Monthly Archives: November 2012

Is diep binne jou nog ‘n kind?

Ek dog maar net ek vra of daar nog diep binne jou ‘n kindjie woon, want ek het nog nooit die sywurmfase ontgroei nie en ek het maar net gewonder of ek allenig op hierdie aarde is…

Onthou maar die spreekwoord van “beauty lies in the eye of the beholder”, né, voor ek nou weer moet hoor “Waar’s die Doom?”

Hierdie is my gunsteling ruspe, Rhanidophora phedonia. In Engels is die algemene naam Shortsnout Dice moth.

Rhanidophora phedonia

Hulle gasheerplant is Thunbergia atripicifolia en ek kan nie verby ‘n plant loop sonder om te kyk of daar nie een of meer van hierdie mooi goedjies op is nie.

Thunbergia atripicifolia

My insekboek het my verwar met die name en ek wou doodseker maak vir myself. En vir ander mense wat ook dalk so verward kan wees soos ek, ons is nie almal ewe slim nie! Toe dra ek maar enetjie aan huistoe en prakseer vir hom ‘n houer waarin ek hom heeltyd kon beskou. Die eintlike rede is dat ek wou sien hoe die volwasse organisme lyk, in hierdie geval die mot.

Roomyshouers is nuttig vir baie dinge!

Gelukkig is daar ander mense wat baaaaie slim is wat vir my met die regte naampie kon help nadat ek ‘n foto van die mot op ‘n identifiseringswebblad gesit het.En nou weet ek.

Rhanidophora phedonia, Shortsnouted dice moth

Intussen het ek nog drie ander mooies ook aangedra en wag vir hulle motte ook om te verskyn…

Woon daar nog ‘n kind binne my? Verseker! Maar die grootmens gebruik die kind in haar en lewer ‘n bydrae tot wetenskaplike kennis sodat niemand hoef te wonder watter motjie hoort by watter ruspetjie nie…

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | 12 Kommentaar

Uil op ‘n kluit

Ek het gister die voorreg gehad om ‘n Gevlekte ooruil van naderby te bekyk… in my eie kombuis!

Ons voornemende veearts werk in haar vakansietyd by die plaaslike kliniek en hulle het die uil behandel nadat hy beetgekry is deur honde. Sy het hom saamgebring huistoe en ons het hom op die plaas vrygelaat. Hier is Gevlekte ooruile en hy sal gou ‘n maatjie kry. Ons sien en hoor ook Bosuile en Nonnetjiesuile.

Die oë is aangrypend geel, die foto’s doen nie glad nie reg daaraan nie! Dis die helderste, helder geel wat sterk kontrastreer met die pikswart pupille; ek het nog nooit voorheen so iets gesien nie.

Ek het gedink hy gaan kwaai wees, en gedink die velle gaan waai wanneer Marina haar hande in die boks druk. Hy was egter baie rustig en sy het hom baie professioneel opgetel sonder dat hy stres. Vir my het hy natuurlik gesis toe ek my kameralens in sy gesig druk, maar dis seker te verstane, dis darem ‘n vreeslike groot oog wat vir hom gekyk het!

Ek het baie vinnig ‘n paar foto’s geneem want ek was regtig bang die dier begin stres.

Wat ‘n voorreg om op die plaas te bly en kontak te kan hê met sulke manjifieke diere!

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | Sleutelwoordw: , | 7 Kommentaar

Droog-my-keel

So af en toe kom ek op iets af wat my net kielie… en vandag het ek so ietsie ontdek…  ‘n lieflike naam vir een van die plante op my plaas.

Ken julle ‘n plant met die naam Droog-my-keel?  Wat ‘n pragtige Afrikaanse naam!

Volgens Elsa Pooley in A Field Guide to Wild Flowers of Kwazulu-Natal and the Eastern Region is die bessies van hierdie plant eetbaar en word ook ‘Wildedruif’ genoem. Geen Engelse of ander inheemse taalname word gemeld nie.

Verseker gaan ek enetjie proe een van die dae, ek is seker jy sal saamstem dat hulle baie aanloklik lyk! Volgens Pooley is die wortels giftig, so ek sal dit maar liewer uitlos…

Categories: Biodiversiteit op die plaas | 11 Kommentaar

Seëninge klein en groot

Vader, vandag wil ek u loof en prys vir al die dingetjies wat soveel betekenis aan my alledaagse lewe gee, al die seëninge klein en groot.

Dankie vir die…

voëltjies wat my wakker sing,

kraan met warm water om die nag se slaap weg te was instede van vêr loop en water dra,

koel smaak van tandepasta in my mond in plaas van as,

voorreg van lekker sagte toiletpapier en nie die gekrap van ‘n koerant,

knoppie wat ek kan druk om die ketel te laat sing,

yskas om my melk in aan te hou,

 werk waarheen ek kan gaan,

kar waarmee ek kan ry waar ek wil gaan,

huis met stewige mure en ‘n soliede dak waarheen ek terug kan keer,

voedsel en drank om my lyf te voed,

warm kombers teen die nag se koue en nie ‘n oopgerekte doos nie,

goeie gesondheid waarmee U my seën,

wonderlike voorreg om vry op my plaas te stap en daar met U te praat,

elektroniese media waarmee ek elke dag in kontak met my vêr geliefdes kan wees,

wonderlike familie waarin ek gebore is,

Bowenal dankie dat ek U openlik kan loof en prys, Vader Almagtig groot!

Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: , | 3 Kommentaar

Stof tot stof

‘n Wetenskaples in kort vir jou oor Stikstof, een van die belangrikste elemente op die periodieke tabel, en weerlig.

Ons atmosfeer bevat amper 78% stikstof en dit kom voor as ‘n diatomiese molekule, N2. Hierdie molekule is inert (dit beteken onreaktief) en om die bindings te breek sodat die atoom met ander atome kan verbind, benodig ‘n enorme hoeveelheid energie.

Weerlig is ‘n natuurlike bron van energie wat genoeg is om die bindings te breek sodat die stikstofatome met die suurstof in die atmosfeer kan verbind om stikstofoksied te vorm. Dit los op in die rëen en vorm oplosbare nitrate wat na die aarde val om die grond te verryk.

Plante gebruik hierdie nitrate uit die grond en vorm nutriënte. Ons eet die plante en proteïene soos spiere vorm in ons liggame. Uiteindelik verrot ons wanneer ons sterf en word die stikstof weer vrygestel aan die atmosfeer.

Stof tot stof.

*************

Gaan lees hier meer oor die stikstofsiklus, dis in eenvoudige taal geskryf

Categories: Gedigte, Slakgedagtes, Sommer maar net | 8 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.