Toe bly net die brilletjie oor…

Dit gaan maar wild wat tyd betref hier by my. Tyd vir blog is maar min. Hierdie termyn is rof op onnies en kinders. Met die beplanning van die kurrikulum is daar nie voorsiening gemaak vir al die vakansie dae en nog stemdag daarby nie. Skool kurrikulums maak ook nie voorsiening vir onderwysers wat siek word nie. Dit het regtig wild gegaan met oggend klasse vir my gr 10 Fisiese Wetenskappe klas en middag klasse vir die gr. 11 Lewenswetenskappe klas na ek in die hospitaal was. My vyf gr 9 Natuurwetenskap klasse was maklik om in skooltyd op te vang. My skoolvakansie het ek by die Nasionale Boogskiet kampioenskappe spandeer as Judge.

Die afgelope paar weke heelwat oor my eie liggaam geleer. Alles was nie lekker nie, maar alles was ook nie sleg nie.

Een van die dinge wat vir my uitstaan is my wete dat ons gebore word om te sterwe. Dis wat jy in die tydjie wat jy lewe dóén wat saak maak, nie hoe lank jy gelewe het nie. Natuurlik wil ons almal langer lewe. Natuurlik wil ons die beste lewenskwaliteit hê wat moontlik is. Maar uiteindelik is daar keuses wat mens moet maak wat beide kan beïnvloed.

‘n Paar jaar gelede het dit af en toe begin voel of my hart ‘n mis gee. Toe dit op ‘n stadium erg was het ek dokter toe gegaan maar ons kon dit nooit op ‘n EKG vasvang nie. Dit het verdwyn vir maande en dan sporadies, ongevraag en onverwags weer opgeduik. Op ‘n stadium het ek dit gekoppel aan suiker inname, maar ek kon dit nog nooit regtig bevestig nie. Ek sal maar weer aandag gee daaraan.

Ongelukkig het dit nou ‘n alledaagsheid begin word en ek het al wakker geword van my hart wat bokspring en vreeslik hard saamtrek. Dit gebeur so gereeld dat ons dit nou mooi kon vasvang op ‘n EKG. Die eerste stap was om my op ‘n betablokker te sit om die hartklop te probeer reguleer. Maar ek pas mos nie in by wat ander mense normaal noem nie… Gewoonlik ly mense aan hoë bloeddruk, maar nie ek nie… En die betablokker verlaag my bloeddruk en hartklop toe in so mate dat dít my nog slegter laat voel en ek word opgeneem met ‘n pols van 40 en bloeddruk wat val tot 75/45…

Dis hierna wat die kardioloog besluit het op die angiogram. Daar was wonderlike nuus. Daar is geen tekens van arterosklerose nie en die sonar wys ook geen verdikkings in my hartwand nie. Dit wat ek ervaar is ook glad nie ‘n mis nie, maar ‘n ekstra sametrekking aan een kant en wanneer die ander kant dan nie saamtrek nie, ervaar jy dit as ‘n mis. Êrens in die wande van my linker ventrikel (onderste hartkamer) is daar eksta geleidingsweefsel wat nie weet wanneer die regte tyd is om saam te trek nie. Die sonar wys ook dat beide my inlaatkleppe lek, maar dit is nie ernstig nie en pla nie. Dis skynbaar as gevolg van rumatiekkoors wat ek een of ander tyd in my lewe moes gehad het wat skade veroorsaak het. Nugter alleen weet wanneer, want ek weet nie.

Die tweede alternatief om die ritme te beheer, is met ‘n kalsiumkanaalblokker. Ek het al gesê as jy stip vir my kyk dan val my bloeddruk die dieptes in. Nou ja, wanneer jy aanhou kyk dan kry ek nét daar ‘n migraine… Sug. Dis baie moeilik vir enige kombuis om kos te maak vir iemand met kosallergieë en mens sou dink hospitale is opgelei daarvoor. Toe nou nie. Ek moes telkens my bord kos terug stuur. Na ek die eerste pilletjie gedrink het word ek mos daai nag wakker en dog my brein peul by my een oog uit. Ek het sooo mooi vir die kombuispersoneel verduidelik… maar toe my dokter die volgende oggend kom word ek meegedeel dis die pilletjie.

Die derde alternatief is die laaste mediese uitweg, die ablasie tegniek. Soos met ‘n angiogram werk hulle deur jou liesslagaar. Om by die probleem area te kom word ‘n gaatjie deur die septum (de deel tussen linker en regter hartkamers) gemaak en dan word die ektra geleidingsweefsel met laser geisoleer sodat die elektriese impulse nie oorgedra kan word nie. Probleem 1 – dis nie altyd suksesvol nie en in baie gevalle kan die probleem vererger en dít kan ek nie bekostig nie aangesien die medikasie wat beskikbaar is nie vir my werk nie. Probleem 2 -my hart is baie klein en die gedeelte waar hulle deur die septum moet beweeg is gevaarlik naby my aorta en die risiko bestaan dat hulle my aorta kan raaksteek en dan is dit net daar tickets met my.

image

Ek en die dokter het saam op die vierde alternatief beskuit. Niks. Ons los alles net soos dit is en ek lewe saam met die onreëlmatige klop. Dis nie op hierdie stadium lewensgevaarlik nie, net baie ongerieflik, en ons sal monitor indien daar agteruitgang is en dan die situasie in heroorweging neem.

Dis so maklik om te sê dat jy so lewe dat jy enige tyd kan doodgaan. Maar as jy nie SELF daarmee gekonfronteer word nie, weet jy nie wat dit is nie. Nie dat ek in lewensgevaar was nie, glad nie. Hierdie ding het egter erg in my kop gaan nesskrop, ek is skielik bewus van my eie mortaliteit. Mens neem jou gesondheid te veel kere as vanselfsprekend. As gesonde mens is ek skielik gekonfronteer met beperkings en dit was vir my emosioneel baie moeilik.

Hier waar ek sit en tik, bokspring my hart. Maar ek weet nou dat ek nie in lewensgevaar is nie, en ek weet dat daar nie nou ‘n ander alternatief is nie. Dis toe nie brilletjies én pilletjies vir my nie…

My kop is weer reg. Dit gaan goed met my.

Advertisements
Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: ,,, | 2 Kommentaar

Artikelnavigasie

2 thoughts on “Toe bly net die brilletjie oor…

  1. Dankie vir die deel hiervan. Ek verstaan presies, wantb dis ongeveer dieselfde situasie met Anria, behalwe dat sy baie ernstiger was en wel die ablasie gehad het.

  2. tandula

    Ek is baie bly jou kop is weer reg. As die kop reg is, dan kan mens baie makliker die ou hart-saak aanvaar en dan goeie besluite neem. Soos bv. As ek moet rus, dan rus ek. As ek spontaan 4pm crash soos gister, ek kon voel my man lig my arm, hy probeer met my praat … maar selfs hy weet al, as ek so crash dat ek binne sekondes vas slaap en nie kan reageer nie, dan los hy my net, want ek sal weer oor so 5 ure wakker word en vir so 3-5 ure wakker bly voor ek weer vir 12ure slaap, en dan is ek weer reg.

    Aanvaarding maak jou lewe baie makliker. Aanvaarding maak dat jy met gesag kan se, ek moet nou rus, of Ek kan nie vandag die/daai doen nie. Aanvaarding maak dat jy weer Gentle & Kind is met jouself.

    Wysheid kom met ouderdom, en ek voel stok-oud op 38, dalk is ons al so wys soos Salomo 🙂

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: