Draadstrikke

NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE!!! HIERDIE SKRYWE BEVAT ONLEKKER FOTO’S!!!

Ons woon nou net meer as tien jaar op die plaas, en nooit voorheen het ek onveilig gevoel nie. Voorheen. Verlede tyd. Ander dag.

Net minder as drie weke gelede het Marina gesien ons troppie sebras se hing, of Die Hings, het ‘n draad wat afhang by sy nek. Dit beteken dat daar sluipers op die plaas is wat strikke stel. Dit beteken ek is nie meer veilig om heeldag en aldag alleen  in die veld te loop nie… en ek is kwaad daaroor. Baie, baie kwaad.

Gelukkig is die trop sebras relatief mak en was dit maklik vir die veearts om hom gedart te kry. Mens kan nou nie aan hulle gaan vat nie, maar ten minste naby genoeg kom om met die dart geweer te skiet. Sebras word TE maklik mak en dan is hulle ‘n verpesting. Ek het hulle nou al bietjie ‘ontmak’ nadat hulle die honde so verpes het dat hulle nie rus kon kry nie. Die draad was losserig om sy nek en het geen fisiese skade gedoen nie.

Veearts Nicoline en Jamie haar assistent

Veearts Nicoline en Jamie haar assistent

Jamie besig om die strik los te knip met 'n tang.

Jamie besig om die strik los te knip met ‘n tang.

Ons het die plek gekry waar die strik was, en dis ongelooflik hoe sterk hierdie diere is. Hy het die droë boom waaraan die strik was vir meters gesleep voordat hy losgeruk en die draadkabel gebreek

Ons het die plek gekry waar die strik was, en dis ongelooflik hoe sterk hierdie diere is. Hy het die droë boom waaraan die strik was vir meters gesleep voordat hy losgeruk en die draadkabel gebreek

IMG_9781

Kabel om die boom

Kan jy GLO dat 'n sebra so sterk kan wees?

Kan jy GLO dat ‘n sebra so sterk kan wees?

Dinsdagoggend het my nefie Stefan na ‘n wildsrit kom rapporteer dat daar nog ‘n sebra is met ‘n draad om die nek. Die slegte nuus was dat daar bloeding is, en bloeding lok vlieë en brommers wat eiers lê … Die ander slegte nuus was dat dit die Wilde Hings is. Al ons diere het nie name het nie, maar mens moet kan onderskeid tref tussen party. Die Wilde Hings is baie wild soos sy naam sê en hy bly in ‘n moeilike deel van die plaas waar dit baie ruig is met lantana en die pad soontoe is lelik verspoel en net bekombaar te voet of met die vierwiel motorfiets. Na oorlegpleging met die veearts het ons besluit ek sal in die pad ‘n voerplek maak sodat ons hom kan lok. Die diere is gek oor Niknak tipe chippies, en ek koop afval by ‘n plaaslike fabriek. Ek het nog een sak oorgehad na verlede week se dart en Stefan het dit dadelik gaan uitgooi. Gelukkig was die fabriek nog oop voor hulle sluit tot Januarie en kon ek ‘n paar sakke kry om naby genoeg aan hierdie wilde ding te probeer kom.

Hy het eers teen gistermiddag baie laat van die chips geëet  en ons het vanoggend weer uitgegooi. Marina was ook vandag tuis en ons voornemende veearts kon die veearts kom assisteer. Hulle twee het met die geweer en medisyne op die vierwiel gery en ek en ons twee werkertjies het gaan wagstaan op ‘n punt om te help soek wanneer hulle skiet. Die diere hardloop eers ‘n ent voordat hulle van die slaapmiddel omval, en dis belangrik om hulle gou te bereik indien hulle sleg val en asemnood ontwikkel.

Dit was toe nie die Wilde Hings nie, maar Wesie, ‘n driejaar oue hingsie wat saam met hom loop. Wesie is nie regtig ‘n weeskind nie. Toe dit tyd was vir hom om uit die trop geskop te word, wou hy nie. Sy pa, Die Hings, is baie kwaai met jong hingsies. Hulle moet uit die trop. Maar Wesie WOU eenvoudig nie gespeen wees nie. Die Hings het hom so gebyt en geskop dat ons destyds die veearts moes uitkry om hom te dart. Sy maanhare is so gebyt en uitgeruk dat daar ‘n oop sweer was. Toe het hy besluit ek is sy trop. Ek het nog in die chalet (stoksiel alleen) gebly en as ek my neus by die deur uitsteek dan is Wesie by. Elke dag, heeldag. Wanneer ek veld toe was, het Wesie so paar tree agter my geloop. Tot hy maar eendag die boodskap gekry het en saam met die Wilde Hings en klein Flap, wat later dood is aan wie weet wat, gaan trop maak het.

Die Hings het klein Flap se ma Flappie (hulle het albei elkeen ‘n flap oortjie gehad) net nou die dag ook so gebyt toe haar vulletjie siek was. ‘n Siek dier word nie in ‘n trop geduld nie, en die ma wat getrou by hom bly word dan ook as ongewens beskou. Die vulletjie is toe dood en dit het WEKE gevat voor Flappie weer in die trop aanvaar is. Haar maanhare begin nou eers terug groei.

Ons is baie dankbaar dat ons vir Wesie betyds gekry het. Die wonde om sy nek is lelik en baie diep, maar gelukkig is daar nog nie maaiers in nie.

Die snye is BAIE diep

Die snye is BAIE diep

Arme ou Wesie

Arme ou Wesie

Mens kan die vet onder die vel sien

Mens kan die vet onder die vel sien

Die mens is die wreedste dier op die aarde

Die mens is die wreedste dier op die aarde

Tyd vir wakker word... die anti-slaapmiddel word binne-aars in 'n lekker groot oor-aar ingespuit en dan laat spaander jy want minder as 90 sekondes later hol hy weg.

Tyd vir wakker word… die anti-slaapmiddel word binne-aars in ‘n lekker groot oor-aar ingespuit en dan laat spaander jy want minder as 90 sekondes later skop en hol hy.

Marina het hom gedart, haar eerste eie dart. Sy het mooi geskiet. Hulle het die wonde goed behandel met antibiotika en medikasie om die brommers weg te hou. Nou moet ons net bid vir herstel vir hom.

Veearts Nicoline en studerende veearts Marina

Veearts Nicoline en studerende veearts Marina

En wat maak ek as ek ‘n poacher vang? Ek weet so waar as wragtig nie. ‘n Kennis het baie onlangs een aan die polisie oorhandig en hy het ‘n R600 boete gekry en poach al weer… Dis om van naar te word!

Advertisements
Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,, | 11 Kommentaar

Artikelnavigasie

11 thoughts on “Draadstrikke

  1. Maar wat wil hulle doen met jou zebra?

  2. ek sou gedink het die wonde moet toegewerk word, maar dit lyk of die veeartsd dit oopgelaat het. Is dit beter? Jy sal ‘n geweer moet kry en skiet as jy ‘n poacher sien!

  3. Ek haat poachers… in my godsdienoortuigings is die natuur en die diere baie spesiaal en enige iemand wat ‘n dier seer maak of die natuur skend is in my oë ‘n monster. Dit is ‘n blessing om te weet iemand soos julle is daar wat die die kan help. My bede is met julle en Wesie en al die ander ‘Wesies’ daarbuite. Groetnis, Shadow

  4. karen

    Sjoe, wat ‘n vreeslik onrusbarende storie! Mag daai stropers verstik aan hulle onwettige vangste. Dankie vir die deel, dit is ook ‘n baie interessante storie. Wens vir julle ‘n vredevolle Kersfees en ‘n stropervrye Nuwe Jaar toe!

  5. Sjoe Slakkie, dis ontstellend. Veral dat dit nou al hoe onveiliger vir jou raak om alleen rond te loop. Ek is ook ‘n “plaasloper” en bang daarby, so ek kan nie dink hoe jy hierdie ding gaan hanteer nie. Want loop wil jy loop…
    Baie baie sterkte

  6. Kameel

    Ai, en ek het al so gewonder oor jou wat so vrou-alleen in die veld rondloop, Dankie vir die vertel, al het ek nou lus om iemand nek om te draai.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: