Lig van die wêreld.

Ek het tans so min tyd vir blog maar ek MOET net vandag iets uit my uit geskryf kry waaroor ek nou al wie weet hoe lank maal en maal.

Ek is mos ‘n wetenskapjuffer en my vakgebied lê baie na aan my hart. In my klas is daar sekere goed wat ek so baie herhaal, party kinders papegaai dit al hard wanneer ek dit begin sê.  “Onthou! Energie kan nie geskep of vernietig word nie”.  Die konsep word gepreek in my Fisiese- en Lewenswetenskappe klasse. Lig. Kineties. Hitte. Elektries. E=mc2. Fotosintese. Selrespirasie. Trofiese (energie) vlakke by ekosisteme.

Energie.  Alle dinge het ten alle tye energie. Alles.  Dis net nie altyd in dieselfde vorm nie. Potensiëel. Kineties (beweging). Elektries. Chemies. Lig. Hitte. Ensovoorts. Ensovoorts. En energie word van een vorm oorgedra na ‘n ander, nooit geskep nie, nooit vernietig nie.

Vir ‘n baie lang tyd loop ek nou al met die gedagte van God en Energie in my kop. Dit maal en maal en maal. Want God is in alles. En energie is in alles.

Maar dit nie al nie. Daar is ook nog lig. Lig. Sonder lig kan ek en jy nie bestaan nie. Want lig is die stralingsenergie wat nodig is vir die fotosintese proses. Fotosintese en selrespirasie, die twee teenoorgestelde prosesse wat onontbeerlik nodig is vir die voorbestaan van enige lewe op aarde. Lig en Donker.

Baie kinders het al vir my gevra of ek ‘n wetenskaplike is. Dan sê ek ja. Dan sê hulle vir my maar wetenskaplikes glo nie in God nie. Dan sê ek vir hulle ek doen. Juis omdat ek ‘n wetenskaplike is.

Kom juffrou verduidelik. Die atmosfeer (laag gasse rondom die aarde) bevat maar ongeveer 20% suurstof (O2). Julle almal weet ons het dit nodig om asem te haal. Maar wat DOEN ons presies met daardie suurstof, en wat sou gebeur indien dit opraak? En sê nou dit raak te veel?

Dis moeilik om ‘n begin te kies, maar kom ek probeer. Die proses begin by die vorming van suurstof. Plante gebruik koolstofdioksied (CO2) en water (H2O) om glukose en suurstof te vorm. Maar… die proses kan slegs plaasvind in die teenwoordigheid van lig en chlorofil. Chlorofil is die groen pigment (kleurstof) wat in plante voorkom. Die plante het klein huidmondjies (gaatjies) in die blare waar die koolstofdioksied die plant binnekom en deur die diffusie proses (iets beweeg van hoë konsentrasie na lae konsentrasie tot dit ewewig bereid) na die selle beweeg.

 Lig. Energie. Die beginpunt van die oordragsproses van energie.

CO2 + H2O  →chlorofil en ligenergie→ glukose + O2

Sooo…“Waar is die energie dan heen?”  is jou vraag. Eenvoudig. Die ligenergie is nou omgeskakel na chemiese energie in die glukose en word gestoor as stysel.  Die suurstof het ook chemiese energie en word vrygestel terug aan die atmosfeer deur die huidmondjies.

In die afwesigheid van lig (dus donker) vind selrespirasie plaas. Die proses is presies die teenoorgestelde van fotosintese.

Glukose + O2 → CO2 + H2O  + energie

Die koolstofdioksied en water diffundeer deur die selle en word vrygestel aan die atmosfeer, en die energie word deur die plant self gebruik vir groei, voortplanting en ander metaboliese prosesse. Oorgedra in ander vorme.

Hoe kom die energie dan by ons? Ek en jy eet die plant wat maar slegs ‘n klein gedeelte van die oorspronklike hoeveelheid energie as stysel gestoor het. Die energie word nou oorgedra aan ons, en gestoor steeds as chemiese energie.

In ons selle vind ook selrespirasie plaas, deurentyd. Die suurstof word ingeasem en diffundeer deur die alveoli (longblasies) na die bloed in die kapillêre buisies wat naderhand are vorm wat na die hart beweeg en dan word die bloed na die res van die liggaam gepomp word deur die slagare. Die slagare vertak in kapillêre buisies en die suurstof diffundeer na die liggaamselle. Nou is daar energie en suurstof beskikbaar in die selle.

Glukose + O2 → CO2 + H2O  + energie

Van die energie word omgeskakel na kinetiese energie (beweging), van dit word omgeskakel na elektriese energie (ja! boodskappe na en van jou brein is elektriese impulse wat deur die senuweeselle oorgedra word) en so meer.  Van dit word gestoor as chemiese energie. Die koolsuurgas diffundeer uit die selle na die bloed, beland weer in die longe en word uitgeasem.

Ek dink jy begin nou ‘n prentjie vorm van die oorspronklike energie wat oorgedra word.  Lig. Lig is ‘n moeilike konsep, want ons dink byvoorbeeld aan die son as ‘n bron van lig. Dis son is nie die bron nie. God is. Die lig vanaf die son is stralingsenergie wat vrygestel word as gevolg van die geweldige waterstof ontploffings. Die energie oorspronklik kom van God. Lig is wat God eerste geskep het, want daar was net donkerte.

Maar wat is ons nou eintlik? Wat het eerste gekom die hoender of die eier? Hoe kan die plantjie groei as daar nie ‘n saadjie was nie? Wat is die plante en die diere nou eintlik? Stof… die elemente wat God geskape het. Waterstof, koolstof, suurstof en al die ander elemente op die periodieke tabel. Dit verbind met mekaar en vorm meer komplekse verbindings.  Die stowwe bevat chemiese energie. Dink maar aan die geweldige energie vrystelling wanneer atome gesplit word (atoombom!). Energie. God is in alles. En Hy het alles geskape. Kaboem. ‘n Plant wat Sy stof bevat met die vermoë om te kan fotosinteer. ‘n Dier om die plant te eet. ‘n Fungi om die plant weer af te breek na die oorspronklike stowwe vir hersiklering.

En ons? Daar is iets spesiaal aan ons. God het ons na Sy Beeld geskape, sy asem in ons geblaas. Hy het ‘n deel van Sy Energie in die stof geblaas, ons die vermoë gegee om met hierdie siel keuses te maak. Ons het ‘n keuse om die Lig te aanvaar. God is die Lig van die wêreld. Hy vertel dit vir ons in die Bybel, gaan lees maar 1 Joh. 1:1-5. Ons is verligte voorwerpe, die Lig van God weerkaats slegs van ons af indien ons die Lig aanvaar. Gaan lees Heb. 6: 4-6. Beteken dit dan dat diere en plante nie siele het nie? Ek weet nie. Want ek is te nietig om alles te weet.

Ek weet dat Hy ten alle tye bewus is van wat aangaan en wat ons dink. Dat bid ‘n manier is om met Hom te kommunikeer. Ek glo dat Hy sy Lig openbaar in alles wat Hy geskape het. Dat ons almal vry is in God.

En hier kom Amos van der Merwe en hy skryf SHIMMERstate. Dis vir my die hoogtepunt van alles wat ek nog ooit gelees het, en ek gaan dit weer en weer lees. Want hy beskryf God en Energie en Lig soos wat my eie kop dit bymekaar gesit het. Dit is ‘n ABSOLUTE leeservaring. ‘n MOET! Ek sou graag ‘n deeltjie wou aanhaal, maar dis onmoontlik, want dan gaan ek die hele boek moet weergee. Gaan lees dit. Vandag. Maak met sy idees wat jy wil. Maak met my idees wat jy wil.

Maar vandag sê ek hardop, nee, ek skree dit vir die wêreld: GOD IS LIG en Alomteenwoordig in alles en almal as die verskillende vorme van ENERGIE wat in ons en deur ons oorgedra word. Ons is na Sy beeld geskape en ons sal ewig voortleef in Sy teenwoordigheid, in die LIG as ons die keuse maak om Hom te aanvaar. Doen jy dit nie, sal jy voortleef in die teenoorgestelde. Donkerte.

God is Lig. Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.

 

Advertisements
Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: ,, | 6 Kommentaar

Artikelnavigasie

6 thoughts on “Lig van die wêreld.

  1. Dankie! Hierdie skryfwerk is ‘n kragtoertjie soos min – en ek sê dit nie omdat jy iets moois oor SHIMMERstate skryf nie. Nee, dis omdat ek jammer is dat ek nie hierdie gelees het vòòr ek die boek geskryf het nie. Ek loop lankal met ‘n opvolgboek in my kop (SHIMMERstep) en ek dink jy’t sopas die snaar geraak wat my gaan oortuig om daarmee te begin. Die laaste van die trilogie sal SHIMMERstar wees, maar dis iets wat nog net broei. Dankie weereens.

    • Dankie Amos. Ek sien uit na die res. N.a.v die inspirasie vir SHIMMERstate -ek was eenkeer in ‘n dr se spreekkamer waar 3 mense was wat near-death ervarings gehad het. Elkeen anders maar elkeen vol Lig. Hulle stories vorm deel van iets waarmee ek besig is. Jou lewenswaarhede in Rolbos is vir my ‘n verkwikking, dankie daarvoor

  2. vega

    Baie goed geskryf. God se eerste woorde in die Bybel is juis “Laat daar lig wees”. Ek was ook Wet onnie en het altyd opgewonde geraak as ek sulke simboliek/analogieë in die wetenskap raaksien. Ek dink egter dat God die Skepper van energie is en nie die energie self nie, soos God se Gees in ons is, maar ons is nie self Sy Gees nie. Dit is egter mindboggling om te dink dat energie nie vernietig kan word nie. Dit is vir my absoluut ongelooflik dat die INFORMASIE van die chemiese reaksies van God af kom en oorgedra word deur die hele skepping. Ek glo dat die energie in die fisiese realm bestaan maar ons konneksie met God in die geestelike realm is.

  3. Kobie maak jy my sommer gretig na ‘n pen gryp!! Hierdie gedagtes van jou moet net bonatuurlik gebravo word!! Die GOD-energy konsep is iets wat ek so graag sou wou boekstaaf sodat meer mense dit kan verstaan soos jy dit hier vasgevat het. Weereens bravo.
    Wat verder hieruit voortvloei, en as ons verstaan wat word bedoel met beeld en gelykenis waarmee ons geskape is, kan ons met sekerheid sê dat ons God se beelddraers is, wat weer neerkom daarop dat ons God se fisiese is sodat Hy Homself deur ons in alle aspekte kan beleef. En dit is waarom die mens geskape is , sodat God Homself in ‘n fiesiese formaat kan uitleef.
    Die implikasies hiervan, as ons dit begin begryp is so verstommend oorweldigend groot dat ons dadelik in ‘n staat van dankbaarheid sal oorgaan en totaal , net soos God liefde sal wees.
    As ons Jesus se gebed gaan lees in Joh 17, sien ons dat Hy bid, dat ons almal een sal wees, soos Hy en Abba Vader een is.
    Ek gaan dadelik kyk na die boek SHIMMERstate wat jy van praat. Waaar kry mens hom?

    Jong jy’t my sommer lus gemaak om die borrel hier binne my uit te skryf en aan te hou skryf, maar ek gaan hier volstaan. Baie dankie dat jy hierdie gedagtes nie teruggehou het nie, maar wel versprei het!

    Groete Renier

    • Dankie vir jou positiewe woorde Renier. Mens MOET skryf wat in jou binneste is. Amos se boek is as e-boek beskikbaar by Amazon (Kindle formaat) en by Kalahari (ePub formaat). Google, jy sal kry.

  4. Terug pieng: Dispersie | Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: