Dis vir my baie belangrik dat my lewe betekenis moet hê, ek wil nie net asem haal nie. Iewers hoop ek dat iets van my aan iemand sal afsmeer wat positief is. Net so belangrik is dat die mense en alles om my, betekenis vir mý moet hê. Klippe en dinge wat ek optel het sentimentele betekenis, elke ding waarmee ek te doen het word bestudeer en intens beleef; dit word deel van my.
ʼn Ruk na ons die plaas gekoop het, was ons so gelukkig om onverwags vir Frikkie en Frieda Thutlwa aan te neem en hulle word toe ook du Preez’tjies. Ek kon tot baie naby aan Frikkie stap. Frieda het ‘n groter persoonlike ruimte gehad en het dadelik gewys wanneer sy gedink het jy oortree haar ruimte. Ons het baie vir Frieda gelag. Sy het met haar lyf agter bosse gestaan, perfek gekamoefleer en dan teen die kant uitgeloer met haar kop. Kompleet asof sy dink ons sien haar glad nie. Dit was vir my ‘n besondere ervaring om tyd met hulle te spandeer. So statig. So rustig. So vol vrede.



Frieda was nie ʼn goeie ma nie en slegs een kalf, Frommel, het oorleef. Hy is herdoop na Duke by die rehabilitasiesentrum waar hy was. Daar het hy vir mooi herinneringe gesorg vir menige van die vrywillige werkers in die paar maande wat hy geleef het. Al was dit ‘n kort lewe, sy lewe het vir iemand iets beteken.

Frieda is dood met ʼn kalf wat vasgesit het en Frikkie het homself dood geval in ʼn sloot. Frikkie se skedel met sy een skewe horing het nou ‘n ereplek in my dogter se Lewenswetenskappe klas, reg by die deur waar hy die leerders verwelkom.
Kameelperdbene is baie hard en mesmakers gebruik dit graag in die hewwe van hul tuisgemaakte messe. My broer Hannes se kreatiwiteit word uitgeleef met die pragtige messe wat hy maak en natuurlik het hy dele van ons Frikkie en Frieda gekry om hul lewens ʼn ander betekenis te gee.

Ek bestel vir my en my man Roelf elkeen ʼn groot knipmes by hom, en dis baie spesiaal.

Die rooi-ivoor is ʼn baie harde hout en ons het die hout geoes van ʼn stomp uit die veld. My mes is baie spesiaal vir my… my boetie het dit met sy eie hande gemaak van been van my geliefde langnekke en hout van ons plaas.
Ek het gedink dat dit nou die hoogtepunt is van ons liewe langnekke, tot ek ʼn WhatsApp boodskap kry van my broer terwyl ek by die skool is. My familie weet dat ek nie foon kan antwoord in die klas nie. ‘Kan ek jou bel as jy n kans het? Iets BAIE interessant wat mens amper nie kan glo nie…’ Met my eerste administratiewe periode laat weet ek dat ons die bel ding kan doen.
Dit wat hy vertel is nie interessant nie, dis absoluut ONGELOOFLIK!
Hy werk vir die weermag en daar is van hulle eenheid se mense in die Demokratiese Republiek van die Kongo.
In sommige Afrika kulture speel diere ʼn belangrike geestelike rol. Hele families identifiseer met ‘n spesifieke dier. Sommiges dra die van van hulle dier, bv Tau (Leeu), Ngwenya (krokodil), Ndhlovu (olifant), Mamba. iNdlulamithi is die woord in die Zulu-tipe tale vir ʼn kameelperd en die Sotho-tipe woord is Thutlwa. Volgens die Suid-Afrikaanse skrywer en sangoma Vusamazulu Credo Mutwa, word kameelperde beskou as een van die heiligste diere op Aarde. Thutlwa beteken ‘the honored one’ of ‘the one to be respected’ en iNdlulamithi beteken ‘the one who is taller than trees’.
Volgens Mutwa word kameelperde beskou as sieners omdat hulle gevaar van vêr af kan sien met hulle lang nekke.
Net voor een van die manne na die DRK vertrek het, het hy vir my broer kom vertel dat kameelperde hulle familie se dier is. Of hy êrens gehoor het van Hannes se messe en of hy slegs gevra het omdat hy weet my broer jag graag en het ʼn liefde vir die veld, weet ek nie. Maar hy het kom vra of Hannes nie weet waar hy iets van ʼn kameelperd kan kry om saam te vat na die DRK nie. Hannes maak toe vir hom ʼn redelike groot sleutelhouer van Frikkie of Frieda se been.
In Januarie sterf Suid-Afrikaanse soldate in die DRK waar hulle deel is van die UN se vredesmag. Daar waar Hannes se kollega ontplooi is in Goma. Die rede waarom Hannes my gebel het, gaan oor daardie geveg.
Sy kollega het hom gebel om te sê dat hy in daardie geveg was en dankie vir sy stukkie heilige been. ʼn Stuk skrapnel het vasgeslaan tydens die geveg in sy stukkie been. Die projektiel sou hom gedood het as dit nie was vir Frikkie of Frieda nie! Hy wil nie ʼn foto neem nie, omdat sy geloof bepaal dat sy talisman dan sy krag gaan verloor, en hy het dit nog nodig in Goma. Kan jy dit nou oorvertel!
My Frikkie en Frieda het nie net asem gehaal, blare gevreet en gepoef nie. Hulle lewens het betekenis gehad en hoe bevoorreg is ek nie dat ek hulle geken het en tyd kon spandeer het met hulle. Nou het hulle ook betekenis vir mý lewe gegee, ek het vandag nie net asem gehaal nie, ek kon wat sekerlik die belangrikste hoofstuk van hulle bestaan was, oorvertel. Wat ‘n seëning!


Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.