Borreltjies uit die dieptes

Elke mens het dinge in sy lewe wat sy of haar karakter grootliks beïnvloed het. In my lewe is skubaduik een van daardie dinge. Dit het nie vir my maklik gekom nie, ek het klippe gekou voordat ek gemaklik in die water was. Dit het my ‘n vasberadenheid geleer, iets wat nie voorheen deel was van my nie.

Toe ons die plaas gekoop het, het baie dinge in ons lewe tot ‘n stilstand gekom want ons was in ‘n finansiële oorlewingstryd om ons droom te kan lewe. Ons het net mooi daardie stryd begin wen toe gebeur daai vreeslike ding wat ons pad vorentoe onherroepelik verander het. En toe nog ‘n keer net om te bevestig dat platvee beteken eintlik ploeter in die modder rond…

Familie, vriende, kennisse en vreemdes het ons gehelp om weer op ons voete te kom sodat ons onsself weer kan help. Daarsonder sou ons verlore geraak het in die modder van die lewe en ons beker van dankbaarheid loop oor van almal se goedheid. Dankie. Dankie dat ons weer voete het om op te staan.

Ons lewe nog steeds ons droom op die plaas. Dis nog steeds nie maklik nie, ons maak baie opofferings om dit te kan doen. Ek en my liewe man sien mekaar byvoorbeeld net naweke en dit sal so wees totdat ons eendag nie meer kan werk nie. Ons weet ons gaan nie eendag in weelde kan aftree nie, maar ons weet ons het ‘n opbetaalde dak oor ons kop, al is daar nog baie afwerking wat gedoen moet word aan daardie dak.

Daar is baie dinge wat ons nooit weer sal kan doen nie. Daar is dinge wat ons nooit weer wíl doen nie, maar daar is ‘n paar goedjies wat ons vir altyd deel van ons lewe wil hê. Skubaduik is een van daardie dinge en ons is bereid om sonder sekere afwerkings in die huis klaar te kom net om dit weer te kan ervaar. Annerine was twaalf of dertien toe sy haar kursus gedoen het in ons ‘ou’ lewe en Marina moes wag tot sy nou ampertjies twee en twintig is… Ons het van die toerusting gekoop, party geleen en party gehuur, maar duik het ons geduik die vakansie!

My breër familie trek baie swaar aan gesondheidsprobleme wat erge hindernisse plaas op enige avontuurlike ding. Daarom beteken dit vir my soveel meer om skubaduik deel van my lewenservarings te kan lys.

Eers was ek te bang om opgewonde te raak oor ons beplande duik vakansie by Sodwana. Ek kan egter nie die opgewondenheid oorvertel wat ek ervaar het die laaste dag voor ons vakansie nie! Ek was te bang om asem te haal… te bang ek word wakker en dit was net ‘n droom… Maar dit was nie net ‘n droom nie, dit was rêrig êrig, strues bob njannies kopela.

Marina se kursus pakket het haar verblyf en etes ingesluit. Ek het Roelf het selfsorg gekies en sodoende met ‘n hele paar rand goedkoper weggekom. Ek het vir ons elkeen ook net twee duike geboek, waar haar kursus vier duike ingesluit het. Sy wou baie graag ‘n duik saam met ons doen en ons het vir haar een duik ekstra gekoop vir ‘n spesiale ervaring om as as nuut gekwalifiseerde duiker saam met Pappa en Mamma te duik.

Al het ek al my aanvanklike vrese oorwin en het ek al agt en negentig duike gedoen, het my senuwees maar erg geknaag voor ons eerste duik. Ons het immers in die tien jaar wat ons nou op die plaas is net een keer vier jaar gelede een vlak drie meter duik gedoen. Dit het gereën by Sodwana, maar gelukkig was die see mooi plat en die sigbaarheid meer as vyftien meter onder die water en dit het bygedra dat ek minder gespanne was.

Jy trek reeds jou Wetsuit aan en ‘Kit op’, wat beteken jou Buoyancy Compensator (BC) word aan jou silinder vasgegespe en jou Demand Valve (DV) waardeur jy asemhaal word aan die BC gekoppel en alle toerusting word nagegaan.

IMG_9635

BC word aan die silinder gekoppel

Voor die duik hou die Dive Master eers ‘n praatjie en alle moets en moenies word vertel.

IMG_9643

Moets en moenies word bespreek

 

Daarna word die boot met ‘n trekker gestoot tot in die water. Dan moet die duikers die boot verder instoot en sorg dat sy neus in die regte rigting bly, anders kan dit omslaan met ‘n verkeerde golf.

IMG_9650

Boot is in die water… ons gaan duik!

Wanneer die motors mooi in die water is, dan spring mens op en ry ‘n klein entjie in en elkeen kry dan ‘n reddingsbaadjie wat jy aanhou totdat die boot deur die branders is.

ALL ABOARD!

ALL ABOARD!

Daar is straps om jou voete in te haak en mens hou aan ‘n tou vas om te balanseer. Na die golwe word daar gestop, reddingsbaadjies word uitgetrek en jy woerts die see in.

Uiteindelik! Koraalriwwe, hier kom ons!

Uiteindelik! Koraalriwwe, hier kom ons!

By die rif kry elkeen sy toerusting en die silinders word oopgedraai. Jy trek jou BC, vinne (of flippers soos party mense dit noem), masker (goggles) en gewigbelt (weight belt) aan, toerusting word weer nagegaan en dan word daar afgetel… One… two… three… GO!

Met ons eerste duik het die meisie wat langs my sit bietjie laat geval en toe bo-op my geval. Af was my masker… Stres. Hyg. Panic… PANIC!  Gelukkig het ek ‘n ekstra band op die masker (sodat my langer hare nie moet vaskoek nie) wat hom laat dryf en het ek hom gekry, maar toe sukkel ek om af te gaan. Die ander was al almal onder die water toe hyg ek nog daar bo. Dit was vir myself verskriklik om die vreemde kerm geluidjies uit my eie keel aan te hoor sonder dat ek dit wil kerm… Maar ek was vasbeslote dat dit my nie sou weerhou van die wonderwêreld wat ek geweet het daaronder op my wag nie en ek het myself tot bedaring gebring en gaan duik…

Met ons tweede duik was Marina ook nou saam met ek en Roelf en dit was vir my ‘n baie spesiale duik… my honderdste en Marina se eerste gekwalifiseerde duik! Ons het geboek vir ‘n sekere rif, Anton’s, waar jy kan haaitande optel. Dis Skeurtandhaai (Ragged Tooth) of Raggie tande en ek wou baie graag weer vir my ene laat set in silwer soos wat ek gehad het om my spesiale honderdste duik te gedenk. Ongelukkig was daar toe ‘n junior in die groep wat nie gekwalifiseerd was vir daardie diepte nie en ons sal dit dan maar later doen. Iets om na uit te sien! Ek het heel agter gesit en gesorg dat ek skuins agtertoe val om te verhoed dat iemand weer op my val. Arme Marina het ‘n hou met ‘n staal silinder weg teen die kop met haar vorige duik onder dieselfde omstandighede as ek.

Ons het ‘n onderwater kamera gehuur maar ongelukkig het die battery nie tien minute gehou nie en kon ons slegs ‘n paar herinneringe vasvang. Nou nie ‘n tandjie wat ek in silwer kan set nie, maar ook baie, baie spesiaal.

Duik nommer 100... wat 'n voorreg om 'n foto daarvan te he!

Duik nommer 100… wat ‘n voorreg om ‘n foto daarvan te he!

Aan die einde val elke duik doen jy ‘n veiligheidstop op vyf meter waar jy vir vyf minute bly. Dan sien jy nie vissies en korale nie, maar wanneer jy opkyk sien jy silwer borreltjies uit elke duiker wat opstyg en geaksentueer word teen die blou-blou lug. Eendag… eendag sal ek ‘n foto daarvan neem…

Stel jou nou voor al die  silwer borreltjies teen die blou lug as jy opkyk...

Stel jou nou voor al die silwer borreltjies teen die blou lug as jy opkyk…

Ek buig in diepe dankbaarheid voor my Skepper vir gesondheid en die geleentheid om iets wat vir my groots in my lewe is, terug te hê. Dankie. Dankie. Dankie.

Advertisements
Categories: Slakgedagtes, So doen Slakke dit | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Artikelnavigasie

6 thoughts on “Borreltjies uit die dieptes

  1. Bly jy kan doen wat jy wil terwyl jy kan.

  2. Christelle Deysel

    ** Reply Requested When Convenient **

    Kobie baie geluk met die honderdste duik en Marina se kwalifisering. Ek kort nog so paar vir honderd. Ek het gehoop ek sou dit in die Rooisee kom maak maar dis dalk beter as ek die honderste een by Sodwana doen waar alles begin het. Aan die begin van die jaar het Edward ‘n vriend van ons opgelei en ons is Sodwana toe vir die kwalifikasie duike. Sy seun het die vorige jaar leer duik en dit was baie spesiaal toe sy seun hom ‘n drukkie onder die water gegee het nadat Edward die teken gegee het dat hy gekwalifiseer het. Ons was ook ‘n groep vriende wat saam geduik het en sommer aangedaan geraak .Hoop ons kan dalk in die toekoms eenmaal saam duik.

    Groete

    Christelle

    • Baie dankie, dit was baie spesiaal vir my! Ek sal BAIE graag wil saam duik. Ons het darem twee mooi Ovula Ovums met hulle manteltjies uit gesien. Sodwana se kampplekke was LEEG. Ons het by Coral Divers gebly en nooit enige probleme gehad daar of by die strand nie. Ons het met hulle trekker shuttle gery of gestap, nooit die voertuig by die parkeerplek gelos nie. Ons gaan defnitief nou weer meer duik, maar het net self nog niks toerusting nie. Nie eers wet suits, vinne en masker nie. Ons het alles geleen of gehuur. Maar duik gaan ons duik. Dit het Roelf soooo goed gedoen, hy werk heeltemal te hard en hy verdien ‘n bederfie.

  3. Christelle Deysel

    ** Reply Requested When Convenient **

    Ons het tans heel wat eksta SCUBA toerusting. Julle kan met die grootste liefde van dit leen.

    • Baie dankie. Ons gaan so stadigaan begin koop, daar is baie tweedehands op die internet beskikbaar, en ek sal se indien ons gaan.

      Ons moet eintlik net ‘n datum vasmaak! Net nie April vakansie nie. Ons is 6 ure se ry van Sodwana af, Hluhluwe oor.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: