Oor brille en pille…

Ek moes gewéét het dat multifokale brille ‘n onding is! Brille lei na pille, onafwendbare tekens van die ouderdom wat ons bekruip terwyl ons oogklappe-toe-deur-die-lewe probeer gaan…

So moes ek nou onlangs ‘n hartpilletjie begin drink om te kyk of ons die ou pompie in ‘n oordentlike ritme kan dwing. Maar wee o wee… Die pilletjie akkordeer toe nie so goed met my nie.

Ek was maar baie bang vir die angiogram wat moes kom. Baie. Bang vir wat hulle kon sien. Bang vir die onbekende. Bang dat die proppie in my lies uitspring en ek alles uitbloei sonder dat iemand sien.

Ek was so lanklaas in ‘n hospitaal dit voel asof ek in ‘n vreemde land is… My eie taal word skaarser as skaars gepraat, al wat ek hoor is die inheemse taal van die omgewing behalwe wanneer ek direk in Engels aangespreek word. Bekwaam, ja… Ek is net nie so seker van die nagpersoneel nie. Daar is van dokter se instruksies verontagsaam wat nadelig vir my kon wees en dit is nie ‘n goeie beeld van gesondheidsorg nie.

My eerste ete was nogal ‘n beproewing, mens mag mos net jou kop regop bring in die eerste agt ure. En hier kom ‘n bord met varkribbetjie en rys wat swem in soja sous… My leêr besonderhede was duidelik nog nie kombuis toe nie! Die dametjie het mooi verstaan waarom ek nie die kos kon eet nie en het dadelik gevra wat sy dan kan bring. En ‘n paar minute later het ek ‘n bord kos gehad wat ek met my hand en ‘n lepel kon lê en eet, en sojaloos.

Ek het nie omgegee om wakker te wees vir die prosedure nie, maar daai koue in die teater het my laat ruk. My linkerbeen en halwe lyf het hulle darem toegegooi en warm lug ingeblaas wat baie verligting gebring het.

Die teaterpersoneel was medies baie professioneel en het voortdurend met my gepraat en my op my gemak gemaak veral wanneer hulle gewerskaf het sodat ek presies geweet het wat gebeur wanneer. Vol grappe en lag was hulle ook en ek is ongenadiglik gespot oor ek so klein is. Die narkotiseur en kardioloog moes beide aanpassings met hulle toerusting maak, hulle is gewoond aan mense trippel my size… My arme susters het dadelik die skuld vir my grootte gekry, want hulle het sweerlik al my kos gegaps, nie soos die twee dokters wat sommer van die begin af te veel moedersmelk ingekry het nie, het die ronde narkotiseur gespot…

My bloeddruk val mos die dieptes in as jy net te stip vir my kyk en in die herstelkamer moes ek kort-kort hoor: ‘Mrs D, open your eyes’ wanneer die afgrond my wou verswelg terwyl die suster vir twintig minute aaneen direkte drukking toegepas het op die slagaar waarvandaan die dokter gewerk het.

Vir nou is ek nog ‘n gevangene in ‘n 2×2 gordynhuisie, vasgeboei met ‘n naald wat koue drup drup drup my arm in.

Die eerste vier en twintig uur van twee en sewentig is verby waarin ek nie my been mag buig of sit nie.
Gelukkig mag ek self toilet toe stap, ek moet net eers roep sodat hulle seker maak ek val nie om nie… Gelukkig het my bloeddruk darem al vandag 107/70 gehaal…

Ek dank God dat daar geen tekens is van koronêre hartvatsiektes nie. My probleempie is egter nog nie opgelos nie en die nuwe hartpilletjies lyk belowend maar nou is daar weer ander newe-effekte wat aangespreek moet word voor ek kan huistoe gaan.

Brilletjies en pilletjies, ek aanvaar julle maar in my lewe, want sonder julle was my lewenskwaliteit dalk nou baie anders as wat dit was. Viva… ja, viva!

Categories: Sommer maar net | Sleutelwoorde: | 11 Kommentaar

Artikel navigasie

11 thoughts on “Oor brille en pille…

  1. Ag, baie sterkte, ek hoop jy voel gou beter! Wat die bril aan betref: As jy bysiende is en njou verdiende geword het, soos ons op ons ouderdom doen, Ooorwedeg om 1 kontaklens te dra vir ver sien en hou die ander oor brilloos en kontaklens vry vir naby sien. Dit werk soos ‘n bom en ek doen dit al jare lank.

  2. Gelukkig sit ek nou. Dit word so akkuraat beskryf, ek voel sommer duiselig…

  3. nou ,versiende, oorweeg, ai die tikkery darem!

  4. Kameel

    Ai sterkte vir jou vorentoe, hoop daardie pilletjie werk. Het week gelede oogoperasie gehad (katarak en lensvervanging) dus lees ek vandag vir die eerste keer weer mense se blogs.

  5. Ek sien ek is lank na die tyd, en jy het gister by my kommentaar gelewer, so ek aanvaar dit gaan goed. Baie sterkte.

  6. Terug pieng: kraterstorie t: troukatastrofes nr 1 | Seegogga se Bloggie

  7. ek het jou getag in troukatastrofespeletjie, Slakkie. Sien uit na jou skrywe.Hoop dit gaan met jou goed.

Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.