Monthly Archives: Junie 2012

Die mens wik, maar God beskik

Dis vir my vreeslik hoe ‘n wat jy dink ‘n normale dag in jou lewe sou wees, skielik ontaard in ‘n nagmerrie. My sewe maande swanger kind kuier bietjie by my en op ons beplanning vir gister was om vir babatjie haar laaste paar goedjies te gaan koop, dan lekker tee drink met een van haar vriendinne en om daarna bietjie by die InniBos feesterrein te gaan draai. Ons eet elkeen net ‘n beskuit voor ons ry, want ons beplan lekker eet in die Mall.

Maar die mens wik en God beskik. Ons was nog in die Illanga mall in Nelspruit toe my vriendin Bianca bel. “Kobie, waar is jy?” Wanneer iemand dit vir my vra, dan weet ek al dis geen gewone oproep nie. “Ek en Annerine is in die mall. Hoekom?” Haar antwoord het my yskoud laat word. “Want ek en Enca is nou net verby jou plaas en dit brand.” Vader help. Nie weer vuur nie.

Bid. Tick. Bel die brandweer. Tick. Bel vir Roelf. Tick. Bel vir Emelina. Tick. Moenie panick nie. Tick. Bel vir nog hulp. Tick.

Wanneer mens by die bergpas kom, dan kyk jy uit op die Barberton vallei. En ons sien die swart en grys rookwolke van daar af. Moenie panick nie. Tick. Ry versigtig en moenie teen die pas afjaag nie. Tick. Probeer ophou bewe. Tick. Gee vir Annerine my foon sodat sy ‘n Facebook inskrywing kan plaas namens my vir ‘n gebedsoproep.

Dit was gelukkig nog nie ver gevorder nie, maar die wind was STERK. Ek kon verby jaag huistoe om werksklere aan te trek en my spuitkan te kry en ekstra kanne met water. Hare vasgemaak dat dit uit die pad is. Ek het die buurman gebel waarheen die vuur beweeg indien ons hom nie kon keer nie, en hy was ook in die dorp. Ons moes die brandweer nog ‘n keer bel. Hulp het begin opdaag. Party sommer vanself. Die brandweer was dit eens dat ons nie die vuur met water sou kon blus nie. Hulle ry weg na die buurplaas waarvandaan die brand gekom het om hulle chalets te gaan beveilig en ons sien hulle nie weer nie, hulle het ander nood as ons en los vir my ‘n selfoon nommer indien ons vuur buite beheer raak. Ons besluit om terug te brand en sodoende te keer dat dit verder versprei.

By hierdie pad het ons hom gekeer

As jy nog nooit ‘n veldbrand beleef het nie… dis verskriklik. Mens kan nie die hitte oorvertel nie. Jy storm in en slaan so paar slae dan brand jou longe en jou oë en jou hele lyf brand soos ‘n kool vuur van die rook en die hitte.  Vir Annerine het ek huistoe gestuur sodat sy nie die rook moet inasem nie. Sy bly paraat en bring ‘n broodjie en koeldrank toe ek wil flou val. Drinkwater. Wanneer die vlamme aan ‘n olienhoutboom lek tel sy eeen… tweee… driee… dan is die boom weg.  Dis verskriklik! Maar dis ook verskriklik mooi. Ek het gewens ek het my kamera daar gehad, ‘n selfoon is so beperk en ek het ook my battery wat reeds halfpad pap was probeer spaar vir kommunikasie.

Ek sien hoe die vuur oorspring na die buurman toe en al wat ek kan doen is om hom te bel. Drie plase langs mekaar wat brand… Met ons inbrand kon ons die vuur stuit aan ons kant, en dit het nog ‘n ruk by die bure geneem. Tydens nabetragting staan ek en ‘n vriend en gesels toe ‘n bondel droeë sebramis minder as 20cm van ons voete af begin smeul as gevolg van ‘n kooltjie wat die wind aangedra het. Só is veldbrande. Dit hou nie op nie.

Toe almal weg is het ek agtergebly met my spuitkan om die stompe nat te spuit. Indien die wind weer optel, is daardie kooltjies wat waai genoeg om ‘n nuwe brand te begin. Dis hoe dit begin het gister. Die een plaas het drie dae terug gebrand. My liggaam bewe nog van die adrenalien en werk is al manier om dit uit te kry.

Laataand was ek pikswart.

Laatmiddag spuit ek nog water en toe ek weer opkyk sien ek net vlamme by die buurman, reguit oppad na my toe na die gedeelte wat nie gebrand het nie. Terwyl ek besig was om hom te probeer bel, bel hy en sê hy dink ek moet gaan kyk, dit lyk of die vuur weer by my opgevlam het. Hy glo my eers nie toe ek sê ek is dáár en dis nie by my nie. Ek bel weer die brandweer en ander hulp. Hierdie keer word die brandweervoertuig vinnig gestuur. Gelukkig het die wind heeltemal gaan lê en is dit ‘n koue vuur wat brand. Ek, die brandweer en my vriende slaan die vuur op die buurman se plaas, terwyl hy knus in sy huis sit. As dit nie vir my ‘n gevaar was nie, het ek gisteraand daai vuur gelos. Ek klouter die ses voet grensdraad heen en weer asof ek dit elke dag doen om te help om die brandweerwa se brandslang heen en weer te trek.

Eers wanneer jy iets het om dit mee te vergelyk, kan mens die omvang van die vlamme besef.

Ek wens ek kon alles vasvang. Op ‘n stadium het ek en een van die brandweermanne dieselfde gesig met ons selfone probeer vasvang, maar beide onsuksesvol  – ‘n majestieuse papierbas wat vlamvat. In die donkerte het dit soos ‘n boom vol liggies gelyk. Dit het gelyk asof elke takkie ‘n ry liggies op het. Dis die gasse uit die boom wat vrygestel word wat begin brand. En dan skielik is die hele boom oortrek met groot vlamme en word dit ‘n vúúr.

