Boesman

Ai ou Boesie. Waar begin ek om jou storie te vertel? Hoe verwoord ek hierdie diep hartseer wat ek oor jou voel? Seker maar by die begin, né!

IMG_2677

Boesman Staffie du Preez

Ons het nie gevra om jou te kry nie. Buurman Brian het op ‘n dag aangekom met die pragtigste baba staffiebrakkie en gevra of ons jou wil hê, hy wil jou graag vir Marina gee. Hy het jou as geskenk gekry maar wou nie regtig nog ‘n hond hê nie en kon nie nee sê vir sy vriend wat dit goed bedoel het nie. Ons almal was onmiddellik verlief!

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Wie kan nou NIE verlief raak op so ou gesiggie nie?

Dit was die ideale tyd vir ‘n nuwe hond. Ons swart Sokkies Staffie was oud en kruppel en moes vervang word. Hy het groot geword op ‘n lekker groot stadserf maar kon nie regtig die aanpassing maak as plaashond soos T-Rex Langbeen Jackie nie. Hy het hier op die plaas hondesiekte oorleef maar dit het hom erg geknou. Sy heupe het ook osteo artritis gehad en hy het swaar begin loop. Sy instink om ons teen gediertes soos wildebeeste en sebras te beskerm het hom egter nuwe energie gegee… Ongelukkig was sy aanvanklike aanloop dan nie genoeg om onder hulle hoewe uit te bly nie en het hy erg deurgeloop.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Ons het bitter min digitale fotos van Sokkies. Alles was harde kopiee wat in die brand omgekom het.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Boesman en T-Rex het nie einde gehad wanneer hulle begin speel het nie.

Op verskillende stadiums van Boesie se lewe was hy elkeen van ons se hond. Eerste was hy Marina se hond, want hy is vir haar gegee.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Lekker bederf saam met sy maatjie

Natuurlik het sy hom lekker bederf en baie met hom gespeel maar omdat sy in die skool was en tot laat gimnasitiek gedoen het, het Boesie vir Roelf as syne aanvaar. Saam met Roelf en ‘n werker was hy elke dag in die veld en dit was ‘n plesier om hom te sien skoenlappers bekruip wat hy dan uitgelate in die lug bespring het. Een dag het ek uit my maag vir hom gelag toe hy ‘n skoenlapper bekruip en daar skielik ‘n sprinkaan opvlieg… hy het hom boeglam geskrik en was skoon skaam daaroor.

Hy het van kleins af saam met Roelf en T-Rex op die kwadfiets gery en dit verskriklik geniet. Soms wanneer ons net uitgegaan het buite toe, het hy op die fiets gaan sit en wag. Sy lip het omtrent gesleep wanneer fietsry nie ons rede was vir buite wees nie en soms het hy sommer op die fiets gaan lê en dan volstrek geweier om af te klim.

IMG_4235

Die koning van die plaas… hy het net ‘n kroon en ‘n septer gekort…

Boesman se grootste, grootste vreugde was om agter ‘n bal aan te handloop. Toe T-Rex nog gelewe het, kon ons nie tennisballe gooi nie. Hy het die balle onderskep en in ‘n halfuur verlos van hul haredos en dan stukkend gebyt. Sy naam was nie verniet T-Rex nie! Ons het ‘n paar rooi laboratoriumproppe gehad wat bestand was teen sy tande en dit het lekker gehop as jy kon regkry om dit op die ronding te laat val. Een van Boesie se ander troetelname was gevolglik Ou Proppie… Hy het sy prop nie onder sy oë laat uitgaan nie en wanneer hy gerus of geslaap het, was sy prop langs sy kop. Teenaan sy bek. Erger as ‘n kind met ‘n dummy…

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Boesman Proppie du Preez. Ek het nog nooit ‘n hond met soveel emosies gesien soos my ou Boesie nie. Hierdie droefgeestigheid was oor ek nie sy prop vir hom wou gooi nie.

Toe mense betaal het om hier te kamp moes ons soms sy prop wegsteek, want Boesman het eenvoudig nie opgehou om sy prop te bring nie. En elkeen wil gooi. Sy voete het naderhand onder gebloei soos hy sy kussinkies deurskuur om te briek, maar bring het hy sy bal gebring. En as een persoon nie wil nie, dan gaan hy na die volgende een. Hy het die kampers baie geniet en hulle vir hom. Een het hom tot in sy slaapsak ingenooi op ‘n koue wintersnag. Na T-Rex se dood kon ek vir Boesman tennisballe gekoop. Nie Crazystore specials nie, hulle het binne twee dae middeldeur gebars soos Boesie hap, propperse tennisballe by Sportsmans Warehouse. Hy het hulle nooit opgespeel nie, hulle het net agterweë gebly in die veld.

Wanneer ons veld toe was, het Boesie sy prop of bal saamgedra. Partykeer wanneer hy dan uitasem geraak het, het hy die bal onder ‘n bos gelos en wanneer ons weer daar verby loop, dit gaan haal. Soms het hy bietjie vergeet waar hy dit gelos het, en dan het ons maande daarna weer die bal gekry. Ongelukkig het hy klippe ook gesien as balle en het hy het sy tande stomp gekou. Hy was stout met die klippe en het hulle in sy beddegoed weggesteek vir ons.

Boesman was erg lief vir water maar was glad nie ‘n goeie swemmer nie. Intendeel, hy kon amper glad nie swem nie. Na ‘n stappie in die veld het hy die waterbak gebruik om in af te koel, of op die swembadtrappies se vlak watertjies gaan lawe.

Boesman swem

Het jy gesê Boesman? Dis MENEER Boesman vir jou, dankie!

Ons het hom in die swembad probeer waterveilig maak, maar dit was nie baie doeltreffend nie. Hy was egter glad nie bang nie en ons moes hom ‘n paar keer uit die dam gaan red as hy agter iets aangehol het en die water skielik dieper was as wat hy verwag het en hy moes swem. Hy kon vir ‘n klein entjie swem maar het dan paniekerig geraak. As mens ‘n klip in die water gegooi het, het hy sy kop onder die water gedruk en gesoek tot hy hom kry. Wafferse duikboot gewees, die Boesie van ons, en dit net sodat ons weer die klip kan gooi, en hy hom weer kan gaan haal.

Boesie kop in water

Sy stert het net NOOIT ophou swaai wanneer hy besig was op sy klip te soek nie…

IMG_0059

Boesman Submarine du Preez, op soek na sy klip onder die water

Een dag het ek en Roelf gaan stap en vir hom ‘n stok in die water gegooi, taamlik vêr en waar hy ‘n entjie moes swem. Hy het volspoed ingestorm en was oppad uit toe ons iets sien wat baie, baie vinnig op hom afswem. Die water het sommer ‘n groot V gevorm… Ek was yskoud geskrik. Ons het geskree en geroep en Boesie wat dit vir ‘n slag reggekry het om te swem, doen dit soos ‘n koning, stok in die bek… totaal onbewus van die gevaar waarin hy verkeer… Roelf het afgehardloop teen die wal en ek het paniekbevange aanhou roep. ‘n Paar meter voor die krokkodil by hom was het sy voete grond geraak en het hy bewus geraak van my paniek. Ons bure boer met krokkodille en soms loop hulle bietjie weg… Dit was nie ‘n grote nie, maar groot genoeg dat hy vir Boesie sou kon beseer. Ek het nooit, ooit weer vir hom ‘n stok of ‘n klip in die dam gegooi nie. As klein krokkodilletjies kan wegloop, kan grotes ook.

T-Rex was ‘n opperste slangvanger en terwyl hy gelewe het, het Boesman nie ‘n beurt gekry nie. Toe T-Rex dood is, het ons vir Chokki gekry. Sy was ‘n regte basterbrak, maar geliefd. Sy en Boesman het mekaar opgespeel. Chokki het egter ontaard in ‘n rondloper en die klein Delilla het vir Boesman saamgevat op haar ekskapades na die bure se plaas. Êrens op haar roete was daar verseker ‘n spoegkobra wat hulle elke dag gaan tart, maar nie doodgemaak het nie. Boesie het naderhand sere onder sy oë ontwikkel van al die gif. Ons het die moeilike besluit geneem dat Chokki ‘n ander huis moet kry. Om vir Boesman gesond te kry het ons vir Chokki onder ‘n koelteboom vasgemaak vir ‘n paar dae. Dit was hartverskeurend om te doen. Meer hartverskeurend was Boesie wat langs haar gaan lê het en nie ‘n voet van haar sy versit het nie. En dan het hy gelê en haar gesiggie gelek. Niemand moet ooit vir my vertel diere het nie emosie nie. Ek het soveel keer rou emosie op Boesman se gesig gesien, en hierdie was een van daardie kere. Annerine en Christo het vir Chokki kom haal en so het sy in die familie gebly.

Toe kry ons vir Rusty en ons leer ‘n sy van Boesie wat ons nie geken het nie. Van dag een af het hy niks van Rusty gehou nie. Na hy hom die derde keer gegryp het, het Rusty ‘n nuwe huis gekry vir sy eie veiligheid. Waarom hy so renons in die hondjie gehad het, weet ek nie. Dit was nie omdat hy ‘n reuntjie was nie, want Rusty se opvolger was Toffie, en hy en Boesie was dik tjomme. Ou Toffie was ‘n pragtige hond met die oulikste frons op sy voorkop.

Teen díé tyd was Boesman nie meer Roelf se hond nie, maar myne. Roelf moes ter wille van ons finansiële oorlewing werk aanvaar vêr weg en was net naweke tuis. Na Marina ook uit die huis is het ek net die honde en Oreo Swartkat gehad as geselskap. Ons het baie, baie middae saam in die veld spandeer, Oreo inkluis.

Toe gebeur die brand, een bliksemstraal wat ons lewe onherroepelik verander het. Almal van ons. Toffie het sy lewe in die brand verloor, ‘n aaklige, aaklige gesig. Die trauma van vuur en donderweer het in Boesman nes geskop. Wanneer die weer net bietjie daarna gebrom het, het Boesie by my kom skuiling soek.

Honde is soos mense, hulle moet ook maar iemand hê. Pippie het in ons harte kom kruip en sy en Boesman was maatjies tot op sy einde. Hulle tweetjies saam het ‘n baie spesiale plek in my hart. Ons het baie, baie ure saam spandeer in die veld. Ek het in die chalet op die plaas gebly terwyl ons nuwe huis in aanbou was. Saans het ek gestudeer en na skool het ek Lantana uitgeroei, ‘n taak wat ek begin aanpak het nog voor die huis gebrand het. Die twee honde was maar altyd aan my sy. Ek met die spuitkan op my rug, en hulle wat rus van koelteboom tot koelteboom soos ek loop. Vir meer as ‘n jaar was dit my roetine, tot ‘n tweede donderslag ons verder teen die grond kom vasdruk het.

Die chalet wat gebrand het was in ‘n mate vir my meer traumaties as die huis. Miskien omdat ek daarop afgekom het. Miskien omdat mens dink goed gebeur nie vir ‘n tweede keer nie. Miskien sommer net.

Toe ek uit my kar geklim het, was Pippie dadelik by my. Haar stertjie kon nie vining genoeg waai nie en sy het letterlik in my arms gespring, oordadig dankbaar dat ek daar was. Boesman het op die enigste kolletjie gras wat nie gebrand het nie bly lê. ‘n Eilandjie bruin in ‘n stink, swart see. Omdat hy nie opgestaan het nie, het ek gedink hy het dalk seer gekry. Toe ek nader stap en my hand uitsteek na hom, het hy vir my geknor. My Boesie se gesig was vertrek met ‘n vreemde, vreemde uitdrukking en hy het sy tande vir my gewys. My hart wou in duisend stukke breek… Ek het in my kar gaan klim. Die histerie in my het ontplof en ek kon nie koherent praat toe ek vir Roelf bel nie. My huis was weg. Weer. En my hond knor vir my.

Toe ek kalmer was het ek weer uitgeklim. Boesie het nie meer geknor nie, hy het my toegelaat om hom te ondersoek en vas te hou, maar geweier om van daardie stukkie gras af te klim. En ek het hom gelos want ek het verstaan dat dit sy manier was om sy huis te probeer beskerm. Hy het daar gaan lê vir ‘n paar dae, elke keer wat ons onder toe was. Tot ons die gras weggevat het. 

IMG_5281

Waarom daardie stukkie van die grasdak nie gebrand het nie, weet ek nie.

Ek, Pietkat en Boesman het saam die eerste brand oorkom en saam met Pippie het ons die tweede trauma ook deurwerk. Ons was ‘n span. Ek sê nie dat dit erger vir my was, of is, as wat dit is vir een van my ander gesinslede nie. Maar hulle het weggery, en ek moes die realiteit van daardie verwoesting elke dag alleen in die oë staar. Elkeen van ons ervaar en verwerk dit op ons eie manier vanuit ons eie perspektief. My perspektief was ek en my honde en my kat.

Ek sal nooit, ooit ‘n nartjie kan eet sonder om na my Boesie te verlang nie. Hy was baie lief vir vrugte en waatlemoen en nartjies was sy gunsteling. Hy het goeie maniere gehad met kos, maar een ding wat hy uit my hand sou gryp, was ‘n naartjieskyfie. My broer het my herinner aan lietjies ook en toe onthou ek die pekanneute ook waaroor hy so stout was. Hannes vertel hoe hy jou kon aanstaar totdat jy vir hom ook ‘n  lietsjie afskil en dan mooitjies die pit uitspoeg. Wanneer die rooi-ivoorbessies ryp was, het ek, Boesie en Pippie kompetisie gehou om te sien wie kry die beste bessies. Hulle het altyd gewen, hulle ogies was te naby aan die grond en Boesie het soos ‘n varkie gesnork in sy soektog. Hierdie jaar sal dit net ek en Pipstert wees…Ek dink ek gaan bietjie huil…

IMG-20130105-00054

Varkies op soek na rooi-ivoorbessies tussen die gras en bossies. Lekker man… lekker!

Boesie was soos enige hond lief vir bene kou. Ongelukkig was sy kake so sterk dat hy nie net die kraakbeen afgekou het nie, maar die bene gekou en gesluk het. Een keer het hy te veel bene geëet en al die kalsium het in sy dermkanaal gekompakteer en hom verstop. Dit was so erg dat hy opgeneem moes word. Na meer as een enema sonder sukses het die arme veearts die goed uitgegrou. Arme Boesie. Hy was so ongemaklik, hy het dit maar toegelaat. Arme veearts…

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Hou ek van bene? Ek LOVE bene… sommer van ek ‘n klein brakkie was. Boesman Zebra-Beenvreter du Preez

Al ons honde het ‘n slang-blaf. Wanneer hulle op ‘n sekere manier blaf kan jy maar ‘n hardloop. Na T-Rex Slangvanger se afsterwe was die mantel op ou Boesie se skouers. Soos T-Rex het hy die slange agter die nek gegryp het, dan was dit twee keer se ruk en die arme slang was in drie stukke. Hy kon dit net nooit regkry om nie gespoeg te raak in die proses nie. Wanneer ons uitgegaan het vir Boesie se slang-blaf, sou hy eers die slang gryp wanneer ons daar was. Asof hy ons wou beskerm. Buiten een groen gespikkelde bosslang was al sy slagoffers Mosambiekse spoegkobras. Seker so twee jaar terug hoor ek Boesie blaf sy slang-blaf reg by die voorstoep. Ek hol toe om… ‘n Monster mamba van tussen drie en drie en ‘n half meter lê met haar gesig reg op Boesman se gesigvlak. En hy is beserk en sy kriewel haar lyf maar haar kop sekuur en doodstil op Boesie gerig. Ek was naar van skrik en het geweet as ek of Boesie één verkeerde beweging maak is hy bokveld toe. En dalk ek ook, sou ek nader gaan. Ek het hom geroep en geskree soos nooit tevore nie… Toe hy sy aandag vir ‘n split sekond op my rig het die slang afgesak en BAIE vinng begin wegseil. Ek het hom aanhou roep om na my toe te kom en uit die hoek van my oog die monstermamma dopgehou om seker te wees ons is buite gevaar. Ek word nie sommer bang nie, maar daardie dag was ek bang. Twee dinge van daardie dag sal my altyd bybly… Boesman het nie die slang gegryp nie. Hy het op een of ander manier geweet dit is nie die dag vir aanval nie. Die ander een is dat die slang nie na Boesman gepik het nie. Sy het nie haar oë van hom weggevat terwyl hy sovir haar geblaf het nie, maar sy het hom nie gebyt nie. Dit was nie die dag van doodgaan vir een van hulle nie. Ook nie vir my nie. En die potensiaal was daar vir al drie van ons.

Boesman het groot geword met ons wat boogskiet. Hy was nog altyd my getrouste oefenmaat. Toe hy jonger was het hy saamgestap wanneer ons gaan pyle trek en wanneer ons weer begin skiet, kon jy net sê “agter”, dan het hy agter ons inbeweeg om nie gevaar te loop om voor ‘n pyl in te loop nie. Later toe die ouderdom hom nou begin inhaal het, het hy net by my gelê, vandat ek begin skiet totdat ek klaar was. Tot op die einde.

20170109_162816[1]

Wanneer ek oefen, kom al die diere om my te ondersteun. Boesie het altyd gebly tot die bittereinde. Wanneer die deur oopmaak met my boog in die hand, het hy gaan wag vir my

Die donderweer trauma het nooit weer vir Boesie gelos nie. Elke reënseisoen het dit net erger en erger geword. Sy kop het die laaste tyd heeltemal uitgehaak wanneer die weer begin brom het. Hy het eenkeer by my studeerkamer se venster wat oopgestaan het ingekom net na ons die nuwe huis gebou het. Van toe af het hy met die geringste brom of drie druppels reën daarheen gegaan en met alles waartoe hy instaat is daar probeer inkom. Al was die venster toe. Al was hy in die beskutting van die garage. Ek het menige keer in gietende reën uitgegaan en hom soos ‘n baba daar gaan wegdra sodat hy homself nie kan beseer nie en sodat hy voor my bed kon slaap.

Boesie was twaalf jaar oud hierdie jaar, en ouderdom is maar ‘n nare, nare ding. Hy was nou al vir ‘n geruime tyd op kortisoon vir sy seer heupe, hy het begin velkankers kry en was stokdoof. Sy lewenskwaliteit was nog so dat ons hom kon behandel, en nie uitsit nie.

Ongelukkig is ‘n mens nie altyd by die huis wanneer dit begin reën nie. Vroeër die jaar het ek een dag by die huis gekom na ‘n reënbui terwyl ek by die werk was. Boesie was in die huis en ek het gedink Emelina het hom ingelaat. Sy het nie… Toe dit ‘n volgende keer reën het ek hom gevang terwyl hy by die kombuisvenster tussen die diefwering probeer inwriemel. En dit regkry voor ek die deur kon oopmaak. Hy het basies ingeval en die impak was reg op sy elmboog. Sy oë was dof van pyn en verder het hy nie ‘n geluid gemaak nie. Ek het hom dadelik veearts toe geneem vir plate. Dit het gewys dat die elmboog gekraak is, dat hy erg osteo-artritis het en dat sy beendigthed baie laag is. Na ‘n paar dae se pynbehandeling was hy weer sy ou self.

Die laaste paar maande het hy die gesinsirkel voltooi deur Annerine se hond te word. Daar is hy lekker bederf met die kinders se oorskietkossies en het hy in die huis geslaap. Ek het maar sy blikke sagte kos afgestuur soontoe, want die ou man se tande was stomp-af van al die klippe kou.

Ons wou so graag ‘n kind van Boesie hê en kon nooit iemand kry wat ‘n teefhond het wat bereid was dat hy haar dek nie. Toe kry ons maar vir Zena. Sy was een keer op hitte en dit het gelyk asof sy dragtig is, maar dit was toe ‘n skynswangerskap. Boesie was seker klaar steriel. Dis ook maar al wat hy in haar belang gestel het. Sy wil nog speel en Boesie nie. Sy het hom vreeslik geirriteer as sy so hap-hap en njaf aan hom om sy aandag te probeer kry. Dan het hy so skril blaffie vir haar gegee en sy gesig het gesê ‘Ag los my tog net uit jou simpel ding!’.

Ek sukkel om die laaste stuk geskryf te kry. Ek begin, en dan vee ek uit. Dan probeer ek weer, maar dan huil ek. Want dit is erger as swaar vir my. Dit wat gebeur het, breek my hart…

‘n Paar weke gelede is ons genooi vir ‘n potjie by vriende. Roelf was reeds daar en ek en Annerine sou later kom. Wanneer ons die huis se deur oopmaak probeer al wat ‘n hond is hulle luck. Pippie wil só graag ‘n huishondjie wees. Boesie val gewoonlik op die vloer neer met ‘n sug en verseg om op te staan. Zena weer, wil sommer net deurhol en kyk of daar nie iets is wat sy kan gryp om af te sluk voor iemand haar sien nie. Ons het hulle uitgejaag en Zena het vir Boesie geterg, hy het genjaf en hulle is uit.

En toe gebeur dit. Drie tree na ek begin ry het. Boesie moes in daai oomblik gaan lê het en nie besef het ek ry nie. As sy gesig weggedraai was kon hy nie weet nie, want hy kon nie hoor nie. Sy oë was dof en verwilderd van pyn. Ek wat gewoonlik kalm kan bly in ‘n noodsituasie, was nie. Ekself was verwilderd van skok. Annerine het oorgeneem. My probeer kalmeer. Vir Boesie pynpille fyngemaak en laat oplek. Dit was naweek en Marina het nie selfoonopvangs gehad nie.

Toe sy kon kom het ek Boesie se arm vasgehou sodat sy ‘n kateter in sy aar kon sit. Sy was so professioneel met hom. Sy het vir my gesê sy hart gaan eers vinniger klop, maar ek het dit reeds gevoel. Toe al swakker en swakker tot dit stop. Ons het by hom gesit. Net ‘n laaste bietjie by hom gewees. Roelf het ons hond met die grootste liefde opgetel en buite toe gevat. Met ligwordtyd het hy saggies opgestaan en hom by T-Rex gaan bêre.

Party honde is troeteldiere. Boesie, jy was familie en my hart is rou oor jou. Oor dit ek was. Dis nie hoe ek vir vir jou sou wou hê nie. Ek is so, so jammer. Mag daar ‘n oneidige aantal tennisballe hop vir jou waar jy nou is, en mag jy en T-Rex uitgelate agter die skoenlappers en sprinkane aan baljaar. Dra my groete oor aan Sokkies en ou Toffe. Blaf maar vir Pietkat, dis OK , jy mag nou maar. Gee vir Chokki ‘n soen en tart maar die slange, ek dink nie hulle kan spoeg in die hemel nie.

Tot weersiens my ou maat.

Boesman

So wil ek jou onthou – in jou fleur en altyd op aandag en gereed om jou bal te jaag.

Advertisements
Categories: Omgee, Plaaslewe, Slakverdriet | 5 Kommentaar

Artikelnavigasie

5 thoughts on “Boesman

  1. Ai – nou is ek skoon in trane . Xx

  2. Nou huil ek saam met jou.

  3. Ai tog. Ek kry julle ook baie jammer.

  4. Ai ek is jammer

  5. Ek is so jammer. My hart huil saam met jou.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: