In die môre se sagte asem waar lig soos heuning val, staan ek tussen klein wonders van mos orals op die wal. ’n Slak se silwer kronkelpad, ’n reëndruppel wat sonlig hou, feëtjieblomme so klein gebou in sagte kleure soos pienk en blou. Die wêreld fluister saggies vir dié wat stadig kyk; ’n kaart van klein geheime vir elke stille blyk. En so leef ek my dae met sagte woord en wind… want in die kleinste dinge word ek weer ʼn kind. In die skadu van die bosse, waar mos sag soos asem lê, dans drie klein sussies,
feëtjies uit ’n sprokiessee. Hul voetjies roer die mosbed en hul lag klink soos klokke wat deur die bos kom hang. Teunet, kreatief en sag soos druppelmis, Magda, sterk en kragtig soos ʼn warrelwind, en Kobie, met haar skerp oog vir elke wonderkind,
verdwaal in haar kop se somerswind. Saam ontdek hulle blommetjies fyn soos asem teen die bas, blinkend in die groen skadubos soos sterre wat blink in vreeslik lang gras. En in daardie klein geheime van mos en lig en spel, dra die drie feë-sussies die hele wêreld sonder enige kwel. Olke bolke riebietjie stolke
of is dit akrakedabra kierankies braai? die towerstaf is alle geval geswaai en nou is die blomme vir ewig in glas gebaai.
In Julie vanjaar het ek ʼn besering opgedoen tydens ʼn boogskietkompetisie in Zambië, oomblikke na die foto hieronder geneem is.
Met die besering is die biseps beseer en onder andere het die kraakbeen ook losgeskeur van die been. Dit kan nie regtig weer geheg word nie.
Drie weke gelede het ek ʼn skoueroperasie gehad. Op sigself is dit nie ʼn groot operasie nie, maar o wee! Die nagevolge en rehabilitasie wat daarop volg is wat die sukses van die prosedure bepaal, en dit is nogal intensief.
Die grootste van die prosedures wat gedoen was, was dat my bisepsspier geskuif is. Eenvoudig gestel is die spier se hegting aan die been losgemaak, ʼn gaatjie is in die been geboor en die hegtingsmateriaal daardeur gedruk en soort van agter geknoop om ʼn nuwe posisie te verkry wat verdere skeur van die labrum gaan verhoed.
Dis nou nie die tipe weefsel wat maklik groei nie, en al is my hart bloedjonk, is my lyf sestig verby.
Ek is gevolglik nou vir ses weke in ʼn moderne hangverband of te wel armstut sodat die spier kan heg. My arm mag byvoorbeeld onder geen omstandighede reguit gemaak word nie en ʼn paar ander verbode bewegings. Die biseps mag glad nie aktiveer nie. Velcro strokies op strategiese plekke van die stut verhoed van die verbode bewegings. Fisioterapie een maal per week en daaglikse oefeninge twee maal per dag is my vooruitsig vir nog baie lank.
Met hierdie beperking in beweging, veral die verlies van my dominante hand en arm, het ek skielik agtergekom hoeveel klein dingetjies ons as vanselfsprekend aanvaar, hoeveel keer albei jou hande saamwerk om iets eenvoudig te laat gebeur.
Smeer bietjie ʼn broodjie met net jou dom hand. Smeer is niks, maar wie of wat hou die broodjie stabiel terwyl jy dit wil smeer? Eet jou kos met ʼn vurk. Mmm, daai stukkie vleis gaan nie werk nie… Maak ʼn hemp se knopies vas. Klink maklik nè, maar jou hand moet alleen die twee ente bymekaar kry en dan vashou om die knopie deur die skielik báie klein gaatjie te kry met dieselfde hand. Trek jou broekie oor jou boude na jy die hele toiletprosedure domhandalleen aangedurf het. Was met jou linkerhand onder jou linker oksel. Behoorlik, nè, nie sommer net woerts warts nie! Meer nog, vat jou skeermes en skeer daai wolle onder daai oksel af wat eensklaps groei asof daar ʼn kompetisie is om te kyk wie se onderarmhare groei die vinnigste. Maak die sjampoe bottel oop, gooi met dieselfde hand sjampoe op jou hare en was dit. Kam nou daai nat lang hare uit en maak dan ʼn poniestert. Trek ʼn T-hemp aan oor ʼn arm wat nie mag beweeg nie, dan oor jou kop en linkerarm deur die gat. Klink haalbaar. Oeps, dit maak ʼn rolletjie agter jou rug. Ontkoek daai rolletjie en trek jou hemp af. Nee… NEE! Daai arm mág nie beweeg nie! Wat van vat die besem en vee die vloer? Ek praat nou nie van versprei die dyof nie. Vee dit uit, man! Knip ʼn bietjie jou toonnaels. Ja, daai klein krommetjie wat ondertoe wys ook…
Ag, so kan ek aangaan. Baie dinge het ek vooraf geoefen. Baie dinge werk toe nie so uit nie, want pyn saam met onkapabel is ʼn anderste ding.
Van dit kan ek nou al self doen en vir van dit het ek nog steeds hulp nodig. Met my dominante arm nou onbruikbaar, raak die hotklou al hoe handiger. Trots is ʼn vieslike ding en jy leer gou jy moet hom maar in jou sak steek om te oorleef. Dis toe nie so erg om iemand te vra om jou te help aantrek nie.
ʼn Piepklein blommetjie waarvoor ek op my knieë gaan sit het, met my linkerhand alleen afgeneem het. Tegnologie maak dit so maklik!
Ek is baie dankbaar vir baie dinge:
• Rekke in van my broeke.
• Lekker los T-hemde en hemde met knopies.
• Insteek tekkies en plakkies, wanneer ek stewiger tekkies wil aantrek, maak Roelf baie geduldig my veters vas.
• Elektriese tandeborsel.
• Fisios wat mens leer aantrek.
• Kleinkinders wat my rug kan krap vir daai onmootlike jeuk op ʼn plek waar jy nie eers ʼn stokkie gedraai kry om by te kom nie.
• ʼn Dogter byderhand om my skouer te masseer wanneer Pa besig is met werk.
• Parcetamol Panado’s vir pyn want ek is allergies vir opiate wat aanbeveel was.
• Ek is dankbaar dis somer, al is die arm so teen my lyf baie warm. Ek kan nie eers dink hoe moeilik ʼn langmou hemp gaan wees om deur te wikkel nie.
• My selfoon wat ek op my been kan rus en met een linker voorvingertjie ʼn hele blog kan skryf.
• Gesonde bene om nog lang ente te kan stap, al loop ek met ʼn stapstok om stabiliteit te verseker.
• Krane wat oplig om oop te maak en te verstel, en nie oopdraai nie. Dis net soveel makliker met een hand.
• My eie selfoon wat die fisio kan gebruik om my af te neem om oefeninge reg uit te voer.
• Onderarm absorbeerdoekies van Temu om te keer dat swamme groei onder my arm en in die waai waar die vleisies nou heeltyd op mekaar gedruk is – dis ʼn wenner!
• My selfoon om my mee besig te hou. Ag wat sou ek tog dóén sonder my stukkie tegnologie. Ek kan nog tien redes gee vir my dankbaarheid vir die ou ding.
• My uitskopstoel waarop ek gemaklik kan slaap. Ek mag net op my rug slaap en op die bed is dit te plat, dan kry ek nie asem nie. Dankie tog dat my klein lyf kan inpas op my stoel!
Die héél grootste ding waaroor ek dankbaar is, is my liewe man. Hy is net die beste. Niks wat ek vra is te veel gevra nie. Hy vul aan waar ek nie self regkom nie. Hy maak hoofsaaklik kos, ek help waar ek kan. Skottelgoed, vee, mop, stofsuig, wasgoed en wat ook al gedoen moet word, die doen hy. Ry my fisio en dokter toe. Het my aangetrek heel aan die begin. Sny steeds my vleis en smeer my broodjies. Maak my veters vir my vas. Maak ʼn poniestert na ek my hare uitgekam het. Ondersteun my emosioneel wanneer dit vir hierdie besige by te veel raak om ʼn erdwurm te wees. Dankie. Ek waardeer jou meer as wat jy ooit sal weet.
Klein dingetjies maak saak. Dit is die boustene vir groot dinge. Waardeer jou gesondheid en mobiliteit. Net ʼn oogwink en dis weg. Ek is dankbaar vir die wete dat my struikelblokke net tydelik is. Hoe lank dit gaan vat, dit weet ek nie.
Vir nou, waardeer ek al die klein dingetjies wat saak maak. Want die klein dingetjies is eintlik groot dinge.
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.