Frieda se kruis

WAARSKUWING – Hierdie inskrywing bevat materiaal wat sensitiewe kykers mag ontstel!
 
Deel van ons droom om ‘n stukkie grond van ons eie te hê, was ook om ons eie, eie kameelperde te kan hê op daardie stukkie grond.

Ons het baie hard gewerk om daardie droom ‘n realiteit te maak en op ‘n dag in 2003 toe word daardie droom werklikheid. Na nog baie opofferinge kon ons in Jul 2004 uiteindelik twee onvolwasse kameelperde bekostig. Ons het net-net permitte gekry, wat gegee word onder andere volgens die grootte van die grond en beskikbare voeding.

Hulle word Frikkie en Frieda gedoop. Ons sou maar geduldig wag vir die aankoms van ons eie langnekbaba wanneer hulle reg is. Uiteindelik was hulle geslagsryp en ons sien in 2007 dat Frieda uiteindelik swanger is, maar ons het geen aanduiding wanneer om die baba te verwag nie. 

Frikkie en Frieda kort na ons hulle gekry het

Ons wag baie angstig vir die baba en was baie hartseer toe ons na ‘n langnaweek weg in Sept 2007 ‘n dooie baba vind met ons terugkoms. Die baba het al begin vrot en die hartseerste van alles was Frieda wat die ontbindende baba aanhoudend lek en probeer ophelp. Later was daar net vel en bene oor, maar sy bly getrou by die oorskot vir meer as drie weke nadat ons dit ontdek het.

Hoogswanger met Baba 2

Baba 2  – Hierdie keer kon ons uitwerk naastenby wanneer om die ooievaar te verwag en hou haar met ‘n arendsoog dop. Vrydagoggend 27 Feb 2009 sien ons dat Frieda nie meer swanger is nie, maar dat die baba nie by haar is  nie.  Ons soek tevergeefs. Marina kry die baba eers Saterdagoggend in ‘n uiters verswakte toestand.    

Sy moes omtrent al 4 dae oud gewees het. Die nageboorte het net ‘n paar tree daarvandaan gelê, wat beteken sy het gelê waar sy gebore was. Die vlieë het haar toegepak en daar was maaiers by haar heup aan die onderkant waar sy haar stukkend geskuur het. Van al die gewoel met haar pote en nek was die gras weggeskuur rondom haar.  Sy was so swak dat  sy nie eers haar nek self kon oplig nie. Daar was ook nie meer ‘n suigrefleks nie en sy sterf ongeveer ‘n uur na ons haar gekry het. Dit was vir my ‘n vreeslike emosionele ervaring. Op daardie stadium was Marina nog in die huis en reeds vasberade om veearts te word. Dis vir haar glad nie aanvaarbaar dat ‘n dier ly nie, en toe ek wik en weeg of ek die diertjie maar van kant gaan maak, het sy opgestaan en gesê as ek dit nie gaan doen nie, gaan sy. Ek was net oppad om ‘n geweer te gaan haal toe sy roep en sê dis nie nodig nie, sy is besig om haar laaste asem uit te blaas. Dit was vir my verskriklik, want die grootste wat ek nog doodgemaak het was ‘n voëltjie met ‘n windbuks.

Baba 2

Ek het nie weer kans gesien vir Frieda en weke by vrot bene nie, en gee die baba vir ‘n plaaslike taksidermis. Die pad is onbegaanbaar vir sy kar en ons moes die vierwielmotorfiets gebruik om die liggaam uit die veld te kry.

Ongeveer ‘n maand daarna sit ek een dag by die krip en raak skielik bewus van ‘n beweging en geluid agter my. En daar staan Frieda reg agter my en besnuffel die motorfiets… So verskriklik hartseer… en ek huil my oë uit vir haar verdriet; en oor ek haar van haar rouproses ontneem het.

Foto met my selfoon geneem toe Frieda aan die motorfiets kom ruik het.

Baba 3 – Frommel

Met Baba 3 besluit ek dat ek hierdie keer die baba ‘n naam gaan gee… want ek gló dat die baba gaan leef, en ek bid dit intens, ook dat ek nie alleen moet wees as die baba kom nie. Frommel – want dit pas by Frieda en Frikkie en kan ‘n naam wees vir ‘n dogtertjie of ‘n seuntjie.

Teen einde Mei 2010 is Frieda hoogswanger. Ons hou haar met valkoë dop en sorg elke dag dat ons haar sien en weet waar sy is. Roelf se beoogde jagtog val deur die mat en Vrydag 28 Mei sê hy dat die baba baie naby is, Frieda se uier is groot en die spene baie styf.

Dis ‘n baie koue en nat naweek en Saterdagoggend vind Roelf en Christo die pasgebore baba. Die plaaslike veearts sê ons moet die baba ten minste ‘n paar uur kans gee om op te staan voordat ons ingryp.

29 Mei 2010 Frommel 1 dag oud

“Dankie, Here dat ons héle gesin by die huis is!”

 ‘n Paar uur daarna was dit donker en die baba het nog nie opgestaan nie. GRÓÓT bekommernis.

Sondagoggend vroeg is die baba nóg nie op nie en Frieda het vir Roelf tot wit om die kiewe gejaag toe hy op aanbeveling van die veearts die baba probeer skrikmaak in ‘n poging om hom op te kry! Frommel het al probeer beweeg, want hy het ‘n klein entjie gevorder vanwaar hy gebore is. Dis nat en koud en ons het besef ons moes hom wegneem as ons  hom wou red. Ons vrees vir longontsteking en hy moes dringend begin drink om te oorleef. Die hele gesin spring in en Frieda word met die trekker weggehou om by die baba te kom.

‘n Seuntjie… Frommel is ‘n seuntjie! En sy nek is die ene frommels… voorwaar ‘n naam net vir hom bespreek! Roelf en Christo help hom regop. Sy beentjies kruis agter, maar hy kan sy gewig dra. .. maar val om sodra  jy hom los!

Ons almal was koud en nat

Ons almal se senuwese was maar rou en wanneer Annerine haar bekommernis oor sy lewe verwoord, sê ek net beslis: “Hy gaan lewe, want hy is Frommel, hy het ‘n naam en ek het hom van die Here afgebid. God het gehoor toe ek gevra het dat ek nie alleen wil wees as die baba gebore word nie, Hy sál voorsien.”  En ek bid: “Asseblief, assebliéf Here…”

Marina slaap die nag by hom in die garage en hou hom warm met haar lyf.

Marina en Frommel slaap in die garage

Maandag bly ek en Marina alleen agter. Dr. Gerry is 07h00 hier om Frommel te ondersoek. Hy sê hy dink dat Frommel senuwee-beskadiging opgedoen het, óf met die val van die geboorte, óf van ‘n skop van Frieda; want hy kan sy gewig dra en het gevoel, maar is nie bewus daarvan dat hy agterbene het nie. Hy stel voor dat ons hom 2 uur per dag moet ‘fisio’ gee om hom te leer dat hy agterbene het.

Ek gaan dorp toe om vir hom nog tiete te gaan koop, en as ek terugkom, is Marina en Frommel flink aan die loop! Sy is fisies baie sterk en het hom eiehandig opgehelp. Dan het sy met haar hand op sy regterboud geklap, sy been gevat en vorentoe gedruk. Daarna dieselfde met die linkerkant. Regterkant… linkerkant… regterkant…. linkerkant… tot hy besef het hy het bene en dit self gedoen het. Ons toekomstige veearts het nou maar eenmaal ‘n slag met diere wat ons nie het nie!

Marina leer vir Frommel loop

Loof die Here!

Dit was te oulik om sy ontdekking van die omgewing te sien. Hy moes leer dat mens nie net deur ‘n bos moet stap nie, maar OM die bos. Ons het na die tweede Lantana bos begin slim raak. Een het voor geloop, dan het hy gevolg, en die ander een het hom gehelp as die bene wil kruis. Baie, baie uitmergelend.

Marina kan enige iets regkry met 'n dier

Maar hy het te min gedrink en kon  nie self weer gaan lê nie. Mens moet hom omtrent pootjie om hom te laat lê, en dis net ‘n rukkie, dan beur hy weer op.

Wanneer hy moeg geword het, het hom sommer net omgedop en geslaap

Frommel dag 3

Teen middagete was ek en Marina pootuit en ons het besef dat ons hom nie alleen sal kan behartig nie. Ek het oral gebel vir raad en kom so af op Petronel wat besig was om ‘n rehabilitasie sentrum vir diere ongeveer 5km van ons af op te rig. Sy bied dadelik aan om te help… en volgens haar was al wat dit ons sou kos, was sy kos en medikasie indien nodig; en wanneer hy gereed was, kom hy terug plaas toe!

… En so begin ‘n nuwe hoofstuk in Frommel se lewe by die rehabilitasiesentrum. Hulle herdoop hom na “Duke” tot my ontsteltenis en hy raak sommer gou beroemd met sy eie Facebook Fan page en ons plaaslike media wat gereeld berigte oor hom plaas.

Ons eie beroemde kameelperdjie

By die sentrum is hy elke middag op 'n stappie geneem

Ek en die dierbare ding.

 Hy het gunstelinge gehad. Daar was veral een van die studente wat by die sentrum gewerk het wie se geselskap hy verkies het. Aan die begin het hy my en Marina herken as ons vir hom gaan kuier het, maar later het ons vir hom vervaag, hy het ‘n nuwe familie gekry.

Annerine besoek Frommel by die sentrum

Op ‘n stadium is plate van sy heup geneem wat gewys het dat Frieda hom wel met geboorte geskop het.

Dis nie sommer net gou-gou om plate van 'n kameelperdjie te neem nie!

11 Julie 2010 – Frieda is nog steeds in rou, ses weke nadat haar baba van haar weggeneem is.Sy het ‘n 3d-boogskiet rooibokteiken aangeneem as baba en verdedig hom asof dit haar eie is… Sy bly getrou by haar ‘baba’ wat naderhand stukkend is van al die aandag vir nóg ‘n paar weke. So hartseer, so verskriklik hartseer.

Frieda by haar aangenome baba, gereed om my te storm, wat sy later gedoen het.

Vir die eerste ruk het dit goed gegaan met Frommel en het hy mooi gevorder, maar hy doen bosluisbytkoors op en sterf op 11 Augustus 2010. Die beeskolostrum wat ons vir hom gegee het kon maar net nie genoeg immuniteit voorsien nie. ‘n Post Mortem toon ook dat hy diabetes gehad het. Kon dit wees as gevolg van die baie binne-aarse glukose wat hy gekry het in tye wat hy nie lekker was nie? Moeilik om te sê, mens kan maar net spekuleer. Almal wat betrokke was by hom het net hul beste probeer.

Kameelperde se dratyd is 14 maande en hulle paar sommer gou na ‘n baba se geboorte weer.  Ons skatting was dat die volgende baba ongeveer middel tot einde September 2011 moet kom.

08 Julie 2011 –  Petronel  en die rehabilitasiesentrum is deel van ‘n internasionale simposium vir veearts-studente en bied aan dat hulle Frieda sal pyl en ondersoek vir moontlike uierprobleme as deel van die studente se praktiese ervaring. Ons moet net die medikasie betaal indien nodig. Die arme ding word met ‘n helikopter gejaag tot waar die grondspan haar veilig kan laat val.

'n Helikopter is gebruik om haar na 'n veilige plek te lei om met die pylgeweer te skiet

Ons is bewus dat dit ‘n risiko is vir haar en die baba, maar ons sal enige iets doen om haar te probeer help om ‘n suksesvolle mamma te kan wees.  Die ondersoek toon niks ongewoon nie, en ons is nog steeds net waar ons was. Waarom sy die kleintjies skop bly ‘n raaisel wat nog nie opgelos is nie.  Een van die Natuurbewaringmanne wat met Roelf gepraat het sê as ‘n koei dit eers eenkeer gedoen het, dan doen sy dit elke keer. ‘n Ander teorie is dat sy dalk voel dat daar nie genoeg kos is nie, maar dieretuine teel tog suksesvol met kameelperde. My volgende stap is nou om die Nasionale Dieretuin in Pretoria te kontak.

Frieda word gepootjie om te val nadat sy gepyl is

 

Marina gee vir Frieda ontwurming

25 Sep 2011 – En nou is ons al weer daar. Ek en Roelf het die oorskot van Baba 4  in die veld gekry. Frieda moes die baba gehad het baie kort na hulle haar gepyl het, want dis al  net vel en bene, die vleis is lankal weggevrot. Dit stink nie eers meer nie. Soos met die eerste enetjie weet ons nie eers of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie was nie. Hierdie keer weet ons ook nie of dit sy wat wat die kleintjie geskop het nie; en of dit ‘n vroeë geboorte was as gevolg van die stres van die ondersoek nie.

Nie vir sensitiewe kykers nie...

Arme, arme Frieda. Getroue moedertjie wat waghou by die oorblyfsels van haar kind. Nog steeds. Al weer.

Advertisements
Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,,, | 15 Kommentaar

Artikelnavigasie

15 thoughts on “Frieda se kruis

  1. Ek voel so hartseer vir Frieda en vir julle. Maar aan die anderkant is julle so bevoorreg om so naby aan die natuur te bly. Ek weet sommer julle sal ‘n oplossing vir die probleem kry sodat Frieda haar eie baba kan grootmaak.

  2. Ag tog- my hart huil sommer vir haar. Kan al sien hoe kyk sy daardie dooie baba met droewige oe- en dan knip knip daardie lange wimpers !

    Sit ek hier nou en die trane loop !

  3. Ag Nee! Dis so hartseer! Jy moet hierdie eintlik met foto’s en al as artikel vir die Weg stuur.

  4. Ai, dat die diere ook so hartseer stories kan beleef! Ek hoop eendag gebeur die wonderwerk!

  5. Dis fassinerend maar hartseer. Mag die volgende episode gelukkiger eindig.

  6. Terug pieng: Die Lantana wag « Slakkelak

  7. Terug pieng: Dis lekker om op my plaas te kan draf « Slakkelak

  8. Terug pieng: Lewensiklus « Slakkelak

  9. Terug pieng: Weekly Photo Challenge: Together « Slakkelak

  10. Terug pieng: Silhouette « Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: