van my gemoedstoestand dáár vir voel of kyk.

My klippie was daar vir troos in seer tye, sommer net vir kyk in bly tye. Was.

My klippie het perfek in my hand gekoester. Het.

HET!

Ek het vir ‘n week lank elke dag met ‘n sif gesit en soek. Geduldig. Wenend. Stukkend. Gedink dis iets wat die hellevuur sou oorleef.

Nou, na al die jare, wil ek my gediggie voltooi.

Klip-klip

was ‘n klop-klop.

Klip is nou net in my hart.

Categories: Gedigte, Slakkeding | 3 Kommentaar

‘n Koringkriek in die klas

Ek sal nooit, ooit weer na ‘n koringkriek kyk sonder om aan ‘n insident te dink wat so twee jaar terug in my klas afgespeel het nie.


Volgens ons skool se gedragskode het ek as onderwyser die reg om ‘n leerder toegang te weier wanneer hy of sy laat is vir my klas. My laboratorium is in ‘n hoek met ‘n portaal vir die trappe en indien ek die kinders dan nou buite los, is dit net ‘n lekker plek om ongesiens kwaad te doen… wat ‘n mens natuurlik ten alle koste probeer vermy. So het ek toe nou ‘n klasreël ingestel wat bepaal dat laatkommers mag inkom, maar dat hulle alle voorregte verbeur. Hulle mag nie sit nie, mag nie deelneem aan die klasgesprek nie en mag net by die kassies teen die muur staan, luister wat ons almal te sê het en dan hulle klaswerk doen by die kassies as tafel.


In die graad nege groep was daar ‘n paar belhamels wat áltyd laat gekom en áltyd die klas ontwrig het in ‘n poging om uitgestuur te word.  So kom dit toe op ‘n pragtige somersdag dat hulle hulle welbekende  plekkie inneem teen die muur. Na ‘n ruk begin die spulletjie toe nou giggel… ek maak hulle stil en toe ek my nou régtig begin vererg wys die een na ietsie op die vloer.


En ek vererg my sommer weer, want dis net ‘n simpel koringkriek wat wie weet vandaar kom. In my kleinkamertjie het ek altyd houers vir goggas, die kinders het gou-gou agtergekom hierdie juffrou lief goggas en gediertes, en ek vlieg weg om ‘n botteltjie te gaan haal.


“No Mam, it’s not an insect! It’s … “ waarop sy in ‘n proes uitbars van die lag. Ek stap toe nader om my koringkriek van naderby te gaan beskou en dis tóé wat die reukie my vang. ‘n Drol. ‘n Blerrie vars stinkende drol op my klas se vloer – en die skuldige staan en giggel!


Hoe… hóé op aarde berei jy jouself vir so ‘n dilemma? My instink het oorgeneem, want dink aan prosedures en regte en dinge kon ek nie. Die skok was te groot. Maar ek was kalm. Dood kalm. Mens kon ‘n speld hoor val. Die absolute stilte in die klas was dalk ‘n weerspieëling van ons almal se skok… Doodbedaard het ek ‘n stuk handdoek papier gevat, na die groepie uitgehou en gevra dat die een wat dit daar gelos het dit asseblief blitsvinnig moet skoonmaak. Eers was daar huiwering en toe steeds giggelend gryp ‘n meisie die papier en doen haar ding… en staan en grin met die papier in haar hand… My skok het op daardie stadium in ergernis verander en die uitdrukking op my gesig was genoeg om haar te laat hol toe ek net met my hand in die rigting van die deur wys.


Kan jy jou dit voorstel? Na sy uit is het ek maar bietjie Jik daar gaan gooi en dood rustig aangegaan met my les. Bewend, want kinders kýk hoe jy ‘n situasie hanteer.


Direk na die periode is ek dadelik kantoor toe om die insident te gaan  rapporteer… om te gaan sê ek weet nou nie of ek die saak reg hanteer het nie. Die hoof het net gelag en gesê ek moet asseblief nie sleg voel nie, sy is van my klas af na ontvangs en het die hele portaal kom beskyt. Die nuus het natuurlik soos ‘n veldbrand deur die skool getrek en sommer in die tweede periode daarna het kinders by my kom vis oor wie dit nou eintlik was.


Nou wonder ek maar net… dra meisiekinders dan nou nie meer panties nie? Want hoe kan jy sommer net so ‘n drol op ‘n klas se vloer los, al dra jy selfs ‘n boudflossie? En sy… ek dink sy was te hoog om eers te weet wat het gebeur, want die gegiggel was defnitief nie van skaam nie.

Categories: Skoolhou | 9 Kommentaar

Om jou eie jy te wees

In ons huis gee ons mekaar ruimte om jou eie jy te wees. Nie net vir die mense nie, maar ook vir ons diere.

Oreo die pragtige swart kat se uniekheid is dat sy soms dink sy is ‘n hond. Wanneer ons veld toe stap, dan is madam by. Bietjie frustrerend, want sy stap so paar tree agter en storm dan kort-kort vorentoe… skrik haar in ‘n ander bloedgroep in as ‘n wildebees skielik blaas. Dan staan die hare op haar rug soos ‘n wafferse rifrughond orent en haar stert is driedubbel-groot.

Ons naaste bure met hubare katte is so twee kilometer ver. Maar mankry het sy gedoen. Toe dit sulke tyd was vir haar, was sy vir twee weke lank  weggewees op soek na man. Sy was die oulikste mamma wat mens aan kan dink. Met die eerste klomp kleintjie het die voornemende veearts in die huis die katjies uitgehelp toe sy lank in kraam was. Twee keer het ons haar toegelaat, en haar toe maar laat regmaak want ons senuwese kon dit nie hou met Oreo op soek na man en jakkalse wat blaf in die nag nie.

Pippie Pipstert is ‘n fraaie, fyne meisiekind, amper nege maande oud… en Oreo is haar beste maatjie. Net vanoggend vang ek weer die twee aan’t muis jaag deur die kombuis. Wat hulle dan deel, soms eet Oreo die muis en soms kry Pips ‘n beurt. Die verskil is net dat Pips die muis nie dadelik eet nie, maar eers ‘n week met die biltongmuis speel voordat sy hom uiteindelik op kou.

So paar weke terug vang ek vir Pippie saam met Oreo in ‘n droë boom agter die huis, baie gemaklik gebalanseer op die tak – Vryheid is om te doen net wat jy wil op die plaas, om jou eie jy te wees.

Categories: Plaaslewe | 3 Kommentaar

Om ‘n appeltjie te skil…

Appels. Rooi appels kom ruk vanaand aan die onderste van my onderbewussyn. Snaaks hoe iets eenvoudig soos ‘n reuk jou brein kan trigger na die ver paaie van gister.

Kleintyd op die plaas het ons baie vrugte gehad. En as ek sê baie, dan meen ek baie. Ons het geen beperkinge gehad op vrugte nie. Oorvloed.  Vir elke seisoen was daar iets uit die boord. Perskes – vroeës, lates, geles, wittes, sures, soetes. Appelkose, mango’s en lemoene, jaarlemoene of pampelmoese soos ander dit noem, koemkwarte, lukwarte, soetsuurtjies, lemmetjies, tangelo’s en mineolas, aarbeie, amandels, pruime, koejawels, vye, kwepers,  avokado’s, papajas, druiwe  en granate,  piesangs asook appeliefies en boomtamaties vir die snaaksigheid. Van die meeste vrugte was daar meer as een variëteit en ek het dalk nou nog ietsie vergeet ook!

Daar was die grootste moerbeiboom op die damwal wat ek nog ooit gesien het. Ons sussies het elkeen haar eie tak gehad, en weë jou as jy durf waag om in jou sussie te tak te klim en daar te gaan eet! Een jaar het my ma moerbeiwyn gemaak tot groot vermaak van ons kinders. Nie dat hulle lekkerder as ons s’n was nie, maar net vir stoutigheid het een sussie en die bure se seun altyd gaan pruime gaps in oom Marsh se tuin ‘n entjie verder aan.

My pa het ‘n boekie gehad waarin hy die reën sorgvuldig opgeskryf het jaar na jaar, en so ook boek gehou van al die soorte vrugte in die tuin. My ma se rye en rye bottels konvyt en ingelegte vrugte was die bewys dat niks gemors is nie.

Somertye het my pa ‘n bakkievrag waatlemoene en spanspekke gekoop. Dit was vir ons ‘n lewenswyse, nie ‘n aardigheid nie. Met al die natuurlike vitamienes was ons ‘n gesonde spulletjie, ons het net Waterbury’s gekry in die winter vir aanvulling.

Net pere wou nie daar groei nie en die twee appelbome was maar trietserig. My pa se broers het pere gehad en so het hulle mandjies vol daarvan gebring en weer gekry wat hulle nie het nie. Elke winter het my ma ‘n hele kartondoos appels gekoop, altyd groenes of geles. Nooit rooies nie. Die doos is op die spensvloer se koeligheid neergesit en dit was die enigste kere wat daar ‘n beperking geplaas is op vrugte. Elke appel was toegedraai in ‘n sagte pers papiertjie, deurdrenk met appelgeur. Niks in ons huis is gemors nie.  Hierdie papiertjies is sorgvuldig afgehaal en het ‘n verdere doel gaan dien in die kleinhuisie. Spesiale pers appelgegeurde papiertjies elke winter.

Maar hoe kom ek nou by rooi appels uit? Sien, die ding staan so. My oupa en ouma het by ons in die huis gebly. Na Ouma se dood net Oupa. Hy was maar net daar. Net op die stoep gesit en pyp rook en snuif terwyl hy wag om dood te gaan. Die ouer sussies ken ‘n ander oupa as ons, want tóé was hy nog jonk, vol lewe en blykbaar vol streke. Een van ons kleintjies se werkies was om altyd sy stink asbakkie te gaan uitgooi en was.

Soms as my ma-hulle dorp toe gegaan het , dan het hy vir haar ‘n geldjie gegee om vir hom ietsie lekkers te koop. En as sy terugkom dan is dit ‘n tamaai rooi appel, daai wat so blinkrooi is en kraak onder jou tande. Ene wat hy sorgvuldig met sy messie al in die rondte afskil sodat die skilletjie lang krulletjies maak in die asbakkie.  Ene wat hy allenig opeet en nie ‘n háppie daarvan deel nie. Waarvan die sap by sy mondhoeke afloop sodat hy sy sakdoek moet uithaal.

Dit was die enigste kere wat ek nie gemor het om die asbakkie te gaan skoonmaak nie. Die enigste kere wat ek vinnig gesê het: ‘Toemaar Oupa, gee sommer vir my.’  Dan het ek die appelskilletjies versigtig uitgehaal sodat daar nie per ongeluk nóg as op kom nie en deeglik onder die kraan gewas.

Rooi appelskilletjies gemeng met die reuk van as. Net om ook rooi appels te kon eet.

Categories: Lankal terug | 9 Kommentaar

Drome oor groen en goud

Elke mens het talente ontvang. Wat ons met daardie talente maak, bepaal op die ou einde wie en wat ons in die lewe is.

 Toe ek klein was wou almal my altyd oppiep omdat ek so klein is. Petiet-klein is. Ek het dit gehaat – tot ek later van tyd geleer het om dit tot my voordeel te gebruik, selfs soms te misbruik ook! Ek wou só graag ‘n vreeslike goeie atleet wees, maar my bene is net té kort om by te bly, net té kort om vêr genoeg te spring… Dit het my egter nie gekeer nie en dit was vir my lekker om net deel te neem.

 ‘n Jaar of wat na ons troue koop Roelf ‘n boog. Fassinerend, maar ai, ek kry die snaar nie geroer nie. Mettertyd word die boog toe weggepak toe hy nie meer plek het om te skiet nie. Op ‘n dag, na baie jare, praat ons oor ons toekomsdrome, wat ons nog wil doen, goeters wat vir ons belangrik is. Een van sý drome was om nog kompeterend boog te skiet. ‘Eendag is nóu’, sê ek vir hom, ‘Moenie wag tot jy te oud raak nie. As mens nie werk aan jou drome nie dan bly dit net drome.’. Sommer die volgende dag besoek hy ‘n boogskietwinkel om pyle te gaan koop. Blinkoog kom hy toe daar aan – nie net met nuwe pyle nie, maar sommer met ‘n splinternuwe boog. Vertel so ewe vir my dat daar nou baie dames-boë ook op die mark is, en dat ons vir my een moet kry… Ek wou nie sommer net ‘n spul geld uitgee nie, en skiet toe eers met ‘n geleende boog om te kyk of ek regtig daarvan gaan hou. En hóé hou ek toe nie daarvan nie! En ek is ook nie te klein nie, mens koop ‘n boog wat by jou eie lyf pas. Net vir jou.

 Ons begin 3-d skiet, en Roelf vaar van die begin af sommer goed en kry provinsiale kleure al in die eerste jaar. Ek daarenteen sukkel maar, kry so af en toe ‘n medalje, maar kom nooit op provinsiale vlak nie. Toe ons plaas toe trek besluit ek dis nou sommer tjol om altyd so tweede-beste te voel. As deel van my plan om my vorm te verbeter begin ek FITA teikenskiet.

 Op ‘n dag kom daar ‘n uitdaging vanaf die South African National Archery Association  ‘Do you have what it take?’ en ek besluit ‘Ja, ek HET … en ek WIL’ die uitdaging aanvaar om vir my nasionale kleure te werk en te kwalifiseer vir die nuwe National Squad program. Die gedissiplineerde, meer introverte vorm van boogskiet pas baie beter by my persoonlikheid en sommer gou word Roelf se stokperdjie en droom mý obsessie!

 Ek werk hard en dis ‘n hoë berg om te klim maar die teleurstelling is baie groot toe ek 5 punte kort op my gemiddeld om as ‘Candidate Squad’-lid aanvaar te word in Julie 2006. In sak en as. Net vir kort, want my harde werk is raakgesien en ek word op meriete gekies!

 Kwalifisering vir nasionale kleure was ‘n gemiddeld van 1305. Soveel kere het ek al meer as 1300 geskiet by die huis, soveel kere het ek met groot verwagtinge na ‘n toernooi vertrek. Maar keer na keer ontwyk die ou grote my, en ek werk maar weer… vol hoop vir die volgende keer.

Elke mens doen dinge met sy eie motiverings, ek het meer as een ding wat vir my ‘n motivering is om my beste te gee. Een van daardie motiverings is Ma. Onder spesiale mense is sy die spesiaalste. Ons kuiertjies alleen voor elke kompetisie wat ek in Pretoria of Johannesburg skiet spesiaalste-spesiaal, alleen geselsies wat nooit beskore was in ‘n gesin vol kinders nie. Soms sit ons sommer net bymekaar, sy besig met ‘n breiwerkie en ek vasgevang in my geestelike voorbereiding. Dood tevrede bymekaar. Ek vertel vir haar van die rol van laventel in my geestelike voorbereiding tydens oefening en kompetisie; en toe ek weer in my kamer kom staan daar ‘n POT vol vir my… ‘n Pakkie laventel badsout om in te bad voor nasionale kampioenskappe… ‘n Laventelroompie skelmpies weggesteek in my badkamertassie. Vir haar skiet ek oor al die geleenthede wat sy nooit gehad het nie, vir al haar intellektuele en sportiewe talente wat sy nie kon gebruik het nie, omdat sy vir ons gehad het. ‘n Man en ‘n huis vol kinders. Maar waar sy AL haar ander talente honderd persent uitgeleef het sodat sy IETS is, sonder intellektuele of sportiewe glorie; net ‘n wonderlike Ma en ouma vir haar vele kleinkinders, ‘n steunpilaar vir almal rondom haar. Nou nog selfs in die aftree oord waar ons verlede week haar sewe-en-sewentigste verjaardag gevier het.

 ‘n Ander motivering is ‘n spesiale sussie. Jonk gediagnoseer met diabetes en twee jaar jonger as ek. Dis al meer as 30 jaar vanaf diagnose, en haar organe se aftakelingsproses is aan’t versnel. Nou het sy ook rumatoïede artritis, met elke gewrig in haar liggaam ‘n punt van pyn. Die behandeling is toksies en maak haar soms sieker as die siektes saam, sy is op die laaste linie behandeling wat die mediese wetenskap haar kan bied. Net voor Kersfees 2006 kry sy binne die bestek van 2 dae 300 kortisoon inspuitings, darem onder ligte narkose. Drie honderd! Haar ledemate en lyf was oortrek met blou kolle. Dit was maar die eerste van baie kere, soos wat die jare aanstap gebeur dit meer en meer. Maar sy loop haar pad sonder dat sy ooit kla, sonder dat jy dit eers weet as jy haar nie ken nie.

 In ons familie word mens groot as jy 40 is, en my hart was baie seer toe ek Noek se partytjie mis. Maar ek was ‘n geleentheid gegun om ‘n ekstra probeerslag in te sit, en ek doen dit, ek skiet elke pyl vir haar – my eerste telling bo 1300 – en ek doen dit GOED, met ‘n telling van 1330! My trane was nie net van blydskap oor my punte nie, dit was ook van trane vir my sus en ek skryf vir haar ‘n gedig as verjaardag geskenk.

 Dit alles gee my moed en ek kwalifiseer ‘n paar weke later vir my nasionale kleure en vir National Squad. Net-net, maar ek máák dit! Ek is no. 5 op die ranglys, en mis my groen en goud – die eerste vier kry geleentheid om oorsee deel te neem. Die kwalifisering skuif September 2007 op na 1325, en ek moet van voor af werk… Kort daarna begin gesondheidsprobleme pla en moet ek drasties afskaal aan my oefenprogram.

 Dit neem ‘n paar jaar om weer mens te word en in die vroeë môre-ure van my heel eerste kompetisie daarna, op 06 November 2011, is daar ‘n bliksemstraal uit die hemel en brand al my drome tot as. Van my bronsmedalje met nasionale kampioenskappe en my nasionale lapelwapen is slegs ‘n lae resolusie digitale fototjie oor. Sonder versekering gaan dit ‘n paar jaar neem voor my sport weer my obsessie kan word, nou moet daar eers weer ‘n nuwe huis gebou word en die kinders moet geleerdheid kry en getroud kom. Gelukkig is dit ‘n sport sonder ‘n ouderdomsbeperking en weet ek dat ek met harde werk weer daar kan kom.

 Boogskiet self is nie een van my talente nie, maar my wil en deursettingsvermoë om nie op te gee nie, dalk ‘n groter faktor vir my sukses. Sommiges noem dit hardkoppigheid, noem dit nét wat jy wil. My boogskietpad is ‘n opdraende pad, ene wat ek nou kruip, maar met ‘n lied in my hart.

Die berg wat ek gedink het ek klim was toe net ‘n illusie, die gróót piek lê nog voor. Ek gáán by die piek uitkom, die piek waar die groen bokkie wei en die goue protea blom… al gaan dit dan as bejaarde wees in ‘n rolstoel wat Para Archery verteenwoordig. En my uitsig gaan so wyd en so ver wees dat my oë piepklein skrefies gaan trek en ek die wind gaan blameer vir die water wat daaruit stroom.

Vir Teunet – op jou 40e verjaardag, 12 Jan 2007

Ek kyk op, die teiken vaag voor my.

My hart klop-klop in my keel.

Ek span my boog…

voel my spiere werk.

 

My kop word leeg.

Die pyl verlaat die boog

wanneer ek vir ‘n splitsekond

my liggaam van asem weerhou.

 

Ek volg die vlug

en die dowwe slag bevestig

dat dit ‘n kolskoot is.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jy die mooiste hare het,

dat ek jou sproete begeer het toe ons kinders was.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jou lewe vir my ‘n inspirasie is,

dat ek altyd opkyk na jou.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat my soeke na die goud

‘n ode is aan jou wat sonder kla,

sonder verwyt, voluit lewe.

 

Ek wou nog vir jou sê

dat jy baie spesiaal is vir my.

Ek wou nog vir jou sê…

dat ek dit nou gesê het.

Categories: Gedigte, Slakresies en ander sport | 5 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.