Dis smeulende stompe soos hierdie wat jou nagmerrie van more is

Laataand was die vuur geblus en het  net die smeulende stompe oorgebly. Ek en ‘n jongman wat ek van geen kant af ken nie, het weer deurgeloop en al die gevaarlike smeule by my kant gespuit. Ons het die wat regop gestaan het omgestoot sodat dit ‘n kleiner risiko was. Ek flits, en hy spuit. Hy gee vir my sy nommer en sê “Tannie, bel my vannag as dit nodig is. Ek kom.” Half tien stap ek in die huis in, asvaal en bewend van al die adrenalien en moeg. Gelukkig het ek die vorige dag ‘n pot sop gemaak en kon ek vinnig iets inkry. Toe gaan maak ek weer my kanne vol sodat ek nie onverhoeds in die nag betrap word nie, en daarna het ek gaan bad.

Slaap wou maar net nie kom nie. Ek kry elke dag ‘n ‘Vers vir die dag’ en toe my vers kom vir vandag was ek meer as net onsteld. Ek was vreesbevange omdat ek reeds twee keer my aardse woning verloor het. Die laaste keer was sommer net nou die dag. Lees dit en jy sal dalk my kleingelowigheid en angs vir die nag wat voorgelê het verstaan.

“Jou woonplek is tydelik

Carina Francke

Teksvers: 2 Kor 4:16; 5:1

 Tentbly is lekker, maar permanent?! Sekerlik nie die ideaal nie, want die elemente speel nie altyd saam om dit ‘n aangename verblyf te maak nie.

 Paulus gebruik hierdie beeld om ons verblyf in ‘n deurmekaar en stukkende lewe wat aan elemente soos siekte, hartseer, honger, teleurstellings, ouderdom en dood blootgestel is, te beskryf, maar ook om ‘n hoopvolle verwagting by ons op te wek:

“daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. (4:16). Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.”(5:1) Ons is daagliks pynlik daarvan bewus hoedat ons tentwoning aan’t verweer is, maar dit moet juis die verwagting van ‘n ewige huis in ons wakker maak. En daardie huis is een wat nooit kan verweer nie, omdat dit ‘n geestelike huis, ewig, in die hemele is. Die daaglikse swaarkry en die aftakeling van ons liggaam moet ons nooit moedeloos maak nie, want ons het die belofte dat “

Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek…” (2Kor4:14) Begin liewer jou lewe voluit leef en fokus op die eindstreep wat in sig is en op die prys van ‘n nuwe (heel en gesonde) huis. Dit ís moontlik want jou 24/7 Metgesel loop elke tree saam met jou.

 In teenstelling met die uiterlike, word ons innerlike daagliks vernuwe. Jy sien, ons hart, ons gees, ons ‘binne-menswees’ het lewend geword toe ons 24/7 Metgesel – die Drie-eenheid woning by ons kom maak het. Deur ons verhouding met Hom en Sy inspraak in ons lewens wanneer ons die Woord lees, bepeins en doen wat daarin staan, word ons innerlike mens op wonderbare en misterieuse wyse verander om nooit te verouder nie. G’n wonder nie dat Paulus hoopvol aanbeveel:

Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe…. om Hom welbehaaglik te wees.” (2Kor5:9).

Gebed: Vader, dankie vir die wete dat ek in my binne- mens nooit sal oud word nie en dat my sterwende liggaam opgewek gaan word deur U krag.”

Ek het my wekker vir 02h00 gestel sodat ek kon gaan stomp- en windinspeksie hou. Teen daai tyd het ek nog nie geslaap nie en vanuit my kamer kon ek sien dat dit absoluut windstil was, en met die maan reeds weg kon ek sien niks brand nie. Ek het bly lê en my wekker vir 04h00 gestel. Ongeveer 03h00 het ek eers aan die slaap geraak en toe so nagmerries gehad dat ek gedink het ek het myself wakker geskree. Toe staan ek maar op en ry. Daar was vlammetjies by die een stomp en ek het my watertjies gegooi en weer gaan lê tot 08h00 vanoggend.

Gelukkig het ek ‘n Sibusiso en Samanga gehad wat vanoggend kon help om die warm gedeeltes van die stompe af te saag om dit makliker te spuit. Mens spuit daai stompe, maar dis soos ‘n waterpistooltjie in ‘n groot braaivleis vuur.  Ek moes dorp toe – ongelukkig loop van ons waterpype bo-grond, en hulle is in die gedeelte wat eerste gebrand het. Dit spaar net baie tyd as alles reeds aangekoop is wanneer hy kom. Dit beteken dat die water in die tenk al is vir die volgende paar dae totdat Roelf huistoe kom. Vir hom was dit (is dit) hel om in Pretoria te wees terwyl ons hierdie kant stoei. Ons het hom heeltyd op hoogte probeer hou.

Die oggend na die brand.

Vanmiddag laat het ek weer inspeksie gaan doen en ek dink ek het die laaste stomp nou dood. Dis die eerste veldbrand waar ek sonder Roelf moes besluite neem, die enkele ander kere was hy altyd hier. Almal se gebede het gehelp. Ons het slegs een derde weiding verloor en hoef slegs ‘n gedeelte waterpyp te vervang en ‘n paar wildsblokke vir die kameelperde.

‘n Mens dink alles is weg, tot jy naby kyk. Hoop. Genade. Ek het reeds vanmiddag rooibokke gesien rondloop in die as.

Mens leer altyd uit enige trauma, die grootste ding is dat mens altyd paraat moet wees.

  • Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Hedendaagse tegnologie soos Facebook kon dadelik die woord versprei dat ons nood het en vanoor die hele land, nee, vanoor die hele wêreld was daar mense wat vir ons gebid het. Ons Vader het Sy hand oor ons gehou, en ons loof en prys Hom daarvoor.
  • Hou jou selfoon se battery so vol moontlik. Ek het gesien hoe vinnig dit afgaan met al die bellery en het op ‘n stadium huistoe gery om my simkaart in Annerine se foon te sit. Indien myne pap was om mee te begin, het ek ‘n probleem gehad.
  • Moenie in haastigheid jou simkaart ruil nie, ruil die battery. Nommers wat jy nodig het is dalk op jou foon en nie op jou simkaart nie.
  • Moenie maaltye oorslaan nie. Ek het op ‘n stadium amper flou geword van lae suiker en lae bloeddruk. Annerine se broodjie en koeldrank het my lewe gered. Jy dink dalk jy gaan in die dorp iets eet, en dan moet jy huistoe kom voordat jy daardie kossies gehad het.
  • As Samanga die tuinslang laat ooplê, ry dadelik en stel die pomp sodat hy meermale pomp. Want nou is die watertenks nie vol nie, inteendeel, hulle is amper leeg. Vir nood kan ek by die pomp self ‘n plan gaan maak, maar wasgoedwas en sulke goed is uit tot Saterdag wanneer die pype weer gekoppel word. Ons pomp is ‘n kilometer weg van die huis.
  • Sorg dat jou voertuie brandstof in het. Jy moet dalk net skielik rondskarrel in nood.
  • Dra katoenonderklere en katoen bo-klere wanneer jy vuurslaan. Dit hou jou die veiligste. Bly weg van sintetiese stowwe. Gelukkig was ek veilig.
  • Moenie veiligheidskoene met staalpunte dra nie. Die punte word warm en dan brand jou tone. Dra leer bootse. Daar gaan my budget al weer.
  • Haal jou juwele af voor jy gaan vuurslaan. My silwer armbandjie is twee keer amper af geruk en my vinger het ‘n bloedblaas waar my ring gehaak en geruk het. Hoeveel boere of mans wat met hulle hande werk sien jy wat trouringe dra?
  • Wees ingelig oor verenigings in jou omgewing. Ek het gisteraand die nommer gekry van die Lowveld & Escarpment Fire Protection Association (Lefpa) en het hulle sommer vandag al gaan sien. Hulle het die brand op hulle lewendige satelietkaart gesien, maar omdat nie een van ons ‘n lid is nie mag hulle nie ‘n span uitstuur nie.  Hulle ledegeld is bitter min, daar is net ‘n paar (eenmalige) duur vereistes waaraan jy moet voldoen, en jy moet ‘n basiese vuurslaankursus doen, en jou voorbrande en veiligheidstroke volgens hulle vereistes doen. Hulle help jou met jou voorbrande, stuur smse van brandgevaar toestande, hou jou op hoogte indien daar enige brand in jou omgewing is, en stuur ‘n span indien jy dit nodig het.
  • Wees altyd bereid om ander mense te help, want môre het jý nood. Nood vra nie om te gebeur nie. Dit kom sommer vanself.

Baie dankie vir my vriendinne wat gebel het om te sê. Baie dankie vir almal se gebede. Baie dankie dat die boodskap versprei is. Baie dankie vir al die mense wat kom help het.  Baie dankie vir my man wat vertrou dat ek die regte besluite hierdie kant maak. Mag ons Vader julle almal se paadjies net seën.

Vader, ek staan klein voor U. U almag is bokant my verstand en rede. Dankie vir U genade. Dankie.

Advertisements
Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,, | 24 Kommentaar

In die natuur openbaar Hy Homself

In my kerk leer ons dat God Homself openbaar in die natuur en die skriftuur (Bybel). So dikwels wanneer dit swaar met my of iemand na aan my gaan, hoef ek net my oë oop te maak en te síén wat God vir my probeer sê. Ek kan my verwonder aan die karaktereienskappe van mense wat so duidelik in die natuur geïllustreer word.  

Aloe marlothii

Plante kan nie wegbeweeg van ongunstige toestande nie, en daarom het God hulle geskape met spesiale aanpassings om in ongunstige toestande te kan oorleef. Dink maar aan die aalwyn en die waterlelie. Die aalwyn se blare is dik en vlesig, is bedek met ‘n waslagie, dis spiraalvormig gerangskik om die stam sodat water na die wortels gelei word, die huidmondjies is ingesink en sit aan die onderkant om waterverlies deur transpirasie te verminder.

 

Waterlelie blom en blaar

Die waterlelie se blare is groot, rond en plat met lugruimtes in om bo-op die water te kan dryf, die onderkant het geen huidmondjies nie en is bedek met ‘n anti-septiese slymlagie om binnedringing van bakterieë vanuit die water te voorkom. Beide se stam en wortels is nog verder aangepas.

Ek het egter ‘n ander baie spesiale plantjie op my plaas ontdek.Hy is nog nie finaal geïdentifiseer nie maar is moontlik van die genus Craterostigma . Hulle is spesiaal aangepas om droeë ongunstige toestande te oorleef deur gebruik te maak van ‘n spesiale ontwateringsproses. Wanneer dit weer reën, herrys hierdie plante asof vanuit die niet, daarom  word hulle ‘wederopstanding plante’ genoem.

Possibly a Craterostigma species

Ons ongunstige toestande is soms dinge waarvan ons nie kan weghardloop nie, soos swak gesondheid. Ken jy dalk ‘n persoon wat maar net altyd opstaan, maak nie saak wat na sy of haar kant toe gegooi word nie? God het daardie persoon spesiaal gemaak om die ongunstige toestande in sy of haar lewe te oorkom.  Hy weet wat die spesiale toestand is vir daardie persoon om Sy Naam uit te dra. Daarom kan ons maar net altyd sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Fil 4:13

Ken jy dalk iemand wie se lewe so verdor lyk dat jy nie eers die moontlikheid van dieper lewe oorweeg nie? Weet dan dat by ons Vader alles moontlik is. Daar sal dalk ‘n toestand kom wat vir daardie mens gunstig is om weer op te staan. Jóú gunstige toestande en daardie mens se gunstige toestande is dalk nie eenders nie. ‘n Aalwyn kan nie in ‘’n dam water leef nie, en ‘n waterlelie nie in die woestyn nie. Elkeen is ‘n unieke wese.

 Lewe jou eie lewe vir Hom. Dra jou eie vrugte vir Hom.  Want Hy het jou spesiaal gemaak.

 Ps. 9:2-8

 “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Tog gaan daarvan  ‘n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde. Vir die son is daar in die hemel ‘n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy gloed nie. Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar:  dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.”

 

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 10 Kommentaar

Viva Platteland!

Voorverlede Vrydag moes ek ‘n groot bedrag geld by die outoteller trek, Emelina en Sibusiso moes betaal word, en ek wou Pretoria toe ry.

Het jy al ‘n spul note uit die masjien gekry? Daar staan ek en die goed glip eenvoudig net grondtoe voor ek dit in my handsak kon kry… en ‘n skielike rukwind gryp al my bloues en versprei dit orals heen!

Konsternasie! My maag was HOL van ontsteltenis by die gedagte aan my rooi saldo en geld wat weg is… Gelukkig was daar net een vrou agter my, en sy help my toe hol en gryp.

So gou as wat ek kon, het ek by die naaste plek ingegaan en gemaak asof ek iets daar moet gaan betaal. Die eienaar van die oogkundebesigheid was baie simpatiek terwyl ek my geld ge-orden en probeer tel het. Eers  in Pretoria het ek gesien dat daar sowaar een bloue weg was.

Vanmiddag was ek gou winkel toe, en net voor ek instap vat iemand my aan my skouer. Die oogkundige. “Sjoe, ek hol al van daar anderkant af agter jou aan. Kom maak gou by my ‘n draai as jy klaar is met jou inkopies.”

Daar gekom haal hy ‘n bloue uit sy laai. “So rukkie na jy weg is nou die dag, staan ek by die oop deur en daar waai ‘n honderdrandnoot by my deur in. Toe weet ek dit moet een van joune wees en toe bêre ek dit tot ek jou wees sien.”

Sjoe. Nodeloos om te sê dat my blok sjokolade wat ek so pas gekoop het ‘n nuwe eienaar gekry het!

Dankie, Jacques Tinkhof, jou oog (en jou hart!) is defnitief op die regte plek…

Dit was nie ons familie se enigste genade die week nie. Verlede week is Annerine se beursie by haar werk gesteel en julle weet seker watse rompslomp dit is om alles te vervang. Sy was nou al by die bank vir die bankkaarte. Gister bel sy. “Mamma, raai wat? Daar was netnou ‘n man by my hek en hy het my beursie met ‘n briefie by vir my gebring. Die vrou by ons Spar stuur dit, iemand het dit daar naby opgetel en daar ingegee. Hulle het ‘n apteekstrokie daarin gekry en kon my so opspoor.” Natuurlik minus die kontant, maar haar lisensie hoef nou nie ook nog vervang te word nie.

Categories: Sommer maar net | Sleutelwoordw: | 11 Kommentaar

Sonopkoms uit my kamervenster

My oupa Winnertz het elke oggend 04h00 opgestaan en dan tyd met God spandeer. Ek kan dit nie stiltetyd noem nie, want ons hy het ons soggens wakker gesing met sy lofprysing. Hy het nie net Bybel gelees en gebid nie, hy het gesing ook. Verseker het hy menigmale ‘n wonderlike sonopkoms beleef, mens moet net daar wees wanneer dit gebeur.

Dankie dat ek so mag wakker word. Ek het net nie elke dag tyd om my kamera aan te sit nie!

Gisteraand se sonsondergang was aanskoulik, maar vanoggend se sonsopkoms hoef geen tree terug te staan nie. Net ‘n paar tree uit my slaapkamer om verby die eerste bome te kan sien…

Mens kyk net altyd wes, soms is dit ook nodig om in die teenoorgestelde rigting te kyk!

 

Categories: Sommer maar net | 4 Kommentaar

Waar is my baadjie en my hoed? ‘n Huldeblyk vir Pa

Vadersdag is altyd naby my pa se verjaardag en ons kinders en ma verlang al die hele naweek na hom. Toe hy geleef het, was dit sommer as ‘n twee-in-een dag gevier. Vooraf het hy altyd gesê ons moet tog niks spesiaal doen nie, maar was dan kinderlik bly vir elke present wat hy gekry het, en het gestraal van al die aandag.

Teunet het spesiaaal Saterdag ‘n lemoen vir hom geskil – soos hy ons almal geleer het. Netjies kop en stert afgesny (sonder om deur die vleis te sny) met ‘n SKERP knipmes en dan mooi snytjies in die lengte en versigtig afgeskil. Die wit moet ALLES afgetrek word, en eers dan kan jy hom eet. Magda sou graag vir hom ‘n voorslagriempie wou vashou wat hy met daai einste vlymskerp knipmessie uit sy eie gebreide velletjie sny. Hy het egter altyd gesê Teunet hou die beste vas. Trisa het ons herinner om nie te vergeet om elkeen ‘n aartappel te skil nie, met daai selfde knipmessie het hy al wat ‘n aartappel is kafgedraf… en ELKE keer vir ons gepreek wanneer ons gehelp het, want ons het volgens hom die helfte van die aartappel weggeskil.

My pa was ‘n stoere Boere-oom. Sy grootste trots was sy spannetjie kinders – sewe dogters en einde ten laaste ‘n seun, die appel van sy oog. Hy het gedroom daarvan om tagtig te wees, en sterf net ‘n paar maande daarna ‘n gelukkige man.

Pa se 80e verjaardag – ‘n hoogtepunt in sy lewe en trots in sy baadjie en sy hoed

Johannes Gottlieb Pretorius is gebore op 18 Junie 1925 in Boegoepan, die jongste seun van vyf. Een broertjie (Willie) is as baba dood, en een (Martiens)nas tiener. Die familie vestig hulle later in Elandskraal, toe in Marikana en daarna weer in Boegoepan. Familie was altyd vir hom baie belangrik, en hy en sy broers was baie na aan mekaar. Dis een van die dinge wat hy aan ons nagelaat het: familie is kosbaar…

Ek onthou as kind die vreeslike erns wanneer die drie broers hulle belastingvorms ingevul het by ons huis. Dan moes ons kleintjies maar bontstaan, want belastingvorms was ‘n ernstige besigheid!

Die bejaarde broers, Bertus, Lood en Hansie

Pa was ‘n baie intelligente mens met baie talente. Sy aanleg was syfers, en hy was in ‘n Handelskool.

Na matriek het hy gaan werk in ‘n finansiële rigting, want geld vir studeer was daar nie. Sy ouers is van Boegoepan af na Rooikoppies naby Brits waar hulle ‘n plot gehuur het. Hy en sy pa koop toe ‘n plot by Langberg in die distrik Brits en díé oorreed hom om saam met hom te gaan boer op die lappie grond. Hy, oujongkêrel, saam met sy ouers in die huis. Persoonlik dink ek dit was die grootste fout van sy lewe. Ek dink verseker dat  hy ‘n uitstekende ouditeur of bankbestuurder sou kon wees.  Maar ‘n Man moet boer…  Hy het egter sy beste gegee maar was nie tegnies aangelê nie en nooit regtig ‘n landbouboer nie. ‘n Boer, ja. Afrikaner in murg en been.

Die pot het uiteindelik ‘n deksel gekry – Anne Winnertz, ‘n pragtige jong dame nege jaar jonger as hyself.

Kosbaar om my ouers so saam te sien. So deftig.

Dol verlief

Troudag – 27 April 1954

Pa het baie sterk leierseienskappe gehad, en mense uit die gemeenskap het opgekyk na hom, al was hy ‘n finansieel arm man. Wanneer hy gepraat het, het almal geluister. Wat hy ook al gesê het, was sonder twyfel en met gesag. Vas in opinie, nie vandag so en môre sus nie…  ‘n Rots, vir die familie en vir die gemeenskap.

Mens kon maklik die indruk kry dat hy hardkoppig is nie na jou opinie luister nie, maar hy het tóg. Onder die harde dop was hy ‘n baie sagte man. Vir hom was redeneer, hoe sag ook al, stry. En dis lelik om te stry. Een so ‘n voorbeeld was toe ons so paar jaar terug ons plasie in Barberton gekoop het. Ek het baie opgewonde vir hom gaan vertel van die mooiste, mooiste bokkies op die plaas – rooiduikertjies. Hy het klaar geluister, en toe vir my gesê ek is sommer laf. “Mens kry nie sulke goed soos rooiduikers nie, net gewone duikers en blouduikers.” is ek meegedeel. Ek het maar net stilgebly. Mens stry nie met jou pa nie.

 Na ek weg is het hy my ma opdrag gegee om ‘n boek te gaan soek met foto’s van hierdie rooiduikertjies waarvan ek praat. Aan my is egter nooit weer ‘n woord gerep oor rooiduikertjies nie, veral nie die feit dat ek iets van die veld geweet het waarvan hy nie kennis gedra het nie. Die één keer wat hy kon kom kuier op die plaas, het hy sy stoel staangemaak in die sonnetjie voor die venster waar ek vir hom vertel het ons telkens die rooiduikertjies sien wat kom wildevytjies eet. Ek sou soooo graag wou hê hy moes enetjie sien… en elke keer wanneer ek een van my spesiale bokkies sien, dan dink ek aan hom.

Pa was musikaal aangelê met ‘n pragtige sterk stem en was vir baie, baie jare die voorsanger in die kerk. Voorsangers het mos die noot ingesit in die jare voor die kerke orrels kon bekostig. As kinders het hy ons die toonleer geleer op die ou manier – do, re, me, fa, so, la, ti, do… Nie op ‘n instrument nie, hy het dit gesing en ons agterna. Eers op en dan af. In sy Psalmboek was al die Psalms met die note gemerk volgens do, re, me. As jongman het hy die banjo in ‘n klein orkessie gespeel, maar vir een of ander rede het hy dit weggepak. Tog onthou Annemarie dat hy haar daarop leer speel het, Rik-rak en Anna Panna. Beide het net twee note en hy het dit vir haar as kort en lang strepies geskryf.  Sy ouers het by ons in die huis gebly en my ouma kon pragtig mondfluitjie speel. Na haar dood het ek altyd ‘skelm’ daarop gespeel totdat my ma dit vir my gegee het. Asof mens nou skelm op ‘n musiekinstrument kan speel… Ek is die vyfde kind, en dit het finansieel baie beter gegaan toe ons ‘kleintjies’ kinders was en hy het vir ons ‘n orrel, kitaar en melodika gekoop om ons musiektalente te stimuleer. In ‘n mate dink ek dit was vir homself wat hy graag wou hê, want ons het nooit gevra daarvoor nie.

Ons het maar baie arm groot geword, en ek dink dit was maar finansies wat hom laat afstand doen het van die dinge wat geld gekos het om te doen wat vir hom lekker was. Nooit, ooit het hy gekla of iemand verwyt daaroor nie. Hy het net sy lewe gelewe en vir sy gesin gesorg die beste wat hy kon. In eerlikheid en sonder skuld. Óns was sy rykdom.

1966, met Ouma en Oupa Pretorius se Goue Bruilof. Hierdie foto is vir my baie belangrik, wat dis die eerste foto van my en ek was net oor ‘n jaar.

1 Jan 2000 – ons familie vier die aanbreek van die nuwe millenium saam. Namate elkeen koers gekry het die lewe in, het afstande tussen ons groter geraak en dit het al hoe moeiliker geword om almal gelyk op ‘n foto vas te vang.

Trisa vertel dat hy ook sokker gespeel het toe hulle klein was. Hy was ook deel van ‘n toneelgroep, iets wat ek my nie eintlik kan voorstel nie, want hy was so ‘n ernstige mens sonder fieterjasies, maar hierdie foto bewys wel die waarheid daarvan.

Lid van ‘n plaaslike toneelgeselskap.

My eerste herinnering aan my pa is toe ek so tussen twee en drie was. Hy het rieme gebrei en het altyd die klip net so effentjies opgewen en ons dan bo-op laat sit en dan draai ons lekker rondtomtalie. Wanneer hy die rieme nou regtig opgedraai het moes ons wyd staan sodat ons nie in die klip se pad is wanneer dit afwen nie.  Verder onthou ek eenkeer het ek weggeloop lande toe agter hom aan, en het eers vreeslik raas gekry en toe het ek saam op die trekker terug huistoe gery. Magda is gebore toe ek vier was en ek onthou dat ons Vêr Ouma my ma kom help het met die huis en ek toe alleen saamgery het Swartwater toe om haar huistoe te vat. Sy het melk in ‘n inmaakfles gegooi vir my vir die pad. 

Buiten sy blokkiesraaisels was swepies maak al wat hy gedoen het namate hy oud geword het. Hierdie swepies was gemaak van die velle wat hy nog self gelooi het.

Gedurende die laat sewentiger jare het hy finaal opgehou boer en die landerye begin verhuur. Hy moes gaan werk om te oorleef, skuld maak by die Landbank was nie deel van sy lewenswyse nie. Alhoewel dit vir hom ‘n bitter ding was het hy later besef hoe groot seën dit eintlik was, want toe het hy aangesluit by ‘n mediese fonds. Dít en sy pensioen is my ma se redding vir goeie versorging vandag. Hy het egter begin onttrek by gemeenskapsbetrokkenheid en in ‘n groot mate van LEWE self.

Een van sy laaste blokraaisels. Die potlood het gebewe, maar sy verstand nie.

Toe ek in standerd ses (nou graad agt) was het hy ‘n hartaanval gehad, ‘n ander keerpunt in sy lewe. Ek sê altyd my pa was oud gebore. Dis maar hoe ek hom onthou, want saam met ons kleintjies het hy nie veel tyd spandeer nie. Op ‘n dag tydens my standerd nege jaar wou ek, balhorige tiener, opsluit nie saamgaan na ‘n troue in die omgewing nie. Ek het net gevoel dat ek nie die bruid regtig persoonlik geken het nie, en na ‘n groot rusie met my ma het sy my maar by my pa laat bly. Toe reeds het hy net in sy stoel gesit en blokkiesraaisels invul. My koppigheid was voorbestem as sy redding, want hy het ‘n beroerte gehad daardie middag en ek kon op die plaastelefoon ‘n boodskap uitkry by my ma dat sy dringend moes huistoe kom.

Hierna het hy homself nog meer en meer van die gemeenskap onttrek en sy toevlug tot sy stoel en sy blokkiesraaisels gewend. Die blokkiesraaisels het sy verstand skerp gehou tot met sy dood, so dit het darem ook ‘n goeie doel gedien.  Hy was links maar was as kind gedwing om regs te skryf in die skool. Hy kon toe ewe goed links en regs skryf. Na die beroerte was sy regterkant swak en het hy slegs links geskryf. Die laaste tyd het hy vreeslik gebewe, maar steeds sy blokkiesraaisels sonder die hulp van ‘n woordeboek voltooi. Wat altyd vir my interessant was, is die feit dat sy handskrif nie verskil het van linkerhand na regterhand nie!

Des 1991 – vir my is dit seker een van die mooiste foto’s van Ma en Pa

In Januarie 1995 het hulle die plot verkoop en ‘n meenthuis in Centurion gekoop, met drie van die sussies binne ‘n vyf kilometer radius. My hart was baie seer toe ek nie saam met die res van die familie die laaste totsiens kon doen by die plot nie, ek was in die hospitaal vir ‘n histerektomie. Die sussies vertel dat hy nog voordat alles regtig klaar gelaai was in die kar gaan klim het, en gewag het om te ry. Sonder om sy emosie te wys. Net gewag dat hulle moes klaarkry. Hoe verskriklik sterk moes hy hom nie gehou het nie…

‘n Paar jaar later het dit vir my soos verraad teenoor Pa en Ma gevoel toe ons weggetrek het om op ons eie stukkie grond in die Laeveld te kom woon wat maar weer óns droom was. Hulle was destyds een van die redes waarom ek nie wou emigreer Amerika toe nie, Roelf het ‘n goeie werksaanbod gehad. Vandag is my gesin spyt dat ons gebly het.

Hy het tóg soms in ‘n onbewaakte oomblik ook van erns vergeet en die hare laat hang…

‘n Paar keer het Pa ons groot laat skrik. ‘n Paar keer was hy só siek in die hospitaal dat die dokters gesê het ons moet kom groet. Hy sê hy was bewus van elkeen wat kom groet het en kon onthou wat elkeen gesê het. Hy het versoek  watter dominee sy begrafnisdiens moes lei, wat gelees moet word en wat gesing moes word. Sy plekkie in Krokodilrivier se begraafplaas buite Brits was lank reeds bespreek en betaal. Maar hy het geen plan gehad om te gaan nie, hy het geweet dat dit nie sy tyd was nie het hy ons later gesê, hy was net baie siek. En buitendien, hy beplan nie om in die hospitaal dood te gaan nie. Want hulle Goue Bruilof en sy tagtigste verjaardag moes nog kom… Dit was sy grootste, grootste wens.

Dierbare, sorgsame Ma het hom elke keer by die huis gepamperlang en versorg soos GEEN versorgingsoord ooit sou kon doen nie. Liggaamlik het hy meer as een keer sy lewe te danke gehad aan haar liefdevolle versorging.

Op ‘n keer het hy saam met Magda Rustenburg toe gery. Oppad het hulle verby ons ou omgewing gery en sy woorde “Totsiens ou Langberg, jy is nou tog niks meer van my nie…” was sy laaste groet aan ‘n vergange lewe.

27 April 2004 – Goue Bruilof vir Ma en Pa

80 jaar! My ma het kort voor dit haar 2e breingewas verwyder, daarom die kort stekel hare. Net Heleen kon nie hier wees nie.

Na die Goue Bruilof en sy tagtigste verjaardag het hy oor ander dinge begin praat wanneer ons van sy volgende verjaardag praat. Sommer weggekyk en jou goed laat verstaan jy beweeg nou op verbode terrein. Ek kan nie sê dat hy opgegee het nie, hy het homself nie doelbewus verswak soos baie oumense doen nie, hy was net tevrede dat hy sy lewensdoelwit bereik het. Hy wóú niks meer hê nie, hy wóú nie nog ‘n keer verjaar nie.

Elke keer wanneer ons gaan kuier het, het ek met trane gegroet.

Hy en sy oudste broer Bertus was die laastes wat oorgebly het en hulle het die laaste tyd vir ure net bymekaar sit. Sonder om ‘n woord te sê. Dit was aandoenlik om so hulle bymekaar te sien.  Oom Bertus het eenkeer gesê: “Ek wou graag oud word, maar ek het nou nie bedoel SO oud nie!”

Ouboet Bertus en Kleinboet Hansie. Oom Bertus het die langste geleef, hy het sy ma belowe dat hy na sy broers sal kyk, en hy het.

Nov 2005, laaste hospitalisasie

Toe hy daarna siek geword het, het ons geweet hy gaan nie weer veg nie. Maar hoe verkeerd kan mens tog wees! Hy hét geveg… hy het geveg om huistoe te kon gaan. Hy wóú nie in die hospitaal sterf nie. In die hospitaal het hy een dag afskeid geneem van Ma. Nie in woorde nie, maar met sy siel in sy oë. Daardie dag mag sy nie uit die stoel voor sy bed beweeg het nie. Te swak om te praat het hy net vir haar gekyk. Net vir haar. Sy oë was nie ‘n sekonde op iets of iemand anders nie. Gefokus. Totsiens my geliefde, totsiens my lewensmaat…

Vir oulaas kon ons almal op een dag by hom wees in Nov 2005. Voor: Hannes en Kobie. Middel: Ma, Heleen en Pa. Agter: Trisa, Teunet, Magda, Annemarie en Drinie

Met sy tuiskoms was haar hart telkens seer wanneer hy haar net soos enige ander versorger behandel het, onbetrokke gedoen wat gevra word, toegesluit vir enige emosie.

Pa het ‘n eenvoudige lewe gelei, maar sy afskeid van hierdie wêreld was groots. Ekself was nie daar tot die laaste uur nie, maar het ‘n deel daarvan beleef en sy vertrek is iets waaroor ‘n mens MOET getuig.

Ek was in daardie tyd in die Nasionale ‘Squad’ vir  boogskiet en was Januarie 2005 by die High Performance Centre (HPC) van Tukkies vir ‘n kursus.  Toe die sussies laat weet die einde is naby was ek verskoon by die kursus. So was dit vir my voorbestem dat ek hom kon gaan groet, want Barberton is ver van Pretoria af in geval van nood.

Sy oë het verhelder toe hy my gesien het. “Haai, is jý ook hier?” was sy woorde, maar nooit het hy werklik ‘n aanduiding gegee dat hy weet wie ek is nie. ‘n Paar jaar later het sy ouer broer my met presies dieselfde woorde, met presies dieselfde stemtoon gegroet toe ek hom besoek het, en hy het weens Alzheimers nie die vaagste benul gehad van wie ek was nie. Dit maak nie vir my saak nie, al het Pa my dalk nie geken nie, ek het hóm geken!

Magda het vertel dat hy van die vorige dag al heeltyd gepraat het asof hy iewers heen moes trek. Hy het gevra of sy nie maar kan gaan vra of hy nog één nag hier kan slaap voordat hy vertrek nie. “Natuurlik, Pa. Pa mag bly solank Pa wil.” Maar een nag was genoeg vir hom… en hy het gesê hy gee nie om om te gaan nie, en hy gee ook nie om as hy by iemand moet oorslaap oppad nie, solank hy net nie by die Naude’s hoef oor te bly nie. Dit het hy meer as een keer gesê. “Asseblief, net nie by die Naude’s nie.” Niemand het geweet wíé die Naude’s is waarvan hy gepraat het nie. My ma was ook nie bewus van enige iemand uit sy verlede met daardie van nie.

Toe daar nie uriene in sy kateter uitskei nie, het ons verstand geweet wat dit beteken, maar ons harte het geglo dat ons maar ‘n medikus moes probeer kry, dalk was die kateter net verstop. Die verpleegster wat my ma die laaste paar weke gehelp het was van diens af en hulle eie huisdokter was ‘n paar kilometer weg . Ek en Magda het na die naaste praktyk gery. Dit het erg gereën, in so ‘n mate dat die groot wielietjie-asblikke in die straat afgespoel het. Die kateter was nie verstop nie…

“Waar is my baadjie en my hoed?” wou hy kort-kort weet. “Ek moet netjies wees wanneer ek moet gaan. Bring my kierie ook, ek gaan hom dalk nodig kry.” Ons het sy kosbare dinge gaan haal en so gesit dat hy dit kon sien.  Vir my het hy gevra: “Ek sien dis reënerig buite, dink jy ek moet my sambreel ook vat?” waarop ek gesê het “Ons sal kyk as dit nodig is Pa, ons sal hom solank uithaal.” Dit was vir hom sy lewe lank belangrik om netjies te wees wanneer hy êrens heen moes gaan. Sy baadjie en sy hoed, en later jare het sy kierie by gekom.

Dit was swaar om te groet en weg te ry, en te weet dis nou regtig die laaste keer.  Vroegaand het hy die laaste keer gepraat, vir Annemarie gevra om vir hom ‘n sigaret op te steek, wat hy maar net in sy hand vasgehou het. In die na-nag het hy hard en duidelik “Ja” en weer ‘n keer “ja” gesê, asof hy iemand baie oortuigend geantwoord het.

Vroegmôre was sy asem weg.

Sy deur was oop toe ek daar gekom het. Ongestoord kon elkeen ingaan wat wou, totdat die begrafnisondernemers hom kom haal het. Die agentskap in Pretoria het hom dieselfde dag Brits toe geneem waar sy wens was om heen te gaan. Laatmiddag het my ma die papiere deurgekyk. Sy het wasbleek en bewend haar vinger op hulle papier gedruk. “Naude. Die Avbobman van Pretoria is Naude!”

Sy eie begrafnis het hy fyn beplan. Soos ek netnou gesê het, was die dominie en begraafplaas lank reeds gereël. Hy het vir Magda ‘n lys laat opstel van wat gesing moes word en wie wat moes doen. Vyf sussies en ons boet is elk presies ‘n plek toegedeel waar hulle moes dra aan sy kis. Hierdie een by die kop, hierdie een by die voete. Hierdie een links, hierdie een regs; en ek en Teunet moes my ma ondersteun.

Jy was ons rots…

Pa, ons het nie vir Pa in Pretoria begrawe nie. Pa hoef nie by die Naude’s te gebly het nie. Vir oulaas het ons Pa se wens gevolg met die dra van Pa se kis. Vir oulaas het Pa se woord gegeld.

Ek wou nie na die kerksaal gaan om toebroodjies te gaan eet nie. Ek wou nie. Toe gooi ek ‘n grafie sand op die kis. En toe nog een en nog een en nog een.  Van die mans het hygend op die grawe gesteun, dan gooi ek nog. Want ek was fiks, veral my skouers en my rug was goed ontwikkel van die baie boogskiet. My hele lewe lank het my pa geglo ek is klein. Klein en swak. Later toe ek daaraan dink… om hom toe te gooi – miskien wou ek in my onderbewyssyn ‘n laaste keer bewys dat ek is nie klein en swak is nie?

Pa. Dankie vir die voorbeeld wat Pa gestel het met Pa se lewe. Ons verlang na Pa, maar ons weet dat Pa tevrede gegaan het. Pa se afskeid van hierdie lewe was so mooi, Pa se oorgang was met soveel grasie. En ek weet nou meer as ooit dat daar ‘n  Lewe is ná hierdie lewe, dis nie meer vir my net ‘n abstrakte aanvaarding van my geloof nie.

Totsiens Pa, tot ons mekaar weer sien…

Categories: Familie | Sleutelwoordw: ,, | 5 Kommentaar

‘n Blertsie reënboog op ‘n wintersdag

Die wolke is al die heeldag slierte in die blou-blou lug. Vanmiddag toe ek pomp toe stap om die tydskakelaar te gaan verander vir die week, was daar ‘n blertsie reënboog net vir my. My kamera kon egter nie reg doen aan die ongelooflike gesig nie, maar ek het probeer.

Categories: Plaaslewe | 11 Kommentaar

Vrede

Ps 16:5-11 “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom daar net wat mooi is.”

Categories: Sommer maar net | 1 Kommentaar

My wonde se rofies lê nog vlak

Vandag se brand in Kleinmond en die brand in Hartbeespoort waar drie kindertjies omgekom het, is genoeg om my ou wonde se rofies af te trek. En dit bloei nog, want die rofies lê nog baie vlak, dis vandag maar vier maande na ons chalet ook afgebrand het.

Daardie trauma moes ek op die agtergrond stoot, want ek moes fokus op my kind se troue wat moes plaasvind. Die gevolg is dat dit my op ‘n manier meer vang as die eerste keer, en dit vat langer om daaroor te kom. Dit maak my siek. Fisies siek.

Kleinmond se brand raak my meer, want dis sus Trisa se woonplek, sy ken die mense daar en is betrokke om hulle te help. Haar bloginskrywing en sus Magda se opmerking op Facebook wat dit opsom sê dieselfde ding: “Daai skrik gaan sit vas in jou selle, in jou DNA, dis tog waaruit alles bestaan. Waar anders word geheue gestoor? Dis in jou wese, en as jy dit nie hanteer en verwerk nie, sal dit nooit weggaan nie.”

Ek was tussen twee toesigsessies by die skool toe ek Trisa se Facebook plasing gesien het. Ek het baie vinnig geantwoord: “Trisa vat goed wat hulle VANDAG nodig het. Toiletries, handdoeke seep waslap, LIEFDE iets om te eet. Notaboek en pen. Ek het nie tyd om al die comments te lees nie. Skuus as ek dubbeld se. Slaapgoed en klere. ONDERKLERE. Warm goed. ‘n kussing, mense gee n kombers maar nie n kussing nie. Tandeborsel en tandepasta. Kos klaar voorberei om te eet. MY HART GAAN UIT NA HULLE.” 

Sy het geantwoord: “Kobie elke item wat ek gekoop het was asof ek dit vir iemand koop wat jou gehelp het.” Dankie. Dankie vir jou omgee vir daardie mense.

Die brand daar is ná aan ons hele familie, want my familie gaan SAAM met my en my gesin deur my verwerkingsproses. Hierdie brand vat aan ons almal vandag.

Vir julle wat iets wil doen. Daai mens het LIEFDE nodig. Hulle het VASHOU nodig. Hulle het SAAM HUIL nodig, want vashou en huil was al daai skrik weg. Hulle het NOU ‘n koffiebekertjie en ‘n ketel nodig, en goedjies om ‘n teetjie te brou. Vat vir die tannies wolle en breinaalde. Hou hulle hande besig. Handewerk hou mens se gedagtes besig en dit help mens om om te weet dat daar weer ‘n môre gaan wees. Dink maar self aan iets vir die omies.

Ons chalet lê nog net soos hy gebrand het. Oor twee weke het ek skoolvakansie en dan gaan ek die opruimingswerk begin. Maar weer met my siffie sit en soek na my goue oorbelletjies en nuwe hangertjie wat in my laai was. Dalk kry ek dit en dalk nie, dit maak nie saak nie; want ek weet dit maak heel om te soek. Soos wat mens deur die as werk, so werk jy dit uit jou gestel.

Kom vakansie. Kom.

Categories: Familie, Slakverdriet | 13 Kommentaar

Ek het asseblief julle hulp nodig vandag

Ek stuur nie gemors emails nie, ek broadcast nie soetsappige BBM’s nie en plaas nie daaglikse video’s of fotos op my Facebook nie, maar Ag julle, ek wil tog asseblief vandag ‘n gunsie vra.

As jy op Facebook is, gaan LIKE asseblief my foto. Dis ‘n finalis in ‘n fotokompetisie en jou stem gaan dalk net vir my help in die beoordeling. Klik op die foto, en LIKE die FOTO, nie die posinskrywing nie!

ASSEBLIEF blogvriende. Jy kan ook HIER gaan stem.

Dankie.

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | 6 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.