Familie

Uil en kuiken plaasdingerasies

Die du Preez’tjies het ‘n week of so beleef waarin kuikens en uile meer as een maal iemand se dag óf gemaak het, óf iemand se seepborreltjie gebars het.

In ons ou huis se garage het op ‘n stadium Nonnetjiesuile gewoon.  Ek het hulle skril roep egter baie lanklaas gehoor. Meer algemeen is Gevlekte ooruile wat hoe-hooee deur die nag. Die afgelope twee weke al hang hier twee om die huis rond en het ons ook al gewoond geraak aan hulle ander geluid. My hoenders wei minder as tien tree vanwaar ons hulle sien en nog nooit het ‘n kuiken verdwyn nie.

Enige iemand wat al ‘n uil van baie naby gesien het sal kan beaam dat geen foto reg laat geskiet aan daai oë nie… Gevlekte ooruile het die mooiste, mooiste geel oë wat so helder is, dit lyk of dit dwarsdeur jou kan kyk.

Die eerste keer wat ek dit gesien het was toe Marina ‘n jong uil hier kom vrylaat het nadat dit behandel was in ‘n veeartpraktyk waar sy praktiese werk gedoen het.  Ek was verras met hoe gemaklik sy was om ‘n wilde voël met daai vreeslike koue te hanteer! En ook verras hoe ‘n wilde voël so ‘mak’ kan wees… Hy het nie één keer enige teëstand gebied teen enige hantering nie en ook nie met my wat om hom kloek met my kamera nie. Hy het ons net deurgeboor met daai kyk!

Die tweede keer was dit ‘n nog jonger een wat in die garage op die vloer kom skuil het. Dit het nie gelyk of hy al kon vlieg nie, hy het geskarrel. Ons het hom in die bos agter die huis gaan neersit omdat ons bang was die honde kry hom beet. 

Ook hy het geen teenstand gebied nie, so klein bietjie geblaas, maar dit was al. Die volgende dag was hy terug en die honde het hom ontdek. Gelukkig het ek die geblaas  en geblaf gehoor… Ek het die mamma hoor roep en hom toe in Roelf se werkskamer toegemaak vir die dag en die aand het ek die venster oopgelos sodat die mamma vir hom kon kos bring. In die nag het ek weer die mamma hoor roep. Wel, hy kón toe vlieg, want die volgende oggend was hy weg. Vir ‘n hele ruk het ons hulle om die huis gewaar.

As kind het ons altyd hoenders gehad. Hokhoenders.  Een van ons takies was om die eiers uit te haal. Op enige gegewe dag was dit nie ‘n probleem nie, maar wanneer dit gereën het… Nou ja wel, hoenderpoep en reën is nie ‘n kind se speelmaat nie! Ons moes ook die vere uittrek wanneer my ma geslag het. Daardie nathoenderreuk is vasge-ets in die diepste bêreplekke van my brein. Vir daardie redes het ek gesê ek wil nie hoenders op die plaas aanhou. Nooit. 

Ek het toe nou na veertien jaar op die plaas besluit ek gaan tog maar die hoenderding doen. Ek het hulle drie dae in ‘n hok gehad en toe die deur oopgemaak… Die eerste paar weke het hulle saans hok toe gekom, maar toe besluit werfhoenders slaap in bome… so al om die hok en party bo-op die hok, maar nie binne nie. Ons geniet die vars plaaseiers en die kleintjies wat nooit wou eiers eet nie, geniet nou Ouma se eiertjies nadat hulle saam met my in die bos gaan eiers uithaal het en dadelik help klits het om roereiers te maak. Ek bederf my hoenders elke dag met ‘n bakkie mielies al kry hulle genoeg om te eet buite. Die kleintjies geniet dit natuurlik vreeslik om dit te strooi… as ek nie keer nie, gooi hulle ‘n week se rantsoen uit in een dag!

Die probleem met werfhoenders is dat die henne geheime plekkies soek om te lê en soms kry ek nie die nesse nie. Soms kry ek dit reg om hulle skelmpies te agtervolg en soms nie. Dan sien ek maar net een verdwyn en kom eet af en toe en verskyn dan na drie weke met ‘n swetterjoel donsies. So is daar toe nou weer ‘n hen wat weg broei en een dag so amper twee weke terug hoor ek iets bo-op my werkskamer se plafon. Dis oop van die garage se kant af vir pakplek vir Roelf. Sowaar toe ek omstap garage toe hoor ek ‘n gepiep! 

‘n Hen met pas uitgebroeide kuikens is ‘n tierwyfie soos min! Snawels en pote is uitstekende wapens teen kuikendiewe… Tussen haar en fyntrap op die balke was dit ‘n taak en ‘n half. Gelukkig het Annerine kom help met ‘n kombers om oor haar en die kuikens te gooi en ek het op die leer gestaan om die mandjie met kuikens aan te vat.  Veertien bondeltjies dons…

Drie weke tevore het ‘n ander hen twaalf kuikens gehad. Dit het nou my kuiken totaal gebring op ses en twintig, ‘n pragtige gesig om die spulletjie saam te sien skrop.

Skoolvakansies beteken vir my tyd om aan my handwerk te spandeer en ek het lekker glas gesmelt. Onder andere het ek ‘n paar uiltjies gemaak.

In my badkamer hang ‘n loodglasuiltjie van ‘n vorige vakansie se werk en in die lapa ‘n pottery uil met ‘n stukkende tak van meer as twintig jaar terug.

Vroeër hierdie week het iemand weer vir Marina ‘n jong Gevlekte ooruil gebring met ‘n beseerde vlerk. Sy sê as mens hulle op hul rug laat lê is hulle so mak soos ‘n hoender… Verseker het sy nog nie ‘n hoender gevang nie… Ek het, en dit was wild! 

Sy het x-strale geneem en gevind die radius en ulna is nie net gebreek, maar ook verplaas. 

Dis nie iets wat sommer self mooi sal aangroei nie, ‘n operasie met tydelike sjirurgiese penne is al wat sy redding sou wees. Sy werk tans vir die staat en daar is nie geld vir sulke dinge nie. Sy het vir die penne uit haar eie sak betaal en ‘n kollega wat spesialiseer in voëls het haar geleer om die prosedure te doen. 

Sy het voor die prosedure gevra of hy in my hoenderhok kan kom aansterk aangesien my hoenders nou buite slaap, maar hy sterk nou aan by ‘n gespesialiseerde uilrehabilitasie fasiliteit totdat hulle weer die penne verwyder. Ook maar goed want ek het nou weer my hok nodig…

Henne met kuikens slaap op die grond en nie in die bome soos ongebonde geveerdes nie. Die dag voor eergister het ons ontdek mammahen van die kleintjies en ‘n nege van die groot kuikens het in die nag verdwyn, sonder dat die honde vir ‘n dierasie geblaf het. Ek kon hulle nie gevang kry nie en hulle moes ‘n nag alleen trotseer. Groot probleem… die volgende oggend naa die eerste wegraap is die kuikens nóg minder, met net die drie grotes en vier van die kleintjies oor. Groot skade!

Ons kry nie vere nie, ook nie bloed of derms nie. Niks. 

Al wat ons kon kry gister is twee uitgevrete uilkuikens bo-op die watertenk… 

Of hulle ouers die kuikenwegrapers is weet ek nie, want die ander hoenders slaap in die boom reg langs die boom, sonder angstige kekkels en kraaie… En die kuikens wei daar ongestoord. Dit was ‘n proses om hulle te vang. Hulle is nou so mensverskriklik toe ek gaan kos gee hol hulle in die diepste donker hoekie in…

Hoe-hooee… my kinders moet eet…

Kekkelekê… is my kinders dan die kos?

So is die ou lewe nè… 

Advertisements
Categories: Familie, Omgee, Plaaslewe, Sommer maar net | 2 Kommentaar

Hoekstene

Op Vrydag 21 April 2017 is oom Jan uit my kinderjare ter ruste gelê. Begrawe. Dood. Hartseer. Trane. Onthou. Soveel emosies, soveel gedagtes wat deur my kop maal oor hierdie verlies. Dit is nie net die persoon nie, maar dis die verlies van die laaste boetie van ‘n familie wat gehelp het om my te vorm in die mens wat ek vandag is, wat my trane laat stroom.

Binne loopafstand van ons het ‘n gesin gewoon – Ou oom Faan, tant Heilie, ooms Wies, Jan en Chris. Hulle broers Bert, Giel en Faan het op omliggende plase in die omgewing gewoon. Wat uniek was, is die feit dat slegs oom Bert en Giel getroud was in my kleindogtertjie-tyd. Oom Faan het saam met ou oom Faan se suster Kleintan gewoon om haar, oujongnooi, op te pas.

Hierdie mense was eenvoudige, doodgewone Boeremense. Uiters konserwatief. Hardwerkend. Eerlik. Godvresend. Bemind. Gelief. Elkeen is op sy eie manier in my gedagtes vasgeëts, prentjies verewig in die neurons van my brein.

Van ou oom Faan onthou ek maar min, net sy ore. Ek kon my verkyk aan die langste ore wat ek nog ooit aan ‘n mens gesien het, met oumens oorhare wat baldadig oral was. Of hierdie beeld die werklikheid was weet ek nie, dis wat ek kan herroep uit lankal se gedagtes.

Nie een van die plase rondom ons het elektriese krag gehad nie. Almal van ons het gefunksioneer met koolstowe, parafienlampe, kerse en natuurlik kleinhuisies en enamel kamerpotte vir die nag.

Die reuk van hulle huis is ingeprent as koffie, opregte boeretroos wat self gemaal is. Tant Heilie het vandat ek kan onthou, tot met haar dood, net gesit. Haar plekkie was langs haar koolstoof, waarop die pot moerkoffie altyd geprut het, en altyd ‘n vlieëplakkie in die hand. Porseleinkoppies is dalk uitgehaal vir dominee met huisbesoek, maar enige iemand anders het ‘n blikbeker gekry. Kinders mag ook koffie gekry het, en ek onthou die vuurwarm blikbeker met gifsterk koffie, gewoonlik sonder melk en meestal ook sonder suiker. En ons het beurte gemaak om die koppie te gebruik.

Die tante het nie gesit van luigeid nie. Sy het ‘n been gehad… Wat haar been makeer het, weet ek nie, ek vermoed dit moes iets soos sellulitis sere gewees het, maar wat ook al dit was, dit was pynlik. Haar beplooide gesiggie het min gelag, ek het baie trane gesien wat sommer net geloop het, veral wanneer sy ‘n nuwe lappie om die been gedraai het, en ons mag nooit gekyk het nie. Sy het erg kifose gehad en het net lang swart rokke gedra en elke dag sykouse wat sy in rolletjies kon afrol sodat die lappie vervang kon word. Haar lang, rêrig baie lang, dun grys haartjies het sy daar voor die stoof gesit en droogmaak wanneer sy dit gewas het. Wanneer dit droog was het sy dit stadig uitgekam, gevleg en dan in ‘n bollatjie gemaak. So… stel jou nou voor hierdie gryshaar boggelrug tantetjie in swart, wat wanneer sy wel gelag het, ‘n stel slegte tande ontbloot het. Dis die prentjie wat in ons kinderboeke voorgehou is as ‘n heks… maar sy was nie, sy was tant Heilie.

Van kleintyd af het ons kinders maar tydig en ontydig daar gaan draai, saam of sommer alleen. En elkeen van ons het ‘n ander ervaring beleef. Van die sussies is al deur die ooms geleer bestuur toe hulle nog in die laerskool was. Ek het dit nooit eers geweet nie, ek het dit eers gehoor by grootmens nabetragtings van ons kinderjare. Nie een van die ooms het dit opgehaal wanneer ek daar was nie, en nie een het aangebied om my te leer nie. Wat die rede is weet ek nie en ek breek ook nie my kop daaroor nie. Miskien was my hoenderpoepgrootte dalk die bepalende faktor, of dalk was hulle bang ek klik, want ek het nogal knoppies agter my vlerkies gehad waar die engelvlerkies wou bult. Die sussies is tot toegelaat om die pad Palmietfontein, die plaas waar hulle beeste was, toe te ry met die ooms se Datsun bakkie.

Selfs as tiener het ek nog daar gaan draai. Op ‘n dag het tant Heilie met trane vir my vertel hoe lief sy vir blomme is. En dat sy nooit meer blomme in die huis het nie, want tant Bettie van oom Bert wat altyd vir haar blomme gebring het, kom amper nooit meer daar nie. Haar verlange na ietsie moois was voelbaar en ek het gesluk aan my eie trane. Toe vertel sy my dat daar blomme in die tuin is, ek moet dalk net gaan kyk.  Ek kon my ore nie glo nie. Blomme in daardie dorre stukkie tuin? Ewe ongelowig stap ek toe uit na waar sy beduie en sowaar… Teen ‘n draad naby die dam het ‘n rankrosie baldadig pienk gebloos en ‘n paar sukkelende rose het verkramp ‘n blommetjie gestoot. Al is rankrosies nie plukblomme nie, het ek dit tog gepluk en in ‘n vasie gaan sit. Ek wonder  of hulle tot die aand gehou het, maar dit was haar eie eie blomme en het haar gelukkig gemaak. As ek kon teruggaan in tyd sou ek vandag vir haar die grootste bos rose vat wat ek kan bekostig.

Van die boeties het net boetie Bert soos hy genoem is, kinders gehad. Hulle was baie ouer as ek en ons het hulle maar net gesien wanneer daar ‘n verjaardag was en ons en die boeties dit gevier het. Daar is net een gebeurtenis wat vasgehaak het in my menswees. Dis nie onthou nie, dis vashaak. Ek was seker so vyf jaar oud en sussie Teunet het geval en gesit en huil. Toe storm een van oom Bert se dogters op my af en vra hoekom troos ek nie my sussie nie. Ek was lam geskrik want ek het nie geweet wat beteken die woord troos nie… Sy moes seker my verwarde gesiggie gesien het en  verduidelik toe as iemand huil, moet mens sê jy is jammer dat hulle hartseer is en hulle ‘n drukkie gee. Ek was ontsteld dat sy dink ek gee nie om nie. Natuurlik het ek vir my sussie omgegee… maar in ons huis het mens klaar gehuil en dan opgestaan en aangegaan. Nie drukkies en jammer en sulke goed nie. Jy tjank klaar en dan staan jy op.

Oom Giel was getroud met tant Annetjie. Sy was net ‘n ou gesie… sy was deurskynend bleek, maer en vir my ‘n patetiese figuurtjie. Sy is toe vroeg dood aan haar hart en oom Giel het weer getrou met ‘n tannie Sarie wat ek nooit geken het nie. Hy is kinderloos en die enigste wat nog leef. Op agt en tagtig rook hy glo baie, is gesond en helder van gees.

Oom Wies. Liewe, liewe oom Wies. Hoe pyn my hart nou oor verlang na Oom. Plooie het diep spore oor sy gesig gekerf. Hy was verskriklik skaam en inkennig, veral wanneer daar enige vroumense in die geselskap was. Dit was hy wat altyd vir ons koffie gegee het. Wanneer daar melk was, het hy die bekertjie lou melk uit die spens gaan haal, en ek hoor die rinkel van die kraletjiedoilie teen die metaal melkbeker soos hy onbeholpe om die hoek van die tafel kom.

Al het oom Faan elders in die omgewing gebly om die oujongnooi tante op te pas, was hy byna elke dag maar by die ander boeties. Van almal was hy seker die skuuste vir mense, veral vroumense. Iemand anders uit ons kinderjare vertel dat hulle elke dag by oom Faan en Kleintan gaan kuier het en lekker tuisgemaakte brood en varkvet gaan eet het. Later toe die tante dood is, het oom Faan ook by die ander boeties kom bly.

Die dag toe ons hoor oom Jan het ‘n meisie, het ons omtrent omgeval. Die vier boeties sonder vrou was vir ons kinders ‘n aardigheid. Oom Jan se sagte bokkie oë omraam met diep lagplooitjies, sy skaam innemende glimlag sal altyd by my bly. En so het tannie Petro ook deel van ons lewe geword, iewers toe ek nog in die laerskool was.

Hulle het hul eie plaas gekoop maar het deel van ons lewe gebly. My ma en tannie Petro het goeie vriendinne geword en baie dinge saam gedoen. Tannie Petro het ons lekker bederf en dit was vir ons omtrent ‘n opgewondenheid die kere wat ons by hulle gaan oorslaap het. Haar spaarkamer was ‘n sagte lilapers, ‘n kleur ongehoord in ons wêreldjie. Kleur het nie ‘n groot rol in ons huis gespeel nie, beddegoed was enige sindelike kleur en die mure altyd wit gekalk. In my standerd vyf jaar het ons skoolhoof wat ook ons onderwyser was, siek geword. Tannie Petro het ons klassie met veertien kindertjies kom oorneem en ek was baie jaloers om mý tannie met die ander kinders te deel. Dit was sy wat my klasmaniere geleer het… om net te antwoord wanneer ek my hand opsteek. Dit was swaar, maar dankie Tannie, jy het dit reg gekry!

Die jongste broer Chris was ook maar stil. Lank na ek self getroud was het hy ‘n meisie ontmoet en is getroud. Ek was só bly dat hy ‘n maat gekry het, elke mens verdien ‘n goeie maat. Toe ek later hoor dat hulle geskei is, was ek baie hartseer vir hom. Dit moes ‘n uiters slegte situasie wees wat hom genoop het om te skei.  Trou was ‘n gróót stap in daardie konserwatiewe familie, skei iets ongehoord. Hy is oorlede na ‘n kankerlyding ‘n paar jaar gelede.

Met elke groot gebeurtenis in ons familie het oom Jan en tannie Petro moeite gedoen om dit saam met ons te vier. Nou is net tannie Petro oor, die laaste deel van die hoekstene van my kinderjare.

As dit enigsins moontlik sou wees om terug te gaan in tyd, sal ek baie graag net één keer nog by hierdie familie wou gaan kuier. Vir tant Heilie sou ek ‘n groot bos blomme vat. Uit my ma se spens sou ek vir die ooms hertzoggies en handtertjies vat. Ons sou lag en moerkoffie uit blikbekers drink wat ons hande brand. Miskien sou ons beplan om Palmietfontein toe te gaan. Dalk sou hulle sê dat my pa ‘n rooibok daar mag skiet. Dalk sal tannie Petro ons nooi om in haar pers kamer te kom slaap. Dalk sou dit lekker wees. Maar as is verbrande hout en daardie tyd is nou net behoue in onthou.

As onthou ‘n plaasdam is, het ek nou lekker in die modder gespeel. Ek wil nie hierdie moddervoetspore van my gaan was nie. Ek wil my voete net effentjies afstof en dan my skoene bo-oor aantrek sodat ek vir altyd kan onthou waar my wortels lê en wie my menswees help vorm het.

image My Pa en Ma voor. Oom Jan, tannie Petro en oom Chris agter. Geleentheid: 2005 Pa 80e verjaardag

********************************************************************

Bygevoeg na die tyd

Die ding van plaasdamme is as jy eers in die modder begin baljaar, dan spring daar platannas uit…

Dit wat ek geskryf het hierbo is maar enkele herinneringe. My susters en broer het elkeen iets anders ervaar, waarvan ek sommiges hierby voeg.

Ek het byvoorbeeld skoon vergeet dat daar nog ‘n boetie was. Oom Frans. Hy en oom Bert was eie broers en het ‘n ander ma gehad. Ek kan nie onthou dat ek hom ooit gesien het nie. Hulle het in Pretoria gewoon. Sy seun Frans het op ‘n stadium by die ooms gebly en daarna baie kom kuier. Ek was ‘n klein dogtertjie en die ouer sussies tieners. Sus Annemarie sê sy was verlief op Frans, maar hy het net oë gehad vir Trisa…

Trisa sê: ”Pragtige herinneringe wat ook deel was van my kinderjare, hoewel myne bietjie anders is. Ek onthou hoe hulle my geterg het toe ek klein was, en my Cheeky genoem het. Oom Chris het ook my vlegsels se linte (onthou Ma het altyd mooi linte ingebind) aan die lemoenboom vasgemaak. Ek was seker maar vier of so, want toe ek op vyf skool toe is, was my hare kort en nooit weer laat groei nie.

Ek onthou ook hoe hulle teen skemertyd omgestap het en by ons kom tee drink het. En by ons het hulle soos al die gaste, of kuiermense soos ons dit geken het, tee gekry. Die skinkbord moes behoorlik gedek wees, met al die lepeltjies in dieselfde rigting.

Koringstrooptyd het ek en Mara vir hulle pannekoek gebak. In daardie kombuisie. (Ek het by ons huis gaan bakpoeier haal)

En dan Frans se kuiers…”

In die Franstyd was daar ook nog ‘n Taljaardseun wat saam met Frans daar gebly het. Daar was twee perde, Nugget en Suurpap. Ek onthou net vir Suurpap, ‘n grys skimmel, vir my ‘n lelike perd. Trisa sê sy het eenkeer in die kanaalpad afgejaag met Nugget en my Ouma hoor skree van skrik oor die affêre. Kan my net indink… my ouma het nie juis gehou van meisies wat buite speel nie… Ek kan onthou hoe ek altyd aan die groot sussies gekarring het om ook te ry maar net een keer toegelaat is.

Trisa se bestuurslesse het blykbaar nie so goed verloop nie. Haar bene kon nog nie bykom nie en na een les het oom Chris gesê sy moet eers gaan pap eet voor sy weer kom. Annemarie en Heleen het help lande ploeg. Annemarie sê sy het eenkeer met die ooms se ou bakkie in die kanaal ingery en gelukkig kon Heleen haar met die trekker uitsleep. Ek wonder of my pa en ma ooit maar ooit gehoor het van hierdie dinge…

Net soos met bestuurslesse wat ek nie gekry het nie, het ek ook nooit die voorreg gehad om saam te ry na die groentemark in Pretoria nie. Annemarie en Heleen het baie saam met oom Chris gery, en hy het hulle dan bederf met hamburgers. ‘n Bederf ook vir hom, dit was iets wat nie deel was van die kos op enige van ons tafels nie.

Annemarie onthou van ‘n keer toe my pa nie by die huis was nie en daar ‘n vreeslike groot slang onder my ouma se watertenk was. Hulle gaan roep toe vir oom Chris en hy kom skiet die slang… met ‘n haelpatroontjie… Ek was seker te klein om dit te onthou, maar ek kan my pa se gesig voorstel toe hy by die huis kom en die water spuit orals uit…

Magda en Hannes was baie saam met oom Wies Palmietfontein toe. Ook iets waarop ek uitgemis het… Dis waar kinders, bestuur en openbare paaie in die prentjie kom… Hulle onthou gekookte eiers, broodjies en koue swart koffie by die dam, party keer ‘n vleisie op die vuur. En gekoopte koekies by Greenstores vir padkos… Hoe verstote voel ek nie nou nie..

Al het die ooms nie kinders gehad nie, het hulle vir ons gehad. Ons was maar elke dag omtrent daar. Saam of elkeen op sy eie.

En nou verlang ek net nog meer na hulle…

Categories: Familie, Lankal terug, Omgee, Slakgedagtes | 10 Kommentaar

Moedersdag is nie een-dimensioneel nie…

My ma het twee weke ekstra met my geloop omdat die dokter gesê het ek is te klein om gebore te word. Uiteindelik was ek datem vyf pond ietsie… en is nou nog maar effentjies. Dankie dat Ma daardie ekstra ongemak verduur het om my ‘n beter kans in die lewe te gee, elkeen wat al ‘n kind gedra het weet daardie laaste maand is nege maande lank… Ek het darem nie moeilik grootgemaak nie, ek was stil en soet en bitter min siek… agtergrond van die gesin se skildery.

Ons is almal dankbaar vir die genade dat ons die dag op een of ander manier met Ma kan deel. Dankie vir alles Ma.

image

Blomme. Ek sal ALTYD vir Ma assosieer met blomme

Moedersdag is egter onvolledig as ek nie ook erkenning gee aan die ander moeders direk in my lewe nie.

Eerstens is daar Ouma Tilla. Dankie dat Ma my man so mooi grootgemaak het, hy is ‘n wonderlike man vir my, pa vir sy kinders en oupa vir ons kleintjies. Dankie vir alles wat Ma vir ons gedoen het. Ons verlang na Ma. Ma se lekker lag. Ma se lekker kos en koekies. Niemand kan ‘n skaapboud gaarmaak soos Ma nie, niemand nie. Daarom maak ek vandag ‘n skaapboud en lekker groente, sodat ons ook Ma se herinnering vars kan hou.

image

80 jaar oud!

image

Die foto is uit fokus, maar verteenwoordig Ma se avontuurlustigheid... Nooit te oud vir iets nuuts nie!

Tweedens is daar my eie kind wat ook al ‘n Mamma is. Jy doen ook ‘n goeie job. Jy is ‘n pragtige mamma vir onse Zellie en Roelfie en hulle is vir ons ‘n groot seëning. Lief jou!

image

Roelof se doop 'n paar maande gelede

Gelukkige moedersdag ook vir elke vrou wat ander mense se kinders grootmaak, wat mamma is vir ‘n kat, hond of voëltjie. Ook elke pappa wat alleen is. Liefde is liefde, van wie of vir wat dit ook al is.

Categories: Familie, My klein slakkies, Omgee | Sleutelwoordw: , | 2 Kommentaar

Ma se spesiale verjaardag

Die eerste dag van Julie 2014 was ‘n baie spesiale dag vir ons familie. Ons liefste Ma Anne het haar tagtigste verjaardag gevier en ons is baie bevoorreg dat ons dit met haar kon deel.

image

Ma met haar agt kinders

Ek dink byna elke mens dink sy of haar ma is spesiaal, maar mý ma is spesiaalste…

Ma se storie begin op 01 Julie 1934, die tweede dogtertjie gebore vir Hansie en Driena Winnertz. Die oudste dogter, Marie, of Ousie, is groot gemaak deur my oumagrootjie en Ma het dus ook ‘n groot rol gespeel  in die huis vir die ses ander wat gevolg het. Hulle het in baie swaar tye groot geword. Geld was skaars, armoede en swaarkry oorvloedig. Met ‘n Duitse van was daar baie vooroordeel na die oorlog, ongeag dat Oupa in Suid-Afrika gebore is en so Afrikaans was as wat kon. Oupa en Ouma het in Botswana gewoon, die kinders het skool gegaan in Potgietersrus. Kan jy jou índink om jou Graad Een kindjie by ‘n koshuis af te laai en dan net met Julie en Desember vakansies te sien? Dís die tye waarin sy moes leer oorleef, waarin sy moes leer om emosioneel sterk te word.

Ma is ‘n sterk vrou. Nie net geestelik nie, maar ook fisies. Oupa moes ‘n hand hê op die plaas om hom te help werk, en Ma was daardie hand in vakansietye, die seun wat nog nie gekom het nie. Tannie Ousie was te fyn vir hierdie soort van werk. Net nou die dag vertel sy hoe kwaad hy kon word as sy die verkeerde koei ingebring het vir melk, en dan ingelê het met die spantou. Vir haar het almal dieselfde gelyk, hy weer het elke koei op haar naam geken. Oupa was ‘n beneukte man, maar goed en lief vir sy familie. In die huis het Ma weer vir Ouma gehelp. Vakansietye was gevolglik nie daar vir speel en leeglê nie, maar vir werk.

image

Ma, Oupa en 'n werker oppad veld-in vir werk.

Ma het uitgeblink op akademiese en sportgebied. Haar rapport van standerd agt het die volgende inskrywing bevat: “Moet asseblief nie vir Anna uit die skool haal nie, sy is só talentvol”. Dis vir my hartseer verby, maar die realiteit van haar lewe was dat sy skool moes verlaat sodat die jonger kinders ook basiese skoling kon ondergaan, weggestuur om by ‘n tannie te gaan loseer sodat sy kon gaan werk. Die salaris wat sy gekry het is net so oorbetaal aan haar ouers. Onbaatsugtig vir altyd.

Ma en Pa het mekaar ontmoet op haar oom se troue en was dadelik verlief. So het ‘n nuwe fase van haar lewe begin op een en twintig jarige ouderdom toe hulle getroud is. Die jaar daarna is ons Ousus gebore en van toe af was daar die getrippel van nog sewe ander kinders in die huis.

image

Goue Bruilof, 'n seëning vir ons almal

Lewe was nog steeds moeilik as getroude vrou. Die ouer kinders het heeltemal sonder elektriese krag groot geword, sonder die gerief van lopende water in die huis en ‘n spoel toilet. Ek was in die hoërskool toe ons eers daardie geriewe gekry het. Ma het sonder kerm en kla al ons klere self gemaak, al ons truie gebrei, al ons brood gebak en koekies en beskuit by dosyne. Ons het ‘ n kamerspens gehad, met rye en rye vol tuisgemaakte konfyte en ingelegde vrugte.

Ons het nie toebroodjies skool toe gekry nie, ons is met ‘n behoorlike ontbyt uit die huis gestuur wat dit onnodig gemaak het. Smiddae het ‘n heerlike middagete gewag en saans was daar kookkos op die spyskaart. Die lekkerste middagete vir my was die nat beskuitbolletjies met ‘n frikkadel verrassing in die binnekant. Waar Ma tyd gekry het vir alles, weet ek so wragtig nie, want Ma het nog self gewas en gestryk ook. Daar was maar kort tydjies ‘n bediende terwyl ek in die huis was. Eers as vrou in my eie huis het ek besef hoe erg Ma ons bederf het, want Ma wou hê ons moet die sorgvrye kinderjare hê was sy nie gehad het nie. Dankie daarvoor Ma, Ma is ‘n besondere vrou en as Spreuke in ons tyd geskryf was, sou daar ‘n ekstra hoofstuk wees met Ma se deugde.

Later jare is die kleinkinders net so bederf. Sommer net ‘n klein voorbeeld is Marianne en Annerine wat pouses by die muur van Ma se kompleks geroep het… en dan het Ouma sakkies koekies of ‘n kosblikkie met lekkernye oor die muur gegooi, kompleet met ‘n vurk of lepel en ‘n servet sodat die boeke nie moet vuilsmeer nie. Voordelig as jou skool net langs Ouma se kompleks is, né! Van die ander kindersnwat van marmelade hou se sitrus stukkies was nie net opgekerf nie, nee…. dit was vissies en blommetjies en vol van liefde. Elke kind en kleinkind is altyd op die hande gedra en spesiaal laat voel. Soos Johan met die Goue Bruilof gesê het… daar is nie baie Oumas was saam met haar kleinseuns babers in die dam met haar hande gevang het nie…

image

Sewe dogters en uiteindelik 'n seuntjie! Ma het ons rokke alles self gemaak, van klein tot groot. Geld vir patrone was daar nie, en elke skepping is uit haar kop gesny. Hierdie is vir my een van die spesiaalste foto's van ons kinders, al is Hannes se gesiggie verdoesel in sy doopgewaad.

Dan was Ma altyd betrokke by die skool, kerk en gemeenskap. Ek sal verseker nooit daardie emmers en emmers vol pannekoek deeg vergeet wat in ons huis aangemaak is vir die pannekoek stalletjie nie. My arme kinders se ma was so oorweldig dat sy geweier het om enigsins by skoolaktiwiteite betrokke te raak…

Ons oupa en ouma Pretorius was van dag een af deel van die gesin, en Ma het beide met liefde versorg tot die dag van hulle dood. Na slegs ‘n paar jaar sonder oumense in die huis, het oupa en ouma Winnertz by ons kom bly. Weereens was dit Ma wat versorg het. Moenie dink Ma het ophou werk en dien toe ons almal uit die huis uit is nie, o nee. Toe Ma ‘afgetree’ het was daar betrokkenheid by die kompleks se beheerliggaam, by die aftree oord waar Ma nou is, is daar kermisreëlings en nugter weet wat nog.

Met Ma se verjaardag was my gemoed so vol, ek kon nie sê wat ek graag wou nie, ek het gesê ek sal vir Ma ietsie skryf… Met ons familie se geleenthede mag elkeen wat wil iets sê. Party het voorberei, party het sommer net spontaan opgestaan en vertel wat Ma vir hulle beteken het, en van die wat nie daar kon wees nie het gebel of ‘n briefie geskryf wat voorgelees is.

Dankie Ma vir so baie dinge wat ons by Ma kon leer. Daar is eintlik te veel om op te noem, maar hier is ‘n paar lewenslesse wat ek vir altyd sal onthou.

Dankie dat Ma ons geleer het dat:

* Elke donker wolk het ‘n goue randjie. Sekerlik een van die belangrikste dinge wat ons by Ma geleer het, is dat daar ALTYD iets is om oor dankbaar te wees, maak nie saak hóé erg ‘n situasie lyk nie. Toe daar donkerte en trauma was in my lewe, was dit een van die dingetjies waaraan ek geklou het om ‘n liggie te skyn om my pad weer te vind.

* Elke persoon het die reg op privaatheid. Met so baie mense in ‘n huis is privaatheid ‘n luukse. Elkeen van ons is geleer dat jy die ander se privaatheid respekteer, en dit was nooit nodig om enige iemand daaroor te straf nie. Van straf gepraat – ons het bitter min pakslae gekry. Ek kan dit amper op my een hand tel. Ons het ‘n traanvormige leer plak gehad waarmee jy in die badkamer gaan wag het. Die vernedering om self die plak van die rak te haal was vir my baie erger as die pakslae. Dit het beteken dat ons nooit ooit in woede gedissiplineer is nie. Iets wat vir my aansluit by privaatheid is die voorbeeld wat Ma en Pa gestel het om nooit voor ons kinders woorde te hê nie, en dis ook die voorbeeld wat ek toepas op my eie gesin.

* Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Iemand het my eenkeer gevra of ek dan nooit rus nie, toe sê ek rus beteken mens ruil een aktiwiteit vir ‘n ander een. Ek is egter nie naastenby so intens besig soos wat Ma was en is nie. Vandat ek kan onthou was Ma altyd besig. Bedags was daar die groente-, vrugte- en blomtuin om te versorg, kos wat gemaak is, blikke en blikke vol koekies en beskuit, klere om almal se basse toe te maak. Saans het Ma voor die radio, en later die televisie, gesit en brei. Daar was nie winkeltruie in ons huis nie. Geen oomblik van ‘n dag is ooit vermors nie. Die enigste ledige tyd was Sondagmiddae wanneer Ma ‘n middagslapie op die bank gevat het. Askies vir die tye wat ek Ma wakker gemaak het om iets te vra, ek besef noudat ek groot is eers watter inbreuk ek gemaak het op Ma se kosbare rustydjie. Vir Ma se tagtigste verjaardagete by die aftree oord het Ma self gebak en gewys Ma kan nog. Die rumatoïede artritis weerhou Ma nou van brei, hekel en verf, nou doen Ma maar blokraaisels en Sudoku om daai brein flink te hou.

 * Ons is in staat tot alles deur Hom wat ons krag gee. Dit is my lewens motto, en ek het die praktyk daarvan gesien in Ma se lewe. Ma het ons altyd aangemoedig om te probeer, om nie tou op te gee nie, dat alles moontlik is as jy bereid is om te werk daarvoor. Ma wat so lief is vir blomme, se huis het gestaan in arm grond en klippe. Maar Ma het ‘n kruiwa gevat en self klip terrasse gebou met leivore en die pragtigste blomme geplant. Elke keer wanneer ek rose ruik, kry ek trane in my oë van onthou. Elke keer wanneer ek Namakwalandse madeliefies sien, dan sien ek die plate geel en oranje in Ma se beddings en ruik ek die soet reuk van die saadjies wat ek ge-oes het vir Ma teen 5c vir ‘n kondensmelkblikkie vol saad.

image

Dis die prentjie van Ma wat ek vir altyd en altyd sal onthou... glimlag om die mond en blomme in die hand.

 * Al is ‘n mens arm, jy nie hoef armsalig te wees nie. Ma en Pa was gerekende mense in ons gemeenskap. Mense het opgesien na Ma en Pa integriteit, die betrokkenheid in ons gemeenskap was ‘n voorbeeld vir baie. Ons was altyd skoon en netjies, en trots om die Pretorius’ies van Langberg te wees. Al was ons finansieel arm, was daar altyd iets oor om vir iemand te gee wat minder het. Noudat ek groot is besef ek dat ons arm was, maar toe ek ‘n kind was het ek dit nie geweet nie. Ons het liefde en sekerheid in ons lewe gehad, ‘n rykdom wat geen geld in die wêreld kan koop nie.

 * Geleenthede wat verby is, is verby. Gaan soek iets nuuts om jouself in te verdiep. Lewe jou lewe en maak die beste daarvan. Ek het nog nooit, ooit vir Ma hoor kla dat Ma nie geleentheid gehad het om universiteit toe te gaan nie. Ma sou verseker gemaklik enige graadkursus met lof kon slaag, verseker tot die hoogste vlak in sport kon gaan as die geleentheid daar was. Ma het Ma uitgeleef om ander te dien. Ma se gesin het altyd maar altyd eerste gekom. Dan het Ma nog Noodhulp klasse aangebied by die skool sonder enige vergoeding, Saterdae omgesit langs die sportveld om diens te doen. Dis maar een voorbeeld van baie dinge waarby Ma betrokke was. Nou nog is Ma se naam eintlik Martha… lees vir die blinde oom Bybel, bied ondersteuning en liefde vir die mense om Ma.

* Al is jy siek, jy is nie sieklik nie. Toe Teunet op agtjarige ouderdom met diabetes gediagnoseer is, is sy en ons geleer dat mens nooit siekte as verskoning gebruik om op te hou lewe nie. Nou nog steeds is Noek vir ons almal ‘n inspirasie met die wyse waarop sy al haar fisiese beperkinge hanteer en die lewe volstoom aanpak. Toe Ma beroerte gehad het en nie kon vat, praat of loop nie, het Ma verbete die arbeidsterapeut se oefeninge honderdvoudig aangepak en in so ‘ n mate herstel dat Ma nog vir Pa ook kon versorg tot sy dood.

Tagtig is ‘n geseënde ouderdom om te bereik en ons weet dat Ma al groot fisiese terugslae gehad het om hier te kom. Twee breinoperasies om massiewe gewasse te verwyder, hartstilstand na ‘n epileptiese aanval as gevolg van die breinletsels, ‘n hartomleiding, vele stente daarna en nou ses maande na Ma se verjaardag ‘n groot tumor in Ma se maag en breingewasse wat weer groei, is daar niks wat kan Ma nie onderkry nie, want Ma se taak in ons lewe is onvoltooid.

image

Die mees onlangse foto van Ma, twee dae nadat die maagtumor verwyder is.

Dankie vir Ma se liefde en omgee Ma se hele lewe lank. Liefste Ma, ons glo en hou vas aan God se genade dat ons Ma nog ‘n lang ruk by ons gaan hê. Mag elke oomblik vorentoe vir Ma net emmers vol seëninge inhou, Ma verdien NET die beste. Ma was so bevoorreg om die hemelpoorte te sien met ‘n Naby-doodondervinding met die eerste breinoperasie. Die boodskap wat Ma gekry het was dat Ma moet terugkom want Ma het ‘n taak het om te voltooi. Daardie taak is steeds onvoltooid, net ons Vader weet wanneer dit sal wees.

Ma se gunsteling Skrifberyming het daarom vir my soveel meer betekenis, en ek sing dit daarom net vir Ma:

“Hy het my die stad getoon,
Groot en van die hemel dalend,
En deur God se ligglans skoon,
Soos ‘n kleurgesteente stralend,
Helder soos ‘n kristallyn
Wat in al sy klaarheid skyn.”

 

Categories: Familie, Omgee | 9 Kommentaar

‘n Week van lekker werk

Dit was lekker om na ‘n baie stresvolle termyn bietjie tyd te he vir dinge wat vir my lekker is. Dit gee my weer woema vir ‘n lang tyd…

iBoké

Ondanks wat die grootste gros mense dink, het onderwysers het baie min tyd vir hulle self. Van die begin van hierdie jaar af moet alle punte voor die aanvang van ‘n skoolvakansie by die departement ingehandig word. Dit plaas ons vir ‘n paar weke onder baie groot druk, MAAR… dit gee ons dan ‘n welverdiende vakansie sonder merkwerk. Voorbereiding vir die nuwe termyn moet egter nog gedoen word, so ons kom nie skotvry af nie.

Dis lekker om te sê dat ek al my handwerk doelwitte hierdie week bereik het. Ek het verder met my glas ge-eksperimenteer…

Ek het pewter geskenke gemaak en mosaïek ingesluit in ‘n multimedia servethouer.

Twee ander doelwitte was om te lees, iets waarvoor ek bitter min tyd het, en om vir ‘n slag iets vir een van my ander blogs te skryf. Beide is gedoen… Dan het ek tussen deur ook tyd spandeer aan…

View original post 145 more words

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Familie, My klein slakkies, Plaaslewe, So doen Slakke dit | Lewer kommentaar

Gom

 

Ons is ‘n vreeslike hegte familie wat daar is vir mekaar deur dik en dun. Nou nog wanneer ons geleentheid het speel ons saam. Soms is dit fisiese spel soos jukskei, tafeltennis of volleyball, en soms word die breine ingespan vir 30 seconds of iets dergeliks. Deur spel leer mens dissipline, jy leer om jou plek te ken, jy leer om op te staan vir jouself, jy leer om te lag, om bly te wees, om te verloor, om terug te veg, om weer op te staan na ‘n neerslag. Mens leer om jouself te wees.

saamspeel gom

 

 

Categories: Familie, Slakgedagtes | 8 Kommentaar

Gedwing om stil te sit

Hierdie jaar hardloop vir my onderste bo. Tyd vir lees en blog is minder as min. Tyd vir handwerk is niks. En al vergryp my beroep homself aan my, is dit nie genoeg nie en voel ek nie in beheer van alles wat gedoen moet wees nie….is my werk nie op datum soos dit moet wees nie.

Nou kom foeter ‘n ander ding ook nog om my verder te ontstig en nog verder agter te laat in my werk.

Ten minste kan ek lees en my nuwe tablet gebruik terwyl ek ‘n paar dae plat op my rug gaan lê… Ek en my nuwe tablet is nog nie sulke groot maatjies nie! Ek druk nog soms verkeerde knoppies en dan gebeur goed soos ‘Unfollow’ blog wat ek nie wou gedoen het nie en dan ‘n paar dae daarna agterkom. Gelukkig is ‘Follow’ nou weer gedoen…

My  tassie is gepak, natuurlik sommer met 3 papier storieboeke in net vir ingeval… al weet ek dan klein bietjie kalmeermiddel in ‘n drip genoeg is om my vir ‘n week lank onder te sit. Ek is te bang my tablet kry voetjies terwyl ek slaap, hy moet maar bietjie wag.

Ek ry sommer self hospitaal toe vir my angiogram, die kinders sal vanaand die kar kom haal. Onafhanklik soos altyd. Ek WEET my mense dra my in hulle hart, hulle hoef nie te sit en verveel terwyl ek in die teater is nie, niks wat met my gebeur kan iemand in elk geval verander nie. Wat God vir my beplan, is in Sy plan, no matter what.

Tot later.

Categories: Familie, Omgee | 8 Kommentaar

Dertig jaar getroud

Einde Januarie was dit ons huweliksherdenking. Ek is nie eintlik iemand wat groot gaan met verjaardae of herdenkings nie. Vir my is elke dag, elke uur, elke minuut kosbaar en spesiaal. Dit is immers net een dag langer as gister, een minuut later as netnou.

Almal dink nie dieselfde as ek nie, en vir ons oudste is dit absoluut ondenkbaar dat haar moeder so kan dink!  Hierdie jaar is eintlik vir ons ‘n groot jaar, ‘n ronde 30 jaar! Sy en haar pa het toe saamgespan en vir ons tweetjies ‘n heerlike verrassingsdag beplan.

Natuurlik sou dit onbetaamlik wees indien ons spesiale dag nie ‘n avontuur ook ingesluit het nie! Avontuur en adrenalien is mos maar deel van die du Preez’tjies se diepste wese.

Ek het al voorheen die Tree Canopy ding gedoen en het dus presies geweet wat om te verwag. Daarom was ek heel gemaklik en het soms gat-kant-bo met die katrolletjie gery! Roelf het ook probeer maar dit nie reggekry nie. Ek was dus baie in my noppies dat daar IETS is wat ek kon doen wat hy nie kon nie…

Dankie my man vir die lekker dag, die lag en samesyn. Dit was baie spesiaal.

Baie dankie vir ons leeftyd saam. Dankie dat jy nog nooit my persoonlikheid doelbewus probeer verander het nie. Dankie dat ek aan jou sy kon groei as mede-verantwoordelike in ons verbintenis in die mens wat ek vandag is. Baie dankie dat jy nie aan my karring wanneer ek in my innerdieptes in verdwyn nie. Dankie vir ons twee pragtige dogters vir wie jy ‘n pa duisend is en ‘n veilige hawe. Dankie dat jy so oulike bederf oupa is vir ons babatjie en vir haar swaaie bou en op die motorfiets al die diere gaan wys. Dankie dat jy my gun om my eie ek te wees, om dinge doen wat na aan my hart lê en altyd aanmoedig vir aanhouer-wen waar ek ‘n tou wil laat los.

Jy is spesiaalste spesiaal. Dankie vir alles. Mag ons pad vorentoe emmers vol geluk en seëninge inhou, dit is vir my ‘n voorreg om my pad saam met jou te stap.

Die kabels is lekker lank en ons het altyd veilig gevoel

Die kabels is lekker lank en ons het altyd veilig gevoel

image

image

image

image

image

Gat-oor-kop al die pad!

image

‘n Mens se agterste hand is jou briek, die voorste hand is net gemaklik op die harnas. Ons het natuurlik nooit gebriek nie! Aan die einde is daar ‘n stopper wat namens jou briek, mens hoef nie bekommerd te wees dat jy nie gaan stop nie. Een vrou was vrek bang en het te veel gebriek en toe so amper rien meter voor die einde gestop en toe moes die gids homself met sy arms tot by haar trek en haar toe gaan
image

Categories: Familie, Omgee, Slakkeding, So doen Slakke dit | 1 Kommentaar

Winnertz familie naweek 2014

Hoe klink pap en kaiings vir julle? Of vars gebakte brood met tuisgemaakte appelkooskonfyt en room? Pap met room en suiker? Veldvars heuningkoek?  Makataankonfyt stukke wat drup van gemmerstroop? Mampoer van allerhande lekker dinge?

Vir my klink dit héérlik! Vir my klink dit soos plaas… En familie. Lekker (vr) eet. Dit herinner my aan lekker lag… en lekker speel… Dit herinner my aan Bosveld en kampvuur, laataand giggel en swem in Kootjie-se-loop.

Ek is geseënd om deel te wees van ‘n wonderlike groot familie. My ma was deel van ‘n gesin van agt kinders wat oorleef het uit my Ouma Winnertz se moederskoot. Sy is die tweede oudste en slegs die helfte van daardie gesin is nog met ons. Ons is ook agt kinders en baie na aan mekaar.

Soos met baie families gebeur, het my ma se familie ook maar weg gedryf van mekaar oor die jare. Met die ouderdomsverskille tussen die kinders het dit gebeur dat hulle in verskillende wêrelde leef, dis half onafwendbaar…  My ma  se jongste broer is immers in dieselfde ouderdomsgroep as my oudste susters… en as kind het hy haar Tannie Sussie genoem want hy het haar dálk twee keer per jaar gesien, ‘n tannie met kinders so oud soos hy.

‘n Hele paar jaar terug het die familie begin om op ‘n Sondagmiddag in Pretoria by my ma se jongste sus bymekaar te kom vir ‘n kuier. Dit was maar gewoonlik van die broers en susters en so hier en daar van hulle kinders, meesal maar my ma se kinders. Aan die begin kon ons ook gaan maar vir my het dit ongelukkig later altyd op ‘n kompetisie datum geval het toe ek kompeterend boog geskiet het en vir baie lank het ek nie kontak gehad met daardie deel van die familie nie.

My ma se oudste broer (daar is net twee, albei jonger as sy) trek toe Potgietersrus toe en nooi een jaar die familie om die Sondagmiddag-in- Januarie kuiertjie by hulle op die plaas te kom doen. Die meerderheid wat dit bygewoon het, kom van Pretoria.

Dit is toe so lekker, dat daar besluit is om dit weer so te doen die volgende jaar. Maar soos dit maar gaan is petrol duur vir ‘n dag se ry en het party begin oorslaap in die veld. Dít raak toe so lekker dat daar meer is wat wil oorslaap…

Natuurlik het Facebook met ons almal gebeur… Dit het ‘n portaal geskep waarbinne ons mekaar virtueel beter leer ken het. In so ‘n mate dat die Sondagmiddag kuiertjie nou gegroei het na ‘n gekampery oor ‘n naweek! Hierdie jaar is sosiale media verder ingespan met ‘n Whatsup groepie wat gestig is om die reëlings vinnig deur te gee en natuurlik is daar nie gehou by reëlings tref nie, dit het ontaard in ‘n twakpraat groepie!

Ons oom en neef het ‘n pragtige lapa gebou en stortgeriewe met ‘n donkie vir warm water. Omie, soos ons vir oom Ford (Petrus) noem, gaan werklik uit sy pad om alles wat ‘plaas’ is beskikbaar te stel vir wonderlike ervarings vir veral die kleintjies wat nog nooit blootgestel was daaraan nie. Na die eerste rit op die trekker en sleepwa wou hulle net op. “Wanneer ry die trekker weer Ouma?” is ‘n vraag wat ek vele male gehoor het oor die loop van die naweek.

Verlede jaar het ons in gietende reën gekamp, maar kamp en kuier die het ons. Hierdie jaar het dit heerlik gereën die week voor die groot kuier, en die spruit wat oor die plaas loop het gesorg vir kosbare herinneringe. Die waagmoediges kon van die wal afspring in ‘n lekker groot natuurlike poel. Natuurlik het ek ook… en al het ek al van tevore so ver in water ingespring, was dit maar weer so bietjie scary. Wanneer mens bo staan en afkyk in die water, lyk dit baaie verder as wat dit werklik is… Party is sommer vreesloos van jongs af, klein Luan van der Walt is nou maar in gr. R hierdie jaar! Selfs die erge dorpsjapies het die bruin waters aangedurf en gesien mens smelt nie. Indien van ons geweet het dat daar bloedsuiertjies in die water is, sou ons NOOIT OOIT ons tone in daardie water gesit het nie! Al is ek glad nie bang vir goggas nie, is daar net EEN ding wat my totaal en al uitgross, en dit is bloedsuiers.

Waar kry kinders nog geleentheid om sulke dinge te doen? Onbevange in die modder te speel… Kalfies en bokkies met bottels te voer…. Room af te skei… Op die holrug perd se rug te ry… Pouvere op te tel om in hulle kamers te gaan sit… wit bessies te eet uit die veld…

Dit was my kleindogter se eerste kamperasies, en sy het haarself soos ‘n wafferse juffer op haar pienk stoel gedrapeer… baie gemaklik, Ouma, baie gemaklik! Sy is nog te klein vir molletjies, maar ‘n hele paar ander kleintjies kan nou die rympie opsê om die Molletjies te oortuig om uit te kom.

Soos my sus Teunet sê, bloed bly maar dikker as water. Ons het een neef bykans dertig jaar laas gesien, en die jare tussenin het net weggeval. Daar is gekuier asof daar geen water in die see geloop het nie. In vandag se tyd word daar gou-gou ogies getrek wanneer jou derde kind aan die kom is… maar glo vir my, dis wonderlik om deel te wees van so ‘n groot familie. En die toekoms? Wel… ons is besig om ‘n kampkuier te reël vir omtrent lente se kant, want volgende jaar Januarie klink net te ver! Kan nie wag nie…

Categories: Familie | Sleutelwoordw: | 7 Kommentaar

Erfenisdag

In my erfenis is daar meer as net pap en braaivleis. As kinders het ons byna nooit gebraai nie, dit is ‘n meer moderne neiging dink ek. Dis ook lekker, ja, maar gee my eerder ‘n bord kos uit my kindertyd.

Sag gestoofde beesvleis met ‘n ou vetjie, aartappels deurtrek met die sous. Boontjies met bietjie room ingeroer, Ouma-patats karamelbruin gebraai, rys vir die ou sousie. Slaai bestaan slegs uit tamaties vars uit die tuin, opgesny saam met uie met net sout en witpeper om dit te geur. Die tamatiesousie wat oorbly in die bak behoort slegs aan Pa, maar as die bak by jou uitkom dan skep jy ongesiens ‘n lepeltjie vol en sluk dit vinnig af… en dink hy het dit nie gesien nie… Asynpoeding of sago met tuisgemaakte vla vir nagereg, later jare merendeels malvapoeding.

My erfenis is pap en kaiings of fyngestampte biltong. Hertzoggies, Ystervarkies en Handtertjies tot boordensvol gevul met tuisgemaakte appelkooskonfyt. Melkkos en melktert mildelik gekaneel. Wildsvleispasteitjies. Warm beskuit wat pas uit die oond kom wanneer ons van die skool af kom, en as jy dit eet vind jy ‘n heerlike frikkadel as verrassing aan die binnekant. Boontjiesop. Murgbene. Tuisgebakte brood. Emmers vol pannekoekdeeg vir ‘’n skool- of kerkfunksie. Lady’s fingers piesankies. Pers Adamsvye. Geelperskes. Tuisgemaakte droë perskes. Sagte soetsuur kweperlekkers. Gebakte kwepers. Vetkoek en Javels (spelling?). Roosterkoeke op die koolstoof. Appelkooskonfytkoekies vir ontbyt. Rooi-ivoor bessies, kruisbessies en maroelas.Vet uitgerysde witbeskuit. Tuis ingelegde perskes met rooi en groen jellie en vla. Oom Manie se suikersoet waatlemoene soveel soos ons wil eet. Moerbeie wat pers strepe jou hele gesig vol lê. Gebraaide mielies in die tabak droogoond. Boerseep wat Pa self gemaak het in die groot seeppot na ‘n varkslagtery.

Ek moes altyd teemaak met ons slagtery, want ek het sulke knoppies op my hande uitgeslaan van die varkvet. Word nou nog siek as ek vark eet. En al bly ék op ‘n plaas met wildsbokke, slag ek nié! Ek maak hoogstens die pakkies vleis op as my man en kinders klaar die vleis bewerk het. Sou jy dit nou kon oorvertel! Die reuk van warm vleis en ingewande gooi wilde draai uit my maag tot op die grond. My pa het dit altyd goed geag om ons kleintjies te roep as hy die vark oopsny, sodat ons kan sien waar sit al die organe. Maar die reuk het my uitgegross, en my nuuskierigheid kon nie die draaie uit my maag keer nie. My kinders het weer géén probleem daarmee nie, en so kry hulle pa ‘n beurt om die opvoedkunde ding te doen. En verwerk hy alleen ‘n grote koedoe of wildebees sonder om één keer ‘n lelike aanmerking te laat val oor baie werk.

Erfenis se onthou sluit in ‘n kuier in Magalieskraal (Mamogaleskraal) se dorre rooigrond en natuurlik die neefs se simpel getergery die hele dag… Pa se twee broers is met twee susters getroud en woon op plase langs mekaar. Die huise is binne stapafstand van mekaar, en ons gaan eerste aan by Oom Bertus en tant Cato. Eerste hulle, want hy is die oudste en dis meer respekvol. Wanneer ons daar kom groet die tannie met: “Kom se tatta vir Tool” en ons giggel vir die verkeerdom groetery. Ons eet Ma se lekker koekies en hol in die rooi stof rond. Oom Bêr (soos die tannie hom noem) skil vye uit sy tuin wat jy moet raakvat anders glip dit uit jou hand.

Dan stap ons oor na oom Lood en Kleintan. Daar eet ons gou ‘’n toebroodjie, ook van tuisgebakte brood, en ons ver-eet ons want dit proe anders as dié wat Ma elke dag bak. Hare is witter en het ‘’n surerige smaak. Ons eet van oom Lood se suikersoet laat nartjies aan die skadukant van die boom en kry ‘’n mandjie waterpere om huis toe te neem. Pere is die enigste vrugte wat nie by ons wou dra nie.

Sondagmiddag stap ons oor vir ‘’n kuiertjie by die oujongbroers om die draai van. Daar is nie kinders nie en ons is maar te dankbaar om buite te gaan speel. Die somberheid wil jou aan die skene vang in daardie huis. Tant Heilie, kromgetrek en diepbeplooid in ‘’n lang swart rok sit sonder lag langs die koolstoof waar die moerkoffie altyd staan en prut. Haar grys haartjies se bollatjie rol los en jy verwonder jou aan die dun vlegseltjie wat amper by haar voete hang. Jy sê altyd nee as sy vra of jy ook wil koffie hê, want die koffiesakkie lyk asof dit in daardie pot is van almelee af aan.

Maar nooit sê ons nee vir kondensmelktee en Marie koekies by tant Elsie op die plot tussen ons en die oujongbroers nie. In ons huis was regte melk en tuisgemaakte koekies en winkelgoed was vir ons spesiaal.

So onthou elkeen ietsie anders wat ‘’n erfenis is. Ons is immers individue en ervaar dinge op ‘’n eie manier.

Helaas. ‘’n Deel van my erfenis sal slegs voortbestaan in my geheue as herinneringe. Vir my eie kinders kan ek ‘’n erfenis skep met ons eie gewoontetjies en lekker kos. En so leef ons voort, waar herinneringe in ons sal bly en die toekoms voortdurend vernuwe word soos wat ons blootgestel word aan ander tipes kos en ander mense om die gaatjies van onthou weer vol te maak.

Categories: Familie, Lankal terug, Omgee, So doen Slakke dit | 2 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.