Monthly Archives: Desember 2017

Kersfees 2017

Kersfees was nog altyd familietyd. Oor die jare het die familie waarmee die dag spandeer is egter verander, soos wat die dinamiek van die familie verander het.

My eerste herinneringe is dat ons die dag saam met my pa se twee broers en ons ouma en oupa spandeer het. Ek kan nie regtig die kos onthou nie, ek was te klein, net dat ons mag koekies geëet het soveel as wat ons wou. Kleinkoekies, ystervarkies, hertzoggies en handtertjies, dis wat ek onthou as versnappering. Poeding was spanspek en dan waatlemoenne wat koud gehou is onder nat handdoeke. Turksvye en druiwe. My pa het gewoonlik die waatlemoensnywerk gedoen en dis dan in lang skywe gesny, met die skyf wat voor die lem uitkraak van rypheid om die hemelse rooi te ontbloot. Ons moes eers elkeen ‘n skyf eet voor die kroon gesny is, en kinders het laaste gekry. Oupa en Ouma eerste. Geen geskenke vir enige iemand nie, net Oupa en Ouma wat by ons gebly het, het by die een gesin ‘n boks vrugte Dainty’s gekry en by die ander gesin ‘n boksie gemengde Bakers koekies.

Later toe Oupa en Ouma oorlede is en my ouer susters getroud is, het ons familie ons eie dag begin vier. Ons oudste twee sussies was met broers getroud en die tradisie is begin van een jaar by ons en volgende jaar by die skoonouers.  Soos wat ons getroud het, het ons ander maar ingeval by die tweejaarsiklus. 

Dit was wonderlike tye. Ons het jukskei gespeel, tafeltennis en pluimbal. Ons is so groot familie, ons kon behoorlik spanne maak vir alles. Die kinders het geleentheid gekry vir alles saam met die grootmense en dan ook nog beurte gemaak om die kaskar teen die afrit af te jaag. Dit het ons goed uitgehonger vir al my liewe Ma se lekker koekies wat vir altyd en altyd simboliek sal wees van Kersfees. Die vrugte was nou uitgebrei na mangoes, vars uit my ma se vrugteboord. Kos was gewoonlik koue vleise en slaaie.

Wanneer ons by Ouma Tilla was, was skaapboud en gebakte aartappels die hoogtepunt. Tiekiedadelpoeding met vla. Lietsjies en mangoes eie aan die Laeveld.

Toe my ouers dorp toe getrek het, was dit die einde van daardie era. Meer van ons was nou getroud met kinders en ons wat swembaddens en groot leefareas gehad het, het begin beurte maak om die familie oor te nooi. Geskenke, tuisgemaakte goedjies hoofsaaklik, is eers uitgedeel nadat ons Kersliedjies en toepaslike Psalms gesing het. Kersbome en Kersvader was nie deel van die groot familievier in nie.

Persoonlike gesinsgeskenke het elkeen tuis gedoen. Ons kinders kon vir Kersvader ‘n briefie skryf. Ek het ander klein geskenke onder hulle kersboom gesit maar Kersvader het in die nag hulle groot geskenke afgelewer. 

Soos wat die jare gestap het, moes die kostafels se pote versterkings kry… Versnapperings was steeds Ouma Anne se gebak, maar winkeltjippies met doopsouse en soutkoekies met mosseltjies het begin bykom.  Terte en poedings al hoe rojaler. Speel al hoe minder weens ‘n gebrek aan ruimte…

Toe ons plaas toe getrek het kon ons nie meer elke keer gaan nie. Die eerste keer het ek seker vir drie dae gehuil daaroor. Ons gesin het ons eie dag begin spandeer en soms kon ons Pretoria toe.

Hierdie jaar is die eerste jaar wat ek nie Hertzoggies gebak het nie. Ek sal volgende week, ons het dit gemis vandag.

Nou het ons al ons eie kleinkinders vir wie ons lekker herinneringe probeer skep. Hulle het hulle briefies geskryf. Vyfjarige Zellie wou hakskoene hê en driejarige Roelof se grootste wens was ‘n helikopter Gisteraand is hulle boompie by ons staangemaak met ‘n glas melk en koekies vir Kersvader. Hakskoene is ‘n relatiewe begrip en Zellie is dood tevrede met haar pienk glitter jellybabies en Roelof met sy polisie helikopter waarvan die propeller kan draai wanneer mens ‘n toutjies trek.

Hulle hoef nie kos te geëet het nie, ek het spesiaal vir hulle Jellie en vla gemaak waarvoor hulle lief is. Hulle het geswem en geswem en weer geswem en op Kersvader se fiets wat hulle moet deel gery en dit was lekker om hulle so gelukkig te sien.

Ons het heerlik geëet en gaan nog ‘n paar dae smul aan dit wat oorgebly het. Want dit is Kersfees en ons mag. En ons het ouma Tilla se gebakte skaapboud, boontjies en patats gehad en koue slaaie en heerlike besssiepoeding. Malvapoeding net omdat Annerine dit wou hê.

My hele dag was net een groot seëning met my kinders in my huis en my Ma met wie ek vroegoggend  kon praat en ek dank God daarvoor.

Plaas is natuurlik nie plaas sonder een of ander dier wat aandag nodig het nie. Al die troeteldiere was heeltyd om ons, net Azlan Gemmerkat nie. Laatmiddag het hy huistoe gekom met ‘n oog wat bygekom is deur ‘n Mosambiekse spoegkobra. Gelukkig kon dr. Marina sy ogies beter behandel as wat ons kon doen.

Ons het ‘n lieflike sonskyn dag gehad en dit was lekker om laatmiddag te stap om boontjies uit ons groentetuin tussen die makadamiaboompies te gaan pluk. Dit bly ‘n seëning om te kan opkyk en God se skepping te sien.

Vir my was dit ‘n swaar dag ten spyte van al die lekker eet en speel. Dis soort van die einde van ‘n era. Weer. Maar swaarder as enige vorige era wat verby is. Môre oor twee weke vlieg Marina Australië toe en ek weet nie of ons volgende jaar as gesin bymekaar sal kan wees nie. Natuurlik sal ons weer, dalk net nie al volgende jaar nie.

Advertisements
Categories: Familie, Omgee, Plaaslewe | 5 Kommentaar

‘n Dag saam met Kobie

Vanoggend het my kleinkinders my kom wakker kielie. ‘Slaap jy nog Ouma? Jy moet opstaan. Ons kom bietjie by jou bly. Jy moet vir ons kom pap maak.’ Dis nou met een wat my voete kielie  en die ander een wat my ooglede ooprek om te kyk of ek wakker is.

Mamma het vir Oupa gaan help krane oopdraai by ons nuwe makadamiaboompies, sy werker is al met verlof en iemand moet na die kleintjies kyk.

Nou ja, toe maak Ouma maar pap en maak solank kleinkoekiedeeg sodat dit kon rus tot later. Krane oopdraai vat darem nie te lank nie, toe kon Ouma werkkamer toe om ‘n sonvanger en lanternpanele te gaan skoonmaak, patina opsit en toe poets met Brasso. (Gaan LIKE my Facebookblad @Kobiescrafts dan kan jy sien wat ek maak)

Ek was net besig om my hande te was toe my dogter se vriendin kom met haar twee kleutertjies om saam te kom koekies bak. Vier klein koekiebakkers is nogal ‘n handvol! Die vreugde op daai gesiggies maak dit meer as die moeite werd. Die kleinste twee seuntjies ( wat kompeteer wie is die besigste en rofste ) was gou verveeld en het buite gaan speel. Ouma het maar naderhand gesê sy sal klaar bak want die mammas moes kort-kort buite toe om te gaan nerwe red. 

Die aakligste van bak is die skoonmaak agterna, maar die vol blikke bly lekker! Teen half drie het ek besef ek het nog nie geëet nie en het toe sommer oond braaibroodjies gemaak toe Oupa ook n draai by die huis maak.

Toe ons die makadamiaboompies geplant het, het ek by drie rye boontjies ingedruk. Dit was ‘n goeie idee, ek oes nou elke tweede dag ‘n goeie pluksel bone. Vandag was plukdag en ek moes maar stap. Die ystervarke het laasnag my waatlemoene, makatane en bone ontdek. Hulle het van die plante stomp afgevreet! Waatlemoene so 20cm lank is halfpad opgevreet en ‘n paar groot makatane het happe weg.

Toe is ek weer werkskamer toe om te gaan opruim en bails op ‘n paar pendants te plak wat ek deur die loop van die week gemaak het.  (@Kobiescrafts onthou…)

Teen daai tyd het die wurms in my maag al geroep vir kos en na aandete het ek besluit genoeg is nou genoeg en op die bank kom lê en muf.

Môre se dag is klaar beplan met huis skoonmaak, was en stryk, tee drink saam met ‘n vriendin en ‘n lekker laang boogskietoefening  (terwyl jy nou LIKE, gaan LIKE asseblief sommer my boogskiet blad @kobiedupreezarcher ook 😎)

Vandag was die langste dag van die jaar en ek het hom benut. Het jy?

Categories: Plaaslewe, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: | Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.