Reëndans

Hier is baie verskeie soorte paddas op die plaas. Wanneer dit lekker gereën het, is hulle geroep na ‘n maatjie baie spesiaal en vier hulle fees in die krip en in my visdammetjie. Ek sal nooit weer na ‘n paddakoor kan luister sonder om nostalgies te raak nie.

Gedurende Desember 2002 was ons saam met vriende op die wonderlikste 4×4 toer ooit. Dit was net voor die oorgrenspark met Mosambiek , die Great Limpopo Park geproklameer is en mens kon nog ‘ongehinderd’ die bosse invaar. Om die waarheid te sê, die papiere is geteken in die tyd wat ons daar was.

Ons beplanning was om deur die wildtuin te ry en in die noorde Mosambiek binne te gaan. Ons sou dan deur die Limpoporivier ry op ‘n sekere plek waar mens klippers langs kon gaan (daar is nie ‘n brug nie) en dan ry tot by die kus by Beira, ‘n gewilde 4×4-roete op daardie stadium. Dit was  egter ‘n vreeslike goeie reënjaar in die Limpopo se opvangsgebied en die rivier het in so mate gestroom dat ons ons toer sou moes afstel of ons reisplanne hersien.

Gaan wou ons gaan en die groep besluit toe om duskant die Limpoporivier te bly en dan ‘n ander oorgang kry.  Die nadeel was egter dat dit beteken het dat ons ‘blind’ sou ry, met geen padaanwysings of verhale van vorige ervarings nie, net met die GPS as gids… En as jy Google Maps oopmaak, sal jy sien dat daar eintlik nie paaie is nie. Die GPS het dus maar net bepaal waar ons is, ons kon dit nie as roete-aanwyser gebruik nie. Ons het ons eie geskiedenis gemaak… Dit was WILD! Die modder was so diep ons moes op ‘n stadium elke minder- as-‘n- kilometer stop, die Land Rovers se wiele afhaal, skoonmaak en dan weer minders as ‘n kilometer vêr herhaal. Indien ons dit nie gedoen het nie, sou ons vassit in die modder. Daar was vier Landy’s en vier waentjies in die groep…

Ons eie geskiedenis het ook beteken dat ons tussen die Shingwedzi rivier en die Limpopo getoebroodjie was en een van die twee riviere moes oorsteek om by die kus te kom. En beide het afgekom… Die Shingwedzi is ‘n kleiner rivier en die keuse het op hom geval en dan via Masingir na die kus by Xai-Xai.

Ons het gery tot amper donker en redelik naby die grens sommer net ‘n mooi plekkie gekies en kamp opgeslaan. Die volgende oggend was daar vars luiperdspore op ons spore net buite ons ‘kamp.’ Baie spesiaal en ‘n herinnering dat ons moet onthou ons is in die bos reg langs die wildtuin!

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Die reën het bietjie opgehou en die humiditeit was baie hoog. Ons het gery en gery en oral gevra waar mens kan oor. By ‘n geskikte plek het ons toe toestemming by ‘n plaaslike hoofman gekry om in sy gebied te kamp totdat die rivier in so mate gesak het dat ons kon deurgaan, vir ‘n klein fooi natuurlik. Regtig klein en ons het geensins omgegee om dit te betaal nie. Hy het ons die versekering van veiligheid gegee en dat geeneen van sy mense naby ons toegelaat sal word nie. Ons het nooit, ooit onveilig gevoel nie en hy was sy woord waardig. ‘n Geskikte deurgang beteken ‘n rivierbedding van klip wat vastrap plek gee vir die wiele. Sonder klippe sal die voertuie slegs vasval en dan meegesleur word deur die stroom.

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Ek weet ek het dit al gesê. Maar Mosambiek in Desember is warm, dis blerrie warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Lafenis het ons gevind deur in ‘n vars, helder stroompie neffens ons ou kampie te lê. Lou, nie koud nie… ‘n Gat is gegrou, ‘n toiletsitplek staangemaak met ‘n skermpie om en elkeen wat die geriefie gebruik het moes ‘n grafie sand opgooi.

Desember is ook Mopaniewurm tyd en oral om en in ons ou kampplekkie was duisende wurms. Dalk was dit eerder miljoene. Een vriend se tent is permanent gevlek deur die wurms wat hulle pap geval het uit die bome. Die mans was naderhand redelik verveeld en het ‘n wurmgooi kompetisie gehou om die tyd te verwyl. Die reëls was eenvoudig: sit ‘n wurm op ‘n graaf en kyk wie gooi hom die vêrste… Sit twee wurms op ‘n graaf…

Tydens ons verblyf langs die Shingwedzi rivier was daar drie dinge wat vir my betekenisvol was. Die eerste was die hoeveelste keer in my lewe wat ek besef het hoe klein die wêreld is. Die mans het elke dag die rivier se vlak gemeet om te bepaal wanneer ons kan deurry en dan met die plaaslike mans gesels by die rivier. Een dag het hulle een saamgebring om spesifiek met mý te kom gesels… want ons het gemeenskaplike ‘kennisse’ gehad! Kan jy dit glo? In die wilde bosse van Mosambiek bly ‘n man langs ‘n rivier en hy het op plase gewerk in die omgewing waar ek my kleintyd spandeer het en ken dieselfde mense wat ek ken!

Die tweede ding wat betekenisvol was, is dat uitkoms altyd op die regte tyd kom. In die tyd wat ons gewag het, het daar ‘n tweede groep opgedaag. Maar nie in ‘n 4×4 nie. Nee. ‘n Gewone ou Toyota bakkietjie deur daardie vreeslike modder. Dit was ‘n plaaslike man op pad na Masingir, met ‘n vrag vol mense wat hy by die grens opgetel het wat onwettig in ons land betrap is en net by die grenspos gedump is. Die passasiers moes maar net stoot wanneer die modder te erg geraak het en gelukkig is die Toyota baie ligter as die Land Rovers. Hulle het by die plaaslike mense gebly en ook elke dag die rivier kom meet en dis waar die groepe ontmoet het. ‘n Ooreenkoms is aangegaan – as ons hulle bakkie deur die rivier sou sleep, sou hulle ons voertuie stoot wanneer daar modder is. Deal.

Die derde ding was gatjeuk. Iemand se gat het beneuk gejeuk en ‘n stelling van “Of ons draai vandag terug of ons gaan deur want ek sit nie nog ‘n dag langs hierdie rivier nie” het baie dinge bepaal vir daardie dag en baie dae daarna. Nou ja, die rivier se vlak word toe as voldoende geag en die grootste uitdaging ooit het aangebreek. Ons gaan deur. Die mans het ‘n roete gestap en gemerk met stokke wat in die rivierbedding geplant is. ‘n Ongeskrewe reël in 4×4 is indien jy deur water kan stap, kan jy daardeur ry indien die vloer hard is.

Ek word nie sommer bang nie, maar daardie dag was ek bevrees vir die veiligheid van my gesin en my vriende. Almal was bang. Die mans was vol bravade, maar eintlik het hulle foefernjolle klein geknyp. En natuurlik as ‘n foefernjol knyp, dan stoot dit mos ‘n ego bo-uit en die poep onder… Die getroue ou V8 is eerste ingestuur vir die baanbrekerswerk. Hy moes deurry en dan met die winch anker aan die ander kant indien een van die ander voertuie in die moeilikheid sou raak. Baie benoude oomblikke, ’n klomp gebede, trane en harde woorde het daai voertuig weer aan die loop gekry toe hy na net ‘n kort ent in die water gevrek het. Maar opgooi en terug wou die ego’s nie. Nee, ons gaan deur. Op die ou einde het Roelf een vriend se waentjie deurgery en teruggekom. Toe die ander vriend se kar deurgesleep en teruggekom. Toe hulle waentjie deurgery en teruggekom. Toe die V8 se waentjie deurgevat en teruggekom. Toe ons waentjie kom haal en deurgery. En ek sit en wag en kyk heeltyd hoe gaan my man heen en weer. En ek bid en ek huil binnetrane want my kinders mag nie my bang sien nie. Hulle het met een van die ritte die rivier gekruis en ander kant gewag. Verlate. Verlore. Dis hoe mens voel as jou kinders aan een kant van ‘n groot rivier is, jou man binne-in die rivier en jy sit soos ‘n wasbeeld spookbleek op ‘n klip aan die ander kant. Toe het Roelf vir ‘n laaste keer teruggekom vir die Toyota en ons het finaal deurgery.

Maar eind goed, alles goed en ons was weer op pad. Maar alles was nie goed nie. Daar het iets gebreek. Fyn en flenters, duisend stukkies en kleiner. En dit was nie goed nie, want saam met ego flenters het ‘n vriendskap verdamp in die niet van Mosambiek se hitte. En dit het seergemaak, vir baie baie lank daarna.

Dit was net ‘n paar keer nodig vir die Toyota passasiers om die voertuie te stoot. Dit het vreeslik baie tyd gespaar. Teen hierdie tyd het die modder darem nie meer so vreeslik aan die wiele geplak nie. Laatmiddag het ons weer by ‘n gemeenskappie gekom en die beste pad gevra. Een voertuig het die pad gaan ondersoek saam met hulle verteenwoordiger en die res van ons het ‘n wonderlike ervaring saam met die gemeenskappie gehad. Daar was ‘n klein sokkerveldjie en ons was genoeg om ‘n ‘span’ te maak teen die locals.

Die meisies en vrouens was stomgeslaan om te sien dat ons vroumense ook in die span wou wees en toegelaat word. Hulle was soos ‘regte vroumense met lang naels’ wat gegiggel het en nie eers ‘n bal kon vang nie! Hier en daar kon een van die jong mans ‘n paar woorde Engels praat maar met gebare en baie gelag het ons mekaar aangevat. Wanneer die bal na een van ons vroumense toe gekom het, was die jong mans baie respekvol en het hulle teruggeval en ons toegelaat om die bal te speel. Hulle het hulle verwonder aan ons waagmoed om saam met die manne te speel. Wanneer die bal egter by die mans was, was daar géén genade nie en het hulle gespeel om te wen. Toe een van ons manne egter die bal gryp en ‘n drie gaan druk was dit die hoogtepunt. ‘n Free for all… As jy die bal kry hardloop jy met hom, jy skop hom, jy duik of stamp jou opponent. Nog nooit, ooit weer het ek sulke gemoedelikheid en aanvaarding beleef soos daardie dag nie, in die diep bosse van Mosambiek was daar respek en gemoedelikheid met mekaar.

Daardie mense is glad nie gewoond dat daar wit mense in hulle rigting kom nie. Die kindertjies het nie soos in die toeriste gebiede handjies bak gehou en ‘sweeeets’ geroep nie. Die sokker was natuurlik goed om ons kinders se rooimiere bietjie onder beheer te kry en Marina kon nie wag om net ‘n paar wawiele en handstande te doen nie. Sy was mos ‘n uitblinker gimnas op haar tyd en elke oop spasie was ‘n uitnodiging vir ‘n paar truuks. Die kindertjies se monde het omtrent oopgehang en het haar probeer namaak. En sy was HOOGS geïrriteerd as hulle in verwondering net aan haar ou vlegseltjies wou kom vat. HOOGS.

Mens kan nie sulke wilde dinge doen en nie pleisters gebruik nie. Seker die volgende dag lê ek op ‘n stadium tydens ‘n rustyd onder ‘n bos waar ek landslakkies ontdek het. Wat is Slakkelak nou sonder ‘n slak en ‘n skulp? Ek lê nog so toe een vriendin kom vra waar my noodhulp sak is. Ek sê haar toe en sy sê nie vir my waarvoor sy dit nodig het nie en ek vra ook nie. Ek het maar aangeneem dat een van die kinders ‘n pilletjie of iets wil hê. As iets dringend was, sou sy mos sê. Toe ek uiteindelik klaar skulpies versamel het, moes ek hoor dat die een waentjie se haak amper deur my man se hand gesteek het. Oeps. Sy kon gesê het en ek kon gevra het. Nog ‘n keer oeps en die flentertjies breek nog verder.

Ons het toe uiteindelik by die kus uitgekom en by Bilene se strandmeer gekamp voordat ons teerpad terug is huis toe. Teerpad was sooo vervelig, ‘n antiklimaks na karakterbouende ervarings.

Die heel, heel grootste oomblikke van die hele toer was egter nie die rivierkruising of die sokkerwedstryd nie.

Mosambiek in Desember is warm, dis vreeslik vreeslik warm en sweet kronkel sout riviere in jou ruggraat af. Dis VREESLIK warm. As ék warm kry, dan moet jy weet dis baie warm. “Kyk die wolke Pappa, dink Pappa dit gaan vandag bietjie reën?” was naderhand woorde wat ek nie meer WOU hoor nie.

Een laatmiddag het die weer egter baie belowend donkerblou opgesteek en ek het my kinders belowe dat ons in die reën gaan bad as dit kom. Ons moes baie vinnig kamp soek om nie in reën en dan donker gevang te word nie. Ons was in vleigebied en het nie ‘n keuse van ander kampplek gehad nie. Vreemd genoeg was daar nie muskiete nie. My kinders was eers skrikkerig vir die kaalgat stanery doer eenkant, ‘n entjie weg van die kamp, in die oopte van die veld. Hulle is gewoond aan stort in die veld, maar met ‘n skermpie om.  Maar toe die reën eers val en die skuimbolle spat, het ons ‘n behoorlike reëndans in die donkerte gedoen.  Ek en my dogters. Kaalgat in die reën.

En toe kwaak die paddas en besef ek hoekom daar nie muskiete was nie. Honderde en honderde paddas in daardie vlei. Verskillende soorte met verskillende stemme. Kwake en squeeke. Diep stemme en skril stemme. Dit was ongelóóflik. Elke kort-kort het ‘n nuwe soort begin kwaak vir ‘n maatjie. Dan hoor jy doer anderkant enetjie met dieselfde stemmetjie antwoord. Dan kwaak hierdie een, dan kwaak die ander enetjie bietjie nader. Tot jy naderhand hoor hulle is nou naby mekaar en dan raak dit stil. Jannie het vir Sannie gevind. Die volgende dag was die enigste bewys van die baie paddas die stringe en stringe eiers. En bolle van ander soorte. En skuim van ander. In die water, langs die water en bietjie verder weg van die water. Oral. Alles bewys dat daar ‘n oeroue partytjie plaasgevind het die vorige aand, die partytjie gangers nou uitgeput en seeroog vir die wêreld in die sonlig.

Om ‘n kaalgat reëndans te kon doen, om so deel te kon wees van die ongerepte natuur, is ‘n voorreg wat ek altyd sal in my hart sal koester.

Advertisements
Categories: Lankal terug, So doen Slakke dit | 2 Kommentaar

Artikelnavigasie

2 thoughts on “Reëndans

  1. karen

    Wow, wat ‘n avontuur het julle nie gehad nie. Ek’s ook mal oor paddas, sulke wonderlike diere. Julle is baie bevoorreg!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: