Monthly Archives: Maart 2012

‘n Nuwe fase in my lewe

Daar is so baie fases in ‘n mens se lewe dat jy eintlik nie byhou om met alles te cope nie! Party gaan te gou verby en party bekruip jou agter jou rug… maar die nuwe fase in mý lewe is iets waarna ek baie uitsien!

Oor minder as twee weke gaan ek die titel dra van Moeder van die Bruid… ‘n Rok en skoene is al gekoop, maar nie die tipe rok wat die meeste mense gaan verwag as Moeder van die Bruid nie. Nee. My skoonseun het vir sy skoonma ‘n pragtige turkoise rokkie met blinkers uitgekies nadat haar mooi pers rokkie verwoes is in die brand net meer as ‘n maand gelede. Dié het sy darem vir haar sus gewys wat kom kuier het…

Die fase waarna ek éintlik uitsien is die fase van Ouma-wees. En ek is nie skaam om te sê dat my kind swanger is nie. Sy is groot en dis ‘n kind in liefde verwek, nie ‘n een-dag-belustigheid nie. Die troue wat vir November beplan was, is nou net vervroeg.  Ons aanstaande skoonseun is al lánkal ons seun.

Dingetjie is nou amper 17 weke verweef in sy moederskoot en volgende week gaan ek en Oumagrootjie ook saam met Mamma en Pappa op die sonar kyk of ons nou blou of pienk moet koop…  Jy beter jou boudjies móói draai Dingetjie… jy beter!

Eerste foto van my kleinkind. Ontmoet vir Dingetjie, hier net na 12 weke en 5.76cm lank.

My nuwe stoep is spesiaal lekker groot sodat die kleinkinders met hulle skopfietsie kan resies jaag. Ons het hom al laat uittoets met Elzandri, my nefie se pragtige dogtertjie. Wanneer ek net sien hoe my susters en broer hulle kleinkinders geniet, wéét ek dat dit vir my ook ‘n groot plesier gaan wees.

Maar Dingetjie… hierdie ouma van jou is nie soos gewone oumas nie. Ek wil dit net nou al vir jou duidelik maak. Ek gaan dalk nie vir jou koekies bak nie. Maar ek sal op my kop vir jou staan. Ek gaan jou nie bederf met sweeties nie. Maar ek sal vir jou ‘n sprinkaan se poot onder ‘n mikroskoop wys. En mooi patroontjies in die wolke. En die piepklein spoortjies van ‘n duikertjie in die sand. En die mooi patroontjies op ‘n wurm se lyf. En ons sal perdeblomsaadjies blaas in die wind  en ons tone krul in die modder wanneer dit reën. En ek sal vir jou ‘n padda vang en wys waar bly ‘n groot bobbejaanspinnekop.

Kom Dingetjie. Kom kleinkind van my ander kind. Ek wil vir julle ‘n Ouma wees.

Categories: My klein slakkies | Sleutelwoordw: | 14 Kommentaar

Wat ‘n besige dag…

My dag was volgepak van vroeg vanoggend af. Ek het my dag in die veld begin op die quadfiets, opsoek na ‘n siek sebra. Hoe heerlik was dit nie om net bietjie mevrou-plaas te speel nie!

Ek was vroeër wakker as gewoonlik en dit was nie my wekker nie, maar ‘n harde bui reën wat my wakker gemaak het. Die weer het my bietjie beangs gemaak, en met die reën het ek gedog ons planne van sebra verdoof was van die baan. Dit was egter gou oor en na ‘n lekker koppie tee was ek reg vir die dag.

Gelukkig het ek haar baie gou gekry en terwyl ek weg was het die veearts solank haar doepa bymekaar gekry om vir Vettie te verdoof met ‘n pylgeweer. Sy het ‘n nare seer op haar nek omdat die Mr. Z, ons ‘stoethings’,  nie sy blerrie tande vir homself kan hou nie! Daar is twee jonger manne wat graag wil katelknaap speel wanneer hy nie kyk nie, en dan ontgeld iémand sy toorn. Hy kry die arme slagoffer aan die maanhare beet met sy vlymskerp tande en ruk dan huid en haar dat die bloed spat. Laat verlede jaar het hy ‘n klein hingsie wat nie ore gehad het toe hy veronderstel was om die trop te verlaat nie, op dieselfde manier behandel en dié is dood as gevolg van infeksie in die wond.

Vettie het ‘n vulletjie en ons wil nie graag die risiko loop om twee diere te verloor nie. Ons het met die veearts, Jo-anne, se Land Cruiser tot naby die trop gery waar ek hulle gesien het, en toe is ons te voet nader. Elkeen van ons het ‘n tweerigting radio gehad en ‘n botteltjie teenmiddel indien jy net dalk per ongeluk in aanraking sou kom met die verdoofmiddel. Gelukkig is hierdie trop gewoond aan mense en het julle rustig gewei terwyl ons nader beweeg het. Die merrie het natuurlik heeltyd haar vul agter haar rug weggesteek en dit was ‘n paar minute se wag vir die perfekte skoot in haar nek.

Die pyltjie het perfek getref en die hele trop het begin hardloop na die skoot. Gelukkig het hulle nie in die digte lantanabosse ingehardloop nie, en ons kon hulle heeltyd volg met die voertuig. Die veearts se twee assistente het te voet gehol agter die trop aan. Hulle het ‘n hele lang draai gevat en uiteindelik het sy netjies in die pad naby die huis omgedop. Sy het ‘n groot oogklap gekry om die stres te beperk, en Phineas het haar kop op gehou om versmoring te voorkom. Vinnig-vinnig is die wond behandel, sy het ‘n paar inspuitings gekry teen infeksie en sommer ‘n ontwurming ook, en toe het Jo-anne die teenmiddel toegedien en die oogklap afgehaal. Dis was ‘n kwessie van omtrent twee minute na die teenmiddel toegedien is, toe is Vettie weer op haar voete.

Ai, en toe ontdek Jamie dat hy sy tweerigtingradio êrens verloor het. Ek het solank die half kilometer vooruit huistoe gehardloop om daar te gaan soek terwyl Jo-anne en Jamie haar medisynes en toerusting weggepak het. Boesman en Pipstert was natuurlik baie bly om my te sien en het toe lekker saamgery op die quadfiets terug veld toe om daar verder te soek.

Teen agt uur was ek by die skool, net ‘n klein bietjie laat vir werk!

Skool was maar ‘n gewone besige dag en ek moes gou ry om twee uur tuis te wees want my nuwe kombuis se granietblaaie moes vandag kom. My senuwees was rou met daai sware goed wat hier ingedra is! Die ses installeerders het tot na sewe gewerk om alles in en reg te kry. Dit het natuurlik my senuwees nóg rouer gemaak om vrou-alleen tussen ses werkers in my huis te wees, en ek het heeltyd gemaak asof ek vir Roelf nou enige tyd van die werk verwag, en ek het maar baie gebid. Wat moet ek anders maak? Die graniet moes geinstalleer word en Roelf kon nie weer van Pretoria af kom nie.

En tussendeur was dit merk, merk, merk en nogmaals merk. Tussen die graad agt en neges is hulle meer as driehonderd, en ek het van elkeen ‘n klein projekkie om te merk, en môre skryf die graad agts siklustoets en volgende week die graad neges.

Nou vat ek eers ‘n breek, dis nou amper tien uur en ek gaan gou iets maak om te eet voor ek ‘n laaste werkie wil afhandel.

Dis LEKKER om weer energie te hê na ‘n ruk van siekwees as gevolg van bilharzia (mevrou plaasvrou het gehelp krip skoonmaak en toe vir vriend Chris ‘n emmer vol platannas gevang) en uiteindelik reageer my maagseer op die medikasie…

Dís hoe ek lewe, ek LEWE elke minuut!

 

Categories: Plaaslewe | 14 Kommentaar

Geduld is ‘n relatiewe begrip

My draad is maar redelik kort wanneer dit by mense kom. Dit was nog altyd so, en al werk ek daaraan sal dit seker maar so wees wanneer ek oud word ook.

Wanneer dit egter by biotiese faktore anders as Homo sapiens kom, dan ondergaan ek egter ‘n totale persoonlikheidsverandering… Ek kan maklik verlore raak in my poging om ‘n sprinkaan of skoenlapper te agtervolg vir nét die regte foto. Soms is dit nog tevergeefs ook, want my Pipstert brakkie agtervolg die goggas saam met my en net wanneer ek uiteindelik naby genoeg gesluip het, dan spring sy op die voorwerp van my aandag…

Plante kan egter nie weghardloop nie, daarvoor is hulle aanpassing in die natuur net te goed. Maar hulle kan weer binne ‘n dag verwelk, opgevreet raak of vir ‘n hele seisoen of drie verdwyn.

Sowat ‘n jaar en ‘n bietjie gelede het ek hierdie pragtige saadjies aan ‘n rankplant gekry. Boeke het gewoonlik blomme in, jy is gelukkig as hulle selfs net melding maak van die sade. Met sade is dit ook moeilik om te probeer bepaal wanneer die plant geblom het… mens moet maar geduldig wag vir ‘n volgende seisoen… en hoop die plant loop weer uit!

Kyk net hierdie lieflike sade!

So het ek dan nou van die lente af kort-kort die plek gaan besoek in afwagting dat die plant weer sy verskyning sal maak. My hoop het nie beskaam nie en die plant het stadigaan begin rankies uitstoot met gesonde blare. Maar die blomme kom nie en dit kom nie en dit kom nie…

Die blare is al lank reeds weer aktief besig om te groei...

Tot vandag… toe kon ek uiteindelik sien watter blommetjie sulke interessante saadjies maak! Dit is toe Sphedamnacarpus pruriens var. pruriens van die familie Malpighiaceae, ‘n blommetjie wat ek al ‘n paar jaar gelede vir die eerste keer afgeneem het.

Sphedamnacarpus pruriens var. pruriens

Verstaan jy nou waarom geduld ‘n relatiewe begrip is? Het ek maar daardie geduld met mense gehad…

Categories: Biodiversiteit op die plaas | Sleutelwoordw: ,,, | 4 Kommentaar

Blog at WordPress.com.